Die ewige verkiesing van God.
Deur die eeue was daar al baie debatte oor die uitverkiesing in die kerk.
Dit is daarom nie toevallig nie, dat in twee belydenisgeskrifte daar uitgebreid aandag aan hierdie ondererp geskenk word.
Eerstens die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 16.
En tweedens die Dordtse Leerreëls.
Vanaand is artikel 16 van die NGB aan die beurt om behandel te word.
Tema: Ontdek jou uitverkiesing in Jesus Christus
- Volg die Skrif, nie jou logika nie
- Uitverkies in Jesus Christus
- Volg die Skrif, nie jou logika nie
Die belangrikste om te noem oor artikel 16, wat ons vanaand behandel, is die feit dat dit die Skrif naspreek, sowel wat inhoud betref as struktuur.
Vanuit ‘n logiese oogpunt maak hierdie artikel miskien nie sin nie, maar as mens die Skrif as die hoogste maatstaf vir die waarheid aanvaar, dan maak dit wel sin.
Net soos die Skrif, begin artikel 16 nie in die ewigheid nie, maar ook in die paradys.
Soos dit uit die Skrif blyk, het Adam en Eva, redelik kort nadat hulle geskape is, in sonde geval.
Die duiwel, wat toe al bestaan het, en wat toe al van God sy Skepper afvallig geraak het, het nie lank gewag om die kroon van God se skepping aan te val nie.
Sy taktiek het gewerk, en die eerste mensepaar het die keusevryheid waarmee hulle geskape is, misbruik om teen hulle Skepper te kies.
Hulle het hulleself en daarmee hulle nageslag in verderf en ondergang gestort.
Artikel 16 vervolg deur ons aandag te vestig op wat God toe in reaksie daarop gedoen het.
Uit sy dade het geblyk hoe God is: sowel barmhartig as regverdig.
Eerstens word God se barmhartigheid behandel.
En wat artikel 16 skryf oor die uitverkiesing, is onderdeel van God se barmhartigheid.
Dit is belangrik om hierop te wys.
Want ook hierin spreek artikel 16 die Skrif na.
Wie naamlik oor die uitverkiesing praat op ‘n filosofiese of rasionele manier, mis die punt.
Slegs as mens oog daarvoor het dat die uitverkiesing onderdeel is van God se barmhartigheid, sal dit ook sin maak.
Wat art. 16 hier skryf, klink uit ‘n kronologiese oogpunt verwarrend.
Want eers, soos ek genoem het, verwys hierdie artikel na die paradys, daar waar die sondeval plaasgevind het.
Vervolgens beskryf dit God se reaksie op die sondeval, naamlik dat hy uit louter goedheid mense uit die verderf waarin hulle hulleself gestort het, trek.
Hierdie reaksie is egter in ooreenstemming met sy ewige en onveranderlike raad.
Ewig beteken, daardie raadsbesluit het al bestaan van voor die sondeval.
En dan, die rede hoekom God hierdie raadsbesluit geneem het, sê artikel 16, is danksy Jesus Christus en dit wat Hy gedoen het, sy Middelaarswerk.
En dit is weer iets wat eers eeue na die sondeval sou plaasvind.
Kronologies maak hierdie dinge vir ons gevoel dus nie sin nie.
God neem ‘n besluit in reaksie, nie op iets wat reeds gebeur het nie, maar in reaksie op iets wat nog moes gebeur.
En Hy kan daardie besluit neem, danksy iets wat nog veel later sou gebeur, naamlik Golgota.
Dit is dinge wat vir ons kronologies nie sin maak nie.
Dit is dus duidelik dat ons sal moet bely dat God bo die tyd staan.
Daar is nog iets wat ons leer uit artikel 16.
Aan die een kant kies God uit, volgens sy ewige en onveranderlike raad.
Hy maak ‘n bewuste, aktiewe keuse.
Maar aan die ander kant, staan daar, laat Hy ander in hulle val en verderf bly, waarin hulle hulleself gewerp het.
