Ter wille van toekomstige geslagte het God sy heilsplan op skrif laat stel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-10-20
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 2
Preek Inhoud: 

Sedert die sondeval in die paradys is daar nie meer onmiddelike kommunikasie tussen God en mens moontlik nie.

Ons is so sondig, dat ons nie meer voor God se aangesig kan verskyn nie.

Sy heiligheid sal ons sondigheid verteer.

In sy genade gee God egter twee middele, waardeur Hy met die mense op aarde praat.

Verlede week het ons aan die eerste middel aandag geskenk.

Die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.

God praat nie meer direk met die mens nie.

Maar die mens hoef maar net sy oë en ore oop te maak, om orals om hom heen God se wonders te sien en te hoor in die skepping.

Die mens hoef maar net sy neus en smaaksintuie te gebruik, en hy sal die wonders in die skepping ruik, veral nou in die lente, en hy sal al die smake van die skepping proe.

Ja die geheel van die skepping is soos ‘n oorweldigende Halleluja-koor wat die mens toesing.

Ongelukkig, so het ons ook verlede week gesien, is die mensdom geneig, in sy opstand teen God, om dit wat hy sien, hoor, ruik en proe, te onderdruk.

Soos ons in Romeine 1 gelees het:

Die mens het die waarheid vir die leuen verruil (vers 25).

Die mens onderdruk die waarheid in ongeregtigheid (vers 18).

Tog het die mens geen verontskuldiging nie.

Geen enkele mens.

As ‘n mens eendag voor God se regterstoel verskyn, sal geen mens kan sê: Ek het U nie geken nie.

Ek kon U nie ken nie.

God se skepping, onderhouding en regering van alle dinge is sulke duidelike taal, dit ontgaan geen mens nie.

En dit is dan ook ‘n daad van doelbewuste ignorering, as mense hulle Skepper nie wil eer, wanneer hulle die werk van sy hande sien, ervaar en beleef nie.

Artikel 2 skryf: “Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.”

 

Nou eindig artikel 2 egter nie hier nie.

In sy onpeilbare genade gee die HERE nog ‘n middel waardeur ons Hom kan ken.

‘n Middel wat volgens artikel 2 selfs nog duideliker is.

Dit is na hierdie middel wat ons vandag gaan kyk.

In die teologie word die eerste middel ook wel die algemente openbaring van God genoem, en die tweede middel God se besondere openbaring.

 

Tema: Ter wille van toekomstige geslagte het God sy heilsplan op skrif laat stel

  • Die tydperk van die openbaringsgeskiedenis
  • Die heilsplan op skrif gestel
  • Die hele Skrif openbaar Christus

 

  • Die tydperk van die openbaringsgeskiedenis

As dit oor God se Woord, sy besondere openbaring gaan, neem Moses daarin ‘n besondere plek in.

Die tweede middel, God se besondere openbaring, het naamlik by Moses begin.

Altans, die geskrewe vorm van God se besondere openbaring.

Voor Moses het God Homself ook al op besondere wyse aan mense geopenbaar.

Dink aan hoe Hy aan Noag verskyn het, en aan Abraham, aan Isak, om maar ‘n paar voorbeelde te noem.

God se opdrag dat sy Woorde op skrif gestel word, het egter by Moses begin.

Alles wat ons vandag oor Adam en Eva, oor Noag, en oor die aartsvaders weet, weet ons omdat Moses dit op skrif gestel het.

Deur die werking van die Heilige Gees het hy die eerste vyf boeke van die Bybel op skrif gestel.

Met Moses het God ‘n spesiale projek begin, naamlik om sy wil vir die nageslag op skrif te stel.

Moses het gelewe tussen 1500 en 1400 voor Christus, ongeveer een en ‘n halwe millenium voor Christus.

Die tyd wat God geneem het om sy Woord op skrif te stel, noem ons in die teologie die periode van die openbaringsgeskiedenis.

Dit het na Moses voortgeduur deur die res van die Ou Testament, en het tot ‘n einde gekom toe die laaste hoofstuk van die Nuwe Testament geskryf is.

Dit is nie heeltemal duidelik wat die jongste hoofstuk van die Nuwe Testament is nie.

Daar is egter aanduidings dat dit die laaste hoofstuk van die Johannesevangelie is.

