Preek: Handelinge 6:1-7
Hierdie jaar hoop ons as gemeente veral te fokus op ‘n bepaalde tema, naamlik wat dit is om diakonale gemeente te wees.
Diakonale gemeente …
Die woord diakonaal is afgelei van die woord diaken.
As gemeente het ons diakens.
Laat ek dit beter stel: Christus het aan ons gemeente ook diakens geskenk.
Die diakenamp word dikwels ondergewaardeer ten opsigte van die ouderlinge-amp.
Dikwels is dit so dat die ouer en meer ervare broeders vir ouderlinge verkies word, terwyl die diakens dikwels die jonger minder ervare broeders is.
Maar as mens meer noukeurig kyk na wat die diakenamp werklik inhou, sal vinnig blyk dat dit ‘n groot misverstand is.
En dit is wat ons gaan doen, in vandag se preek, en ook in preke wat gaan volg.
Wat is nou eintlik die diakenamp?
Watter take het ‘n diaken?
En sodra ons daaroor duidelikheid gekry het, gaan ons nog ‘n stappie verder.
Soos ek nounet genoem het, die tema vir hierdie jaar is hoe om ‘n diakonale gemeente te wees.
Dus, nie net die broeders wat as diakens bevestig is, het ‘n diakonale taak nie, maar die hele gemeente.
Hoe dit presies werk, sal duidelik word in die komende tyd.
Veral hoe belangrik die taak van diakens is, asook die gemeentewye roeping tot diakonale diensbetoon.
Soms kan dit gebeur dat die funksionering van ‘n gemeente oppervlakkig en stroef raak.
Die gemeentelike lewe voel soos ‘n masjien wat nie goed geolie is nie.
Mense steek lyf weg, en as daar tog iets gedoen moet word, dan probeer ons die minimum te doen.
Op alles probeer ons bespaar, alles moet so goedkoop moontlik, nie net finansieel, ook wat ons tydsbesteding betref, die besteding van ons energie.
Wat die kerklike lewe betref probeer ons waar moontlik ‘n lae profiel te handhaaf ...
Maar is dit hoe Christus sy gemeente graag sien?
Is dit hoe ‘n diakonale gemeente behoort te wees?
Aan die begin van ‘n nuwe jaar, aan die begin van ‘n nuwe dekade, kan ons onsself as gemeente afvra:
Waarheen is ons oppad?
Hoe gaan jy en ek betrokke wees in 2020 by die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria-Maranata?
Dit is juis hier waar die jaartema ons baie gaan help.
Die oproep wat vanuit die Skrif tot ons kom om ‘n diakonale gemeente te wees.
‘n Oproep nie net aan die adres van hulle wat as diakens bevestig is nie.
Ons gaan sien hoe, onder leiding van die diakens, die hele gemeente aktief behoort te word in diakonale diensbetoon.
Christus se bevryding kry hande en voete juis in die diakonale arbeid.
Die bevestigingsformulier vir diakens bring dit kortliks soos volg onder woorde:
Die diakens moet toesien dat niemand in die gemeente ongetroos lewe onder die druk van siekte, eensaamheid, armoede of ouderdom nie.
Hierdie kernagtige sin sal ons nader uitwerk in die preek.
Tema: Die verhoogde Christus skenk ‘n spesiale amp vir die nuwe bedeling
- Die oorsprong van die diakenamp
- Die instelling van die diakenamp
- Die oorsprong van die diakenamp
In Handelinge 6 lees ons die eerste keer in die Bybel oor die diakenamp.
Dit is opvallend.
Waar die ouderlingamp die opvolging is van die amp van oudste wat ons reeds in die Ou Testament vind, was daar geen diakens in die Ou Testament nie.
Die diakenamp is ‘n nuwe amp wat Christus aan sy kerk skenk in die Nuwe Testament.
Nou hoekom het Christus dit belangrik gevind om hierdie amp vir die nuwe bedeling in te stel?
Dit het te make met sowel die aard van hierdie amp as die aard van die nuwe verbond.
Eerstens, die aard van die diakenamp is, soos ek nounet genoem het, om te sorg dat Christus se Middeleaarswerk, sy bevryding uit die mag van sonde en dood, dat dit hande en voete kry in die alledaagse lewe.
In die praktiese uitdagings van die lewe – siekte, eensaamheid, armoede, ouderdom.
Onderlinge sorg en diensbetoon vir mekaar.
Nou is dit nie iets wat afwesig was in die ou bedeling nie.
In die Ou Testament lees ons male sonder tal hoe God se verbondsvolk barmhartigheid moes bewys, veral teenoor die siekes, die eensames, die armes, die vreemdelinge, ensvoorts.
In die sin was God se volk in die Ou Testament ook al ‘n diakonale volk.
Hulle samelewing is ook al gekenmerk deur onderlinge diensbetoon.
Altans dit was die bedoeling, as mens na die wette kyk wat God deur Moses gegee het.
Tog was daar nie diakens in die Ou Testament nie.
In die Ou Testament vind ons die oproep dat primêr elke familie na mekaar moes omsien.
As iemand in die familie in armoede verval het, of as iemand weens siekte nie meer vir sy gesin kon sorg nie, dan het die verantwoordelikheid op die res van die familie gerus om uit te help.
God se volk was georganiseer in familieverband en in stamverband.
God se volk van die ou verbond was een volk, Israel.
Dit was eie aan die ou bedeling.
Maar met Christus se koms het ‘n nuwe bedeling aangebreek.
Christus kondig ‘n nuwe verbond aan.
En die struktuur van die nuwe verbond gaan anders wees.
Dit gaan nie meer ‘n spesiale verbond met net een volk wees nie.
Christus se plan is om nou uit elke volk, stam, taal en nasie ‘n nuwe volk te skep.
Indiwidue uit elke volk, stam, taal en nasie wat tot bekering kom, word ingelyf in Christus se nuwe volk, sy gemeente.
Die struktuur van Christus se gemeente in die nuwe bedeling is dus anders.
Die struktuur word nie meer gevorm deur familie- en stamverbande, soos dit in die ou bedeling was nie.
Wat in die Ou Testament die uitsondering was, word in die Nuwe Testament die reël.
Naamlik dat indiwidue lid word van Christus se kerk, terwyl die res van daardie indiwidu se familie dikwels nie lid is nie.
En hierdie feit het ook praktiese konsekwensies.
Naamlik dat in geval daardie persoon siek word, of hulpbehoewend, dan is daar nie ‘n familieverband om uit te help nie.
Maar, die persoon is wel nou deel van ‘n nuwe volk, die gemeente van Christus.
En siedaar die rede van die instelling van die diakenamp!
Dit is Christus se geskenk spesifiek vir die nuwe bedeling.
Vir ‘n tydperk waarin Christus se kerk bestaan uit bekeerlinge uit elke volk en stam en taal en nasie.
En dit is die diakens se taak om toe te sien dat hierdie gemeente begin funksioneer soos ‘n hegte familie, waar daar in liefde omgesien word na elkeen se praktiese behoeftes.
Laat ons die Here Jesus dank, vir sy wysheid, en sy sorgvuldige beplanning vir die nuwe bedeling.
Want danksy die instelling van die diakenamp, soos dit in ons teks geopenbaar word, het Christus gesorg dat sy gemeente in die nuwe verbond optimaal kan funksioneer.
Ook ons gemeente bestaan uit mense van uiteenlopende aard.
En dit geld des te meer vir ons kerkverband.
In ons gemeente is daar persone wat deel is van groot families, waarvan ‘n deel van die betrokke families ook lid van die kerk is.
Maar daar is ook baie lidmate wat glad nie bloedfamilie in die gemeente het nie.
As daar geen diakens was nie, sou dit maklik kon gebeur dat hulle oor die hoof gesien word.
En soos in ons teks by die Griekssprekende weduwees die geval was.
Maar gelukkig, Christus skenk diakens aan sy gemeente, sodat niemand, ook hulle wat aan niemand verwant is nie, ongetroos moet lewe onder die druk van siekte, eensaamheid, armoed of ouderdom nie.
In Christus se gemeente vorm ons saam ‘n nuwe eenheid.
En die geloofsband is sterker as die familieband.
In ons gemeente is daar ook groot families, maar dit behoort nie die botoon te voer nie.
Dit behoort nie so te wees dat as iemand verwant is aan ‘n familie, en die persoon verloor sy werk, dat hy of sy vinnig aan ‘n nuwe werk gehelp word, maar as ‘n gemeentelid nie familie in die gemeente het, dat daardie persoon sonder werk bly sit nie.
Dit behoort nie so te wees dat die bejaardes wat kinders en kleinkinders in die gemeente het, elke naweek geniet van geselskap, terwyl daardie bejaardes sonder kinders en kleinkinders in die gemeente, eensaamheid ervaar nie.
Dit is maar net ‘n praktiese voorbeeld of twee om te illustreer dat daar nuwe verbande gevorm word in Christus se gemeente.
Wat ‘n voorreg om deel van sy gemeente te mag wees!
Hier weet ons dat ons nie alleen die las van siekte, armoede, eensaamheid of armoede hoef te dra nie.
En die diakens is Christus se geskenk om toe te sien dat dit nie gebeur nie!
2. Die instelling van die diakenamp
Handelinge 6:1 begin met die opmerking: in dié dae ...
Die konteks leer vir ons dat dit die tyd was toe die apostels weer deur die Sanhedrin vrygelaat is, en weer voortgegaan het om die Evangelie te verkondig in die tempel en in die huise.
Ons lees die verblydende mededeling dat die dissipels vermeerder het.
Die aantal lidmate van die eerste gemeente in Jerusalem het dus toegeneem.
Maar met hierdie uitbreiding was daar ook moeilikhede.
Daar het ‘n bepaalde wrywing ontstaan tussen die Griekssprekendes en die Hebreërs.
By die Griekssprekendes moet ons dink aan daardie Jode wat in die diaspora opgegroei het, maar nou in Jerusalem kom woon het, en daar lid geword het van die Christelike kerk.
Baie Jode in die diaspora kon ni emeer Hebreeus of Aramees praat of lees nie.
Hulle het gewoon Grieks gepraat, sê maar die Engels van daardie dae.
Mens kan jou indink dat saam met hierdie taalverskil, daar ook ‘n kultuurverskil was tussen hierdie twee groepe mense.
Die Griekssprekendes was mense met ander gewoontes.
In Jerusalem was hulle ‘n minderheid.
Dat daar uit hierdie groep ook mense tot geloof in Jesus gekom het, is nie verwonderlik nie.
Ook hulle het op Pinksterdag die Evangelie in hulle eie taal gehoor.
Maar wat nou egter blyk, is noudat die apostels steeds besiger word, dat juis die weduwees uit hierdie groep aan die agterste speen suig.
Hoekom dit die geval was, word nie genoem nie.
Sou dit te make kon gehad het met die feit dat daar ‘n taalverskil was?
Dat die apostels miskien nie so goed Grieks kon praat nie?
Daar is ander wat meen dat daar juis in hierdie groep Griekssprekendes bogemiddeld baie weduwees was.
Dit was naamlik nie ongebruiklik dat Jode uit die Diaspora hulle oudag in Jerusalem kom deurbring het nie.
Hier het hulle met pensioen gegaan, so te sê.
Maar die konsekwensie was wel vir hulle wat in Jerusalem kom aftree het, dat familie dikwels ver weg gewoon het, en dat hulle in die daaglikse versorging tydens hulle oudag minder op hulle eie familie kon staatmaak.
In elk geval, hulle het die behoefte gehad dat die apostels gerus bietjie meer gereeld op besoek mog kom.
In vers 1 staan dat hulle in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is.
Dan kan mens dink aan aspekte soos siekte, eensaamheid en armoede.
Hierdie Griekssprekende weduwees moes lewe onder die druk van siekte, eensaamheid of armoede.
Wie siek is, het daaglikse versorging nodig.
Wie eensaam is, wil graag voel dat hy deel is van die gemeente.
Wie armoede ly, wil nie oorgeslaan word by die verdeling van die kollekte nie.
Kortom, so het daar ‘n murmurering ontstaan.
En soos dit altyd in die kerk gaan, as daar ‘n klag is, ontstaan daar maklik groepsvorming.
So ook hier.
Dit was alles die skuld van die Hebreërs, het die Griekssprekende weduwees gekla.
Hulle, die ou gevestigdes in die gemeente, domineer alles.
Hulle eis die apostels vir hulleself op, sodat ons hulle nooit sien nie.
In vers 2 sien ons vervolgens dat die apostels die klag aanspreek.
Die hele gemeente word bymekaargeroep.
U moet dan besef dat die kerk toe al uit ongeveer vyf duisend mense bestaan het!
As mens dan uitgaan van 12 apostels, dan was daar dus ruim 400 mense per apostel.
Die apostels erken dat daar iets dreig om mis te gaan, en neem vervolgens maatreëls.
Ook stel hulle vir hulleself die prioriteit opnuut vas.
Persoonlik is dit vir hulle onmoontlik om iets aan die klag te doen.
Hulle is as apostels ook gewoon mense, en ‘n dag is nie langer as wat dit is nie.
En daarom sê hulle vir die gemeente:
Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie.
Mens kan ook vertaal: Dit is onverantwoord dat ons die woord van God verwaarloos om te kan sorg vir die ondersteuning.
