Die Heilige Skrif is volmaak

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-11-03
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 6 en 7
Preek Inhoud: 

Ons skenk vanaand aandag aan ‘n onderwerp wat op eerste gesig nie so relevant lyk nie, naamlik die apokriewe boeke.

In artikel 6 van die NGB staan ‘n lys van apokriewe boeke.

Vir die meeste van ons heeltemal onbekend.

Tog is die onderwerp nie so irrelevant, as ons let op die beginsels wat in hierdie artikels verwoord word nie.

Dit is juis hierdie beginsels wat ons vandag baie kan help in die beoordeling van dit wat ons lees en kyk.

 

Tema: Die Heilige Skrif is volmaak

  • Omdat dit volmaak is, kan ons in die lig daarvan ander geskrifte beoordeel
  • Omdat dit volmaak is, raak dit nie ouderwets nie

 

  • Omdat dit volmaak is, kan ons in die lig daarvan ander geskrifte beoordeel

In artikel 6 skenk die Nederlandse Geloofsbelydenis aandag aan die apokriewe boeke.

Hierdie boeke is vir ons grootliks onbekend.

Dit was egter nie die geval in die 16de eeu, toe Guido de Brès die NGB geskryf het nie.

Vir eeue lank is die apokriewe boeke, wat hy in art. 6 noem, as deel van die Bybel beskou deur die Roomse Kerk.

Die Roomse Kerk het self ook besef dat hulle van laer kwaliteit as die ander Bybelboeke was, en het hulle daarom Deutero-Kanonieke boeke genoem.

Deutero beteken hier iets soos: tweederangs.

Nietemin is hulle wel in die Bybel opgeneem.

Die verhale en geskiedenisse daarin was daarom veel meer algemene kennis as wat dit vandag onder ons is.

As mens na ou skilderye kyk uit die 16de en 17de eeu, val dit op dat dikwels taferele uit die apokriewe boeke ‘n onderwerp was om op die doek vas te lê.

In die tyd van die reformatore en Guido de Brès was dit ‘n lewendige diskussie of hierdie boeke ‘n plek in die Bybel verdien het.

Die reformatore het egter teruggegaan na voor die Middeleeue, en weer aangesluit by die kanon van die vroeë kerk.

Dit is die lys van kanonieke boeke soos wat hulle in artikel 4 gelys is.

Die apokriewe boeke is dus uit die Bybel verwyder.

Soos ons in verlede week se preek gehoor het, is dit nie die kerk of ‘n sinode wat bepaal watter boeke in die Bybel hoort nie.

Elke boek se inhoud getuig self.

As mens elke Bybelboek lees, dring die besef in ons op dat dit nie net menseboeke kan wees nie.

As mens ‘n apokriewe boek lees, is daardie besef egter nie daar nie.

Ek het ‘n paar jaar gelede, in my preek toe na aanleiding van hierdie artikels van die NGB, uitgebreid verwys na die verskil tussen die kanonieke boek Daniël, en die apokriewe hoofstukke wat later aan Daniël toegevoeg is.

In beide word dinge oor Daniël geskryf.

In die apokriewe hoofstukke val die aksent egter oordrewe op die heldedade, die vernuf en dapperheid van Daniël.

Daniël is werklik daar die middelpunt as geloofsheld.

In die kanonieke hoofstukke is Daniël se onbesproke karakter egter nie die middelpunt nie, maar veel meer dit wat God in en deur sy lewe gedoen het.

 

Nou is daar tussen die verskillende apokriewe boeke ook die nodige verskille.

Nie elke apokriewe boeke is dieselfde nie.

Daar is geskiedenisboeke, daar is kortverhale, daar is wysheidsliteratuur.

By sommiges van hulle sal mens, as jy dit lees, soms die gevoel kry jy is besig om in die Huisgenoot te lees.

By ander, soos byvoorbeeld die boeke van die Makkabeërs, kry mens te make met geskiedskrywing.

