Ek het afgelope week gesit en wonder waaroor ek op hierdie Pinkstersondag moet preek.
Dink mens aan Pinkster dan is daar spesifieke welbekende Bybeltekste wat mens te binne skiet.
Die uitstorting van die Heilige Gees soos dit in Handelinge onder andere beskryf word.
Die profesieë uit die Ou Testament wat sy koms aangekondig het.
Maar terwyl ek op soek was na ‘n passende teks vir hierdie Pinkstersondag, het ek myself afgevra:
Hoekom kan ek nie voortgaan met die serie waaroor ek tans preek nie?
Ons is tans, in die kader van Maranata se jaartema, besig met die vrugte van die Gees.
Op verskillende plekke in die Bybel vind ons ‘n lys van karaktereienskappe, wat ‘n Geesvervulde mens vertoon.
Ons behandel tans die lys wat daar in Galasiërs 5:22 staan.
Die vrug of vrugte van die Gees wat Hy in hulle wat aan Christus behoort, se lewe laat groei.
Dit is die Gees se werk.
So ja, hoekom sou mens nie hieraan aandag skenk op die dag waarop ons sy uitstorting herdenk nie?
Dit is naamlik wat ons uit die Nuwe Testament self leer.
Geesvervulde mense is juis hulle in wie se lewens hierdie vrugte besig is om ryp te word.
So mag ons dus vandag, op Pinkstersondag, voortgaan met waarmee ons al enkele weke besig is.
Om stil te staan by dit wat Hy in ons lewens doen.
Die lieflikste vrugte oftewel eienskappe begin ons lewens te kenmerk.
Liefde, blydskap, vrede, lankmoeidigheid, vriendelikheid, goedheid.
Hierdie vrugte het ons al behandel.
Vandag kyk ons na die volgende vrug: getrouheid.
Wat bedoel Paulus as hy skryf dat ook getrouheid ‘n vrug van die Gees is?
Kom ons ondersoek dit vandag vanuit die Skrif.
Ons bely mos dat die Gees in ons werk deur die prediking van die Evangelie.
So, as ons wil weet wat getrouheid beteken, moet ons weer eens by die Skrif self begin.
Nou die Griekse woord wat in Galasiërs 5:22 met getrouheid vertaal is, is ‘n woord wat dikwels in die Nuwe Testament voorkom.
En dit word nie elke keer met dieselfde vertaal nie.
Getrouheid of vertroue is een manier om dit te vertaal.
Maar, om eerlik te wees, ons is meer bekend met ‘n ander manier hoe hierdie Griekse woord vertaal word, en dit is dat dit veral vertaal word met die woord geloof.
Neem byvoorbeeld Efesiërs 2:8: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof”.
Dieselfde Griekse woord.
Vertroue, getrouheid, trou, geloof, dis alles dieselfde woord in Grieks.
Op eerste gehoor dus baie uiteenlopende woorde waarmee dit vertaal word.
Tog lê al hierdie woorde eintlik baie naby aan mekaar.
In Engels is die konneksie tussen hierdie woorde makliker waarneembaar:
Aan die een kant faith, aan die ander kant faithfulness.
Nou in ons spraakgebruik het die woord geloof steeds meer begin dui op die geloof in bepaalde godsdienstige leerstellings, die aanhang van ‘n bepaalde lewensbeskouing, die hê van bepaalde opinies oor God, oor lewe en dood.
Maar die woord wat in die Nuwe Testament gebruik word, is dus veel breër as net dit.
Die Griekse woord dui veral ook op die konneksie, die band met ‘n persoon.
As dit vertaal word met geloof of vertroue, dan dui dit dus op ‘n vertrouensband wat jy het met iemand anders.
En as dit vertaal word met getrouheid soos in ons teks, dan verwys hierdie woord dus na jouself, en dat jy self ook iemand is wat betroubaar is, sodanig dat ‘n ander op jou kan vertrou, in jou kan glo.
En dit is dus waarna ons vandag veral gaan kyk.
Hoe jy self ook ‘n geloofwaardige, ‘n getroue, ‘n betroubare mens kan word vir ander.
En as ons dit wil regkry, as ons wil weet hoe die Gees dit in ons regkry, dan moet ons weer eens, net soos by die ander vrugte van die Gees, begin by God self.
En dan gaan ons weer terug na die Skrif, om te sien hoe God self, God Drieënig daarin geopenbaar word as die Getroue.
Tema: Getrouheid groei daar waar die Gees werk
1 God is getrou
2 Sy kinders is getrou
1 God is getrou
Die feit dat God trou of getrou is, is seker die ding wat die meeste oor Hom in die Bybel gesê word.
