Is daar ‘n boek wat volgens jou nie in die Bybel hoort nie?
In die verlede was daar van tyd tot tyd mense wat sommige boeke nie ‘n plek in die Bybel gegun het nie.
So is daar onder Joodse geleerdes gedebatteer of Hooglied wel in die Bybel hoort.
Is al daardie liefdesliedere nie te aards vir so ‘n hemelse boek nie?
Verder het Martin Luther twyfels gehad of die boek Jakobus wel in die Bybel tuishoort.
Die kern van die Evangelie het hy op aangrypende wyse herontdek, soos dit in die Romeinebrief tot hom gekom het.
Daar was ‘n periode dat hy ervaar het asof die boek Jakobus daaraan afbreuk doen.
Latere Reformatore soos Calvyn het egter verduidelik hoe Jakobus se gesigspunt wel in lyn met die kern van die Evangelie van genade is.
En so het Guido des Brès in artikel 4 die lys van die kanon weer bevestig, soos wat dit deur die eeue vanaf die vroeë kerk gefunksioneer het.
Ons kyk vanaand weer na hierdie tweede middel waardeur God tot ons spreek.
Tema: Die hele Skrif is deur God geïnspireer
- Die Heilige Gees het op organiese wyse elke Bybelboek geïnspireer
- Die Heilige Gees het gesorg vir ‘n ryke skakering aan Bybelboeke
- Die Heilige Gees het op organiese wyse elke Bybelboek geïnspireer
Die kommunikasie tussen God en mens is nie meer van aangesig tot aangesig, onmiddelik, soos in die paradys nie.
As gevolg van die mens se sondeval het daar verwydering gekom.
In sy genade gee God egter twee middele, waardeur sy stem tot ons kom.
NGB art. 2 het hulle bespreek: die skepping, ouderhouding en regering van die wêreld as eerste middel.
En die heilige Goddelike Woord as tweede middel.
In verlede week se preek oor art. 2 het ons aandag geskenk aan die unieke doel van die Bybel.
Ter wille van toekomstige geslagte het God sy heilsplan naamlik op skrif laat stel.
Ons het aandag geskenk aan die tydperk van die openbaringsgeskiedenis, rofweg vanaf Moses tot en met die laaste apostel wat gesterf het, ‘n tydperk van ongeveer een en ‘n halwe millenium.
In hierdie tydperk het die Heilige Gees besondere sorg daaraan bestee dat die heilsplan op skrif gestel is.
Die Bybel is nie maar net ‘n ou boek met feite oor die verlede nie.
Elke hoofstuk in die Bybel het ‘n baie spesifieke doel.
Elke hoofstuk in die Bybel is ‘n stukkie in die legkaart van God se heilsplan.
Ja elke hoofstuk in die Bybel openbaar Christus.
Hy is die Alfa en Omega, die begin en einde van God se heilsplan.
Nou in art. 3-7 van die NGB word die tweede middel verder bespreek.
Art. 3 fokus op God se spesiale knegte.
In die Ou Testament was dit die profete.
In die Nuwe Testament was dit die apostels.
Hy het hulle beveel om die geopenbaarde Woord op skrif te stel.
In vandag se preek gaan ons nader hierop in.
Hoe het profete en apostels dit op skrif gestel?
In hierdie preek maak ons kennis met ‘n term wat in hierdie verband in die Gereformeerde teologie gebruik word, naamlik organiese openbaring.
Ons gaan kyk na wat die Skrif self sê oor hierdie proses, hoe God se openbaring op skrif gestel is deur apostels en profete.
Nou om die begrip organiese openbaring te kan verstaan, is dit dalk goed om eerstens aandag te skenk aan wat dit nie is nie.
En daarvoor neem ek u saam na die heilige boek van ‘n ander godsdiens, naamlik die Koran.
In die Islam is dit algemeen aanvaar dat Mohammed ongeletterd was.
Hy kon nie lees of skryf nie.
Op ‘n nag het die engel Gabriël egter aan hom verskyn, en aan hom die woorde van die Koran gedikteer.
Hy het dit toe opgeskryf, al kon hy nie skryf nie.
Hierdie vorm van inspirasie word dan ook meganiese oftewel letterlike inspirasie genoem.
Mohammed was as ‘t ware net die tikmasjien wat dit op skrif gestel het.
