Die kerkvader Augustinus het ‘n keer gesê:
Die Nuwe Testament lê in die Ou Testament verborge, en die Ou Testament word in die Nuwe geopenbaar.
Hiermee het hy bedoel: as jy die Ou Testament nie ken nie, begryp jy ook nie die Nuwe nie.
As jy die Ou Testament nie ken nie, weet jy ook nie wat die offer van Christus aan die kruis beteken nie.
En sonder die offer van Christus aan die kruis gaan ons onherroeplik verlore.
Die Ou Testament is daarom wesenlik vir ons saligheid.
Jy kan nie net die Romeinebrief lees en dink jy verstaan Christus se versoeningswerk nie.
Jy kan nie net jouself beperk tot die lees van die Evangelies nie.
Jou blootstelling tot die Ou Testament kan nie net geleentheidsteksies wees, wat moontlik ook nog uit verband geruk is nie.
Ons mag in hierdie nagmaalsdiens weer delf in die Ou Testament.
Hierdie jaar staan ons naamlik by elke nagmaalsdiens stil by die offers uit die boek Levitikus.
Ons kyk wat elke afsonderlike offer se betekenis was.
En hoe hulle in Christus vervul is.
En wat hulle impak, hulle wesentlike betekenis, vandag nog vir ons is.
Ons gaan vanoggend sien hoe die Evangelie verborge lê in Levitikus 4, ‘n hoofstuk wat handel oor die sondoffer.
Tema: In die sondoffer openbaar God sowel die diepte van ons ellende as die reikwydte van sy genade
- Onopsetlike sondes word nie deur die vingers gesien nie
- Onopsetlike sondes word vergewe
- Onopsetlike sondes word nie deur die vingers gesien nie
Kom ons kyk eers na die hoofstuk.
En ek wil u oproep om goed op te let, u kan u Bybel desnoods by Levitikus 4 oopmaak.
Want sonder dat ons goed kennis neem van wat hier presies staan, kan ons nie oorgaan tot ‘n toepassing nie.
In Levitikus 4 word dieselfde instruksies ‘n paar keer herhaal.
Telkens gaan dit oor ‘n ander persoon of groep.
In vers 3 begin ‘n gedeelte wat betrekking het op ‘n gesalfde priester.
Vervolgens gaan dit in vers 13 oor die hele vergadering.
Daarna gaan dit in vers 22 oor ‘n owerste.
En tot slot gaan dit vanaf vers 27 oor iemand uit die volk.
Die belangrikste verskil lê in die soort dier wat geoffer moes word.
Vir die priester en die hele vergadering was dit ‘n bul.
Vir ‘n owerste was dit ‘n bok.
Vir ‘n gemeentelid was dit ‘n bok of ‘n skaap.
Vir ‘n arme was dit ‘n paar duiwe.
En vir ‘n brandarme was dit ongeveer ‘n kilogram meel.
Die belangrikste ooreenkoms was dat by al hierdie offers bloed gevloei het.
Slegs hulle wat baie arm was, mog pleks van ‘n dier meel offer.
Maar die fokus was veral op die bloed.
Wat was die doel van hierdie bloed?
Die vloei van bloed beteken ‘n lewe is geneem.
Daardie bloed wat vloei, daardie lewe wat geneem is, het gedien as bedekking van die sonde, as versoening.
Watter sondes?
Ons lees in vers 2:
As iemand in swakheid sondig, oftewel onopsetlik.
Hierdie offer was dus nie vir alle soorte sondes nie.
As iemand met sy naaste se vrou owerspel gepleeg het, was dit nie onopsetlik nie.
Daarop het die doodstraf gestaan.
As iemand ‘n ander met voorbedagte rade vermoor het, was dit ook nie per ongeluk nie.
Ook daarop het die doodstraf gestaan.
Maar sonde in swakheid wil sê, onopsetlik.
Daarop het nie die doodstraf gevolg nie.
Dit kon gebeur dat iemand per ongeluk ‘n ander persoon gedood het.