“’n God van trou en sonder onreg” – Deuteronomium 32:4.
“Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou” – Psalm 25:10.
“al sy werk is met trou” – Psalm 33:4.
“u trou [is] tot in die wolke” – Psalm 36:6
Heel die geskiedenis van die Ou Testament is ‘n geskiedenis van God se getrouheid.
Deur al die eeue het God bewys dat Hy getrou is aan sy kinders, ten spyte van hulle ontrou.
Selfs in tye waarin God sy volk gestraf het, byvoorbeeld in ballingskap laat gaan het, het Hy sy getrouheid nog laat blyk.
Een van die mooiste voorbeelde vind ons daarvan in die boek Klaagliedere, wat geskryf is net nadat Jerusalem verwoes, die tempel afgebrand, en die verbondsvolk in ballingskap gevoer is:
“dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot.” (Klaagl. 3:22-23)
God bly getrou, ook as sy kinders deur ‘n dal van doodskaduwee gaan.
Hierdie selfde betroubare God van die Ou Testament is die God wat die apostels op hulle sendingsreise verkondig het.
Dit is sy getrouheid wat gesorg het dat Hy sy eie Seun gestuur het, aan die begin van die nuwe bedeling.
“God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap sy Seun Jesus Christus, onse Here.” – skryf Paulus aan die Korinthiërs (1 Kor 1:9).
En: “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Kor 10:13)
En aan die Thessalonisense skryf Paulus: “Hy wat julle roep, is getrou” (1 Thess 5:24).
En wat vir die Vader geld, geld net so vir die Seun.
So leer ons die Seun, ons Here Jesus Christus, uit die Nuwe Testament ken.
Jesus was getrou in alles wat Hy kom doen het op aarde.
Ten spyte van alle hindernisse, versoekings deur die duiwel en deur mense.
Aan die einde van sy lewe op aarde kon Hy sonder skroom sê:
“Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” (Joh. 17:4)
Soos die Hebreërskrywer dit verwoord: Hy was ‘n barmhartige en getroue hoëpriester, om die sondes van die volk te versoen (Hebr. 2:17).
As ons dus aandag skenk aan de vrug van getrouheid, dan is dit die bloudruk, die goue standaard waarna die Gees ons terugverwys in die Skrif.
God self.
Sy getrouheid is onfeilbaar, nie net om Hy sonder sonde en bedrog is nie, maar ook omdat Hy ewig is.
Sy getrouheid is legendaries.
Dit verduur die eeue.
2 Sy kinders is getrou
En, noudat ons lidmate van Christus geword het, begin hierdie vrug wat so kenmerkend is aan Hom, ook in ons lewens groei, deur die werking van sy Gees.
Hierin mag ons nou op aarde sy beelddraers word.
Getrou, betroubaar.
Mense met integriteit, mense waarop daar staatgemaak kan word.
Mense wat getrou is, wat hulle hou aan hulle woord.
Wat doen wat hulle beloof.
En dan nie net een keer nie, maar volhoudend oor ‘n lang periode.
Mense wat jy nie elke keer hoef te kontroleer nie.
Mense waaroor jy nie hoef te wonder, as hulle laasweek ‘n goeie job gedoen het, of hulle dit weer hierdie week gaan doen nie.
Hulle uitsette is betroubaar op dieselfde standaard, roetinematig, stiptelik, betyds.
Sulke tipe mense is dikwels so skaars soos hoendertande.
In die Ou Testament ontmoet ons Moses as so ‘n tipe mens.
Nie dat Moses volmaak was nie, die Skrif openbaar ook sy sondes en misstappe.
Maar getrouheid was wel kenmerkend vir Moses en sy leierskap.
In Hebreërs 3 word die getuienis oor hom gegee dat hy getrou was in sy huis (Hebr. 3:2).
Nou of iemand getrou is of nie, word eintlik eers duidelik in tye van teenspoed.
So was dit ook by Moses.
Gedurende die tyd van sy bediening was daar teenspoed op teenspoed waarmee hy gekonfronteer is.
Dink aan sy eie familie, Aäron in Mirjam, wat sy leierskap in diskrediet gebring het.
Dink aan al die besware van die kant van die volk, oor die water en voedselvoorsiening in die woestyn.
Dink aan al die besware wat die volk teen die persoon van Moses gemik het.
Dink aan die teleurstelling toe tien van die twaalf verspieders Moses se leiding openlik in twyfel getrek het.
Daar was selfs tye waar Moses doodsdreigemente ontvang het (Num. 14:10).
Krisis op krisis.
Maar tog, deur al hierdie krisisse heen, onder enorme druk, het Moses getrou gebly aan die taak wat die HERE hom opgedra het.
Hierin was Moses ‘n prototipe van Jesus.
Jesus, wat onder nog veel groter druk moes standhou.
Maar in Moses se lewe is dus duidelik wat Christus se Gees in ‘n sondige mense se lewe kan regkry.
In Moses se lewe het Hy inderdaad die vrug van getrouheid meer en meer laat ryp word.
Hierdie vrug van getrouheid in Moses se lewe het onder andere uitgekom in die feit dat hy, met ‘n enkele uitsondering daargelaat, nie die aandag op homself gevestig het nie.
Sy bediening is nie gekenmerk deur jaloesie, as duidelik geword het dat ander ook die gawe van die Gees ontvang het nie (Num. 11:24-30).
Sy bediening is nie gekenmerk deur selfbelang nie.
Daar was ‘n tyd wat God so gefrustreerd en raadop met die verbondsvolk was, dat Hy hulle wou uitroei en net met Moses wou verdergaan.
God het aan Moses voorgestel dat Hy ‘n nuwe volk uit Moses se familie sou begin (Num. 14, Deut. 9).
Moses het egter nie hierop ingegaan nie.
Hy het getrou gebly aan sy roeping om hierdie hardkoppige volk te lei.
Dit was ‘n roeping wat hy nie begeer het nie, waarvoor hy destyds nie vrywillig aansoek gedoen het nie.
Maar toe dit op hom gelê is, het hy getrou die pad enduit met hulle gestap.
Wat ‘n voorbeeld van getrouheid en lojaliteit!
Ook hierin ‘n prototipe, ‘n voorafskaduwing van ons Here Jesus.
Dieselfde grein van karakter sien ons later ook by die apostels.
Weer eens, net soos Moses, nie omdat hulle uit hulleself so voortreflik of onbesproke was nie.
Een vir een was die apostels ook sondige mense.
Maar ook in hulle lewens het die Gees die vrug van getrouheid laat ryp word.
Die apostels het hulle bediening ook nie uit eiebelang gedoen nie.
Hulle bediening is ook gekenmerk deur tallose struikelblokke, versoekings, groot krisisse, doodsdreigemente, en noem maar op.
Tog mog hulle deur die genade van Christus, deur die krag van sy Gees, die pad ook enduit stap sonder om handdoek in te gooi.
Die vrug van getrouheid het die Gees in hulle lewens gewerk.
Oor Paulus weet ons redelik veel, danksy die feit dat so baie van sy briewe in die Nuwe Testament staan.
Een van die dinge wat vir Paulus baie seergemaak het, was toe sommige gemeentelede in Korinthe, ‘n kerk wat hy gestig het, sy getrouheid en integriteit in twyfel begin trek het.
Hulle het ‘n skinderstorie begin versprei dat Paulus nie betroubaar met geld was nie.
Paulus het al die gemeentes opgeroep om kollektes te hou vir die behoeftiges in Jerusalem.
Hy het ook aangebied om daardie kollekte na Jerusalem te neem.
Sommige Korinthiërs het toe egter die storie begin versprei dat Paulus eintlik daardie geld vir homself wou vat.
Mens kan jou indink dat so ‘n storie Paulus baie seer moes gemaak het.
Hy wat bereid was om ter wille van die Evangelie gestenig te word, voor wilde diere gegooi te word, deur weer en wind te reis, skipbreuk te lei ensovoorts, het hy dit alles gedoen net vir geld?
Kon hy nie op makliker maniere rykgeword het, as dit geld was wat hy in sy lewe nagejaag het nie?
Wat egter ook baie mooi en leersaam is, is die manier hoe Paulus hierdie krisis hanteer het.
Hy het nie vir die Korinthiërs geskryf en met ‘n magswoord hulle vermaan dat hulle sy apostoliese gesag moes respekteer in die trant van: ek is die apostel, dus is ek betroubaar, en wee hom wat daaraan twyfel nie.
Inteendeel, Paulus het gepleit vir volledig transparansie.
Laat daar dan maar ‘n oudit gedoen word.
En laat die kollektes maar deur meerdere mense na Jerusalem gebring word, al kos dit dalk meer.
‘n Goeie naam is goud werd.
Ook hieruit het Paulus se getrouheid geblyk.
Hierin was hy ‘n voorbeeld vir ons vandag.
Wie getrou is in sy taak, is nie bang vir transparansie nie.
Ook vandag moet elke kerk se finansies elke jaar geoudit word.
Wie trou is, is bereid om homself te laat kontroleer.
Dit geld nie net wat betref finansies nie.
