Die term Drieëenheid is ‘n woord wat in die loop van die kerkgeskiedenis ontstaan het, om dit te beskryf wat ons in die Bybel teëkom.
Die Skrif is uitgesproke duidelik dat daar net een God is.
Terselfdertyd ontmoet ons in die Skrif drie Persone, aan wie Goddelike name gegee word, wat Goddelike eienskappe het, wat Goddelike dinge doen, en wat Goddelike eer ontvang.
In die Ou Testament was dit nog nie so eksplisiet nie, al is daar al gedeeltes wat duidelik in daardie rigting wys.
In die Nuwe Testament word dit baie eksplisiet.
In die komende weke gaan ons aandag skenk aan die Godheid van hierdie drie Persone: Vader, Seun en Heilige Gees.
In vandag se preek fokus ons spesifiek op die eenheid tussen hulle aan die een kant, en die onderskeiding in drie aparte Persone aan die ander kant.
Tema: Die leer van die Drieëenheid kom uit die Skrif
Die NGB skenk eksplisiet aandag aan die Drieëenheid in artikels 8 en 9.
Die NGB doen dit omdat in daardie tyd daar mense was wat die leer van die Drieëenheid verwerp het.
Dit is iets van alle tye dat sommige mense, dikwels beïnvloed deur die tydsgees, dink hulle weet beter en die klassieke leer van die Drieëenheid aan die kant skuif en met alternatiewe idees kom.
Een van die bekendste voorbeelde was Mohammed.
Hardkoppigheid en gebrek aan voldoende kennis het by hom daartoe gelei dat hy die vroeg-Christelike leer van die Drieëenheid verdag begin maak het, verwerp het, en toe met sy eie idees vervang het.
Daarvolgens was Christus nie meer God nie, maar slegs ‘n profeet soos hy.
In die vroeë kerk was daar nog meer wat die Drieëenheid verwerp het, die NGB gee ‘n lysie van name:
Marcion, Mani , Prexeas, Sabellius, Samosatenus, Arius.
Dis nie dat al hierdie persone bondgenote was en saamgestem het nie.
Elkeen het volgens sy eie wysheid met eiesoortige idees gekom.
Maar wat hulle in gemeen het, is dat al hulle uiteenlopende idees die klassieke leer van die Drieëenheid aan die kant geskuif het.
In Artikel 8 verwoord die NGB kortliks die leer van die Drieëenheid, soos dit in die Skrif tot ons kom.
Guido de Brès, die opsteller van die NGB, laat dit egter direk volg met ‘n nog langer artikel, wat Skrifgedeeltes eksplisiet aanhaal.
Dit moet veral duidelik wees dat hy nie sy eie teologie hier opdring nie, maar dat hy die boodskap naspreek wat uit die Bybel tot ons kom.
‘n Aantal Skrifgedeeltes word genoem, waaronder ook die teks wat ons vanaand gelees het, 2 Korinthiërs 13:13.
Hierdie teks, met die vir ons so bekende trinitariese seën, wat tot vandag nog elke Sondag klink, vorm die afsluiting van Paulus se brief aan die Korinthiërs.
Dit is ‘n brief wat hy in die jare 50 na Christus geskryf het.
Dit was so 20-25 jaar na Christus se kruisiging, opstanding en hemelvaart.
Soos ons weet, was Paulus ‘n laatlammetjie onder die apostels.
Waar die meeste ander apostels al geroep is aan die begin van Christus se bedieningsjare, is Paulus eers geroep na hemelvaart en Pinkster, toe Christus persoonlik vanuit die hemel aan hom verskyn het.
Sedertdien het Paulus se lewe in diens gestaan van die uitbreiding van die Evangelie.
Op een van sy sendingsreise het hy ook in Korinthe aangekom.
Daar was mense wat gehoor gegee aan sy prediking van Christus.
Paulus het daar aan die wieg gestaan van die gemeente van Korinthe.
In die jare daarna het die kontak tussen hierdie gemeente en Paulus voortgeduur, al was Paulus nie steeds daar nie.
Daar is oor en weer briewe geskryf.
En uit hierdie briewe kom ons meer te wete oor die verhouding tussen Paulus en hierdie gemeente.
In die Bybel het ons byvoorbeeld die eerste brief aan die Korinthiërs.
Uit daardie brief is duidelik dat daar daarvoor ook al korrespondensie was.
1 Korinthiërs is naamlik ‘n antwoord van Paulus op ‘n brief wat hy van hierdie gemeente ontvang het.
Tussen 1 en 2 Korinthiërs was daar ook nog korrespondensie.