Hier is nie sprake van ‘n bewuste, aktiewe keuse nie.
Hy laat, oftewel Hy los, daardie mense vir wie en wat hulle is.
Ook in hierdie formulering spreek die NGB die Skrif na.
Daar is nie sprake van, soos dit in die teologie heet, ‘n dubbele uitverkiesing nie, maar ‘n enkele.
God het slegs uitgekies om te red.
God het nie aktief gekies om ander in die hel te werp nie.
Die ander het self teen God gekies, en hulleself op die pad na die hel geplaas.
God laat hulle. Hy los hulle uit.
Ook hierdie maak vir ons logies nie sin nie.
Ons sou logies dalk redeneer: as God sommige uitkies om te red, dan per definisie is dit ‘n keuse om ander te verdoem.
Maar weer eens, die NGB spreek die Skrif na.
En die Skrif is nie gebonde aan die reëls van ons logika nie.
Laat ons gehoorsaam die Skrif naspreek, nie meer en ook nie minder nie.
Niemand op aarde kan beweer, omdat God nie my uitverkies het nie, gaan ek hel toe ... dis nie my skuld nie.
Daar is niemand wat teen sy wil in die hel tereg sal kom nie.
Die hel is daardie ‘plek’ waar hulle opeindig wat aktief hulle rug op God en sy diens gedraai het.
In die Skrif klink daar ‘n universele oproep tot bekering.
Dink aan ‘n Bybelteks soos Titus 2:11: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn”.
En 1 Timotheüs 2:3-4: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Die wat verlore gaan, kan nie hulleself verontskuldig dat hulle nie die geleentheid tot bekering en redding gekry het nie.
Terselfdertyd is die Skrif baie duidelik daaroor dat die wat wel tot bekering kom en gered word, dat hulle hul nie op hulleself kan beroem nie.
Hulle redding is nie te danke aan die goeie keuse wat hulle gemaak het nie, maar slegs en alleen te danke aan loutere goedheid en barmhartigheid van God, ja te danke aan die feit dat Hy hulle van ewigheid af uitverkies het, en die feit dat Hy, om hierdie uitverkiesing te verwesenlik, sy eie geliefde Seun na die aarde gestuur het om vir die skuld te betaal.
Dit is die groot boodskap, die goeie boodskap, van die Bybel, die Evangelie, wat alle eeue oorkoepel.
Dit alles vorm een geheel, verlede, hede en toekoms is onlosmaaklik aan mekaar verbonde, soos die skakels van ‘n ketting.
Dink aan die welbekende goue ketting van Romeine 8:28-30: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”
Elke skakel van die ketting hak vas aan mekaar: uitverkiesing, hier word die woord verordineer gebruik, verder roeping, regverdiging, heiliging, volharding, en dit loop uit op verheerliking.
Alles werk nie noodwendig volgens ons kronologie nie, ons begrip van tyd en oorsaak en gevolg nie.
Maar laat ons – dit is waaroor die eerste punt gaan – die Skrif volg, ons denke aan die Skrif onderwerp, eerder as aan ons eie logika.
2. Uitverkies in Jesus Christus
Daar is nog ‘n wesenlike aspek oor ons uitverkiesing wat mooi na vore kom in artikel 16, en dit is die feit dat ons uitverkies is, soos daar staan, in Jesus Christus, ons Here.
Wat beteken dit om uitverkies te wees in Jesus Christus?
Die NGB echo hier die formulering soos ons dit in Efersiërs 1 vind: God die Vader het ons in die Here Jesus Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees ... “ (Ef. 1:3-4)
Wat beteken dit?
Wel, die volgende.
In Christus word die uitverkiesing naamlik sigbaar.
Uitverkiesing is ‘n abstrakte begrip.
Dit is vir ‘n mens onsigbaar.
Hoe word dit vir ‘n mens sigbaar dat jy uitverkies is?
Elkeen van ons worstel soms met die vraag: is ek wel uitverkies?
Is dit wel vir my bedoel?
Die duiwel kan ons behoorlik onseker maak en laat twyfel, juis oor hierdie vraag.
