Preek:
Die vakansietyd is weer verby, wat beteken dat ons weer aangaan met die leerpreke.
Soos gewoonlik is die eredienste op Sondagaande leerdienste.
Aan die hand van die kerk se belydenisgeskrifte word dan Bybelse tema’s behandel.
Waar ‘n vryestofpreek ‘n spesifieke teks uit die Bybel behandel, is dit by ‘n leerpreek anders.
Dan word nie ‘n enkele teks behandel nie, maar dan staan ‘n Bybelse tema sentraal.
In wese word dan verskillende Bybeltekste behandel, waar daardie tema aan die orde kom.
Die belydenisgeskrifte bied vir ons ‘n oorsig, ‘n samevatting, van die belangrikste Bybelse tema’s.
Die doel van die leerdienste is dat u as gelowiges steeds goed ingelig is, gewapen met die kennis van die leer van die Skrif, sodat ‘n onverwagte sywind van dwaling nie jou voete onder jou uitslaan nie.
Want laat dit duidelik wees, die duiwel is heeltyd besig om die leer van die Skrif te ondergrawe.
Soos ‘n opportunistiese roofdier lê hy en loer vir ‘n geleentheid om toe te slaan.
Hy weet wanneer ons, deur persoonlike omstandighede in ons lewe, dikwels vatbaar is vir alternatiewe idees.
Ek onthou ‘n katkisant wat deur die jare nooit ‘n probleem gehad het met die leer van die Bybel soos dit in die kerk hier geleer word nie.
Maar op ‘n goeie dag raak die katkisant verlief op ‘n jongman uit ‘n kerk met ‘n heel ander leer.
En dit het ineens haar uitkyk op sake verander.
Ineens was sy simpatiek teenoor sienings wat sy voorheen geweet het ‘n dwaalleer was.
Nou soiets gebeur nie net met jongmense, met katkisante nie, ook volwassenes gaan deur omstandighede en fases in hulle lewe wat hulle vatbaar maak om te begin dwaal, of dit nou is in leer of in lewe.
En nie een enkele een van ons is uitgesluit nie, ook nie die ampsdraers nie.
Hierdie besef hou ons nederig.
Dit laat ons des te meer besef hoe nodig ons die gemeenskap van heiliges het.
Dit maak ons des te meer dankbaar vir die kerk se belydenisskrifte, waarin ons die lesse uit die verlede leer, wat voorkom dat ons nie dieselfde dom foute van die verlede begaan nie.
Vanaand behandel ons ‘n tema wat ook deur die eeue vir kontroversie gesorg het.
Deur die eeue was Satan gretig om twyfel in mense se koppe te saai, as dit oor Jesus Christus se Godheid gaan.
In die laaste leerpreek van verlede jaar het ons al met hierdie tema begin.
Ons het toe gekyk na die Goddelike name wat Christus in die Skrif ontvang.
‘n Indrukwekkende lys name, wat totaal onvanpas sou wees as die persoon wat daarmee aangespreek word, nie God sou wees nie.
Maar so word Christus inderdaad in die Skrif aangespreek:
As die Allerhoogste, Owerste oor die konings van die aarde, Saligmaker, Sterke God om maar enkeles te noem.
Vanaand gaan ons verder.
Want die Skrif sê nog meer oor Christus se Godheid.
Die Skrif gee nie net vir Hom Goddelike name nie.
Die Skrif beskryf ook – en dis waarna ons vanaand gaan kyk – sy Goddelike eienskappe.
Ek wil graag met u vanaand aandag skenk aan twee van hierdie eienskappe.
Tema: Die Skrif openbaar Jesus Christus se Goddelike eienskappe
1 Hy is almagtig
2 Hy is ewig
1 Hy is almagtig
Ek begin met ‘n teks wat vir u bekend in die ore sal klink, altans as u hier in Pretoria was met Oujaarsdag.
Want dit was die teks vir die diens op Oujaarsaand: Mattheüs 28:18.
Ek lees hierdie indrukwekkende teks nog ‘n keer:
“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
Nou gaan ek hierdie teks vanaand nie weer uitlê nie.
U is welkom om die preek van Oujaarsaand weer deur te lees.
Hoe Jesus sy twyfelende dissipels bemoedig het.
Hoe Hy hulle op sy almagtige posisie gewys het, wat Hy binnekort op die hemelse troon sou inneem.
Hoe die besef van sy almag hulle sou inspireer en aanvuur om met die Evangelie na die uithoeke van die aarde te gaan, na elke volk, stam, taal en nasie.