Plus daar was ook opvolgbesoeke wat Paulus aan hierdie gemeente gebring het.
Uit al hierdie interaksie is duidelik dat die verhouding tussen Paulus en hierdie gemeente nogal moeisaam was.
Dit het sy oorsaak veral daarin gehad dat daar bepaalde gemeentelede was wat nie bereid was om hulle ou mens te kruisig, wat hulleself gehandhaaf het, wat sondige gewoontes in hulle lewens getolereer het, en wat die man pleks van die bal gespeel het, as hulle daarop aangespreek is.
Paulus het self deurgeloop.
Toe Paulus die vinger by die sondes gelê het, het hulle Paulus se persoon begin aanval.
Eerstens het hulle hom afgekraak, in die sin dat hulle gesê het hy is nie so ‘n begaafde prediker nie, hulle ken beter predikers ...
Hulle ken predikers wat meer oortuigend en emosioneel kan praat ...
Tweedens het hulle een van Paulus se aksies ook begin verdag maak.
Paulus het naamlik ‘n geldinsamelingsaksie gehou.
Hy het al die deur hom gestigte gemeentes opgeroep om ‘n kollekte vir Jerusalem te hou.
As gevolg van die teenstand en vervolgings deur die Jode het die gemeente in Jerusalem al hoe meer hulpbehoewend geword.
Paulus het ook reëlings getref dat hy persoonlik die kollektes na Jerusalem sou bring.
Sommige Korinthiërs het Paulus egter begin verdag maak.
Hulle het gesê: Aan die een kant beweer daardie Paulus dat hy geen geld soek nie, dat hy ‘n ‘tentmaker’ is, maar aan die ander kant vra hy baie geld vir hierdie insamelingsaksie, net om dit in sy eie sak te steek.
Hierdie onwaarhede het Paulus baie gekwets, en mens kom dit agter as mens deur hierdie tweede Korinthebrief lees.
Dit is baie maklik om die goeie naam van ‘n ampsdraer verdag te maak.
En vir ‘n ampsdraer help dit nie om altyd op alle skinderpraatjies in te gaan nie.
Maar in hierdie geval het Paulus gevoel dat sy naam gesuiwer moes word, juis in die groter belang van die voortgang van die Evangelie.
Dit doen hy dan ook in hierdie brief, 2 Korinthiërs.
Nou is dit nie bedoeling van hierdie preek om op al die details van die beskadigde verhouding tussen Paulus en die Korinthiërs in te gaan nie.
Dis duidelik dat Paulus alle moeite gedoen het dat die kenmerke van ‘n ware kerk nie in Korinthe sou verlore gaan nie – die onbeperkte Evangeliebediening, die eerbare bediening van die sakramente, en die uitoefening van die tug.
Laasgenoemde is uit 2 Korinthiërs baie duidelik – die wat in valse leer en lewe volhard, kan nie onbeperk in die gemeente geduld word nie.
Ons aandag gaan vanaand egter veral na hoe Paulus sy brief afsluit.
Hoofstuk 13 bestaan uit ‘n aantal indringende oproepe aan die Korinthiërs:
- Ondersoek julleself of julle in die geloof is.
- Stel julleself op die proef.
- Is julle seker dat Jesus Christus in julle is?
- Wees bly!
- Werk aan julle volmaking!
- Laat julle vermaan!
- Wees eensgesind!
- Hou vrede!
Hierdie oproepe het alles te make met die konkrete toestand wat daar in die gemeente geheers het: verdeeldheid, wanorde, opgeblasenheid, verdagmakery en en en.
Maar dan aan die einde van die brief sluit Paulus af met ‘n seën, net soos hy die brief begin het.
En alle harde woorde wat daar tussenin staan, is ingebed in hierdie seënbedes.
Juis omdat Christus daardie gemeente vir Homself gekoop het, juis daarom doen Paulus so baie moeite, spandeer hy so baie tyd aan hierdie gemeente, al sou hy dalk hulle, wat hom so gekwets het, liewers geïgnoreer het.
Maar nee, hy hou aan, tydig en ontydig, want, soos hy skryf in 2 Korinthiërs 5:14: “Want die liefde van Christus dring ons”.
In die seënbede hier aan die einde van die brief, vat Paulus in een sin saam wat die fondament is vir hierdie gemeente se bestaan.
Dit is die genade van die Here Jesus Christus.
Die woord genade verwys hier na die totaal van die middelaarswerk wat Christus hier op aarde kom doen het, en wat Hy nou nog steeds in die hemel doen.
