Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Geliefde gemeente,
“… dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring, en die manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe” (vers 21), “dan moet hulle altwee sterwe” (vers 22), “dan moet julle hulle twee na die poort van die stad uitbring en hulle stenig, dat hulle sterwe…” (vers 24). Is dit nie opmerklik om te sien hoe ernstig die Here na die oortreding van die sewende gebod gekyk het nie? Dit wil selfs voorkom asof die straf wat daar op hierdie sondes gerus het, net daardie tikkie swaarder was as die strawwe op die oortreding van enige van die ander gebooie; dit is asof die Here, by die oortreding van die sewende gebod, sy toorngloed net ‘n graad of wat warmer laat brand het as in die geval van ander oortredings. Wat sou die rede hiervoor wees, broers en susters?
Wel, miskien sal ons dit die beste verstaan wanneer ons daaraan dink dat die Here se verbond met sy volk, die verhouding waarin Hy met sy volk gestaan het, op verskeie plekke in die bybel as ‘n huwelik beskryf word. God is die bruidegom, en sy volk is die bruid. Dink maar net aan die pragtige taal van Jesaja 62:5: “… soos die bruidegom bly is oor die bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” En God se vreugde oor sy bruid vind ook weerklank in die vreugde van die bruid self, die volk; luister maar na Jesaja 61:10: “Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel – soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.” Pragtige taal! Maar hou in gedagte, gemeente, dat hierdie huwelik tussen Jahwe en Israel vir die grootste deel nie rose en maanskyn was nie; telkemale in die geskiedenis moes die Here tot die konklusie kom dat sy volk weereens owerspel gepleeg het, dat hulle weereens van Hom af gehoereer het. Om dit grafies vir sy volk uit te beeld, laat die Here die profeet Hosea selfs met ‘n hoer trou. Daarmee wou Hy sy volk laat verstaan wat hulle besig was om te doen, en wou Hy hulle tot terugkeer, tot bekering, bring. Maar die hoerery het met verloop van tyd so erg geraak dat die Here uiteindelik verplig was om aan sy volk ‘n skeibrief te gee (Jer. 3:8), ‘n egskeiding wat gerealiseer het in die ballingskap.
Nou, gemeente, as ons hierdie agtergrond in gedagte hou, en as ons iets kan voel van die pyn wat hierdie ontroue huweliksmaat die Here persoonlik aangedoen het, en hoe verwoestend daardie ontrou in die lewe van sy volk gewerk het, dan verstaan ons waarskynlik waarom die Here by die sewende gebod so hard toeslaan. Sy innige liefde is soveel keer vertrap, so dikwels verwerp. Soveel keer was Hy geduldig, het Hy sy ontroue vrou weer teruggevat, en elke keer moes Hy weer die seer van verwerping ervaar. Die Allerhoogste God weet wat dit is, en daarom werp Hy alles in die stryd om te voorkom dat dit in die lewe van sy kinders sal plaasvind. Hierdie pyn wil Hy sy kinders spaar, en daarom gee Hy heilsame en konkrete riglyne vir die omgang tussen die geslagte. In die strengheid van die sewende gebod skyn die Here se liefde vir sy volk, asook sy liefdevolle beskerming van elkeen daarin.
Tema: Die Here soek ‘n bruid wat heilig is!
1. Sekere sake meng eenvoudig nie
2. God bring bymekaar wat bymekaar hoort
1. Gemeente, daar is verskeie verse in Deuteronomium 22:5-12 wat, na my mening, die sleutel bied om die slot oop te sluit van die res van hoofstuk 22. Deuteronomium 22:13-30 het sonder twyfel met die sewende gebod te make, niemand sal dit ontken nie. Maar om die unieke betekenis van hierdie gedeelte na behore te verstaan, om die spesifieke spits van hierdie verse te gryp, moet ons die sleutel in die voorafgaande verse (verse 5-12) gaan haal. En veral vers 5 is hier van belang, aangesien dit baie duidelik aan die sewende gebod verbind kan word. In hierdie vers waarsku die Here teen transvestisisme, die sieklike drang om die klere van die teenoorgestelde geslag te wil dra. Dit hou spesifiek verband met die kultusgebruike van die omringende heidense nasies, waarby die verskil tussen die manlike en die vroulike geslag deur middel van klere uitgewis is. Dit is verder nie onmoontlik nie dat hierdie verskynsel van godsdienstige ‘vermomming’ met die klere van die teenoorgestelde geslag ook verband gehou het met bepaalde vorms van homoseksualiteit. Met dit alles in gedagte is dit verstaanbaar dat die Here die uitwissing van die grense tussen die geslagte, wat by die heidense godsdiensplegtighede as iets vrooms beskou is, dat Hy dit as verwoestend vir Israel se volksbestaan verbied het.