Die evangelis Johannes het sy Evangelie waarskynlik voor die verwoesting van Jerusalem reeds op skrif gestel.

Maar die laaste hoofstuk, Johannes 21, is waarskynlik op skrif gestel toe hy ‘n ou man was.

En soos ons weet uit die kerkgeskiedenis, het die apostel Johannes baie oud geword.

Die jongste deel van die Nuwe Testament dateer dus waarskynlik rond die jaar 100 na Christus.

Dit beteken dat die tydperk van die openbaringsgeskienenis ‘n periode van 1500 tot 1600 jare beslaan.

In daardie periode van die wêreldgeskiedenis het God verskeie mense in diens geneem om sy Woord eerstens oor te dra, en tweedens op skrif te stel.

Mense soos Moses, Debora, Hanna, Dawid, die seuns van Korag, Salomo, Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël, die sogenaamde groot profete, asook die klein profete van Hosea tot Maleagi.

En onthou, sommige profete het ook van skrywers gebruik gemaak, soos Barug wat vir Jeremia gewerk het:

“Barug het op 'n boekrol geskrywe, uit die mond van Jeremia, al die woorde van die HERE wat Hy met hom gespreek het.” (Jer 36:4)

Ook in die Nuwe Testament het God van mense gebruik gemaak om sy Woord op skrif te stel.

Ons lees slegs een keer dat Jesus self geskryf het – Hy het met sy vinger op die grond geskryf terwyl Hy gewag het vir iemand om die owerspelige vrou te beskuldig (Joh 8:6).

Jesus het egter nie self die Evangelies of die briewe van die Nuwe Testament opgeskryf nie.

Hy het daarvoor gebruik gemaak van mense.

Die evangeliste: Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes.

Die apostels: Petrus, Paulus, Jakobus, Johannes.

Sy Gees het hulle geïnspireer.

Met die gevolg dat dit wat hulle geskryf het, volledig betroubaar is en die Woord van God self.

Soos die apostel Johannes in Openbaring Christus se direkte woorde in die eerste persoon moes opskryf:

Ek is die Alfa en die Omega.

Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom.

Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou ... Ek ken jou werke ...

Dit sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewende geword het ... Ek ken jou werke ...

So hoor ons die refrein in die briewe aan die sewe gemeentes.

Deur die pen van Johannes praat Christus direk met hulle.

En hierdie opgeskrewe Woord is volledig betroubaar.

Soos ons in 2 Petrus lees: “ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petr 1:19-21)

As daar enige twyfel moes wees oor of dele van die Bybel wel betroubaar is, dan moes dit gedeeltes wees wat of Petrus of Paulus geskryf het.

Ons weet uit die Bybel self dat hulle twee soms vasgesit het, dat hulle nie altyd oor dinge saamgestem het nie (Gal 1).

Dit vroeë kerk het dit ook geweet.

Daarom het die Heilige Gees vir Petrus die volgende woorde eksplisiet laat opskryf:

“soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Petr 3:15-16)

 

So het God in sy voorsienigheid dus daarvoor gesorg dat sy wil oor die tydperk van ongeveer een en ‘n halwe millenium op skrif gestel is.

Hierdie omvangryke projek van die Heilige Gees was veral gemik op die tydperk van die Nuwe Testament, wat na die periode van die openbaringsgeskiedenis aangebreek het.

Vandag, in die nuwe bedeling, gebruik ons naamlik die Skrif as die tweede middel, waardeur God tot ons spreek.

En soos ons bely in artikel 2, God maak Homself en sy wil hierin aan ons nog duideliker en meer volkome aan ons bekend.

 

(Tema: Ter wille van toekomstige geslagte het God sy heilsplan op skrif laat stel

  • Die tydperk van die openbaringsgeskiedenis)

 

 

  • Die heilsplan op skrif gestel

Dit bring ons dan by die inhoud van hierdie tweede middel, God se spesiale openbaring.

Daar is ‘n algemene misverstand dat die Bybel ‘n boek is wat die geskiedenis beskryf.

Nou kan mens hierdie misverstand verstaan, in die lig van die feit dat die Bybel een van die oudste boeke op aarde is wat bewaar gebly het.

Die woord Bybel is afgelei van die Griekse woord Biblia, wat boeke beteken.

Oorspronklik het die Bybel uit verskillende boekrolle bestaan.