Daar staan leersame dinge in, as synde geskiedenisboeke, maar dit op sig maak hulle nog nie Bybelboeke nie.

 

Soos ek genoem het, het die apokriewe boeke ‘n veel groter rol in die samelewing van die 16de en 17de eeu gespeel as deesdae.

Hoewel die Reformasie hulle uit die Bybel verwyder het, was die populêre aandrang egter so groot, dat toe die Statevertaling gedruk is, die uitgewers tog maar weer die apokriewe boeke ook opgeneem het.

Wel heeltemal aan die einde na Openbaring, en ook met ‘n waarskuwende artikel ter inleiding.

 

Dit is in ‘n soortgelyke klimaat wat Guido de Brès artikel 6 geskryf het.

Op baie mense se lippe was dit ‘n brandende vraag:

Is die apokriewe boeke deel van die Bybel?

En so nie: Mag ons die apokriewe boeke lees?

In artikel 6 gee die Guido de Brès hierop antwoord.

Vir ons gevoel is sy antwoord dalk bietjie te sag, as hy opmerk: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek”.

Moes hy nie sterker standpunt ingeneem het nie?

Gemeente, nie net by hierdie artikel nie, maar by elke artikel van die NGB, het Guido de Brès hom deur die volgende beginsels laat lei: Tota Scriptura, en Sola Scriptura.

Tota Scriptura: heel die Skrif.

As Christen mag jy nie self kies watter bevele uit die Skrif jy in jou lewe nakom, en watter nie.

Nee, die hele Skrif moet ons handhaaf.

Aan die ander kant is daar ook: Sola Scriptura: Alleen die Skrif.

As Christen, as kerk, mag jy ook nie bevele byvoeg, wat nie in die Skrif staan nie.

Dan bind jy, soos ons dit noem, bo die Skrif uit.

‘n Bekende voorbeeld is hoe die Fariseërs allerlei reëls en regulasies aan die Skrif toegevoeg het.

Nou by die beantwoording van die mense se vraag: Mag ons die apokriewe boeke lees, het Guido de Brès hom dus ook laat lei deur hierdie beginselfs, Sola Scriptura en Tota Scriptura.

Dit het hom duidelik laat standpunt inneem.

Die apokriewe boeke hoort nie in die Skrif nie.

Maar om die mense te verbied om dit te lees, sou te ver gevoer het.

Dan sou hy bo die Skrif uit gebind het.

Daarom verwoord hy dit genuanseerd: Die kerk mag hierdie boeke wel lees.

Die kerk mag daaruit lering trek.

MAAR, vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.

 

Guido de Brès verwoord hier die beginsel wat ons op enige ander boek ook moet toepas.

Ons mag ander boeke as die Bybel lees.

Dit is selfs goed om ook ander boeke te lees.

Maar, alles wat ons lees, moet ons beoordeel in die lig van die Skrif.

As in ‘n ander boek iets staan wat verskil met die Bybel, dan moet ons dit afkeur.

Of dit nou oor historiese feite gaan, of oor lewensstyl, of oor wat ook al.

Ons moet ander boeke dus met onderskeidingsvermoë lees.

En ons onderskeidingsvermoë moet gevorm wees deur die Skrif self.

 

Noudat ons so baie oor boeke praat, moet ons nie ander literêre genres vergeet nie.

Wat ek hierbo gesê het oor boeke, geld net so veel vir toneel, of vir die kyk van films, televisie, watter literêre medium ook al.

Ons samelewing beweeg steeds verder van ‘n leeskultuur af weg.

Ons gemeentelede is onderdeel van die samelewing, en ons sien dieselfde tendens in die kerk.

Mense lees al hoe minder, mense kyk al hoe meer na beeldmateriaal.

Dit is geweldig belangrik dat ons as Christene dit met die nodige onderskeiding doen.

Daar is so baie beeldmateriaal wat afbreuk doen aan die gesag van God se Woord.

