God se regverdigheid en barmhartigheid kom bymekaar in die skuldoffer

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-02-16
Teks: 
Levitikus 6:7
Preek Inhoud: 

Die Skriflesing vir vanoggend handel oor die skuldoffer.

Wat is die skuldoffer?

Laat ek begin met ‘n voorbeeld wat vir die kinders ook verstaanbaar sal wees.

Piet en Jan is bure, en hulle speel van tyd tot tyd bymekaar.

Op ‘n dag kom Piet agter dat sy mooi rooi knipmes weg is.

Hy het orals gesoek, maar kom hom nie kry nie.

Twee weke later, toe Piet weer by Jan speel, sien hy ineens dat Jan presies net so ‘n knipmes soos hy het!

Toe hy hom vra waar dat dit gekry het, vertel Jan ‘n storie dat sy pa dit ‘n keer vir hom saamgebring het.

 

Nou wil ek vir julle die vraag vra.

Wanneer dink julle gaan Jan die meeste straf kry?

As hy eerlik vir Piet en vir sy pa vertel dat hy dit gesteel het, en as hy dan die knipmes vir Piet teruggee?

Of as hy dit nie vertel nie, en sy pa later op ‘n ander manier agterkom dat sy seun daardie knipmes gesteel het?

Wanneer dink julle gaan Jan die meeste straf kry?

Ek dink julle kan wel raai wanneer Jan die meeste straf gaan kry.

 

Op dieselfde manier werk dit ook by grootmense.

Ook hulle moet soms gestraf word, deur die polisie, of deur die regering.

Maar wanneer mense self hulle sondes bely, dan is die straf meestal minder swaar.

 

Dit is waaroor vandag se preek handel.

Oor God se barmhartigheid, soos ons dit in die skuldoffer ontmoet.

 

Tema: God se regverdigheid en barmhartigheid kom bymekaar in die skuldoffer.

 

Nou voordat ons nader na die skuldoffer kyk, net eers die volgende.

Ons moet onthou dat Levitikus ‘n egte wetboek is.

En soos vir elke wetboek geld, is dit nie die boeiendste lituratuur om te lees nie.

Dinge word baie noukeurig en tegnies geformuleer.

Dinge word dikwels ook herhaal, maar dan elke keer toegespits op ‘n ander situasie.

So geld dit ook vir die wette wat die HERE by monde van Moses laat opskryf het.

As mens nie oog het vir die klein verskille nie, kan mens deurmekaar raak.

So is daar byvoorbeeld tussen die skuldoffer en die sondoffer ooreenstemming, maar ook verskil.

 

Dalk onthou u die vorige keer toe ons nagmaal gevier het, verlede jaar November.

Toe was die sondoffer die onderwerp vir die prediking.

By die sondoffer was die fokus veral op die algemene sondigheid en gebrokenheid van onsself en die samelewing.

Onopsetlike sondes, of dinge wat – beskou deur God se oë – inderdaad sondig is, maar waarvan ons nie eers bewus was nie.

By die skuldoffer, waarna ons vandag kyk, gaan dit egter wel oor konkrete sondes en oortredinge waarvan ‘n mens goed bewus is.

 

Hoewel daar ‘n mate van oorlapping is, word die sond- en die skuldoffer wel in die Mosaïese wetgewing onderskei.

Ons teks gaan spesifiek oor as iemand sy naaste opsetlik benadeel het.

Dit kan op verskillende maniere gebeur.

Byvoorbeeld deur domweg iets te steel, dink aan die voorbeeld uit die inleiding.

Mens kan ook, as jou naaste vir jou vra om iets vir hom te bewaar, later as hy dit terugvra, maak of jy van niks weet nie.

Of as jy by jou buurman geld leen in ‘n noodsituasie, later maak of jy niks onthou nie.

Mens kan ook bewus inligting agterhou, waardeur jou medemens benadeel kan word.

Jy kan ook bewus jou werknemers onder standaard betaal, dalk omdat hulle buitelanders is en nie so veeleisend nie.

En so is daar baie voorbeelde hoe jy bewus jou naaste kan benadeel.