En soos ons weet, die oudste deel van die Bybel, God se vebondswet, is op klip uitgekap.

In elk geval, dit wat deur Moses opgeskryf is, vorm die oudste deel van die Bybel, ongeveer 3500 jaar oud.

Maar omdat die Bybel so oud is, wil dit nie sê dat dit vir ons alles oor die verlede vertel nie.

Dit was nie God se bedoeling toe Hy sy Woord op skrif laat stel het, om ons alles oor die verlede te vertel nie.

Met die op skrif stelling van sy Woord, het God ‘n baie spesifieke doel gehad.

Die Bybel bevat naamlik nie net feite oor die verlede in die algemeen nie.

Elke hoofstuk in die Skrif wentel naamlik rondom die heilsgeskiedenis.

In sy soewereine raad het God naamlik ‘n heilsplan uitgedink, met die doel om redding vir die opstandige wêreld te bring.

En alles wat God in die Skrif laat opstel het, het ten doel gehad om hierdie heilsplan aan die wêreld bekend te stel.

Deur hierdie heilsplan leer ons God ken, ons kyk as’t ware in sy hart.

Ons leer ook die plan self ken.

Reeds die eerste boek van die Bybel begin daarmee.

Die boek Genesis gee ‘n kort beskrywing van die skepping en die sondeval, waarna dit dadelik inzoom God se heilsplan.

Die eerste kontoere daarvan word geopenbaar in die moederbelofte, Genesis 3:15.

Uit die nakomelinge van Eva sal daar naamlik Iemand kom, wat die slang, die duiwel, se kop sal vermorsel.

Die duiwel wat die oorsaak vir die sondeval was.

Genesis gaan dan verder deur steeds verder in te zoom.

Na die sondvloed gee God vir Noag en sy gesin ‘n nuwe kans.

En kort daarna spring Genesis na Abraham, hoe God hom geroep het met ‘n spesiale opdrag.

Genesis vertel uitgebreid oor die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob.

Hoekom, omdat in God se raad hulle ‘n rol in sy heilsplan gespeel het.

Nie omdat hulle goed of voorbeeldig was nie, maar omdat uit hulle nageslag die Verlosser gebore sou word.

Dit het God reeds vir Abraham aangekondig: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Gen 22:18).

Die boek Genesis eindig waar die aartsvader Jakob sterf.

Op sy sterfbed profeteer hy: “Die septer sal van Juda nie wyk nie ...” (Gen 49:10)

Jakob het nie die volle omvang van sy profesie besef nie.

Maar die Heilige Gees, wat hom die woorde in die mond gelê het, wel.

 

Die daaropvolgende boeke van die Ou Testament gaan vervolgens verder om in te zoom op God se spesiale bemoeienis met die volk Israel.

Hoe hulle, na eeue van slawerny in Egipte, mog terugkeer na die beloofde land.

Hoe die tempeldiens, die diens van die versoening daar ingestel is.

Die Ou Testament is ook eerlik oor die feit dat dit geensins aan die Jode self te danke was, dat die hele aarde deur hulle geseën sou word nie.

Uitgebreid lees ons in die Ou Testament oor die dreiging van die ballingskap, asook die latere daadwerklike voltrekking van die ballingskap.

Daar is al opgemerk dat die Ou Testament self die kritieste boek op aarde oor die Jode is.

En daar steek waarheid in.

In teenstelling tot alle ander heilige boeke op aarde, word die mense wat in die Bybel ‘n rol speel, nie verheerlik nie.

In die Bybel openbaar God dat elke mens op aarde sondig is en die ewige straf verdien.

Maar deur al die gebreke en sondigheid van mense, ook van God se verbondsvolk, ten spyte daarvan, werk God tog sy heilsplan uit.

En so word dit in die Skrif beskryf.

Daarom is dit ‘n feit dat die hele Skrif, elke hoofstuk in die Bybel, om Christus draai.

 

(Tema: Ter wille van toekomstige geslagte het God sy heilsplan op skrif laat stel

  • Die tydperk van die openbaringsgeskiedenis
  • Die heilsplan op skrif gestel)

 

 

  • Die hele Skrif openbaar Christus

Al aan die begin van die Skrif is sy koms aangekondig.

En die Skrif eindig ook met Hom, met die belofte van sy wederkoms:

“Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!” (Openb 22:20)

Dit is dus, gemeente, hoekom God sy Woord op skrif laat stel het.