Hoe kry jy sekerheid oor jou uitverkiesing?
Die Bybel se antwoord daarop is: In Christus kry jy sekerheid van jou uitverkiesing.
Kyk na Christus!
Let op hoe Christus in jou lewe binnekom met sy Woord.
Met sy Woord en Gees verander Christus jou lewe.
Hy plaas jou op die pad van regverdimaking, heiligmaking, volharding.
En dit is ‘n pad wat uitloop op verheerliking.
Dit is wat Christus met jou lewe doen.
Dus, as jy sekerheid wil hê oor jou uitverkiesing, bly by Christus, dien Hom, wees lief vir Hom en sy Woord, kyk op na Hom.
So kry jy sekerheid oor jou redding en uitverkiesing.
In die woestyn is die Israeliete op ‘n stadium aangeval deur giftige slange.
Die HERE het toe Moses ‘n koper slang laat giet en dit op ‘n lang stok geplaas.
Elkeen wat deur ‘n slang gebyt is, moes opkyk na die koper slang, en sou dan gesond word.
Jesus gebruik hierdie einste geskiedenis om ons op te roep om na Hom op te kyk, dan sal ons gered word.
“ ... soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word [- verwysende na hoe Hy aan die kruis sou hang], sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:14-15)
Daar is geen ander manier op aarde om sekerheid oor jou uitverkiesing te kry nie.
Filosofiese spekulasies oor die ewigheid gaan nie vir jou sekerheid gee nie.
Jou eie goeie werke gaan nie vir jou sekerheid gee nie.
Die feit dat jy kerklid is gaan nie vir jou sekerheid gee nie.
Die feit dat jou pa en ma, en oupa en ouma in die ware kerk was, gaan nie vir jou sekerheid gee nie.
Die feit dat jy ‘n wit vel het, gaan nie vir jou sekerheid gee nie.
Daar was in die verlede mense van Europese oorsprong in Suid-Afrika, wat van mening was dat hulle, net soos die volk Israel destyds, God se uitverkore volk hier in Afrika is.
Dat hulle, omdat hulle ‘n gedoopte volk was, daarom uitverkore was.
Hulle het die Bybel verdraai om by hulle eie situasie te pas.
Hulle sou die Israel van God wees, terwyl die swartmense op die kontinent soos die Kanaäniete was, wat uitgeroei moes word.
Slegs hulle, blankes, mog Christene genoem word, terwyl die swartmense nie veronderstel was om gedoop te word nie.
Hierdie was ‘n oppervlakkige, eksemplariese gebruik van die Bybel, met baie kwalike gevolge.
Net so is die Bybel later ook deur die bevrydingsteologie verdraai, van die ander kant af, wat die blankes met Farao en die Egiptenare vergelyk het, en die swartmense met die uitverkore volk van God, die Israeliete, vereenselwig het, wat uit Egipte bevry moes word.
So moet, volgens die bevrydingsteologie, swartmense as God se uitverkore volk, ook van wit oorheersing bevry word.
Gemeente, so het mense deur die eeue die neiging gehad om die Skrif te misbruik om hulle aardse belange te dien.
Maar dit alles is ‘n verdraaiing van die Skrif.
Dit is ‘n verdraaiing van die leer van die uitverkiesing.
Die doop is nie ‘n kaartjie wat vir jou ‘n plek waarborg in die hemel nie.
Net soos die besnydenis in die Ou Testament nie ‘n waarborg was dat ieder en elk in God se verbondsvolk uitverkore was nie.
Geen doop of besnydenis, geen afkoms, geen goeie werke, niks kan vir jou sekerheid oor jou uitverkiesing gee nie, slegs Christus.
Slegs in Christus kan ‘n mens ervaar dat hy of sy uitverkies is.
Dit is die ryke troos wat ons mag besit: in Christus.
Soos ons dit bely in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus:
“Daarom verseker Hy [dit is Christus] my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe.”
NGB art. 16 sluit af deur aandag te skenk aan hulle wat in hulle verderf bly.
Ook in hierdie opsig is God regverdig.
Regverdig beteken, Hy doen reg, Hy buig nie die reg nie.
Die realiteit is dat daar mense op aarde is wat hulle rug draai op Christus, en die oproep van die Evangelie van die hand wys.
God laat hulle in hulle val en verderf.
Val verwys na die sondeval.
Nie net Adam en Eva nie, maar ook al hulle nakomelinge het in sonde geval.
Dit is ‘n toestand wat lei tot verderf.
Sonde baar verderf.
Die gevolg van sonde is aftakeling, verrotting, verderf, ja die dood, ja die ewige dood, om verwyder te wees van God, wat die bron van alle lig en lewe is.
Dit is ‘n realiteit, dat daar mense is wat as hulle sterf, hel toe gaan.
Ons kan nie die hel met GPS-koördinate lokaliseer nie.
Die Skrif openbaar die hel aan ons as die ‘plek’ waar God afwesig is.
Mense wat in hierdie lewe hulle rug op God draai, hulle geniet nog – solank hulle lewe – van al die mooi dinge wat God geskape het, maar die oomblik as hulle sterf, is dit verby.
Dan wag vir hulle die Godverlatenheid, en ook die verlatenheid van al die mooi dinge wat Hy geskape is.
Sulke mense rus nie sag, soos die uitdrukking sê, in ‘n ewige slaap nie.
Hulle ervaar die helse smarte, vuur en pyniging.
Hierdie aarde is gegrondves op pilare van geregtigheid.
En die feit dat daar mense is wat ewig gestraf word, is onderdeel van God se regverdigheid.
Vir ons is dit nie ‘n rede om onsself superieur te voel nie.
Ons erken eerlik, as dit nie vir Christus was nie, was dit ook ons voorland.
Net soos alle ander aardbewoners het ons ook in sonde geval, en verdien ons uit onsself nie beter nie.
Maar ons roem in Christus, wat ons met sy kosbare bloed gekoop het.
Toe sy bloed aan die kruis gevloei het, het Hy die helse Godsverlatenheid ervaar.
Die helse straf het Hy in ons plek ondergaan.
Hy het neergedaal in die hel, bely ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis.
“My God, my God, waarom het U My verlaat” (Matt. 27:46).
Met daardie woorde het Hy weergegee wat die wese van die hel is – naamlik Godsverlatenheid.
Die definiëring van die hel, die lokalisering van die hel, word nie met GPS-koördinate gedoen nie.
Die hel word gedefinieer in terme van die feit dat daar totale Godsverlatenheid heers.
Die begrip Godsverlatenheid mag dalk abstrak klink.
Dit is belangrik dat ons besef dat Godsverlatenheid ook beteken verlatenheid van al die werke van sy hande.
Al die mooi dinge wat God geskep het, ook dit is afwesig in die hel.
‘n Lewe sonder God is letterlik hel.
Die besef hiervan laat ons ook sidder en bewe, omdat ons besef dat ons ook daar kon opgeëindig het.
Maar dit laat ons oë direk ook opkyk na Christus, dit laat ons weer aan Hom vasklou.
In jou swaarste aanvegtinge mag jy vashou daaraan dat jou Here Jesus Christus deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking, wat Hy deur sy hele lewe maar veral aan die kruis gely het, jou van die helse angs en pyn verlos (Sondag 16).
Ja ons is in Jesus Christus uitverkies.
Deur elke dag aan Hom vas te hou, dáárdeur kry jy sekerheid van jou uitverkiesing.
So is hierdie preek vanaand oor die uitverkiesing in wese die prediking van Jesus Christus!
Soos die tema sê: Ontdek jou uitverkiesing in Jesus Christus.
Amen.
Votum
Seën
Ps 33:6
Gebed
Skriflesing: Johannes 3:11-21; Romeine 8:27-30; Efesiërs 1:1-6
Sb 24:1,2
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 16
Preek
Sb 24:3-7
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Kollekte
Ps 87:2-5
Seën