 

Nou weet ons uit die Bybel, dat elkeen wat so teen sy naaste sondig, daarvoor straf behoort te ontvang.

In hierdie verband moet ons die skuldoffer ook onderskei van nog ander wetgewing wat ons tewens in die Pentateug vind.

So bepaal die wette wat die HERE aan Moses gegee het, byvoorbeeld dat as iets gesteel is en die diefstal uitkom, hetsy op heterdaad of later eers, dat dit wat gesteel is dubbel terugbetaal moes word.

Sien Exodus 22:7.

Dit was die bepaling wanneer dit oor geld gegaan het.

En wanneer kleinvee gesteel is, moes dit wat gesteel is self viervoudig terugbetaal word.

Sien Exodus 22:1.

En as beeste gesteel is, selfs vyfvoudig.

Hierdie was voorwaar geen milde strawwe nie.

Duidelik was diefstal vir die HERE ‘n ernstige saak.

 

Maar, gemeente, dit kon ook anders gaan.

Dit kon ook gebeur dat ‘n dief later spyt gekry, en besluit het om self sy oortreding te bely.

In so ‘n geval was die skuldoffer aan die orde.

En in so ‘n geval het ‘n milder straf gegeld.

Dink terug aan die voorbeeld uit die inleiding, Jan wat Piet se knipmes gesteel het.

In vers 4 staan daar: “as hy dan sondig en skuldig word”.

Mens kan hierdie vers ook vertaal soos volg: as hy dan sondig en sy skuld besef, oftewel sy skuld erken.

As iemand sy naaste opsetlik benadeel het, maar hy kry spyt en bely dit self op eie inisiatief, in so ‘n geval het die wetgewing ten aansien van die skuldoffer dus gegeld.

En in so ‘n geval was die straf dus veel milder.

In die eerste plek, het hierdie wetgewing bepaal, moes hy teruggee wat hy gesteel het.

Vervolgens moes hy ‘n vyfde van die bedrag ekstra gee as skadevergoeding.

En vervolgens moes hy ‘n ram sonder gebrek bring as skuldoffer.

 

U vra dalk uself af: Hoekom moes daardie persoon ook nog ‘n offer bring, as hy dit wat hy gevat het, teruggegee het plus nog meer as dit?

Waarom moet hy dan nog ‘n offer aan die HERE bring?

Die rede is dat as jy teen jou naaste gesondig het, jy ook teen die HERE gesondig het!

Ook as jy iets teen die minste van sy skepsels gedoen het, het jy dit teen die Skepper self gedoen.

Dit staan so mooi in vers 2: “As iemand sondig en ontrou handel teen die HERE deurdat hy teenoor sy naaste ...”ensovoorts.

Doen jy dus iets ten nadele van jou naaste, dan handel jy ontrou teen die HERE!

Vandaar die bring van ‘n skuldoffer.

Daarmee moes die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE.

En daarna is sy skuld hom heeltemal vergewe!

Versoening – dit is ‘n sleutelwoord in die wetboek van Levitikus.

Hieruit blyk wat die HERE met hierdie wetboek op die oog gehad het.

Dit was ‘n unieke wetboek, wat geen ander volk op aarde gehad het nie.

Dit was ‘n wetboek waardeur die HERE versoening bewerkstellig het, ‘n samelewing van vergewingsgesindheid.

Wat ‘n voorreg om deel van God se volk te mog gewees het!

Die priester mog so vir iemand versoening doen voor die aangesig van die HERE, en vervolgens is sy skuld hom werklik ook vergewe!

 

Tema: God se regverdigheid en barmhartigheid kom bymekaar in die skuldoffer.

 

Juis in die Ou Testament, juis in hierdie offerwette sien ons hoe die Evangelie ook toe al aanwesig was.

Die blye boodskap van skuldvergifnis.

Dink net aan die skitterende woorde uit ons teks: “dit sal hom vergewe word – enigiets wat ‘n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.”

Wat ‘n bevrydende boodskap!

Die HERE is soos ‘n wyse en liefhebbende vader.