Dit word deur moslims as ‘n wonder gesien.
Moslims sien dit as ‘n bewys vir die betroubaarheid van die Koran, dat dit God se eie woorde was.
Die totstandkoming van die Koran was volgens hulle ‘n bonatuurlike wonder.
Dieselfde Koran in dieselfde Arabies word tot vandag toe gebruik.
Volgens Islam teoloë kan die Koran nie vertaal word nie.
Tot vandag toe leer kinders die Arabiese Koran uit hulle kop, of hulle nou in Saudi-Arabië woon, of op die Kaapste Vlakte, waar ook al ter wêreld.
Nou het historiese ondersoek uitgewys dat die Koran geskryf is in ‘n vorm van Arabies wat eers ‘n eeu en later na Mohammed se dood die spreektaal geword het.
Gebruik makende van gesonde verstand moet mens dus konkludeer dat die Koran eintlik eers ‘n eeu of later na Mohammed tot stand gekom het.
Al met al nie histories betroubaar en oortuigend nie.
Teenoor meganiese inspirasie bely ons egter organiese inspirasie.
Dit wil sê, die orgaan wat God gebruik het om sy Woord op skrif te stel, was mense – apostels en profete.
Hy het hulle nie net as tikmasjiene, oftewel as robotte, gebruik nie.
Hy het hulle hele menswees ingeskakel, hulle denke, hulle taalvermoë, ensovoorts.
Hierdie is net so goed ‘n wonder, maar wel van ‘n ander aard.
God die Heilige Gees het elke apostel en profeet met sy unieke gawes ingeskakel.
God het deur sy voorsienigheid hulle lewens so gelei, dat hulle toegerus is vir daardie taak.
‘n Bekende voorbeeld is hoe God Moses se lewe gelei het.
Pleks van in die Nylrivier te verdrink, is Moses aangeneem deur ‘n prinses.
Aan die Egiptiese hof het hy leer lees en skryf, ja ‘n geleerde man geword.
Dit was deel van God se beplanning vir die taak wat hy vir hom gehad het, naamlik om die eerste boeke van die Bybel op skrif te stel.
In die Bybelboeke kan mens ook die unieke karakter van elke outeur terugvind.
Daar is noukeurige geskiedskrywers, dink aan die boeke Rigters tot en met Konings en Kronieke.
Daar is skrywers met artistieke vaardighede, dink aan die psalms wat Dawid geskryf het.
Dink aan die wyse spreuke van Salomo.
Daar is profete wat hoogsopgeleide stadsbewoners was, en wie se taal baie versorgd is, dink aan ‘n profeet soos Jesaja.
Dan is daar profete wat as boer op die platteland gewoon het, en wie se taal reguit, ongepolys en sonder omhaal van woorde was, soos die profeet Amos.
Beide profete het in Hebreeus geskryf, maar tog is die taalgebruik heel uiteenlopend.
Verder val dit ook op in die Bybel dat God gebruik gemaak het van die gewone taal wat die mense gepraat het.
Soos ons in die vorige preek gehoor het, het God sy heilsplan op skrif laat stel in die tydperk van die openbaringsgeskiedenis.
Dit het grofweg gestrek van Moses, 1500 jaar voor Christus, tot en met 100 na Christus toe al die apostels oorlede was.
Die tale wat in hierdie periode gangbaar was, het God daarom gebruik.
En soos ons weet, tale is nie staties nie, maar verander steeds.
Die oudste dele van die Bybel is geskryf in ‘n ou vorm van Hebreeus.
Die nuutste dele van die Ou Testament weerspieël egter die taal wat die Jode na die ballingskap gepraat het.
Toe het hulle nie meer die ou Hebreeus gepraat nie, maar steeds meer oorgeskakel na Aramees.
Kom ons by die Nuwe Testament, dan sien ons dat dit in Grieks geskryf is, die gangbare wêreldtaal van daardie tyd.
Hoewel, soos ons vandag weet dat Engels, wat nou die wêreldtaal is, nie in elke land op dieselfde manier gepraat word nie, so was dit ook destyds met Grieks.
Die Nuwe Testament is oorwegend nie in ‘n Grieks geskryf wat in Athene, die bakermat van die Griekse taal, gepraat is nie, maar die tipe Grieks wat in Paletstina gepraat is.
