Die Skrif openbaar Jesus Christus se Goddelike werke

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-01-19
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 10
Preek Inhoud: 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 10 (Christus verrig Goddelike werke)

 

Artikel 10 van die NGB gee ‘n kort samevatting van ‘n waarheid waaroor die Skrif uitbundig getuig.

Naamlik dat Jesus Christus waaragtige en ewige God is.

Ons behandel hierdie leerstuk, die Godheid van Christus, in ‘n viertal preke.

Daarin skenk ek stapsgewys aandag aan vier aspekte van die Skrif se getuienis oor die Godheid van Christus.

Ons het nou al twee preke daaroor agter die rug.

Die eerste preek het daarop gefokus dat die Skrif aan Christus Goddelike Name gee.

Dit is tipies name wat ‘n gewone mens nie toekom nie.

Name soos: Allerhoogste, Owerste oor die konings van die aarde, Saligmaker, Sterke God, om maar enkeles te noem.

In die tweede preek het ons gesien dat die Skrif ook openbaar dat Jesus Goddelike eienskappe het.

Eienskappe wat nie pas by ‘n mens nie.

Ons het gesien dat Christus ewig is, asook dat Hy almagtig is.

Goddelike name, Goddelike eienskappe, die Skrif beskryf dit uitbundig.

Vandag gaan ons verder in ons speurtog deur die Bybel.

Vandag sien ons dat die Skrif ook Christus se Goddelike werke beskryf.

Goddelike werke, dit is tipies werke wat net deur iemand verrig kan word, wat Goddelik is.

En net soos by die vorige preke, word dit nie net ‘n droë beskrywing daarvan nie, maar kyk ons ook na die impak van hierdie feite op ons lewe.

Want Christus se werke is nie, soos die spreekwoord sê, iets wat ver van ons bed af is nie.

Dit raak ons alledaagse lewe direk.

En nie net ons s’n nie, elke mens, elke skepsel op aarde s’n.

 

Tema: Die Skrif openbaar Jesus Christus se Goddelike werke

 

Gedurende die jare wat ons Saligmaker op aarde was, was dit veral sy Goddelike werke wat baie mense opgeval het, en wat baie mense na Hom toegetrek het.

Hoewel Jesus se Goddelike Name en sy Goddelike eienskappe ook duidelik in die Evangelies na vore kom, het die mense op daardie stadium dit dikwels nie geglo en aanvaar nie.

Hy sê dit wel, Hy sê wel dat Hy ewig is, Hy sê wel dat Hy voor Abraham al bestaan het, maar wie sê dis waar?

Maar as dit oor sy werke gaan, was dit dinge wat voor hulle oë gebeur het.

Dit was nie net woorde nie, maar dade.

Inderdaad, sy dade, sy wonderwerke het die volk, die Skrifgeleerdes, die Fariseërs en Sadduseërs in verwarring gebring.

Dit het hulle voor ‘n keuse geplaas!

Dit was ‘n ooglopende wonder dat daardie man wat van sy geboorte af blind was, ineens siende geword het – Johannes 9.

Maar die Fariseërs wou net nie erken dat daar ‘n wonder plaasgevind het nie, en deur wie dit gedoen is nie.

En hulle het hulle invloed misbruik om die impak van die wonder te minimaliseer.

Hulle het die betrokke man se ouers geteister, en die man self uit die sinagoge geban.

 

Nou Johannes 9 was nie ‘n uitsondering nie.

Wat hier gebeur het, het verskillende male gebeur.

Maar Christus se wonderwerke was soos ‘n bulderende rivier na ‘n stortbui wat net nie wou ophou nie.

Johannes skryf oor Christus se wonderwerke: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie.” (Joh 20:30)

En in Johannes 21: “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (vers 25)

Jesus se Godheid het dus oorweldigend uit sy werke geblyk.

En hoe die Fariseërs ook gekeer het, hulle kon nie.

Die mense het alles gesien, keer op keer, dag na dag, dit wou net nie ophou nie.

Siekes is genees, liggaamlike siektes, geestelike siektes.

Skares van duisende mense is gevoed met vyf broodjies en twee vissies.

Storms is stilgemaak, ja Hy het selfs op die water geloop, en ander op die water laat loop.

Ervare vissermanne wat ‘n nag lank niks kon vang nie, kry ineens ‘n reusevangs sodat die nette omtrent wou skeur, net op sy bevel om die net aan die ander kant van die boot uit te gooi.