Die wet van Moses het as reël gehad: Onopsetlike sondes kon met hierdie offer versoen word, maar nie opsetlike sondes nie.
Vandag gebeur daar ook nog gereeld onopsetlike sondes.
Sê nou maar jy raak agter die stuurwiel aan die slaap en veroorsaak ‘n dodelike ongeluk.
‘n Onopsetlike sonde.
Dis iets anders as jy wanneer onder die invloed van drank agter die stuurwiel was.
Dan steek jy die grens oor van onopsetlik na opsetlik.
Of sê nou maar jy vergeet jou hek oop en jou hond kom uit en byt ‘n voetganger op die straat.
Dis ‘n sonde, maar in hierdie geval onopsetlik.
Dis nie dat jy wou dat dit gebeur nie.
In daardie geval het ‘n swaar straf gevolg.
Nou hoekom moes daar vir ‘n onopsetlike sondes ook ‘n offer gebring word?
Wel, onopsetlike sondes het ook gevolge, soms net sulke erge gevolge as opsetlike sondes.
Dis die werklikheid.
Maar die hoofrede vir hierdie offer, gemeente, is die heiligheid van God.
Soos daar in Habakuk 1 staan: God is te rein van oë dat Hy die kwaad sou duld (vers 13).
Tog het hierdie heilige God altyd die verlange bly koester om die vrede met die sondige mens te herstel.
Dit sien ons in hoe Hy gereageer het op die sondeval van Adam en Eva.
Dit sien ons in sy geduld met die mense voor die sondvloed.
Dit sien ons in die nuwe begin wat Hy met Noag gemaak het.
Dit sien ons in die verbond wat Hy met Abraham gesluit het.
Dit sien ons in die wetgewing wat Hy nou aan Moses gee.
God se voorneme is om die vrede te herstel met die opstandige wêreld.
Dit noem ons die heilsgeskiedenis.
En die wetgewing by Horeb was onderdeel van hierdie heilshistoriese weg.
En dus ook hierdie wetgewing oor die sondoffer.
Dit is sy verlange om die vrede te herstel, wat God hierdie wette laat uitvaardig het.
Dit is sy liefde.
Die liefde verdra nie halfslagtigheid nie.
Daarom word geen enkele sonde deur die vingers gesien nie.
Selfs die onopsetlike sondes moes versoen word.
Dit was pure genade dat God besluit het om tussen sy volk te gaan woon, in die tabernakel.
Daaruit het God se voorneme om die vrede te herstel, gespreek.
Maar, aan die ander kant, dit was ook ‘n waagstuk.
Dat die hoogheilige God besluit het om tussen sondige mense te kom woon.
Want God se heilige aangesig brand alle sonde weg.
Sondaars word verteer deur die gloed van sy heiligheid.
Daarom het God sy intrek geneem in die allerheiligste.
Geen mens mog daar inkom nie.
Dit was as ‘t ware ‘n geïsoleerde zone.
‘n Gebied waar die hoëpriester slegs onder strikte voorwaardes een keer per jaar mog kom.
Vergesel met ‘n kommetjie vol bloed, as versoening vir die sonde.
En voor jy by die allerheiligste kon kom, moes jy eers deur die heilige.
En ook daar mog slegs priesters kom, vergesel van bloed.
Hierdie bloed, hierdie versoening was dus ook nodig vir onopsetlike sondes.
Wat was die netto resultaat van al hierdie offerwette?
Danksy hierdie offerwette het die volk Israel destyds ‘n status ontvang wat geen ander nasie op aarde gehad het nie.
As verbondsvolk was hulle ‘n plek van lig te midde van ‘n see van duisternis.
Te midde van ‘n wêreld wat vasgevang was in die greep van Satan, sit God voet aan die grond.
In die tabernakel wil Hy woon, tussen die mense.
En die bloed van al hierdie offerdiere het dit moontlik gemaak.
Die bloed wat die sondes bedek het.
Sowel opsetlike, en ook in geval van Levitikus 4, onopsetlike sondes.