Nou, dit is alles goed en wel, maar beteken dit nou dat dit ‘n sonde is as jou vrou jou hemp dra? Of moet ons hierdie wet dalk gebruik in ‘n veldtog om christelike vroue te ontmoedig om jeans te dra, soos wat in die verlede al gebeur het? Nee, gemeente, ons moet die gees van hierdie wetgewing verstaan. Dit gaan hier oor die handhawing van Godgegewe grense op die gebied van seksualiteit, dit gaan daaroor dat Israel op seksuele gebied nie dinge mag vermeng wat fundamenteel van mekaar verskil nie.
‘n Verdere uitwerking hiervan sien ons ook in Deuteronomium 22:9-11 waar die Here bepaalde samevoeginge verbied: Hy verbied die Israeliet om twee soorte saad in sy wingerd te saai, Hy verbied hom om tegelyk met ‘n os en ‘n esel te ploeg, en Hy verbied hom om klere van gemengde stof aan te trek. Nou, as sulks was hierdie dinge natuurlik nie verkeerd nie, maar die Here verbied hierdie samevoeginge met die doel om op verskillende terreine van die lewe een en dieselfde beginsel by sy volk vas te lê: moenie dinge vermeng wat nie bymekaar hoort nie. Vir ‘n volk wat op die punt gestaan het om Kanaan binne te trek, wat op die punt gestaan het om ‘n land binne te trek waar die heidense volke afskuwelike seksuele praktyke beoefen het, vir hulle gee die Here hierdie sigbare onderwys-hulpmiddels: moenie twee soort saad in jou wingerd saai nie, moenie tegelyk met ‘n os en ‘n esel ploeg nie, moenie klere van gemengde stof aantrek nie… En wanneer jy dit alles nakom, dink dan daaraan: ek mag op seksuele gebied nie vermeng wat nie bymekaar hoort nie! Ek mag myself ook nie met die heidense nasies assosieer deur hulle seksuele praktyke oor te neem nie!
En om julle aan hierdie beginsel te herinner, sê die Here nog in vers 12, maak vir jou klossies aan die vier hoeke van jou kleed. Dit is interessant dat hierdie klossies in Numeri 15:37-41 baie konkreet aan die seksualiteit verbind; ons lees in Numeri 15:39: “… as julle [die klossies] sien, moet julle aan al die gebooie van die Here dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie.” Dus, sowel deur middel van die verbode samevoeginge, as deur middel van die klossies wil die Here sy volk beskerm teen seksuele praktyke wat die grense oorskry wat die Here daargestel het.
Nou goed, vanaf Deuteronomium 22:13 begin Moses om eksplisiet te maak wat hierdie verbode samevoeginge op seksuele gebied dan nou eintlik is…
Vanaf vers 13 tot vers 21 bespreek hy eers die vraag oor die maagdelikheid. Onder die volk van die Here is daar naamlik ‘n baie hoë pryskaartjie aan maagdelikheid geheg. Maar hierdie hoë pryskaartjie kon natuurlik deur die man misbruik word… En daarom: indien ‘n man sy vrou valslik daarvan sou beskuldig dat sy by die sluiting van hulle huwelik nie meer ‘n maagd was nie – eenvoudig omdat hy van haar ontslae wou raak – dan sou hy 1) lyfstraf ontvang, 2) ‘n groot geldelike boete moes betaal en 3) vir die res van sy lewe nooit sy vrou mag verstoot nie. So sou die man gestraf word oor die slegte naam wat hy aan die meisie en haar familie besorg het. En só is die vrou ook beskerm teen oneerbare praktyke van ‘n wispelturige man. Máár – en dit is die eintlike punt hier – indien sy beskuldiging gegrond was, indien die meisie inderdaad as verloofde voor haar huwelik rondgeslaap het – en onthou dat ‘n verlowing in die bybelse tyd in dieselfde lig beskou is as ‘n huweliksverbond – dan moes sy gestenig word, doodgemaak word. Want hier het ons te make met ‘n verbode samevoeging. Seksuele omgang van ‘n verloofde met iemand anders as die eie lewensmaat – dit is dinge wat, voor die aangesig van die Here, eenvoudig nie met mekaar mag meng nie. En daarom, gelowiges wat uitgaan of wat verloof is en op die punt staan om te trou, beskerm julleself van hierdie verbode samevoeging.
