'Onverhinderd' - 'n bemoedigende woord vir 'n gegrendelde kerk

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-04-05
Teks: 
Handelinge 28:30-31
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente(s) van ons Here, Jesus Christus,

Dit is die somer van 1989. Michael Gorbatsjov, die leier van die Sovjet Unie, is in Bonn vir gesprekke met Helmut Kohl, die leier van Wes-Duitsland. Op daardie stadium is Wes-Duitsland nog simbolies van Oos-Duitsland geskei deur die Berlynse muur, en is die Weste nog geskei van die Ooste deur die ‘yster gordyn’. Maar dit gaan nie goed in die Sovjet Unie nie, daar is groot armoede, en duisende mense probeer om na die Weste te ontvlug. Vandaar die ontmoeting tussen die twee staatshoofde. Ná aandete gaan stap die twee manne ‘n entjie, en hulle wandeling eindig op ‘n muurtjie langs die oewer van die Ryn-rivier. En daar sit hulle en gesels. Op ‘n sekere oomblik wys Kohl na die water van die rivier en sê vir Gorbatsjov: “Kyk na die water. Dit stroom. Jy kan probeer om dit te keer, maar dit sal ‘n ander uitweg vind. Die water sal, hoe dan ook, sy pad na die see vind. So is dit ook met die eenwording tussen Wes- en Oos-Duitsland. Jy kan dit probeer keer. En dit kan wees dat ons daardeur die hereniging nie meer sal beleef nie. Maar so seker soos wat die Ryn na die see stroom, so seker sal Duitsland weer een word.” Nie lank daarna nie het die Berlynse muur geval. Kohl het later na hierdie gesprek, daar op die muurtjie aan die oewer van die Ryn, as ‘n sleutelmoment in die geskiedenis van Duitsland en Europa verwys. Groot staatsmanne, manne wat daaraan gewoond is om in beheer te wees, sit daar soos klein seuntjies op ‘n muurtjie aan die oewer van die Ryn terwyl die rivier gestadig voortstroom – onstuitbaar en onverhinderd.

Op dieselfde manier eindig Lukas sy tweede boek – onverhinderd. In ons vertaling is dit drie woorde: ‘sonder enige verhindering’. In die Griekse teks is dit net een woord, die heel laaste woord van die boek Handelinge: in Grieks akolutoos, in Afrikaans ‘onverhinderd’. Paulus sit in ‘lockdown’, in ‘n grendelstaat, in sy gehuurde huis in Rome, maar die Koninkryk en die Woord van die Koning gaan onverhinderd voort!

Tema: ‘Onverhinderd’ – ‘n bemoedigende woord vir ‘n gegrendelde kerk...

  1. Want Jesus Christus is Koning en Heer
  2. En sy Woord word nie gekeer nie

 

1) As jy die boek Handelinge van begin tot einde sou deurlees, dan sal jy opmerk dat Lukas vanaf hoofstuk 21 alreeds besig is om vir Paulus op die voet te volg op sy pad na Rome waar hy voor die keiser moet verskyn. Amper ‘n kwart van die boek Handelinge bou op na hierdie ontmoeting – vanaf Paulus se arrestasie in die tempel in Jerusalem, sy gevangenskap in Palestina, die verskillende verhore voor Felix en Festus en Agrippa, sy rampspoedige seereis na Italië met die skipbreuk op Milete (of Malta, soos dit vandag bekend staan), tot by sy aankoms in Rome. En as jy oor Lukas se skouer sou saamkyk na hoe hierdie geskiedenis homself ontvou, dan sou jy eintlik verwag dat die boek moet eindig met Paulus se ontmoeting met die keiser, die magtige heerser van die wêreldryk van daardie tyd. Maar nee, ons lees niks daarvan nie. En hoe dit verder met Paulus daar in Rome afloop – Lukas laat dit oop. En Paulus verdwyn in die newels van die geskiedenis. Net soos wat Filippus in Handelinge 8 skielik spoorloos verdwyn, en net soos wat ons ná Handelinge 15 ook niks meer van Petrus lees nie.

