Preek: Mattheüs 3:1-10
Ons is nou in die Adventstyd, ‘n tyd van voorbereiding op Kersfees.
Die woord Advent is van Latynse afkoms.
Dit beteken koms of aankoms.
Dit dui op die naderende aankoms van die Messias.
‘n Tyd waarin daar voorberei moet word vir die aankoms van die Messias.
God het self gesorg dat in hierdie tyd sy volk hulle sou voorberei op sy koms.
God het die grootste profeet in die geskiedenis van die Ou Testament laat opstaan en preek, net voor die koms van die Messias.
As ons aan groot profete dink, kom name ons te binne soos Jesaja en Jeremia, Esegiël en Daniël.
Hulle vergelyk egter nog maar skraal met Johannes die Doper.
Hy was die hoogtepunt van die profetiese geskiedenis van die Ou Testament.
En nou dat ons onsself bevind in die Adventstyd, maak dit sin om nader aandag te skenk aan hierdie profeet, en wat sy boodskap was.
Daarom die teks vir vanoggend, Mattheüs 3:1-10.
Johannes die Doper se boodskap pas by Adventstyd.
Sy boodskap sal voorkom dat ons Adventstyd ‘n oppervlakkige tyd is.
Sy boodskap dring deur tot die hart van die saak, ja ook tot ons hart, ons as kerkmense wat hier vandag bymekaar is.
Sy boodskap was primêr bedoel vir kerkmense, mense reeds in die verbond.
Tema: Omdat die Messias verseker kom, is boetedoening noodsaaklik
In die Ou Testament was daar verskillende soorte profete.
Daar was hulle wie se prediking gerig was op God se eie volk.
Daar was hulle wie se prediking gerig was op die heidenvolke, dink aan profete soos Nahum en Jona.
En dan was daar hulle wie se prediking sowel gerig was op die verbondsvolk, maar ook op heidenvolke.
Die Here God het Johannes die Doper primêr na sy eie volk gestuur.
Toe die engel van die Here sy geboorte aangekondig het aan sy pa Sagaria terwyl hy diensgedoen het in die tempel, het hy gesê:
“… hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom [dis die Messias] uit gaan in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei.” (Luk 1:16-17)
Dit was, in kort, die opdrag, die ‘job description’ van Johannes die Doper.
In ons teks sien ons hoe Johannes die Doper sy ‘job description’ uitvoer, naamlik die regte hartsgesindheid weer terug te bring onder God se volk, om weer van hulle ‘n toegeruste volk te maak.
Deur die doen van boete sou God se volk toegang kry tot die belofte.
Die beloofde Messias.
Deur die oproep tot boete en bekering word aandag gevra vir die sondige en verkeerde toestand waarin God se volk verkeer het.
Hulle moes leer insien dat wat hulle as goed en godsdienstig beskou het, in feite sondig was, en dat vir hulle ook bekering, ommekeer nodig was.
Dit is juis die berou wat lei tot vergewing.
Die voorbereiding op die koms van die koninkryk van God en om deel daarvan te kan wees, bestaan nie in die presteer van ‘n volmaakte heiliging nie, maar in die bewus word en bely van eie onheiligheid voor God.
Slegs dan sal die deur na die koninkryk oopgaan.
Dit is ‘n koninkryk van sondevergewing.
Let wel, die mees wesenlike wat bekering inhou is nie die presteer van ‘n beter lewe nie, maar die verlange na die vergewing.
Bekering is die insien van die noodsaak van vergewing, en die verlange daarna.
Wie nie homself as sondaar ken nie, kry nie toegang tot hierdie koninkryk nie.
Wie dink sy lewensstyl is aanvaarbaar vir God, sal voor ‘n geslote deur te staan kom.
Johannes se doop was ‘n teken dat iemand sy eie ongeskiktheid, sy eie doemwaardigheid besef het.
Mooi om te sien is ook dat die HERE hier die eerste optree.
Die koms van die Messias, die koms van die koninkryk word aangekondig, en vervolgens word opgeroep tot bekering.
Johannes se boodskap is nie: bekeer julle, en as julle julle bekeer het, dan sal God miskien sy koninkryk laat kom nie.
Nee, Johannes mag en moet preek: Die koninkryk van die hemel het naby gekom, en dit gaan kom!