Om sy eie en enige, sy geliefde Seun, ons Here Jesus Christus, aan die mensdom voor te stel.

Die apostel Johannes beskryf dit so mooi in sy Evangelie, hoofstuk 20:

Al hierdie dinge is opgeskrywe, “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:31)

 

Die hele een en ‘n half millennium lange openbaringsgeskiedenis was dus God se besondere projek om sy Seun aan die wêreld te openbaar.

Elke woordjie van die Ou Testament is opgeskryf as voorbereiding op sy koms na die aarde.

En elke woordjie van die Nuwe Testament is opgeskryf om sy Middelaarswerk wat Hy hier op aarde kom verrig het, aan sondaars bekend te stel, aan sondaars van alle eeue wat nog sal volg sedert Christus se koms na die aarde.

Die hele Skrif en Christus is dus onlosmaaklik aan mekaar verbonde.

Die Vader in die hemel het juis vir sy Seun gestuur, om sy woord, sy wil, op aarde bekend te maak.

Christus het dit self so gesê, toe Hy op aarde was:

“die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh 1:14)

Verwysende na Homself, sê Christus: “Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God” (Joh 3:34)

“Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” (Joh 12:48)
“Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee” (Joh 17:8)

“Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” (Joh 17:14)

 

En dan nog ’n laaste teks uit Johannes, Johannes 17:20, waaruit so mooi blyk met watter doel God se spesiale openbaring, hierdie tweede middel soos die NGB sê, hoekom God dit laat opskryf het.

In Johannes 17 is Jesus besig om te bid, en Hy sê dan vir sy Vader:

“Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie [bedoelende sy apostels], maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo” (Joh 17:20)

Hier bid die Here Jesus dus vir ons.

Want ons, wat lewe in die 21ste eeu, lewe nie meer in die tyd van die openbaringsgeskiedenis nie.

Ons lewe nie in die tyd toe Jesus op aarde rondgeloop het nie.

Maar danksy die feit dat Christus apostels in diens geneem het om sy Woord op te skryf, ken ons nou vir Christus.

En deur die woorde van die apostels kan ons ook in Hom glo.

In sy beplanning vir die toekoms het Christus se Gees in daardie een en ’n half millenium daarvoor gesorg, dat God die Vader se heilsplan, wat Hy hier op aarde kom uitvoer het, te boek gestel is.

En so is ons nou bevoorreg om ook deel te wees van God se verbondsvolk, al is ons nie etnies aan Abraham verbonde nie, omdat ons die woord van die apostels ontvang het, en die Heilige Gees daardie woorde gebruik om ons tot geloof en bekering te bring.

Ja in die heilige en Goddelike Woord maak God Homself nog duideliker en meer volkome aan ons bekend as deur die natuur.

In sy Woord leer ons alles wat ons moet weet om salig te kan word, en alles hoe om voortaan tot sy eer te lewe.

 

Gemeente, in hierdie leerdiens het ons stilgestaan by die ontstaan van die Bybel.

Die doel van die Bybel.

Ons staan verwonderd oor ons alwyse God Drieënig, Vader, Seun en Gees, hoe hulle heilsplan in die geskiedenis werklikheid geword het, en hoe hulle daarvoor gesorg het dat dit op skrif gestel is in die Bybel.

Met hierdie kosbaarste boek van alle boeke, kan ons vandag in die 21ste eeu deur die lewe gaan, getroos lewe en sterwe, wetende dat ons die eiendom van ons Saligmaker Jesus Christus is, wat al die hare op ons kop getel het.

En hierdie kosbaarste van alle boeke sal daar wees tot die jongste dag, as Christus terugkom op die wolke van die hemel.

Op daardie dag sal die era van middelike kommunikasie verby wees.

Dan sal ons en almal wat aan Hom behoort, bevoorreg wees om weer onmiddelik, van aangesig tot aangesig, met Hom te kommunikeer, ja soos van ouds toe Adam en Eva met God gewandel het, sal ons met Hom wandel op die nuwe aarde.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 19:4,5,7

Gebed

Skriflesing: Johannes 17:13-26

Ps 18:14

Skriflesing: 2 Petrus 1:12-21 & 3:13-18

Ps 119:15,19,33,39

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 2

Preek

Ps 40:3,4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 56:1

Seën