‘n Griek uit Griekeland het moontlik sy neus opgetrek vir daardie plat Grieks uit Palestina, net soos ‘n Engelsman vandag sy neus optrek vir die Engels wat in ‘Down Under’ gepraat word.
Nietemin, al was dit ‘n Grieks wat nie gepolys was volgens die maatstawwe van daardie tyd nie, tog het dit God behaag om sy Woord in daardie vorm van Grieks duidelik en verstaanbaar te maak.
Die moslims sien dit as ‘n bewys van die egtheid van die Koran, dat dit sogenaamd deur Mohammed opgeskryf is, terwyl hy ongeletterd was.
Ons stem nie daarmee saam nie.
Uit historiese ondersoek is duidelik dat die Koran eers baie jare na Mohammed tot stand gekom het.
Daarenteen geld dit as ‘n bewys van egtheid, dat die Bybel juis geskryf is in die taal van daardie tyd.
Dit is ‘n bewys dat die Bybel nie van latere oorsprong is nie.
Dit is ook ‘n bewys van egtheid, dat die Bybel al die verskillende karakters van die apostels en profete, asook die taalvorme wat hulle gebruik het, weerspieel.
En dit noem ons dus: organiese inspirasie.
God het apostels en profete volledig in diens geneem, presies soos hulle was.
Behalwe vir die tien woorde van die verbond (sien Ex 31-34) wat God self opgeskryf het, is die res van die Skrif deur ‘n mensehand op skrif gestel.
Soms moes hulle dinge opskryf, waarvan hulle die betekenis nie altyd verstaan het nie.
Ander kere het God die profeet en apostel se eie denke en redenasievermoë ten volle gebruik.
Soms het God amptelike dokumente as deel van sy openbaring gebruik.
Soos byvoorbeeld amptelike skrywes van koning Kores ten aansien van die herbou van die tempel (Esra 6).
Andere kere het God die diepste gedagtes van Dawid wat hy in ‘n persoonlike skuldbelydenis tot God uitgespreek het, gebruik – sien byvoorbeeld Psalm 51.
Soms het God eentonige geslagsregisters opgeneem in sy openbaring – sien byvoorbeeld die begin van Kronieke.
Ander kere het God ‘n liefdeslied, wat mens amper laat bloos, in sy openbaring opgeneem – sien byvoorbeeld Hooglied.
Al hierdie wye verskeidenheid aan genres en variasie aan stylvorme en taalvorme bymekaar, vorm die mosaïek van God se onwankelbare Woord.
Op ‘n manier is daar baie herhaling in God se Woord.
Boeke soos Konings en Kronieke beskryf dieselfde periode uit die geskiedenis van God se volk in die Ou Testament.
En al is daar ‘n wye verskeidenheid aan Psalms, sing baie Psalms wel oor dieselfde.
En in die Nuwe Testament is daar ‘n viertal Evangeliste wat diesekfde geskiedenis van Christus se ampswerk op aarde beskryf het.
Hoekom is daar so baie herhaling in die Bybel?
Maak dit die Bybel nie onnodig dik nie?
Al hierdie herhaling, gemeente, het te make met die beginsel wat God al aan Moses duidelik gemaak het:
“op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees” – Deuteronomium 19:15.
In die Skrif vind ons ‘n skala, ‘n wye verskeidenheid van getuies, wat almal, geïnspireer deur dieselfde Gees, van eie gesigspunt, tog met dieselfde boodskap kom.
Al die 66 boeke van die Skrif kom met ‘n eensluidende getuienis.
Hulle spreek mekaar nie teë nie, maar hulle versterk mekaar.
Elkeen belig vanuit sy eie gesigspunt God se heilsplan, wat Hy ten tye van die ongeveer 1500 jaar van openbaringsgeskiedenis ten uitvoer gebring het.
So is die hele Skrif deur God ingegee, skryf Paulus in 2 Timotheüs 3:16.
Die oorspronklike Griekse woord vir ingegee kan ook vertaal word as: ingeblaas; of: deur God geasem.
Die Heilige Gees het elke woord in die Bybelskrywers ingeasem, ingeblaas, sodat hulle dit waarheidsgetrou kon opskryf.
So intens was die Heilige Gees daarby betrokke.
Ja die hele Skrif is deur God geïnspireer (tema).