Daardie genade het voortgekom uit die liefde van God.
Omdat God die wêreld so lief gehad het, het Hy sy eie eniggebore Seun gestuur, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie (Joh 3:16).
Dit was die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God wat daarvoor gesorg het dat die gemeente in Korinthe ontstaan het.
Maar dan is daar ook nog die gemeenskap van die Heilige Gees.
Paulus bedoel dit hier tweërlei.
Eerstens is daar die verbondenheid met die Gees.
Dit is deur die Gees se krag wat daar eenheid ontstaan, waardeur die geloof tot lewe kom, waardeur vrede neerdaal.
Tweedens is hierdie gawe ook ‘n opdrag.
Laat die gemeenskap van die Heilige Gees ook hande en voete kry in die gemeente in onderlinge vrede en liefde.
Dit is die trant van hierdie hele brief.
Dit is God, Vader, Seun en Gees, wat die gemeentelewe laat ontstaan, wat dit moontlik maak.
In hoofstuk 1 kom hierdie trinitariese fondament ook pragtig uit, as Paulus skryf: God het ons in Christus gesalf, bevestig, verseël, en Hy het die Gees as onderpand in ons harte gegee (2 Kor 1:21-22).
En dit wat Hy gegee het, dit vra Hy vervolgens nou ook.
Die onderlinge eenheid word moontlik gemaak omdat die eenheid met die Heilige Gees aan hulle geskenk word, omdat hulle die Gees ontvang het.
En so vorm die laaste vers, hierdie seën in die Naam van Vader, Seun en Heilige Gees, ‘n baie passende afsluiting van 2 Korinthiërs.
Die voortbestaan van hierdie gemeente is slegs moontlik deur die seënende nabyheid van Vader, Seun en Heilige Gees.
Nou soos ek genoem het, het Paulus hierdie brief in die jare 50 van die eerste eeu geskryf.
Ek noem dit, omdat daar mense was en is wat beweer dat die leer van die Drieëenheid eers later ontstaan het.
Dat eers in latere eeue, toe mense soos Athanasius en Augustinus geleef het, die leer van die Drieëenheid ontstaan het.
Dat sinodes, soos die van Nicea en Konstantinopel, die leer van die Drieënheid uitgedink het.
Dit is egter ‘n drogredenasie.
Teoloë soos Athanasius en Augustinus het dit wat in die Bybel staan, bloot verdedig teen dwalings wat die kop opgesteek het.
In die Bybel, vanaf die vroegste geskrifte van die Nuwe Testament, vind ons egter elke detail terug wat later onder woorde gebring is met die leer van die Drieëenheid.
Soos byvoorbeeld in hierdie brief van Paulus, 2 Korinthiërs.
Die seën waarmee hierdie brief afsluit maak enkele dinge baie duidelik.
Eerstens is dit ‘n Goddelike werk, ‘n Goddelike aksie om te seën.
Om in die naam van ‘n mens geseën te word, is niksseggend.
Vader, Seun en Heilige Gees word in 2 Korinthiërs 13:13 op een lyn gestel, hulle is aldrie Persone wat seën, aldrie as synde God.
Tweedens, om te seën is ‘n eer wat slegs toekom aan iemand wat God is.
Derdens is dit so dat iemand wat ‘n seën oplê, die toekoms moet ken, die toekoms moet kan beïnvloed.
Anders sou daardie seën niks om die lyf hê nie.
En dit is uit en uit ‘n Goddelike eienskap, om die toekoms te ken, om alwetend te wees.
Meer nog, om die toekoms te vorm volgens sy plan.
Dit is slegs ‘n Persoon wat hiertoe in staat is, wat ‘n seën kan gee.
Ook wat dit betref word Vader, Seun en Heilige Gees in 2 Korinthiërs 13:13 op een lyn gestel.
Nie dat hulle identies is nie.
Nie dat hulle presies dieselfde doen nie.
Aan die Here Jesus Christus se naam word die eienskap van genade verbind.
Dit is wat Hy aan die gemeente bied.
Aan die Vader se naam word die eienskap van liefde verbind.
Dit is wat Hy aan die gemeente bied.
Aan die Heilige Gees se naam word die eienskap van gemeenskap oftewel eenheid verbind.
Dit is wat Hy in die gemeente werk.
So sien ons dus in Paulus se briewe dat hierdie drie Persone ‘n aktiewe rol speel, elkeen as synde God.
Aan elkeen word Goddelike Name gegee.
Aan elkeen word Goddelike eienskappe toegeskryf.