In vers 22 bespreek Moses vervolgens ‘n baie eenvoudige geval van owerspel. Hier het ons te make met getroudes wat nie getrou is aan die eie lewensmaat nie. Beide die man en die vrou wat in hierdie owerspel betrap word, moes doodgemaak word om sodoende die kwaad van hierdie ongeoorloofde samevoeging uit Israel uit te roei. Dit is opmerklik om in ‘n patriargale kultuur te sien hoe eerlik hierdie wetgewing is teenoor sowel die man as die vrou: altwee van hulle moes sterwe! Getroudes, pas julleself verskriklik mooi op! Die samevoeging van ‘n getroude met ‘n ander persoon as die eie lewensmaat – of dit nou fisies of slegs in die gedagte is – is ‘n gruwel voor die Here. Hierdie twee hoort nie saam nie, hulle mag nie meng nie.
In verse 23-27 het ons te make met verkragting. Om mee te begin sê Moses dat daar nie so iets bestaan soos verkragting in die stad nie. In die boustyl van die antieke stede waar die huise baie naby aan mekaar was – eintlik teenaan mekaar – en daar nie glasvensters was nie, was dit baie eenvoudig om verkragting te voorkom. Daarom, as die verloofde vrou nie geskreeu het nie, dan was daar geen verkragting nie – en dan moes beide man en vrou sterwe. Maar in die veld is dit ‘n ander storie. In daardie geval aanvaar jy dat die verloofde vrou wel geskreeu het, maar nie gehoor is nie. Daarom word die man tereggestel, maar die vrou is vry. Hier het ons te make met ‘n afskuwelike samevoeging, ‘n samevoeging wat geen samevoeging is nie. ‘n Man wat in sy wellus ‘n verloofde vrou oormeester en verkrag. Die Here wil absoluut nie hierdie samevoeging onder sy heilige volk opmerk nie.
In vers 28 en 29 het ons te make met twee jongmense wat voorhuwelikse seksuele gemeenskap beoefen. Ook dít is vir die Here ‘n verbode samevoeging. Omdat hier egter nie in ‘n huweliksverbond inbreuk gemaak word nie, straf die Here dit ligter as in die vorige gevalle, maar dit bly nogtans iets wat voor die Here nie mag bestaan nie. Dit is dan ook ‘n ernstige waarskuwing vir ons jongmense om hulleself hiervan te weerhou. En dan gaan dit hier nie eers in die eerste plek oor ‘n eenmalige plesiertjie nie; nee, selfs al is jy en sy / jy en hy, baie lief vir mekaar, dan bly die samevoeging van julle liggame as ongetroudes ‘n ongeoorloofde samevoeging.
Ten slotte, in vers 30, gaan dit oor seksuele omgang met die vrou van jou vader. Hiermee word nie bedoel jou eie ma nie, maar waarskynlik ‘n tweede vrou waarmee jou pa getrou het. As jy Levitikus 18 gaan lees, dan sal jy duidelik sien dat hierdie enkele voorbeeld van vers 30 eintlik deel vorm van ‘n lang lys van huweliksbetrekkinge wat die Here verbied het, samevoeginge wat vir Hom verbode was.
Gemeente, die Here soek ‘n bruid wat heilig is, ‘n bruid wat in haar verhouding met Hom volledig aan Hom toegewy is. En dan is daar in daardie verhouding sekere dinge wat eenvoudig nie met mekaar meng nie, in daardie verhouding het die Here sekere grense getrek wat eenvoudig nie oorskry mag word nie. En tog lewe ons as kerk en as gelowiges in ‘n wêreld waar ongeoorloofde en abnormale vermengings eintlik doodnormaal en aanvaarbaar geword het. En ons leef in ‘n wêreld wat lag vir God se wysheid in die wetgewing van Deuteronomium 22:9-11 – hoekom mag ek nie twee soorte saad saai nie? Hoekom kan ‘n os en ‘n esel nie saam ploeg nie? Vir wat kan ek nie klere aantrek van gemengde stof nie? Vreemde wette… Maar omdat hulle die wysheid van hierdie wette nie meer deursien nie, nie verstaan wat die Here hiermee wil sê nie, daarom raak ook die grense wat die Here deur middel van hierdie wette wou trek, vreemde grense, onaanvaarbare grense, grense wat deurbreek moet word. Alles wat vandag met seksualiteit te make het, het beland binne die gees van vryheid, gelykheid en broederskap. En dit is die gees waarbinne ons lewe, dit is die gees wat ons inasem – nie as iets wat ver is nie, maar as iets wat baie naby aan ons kom, in ons eie huise…
Pornografie is nie meer iets van ‘n obskure winkel met swart vensters êrens in ‘n afteraf straatjie nie. Homoseksualiteit is nie meer beperk tot ‘n klompie vreemde figure op ‘n klein stukkie strand in Seepunt in die Kaap nie. Voorhuwelikse geslagsgemeenskap is nie meer iets vir die waaghalsiges onder ons nie. Owerspel vind ‘n mens in elke fabriek, in elke kantoor, in elke kroeg. Natuurlik, dis waar, die mensdom veg deur al die eeue alreeds teen die Godgegewe grense, maar dit is tog asof die grense vanaf die seksuele rewolusie van die 1960’s eenvoudig weggevee word, uitgewis word. Daar mag geen grense meer wees nie, alles moet moontlik wees – van homoseksualiteit tot bestialiteit (geslagtelike omgang van ‘n mens met ‘n dier). So het die mens in sy drifte dierlik geword. En wie is ek om iemand anders daarin te bevraagteken?
Broers en susters, met hierdie grensdeurbreking en grensvervaging raak dit vir die gelowiges geweldig moeilik om God se grense te handhaaf. Om in die 21ste eeu seksueel rein en heilig te wees, om uitmekaar te hou waarvan die Here gesê het dat dit nie mag meng nie, dit is sekerlik een van die grootste uitdagings. En om hierin vordering te maak, kan ons dit nie bekostig om die besoedelde gees van die wêreld in te asem nie, maar moet ons die heilige gees van die Here inasem, en moet ons die grense ken wat die Here in sy Woord getrek het. Want so maklik begin die grense vir onsself ook vervaag, weet ons self nie meer mooi waar die lyne loop nie: “Almal in my klas het dit dan al gedoen, hoekom sal ek dit nie ook doen nie? Dit is niks snaaks onder vandag se paartjies nie, ons weet mos ons gaan trou! Ek doen mos niemand skade aan as ek na daardie film kyk nie…” Dit is die gees van die wêreld. Maar kom ons gee gehoor aan die oproep van Paulus in 2 Korinthiërs 10: “Laat ons elke gedagte – ook elke seksuele gedagte, en elke seksuele daad, gebaar, woord en lus – gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” Laat ons in die kerk weer die duidelike grense trek wat die Here in sy Woord vir ons aanwys. Laat ons verhouding met Hom ons oortuig van die werklikheid dat sekere dinge eenvoudig nie met mekaar meng nie, dat alle onkuisheid deur Hom vervloek is en dat ons dit daarom hartgrondig moet haat. Kom ons besef weer dat die christen homself nie kan vermeng met die wêreldse gedagtes nie. As jy, as ons, daarom aan God behoort, wees dan heilig, want Hy is heilig!
In die tweede plek: God bring bymekaar wat bymekaar hoort.
2. Maar as God dan duidelik gemaak het wat nie mag vermeng nie, wat eenvoudig nie bymekaar hoort nie, wat hoort dan op seksuele gebied wél bymekaar? Wel, gemeente, Paulus maak in Efesiërs 5 – waarin dit spesifiek gaan oor die verhouding tussen man en vrou – in hierdie hoofstuk maak hy duidelik dat Jesus Christus die geméénte so liefhet dat Hy sy lewe daarvoor gegee het “om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:26-27). As ons die gemeente van Christus is, dan hoort by ons lewe die reinheid en die heiligheid wat Christus vir sy gemeente verdien het. Dit is dus die heel eerste wat bymekaar hoort op seksuele gebied: ‘n christen én reinheid – dié twee is ‘n eenheid. ‘n Christen word opgeroep om op die gebied van die seksualiteit heilig te lewe, om nie te vermeng wat God uitdruklik in sy wet verbied het nie, om sy liggaam op te pas as ‘n heilige tempel waarin die Heilige Gees sy intrek kan neem. God bring, deur die bloed van Jesus Christus, bymekaar wat bymekaar hoort – die christen en die Christus, die christen en reinheid, die christen en heiligheid.
Maar, gemeente, wie kan onsself beroem op ons reinheid op hierdie gebied? Wie van ons kan sê: “Ek het myself nog altyd ver gehou van seksuele sondes”? Wie van ons kan die sewende gebod oorslaan in ons selfondersoek? Asseblief, wie op hierdie gebied sonder sonde is, tel dan nou die eerste klip op en stenig die res van ons wat wel teen hierdie gebod gesondig het! Niemand nie? Almal onrein? Nou goed, luister dan na die blye boodskap, na die geheim van ons reinheid: dit is Christus wat ons reinig, dit is Hy wat ons liefhet en Homself vir ons oorgegee het. Ons reinheid lê nie daarin dat ons nog nooit verkeerd na ‘n ander vrou gekyk het, of nog nooit oor ‘n ander man gedroom het, of nog nooit oor die Godgegewe grense in ons verhouding getrap het, of nog nooit aan pornografie blootgestel was nie. Nee, ons reinheid lê in Christus! Ons is rein omdat Hy ons rein máák. Vlug daarom na Hom, elke man wat sy eie swakheid ken! Vlug na Hom, elke vrou wat haar verkeerde begeertes ken! Vlug na Hom, elke jongmens, wat weet van die geraamtes in die kas. Vlug na Christus, want Hy bring bymekaar wat bymekaar hoort, naamlik die christen en reinheid. Hy maak my wat ek moet wees. Hy was my skoon, deur sy bloed is daar vergifnis vir al my vuil dade en gebare en woorde en luste. Deur Hom mag nou die verbryselde en die verminkte en selfs die baster – hulle wat volgens Deuteronomium 23 eers uitgesluit was – hulle mag weer in die vergadering van die Here kom. Hulle is rein! Ons is rein, deur Jesus Christus!
En, gemeente, in daardie reinheid bring God ook op ‘n ander vlak bymekaar wat bymekaar hoort; in daardie reinheid bring God man en ‘n vrou bymekaar, Adam en Mannin. Vanaf die begin is dit hierdie twee wat die Here vir mekaar bestem het – nie ‘n man en ‘n man, of ‘n vrou en ‘n vrou, of ‘n getroude man met ‘n ongetroude meisie, of ‘n mens en ‘n dier nie. Nee, ‘n heilige vrou en ‘n heilige man – hierdie twee wil God aan mekaar verbind. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word (Gen. 2:24, Ef. 5:31). Dit is hierdie twee wat waarlik bymekaar hoort! Só wou die Here dit van die begin af gehad het.
Maar, let wel, ons is nog nie klaar as ons vir mekaar gegee is nie. Nee, as julle-twee dan bymekaar is – of dit nou ‘n paar maande is of ‘n volle vyftig jaar – dan wys Paulus in Efesiërs 5 ook nog vir ons hoe ons met mekaar moet lewe. Man en vrou het elkeen hulle eie plek en hulle eie taak. Van die vrou word gevra om aan haar eie man onderdanig te wees, om hom te volg soos wat die gemeente Christus volg – ‘n groot opgawe in ons tyd. Maar voordat die mans nou breed glimlag, vir jou is daar nog ‘n swaarder taak weggelê: vir jou is daar die taak van ware liefde en selfopoffering, van oorgawe en koestering. Om bymekaar te hoort en vir mekaar gegee te word, is ‘n gawe van God. Om vervolgens ook met mekaar te lewe soos wat God dit wil hê, dit is ‘n uitdaging waarvoor ons God se krag nodig het.
Let wel, as ek sê: ‘n heilige vrou en ‘n heilige man hoort bymekaar, dan bedoel ek daarmee nie dat aan elke heilige vrou en aan elke heilige man iemand gegéé sal word nie. Daaroor het God se wet ons niks geopenbaar nie; dít is deel van sy verborge plan. Of ons eendag gaan trou of nie… daaroor sê die Woord ons niks nie. Maar laat ons gehoorsaam wees aan wat wel aan ons geopenbaar is: die sewende gebod in al sy wydheid. En dan doen ons dit elkeen in die staat waarin die Here ons geplaas het: “Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag. Daar is ook onderskeid tussen ‘n vrou en ‘n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van wêreld, hoe sy die man sal behaag” (1 Kor. 7:32-34). In elke Christen se lewe voeg God bymekaar wat bymekaar hoort, naamlik christenskap en reinheid. En dan hang dit af van die staat waarin die Here ons plaas hoe ons dit uitleef; daarin het die ongetroude, die getroude, die weduwee, die wewenaar en die geskeide verskillende verantwoordelikhede. Maar laat ons almal in Christus ons reinheid vind, en laat ons almal deur die krag van sy Gees daardie reinheid uitleef. Vir elke sondaar teen die sewende gebod sê Jesus Christus vandag: Ek veroordeel jou ook nie; gaan dan heen en sondig nie meer nie.
Amen
Votum: Psalm 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing: Psalm 30:1
Wetslesing
Sing: Psalm 32:1 en 3
Gebed
Teks: HK, Sondag 41
Lees: Deuteronomium 22:5-30 en Efesiërs 5:22-33
Sing: Psalm 25:2 en 3
Preek
Amenlied: Psalm 51:5 en 6
Gebed
Slotsang: Psalm 128:2 en 3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.