Want, broers en susters, uiteindelik is Lukas minder geïnteresseerd in hoe dit met Paulus gaan, en hoe sy lewensverhaal verder verloop. Vir Lukas gaan dit oor iets groters, iets baie belangrikers. En wat dít presies is, kom ons op die spoor wanneer ons kyk hoe Lukas Paulus se laaste skof en sy aankoms in Rome in verse 11-16 van hoofstuk 28 beskryf. Natuurlikerwys sou ‘n mens dink: daar gaan ‘n gevangene, geboei en geketting en onder streng bewaking. Hy is oppad na sy hofsaak en veroordeling – ‘n pynlike einde in die magtige Rome. Maar dit is nie hoe Lukas dit beskryf nie. Nee, u moet maar kyk! Ons lees dat Paulus by die hawestad Puteoli (ongeveer 200km vanaf Rome) aankom op ‘n groot skip van die beroemde skeepsmerk Castor en Pollux – dus, nie sommer ‘n klein ou vissersbootjie nie (verse 11-13). En hy het skaars voet aan wal gesit of hy word onthaal deur broeders van die plaaslike gemeente (vers 14). En hoe hy dit reggekry het, weet ons nie, maar hy mag sowaar sewe dae by hulle bly. Merkwaardig! En wanneer hy dan vervolgens op reis gaan na Rome, dan hoef hy dit nie alleen te doen nie. Mede-gelowiges wag hom op langs verskillende punte op die pad (vers 15). Eers by die Appius-mark, ongeveer 65km van Rome af, ‘n plekkie wat bekend gestaan het vir sy dronk matrose en kwaai kroegbase. En vervolgens word hy ook opgewag by die Drie Herberge – of dalk beter: die Drie Kroeë (die naam sê al genoeg!) – ongeveer 45km van Rome af. Besonders, nie waar nie? Juis op hierdie plekke met die bedenklike reputasie is daar volgelinge van die Heer, Jesus Christus, wat vir Paulus opwag en saam met hom na Rome toe reis!

En aan die einde van vers 14 vat Lukas hierdie hele prosessie – hierdie hele reis vanaf Puteoli tot in Rome – saam met die woorde: “en so het ons na Rome gegaan.” Só! Hoe? As gevangene, as geboeide, as mislukkeling? Nee, broers en susters, koninklik! As verteenwoordiger, as herout, van die groot Koning! Want alles in Lukas se beskrywing hier stem ooreen met hoe in die antieke literatuur die verwelkoming van ‘n hooggeplaaste persoon, soos die keiser, beskryf is. Lukas ken sy literatuur; hy weet hoe die verwelkoming van ‘n hooggeplaaste persoon in daardie tyd volgens ‘n vaste patroon beskryf is – en hy maak net so! Al die standaard-elemente is in Lukas se beskrywing aanwesig! Dít is hoe ons Paulus se opgang na Rome moet sien! Nie in die eerste plek as geboeide gevangene nie, maar as koninklike verteenwoordiger!

En wanneer Paulus eenmaal in Rome is, dan verdwyn hy nie in een of ander diep, donker gevangenis nie. Hy mag, as enigste onder al die gevangenes, in sy eie huurwoning bly. En daar kry hy alle geleentheid om mense te ontvang – Lukas gebruik ‘n spesifieke woord wat aandui dat mense by Paulus op oudiënsie kom (vir ons kinders dalk ‘n groot woord, maar dit beteken dat Paulus se gaste op ‘n plegtige besoek by hom kom). Ja, hy is moontlik met sy arm of sy been aan ‘n soldaat vasgemaak wat hom moet bewaak, maar nogtans kom mense na hom toe asof hy ‘n persoon van groot aansien is. In vers 17 sien ons selfs dat hy mense kan ontbied, dat hy mense kan saamroep om hom te kom spreek. En met al hierdie gaste praat Paulus oor die koninkryk van God en oor die Koning, die Here Jesus Christus!

Broers en susters, met die eerste oogopslag dink ons dat ons in Handelinge 28 met ‘n eenvoudige reisbeskrywing te make het. Maar as ‘n mens dit alles op jouself laat inwerk, dan het Lukas ‘n merkwaardige slot tot sy boek geskryf. En dis nie net merkwaardig nie, dis hoogs konfronterend! Met hierdie slot tot die boek Handelinge gaan Lukas voluit die konfrontasie aan met die keiser wat vanuit sy paleis in Rome die toenmalige wêreld regeer het, en wat binnekort ook nog uitspraak moes maak oor Paulus se hofsaak – en waarskynlik was dit keiser Nero (wat die christene glad nie goedgesind was nie, en onder wie die christene uiteindelik een van die swaarste periodes van vervolging beleef het). Met hierdie beskrywing maak Lukas duidelik wat Jesus in soveel woorde in die evangelie alreeds gesê het: “Kyk, die Koninkryk van die hemele het naby gekom!” Met hierdie beskrywing kyk Lukas die keiser reguit in die oë, en sê: “Daar is ‘n ander Heer!” Die Koninkryk van God kom neem sy intrek in die hoofstad van die Romeinse Ryk!