Ons kan nie sulke beeldmateriaal, wat op gespanne voet staan met ‘n gebod van God, vir ons ontspanning gebruik nie.

Dit gaan ons gewoond maak aan die sonde.

Laat ons daarom ons siel suiwer hou.

 

Paulus skryf dat die Evangelie ons verstand vernuwe (Rom 12).

Ons ou verstand het die neiging om heeltyd aan sondige dinge te dink, en van die sonde te geniet.

Christus herskep egter ons verstand en wil.

Nou begin ons anders te dink, positiewe dinge te begeer, in lyn met God se wil.

Deur die krag van Christus se Gees in ons, hunker ons nie meer na dit waarna die wêreld hunker nie.

Ons skep nie meer plesier in owerspel, moord, skinder, intriges en wat ook al nie.

En as sulke dinge aan ons opgedring word deur middel van films, televisie, boeke of op watter manier ook al, dan geniet ons nie meer daarvan nie.

Ons beoordeel alle dinge in die lig van God se wil in die Skrif.

 

Om weer terug te kom by die apokriewe boeke, so, sê die NGB, moet ons ook met hulle te werk gaan.

Lees hulle krities.

Moenie dink jy kan jou geloof op hulle bou nie.

As daar dinge in staan wat ooreenstem met die Bybel, mooi.

Maar moenie verwag hulle is op dieselfde vlak as die Bybelboeke nie.

Geensins.

 

Ons lewe vandag in ‘n heel ander tyd.

Mede danksy die standpunt wat die Reformasie oor die apokriewe boeke ingeneem het, speel daardie boeke nie werklik meer ‘n rol in ons samelewing nie.

Ek neem aan daar is weinig persone onder ons wat vir hulle plesier ‘n apokriewe boek gaan oopmaak om te lees as ontspanning.

Deesdae se mense sal vir ontspanning eerder na 7de Laan kyk, of na ‘n rugbywedstryd, of ons sal ‘n tydskrif by die winkel gaan koop om te lees en deur te blaai.

Die Skriftuurlike beginsels wat art. 6 van die NGB saamvat, bly egter volledig relevant, al is daar geen apokriewe boek meer in ons huis nie.

As die kanonieke boeke van die Bybel die krag en gesag het om ons geloof te bou, te versterk, te bevestig, neem hulle dan ook ‘n sentrale plek in ons daaglikse lewe in?

Lewe ons elke dag vanuit die Woord?

Is die daaglikse tyd wat ons aan God se Woord bestee, die lees daaruit, die oordink daarvan, die toepassing daarvan, word dit afgeskeep omdat ons so baie tyd spandeer aan sport, tydskrifte, elektroniese media, ensovoorts?

Verstaan my goed, met hierdie vraag wil ek nie bo die Skrif bind nie.

Ek sê nie dis verkeerd om sport te kyk, soos op ‘n Saterdag nie.

Ek sê nie dis verkeerd om tydskrifte te lees, Facebook te volg, Instagram te kyk nie.

Al hierdie dinge kan juis ook positief gebruik word.

Maar laat hierdie dinge nie die lewende verhouding met die Here Christus, wat begin met besig wees met sy Woord, verdring nie.

Mens kry sulke applikasies op jou selfoon, wat elke dag ‘n dagversie uit die Bybel op jou selfoon laat verskyn.

As dit al blootstelling is wat jy aan die Woord elke dag kry, dan is daar groot fout.

Laat ons, soos die Christene in Berea destyds, die Woord ondersoek, op daaglikse basis.

Laat ons alles wat met ons en om ons gebeur, evalueer in die lig van God se Woord.

Laat ons oppas dat al hierdie ander dinge, soos die NGB skryf, nie afbreuk doen aan die gesag van God se Woord in ons lewe nie.

 

Want, en daarna gaan ons nou in die tweede plek kyk:

Die Woord bevat ook in ons tyd, ook in die 21ste eeu, nog steeds alles wat ons vir ons saligheid moet glo.