Ek dink elkeen van ons kan dink aan ‘n onopsetlike sonde wat jy al gepleeg het.
En moontlik het daardie onopsetlike sonde wel pynlike gevolge gehad, vir jouself, of vir ‘n ander ...
Dalk was jy skuldig of medeskuldig aan ‘n verkeersongeluk waarin iemand anders oorlede is, of permanente letsel aan oorgehou het.
Dalk was jy nalatig met iets, waardeur daar brand ontstaan het, of waardeur iemand anders ‘n elektriese skok gekry het.
Dalk het jy iets gesê terwyl jy nie besef het hoeveel pyn jou woorde vir iemand anders veroorsaak het nie.
Dalk het jy grappies vertel wat ander mense of ander groepe mense gekwets het.
Dalk is die klere wat jy vandag aangetrek het, vervaardig deur mense elders in die wêreld onder erbarmelike omstandighede, met gevaar vir eie gesondheid.
Dalk het die diamant wat jy in jou ring dra, op die mark gekom deur onwettige wapenhandel om ‘n burgeroorlog êrens in Afrika aan die gang te hou.
Dalk is jy baie in jou skik met jou kwaliteit tweedehandse bergfiets, wat jy teen ‘n winskopieprys op die internet in die hande gekry het, min beseffende dat dit ‘n gesteelde fiets is.
Ons het almal ‘n goeie oog vir winskopies, waarmee daar niks verkeerd is nie.
Maar ons besef nie altyd dat agter winskopies baie onreg kan skuilgaan nie.
Ons het so gewoond geraak daaraan, ons is al so afgestomp, maar die Here God sien vanuit die hemel die geheelbeeld van alles wat sondig is hier op aarde.
Sy heiligheid neem sondes waar waarvoor ons heeltemal blind geraak het.
Die bestaan van die sondoffer, soos die HERE dit in Levitikus 4 ingestel het, is nie omdat die HERE moeilik wil doen nie.
Maar juis omdat Hy genadig is.
Dat Hy geen enkele skuld onaangeroerd wil laat nie, ook al besef ons nie eers dat daar skuld is nie.
Met hierdie offer wil God die algehele gebrokenheid van ons bestaan herstel.
Alles wat met sonde te make het.
Daar was verskillende situasies waarby sondoffers gebring moes word.
Om enkele voorbeelde te noem wat ons uit die Bybel ken.
As ‘n melaatse genees is, moes daar by sy reiniging ‘n sondoffer gebring word.
Wanneer ‘n nasireër tydens die periode van sy gelofte per ongeluk in aanraking met ‘n dooie gekom het, moes hy ‘n sondoffer bring.
Wanneer ‘n vrou ‘n kind gebaar het, moes daar by haar reiniging ‘n sondoffer gebring word.
Wanneer ‘n man of vrou aan vloeïng gely het, moes daar by hulle reiniging ‘n sondoffer gebring word.
Hieronder is dus ook voorbeelde wat verband hou met siekte en dood.
Hoewel ons nie altyd ‘n oorsaaklike verband kan lê tussen sonde en siekte en dood nie, sien die hoogheilige God wel die verband.
By sommige siektes kan ons die verband wel ontdek.
Daar is mense wat sterf aan longkanker omdat hulle hulle lewe lank nie kon ophou rook nie.
Daar is mense wat sterf aan lewerkanker omdat hulle te veel alkohol gebruik het.
Daar is mense wat sterf aan hart- en vaatsiektes omdat hulle kronies oorgewig is.
En so is daar nog meer voorbeelde hoe lewensstyl ‘n ongesonde impak kan hê op ons gesondheid.
Ook dit is onopsetlik.
Maar ten spyte van die feit dat dit onopsetlik is, klassifiseer die Here dit nog wel as sondig.
Dan is daar ook nog siektes waarvan ons nie in staat is om ‘n oorsaaklike verband tussen ‘n sondige gewoonte en die siekte te trek nie.
Maar vir die HERE God is niks verborge nie.
En as hoogheilige God wil Hy dat elke sonde bedek word.
En Siedaar die doel van die sondofffer!
Bedekking van die algehele sondige gebrokenheid van die mensheid.
(Tema: In die sondoffer openbaar God sowel die diepte van ons ellende as die reikwydte van sy genade
- Onopsetlike sondes word nie deur die vingers gesien nie)
- Onopsetlike sondes word vergewe
Ek wil nog ‘n oomblik stilstaan by hierdie woord: bedek.
Hierdie woord bedek klink bietjie soos: toedek.
Die sonde word nie weggeneem nie, net weggesteek nie.
Oneerbiedig gesê: net in die doofpot gestop word, of onder die mat ingevee word.
Nou weet ons dat dit nie God se geaardheid is nie.
God sien nie sonde deur die vingers deur net sand daaroor te strooi nie.
Inteendeel.
Met hierdie offerwetgewing het God as ‘t ware ‘n debietrekening vir sy volk oopgemaak.
Hy het toegestaan dat alle skuld daarop bygeskryf word.
En danksy hierdie reëling kon die sonde vergeef word.
Ons lees in Levitikus 4 dat God die persoon wat ‘n sondoffer gebring het, ook regtig vergeef het (sien verse 20, 26, 31 en 35).
Dit het God werklik ook bedoel.
Tog het al daardie bloed die debietrekening hoe langer hoe meer in die rooi laat staan.
En soos ons weet, die egte betaling, die egte skuldsanering, het eers later gekom.
En ook hiervoor het God self gesorg.
Dit is Christus se bloed wat die debietrekening vergoed gesluit het.
Halleluja, lof aan die Lam;
Sy bloed het ons geheilig!
Duisend, duisenmaal, o Heer, sy U daarvoor dank en eer!
Ek het die preek begin deur te verwys na die uitgspraak van Augustinus.
Die Nuwe Testament lê in die Ou Testament verborge, en die Ou Testament word in die Nuwe openbaar.
Laat ek sy uitspraak verduidelik met Levitikus 4.
As jy nie weet watter verskillende soorte offers God hier destyds aan sy volk voorgeskryf het nie;
As jy nie die bedoeling agter hierdie offers besef nie;
As jy nie onder die indruk kom van God se heiligheid, wat selfs geëis het dat daar bloed moes vloei vir onopsetlike sondes nie;
dan begryp jy ook nog nie die rykdom van Christus se offer aan die kruis nie.
So help die Ou Testament ons meer te verstaan, meer onder die indruk te kom van die geweldige diepte van Christus se kruisoffer.
As jy nie die offerwetgewing wat God aan sy volk gegee het, hier in die boek Levitikus, ken nie, dan is die gevaar groot dat jy baie oppervlakkig gaan dink oor die ellende van die mens.
Die offers van Levitikus maak ons oë oop vir ons ellende, ja die onpeilbare afgrond van ons skuld, selfs in geval van onopstelike sondes, ja selfs in geval van die nalaat van goeie dinge wat ons veronderstel was om te doen.
En soos wat die offers in Levitikus die een na die ander onreinheid by ons oopvlek, so groei ons verwondering net meer en meer vir wat Christus vir ons gedoen het!
Toe ons vanoggend na die Doopsformulier geluister het, kon mens dalk wonder of dit nie bietjie oordrewe is as daar gesê word:
Ons kinders is in sonde ontvang en gebore.
As mens na so ‘n babatjie kyk, dan wonder jy, is hy nou al sondig?
Ook hier help die sondoffer ons om te besef.
Ons sien nie alles raak nie.
God sien wel alles.
En die Skrif is dan duidelik: Op aarde is daar geen mens regverdig nie, selfs nie een nie.
Selfs nie ‘n baba van ‘n paar weke oud nie.
Ook so ‘n babatjie kan nie gered word uit eie regverdigheid nie, maar alleen deur Christus se regverdigmaking.
Ons gevoel sê dalk anders.
Maar laat ons eerder die Woord volg as ons gevoel.
Soms hoor mens mense kla: Die dominee moet minder oor sondes, en meer oor genade preek.
Nou sê vir my: Moet die boek Levitikus ook onder dieselfde klagtes deurloop?
Te veel sondes, te min genade?
In daardie geval verstaan ons die boek Levitikus, en die prediking, nie reg nie.
Dit was juis die hoogheilige God se genade wat Hom onder ‘n sondige volk laat woon het.
Dit was juis sy genade wat Hom hierdie offerwetgewing laat uitvaardig het.
Dit was juis sy genade wat gesorg het dat nie een sonde oorgeslaan is, en dat daar ‘n gepaste offer vir elke soort sonde uitgevaardig is.
Wat ‘n genade!
Wat ‘n genadige bemoeienis!
Oor geen enkele sonde is daar sand gelaat nie.
Geen enkele sonde, doelbewus of onbewus, is onder die mat gevee.
Geen enkele sonde is deur die vingers gesien nie.
Vir elke sonde was daar ‘n passende offer, vir elke soort skuld ‘n passende oplossing.
“Dit sal hom vergewe word” is die refrein wat telkens weer in Levitikus 4 terugkeer.
God kon dit net doen, omdat Hy toe al sy groot heilsplan besig was om uit te voer.
Omdat Hy toe al geweet het, die krag van die offer van sy eie Seun in staat sou wees om alle sondes uit te delg.
En al bring ons vandag nie meer letterlik hierdie sondoffer nie, leer ons wel daaruit dat ons letterlik elke sonde voor God kan bely.
Dis nie nodig om iets voor God weg te steek nie.
Ook in die midde van ons gemeente wemel dit van sondes.
Ons moet ons kop in skaamte laat sak.
Hoe moet God nie oor ons dink nie?
Ons het wel die gewoonte om elke dag vergewing van sondes te vra, maar ons besef by verre na nie hoeveel sondes daar in werklikheid vergewe word nie.
Elke dag hoop daar ook ‘n stapel onbewuste sondes in ons lewe op.
As ons nie ons naaste uitgetrap het nie, is dit een ding.
Maar het ons ons naaste wel fyngevoelig behandel?
Gee jy as pa wel die geestelike leiding aan jou gesin wat dit nodig het?
Is die tyd wat jy voor die skerm spandeer, meer as die tyd wat jy met jou kinders komunikeer?
Gee jy net opdragte aan jou bediendes en werkers, of stel jy ook belang in hulle gesinsomstandighede?
‘n Ware gelowige is vinnig om te erken dat sy lewe borrel met ‘n oormaat van sondes, bewus en onbewus.
‘n Ware gelowige het ‘n ernstige hunkering om elke dag na Christus te vlug, omdat sy sondes hom anders totaal oormeerster.
Die boodskap van vandag se nagmaal is dat daar in Christus se Naam kwytskelding moontlik is!
Die sondoffer leer ons dat ons nie skaam hoef te wees, dat ons nooit die gevoel hoef te hê dat ons God oorvra nie.
Dit is die bevrydende boodskap wat ons vandag aan Christus se tafel mag hoor.
Dit is die Evangelie wat reeds in die Ou Testament aanwesig was, ook in die offerwetgewing, en wat in Christus ten volle openbaar geword het!
Duisend, duisenmaal, o Heer, sy U daarvoor dank en eer!
Amen.
Votum
Seën
Ps 118:2,3
Wet
Ps 6:1
Gebed
Doopsformulier
Bediening Doop
Ps 105:5
Nagmaalsformulier (selfbeproewing)
Ps 6:2
Nagmaalsformulier (herdenking)
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
1e tafel: Levitikus 4:1-21; Ps 6:3
2e tafel: Levitikus 4:22-26; Ps 107:10
3e tafel: Levitikus 4:27-35; Ps 118:13
Lofverheffing
Dankgebed
Teks: Levitikus 4:35b
Preek
Kollekte
Ps 118:11,14
Seën