Van elkeen word sy Goddelike werke beskryf.
En aan elkeen word Goddelike eer gegee.
Dit is die getuienis wat tot ons kom uit die briewe van die apostel Paulus.
En dieselfde geld vir die ander apostels.
En dieselfde geld vir die Evangeliste.
NGB Artikel 9 verwys onder andere na Mattheüs, wat Christus se eie woorde aanhaal vlak voor sy hemelvaart: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” (Matt 28:19)
Die NGB noem ook dat die realiteit van God se Drieëenheid alreeds in die Ou Testament teenwoordig is.
Daar word verwys na die feit dat God soms na Homself in die meervoud verwys – “ons” (Genesis 1 en 3).
In die Ou Testament is die aantal Persone in die Godheid egter nog nie so duidelik as in die Nuwe Testament nie, al is daar wel reeds verwysings na die Seun en die Gees, verwysings waaruit hulle Godheid na vore kom.
Maar, skryf die NGB tereg, dit wat in die Ou Testament nog enigsins duister is, dit is in die Nuwe Testament baie duidelik.
Aan die einde van die apostoliese era, toe die Nuwe Testament op skrif gestel is, was dit inderdaad baie duidelik.
Daar is drie Persone in die Godheid, en hulle Name is bekend.
Christus het self daarvoor gesorg.
En die apostels het Hom daarin nagespreek.
Daar is slegs een God.
Hierdie een God word gevorm deur drie Persone saam.
Hulle is ‘n onafskeidelike eenheid, terselfdertyd is elke Persoon uniek en doen unieke dinge.
Die Vader het nie mens geword nie, die Vader is nie gekruisig nie.
Die Seun wel.
Tog is die Seun net so ewig as die Vader.
Die Heilige Gees het nie opgevaar na die hemel nie, die Seun wel.
Die Heilige Gees is deur die Seun uitgestort uit die hemel.
Die Heilige Gees sal nie terugkom op die wolke nie, Hy is reeds by ons.
Die Seun sal wel terugkeer op die wolke, as Regter van hemel en aarde.
Ek noem hierdie dinge, deur eenvoudig, net soos die NGB, die Skrif na te spreek.
Die NGB roep ons naamlik op om te let op die besondere ampte en werkinge van die drie Persone, soos dit in die Skrif tot ons kom.
Dit het ‘n besondere betekenis vir jou en my, hoe elke Persoon van die Drieëenheid is, en wat Hy vir ons doen.
Geliefde gemeente, ons staan hier in ‘n lang tradisie, die tradisie van die ortodoksie, van die regte leer oor die Drieëenheid, vanaf die apostels, deur die eeue van die kerkvaders, die tye waarin die geloofsbelydenisse van Nicea en Athanasius tot stand gekom het, die tyd van die Reformasie, tot en met vandag.
Al verstaan ons dit wat die Skrif oor Vader, Seun en Gees openbaar, nie met ons verstand nie, aanvaar ons dit gelowig, ja dankbaar, want dit het ‘n direkte konneksie met ons saligheid.
Ja dit leer die Skrif veral: jou en my ewige saligheid sou nie tot stand gekom het, en sal nie ‘n werklikheid word, as nie al drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees, intensief daarby betrokke was, en is, en sal wees nie.
Daarom is dit gepas om Hulle elke dag van ons lewens die verskuldigde Goddelike eer te gee.
Wat ‘n voorreg as jy jou Skepper, Verlosser en Heiligmaker persoonlik mag ken, en in hierdie lewe ‘n band met elkeen van hulle mag opbou.
Hulle is die alfa en omega in jou lewe.
Hulle staan aan die begin van jou lewe, hulle staan aan die begin van jou redding.
En Hulle dra jou deur die hede.
En aan die einde van jou lewe sal jy Hulle van aangesig tot aangesig ontmoet.
Dan sal Hulle die ewige lewe vir jou ‘n werklikheid laat word.
Skuil by God Drieënig.
Vind jou troos by God Drieënig.
Prys jou God Drieënig.
Nou en vir altyd.
“O Vader laat u liefd’ ons blyk;
o Seun maak ons u beeld gelyk;
o Gees send u vertroosting neer;
Drie-eenge God! U sy al d’ eer!”
(Sb 50:7)
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 105:2,3
Gebed
Skriflesing: 2 Korinthiërs 1 & 13
Sb 50:4-7
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 8-9
Preek
Sb 24:5,6,7
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Sb 27:1,4
Kollekte
Ps 145:1,2,4,12
Seën
Amen