- Die Heilige Gees het op organiese wyse elke Bybelboek geïnspireer)
2. Die Heilige Gees het gesorg vir ‘n ryke skakering aan Bybelboeke
Dit bring ons by die volgende vraag.
Hoekom is daar 66 boeke in die Bybel?
Die 66 is eintlik net ‘n praktiese nommer, die getal op sig is nie van waarde nie.
Dit hang maar af hoe mens tel.
So bestaan die Psalmboek byvoorbeeld uit meerdere bundels of Psalmboeke.
Die ander uiterste is dat ‘n kort briefie soos die van Paulus aan Filemon ook as ‘n aparte boek getel word.
Verder is daar boeke soos Samuël, Konings en Kronieke, wat elkeen opgedeel is in twee, waarskynlik omdat die boek destyds te lank was vir een boekrol.
Die vraag gaan dus nie soseer oor die getal 66 nie, maar oor hoekom juis al hierdie boeke, briewe, geskrifte, liedere ensovoorts ‘n plek in die Bybel gekry het?
Was dit maar net ‘n toevallige proses wat so deur die eeue ontstaan het?
Of was daar dalk vroeër ‘n sinode wat dit so vasgestel het?
Die NGB neem sterk standpunt in teen so ‘n siening.
Ons aanvaar hierdie boeke as die Bybel, nie omdat die kerk hulle aanvaar nie, sê artikel 5.
Dis nie so dat die kerk besluit het watter boeke in die Bybel hoort nie.
Mens hoor soms daardie opvatting, asof ‘n sinode lank gelede in die vroeë kerk die Bybel sou saamgestel het.
Dit is onsin.
Daar is ou sinodes uit die vroeg-Christelike kerk wat inderdaad die lys van al die Bybelboeke opgeskryf het.
Maar daaruit kan mens nie die konklusie trek dat daardie sinode dus die lys saamgestel het nie.
Wat daardie ou sinodes gedoen het, was om die lys van kanonieke boeke te verdedig teenoor dwaalleraars en ketters wat die Bybel wou verander.
U onthou miskien vir Marcion.
Marcion was ‘n ketter uit die tweede eeu wat die Ou Testament verwerp het, en ook die meeste boeke van die Nuwe Testament verwerp het.
Marcion het slegs die Lukasevangelie en 10 briewe van Paulus in sy Bybel oorgehou.
Dit was in reaksie op Marcion se kettery, dat vroeg-Christelike sinodes die kanon verdedig het.
Hulle het die kanon dus nie saamgestel nie.
Hulle het slegs die kanon wat reeds bestaan het, verdedig teen ketters soos Marcion.
Ons bely met die NGB: die Heilige Gees getuig in ons hart watter boeke in die Bybel hoort, watter boeke van God is.
Lees gewoon deur die boeke, vergelyk hulle met ander boeke, dan kom die besef onweerstaanbaar op: Hierdie spesifieke boeke is meer as net menseboeke.
Dit is die Heilige Gees wat daardie besef in jou hart bring.
Dis net mense wat bewus blind wil wees, wat hulleself teen die Gees verhard, wat daardie getuienis verwerp.
Om dit met ‘n voorbeeld te verduidelik:
As ek vir u ‘n ry boeke sou wys, waarvan sommiges hardeband is en ander sagteband.
En ek vra vir u: sit al die boeke wat hardeband is eenkaant, en die wat sagteband is anderkant.
Enige persoon, selfs ‘n blinde, sal dit kan doen.
Slegs mense wat moedswillig wil wees, sal skynbaar nie die verskil merk nie.
Maar dit is ‘obvious’, sou ons sê.
Net so is dit klaarhelder, watter boeke Bybelboeke is.
Die NGB sê: selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
Bedoelende: As ‘n blinde persoon iets kan uitken, dan staan dit dubbel vas.
Nie dat elke hoofstuk in die Bybel eenvoudig en laergraad is nie.
Daar is gedeeltes wat maklik verstaanbaar is.
Maar daar is ook hoofstukke wat moeilik is.
Die apostel Petrus het ons al daarvoor gewaarsku: “waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Petr. 3:16)
Maar al is dele moeilik, dit maak hulle nie minder geïnspireer nie, inteendeel.
En so het die kerk dus deur die eeue die Bybelboeke dankbaar aanvaar.
En net soos sinodes in die vroeë kerk die lys van al die Bybelboeke duidelik opgeskryf het, so doen die NGB dit ook in artikel 4.