Hy het die sondes van sy kinders gestraf, maar met wysheid.

Nie alle sondes het dieselfde swaarte van straf ontvang nie.

Daar was gradasies in die straf, van die een uiterste, naamlik vyfvoudige restitusie van dit wat gesteel is, tot die skuldoffer waaroor ons teks skryf, waar iemand net ‘n vyfde ekstra as skadevergoeding moes betaal, plus ‘n offer bring.

 

Ja uit Levitikus spreek die Evangelie!

Die blye boodskap van ‘n vergewingsgesinde God.

‘n God wat planne gemaak het om die vrede te herstel.

‘n God wat uit sy pad gegaan het om sy kinders te behou!

In die skuldoffer gaan God se regverdigheid en sy barmhartigheid hand aan hand.

Aan die een kant sien hierdie wetgewing die sonde nie deur die vingers nie.

Geen enkele skuld, gebrokenheid of siekte word deur die vingers gesien nie.

Dit is ‘n deur en deur regverdige wetboek.

Maar terselfdertyd spreek God se barmhartigheid ook uit hierdie wetboek.

Uit hierdie wetboek leer ons God se wil ken, hoe Hy wou hê die samelewing van sy volk moes lyk.

‘n Samelewing waarin daar vrede en verdraagsaamheid heers.

‘n Samelewing waaroor Psalm 133 so pragtig sing:

Hoe goed is dit as broers ook werklik saam woon,

in eensgesindheid voor die HERE lewe,

dit is ‘n seën vir altyd.

Dis soos salfolie wat Aäron laaf,

wat geurig afloop op sy baard en kraag,

‘n ongekende kosbaarheid.

 

In hierdie psalm word die eensgesindheid tussen broers vergelyk met kosbare salfolie.

Dit was danksy die HERE se offerwetgewing, dat daar ‘n duursame, ‘n blywende eensgesindheid tussen broers tot stand kon kom.

‘n Saamwoon, ‘n eensgesindheid, wat danksy al hierdie offers, telkens weer herstel kon word!

 

Juis met die oog op hierdie lieflike eensgesindheid het die HERE hierdie offerwette ingestel, Hy het bepaal dat daar bloed moes vloei as voorlopige bedekking, as voorlopige versoening van die oortredinge en sondes.

Dit geld ook van die bloed van elke ram wat gevloei het, elke keer as ‘n skuldoffer gebring is.

Alles sondes, hetsy opsetlik of onopsetlik, is versoen.

Die sondes is bedek met dierebloed, totdat uiteindelik die bloed van die ware Middelaar sou vloei.

En dit is wat ons vandag weer aan die nagmaal herdenk.

Hoe ons God uit sy pad gegaan het om sy kinders te behou!

Dat Hy selfs bereid was om sy eie Seun daarvoor op te offer!

Ja Jesus Christus is ons skuldoffer.

God se regverdigheid en barmhartigheid het bymekaar gekom in Christus.

Christus het gesorg dat daar vir die skuld betaal is.

Hy het die straf en gedra en God het daardie betaling aanvaar.

En dus skenk die HERE nou aan ons barmhartigheid, ja versoening!

Dus kan ons in vrede en harmonie voor sy aangesig lewe.

Dus maak Christus deur sy Gees dit moontlik dat ons ook in vrede en harmonie met mekaar kan lewe.

Wat ‘n voorreg!

Dit danksy die Heilige Gees, Christus se kosbare salfolie.

Kom ons prys ons Heiland daarvoor.

Jesus Christus, wat ons skuldoffer is.

Jesus Christus, wat ons sondoffer is.

Jesus Christus, wat ons brandoffer is.

Jesus Christus, wat ons alles is!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:1,5

Wet

Ps 38:1,7,8

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Levitikus 5:14-6:7 & Preek, Ps 103:2

2e tafel: Skriflesing: Levitikus 6:7 (teks) & Preek, Ps 133:1,2

3e tafel: Lofverheffing, Ps 103:3

Dankgebed

Kollekte

Sb 8:1,4

Seën