En tog beskryf Lukas dit op ‘n baie ironiese manier. Want Paulus is nie ‘n hoogwaardigheidsbekleër nie, maar ‘n geboeide gevangene. En die Appius-mark en die Drie Herberge is nie beroemde plekke waarlangs Paulus na Rome opgetrek het nie, maar eerder berugte uithangplekke. En ‘n gehuurde huis is nou nie regtig ‘n koninklike paleis nie. En om geboei te wees, spreek nie werklik van die vryheid van ‘n belangrike persoon nie. En tog is dít die manier waarop Paulus Rome binnekom, in die styl soos wat hy dit self beskryf in 2 Korinthiërs 6: “as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.”

Deur sy geboeide verteenwoordiger, Paulus, wat in huisarres vassit, kom die koninkryk van God die wêreldstad Rome binne. En hierdie verteenwoordiger, hierdie herout (Paulus!) laat hom nie stilmaak nie – met vrymoedigheid verkondig hy die Here Jesus Christus. Stadig nou, Paulus, jy beweeg nou op gevaarlike terrein! Immers, dis gelaaide politieke titels wat Paulus hier gebruik. Verskeie keisers het uitdruklik die titel ‘heer’ (kurios in Grieks) gebruik as aanduiding van hulle alleenheerskappy! En die titel ‘Christus’ beteken Gesalfde – daarmee dui Paulus Jesus aan as die koning wat die vakante troon van Dawid kom beset het. Dis nie titels waarmee ‘n mens sommer so te koop geloop het op die strate van Rome nie – dit kon jou in die moeilikheid laat beland. Maar Paulus steur hom nie daaraan nie – onbeskaamd konfronteer hy die keiser met die werklikheid dat daar ‘n ander Koning en ‘n ander Koninkryk is, wat groter en sterker en meer werklik is as die magtige Romeinse Ryk. Vanuit sy grendelstaat verkondig Paulus, die verteenwoordiger / die ambassadeur van Koning Jesus Christus, die hemelse Koninkryk! Die ware Koninkryk het Rome oorgeneem, en geen keiser gaan dit keer nie.

Broers en susters, hoe belangrik is dit dat ons in óns grendelstaat hierdie boodskap moet hoor. Corona en Covid-19 – die primêre oorsaak van ons grendelstaat – is werklikhede wat huidiglik soveel van ons aandag in beslag neem. En hoekom sou dit nie? Met meer as ‘n miljoen besmettings en oor die 50,000 sterftes. Daarmee saam al die ander newe-effekte. Ekonomies – verlies aan werk en inkomste, wat groot spanning bring. En sosiaal – eensaamheid en depressie by mense wat in hulle huise gekluister is. Ja, natuurlik vra dit ons aandag, natuurlik vra dit ons kinders se aandag! Maar laat ons asseblief verder kyk as die werklikheid wat voorhande is!

Reg aan die einde van die boek Handelinge bevestig Paulus vir ons ‘n groter werklikheid: Jesus Christus is Koning; Hy regeer oor alles en almal! Sy gesant, Paulus, is immers koninklik deur Christus se volgelinge in Rome verwelkom en hy praat met almal oor die koninkryk van God! Reg aan die begin van die boek Handelinge, net voor sy hemelvaart, het Jesus alreeds met sy dissipels oor hierdie werklikheid gepraat; ons lees in Handelinge 1:3 dat Jesus met sy dissipels gespreek het oor die dinge van die Koninkryk van God. Kort daarna het Hy na die hemel opgevaar om sy plek te gaan inneem op sy hemelse troon! En nou, reg aan die einde van dieselfde boek, bevestig Paulus hierdie werklikheid wanneer hy aan al sy besoekers die koninkryk van God preek (Hand. 28:31).

Jesus verkondig die Koninkryk aan sy dissipels; Paulus verkondig dit aan Jode en heidene, en aan gelowiges wat baie binnekort die volle gewig van Nero se vervolging gaan ervaar. Hy verkondig dit terwyl hy self in boeie sit en geen vryheid van beweging het nie. Dit is waaraan Paulus vashou; en dit is ook die houvas wat hy aan ander gee. Ons Koning regeer! Nie keiser Nero nie; dit is ook nie corona wat die kroon dra nie. Ons Heer, Jesus Christus dra die kroon! Want bo wat wissel en vergaan (ja, Nero het vergaan, hy’s dood; Corona sal ook vergaan), bly ewig God se rykstroon staan (soos wat ons sing in Psalm 9). En ek is ‘n burger van daardie Koninkryk – ek behoort na liggaam en siel, in lewe en in sterwe aan Hom. En as ek aan hierdie virus sou sterf – net soos wat Paulus, na bewering, uiteindelik onder keiser Nero gesterf het – dan weet ek dat ek met dieselfde waardigheid die hemelse koninkryk binne gelei sal word as wat Paulus deur die gelowiges Rome binne gelei is. Onverhinderd sal die engele my die hemele indra, want my Koning leef!