Dit is byvoorbeeld ook ‘n goeie gewoonte dat ampsdraers, ouderlinge, diakens, predikante, sendelinge, aan die kerkraad verslag doen van die besoeke wat hulle gebring het.
Wie sy ampswerk trou verrig, is nie bang vir transparansie nie, en is bereid om verantwoording af te lê, en staan oop vir ander se toetsing.
Die vrug van getrouheid wat die Gees werk, bly nie ongesien nie.
Dit het ‘n direkte uitwerking op hoe ampsdraers hulle ampswerk verrig.
En natuurlik geld dit nie net vir ampsdraers nie, maar vir elke gemeentelid.
Slaag ons die toets van getrouheid in hoe ons in die lewe staan?
Paulus roep selfs die slawe op tot getrouheid.
Ja selfs slawe moes getrou wees.
Slawe wat dikwels deur hulle base uitgebuit en sleg behandel is.
Menslik gesproke sou daar begrip wees as so ‘n slaaf, sodra hy die kans kry, iets van sy baas sou steel.
Maar nie Paulus nie.
Paulus roep die slawe wat in Christus begin glo het op tot ‘n ander houding.
Hulle moet aan hulle base diensbaar wees soos aan die Here self (Ef. 6:5-7).
Aan hulle base moet hulle gehoorsaam wees, nie net met oëdiens nie, maar van harte;
“hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon” (Titus 2:10).
So moet ons as Christene in die samelewing bekend staan.
Betroubare, eerlike mense.
Getroue toewyding binne die verbande waarin ons geplaas is.
Getrouheid in jou huwelik.
Getrou teenoor jou lewensmaat.
Getrou in jou beroep.
Getrou teenoor jou kollegas.
Getrou in jou familie.
Getrou in jou gemeente.
Getrou daar waar jy woon.
Getrouheid is nie ‘n deug wat die moderne samelewing koester nie.
Die moderne samelewing bepleit slegs trou teenoor jouself, dat jy net aan jouself en jou gevoelens trou moet bly.
En solank jy dit doen, dan vaar jy die regte koers, ook as jou huwelik as gevolg daarvan op die rotse loop, ook as jy as gevolg daarvan rondhop van die een gemeente na die ander, van die een land na die ander, van die een werk na die ander, van die een vriend na die ander.
Trou bly aan jouself en aan jou gevoelens.
Dit is die leuse van die moderne samelewing.
Maar dit staan haaks op die Bybelse getrouheid.
Broer, suster, laat dit veral oor jou gesê kan word, wie jy ook is, waar jy ook woon, watter werk jy ook doen, laat dit boweal van ons gesê kan word dat ons getroue diensknegte was, die dag as ons ingaan in die bruilofsaal (Matt 25:21).
Dit is opvallend hoe dikwels hierdie getuienis oor gelowiges in die Bybel gegee word.
“Tíchikus, die geliefde broeder en getroue dienaar en mededienskneg in die Here” (Kol 4:7)
Apélles, die beproefde in Christus (Rom 16:10).
“Silvánus, die getroue broeder” (1 Petr 5:12).
“Timótheüs, wat my geliefde en getroue seun in die Here is.” (1 Kor 4:17)
“Onésimus, die getroue en geliefde broeder” (Kol 4:9)
Al hierdie mense het bekend gestaan as getrou, trou in hulle diens aan God, maar ook getrou, betroubaar in die verbande met die mense om hulle heen.
Ja getrouheid groei daar waar die Gees werk.
Geliefde broer, suster, mag dit ook die getuienis wees wat van jou gegee word.
Dat die Heilige Gees hierdie vrug in jou lewe laat ryp word het.
Elke keer as ‘n ouderling op kerkraad rapporteer van die huisbesoek by jou gebring.
Dat jy ‘n betroubare persoon is, trou in die diens aan God en trou in jou woord en optrede na ander mense toe.
Of op jou attestaat, as jy ‘n keer moet verhuis.
Dat jy ‘n getroue lidmaat was, en dat jy daarom van harte aanbeveel word in jou nuwe gemeente.
En laat dit veral by jou naam in die lewensboek staan, hierdie vrug wat die Gees in jou lewe gewerk het.
Goeie en getroue dienskneg, geliefde, beproefde broer of suster.
Jy was getrou oor min.
Oor veel sal Ek jou aanstel.
Gaan in in die vreugde van jou heer.
Amen.
Votum
Seën
Ps 12:1,6,7
Gebed
Skriflesing: Hebreërs 2:16-3:19
Ps 17:4
Teks: Galasiërs 5:22 (getrouheid)
Preek
Ps 99:2,4,5
Gebed
Apostoliese Geloosbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 85:3,4
Seën