 

(Tema: Die Heilige Skrif is volmaak

  • Omdat dit volmaak is, kan ons in die lig daarvan ander geskrifte beoordeel)

 

 

  • Omdat dit volmaak is, raak dit nie ouderwets nie

Artikel 7 skryf oor die volkomenheid van die Woord.

Die Woord is volmaak geskik vir sy doel, ook vandag nog.

Soms kan die gevoel ‘n mens bekruip, dat die Bybel, vir alle praktiese doeleindes, ouderwets geword het.

Ons lewe in ‘n samelewing waarin so baie dinge besig is om te verander.

Ons lewe in ‘n wêreld wat so anders lyk as die tyd toe die Bybel op skrif gestel is.

In die Bybelse tyd was iets soos vliegtuie ondenkbaar.

Vandag is dit deel van die daaglikse lewe dat mense in die lug in kan opstyg.

In die Bybelse tyd was daar, vergeleke by vandag, nog maar beperkte kennis van die menslike liggaam.

Ons lewe vandag in ‘n tyd waarin mense hartoorplantings ondergaan, en dan met die hart van ‘n ander mens nog jare kan voortleef.

Ons lewe vandag in ’n tyd waarin die ontstaan van lewe in die baarmoeder gefilm kan word, iets wat in die verlede ‘n geheimenis was (Ps 139:15).

Ons lewe in ‘n tyd waarin die ontstaan van lewe, die bevrugting, selfs buite die liggaam in ‘n proefbuis kan plaasvind.

‘n Tyd waarin die begin van ‘n mens se lewe, of embryo’s soos dit teenswoordig genoem word, ingevries kan word, en jare later eers in die baarmoeder geplaas kan word.

Ons lewe vandag in ‘n tyd waar die eindes van die aarde nie meer onbekend is nie.

Die aardbol het soos ‘n ‘global village’ geword.

Ons lewe vandag in ‘n tyd waarin die wêreldbevoling eksponensieel gegroei het vergeleke met die tyd waarin die Bybel geskryf is.

Al hierdie realiteite, wat ‘n gevolg is van die akkumulasie van menselike kennis en vaardighede deur die eeue, al hierdie realiteite het ‘n invloed op ons denke, op ons wêreldbeeld.

Voor ons dit werklik besef, kan dit die Bybel na die kantlyn van ons bestaan druk.

Dit is in elk geval wat gebeur in die samelewing om ons heen.

Al hierdie realiteite kan, haas onbewus, ons vertroue op dit wat in die Woord staan, laat erodeer.

Is die Skrif werklik volmaak?

In artikel 7 word die volkomenheid van die Skrif bely.

Ervaar ons dit werklik nog as ‘n feit?

 

Kom ons luister na wat hier bely word.

Die NGB sê:

Die Heilige Skrif is volmaak, in die sin dat dit alles bevat wat die mens vir sy saligheid moet glo.

Die Heilige Skrif is volmaak, in die sin dat dit breedvoerig aan ons beskryf hoe God deur ons gedien moet word.

Dit is dus wat die NGB met die volkomenheid van die Skrif bedoel.

Die Skrif was nie bedoel om ons alles te vertel wat in die toekoms gaan gebeur nie.

Die feit dat die Skrif die omstandighede waarin die wêreld 2000 en meer jare lede was, reflekteer, maak dit daarom nog nie beperk en tydgebonde nie.

Die feit dat daar in die Bybelse tyd nog nie vliegtuige was, en ook nie hartoorplantings gedoen kon word nie, dit maak die Bybel self nog nie minder volmaak nie.

Die Bybel was nie bedoel gewees as ‘n handboek wat ons alle natuurwetenskaplike, mediese, geografiese kennis van alle tye moes openbaar nie.

Die Bybel is bedoel om, soos die NGB dit verwoord, aan die mens duidelik te maak hoe God gedien moet word, en hoe die mens salig kan word.