Dit is onstuitbaar!
Daarom, sorg dat julle gereed is daarvoor!
Want inderdaad, sonder boetvaardigheid, sonder die haat van die sonde sal geen mens God se genade smaak nie.
In ons teks skenk Mattheüs veral aandag aan die louterende betekenis wat die koms van die Messias op die volk van Abraham het.
En ons sien ook hoe die uitwerking van Johannes se prediking tweeërlei was.
Ja gelukkig, daar was baie wat gekom en hulle laat doop het.
Maar, baie opvallend, hoewel die Sadduseërs en Fariseërs gekom het, het hulle hulle nie laat doop nie.
Hulle koms na die Jordaanrivier was nie gedrewe deur boetvaardigheid nie, maar om krities ondersoek in te stel.
Daarom dat die profeet hulle so skerp aanspreek.
Hy noem hulle addergeslag.
Hulle vertrou op hulle voorgeslag, maar dit is waardeloos, want, sê Johannes, hulle stam van slange af!
Johannes ontken nie dat hulle vrug dra nie, maar dit is nie die regte vrug nie (vers 10).
Hulle vrug lyk eintlik soos ‘n kankergewas.
Daar is geen vrug van boetvaardigheid nie, uit hulle vrug straal selfvoldaanheid.
Gemeente, hierdie prediking moes vir die Sadduseërs en Fariseërs skokkend gewees het.
Tog is dit heeltemal in lyn met die Ou Testament (Hos 1; Jes 55-56).
Hierdie oproep tot berou en inkeer was baie tiperend vir Johannes die Doper.
Maar tog was hy nie die enigste een wat boeteprediker was nie.
Want hierdie oproep tot boetedoening vind ons ook terug in die mond van Jesus en sy apostels.
Jesus verwyt baie stede in Israel dat die berou in hulle midde uitgebly het.
En soos ons weet, ook baie profete in die Ou Testament het op klippe geploeg.
In die geval van Johannes die Doper sien ons beide.
Die Here God berei inderdaad ‘n vrugbare aarde vir die koms van sy Seun voor.
Jerusalem en die hele Judea het na hom uitgetrek, daar waar hy by die Jordaan gepreek en gedoop het.
Maar daar was ook klippe.
En daaroor is ons teks ook baie duidelik.
Johannes het geen blad voor die mond geneem nie.
Die nageslag van Abraham, altans sommige van hulle, het hy rustig addergeslag durf noem.
Hy het ook nie doekies omgedraai oor hulle toekoms nie.
Die byl lê reeds by die boom.
Dit is ‘n voorteken dat hy amper omgekap gaan word, en in die vuur gegooi gaan word.
Nou het Johannes hierdie veral vir die Fariseërs en Sadduseërs gesê, so meld ons teks.
Dit is dalk goed om kortliks net aan hulle aandag te skenk.
Dit sal ons help om die teks ook beter te kan toepas.
Kom ons begin by die laastes, die Sadduseërs.
Hulle naam is afkomstig van Sadok, hoëpriester in die tyd van koning Dawid en Salomo.
Die Sadduseërs was in Johannes die Doper se tyd in beheer van die tempeldiens.
Hulle het die plekke van die Sanhedrin gevul.
Hulle posisie was baie invloedryk.
Ook polities.
Hulle het nou saamgewerk met die Romeinse oorheersers.
In hulle denke het hulle ook nou aangesluit by die heersende tydsgees.
Hulle was heeltemal aan die liberale kant van die godsdienstige spektrum.
Hulle was skepties oor baie dinge wat in hulle eie Ou Testament gestaan het.
Hulle het byvoorbeeld die moontlikheid van ‘n liggaamlike opstanding uit die dood verwerp.
Die heersende tydsgees, beïnvloed deur Griekse denke, het die liggaam as minderwaardig beskou, en net die siel as onsterflik.
By sterwe word die siel uit die liggaam bevry, soos ‘n voëltjie uit ‘n hok.
‘n Liggaamlike opstandig is as belaglik beskou, dit sou beteken dat die voëltjie wat vrygeraak het, weer teruggesit word in sy hok.
Beïnvloed deur hierdie tydsgees het die Sadduseërs die getuienis van die Skrif die swye opgelê.