Vanaand kyk ons egter spesifiek na Jesus se eienskappe.
En in Mattheüs 28:18 vind ons so ‘n eienskap, wat – laat ons eerlik wees – uit en uit Goddelik is.
Want Jesus het gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
Nou staan vir ‘n oomblik stil by hierdie uitspraak.
Sê nou maar Jesus sou nie God wees nie, maar slegs ‘n baie goeie en invloedryke mens.
Wat sou mens dan van so ‘n uitspraak moes maak?
Dink vir ‘n oomblik aan baie invloedryke persone uit ons tyd.
Sê nou maar ‘n persoon soos Donald Trump, of Angela Merkel, of Vladimir Putin, sou dit sê:
Aan my is gegee alle mag in hemel en op die aarde ...
Wat sou u daarvan dink?
Alhoewel niemand van ons sal ontken dat mense soos Trump, Merkel en Putin baie invloedryk op aarde is nie, nogtans sou ons dit uitermate aanmatigend en arrogant vind, as so iemand dit sou waag om so ‘n uitspraak te maak.
Ons konklusie sal wees dat so ‘n persoon nie goed in sy kop is nie, net soos wat ons ‘n paar jaar gelede tereg gekonkludeer het dat Zuma nie goed in sy kop is, toe hy beweer het dat die ANC sal regeer totdat Jesus terugkom.
Mense wat sulke tipe uitsprake maak, het alle werklikheidsin verloor, en is ‘n verleentheid, om maar die minste te sê.
Nou as Christus net ‘n mens was, sou dit vir die dissipels ook ‘n uitermate groot verleentheid gewees het as hulle rabbi soiets sou sê.
Sodanig dat hulle sou hoop dat niemand dit gehoor het nie.
‘n Normale mens sê nie sulke dinge nie, hoogstens iemand wat in ‘n psigiatriese inrigting is, en aan een of ander waan ly.
Maar tog openbaar die Skrif hierdie uitspraak van Jesus aan ons.
En die evangelis Mattheüs was nie skaam om dit op te skryf nie.
Omdat hy ten volle oortuig was dat dit die waarheid is.
En ook die apostel Johannes het vrymoedig hiervan getuig.
In Openbaring 1:5 skryf Johannes dat Christus die Owerste oor die konings van die aarde is.
Hierdie is ‘n eienskap wat nie pas by ‘n mens nie.
Maar sodra ons besef dat Christus nie net mens was nie, maar ook God is, dan maak dit volledig sin.
Hierdie is inderdaad ‘n voluit Goddelike eienskap.
Naamlik om almagtig te wees.
Die woord almagtig beteken dat iemand mag oor alles het.
Dit is wat die Skrif sonder omhaal van woorde aan Jesus toeskryf: alle mag in hemel en op aarde!
Die besef van hierdie werklikheid was vir die apostels genoeg rede om te vertrek in alle windrigtings en die Evangelie uit te dra, wetende dat geen gevaar hulle pad sou kruis sonder dat Christus nie in beheer daarvan was nie.
Hierdie besef is vir ons in 2020 ook ‘n geweldige riem onder die hart.
Ons geaardheid as mense is dat ons baie gou bekommerd is oor wat ander mense oor ons dink.
So dikwels is mense en hulle verwagtings vir ons groot, terwyl God en sy wil in ons lewe op die agtergrond verdwyn.
Sodra ons egter onder die indruk kom van hierdie eienskap van ons Heiland, dat Hy alle mag het in hemel en op aarde, werk dit absoluut bevrydend!
Ek hoef maar net reguit die pad te stap wat die Skrif my wys.
En dan hoef ek nie bang te wees of daar vir my ‘n goeie toekoms gaan wees nie.
As Christus alle mag het in hemel en op aarde, dan sal die toekoms mos mooi wees vir almal wat aan Hom behoort, wat Hy met sy kosbare bloed gekoop het!
Maar sy almag is nie die enigste Goddelike eienskap wat die Skrif van Christus openbaar nie.
As dit kom by Christus se goddelikheid, is daar ‘n oorvloed aan getuienis.
Dit is, tussen hakies, gemeente, tipies van die Skrif.
Mense kla soms dat die Bybel so ‘n dik boek is.
Wel, dit is ‘n dik boek met ‘n rede.
Dit bevat naamlik oorvloedige getuienis.
Dit is nie karig nie.
Die Heilige Gees kom ons swakheid en kleingeloof te hulp, deur ‘n ryke skakering, ja ‘n oorvloed aan getuienis.
En dit bring ons by nog ‘n Goddelike eienskap van ons Saligmaker.
Naamlik die feit dat Hy ewig is.
(Tema: Die Skrif openbaar Jesus Christus se Goddelike eienskappe
1 Hy is almagtig)
2 Hy is ewig
As daar iets eie aan ‘n mens is, is dit dat hy tydelik is.
Elke mens het ‘n geboortedag.
Vir nege maande het elke mens al bestaan in die moederskoot, maar daarvoor nie.
En vir elke mens geld dat sy aardse bestaan tydelik is.
Die allersterkstes word ouer as 100 jaar, maar nie veel meer nie.
Daarenteen is daar verskeie Bybelgedeeltes wat Christus se ewigheid nie onder stoele of banke steek nie.
Christus getuig self daarvan: Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek (Joh 8:58).
Met hierdie uitspraak maak Jesus duidelik dat Hy al bestaan het, selfs nog voordat Abraham gebore is.
Nou vir die Jode van Jesus se dae het Abraham baie lank gelede geleef – ongeveer 2000 gelede.
As Jesus net ‘n mens was, sou hierdie opmerking van Hom absurd geklink het.
Dit is ook hoe die Jode na Hom geluister het.
Hulle het gedink sy opmerking is belaglik, en hulle het die spot daarmee gedryf.
Hy is nog nie eers 50 jaar oud nie, en het Hy Abraham gesien?
Hierdie teks het later ‘n spreekwoord geword, ook in ons taal – iemand het Abraham gesien – waarmee bedoel word dat iemand 50 jaar oud word.
Hierdie spreekwoord is eintlik ‘n gruwelike misbruik van ons teks.
As daar een ding is wat hierdie teks nie bedoel het nie, dan was dit dit.
Gemeente, dit sal ons sier as ons hierdie spreekwoord nie gebruik nie.
Maar as ons daarenteen hierdie teks gebruik om te getuig van Jesus se Godheid, juis ook gesien sy eienskap dat Hy ewig is.
Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy dit gesê het.
En die belydenis van sy ewigheid berus nie net op hierdie teks nie, daar is meer.
Dink aan hoe Johannes sy Evangelie begin: In die begin was die Woord.
Dink ook hoe die Bybelboek Openbaring begin en eindig, waar Christus sê: Ek is die Alfa en die Omega (Open 1 & 22).
En ten oorvloede, nog ‘n vers: In Kolossense 1:17 skryf Paulus: Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
Dit wil sê, voor alle dinge ontstaan het, was Hy al daar.
En as alle dinge slegs in Hom kan standhou, beteken dit dat Hy ook altyd daar moet wees, solank enige ding nog bestaan.
Inderdaad, ten volle die Alfa en Omega, die Begin en Einde van alle dinge!
Net soos sy almag, het ook hierdie eienskap – sy ewigheid – ‘n boodskap vir elke mens op aarde.
Aan die een kant positief, aan die ander kant negatief.
Kom ons begin met die laaste.
Die feit dat Christus ewig is, beteken konkreet dat geen enkele mens op aarde sal wegkom met ‘n oortreding nie.
Aan die einde van die tyd sal elke mens op aarde Hom as Regter ontmoet.
In hierdie opsig het Christus se ewigheid ook alles met etiek te make, die feit dat daar op aarde die moontlikheid is van waardes en norme, van reg en verkeerd.
As Christus nie ewig was nie, dan sou dit beteken dat moordenaars of watter oortreders ook, met hulle oortredinge sou kon wegkom.
Neem ‘n figuur soos Hitler.
Nadat hy daarvoor verantwoordelik was dat etlike miljoene mense in minder as ‘n dekade ‘n gruwelike dood gesterf het, het hy regspraak ontvlug deur selfmoord te pleeg.
Ek weet nie of sy selfmoord pynlik was nie, maar as dit was, het dit hoogstens enkele sekondes geduur.
Was dit die enigste vergelding wat hy vir al sy misdade ontvang het?
Wel, as Christus nie ewig is, sou dit inderdaad die geval wees.
As Christus nie ewig is nie, sou dit beteken dat mense op aarde ‘n lewe soos Hitler kan lei, en dan ook nog daarmee wegkom.
En daar is inderdaad mense – ongelowige mense – wat daardie lewenshouding het.
Soos Cecil John Rhodes ‘n keer geskryf het: Die mensheid vergeet maklik dat die wêreld slegs aan die voete lê van hulle wat gewelddadig is.
Dit was, in kort, Cecil John Rhodes se lewensbeskouing: As jy gewelddadig is, dan lewe jy die langste.