‘Onverhinderd’ – ‘n bemoedigende woord vir ‘n gegrendelde kerk. Dit is ons tema. Want Jesus Christus is Koning (dit was ons eerste gedagtes). En nou, in die tweede plek, sy Woord word nie gekeer nie.

 

2) Die meeste van ons is nog maar ‘n week en ‘n half in ons grendelstaat – hoe lank dit nog gaan aanhou? Ons weet nie, maar ‘n mens sou dink (en hoop) dat dit darem nie veel meer as ‘n klompie weke, of hooguit nog ‘n paar maande sal duur nie. Paulus, daarenteen, was twee volle jare in sy grendelstaat; twee volle jare in sy eie gehuurde huis gekluister. Ja, burokratiese rompslomp is dus nie slegs eie aan ons land nie. Maar Paulus het in daardie tyd nie stilgesit en niks gedoen nie. Met almal wat by hom op besoek gekom het, het Paulus oor die koninkryk van God en oor die Here Jesus Christus gepraat. Hy het gepreek en onderrig gegee. En hy het dit gedoen – só lees ons in die laaste woorde van vers 31 – “met volle vrymoedigheid en sonder enige verhindering”.

“Met volle vrymoedigheid” – dit is weereens ‘n politieke begrip. Dit dui hier op die demokratiese reg van Romeinse burgers om in die volksvergadering te mag spreek – ‘n reg en ‘n vryheid wat onder die bewind van die Romeinse keisers al hoe meer onder druk gekom het. Paulus neem in die keiserlike Rome hierdie vryheid en reg om God se koninkryk aan te kondig. En dit doen hy in ‘n tyd – dink aan keiser Nero wat die Christene vervolg het! – waarin die vryheid om die evangelie te verkondig al hoe meer onderdruk is. Hy doen dit met volle vrymoedigheid!

En dan ook nog: sonder enige verhindering. Of soos ek reeds gesê het, as een woord: onverhinderd. As ‘n mens die boek Handelinge as geheel sou bekyk, dan sou jy tereg kon opmerk: maar hierdie boek is dan vol verhinderinge! Soos wat ‘n mens deur die boek blaai, dan dink jy elke keer: nee, net nie dit nie, nou is dit verby. So vind ons, byvoorbeeld, die apostels in die gevangenis in Handelinge 4 – wat ‘n verhindering vir die evangelie! Dan is daar Stefanus, ‘n magtige prediker, vol van die Heilige Gees. Ons vind hom bloeiend neerval onder die klippe waarmee hy gestenig word – wat ‘n verhindering vir die evangelie! Dieselfde gebeur met Paulus net buite die stad Listre – en weer dink ons: wat ‘n verhindering! En wat van Jakobus, daardie steunpilaar van die gemeente van Jerusalem, wat deur Herodes met die swaard doodgemaak word – wat ‘n verhindering! En so sou ‘n mens nog baie voorbeelde kon noem – ‘n boek vol verhinderinge. Elke keer dink jy: nou is dit verby met die koninkryk van God; hierdie slag is te swaar om te oorkom.

En dan kom Lukas, en die heel laaste woord wat hy in sy boek skryf, is: onverhinderd! Watter teëslae daar ook mag wees, watter verhinderinge daar ook al mag opkom, die Here gaan onverhinderd verder met sy Woord. Dít is die Woord van die Koninkryk en van die Here Jesus Christus wat Paulus daar in sy grendelstaat verkondig het, maar dit is dieselfde Woord wat voortgaan, selfs wanneer Paulus – dalk effens onverwags vir ons – van die toneel verdwyn. Soos wat Paulus self in 2 Timotheus 2:8-9 skryf: hoewel hy ter wille van die evangelie soos ‘n kwaaddoener in boeie is, is die Woord van God nie gebonde nie. Die Here gaan voort! Soos at ons gaan sing uit Psalm 138: Die HEER is goed en wondersterk: Hy sal sy werk deur niks laat keer nie. Toe nie, en nou ook nie!