Nou die vraag, is daar Sadduseërs, sulke tipe mense, ook in ons kerkgemeenskap?
Miskien hier en daar, maar hulle is baie in die minderheid.
As Vrye Gereformeerde Kerke is ons nie werklik aan die liberale kant van die godsdienstige spektrum geposisioneer nie.
Al moet ons nie ligtelik dink oor die suigkrag van die tydsgees nie.
Vandag se tydsgees keer alles wat die Skrif ons leer oor die geslagtelikheid van mans en vroue en hulle onderskeidelike rolle op sy kop.
In Westerse liberale kringe word nie meer geleer dat daar twee geslagte is nie, maar meer as honderd.
Die tydsgees is meestal intolerant.
En daar is ‘n reële kans dat mens in sy suigkrag kan beland, soos ‘n systroom in die see wat skielik jou voete onder jou uitskop.
Ons sien hoe kerke beswyk onder die tydsgees, deur teen die getuienis van die Skrif in, vroue in die kerklike ampte aan te stel, ongetroud saamlewe te verdra as opsie naas die huwelik, homoseksuele samelewingsvorme te begin toelaat, en en en.
Soos die systrome, die sogenaamde ‘ripcurrents’ elke jaar weer slagoffers eis aan ons land se strande, so suig die tydsgees elke jaar nuwe slagoffers in en maak van hulle sy slawe.
Laat ons bedag wees daarop!
As ons godsdienstige behoudendheid maar net oppervlakkig is, dan kan dit in ‘n ommesiens van tyd omslaan in wêreldgelykvormigheid.
Dit bring ons egter by die Fariseërs, wat in baie opsigte die omgekeerde van die Sadduseërs was.
Dit is bekend uit die Nuwe Testament, dat hulle nie baie ooghare vir mekaar gehad het nie.
Die Fariseërs was polities nie so invloedryk soos die Sadduseërs nie, maar onder die volk het hulle soms groot aanhang gehad.
Dikwels het die Fariseërs, wat baie anti-Romeins was, gefloreer op die frustrasies van die volk teenoor hulle politieke oorheersers.
Die volk het van hulle gehou, omdat hulle eie volk en vaderland vooropgestel het.
Hulle was konserwatief.
Konserwatief is egter absoluut nie dieselfde as Skrifgetrou nie.
En daarom klink Johannes die Doper se oproep baie duidelik tot hulle:
Addergeslag, dra vrugte wat by die bekering pas.
Moenie dink, net omdat julle nageslag van Abraham is, dat God aan julle kant is nie.
Van die Jode het misbruik gemaak van God se belofte dat Hy ‘n ewige verbond met Abraham gesluit het.
Hy het ja, maar hulle moenie dink dat hulle die enigste nageslag van Abraham is nie.
God kan selfs uit klippe kinders vir Abraham opwek.
Al is hulle geneties van Abraham afkomstig, sonder bekering gaan hulle uitmis op die belofte.
Terwyl hulle wat geneties nie van Abraham afkom nie, wel gaan deel in die belofte.
Tussen hakies, ons sien hoe dit later inderdaad gebeur het.
Die grootste deel van die Joodse volk het God met sy oordeel getref.
Daarenteen het hy uit die mees heidense nasies vir Homself kinders van Abraham verwek.
Ook hier in Suid-Afrika sien ons dit.
Konserwatiewe ou maar onbekeerde verbondskinders sny God van die olyfboom af, en Hy ent nuwe bekeerlinge uit die swart volke, wat voorheen heidense nasies was.
Nou is dit so dat ons wat hier sit, nie etnies van Joodse afkoms is nie.
Dalk is daar hier en daar ‘n enkeling, wat Joodse bloed in sy are het.
Ons voorgeslagte is veral uit Nederland afkomstig, en in die stede in die weste van Nederland het daar deur die eeue baie Jode gewoon.
Die meeste van ons se voorsate was egter heidense Germane, Friese, Sakse, Franke, ensovoorts.
Tog is dit wat Johannes die Doper hier vir die Fariseërs sê, vir ons baie relevant, as ons besef dat ons posisie baie vergelykbaar is met hulle s’n destyds.
Net soos die Fariseërs is ons verbondskinders, wat in die verbond, in die kerk, gebore is, gedoop is, opgegroei het, en nou nog steeds is.