Met ‘ondersteuning’ of ‘die tafels bedien’ moet ons dink aan die aspekte soos siekte, eensaamheid, ouderdom en armoede.
Die eerste taak van die apostels moet prioriteit kry.
Naamlik die prediking van die Woord van God.
Nietemin mag hierdi sorg vir die weduwees ook nie verwaarloos word nie.
Wanneer die apostels hierdie werk self nie na behore kan verrig nie, moet daar op ‘n ander wyse voorsien word.
In vers 3 sien ons dat watter maatreël daar getref word.
Nou gemeente, voordat ons na hierdie maatreël kyk, soos ek in die eerste punt genoem het, hierdie geskenk wat Christus aan sy gemeente in die nuwe bedeling gee, kom ons kyk eers vir ‘n oomblik hoe die apostels hierby uitgekom het.
Die manier waarop die diakens naamlik aangestel is.
Want, gemeente, uit hierdie Skrifgedeelte kan ons naamlik baie leer oor die manier van kerkregering in die nuwe bedeling.
Eerstens, uit hierdie Skrifgedeelte kan ons leer dat die Here Christus die leiding, die gesag in die kerk opdra aan die apostels, en hulle wat later die apostels se opvolgers sou word, die oudstes oftewel ouderlinge wat deur hulle aangestel is.
Ons noem hierdie wyse van kerkregering die presbiteriale sisteem van kerkregering.
Presbiter is die Grieks woord vir ‘n ouderling.
Ons sien in vers 3 dat die apostels met ‘n konkrete voorstel kom.
Dit is hulle wat die leiding neem.
Dinge gebeur hier nie demokraties nie.
Die mag in die kerk berus nie by die kerkvolk nie.
Dit is naamlik die oorspronklike betekenis van die woord demokrasie: die mag behoort aan die volk.
Maar in die kerk is dit nie so nie.
As Herder van sy kudde het Hy die hoogste gesag.
En Hy stel onderherders aan.
Hierdie onderherders kan nie regeer na eie goeddunke nie, maar hulle regeer volgens die instruksies van die Opperherder.
Die onderherders het die verantwoordelikhied om te sorg dat alles in die kerk gebeur in ooreenstemming met die Opperherder se wil.
So sien ons hier in vers 3 nie dat die apostels die kerkvolk raadpleeg nie, maar dat hulle met ‘n voorstel kom in oorstemming met die Opperherder se wil.
En dit is dat op daardie stadium sewe broeders nodig was, sewe broeders van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid.
Dit oorsprong van die diakenamp lê dus by hierdie optrede van die apostels in ons teks.
Nou word daar in ons teks nêrens die woord ‘diaken’ genoem nie.
Tog is dit duidelik uit die taak wat aan hulle opgedra word, dat dit presies ooreenkom met die taak wat diakens in die res van die Nuwe Testament ontvang het.
Dit is dalk belangrik om te noem, dat die woord ‘diaken’ in daardie tyd nie so ‘n spesifieke betekenis gehad het as wat dit nou onder ons het nie.
By die woord ‘diaken’ dink ons direk aan ‘n kerklike amp.
Maar in die Grieks van daardie dae het die woord ‘diakonos’ eenvoudig ‘n dienaar of helper beteken.
Eers later het hierdie woord ‘diaken’ die funksie gekry dat dit spesifiek verwys na ‘n besondere amp.
Die bediening van die Woord, en die gebede.
Ons kan hier dink aan die openbare eredienste, asook die bediening aan huis by hulle wat die eredienste nie meer kan bywoon nie.
Maar die gerigte praktiese sorg by siekte, eensaamheid, ouderdom en armoede – dan dink mens aan hulp wat dikwels op ‘n daaglikse basis verskaf moet word – daarvoor word hierdie sewe broeders nou aangestel.
Ons sien vervolgens dat die menigte, soos die gemeente hier genoem word, dat hulle ‘n sewetal broers gekies het wat voldoen het aan die eise deur die apostels gestel.
Hulle word hier by name genoem: Stefanus, Filippus, Prochorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaüs.
Dit is opvallend dat in vers 5 dit die menigte was wat hierdie sewetal gekies het.
Die presbiteriale kerkregering wil nie sê dat die gemeente monddood is nie.
Hulle word aktief ingeskakel binne die gestelde kaders.
Opvallend is dat al hierdie sewe broeders Griekse name het.
Nou moet mens nie te veel hieruit aflei nie, aangesien baie Jode in daardie tyd Griekse name gehad het.