En wat dit betref is die Bybel vandag nog steeds net so volmaak en effektief as 2000 jaar gelede.

Die Bybel openbaar aan ons die heilsfeite wat met Christus te gebeur het.

God se geheimenis, wat Hy in die volheid van die tyd geopenbaar het, deur sy eie geliefde Seun na die aarde te stuur, om die Satan te verslaan, die dood te oorwin, en vrede te herstel tussen die mens en sy Skepper.

Daardie boodskap van heil is vandag nog net so kragtig en relevant as 2000 jaar gelede, en dit sal so bly tot die dag waarop Christus terugkom.

En hoe die mens en sy lewensstyl ook verander het as gevolg van tegnologie, die mens self het nie verander nie.

Alle mense is uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self.

Die NGB haal hier Psalm 62 aan.

Die mense van die 21e eeu is wat dit betref presies dieselfde as die mense uit die tyd toe Dawid hierdie psalm geskryf het.

Afgelope week vra een van my kinders vir my: Was daar al ooit ‘n tyd wat daar nie oorlog op aarde was nie?

My vrou en my antwoord het vinnig gekom: Vanaf Kaïn en Abel se tyd af, het die onmin en oorlog op aarde nog nie tot rus gekom nie.

 

En gemeente, laat ons onsself nie verblind deur die tegnologiese vooruitgang wat ons in ons tyd beleef nie.

Want waartoe die mens ook al in staat is deesdae, die kern van alle probleme op aarde, naamlik die dood as straf op die sonde, daaraan kan die mens vandag nog steeds net so min doen as duisende jare gelede.

Daarom bly die boodskap van die Evangelie vandag onverminderd aktueel.

Die boodskap dat Christus die dood oorwin het.

Die boodskap dat Christus uit die graf opgestaan het met ‘n verheerlikte liggaam, wat nie weer sal sterf nie.

As jy hierdie heilsfeite op jou laat inwerk, dan verdwyn alle twyfels vinnig soos mis voor die son.

Ja, ook vandag is die Skrif volmaak!

Ook in die 21e eeu bring die Skrif ‘n boodskap wat geen mens, geen wetenskap, geen tegnologie my kan bied nie.

Moet dus nie toelaat dat daar ‘n skeptiese houding oor die Bybel in jou lewe nesskop nie.

Moenie toelaat dat iemand, wie dit ook al mag wees, jou iets anders probeer wysmaak nie.

Al was dit ook ‘n engel uit die hemel – Galasiërs 1:8.

Moenie toelaat dat ander geskrifte, of dit nou ou geskrifte is of dalk die nuutste wetenskaplike insigte, dat hulle op een lyn met die Bybel gestel word nie.

 

Vernuwe vanaand weer jou vertroue op God se Woord.

Sy Woord is volmaak.

Sy Woord leer jou hoe jy jou God ook vandag in jou lewe moet dien.

Sy Woord leer jou hoe jy ewig kan lewe.

Sy Woord bring jou by Christus, jou enigste hoop vir die toekoms.

 

En daarom roep ek julle almal op, om saam met die NGB te bely:

Ons verwerp met ons hele hart alles wat nie met God se onfeilbare Woord ooreenkom nie.

Ons sal voortgaan om die geeste op die proef te stel, ook die tydsgees van die tyd waarin ons leef.

En as iemand na ons kom nie met die leer van God se onfeilbare Woord nie, sal ons hom nie as vriend in ons huis ontvang nie.

Ons sal hom nie groet as ‘n geesgenoot nie.

Ons sal bly vashou aan Christus, en soos Hy tot ons kom in sy onfeilbare volmaakte Woord.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 139:1,6,7

Gebed

Skriflesing: Romeine 12:1-8; Galasiërs 1:1-12; 2 Johannes 1

Ps 18:11,14

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 6-7

Preek

Ps 62:1,5,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 41:4-7

Seën