Weer eens, ons moenie die redenasie omdraai nie.
Dis nie die NGB wat bepaal watter boeke in die Bybel hoort nie.
Die NGB erken dankbaar daardie boeke waaruit die stem van God duidelik spreek.
Dit is boeke waarteen niks ingebring kan word nie.
En ja, die aanvalle op die Skrif steek telkens weer die kop op, in die verlede en hede.
Steeds weer probeer mense foute in die Bybel te vind.
Foute van allerlei aard.
Historiese foute, verkeerde daterings byvoorbeeld.
Foute wat wêreldbeeld betref, die opvatting dat die aarde plat is byvoorbeeld.
Foute in die sin dat die Skrif homself weerspreek.
Ensovoorts ensovoorts.
Tog bly dit ‘n wonder dat die Bybel deur al die eeue standhou as die fondament en rigsnoer van die waarheid.
In elke eeu kom mense weer onder die indruk: Daar is nie foute in die Bybel nie.
En die feit dat die Bybel die wêreldbeeld reflekteer wat gangbaar was toe in die era van die openbaringsgeskiedenis, maak dit nie onbetroubaar nie.
Dit maak dit juis betroubaar.
Die Bybel is nie ‘n handboek vir natuurwetenskap nie.
Die Bybel is nie ‘n aardrykskundige handboek nie.
Die Bybel is nie ‘n geskiedenisboek wat elke feit oor die verlede wil vertel nie.
Die Bybel openbaar die wonderbare geheimenis van God se heilsplan, wat duidelik geword het, wat tot uitvoer gebring is, in die periode van die openbaringsgeskiedenis.
Ons maak inderdaad kennis met daardie periode uit die wêreldgeskiedenis, en details uit daardie periode, kultuurhistories, aardrykskundig, natuurkundig ensovoorts.
Juis omdat dit God behaag het om in daardie periode iets groots te doen, sy heilsplan tot uitvoer te bring.
Die Bybel bind ons nie aan die aardrykskundige en natuurkundige opvattings van toe nie.
Die Bybel bind ons wel aan die feite van die heilsgeskiedenis, wat God in daardie periode van die openbaringsgeskiedenis laat plaasvind het.
Heilsfeite waarvan mense van alle tye en plekke die vrugte mag pluk.
Gemeente, hoe ouer ek word, en ek is seker die nog ouer mense sal dit beaam, hoe meer verwonderd raak ek oor die Bybel.
God se Woord is so ryk en diep.
Mens kan ‘n leeftyd elke dag daaruit lees, en steeds raak mens nie moeg daarvoor nie.
Van buite af lyk dit op ‘n sameraapsel van allerlei soorte literatuur van allerlei skrywers.
Maar hoe meer mens daarin lees, hoe meer besef jy dit is ‘n eenheid.
Dit kom met ‘n eensluidende boodskap.
Christus se Gees het ‘n produk geskep wat die tye verduur, wat nie oud en oorbodig raak nie.
Ons kan ons geloof daarna rig, daarop grondves, daarmee bevestig.
Dit is die kosbaarste besit wat jy aan die volgende geslag kan nalaat.
Christus kom tot jou en tot jou nageslag met sy Woord.
Die Heilige Gees het die Woord ontwerp om jou te bring tot aanbidding van Christus.
Die Skrif is dit wat jou wys kan maak tot saligheid.
Deur die Skrif laat die Heilige Gees die geloof in Jesus Christus in jou ontkiem.
Daarom klink die oproep ook vandag:
Verkondig die Woord, hou aan tydig en ontydig.
Want op grond van die getuienis van apostels en profete sal Christus die lewende en die dode oordeel by sy verskyning.
“Omdat jy die Woord bewaar het
van my lyde en lydsaamheid,
is Ek jou ook 'n Bewaarder
in die uur van sware stryd”
(Sb 43:4)
“Ek kom gou! Hou dan bestendig
wat my mond aan jou beloof.”
(Sb 43:5)
Amen.
Votum
Seën
Sb 49:4-6
Gebed
Skriflesing: Exodus 31:18, 32:16-19, 34:27-35
Ps 78:3
Skriflesing: 2 Timotheüs 3:10-4:5
Ps 130:3
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 3-5
Preek
Sb 43:4,5
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 146:6
Kollekte
Ps 138:2
Seën