Deur al die jare van ons lewe het ons al die Woordbediening ontvang.
Ons het al gewoond geraak daaraan.
Kyk, die Fariseërs het God se Woord, die Ou Testament, op hulle duimpie geken.
Hulle kon dit uit hulle kop opsê.
Hulle het presies geweet watter impak elke wet, elke bepaling van Moses, op hulle lewe moes hê.
Dag vir dag het hulle al die ‘boksies getiek’ soos hulle al hierdie wette probeer nakom het.
En wat daarom so geweldig opval, is dat Johannes die Doper, en later die Here Jesus self op nog veel groter skaal, juis hulle oproep tot bekering.
Hulle het dit self onvanpas gevind.
As jy bekering wil preek, Johannes, gaan na die heidene, maar nie na ons nie.
Ons het nie bekering nodig nie.
Ek het self tydens my bediening in Maranata die afgelope jare ook al meer as een keer hierdie opmerking gekry.
Ds Pieter, ek kom agter u is ‘n sendeling, u preek baie oor bekering.
Met die implikasie dan: Hier in Maranata is dit eintlik minder van pas.
Wat die Fariseërs ontwikkel het, gemeente, kan mens eintlik vergelyk met die siekte kanker.
Mens kry siektes wat veroorsaak word deur ‘n kiem of virus of bakterie wat van buite af kom en jou liggaam aanval.
Maar by kanker gaan daar in die liggaam self iets verkeerd.
Dit is hoekom dit so moeilik is om kanker te genees.
Daar is nie ‘n eksterne faktor wat geïsoleer en verwyder kan word nie.
Kanker is deel van jou liggaam self.
Dit is ‘n vergroeisel.
Dit wat veronderstel was om gesonde selle te wees, word nou aggressiewe selle.
Wat met die Fariseërs foutgegaan het, was nie weens eksterne invloede nie.
Dit was die Fariseërs se eie godsdienstigheid wat nie meer was soos God dit in sy Woord bedoel het nie, maar wat wild begin groei het soos ‘n kanker.
Ja, al die wette en bepalings van Moses is deel van God se Woord, maar dit is ingebed in die oorkoepelende boodskap van genade en ontferming.
By die Fariseërs het dinge uit balans geraak.
In hulle ywer vir die onderhouding van al die gebooie en bepalings, het die oorkoepelende boodskap van God se Woord uit beeld geraak.
Christus het Moses se wet afgestof en weer laat skitter, toe Hy die Fariseërs en die volk weer attent gemaak het op die kern van al daardie gebooie:
Jy moet die Here jou God liefhê bo alles.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Nou hier is dus waar Johannes die Doper se prediking vir ons ook so relevant is.
Toe Johannes die Doper juis die Fariseërs opgeroep het tot bekering, was dit nie onvanpas nie.
En om dieselfde rede is daardie oproep vir ons ook so relevant.
Ja, miskien is daar in ons gemeentes hier in die Moot minder eksterne virusse, bakteries en kieme as op die sendingsveld.
Ons selfone is nie so vrot van die pornografie soos op die sendingsveld nie, altans dit hoop ek.
Ons gemeentes gaan nie so erg gebuk onder die plaag van egskeidings as die sendingsgemeentes nie.
Maar maak dit die oproep tot bekering minder relevant, onvanpas?
As jy vanaf jou geboorte al in die verbond is, kerklid is, presies weet hoe om te lewe sonder om in opspraak te kom, al die regte dinge te doen wat die gemeenskap van jou verwag, maar die werklike liefde vir die Here, die werklike omgee vir mekaar, en nie net vir mekaar nie, maar ook vir al jou naaste hier in Suid-Afrika, het soekgeraak, dan begin jou godsdienstigheid soos die kanker van die Fariseërs te word.
Aan die een kant het ons die mond vol oor dat Christus sentraal moet staan, maar aan die ander kant skinder ons ‘n hond uit ‘n bos en bly die werklike liefde en omgee vir mekaar agterweë.
Dan help dit nie om Kersfees te vier, met ‘n gepaste bybehorende stemming nie.
Dan is ons eerbetoon aan die kind in die krip slegs lippediens.
Daar is geen kruid opgewasse teen kanker nie, slegs bekering, volledige radikale 180 grade bekering.