Ook in ons grendelstaat, broers en susters, laat die Here sy werk deur niks keer nie. ‘n Baie klein bewys hiervan is die video-opname waarna u op hierdie einste oomblik mag kyk. Ons kerkdeure is gesluit / gegrendel – vir baie van ons vir die eerste keer in ons lewens. Maar die woord van die Koning en sy koninkryk gaan verder. Die tegnologie maak dit moontlik om voort te gaan met eredienste, met katkisasie-klasse, met bybelstudie- en jeugverenigings, met Skrif-oordenkings (soos wat in die afgelope week op Youtube verskyn het). Op al hierdie maniere mag ons die Koninkryk preek en onderrig gee aangaan die Here Jesus Christus! Die huidige wêreldkrisis het tot dusver ‘n stortvloed aan Skrif-oordenkings tot gevolg gehad. Organisasies met goeie Christelike literatuur, soos die Amerikaanse gereformeerde platform Ligonier, stel in hierdie tyd al hulle inhoud gratis beskikbaar (gaan kyk gerus daarna!). Selde in die geskiedenis van die mensdom was die Woord en die gelowige oordenking en verkondiging daarvan so vrylik beskikbaar soos juis in hierdie dae en weke. Ons kan dit gratis ontvang!

En wat ons gratis ontvang, mag ons ook weer gratis uitdeel. Net soos Paulus se grendelstaat nie die einde van sy verkondiging beteken het nie, net so hoef ons grendelstaat ook nie die einde van ons getuienis te beteken nie. Met alle beskikbare materiaal het ons baie om oor te praat in ons huwelike en in ons gesinne. Daar is ‘n legio aan Bybelse aktiwiteite vir ons kinders. En ook na buite hoef dit nie stil te word. Tel op die telefoon en bel daardie broeder of suster in die gemeente wat bemoediging nodig het. Stuur vir mekaar ‘n paar goeie artikels via Whatsapp. Skype met daardie familie-lid wat dit nodig het. Bel die buurman of buurvrou – meer as ooit staan mense in hierdie tyd oop vir die evangelie. Ons is dalk gegrendel, maar die Woord van God kan nie gekeer word nie. Die verhinderings van ons vergrendeling en die gebrek aan persoonlike kontak is vir die Koning geen probleem nie – sy Woord gaan onverhinderd verder die wêreld oor. Dalk nog meer as onder normale omstandighede!  

------------------

Broers en susters, met hierdie slotwoorde, waarna ons vanmôre gekyk het, gee Lukas aan die boek Handelinge ‘n oop einde. Dit is soos ‘n boek of ‘n TV-program wat skielik en abrup eindig – al wat daar staan, is: “word vervolg...”. Ons hou nie baie daarvan nie, dit voel effens onbevredigend. Maar Lukas doen dit baie bewustelik, omdat God voortgaan om die verhaal te skryf. Daar is ‘n vervolg! Lukas eindig die boek Handelinge dalk by hoofstuk 28. Maar ons lewe in die tyd van Handelinge 29. En Handelinge 29 word ook vandag nog, in ons tyd, geskryf. En ja, ek stem saam, juis in hierdie tyd is Handelinge 29 ‘n besonder spannende hoofstuk. Dit is ‘n hoofstuk wat ons dalk bang kan maak, bekommerd kan maak, in vrees kan laat oor die afloop. Dis ‘n hoofstuk vol verhinderinge. Maar ons Koning, wat die wêreld oorwin het, wat die hoofstad van die vyand verower het, Hy gaan onverhinderd voort deur sy Heilige Gees en deur sy Woord om sy doel te bereik. Geen verhindering – virus of werkloosheid of vergrendeling – is vir Hom te groot nie. En laat ons onsself vreesloos in sy diens stel, sodat ook in ons tyd die opdrag van die begin van die boek Handelinge vervul word. Die einde van Handelinge is oop, juis sodat die begin van Handelinge vervul kan word: “en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Ons mag in geloof ons plek inneem in hierdie magtige beweging wat na die eindes van die aarde gaan. En ons doen dit met die bemoediging van daardie ander slotwoord, naamlik die laaste woorde van Mattheus se evangelie, waar ons Koning vir ons sê: “Aan my is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” Geen grendelstaat kan Hom keer nie – nie in Paulus se tyd nie, ook nie in ons s’n nie!

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 145:1, 2, 6, 7

Wetslesing

  • Skuldbelydenis Daniël 9:15-19
  • Sing Ps. 6:2-4

Gebed

Lees: Handelinge 28:11-31

Sing Ps. 33:6

Teks: Handelinge 28:30-31

Preek

Sing Psalm 9:5, 7, 9 en 10

Gebed

(Kollekte)

Slotsang Ps. 138:1, 2 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen