Danksy Christus is God lankmoedig. Deur Christus se Gees word ons ook lankmoedig.

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2020-04-19
Teks: 
Galasiers 5:22 (lankmoedigheid)
Preek Inhoud: 

Die gemeente van Maranata behandel ‘n spesifieke jaartema in 2020, naamlik wat dit inhou om ‘n diakonale gemeente te wees, ‘n diensbare gemeente.

Ons het vroeër hierdie jaar al begin deur te kyk na die diakenamp, na wie as diakens behoort te dien, maar ook na die feit dat diakonale diensbetoon nie net iets vir die diakens is nie, maar vir die hele gemeente.

 

Daarna het ons voortgegaan om ‘n begin te maak met die behandeling van die vrugte van die Gees, soos ons dit op verskeie plekke in die Bybel vind, onder andere hier in Galasiërs.

Want, wil ‘n gemeente werklik ‘n diakonale gemeente wees, gekenmerk deur diensbetoon, dan is die vrugte van die Gees onontbeerlik.

Dit is waar alles begin.

 

Nou het ons alreeds die eerste drie vrugte behandel:

Liefde, blydskap en vrede.

Dit was die eerste drie vrugte van die Gees uit Galasiërs 5.

Vrugte wat vanselfsprekend by ‘n Christen se lewe hoort.

Die vierde vrug, lankmoedigheid, is egter die een waar die rubber die teer van elke dag se lewe tref.

En eintlik is hierdie vierde vrug juis baie van toepassing op ons huidige situasie, die grendeltyd.

Want inderdaad, ons geduld word in hierdie periode ekstra op die proef gestel.

Aan die begin van die grendelperiode het sommiges van ons dit dalk nog as opwindend ervaar.

Dalk het sommiges uitgesien na hierdie tydjie wat jy as gesin in afsondering kan wees.

Maar toe na twee weke die aankondiging van die president kom dat die grendelperiode nog verleng gaan word, het die meeste van ons gesug.

En hoe langer dit duur, hoe meer word ons geduld op die proef gestel.

Die emosies begin oploop, geïrriteerdheid neem toe.

Daar is bekommernis oor die toekoms van die land en die ekonomie.

Daar is bekommernis oor jou lewensonderhoud, oor die besigheid wat jy tans misloop.

Bekommernis en onsekerheid natuurlik ook oor die Coronavirus, en watter spoor dit hier deur Suid-Afrika gaan trek.

As daar een ding duidelik is, is dit dat die toekoms onduidelik is.

Onseker.

Is dit daarom nie baie waar dat ons juis in hierdie tyd daardie vrug van die Gees, lankmoedigheid, ekstra nodig het nie?

Kom ons kyk vandag na wat die Skrif ons leer oor hierdie vrug van die Gees.

 

Tema: Danksy Christus is God lankmoedig. Deur Christus se Gees word ons ook lankmoedig.

 

Die woord lankmoedig is ‘n ou woord, wat nie meer so baie gebruik word nie.

Mens kan dit ook vertaal met ‘n woord soos geduld, of uithouvermoë, of dalk nog beter: lydsaamheid.

Nog so ‘n ou woord wat eintlik die bedoeling van hierdie term die beste saamvat.

Lankmoedig beteken letterlik dat jy lank moed hou, ten spyte van teenslae.

Lydsaamheid beteken dat jy geduldig uithou, ook as dit lyding vereis.

Nou hierdie karaktertrek is uit en uit ‘n vrug van die Gees.

Lankmoedigheid of lydsaamheid as vrug van die Gees beteken die vermoë om vir ‘n lank tyd uit te hou, vol te hou, volharding te toon, sonder om oor te gee aan die behoefte om ‘n weerwoord te hê, of om wraak te neem of te wil terugveg.

Lankmoedigheid of lydsaamheid as vrug van die Gees hou ook in dat jy met die swakhede van ander kan uithou, geduldig met ander kan wees, sonder om vinnig geïrriteerd of kwaad te word.

Dat jy in staat is om beheer oor jouself uit te oefen, beheer oor jou impulsiewe reaksies.

Nou is dit iets wat vir niemand van ons vanself kom, aangebore is nie.

Waardeur ons juis die Heilige Gees so nodig het om hierdie vrug in ons lewens te laat groei.

 

Nou hoe laat die Gees hierdie vrug in ons lewe groei en ryp word?

Geliefdes, dit gebeur deurdat die Gees ons aandag juis vestig op die lankmoedigheid, die geduld van God self.

En dit is doel van die Skrif, die Bybel, want daarin leer ons God se karakter ken.

En dit geld vir sowel die Ou as die Nuwe Testament.

 

In die Ou Testament openbaar die HERE Homself aan Moses en dus ook aan sy volk as volg:

“HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” – Exodus 34:6.

Lankmoedig in daardie spesifieke historiese konteks het beteken: stadig om kwaad te word.

Dit was die konteks toe Israel, kort nadat die HERE hulle wonderbaarlik uit Egipte bevry het, tog vir hulleself ‘n goue kalf laat maak het (Ex. 32).

God het alle reg gehad om daar en dan sy volk in die steek te laat.

Maar hoewel die volk dubbel en dwars God se oordeel verdien het, was Hy geduldig, en het Hy sy volk ‘n kans gegee om hulle te bekeer.

 

Hierdie woorde uit Exodus 34, wat God se karakter so mooi beskryf, vind ons daarna telkens in die Ou Testament terug.

Telkens in die Ou Testament word daar weer ‘n beroep gedoen op hierdie karaktereienskappe van God.

Dink aan Psalm 103:

“Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.”

In hierdie Psalm dink Dawid terug aan hoe God Homself aan Moses geopenbaar het: Hy is lankmoedig!

Dawid vergelyk hierdie karakter van God in die psalm ook met ‘n pa se geduld met sy kind.

As daar ‘n enkele voorbeeld van – mens sou amper kon sê – aangebore geduld op aarde is, dan is dit die van ‘n ouer na sy kind toe.

‘n Ouer is bereid om sy kind se nonsens op te vreet, veel meer as in enige ander verhouding op aarde.

So is die HERE: Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.

Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is!

Ja Hy is lankmoedig, stadig om kwaad te word.

 

Gemeente, ek weet nie watter beeld u van God in die Ou Testament het nie.

Soms is mense geneig om te dink dat God in die Ou Testament steeds toornig en kwaad was.

Maar as mens werklik die moeite doen om die Ou Testament in sy geheel te lees, dan val dit veel eerder op dat God juis lankmoedig was, juis stadig om toornig te word, veral in die lig van al die nonsens wat Hy steeds van die kant van sy eie volk moes opvreet!

Dit is dan ook die beeld van God wat telkemale tot ons kom vanuit die profete van die Ou Testament.

God is geduldig, selfs so geduldig dat dit dit profete geïrriteer het.

Dink aan Jona, wat vir God gekritiseer het oor die feit dat Hy so geduldig met Ninevé was.

Dat Hy veels te lank tyd gegun het vir die mense van daardie stad om tot bekering te kom.

Ook die profeet Hosea se boodskap spreek van God se geduld.

Die woorde wat Hosea moes profeteer, maar ook die dinge wat hy as profeet in sy eie lewe moes doen, juis om God se geduld te illustreer met ‘n owerspelige volk.

Jeremia was ‘n profeet wat van God die opdrag gekry het om sy hele volwasse lewe, veertig jaar lank, daaraan te spandeer om die afvallige volk te waarsku.

Ek dink ons sou, as ons in Jeremia se skoene gestaan het, na 1 of 2 of dalk 7 jare siek en sat gewees het vir die volk.

Maar God het nie opgegee nie.

Die apostel Jakobus verwys waarskynlik na die geduld van Jeremia, as hy skryf:

“Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het.” (Jakobus 5:10)

 

Nou wat ook baie leersaam in die Ou Testament is, is dat een van die woorde wat vir vergewe gebruik word, juis letterlik beteken om iemand te skuld te dra, om te verdra.

Moses vra in Exodus 34:9 vir die HERE: “vergewe ons ongeregtigheid en ons sonde” – verdra tog ons ongeregtigheid en sonde.

Deur al die eeue van die Ou Testament het God juis sy geduld daarin getoon dat Hy bereid was om die skuld van die mense te verdra.

En die Ou Testament het tot ‘n einde gekom, toe God se eie Seun na die aarde gestuur is, om as Middelaar al die skuld op sy skouers te laai.

Hy het lydsaam die skuld gedra

Dink aan die indrukwekkende profesie uit Jesaja 53 oor Jesus se lydsaamheid, sy geduld:

Hy is mishandel ... maar Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

Soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie (Jes 53:7).

Die omgekeerde, wat ons geneig sou wees om te doen, was wel om ons mond oop te maak, om te skreeu oor die onreg wat ons aangedoen word, om te skel, om te baklei, om vir ons regte op te kom.

Maar as Middelaar het Christus dit juis nie gedoen nie!

 

En dit bring ons by die volmaakte voorbeeld van Christus, soos ons dit in die Nuwe Testament vind.

Daar is geen beter, geen volmaakter voorbeeld op aarde van ‘n mens wat geduldig was nie.

Hy het alle reg om aanbid en vereer en gerespekteer te word, laat vaar, en het lydsaam alles oor Hom heen laat kom, tydens sy lewe op aarde.

Hy het nie sy voete laat was nie, maar self sy dissipels se voete gewas.

Die lankmoedigheid van Jesus het natuurlik sy absolute toppunt bereik aan die einde van sy lewe op aarde.

As ons dink aan al die wreedheid, marteling en veral onreg wat Hom aangedoen is.

Tydens sy verhore, tydens sy kruistog na Golgota, en toe Hy aan die kruis opgehang is.

Hierin is Christus vir ons ‘n voorbeeld.

Nie dat ons dieselfde as Hom te beurt sal val nie, gelukkig nie.

Ons geduld sou vinnig ‘n breekpunt bereik het, as ons aan soortgelyke omstandighede blootgestel sou word, met name wat betref die Godverlatenheid wat Jesus moes ervaar.

Maar die apostel Petrus wys ons daarop dat desondanks Christus se lydsaamheid vir ons ‘n voorbeeld is.

Petrus skryf: “as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy ... wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uigeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” (1 Petr. 2:20-24)

 

Juis hiervoor, geliefdes, laat die Heilige Gees die vrug van lankmoedigheid in ons ryp word.

Want elkeen wat in Christus glo, gaan dit nodig kry.

Berei jouself daarop voor: As jy ‘n Christen is, dan gaan jy ly!

Dis nie ‘n kwessie van miskien nie, nee jy gaan.

En dis nie net ‘n boodskap vir die Christene in Noord-Korea of Eritrea, of Afghanistan of Pakistan nie.

Soos Paulus skryf in 2 Timotheüs 3: “almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (vers 12)

So as jy as Christen in jou lewe met lyding te make kry, moet dit nie vir jou ‘n verassing wees nie.

As jy niks lyde as gelowige ervaar nie, dan moet jy eerder bekommerd begin raak!

As Christene is ons dus voorbereid op lyde.

En as dit kom, as dit ons lewenspad kruis, dan het ons die voorbeeld van Christus hoe om daarmee om te gaan.

Ons verdra dit, ons neem nie wraak nie.

Ons volg Christus se voorbeeld, wat nie teruggeveg het nie, selfs nie met woorde nie.

En, net soos Christus, ons vlug nie vir die lyde weg nie, maar ons toon volharding.

Selfs doen ons goed terwyl ons ly.

Die apostel Paulus hou die voorbeeld van sy eie lewe, in navolging van Christus, op sy beurt weer aan Timotheüs voor, as voorbeeld om na te volg:

“Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolging, lyding” ensvoorts (2 Tim. 3:10-11).

So mag ons ook, geliefde broers en susters, bekend staan in hierdie wêreld.

Dit is iets wat ons nie uit eie krag kan doen nie.

Maar die Heilige Gees laat wel hierdie vrug in ons lewe ryp word, as ons wandel in ons Heiland se voetspore.

Daar is sommige mense wat dalk van nature geduldiger is as ander, maar niemand van ons het dit as aangebore eienskap om lankmoedig te wees, veral nie as jy totaal oneerlik behandel word nie, veral nie as jy moet ly nie.

Maar die Gees werk dit in jou, dit is die troos!

 

Persoonlik moet ek erken dat hierdie vrug net so min van nature my sterkste punt is nie.

Soos die meeste dominees maar is, hou ek van hard werk – daar is die gevaar om ‘n workoholic te word, en ek hou daarvan om effektief te wees, my tyd so effektief moontlik te bestuur.

Maar om geduldig te wag – dis nie my sterkste punt nie.

Dinge wat my die maklikste omkrap, wat my vinnig irriteer, is om byvoorbeeld in lang rye te moet staan en wag, of om te sukkel met die internet of rekenaar wat elke keer vashaak, of mense wat nie op die afgesproke tyd hulle deel doen nie.

Om ‘n ongeduldige mens te wees, dit is juis my swakpunt.

So ja, hierdie vrug van lankmoedigheid benodig ekstra aandag in my lewenstuin.

Hoe is dit met u, met jou?

Watter dinge van ander mense, watter situasies, krap jou vinnig om?

Hoe oefen jy jouself daarin om geduldig te wees, lankmoedig?

 

En dan praat ek nog eintlik oor middelmatige, ja selfs klein dingetjies.

Die Skrif berei ons voor op veel meer, ja veel groter dinge wat ons geduld op die proef gaan stel, juis vir ons as gelowiges!

Dat ons lankmoedig soos Christus is, dat ons die neiging om terug te betaal, om wraak te neem, in God se hande lê.

En dat ons bereid is om mekaar te vergewe.

As Christus, wat volmaak was, sy dissipels, ja almal met wie Hy in aanraking gekom het, kon verdra, dan is dit vir ons ‘n voorbeeld.

Ons, wat elkeen onvolmaak is, het des te meer rede om mekaar te verdra.

Geduldig wees met jou medemens, met wat hulle doen, of dalk juis nie doen wat hulle veronderstel is om te doen.

Lankmoedigheid beteken dat jy bewus kies om iemand te vergewe, eerder as om ‘n wrok te bly koester.

Lankmoedigheid beteken dat jy iets wat vir jou seergemaak het, kies om oor die hoof te sien.

Lankmoedigheid beteken dat jy baie bewus is van die feit dat jy self baie swakhede en gebreke het, en dat ander mense ook baie moeite moet doen om met jou uit te hou!

 

Geliefde broer, suster, dink na oor in watter opsigte die Here met jou geduldig is in jou lewe.

Dink na oor hoe ander mense met jou geduld moet hê.

Dink na oor watter situasies jou maklik ongeduldig maak met ander.

 

Ons is tans in ‘n grendelperiode, wat onaangenaam lank begin duur.

Dit is maklik om jou humeur te verloor met hulle wat jy elke dag sien.

En in hierdie digitale tyd is dit ook maklik om jou humeur te verloor oor dit wat tot jou kom via whatsapp of facebook of instagram of wat ook al.

Vroeër, as mense ‘n brief ontvang het, was die advies om ‘n naggie te slaap voordat jy die brief beantwoord, veral as ‘n brief jou omgekrap het.

Vandag kan mens binne sekondes reageer met whatsapp, facebook, digitale media, en binne sekondes sien die ander ook jou reaksie.

En hoe dikwels word daar nie op ‘n manier gereageer wat ander seermaak of kwets nie.

Dus ook vandag, al is ons in staat om binne sekondes op iemand anders te reageer, ook vandag is dit dikwels verstandig om eers ‘n naggie te slaap voordat jy reageer.

Lankmoedigheid mag ‘n ou woord wees, maar dit is nog steeds ongekend relevant vir ons digitale era.

Laat ons as gelowiges juis ook hierin uitstaan, in hoe ons van die digitale media gebruik maak!

Laat ander in die manier hoe jy faceboek, instagram, whatsapp, e-pos gebruik, laat hulle daarin agterkom dat die vrug van die Gees, lankmoedigheid, in jou lewe besig is om ryp te word!

Ook binne die gemeentes is ons almal baie verskillende mense, karakters, voorkeure, afkeure.

Laat ons onthou, ‘n sagte antwoord keer die grimmigheid af.

Dit is nie altyd maklik om soos Christus te wees, wat betref hierdie vrug nie.

Veral nie as ons voel ander mense verstaan jou nie, of beskuldig jou valslik, of ander mense skinder oor jou, of vertel onwaar stories.

Maar dit is wel vir ons ‘n opdrag, en ons het die belofte dat die Heilige Gees dit in ons sal werk.

Die apostel Paulus was ook dikwels die slagoffer van praatjies, geskinder, swartmakery, juis vanuit die gemeentes wat hy gestig het, juis deur die mense na wie sy hart so uitgegaan het.

Tog roep juis hy ons op om die versoeking te verstaan om te wil terugbaklei, om bitter en haatdraend te word.

Juis deur goed te doen sal ons die kwaad oorwin.

“Sorg dat niemand ‘n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd na wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.” (1 Thessalonisense 5:15)

En Efesiërs 4:1 en 2 “Ek vermaan julle dan ... om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra.”

En Kolossense 3:13: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”

 

So sien ons dat hierdie vrug, lankmoedigheid, alles te make het met die kern van die Evangelie.

Danksy Christus is God lankmoedig. Deur Christus se Gees word ons ook lankmoedig.

Christus se vergifnis, danksy sy kruisdood, stel ons in staat om ook lankmoedig te kan wees.

Sy Gees werk hierdie vrug in ons lewens.

So geliefde broers en suster, laat die Woord juis in hierdie tyd ryklik in julle woon, juis ook hierdie oproep van die Woord tot lankmoedigheid.

 

Die swaarkry in die hede vorm ons.

Ook hierdie grendelperiode gebruik die Gees om die vrug van geduld, lankmoedigheid, in ons lewens ryper te laat word.

En ons ontvang die krag en inspirasie om geduldig te wees, om selfs te midde van swaarkry bly te wees.

Want ons weet, dat die lyde van die teenwoordige tyd, nie opweeg teen die heerlikheid waarheen ons wat aan Christus behoort, oppad is nie!

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 86:8

Gebed

Skriflesing: 1 Petrus 2:18-25

Ps 145:5

Skriflesing:  2 Timotheüs 3:10-17

Sb 21:4-6

Teks: Galasiërs 5:22 (lankmoedigheid) (lees Gal 5:16-26)

Preek

Ps 103:4,5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:3,4

Kollekte

Ps 103:7

Seën