Johannes die Doper draai nie doekies om nie.
Hy sê vir die Fariseërs: Dit wat julle van God se kerk gemaak het, is ‘n skande.
En daarom het die Messias sy skop in sy hand.
Hy sal kom om sy dorsvloed, sy kerk, deur en deur skoon te maak.
Hy sal kom om sy koring in die skuur in te samel.
Maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.
Die Fariseërs het nie na die Jordaan gekom om hulle deur Johannes te laat doop nie.
Hulle koms na die Jordaanrivier was nie gedrewe deur boetvaardigheid nie, maar om krities ondersoek in te stel.
Is dit wat ook kenmerkend is vir u gewoonte om elke Sondag kerk toe te gaan?
Nie uit boetvaardigheid nie, maar om krities te kom sit en luister wat die dominee nou al weer te sê het ...?
Ons kom kerk toe om fout te vind, ons kom nie meer om ons hart te genees nie?
Dit is nou eenmaal ons tradisie om kerk toe te kom.
Ons hou van kerkklere aantrek, ons kom kerk toe, na kerk sal ons praat oor dit wat fout was.
Ons gaan weer huis toe, ons drink koffie, klets en skinder.
Nou is daar nog ‘n ding wat opval in Johannes se prediking.
Die feit dat hy die Sadduseërs en die Fariseërs daar publiek aan die kaak gestel het.
Die menigte wat daar by was, kon alles hoor.
Dis nie dat Johannes hulle in die privaatheid van hulle huise gaan vermaan het nie.
Johannes Calvyn skryf hieroor: Hierdie luide en openlike bestraffing is gedoen voor die ore van almal.
Dis nie dat almal Fariseërs was nie, tog was die bestraffing ook bedoel vir die ore van die ander.
Sy bedoeling was om almal vrees in te boesem.
Soos die apostel Paulus skryf in 1 Timotheüs 5:20: “bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.”
Johannes die Doper se ernstige bestraffing van die Fariseërs was vir die beswil van die hele kerk.
En net so klink die boodskap vandag vanaf hierdie kansel tot die beswil van die hele kerk.
Daar is Fariseërs onder ons, al is dit gelukkig nie almal nie.
Tog kan niemand van ons sê: Hierdie boodskap raak my nie.
Ek het dit nie nodig nie.
En selfs al gebeur dit – en ons hoop van nie – maar ook as dit gebeur dat die Fariseërs na vanoggend se eredienst hulle aan die boodskap afvee, dan nog sal dieselfde prediking vrug dra onder hulle wat wel boetvaardig is.
Gemeente, ek hoop dat hierdie preek u in die regte stemming vir Kersfees bring.
Die regte stemming.
Dit is ‘n boodskap wat u meestal nie van ‘n gaspredikant sal hoor nie.
As mens as gaspredikant êrens voorgaan, hou jy jouself meer op die vlakte.
Mens ken nie al die ins en outs van die gemeente nie.
Mens laat dit oor aan die dienaar wat die Here in die daardie gemeente aangestel het.
Johannes die Doper het God laat opstaan in die midde van sy eie volk.
Hy was nie ‘n gasprediker nie.
Dit was sy eie mense, wat hy deur en deur geken het.
Hy was die Here se stem wat in hulle midde geroep het.
In die woestyn moes hy ‘n pad van terugkeer baan, terug na die HERE en sy Woord.
Jesaja het destyd geprofeteer van die groot weg deur die woestyn, wat die HERE sou aanlê sodat sy volk uit die ballingskap kon terugkeer.
Hierdie profesie gaan nou in vervulling.
Johannes die Doper is die weg in die woestyn.
Hy bring die volk se hart terug na hulle God.
Mag die vrug van hierdie Adventsdiens ook wees dat u as kerkgemeenskap uitstyg bo ‘n vormgodsdiens, ja dat u hart terugkeer tot God.
Wie se hart reg is, se lewe word ook reg.
Laat Christus die hart genees.
Bekeer ons Here, dan sal ons ons bekeer.
Amen.
Votum
Seën
Ps 149:1,2
Wet
Ps 19:4
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 3
Sb 2:2
Teks: Mattheüs 3:1-10
Preek
Sb 44:1-5
Gebed
Kollekte
Sb 24:2,3,5,6
Seën