Hierdie lewensbeskouing het hy uitgeleef op die Suider-Afrikaanse subkontinent.
Duisende der duisende mense het deur sy hand, deur sy toedoen, ‘n gruwelike dood gesterf in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe.
Nou as Christus nie ewig is nie, beteken dit dat Rhodes, wat net so gewelddadig was as Hilter, nooit vervolg gaan word vir sy misdade nie.
En in teenstelling tot Hitler, het Rhodes nie selfmoord gepleeg nie.
Hy het rustig gesterf in sy vakansiehuis in Muizenberg, op daardie stadium een van die rykste mense ter wêreld.
Maar, die feit dat Christus ewig is, die Alfa en Omega, beteken dat daar voorwaar ‘n oordeelsdag gaan kom.
En soos ons bely in artikel 37 van die NGB: “dan sal persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn alle mense, manne sowel as vroue en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe bestaan het, gedagvaar deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God ... Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ydele woord wat hulle gepraat het ... daarom is die gedagte aan hierdie oordeel met reg ontsettend en skrikwekkend vir die oortreders en goddelose.”
Verstaan u, gemeente, Christus se ewigheid, die feit dat elke mens Hom aan die einde van die tyd as Regter sal ontmoet – dit maak etiek, waardes en norme op aarde moontlik, dit maak dit moontlik om te kan praat van reg en verkeerd as ‘n universele maatstaf.
En dit is met reg ‘n skrikwekkende gedagte vir hulle wat dan aan die verkeerde kant van die gereg gaan wees.
Maar, aan die ander kant, Christus se ewigheid is uitermate positief vir elkeen wat by Hom skuil.
Vir elkeen wat in hierdie lewe volgens sy Woord lewe.
Vir elkeen wat in hierdie lewe hulle sondes laat afwas deur sy bloed.
Vir elkeen wat hulle lewe deur sy Gees laat lei.
Vir hulle is dit ‘n troosryke gedagte, dat eendag geregtigheid sal seëvier.
Ja, bely ons in NGB art. 37, ‘n baie begeerlike en troosvolle gedagte vir die vromes en uitverkorenes; aangesien hulle volle verlossing dan voltooi sal word en hulle daar sal ontvang die vrug van al hulle sware arbeid en moeite.
Sien u, gemeente, Christus se ewigheid is nie net dogmatiese teorie nie.
Dit het alles te make met hoe u daagliks in die lewe staan.
Hoe u elke dag na die nuus luister.
Hoe u die gewelddadige dood van ‘n geliefde verwerk.
Hoe u dit verwerk as iemand u verkrag het, of welke onreg ook al aangedoen het, en steeds daarmee wegkom.
Dit het alles daarmee te make hoe u sin maak uit hierdie lewe.
Wat ‘n voorreg om aan Christus te behoort, om aan Hom vas te hou, Hy wat almagtig en ewig is.
Daardie Goddelike eienskappe van Hom veroorsaak ‘n heel ander tipe lewe op aarde.
‘n Lewe wat spreek van hoop.
‘n Lewe wat nie die instelling het van: eet en drink, want môre sterf ons – nie.
‘n Lewe wat bereid is om op te offer.
‘n Lewe wat geduldig kan wees, wat hoopvol kan wag.
‘n Lewe wat nie egoïsties is nie, maar wat kan deel.
‘n Lewe wat kan opoffer.
Inderdaad, ‘n lewe wat lyk soos Christus se lewe, toe Hy op aarde was.
Deur die krag van sy opstanding word ons in staat gestel om ook so te lewe.
Weet ons dat so ‘n lewe sinmaak, al maak dit nie van ons die rykste mense op aarde, of die invloedrykste, of die wat ook al nie.
‘n Lewe wat vashou aan Christus, omdat sy beloftes vasstaan.
Naamlik dat wie agter Hom aan sy kruis dra, en die pad van vernedering stap, op sy goeie tyd ook die verhoging en verheerliking sal meemaak.
Net soos die Hoof, sal ook die liggaam volg.
Ons Hoof is reeds verheerlik, op die troon in die hemel.
Dieselfde staan die liggaam te wagte.
Ja so transformeer Christus, met sy Goddelike eienskappe, ons bestaan.
Lof aan Hom.
Lof aan die Almagtige!
Lof aan die Ewige!
Amen.
Votum
Seën
Ps 86:1,5
Gebed
Skriflesing: Johannes 8:51-59 & Kolossense 1:13-23
Ps 9:5-7
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 10
Preek
Ps 33:2,3,6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 16:1-4
Seën