Maar ons kan wel vermoed at die menigte by die verkiesing bewus rekening gehou het met die probleem, wat juis ontstaan het onder die Griekssprekende weduwees.
Moontlik is daar juis persone gekies wat goeie ingang by die Griekssprekende weduwees gehad het.
Hierdie vermoede word bevestig as ons lees wat daar oor die laaste diaken, Nikolaüs, gesê word: Hy was ‘n Jodegenoot uit Antiochië.
Dit wil sê, hty was vroeër ‘n heiden gewees, en later eers het hy ‘n Jodegenoot geword.
Na hulle verkiesing is hierdie manne aan die apostels voorgestel.
Uit die feit dat die apostels vir hulle gebid het en hulle die hande opgelê het, blyk dat hulle die keuse van die gemeente goedgekeur het.
Lukas eindig dan ons teks met ‘n insiggewende opmerking, vers 7.
“En die woord van God het toegneem”.
Hierdie opmerking het alles te make met die voorgaande verse.
Was dit nie juis die bedoeling van die instelling van die diakenamp dat die apostels weer meer tyd kon kry vir die bediening van die Woord nie?
Wel, daardie doel was geslaag.
Dit woord van God het toegeneem.
Direk blyk al dat die diakenamp die kerk ten goede kom.
Nie net omdat die klag van die weduwees nou stilgeraak het nie.
Hulle het nou die versorging gekry waarop hulle in die kerk van Christus reg gehad het.
Maar ook omdat danksy die diakenamp die apostels hulle weer kon konsentreer op die Woordbediening.
Op meer plekke kon nou deur die apostels die Evangelie bedien word.
En die resultaat het nie agterweë gebly nie.
Die sieletal in Jerusalem het geweldig toegeneem.
Selfs ‘n menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof!
Hier blyk dat die diakenamp werklik ‘n geskenk van Christus vir sy kerk was!
Onthou, die priesters was ‘n groep wat altyd baie vyandig gestaan het teenoor Christus en sy dissipels.
Die apostels het nou die hande vrygehad om gerig na hulle uit te reik.
Geliefde gemeente, hier voor in die kerk sit ook ‘n aantal diakens.
Proe hierin die goedheid van die Here Jesus vir u as gemeente!
Die allereerste aanstelling van diakens in Handelinge 6 was ‘n besondere gebeurtenis.
By ons is dit ‘n gebeurtenis wat elke jaar terugkeer, dat daar diakens bevestig word.
Die gevaar dreig dat ons as gemeente gewoond hieraan raak.
Dat die besondere ampte vir ons nie meer so besonder is nie.
Maar gemeetne, elke keer weer as ‘n diaken bevestig word, is dit ‘n direkte geskenk van Christus op die troon!
Aanvaar hierdie broeders as ‘n geskenk uit God se hand.
Bid vir hulle ampswerk.
Is dit by u, by jou, ‘n daaglikse gewoonte om voorbede te doen vir die ampsdraers in die kerk?
Die duiwel is baie strategies, as hy probeer om eerstens die ampsdraers te teiken.
Gemeente, vorm ‘n muur van gebed rondom u ampsdraers!
Steun ook vir die diakens deur van harte u medewerking te verleen.
Dit is hulle taak om te sorg vir die goeie voortgang van die diensbetoon in die gemeente.
As dit gaan oor siekte, eensaamheid, ouderdom, armoede, om enkele sake te noem.
Die diakens neem hierin die leiding, hulle koördineer.
Hulle gee ook die voorbeeld deur self gereelde besoeke te bring.
Maar dit is nie net hulle wat weduwees, alleenstaandes, armes en eensames besoek nie.
Dit is juis die diaken se opdrag om ook ander oppad te stuur.
Om u ook in te rooster, vir die bring van besoeke, vir die uitnooi van bejaardes en alleenstaandes, vir die voorbereiding van maaltye, en en en.
So sorg Christus, ons Here op die troon, dat niemand in sy gemeente ongetroos moet lewe onder die druk van siekte, eensaamheid, ouderdom of armoede nie.
Hy doen dit deur die instelling en die instandhouding van hierdie besondere amp, wat Hy ingestel het spesiaal vir die nuwe verbond.
Hy doen dit ook deur u, deur jou gewilligheid, as ‘n diaken op jou ‘n beroep doen.
Amen.
Votum
Seën
Ps 102:6,7
Wet
Ps 39:1,5
Gebed
Skriflesing: Handelinge 6
Ps 132:9,10
Teks: Handelinge 6:1-7
Preek
Ps 146:4,5,6
Gebed
Kollekte
Ps 72:2,7
Seën