En die mees indrukwekkende van alles: Hy het dooie mense weer lewendig gemaak.

Jaïrus se dogtertjie, die weduwee van Naïn se seun, om enkeles te noem.

En dan sy vriend Lasarus.

Hierdie opwekking van Lasarus was so spektakulêr, dat die mense toegestroom het en tou gestaan het in die klein dorpie Betanië, net om hierdie wêreldwonder te sien te kry (Joh 12:9).

Dit was ‘n uitermate groot verleentheid vir die owerpriesters.

Die afgelope drie jaar het hulle bontgestaan om Jesus se invloed in te perk.

Maar met Lasarus se opwekking was dit asof die damwal gebreek het.

Die massas mense het toegestroom, nie net om Jesus te sien nie, maar veral ook om Lasarus te sien!

Inderdaad, daardie Goddelike werk wat Hy verrrig het, dat Hy in staat was om ‘n dooie terug te bring na die lewe.

Dit was onder andere die rede hoekom daar soveel mense was by sy intog in Jerusalem, wat Hom toegesing het: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel! (Joh 12:13)

Die volk het met Hom weggeloop, weens die getuienis van al sy Goddelike werke.

En die Fariseërs kon nie meer keer nie.

Wanhopig het hulle uitgeroep en vir mekaar gesê: Sien julle dat ons niks vorder nie?

Kyk die hele wêreld loop agter Hom aan (Joh 12:19)!

 

Gemeente, beide die reaksie van die skare asook die reaksie van die Fariseërs en owerpriesters, getuig van die waarheid, die werklikheid, dat Christus Goddelike werke verrig.

Net die feit dat hulle so heftig reageer, verraai al dat daar iets groots, iets ongewoons plaasgevind het!

En dat hulle so baie moeite moes doen met wat ons vandag sou noem ‘damage control’.

Ons lees selfs dat hulle, as gevolg van die einste feit dat Christus sulke spektakulêre Goddelike werke verrig, dat hulle planne begin beraam het om Hom om die lewe te bring.

En nie net Hom nie, maar ook selfs vir Lasarus.

Johannes 12:10: En die owerpriesters het besluit om Lasarus ook om die lewe te bring, omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus geglo het.

 

Christus se allergrootste Goddelike werk het natuurlik gebeur aan die einde van sy tyd op aarde.

Die feit dat Hy self, nadat Hy drie dae en nagte dood in die graf was, opgestaan het.

Ook toe het die owerpriesters dieselfde modus operandi gevolg, naamlik om te poog om die Goddelike werk self uit die weg te ruim.

In Lasarus se geval het hulle dit probeer doen deur hom weer om te lewe te wil bring.

In Jesus se geval het hulle dit gedoen deur ‘n liegstorie die wêreld in te stuur.

Hulle het die soldate wat by die graf wag gehou het, met baie geld omgekoop.

Daardie soldate het direk na hulle toegekom.

Daardie owerpriesters was dus een van die eerstes wat die goeie nuus gehoor het.

Die soldate het aan hulle in detail beskryf wat gebeur het.

Hierdie Goddelike werk by uitstek is voor hulle oë deur die soldate geskilder.

En weer eens getuig hulle reaksie, al is dit dan ‘n uitermate negatiewe reaksie, tog getuig hulle maatreël wat hulle geneem het, van die waarheid, die werklikheid van hierdie Goddelike werk.

Naamlik dat Christus werklik uit die dood opgestaan het!

En hulle was bereid om baie smeergeld te betaal om dit in die doofpot te stop.

 

Daardie smeergeld was ‘n stille getuie dat hier iets ongewoons, iets onsagwekkends plaasgevind het.

Dat Christus uit die graf opgestaan het!

By hierdie grootste Goddelike werk van ons Heiland tydens sy tyd op aarde, wil ek nog vir ‘n oomblik stilstaan, gemeente.

Want as ons na die Skrifgetuienis kyk van hierdie gebeurtenis, van Christus se opstanding, sien ons dat dit op tweeërlei manier aan ons in die Bybel geopenbaar word.

Aan die een kant spreek die Skrif in die passiewe vorm, naamlik dat Jesus opgewek is.

Hy is opgewek deur sy Vader in die hemel.

Daar is baie teksverse wat dit so beskryf.

Om enkeles te noem:

Handelinge 2:32: Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.

Handelinge 3:26: God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het ...

Handelinge 5:30: Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang.

Handelinge 13:30: Maar God het Hom uit die dode opgewek.

Romeine 6:4: opgewek deur die heerlikheid van die Vader ...

En so is daar nog verskeie ander Bybeltekste wat die passiewe vorm gebruik: 1 Petr 1:21; 2 Tim 2:8; 1 Thess 1:10; Kol 2:12; Ef 1:20; Gal 1:1; 2 Kor 5:15; 2 Kor 4:14; 1 Kor 15:4,20; 1 Kor 6:14; Rom 10:9; Rom 8:11,34; Rom 6:9; Hand 10:40; Hand 4:10; Hand 3:15; Hand 2:24.

Dit aan die een kant.

 

Maar andersyds vind ons ook tekste in die Bybel in die aktiewe vorm, wat sê dat Hy opgestaan het!

Enkele voorbeelde daarvan is onder andere:

1 Thess 4:14: Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.

Romeine 14:9: Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.

Johannes 21:14: Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.

Johannes 2:22: En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het.

Lukas 24:6: Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.

Markus 16:6: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.

Markus 14:28: Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.

En Mattheüs 28:6-7 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa.

Hierdie is alles voorbeelde in die aktiewe vorm.

 

Hierdie tweeërlei Skrifgetuienis – opgewek en opgestaan – spreek mekaar nie teen nie, dit dui eerder op die samewerking wat daar is tussen Vader en Seun.

Dit dui op die eenheid wat daar in God Drieënig is.

En dit dui dus net weer op die Godheid van Christus.

Net soos die Vader, verrig Hy Goddelike werke.

En die feit dat Hy uit dood en graf opgestaan het, was net soveel sy werk as wat dit die Vader in die hemel se werk was.

 

Dit geld trouens net so vir die heilsfeit wat kort daarna gevolg het.

Die feit dat Hy opgevaar het na die hemel.

Liggaamlik, voor die oë van sy dissipels.

Weer eens iets wat ‘n gewone mens nie kan doen nie.

En ook wat sy hemelvaart betref, vind ons in die Skrif sowel die aktiewe as die passiewe vorm.

Enersyds dat Hy opgeneem is in die hemel – passief – byvoorbeeld:

Markus 16:9: Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. 
Lukas 24:51: En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. 

Handelinge 1:9-11: En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

En so is daar nog meer tekste oor sy hemelvaart in die Bybel, in die passiewe vorm (byvoorbeeld Hand 1:22; 1 Tim 3:16).

 

Maar daarnaas is daar ook tekste in die aktiewe vorm, naamlik dat Hy self opgevaar het.

Dink byvoorbeeld aan:

Efesiërs 4:10: Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. 

Johannes 20:17: Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. 

As Jesus net mens was, sou Hy nooit hierdie kon gesê het nie.

Dan moes Hy gesê het: Ek wag om opgeneem te word deur my Vader in die hemel.

Maar dis nie wat Hy sê nie.

Hy verwoord dit aktief, in die sin dat Hy self ten volle die regie in hande het: Ek vaar op na my Vader en julle Vader!

 

Dus ook wat betref sy hemelvaart sien ons die pragtige samewerking tussen Vader en Seun, ja tussen de Drieëenheid.

Ook sy hemelvaart was uit en uit ’n Goddelike werk wat aan Hom toegeskryf word.

 

Nou is daar nog meer Goddelike werke wat die Skrif noem, wat ek nog nie in hierdie preek genoem het nie.

Die Skrif openbaar dat Hy betrokke was by die skepping.

Sonder Hom het niks ontstaan nie.

Alle dinge is deur Jesus Christus geskape.

Die Skrif openbaar Hom ook as Iemand wat kan seën.

Om iemand in jou eie Naam te seën, is ‘n werk wat net iemand kan doen wat self God is.

Anders het so ‘n seën niks om die lyf nie.

Verder openbaar die Skrif dat Christus regeer op die hemelse troon – ‘n Goddelike werk.

En aan die einde van die tyd sal Hy regspreek oor hemel en aarde – nog ‘n uit en uit Goddelike werk.

En so kan ons aangaan met ‘n nimmereindigende lys van Goddelike werke wat aan ons Saligmaker toegeskryf word.

 

Wat ‘n indrukwekkende getuienis!

Hierdie getuienis het tot ons gekom deur die Skrif.

Ons, wat in die 21ste eeu lewe, is nie in die posisie van die mense wat toe gelewe het, wat met hulle eie oë al die wonderwerke van Christus gesien het nie.

Is dit vir ons daarom moeiliker om te glo?

Wel Christus het vir Thomas gesê: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. (Joh 20:29)

Dit is ‘n baie mooi versekering waaraan ons mag vashou, gelowiges in die 21ste eeu.

Al was ons nie in die bevoorregte posisie om ooggetuies van Christus se wonderwerke te gewees het nie, dit maak ons kans om gered te word nie minder nie.

Christus sê juis oor ons, wat nie gesien het nie, dat ons salig is, as ons in Hom glo op grond van die getuienis van die Skrif.

Geliefde gemeente, dit is tog ‘n pragtige verskering van Christus om aan vas te hou, is dit nie?!

 

En onthou u nog wat Jesus gesê het, toe Hy die gelykenis oor die ryk man en die arm Lasarus vertel het?

Die ryk man het gesmeek om iemand uit die hemel te stuur om sy vyf broers te gaan waarsku.

Onthou u wat Jesus se antwoord daarop was?

Sy antwoord was: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.

Moses en die Profete, dit was in daardie tyd die naam vir die Bybel.

Jesus sê dus: Laat hulle na die Bybel luister, dan sal hulle ook salig word.

Die ryk man was egter nog nie gerus nie.

Nee ... maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. 

Waarop Jesus baie beslis gereageer het: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan. (Luk 16:19-31)

 

Ook hierdie is baie troosryke woorde vir ons in die 21ste eeu.

Ons hoef nie al Christus se wonderwerke met eie oë te gesien het nie, om wel te kan glo, om te kan lewe met die seker wete dat ons eendag salig sal word.

Laat ons maar net aan die Skrifgetuienis vashou.

Dit is ons houvas, dit is ons fondament in die lewe!

 

Dit was so ironies, dat baie van daardie generasie wat ooggetuies was van Jesus se Goddelike wonderwerke, dat baie van hulle tog nie geglo het nie, en tog nie salig geword het nie.

Lasarus is uit die dood opgewek, derduisende mense was ooggetuies van daardie wonder.

Tog het baie van daardie einste mense kort daarna geskreeu: kruisig Hom, kruisig Hom!

Daardie einste mense wat al daardie wonders gesien het.

 

Laat ons dus nie wanhopig word nie.

Christus se Gees werk ook vandag kragtig.

Ook in die 21ste eeu werk Hy die geloof in mense se lewens.

Hy doen dit deur die getuienis van die Skrif.

Ja die Skrif getuig van Christus se Goddelike werke.

En meer nog, as ons die Skrif ken, as ons die Christus van die Skrifte ken, dan sien ons geloofsoog ook sy Goddelike wonderwerke vandag, in die 21ste eeu!

So dis nie dat ons, in teenstelling tot die generasie destyds met Christus se verblyf op aarde, dat ons vandag glad nie Christus se Goddelike werke te sien kry nie.

As dit goed is, kan elkeen van u, as u terugkyk op u lewenspad, getuig van sy Goddelike werk in u lewe.

En met die geloofsoog, as ons kyk na die wêreldgeskiedenis, en as ons kyk na ons eie land se geskiedenis, dan sien ons ook Christus se regering raak.

Gesete aan die regterhand van die Vader op die hemelse troon, stel Hy regeerders aan en dank Hy hulle af.

En met vaste hand lei Hy die geskiedenis na sy einddoel toe.

Ons sien ook in die hede sy Goddelike werk, hoe Hy die gemeente, wat Hy met sy kosbare bloed gekoop het, vergader, beskerm en onderhou.

Want Hy is ’n Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie.

Ook in die 21ste eeu gaan Hy voort, ook as ’n ou geslag gesterf het en begrawe is, werk Hy deur sy Woord en Gees geloof in nuwe geslagte.

So kan ons Hom vertrou.

So word ons vertroue elke keer versterk, as ons sy Goddelike werke in ons en om ons waarneem.

Inderdaad, Christus se werke is nie, soos die spreekwoord sê, iets wat ver van ons bed af is nie.

Dit raak ons alledaagse lewe direk.

En nie net ons s’n nie, elke mens, elke skepsel op aarde.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 111:1,4

Gebed

Skriflesing: Johannes 12:1-19; 20:24-31; 21:25

Ps 68:1,8

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 10 (Christus verrig Goddelike werke)

Preek

Sb 8:1-5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 138:4

Kollekte

Sb 10:1,2,3,5,6

Seën