Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Wat doen die doop met ons?
Hierdie vraag kan natuurlik baie maklik omgedraai word na: wat doen ons met die doop? By hierdie laaste vraag gaan dit oor hoe ons na die doop kyk, watter dooprituele ons in die kerk het, en wat ons dogmatiese standpunt rondom die doop is. Dus, wat doen óns met die dóóp – nie ‘n onbelangrike vraag nie! Maar ek het die vraag vir vandag omgedraai. Nie: wat doen ons met die doop nie, maar wat doen die dóóp met óns? Nou is ons in ‘n totaal ander sfeer, broers en susters. Nou is ek nie meer die handelende persoon wat moet regstaan met my opinie oor die kinder- of die geloofsdoop nie; nou is ek nie meer die een wat moet sê of ons een keer of drie keer water op die babatjie se kop moet gooi nie; nou word van my geen uitspraak gevra oor besprinkeling of onderdompeling nie. Nee, nou is ek passief. Nou word daar iets áán my gedoen. Die dóóp doen iets met my!
Vir stoere gereformeerdes is dit dalk ‘n tikkie dramaties. Dit is mos nie asof ‘n bietjie kraanwater iets aan my doen nie? Nee, daarvoor is ons darem te nugter. En jy’s reg. Maar die Kategismus leer ons om verder te kyk as die handjievol water, want in hierdie gewone kraanwater het ons ten diepste te make met ‘bloed’ en ‘Gees’. Bloed en Gees? Ja, gaan vat ‘n pen by die huis en dan onderstreep jy in Sondag 26 en 27 al die kere waar die woorde ‘bloed’ en ‘Gees’ gebruik word. As jy mooi kyk, sal jy dit in elke vraag en antwoord van Sondag 26 en 27 vind – óf in die vraag, óf in die antwoord, óf in altwee. Bloed en Gees – dáárin lê uiteindelik die krag van die doopwater. Dus, as ons vra: wat doen die doop met ons?, dan vra ons in wese: wat doen die bloed van Christus met ons? En wat doen die Gees van Christus met ons? Weereens: stoere gereformeerdes hou nie baie van hierdie vraag nie, want dit maak hulle passief, dit laat hulle hulpeloos voel dat iets áán hulle gedoen word. Mooi so! Dan is ons waar ons moet wees – passief en hulpeloos, sodat die doop iets met ons kan doen, sodat die doop ons kan verander. Of nog beter: sodat Christus se bloed en sy Gees ons kan verander. Dít is waaroor dit vandag gaan. Vergeet daarom vir ‘n oomblik van alle diskussie oor die dogma rondom die doop. Hoe belangrik ook al, hierdie diskussie raak leeg en oppervlakkig as die doop – as die bloed en die Gees – nie ons léwens verander nie. Eers wanneer ons gelowig leer antwoord het op die vraag: wat doen die doop met ons?, dan kan ons verder praat oor die vraag: wat doen ons met die doop? Kom ons maak dit dan ook die tema vir die preek:
Tema: Wat doen die doop met ons?
1. Dit bring verandering
2. Dit bring skeiding
3. En dit van jongs af
1. In sy eerste brief aan die Korinthiërs raak Paulus ‘n klomp verskillende sake aan wat in die gemeente van Korinthe geleef het. Hy praat onder andere oor die huwelik, oor die tug, oor die gawes van die Gees… En dan wy hy ook nog ‘n gedeelte aan ‘n sekere praktyk wat blykbaar onder die Korinthiërs kop uitgesteek het, naamlik om mekaar voor die gereg te sleep, om mekaar hof toe te vat. Dus, broers in die gemeente het bepaalde geskille gehad (heel moontlik oor finansies), en die uiteinde daarvan was dat hulle mekaar gedagvaar het. Dit is waaroor ons Skrifgedeelte gaan.
Maar… wat het dit nou met die doop te make? Alles, gemeente, solank ons maar net by die regte plek begin. En dit is in hierdie geval nie by die begin van hierdie gedeelte nie (nie by vers 1 nie), maar by die einde van hierdie gedeelte (by vers 11). Want in vers 11 wys Paulus wat die begronding is van sy voorafgaande betoog. Paulus het in die eerste tien verse betoog dat dit onbegryplik is dat gelowiges hulle regsake voor onregverdiges (vers 1) of ongelowiges (vers 6) moet bring. En daarom vra hy in vers 9: “Maar weet julle dan nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” Ja nee, dít het die Korinthiërs wel geweet. Maar hoekom, vra Paulus, laat julle dan toe dat koninkryksburgers deur onregverdiges beoordeel word? Wil julle weet hoe lyk hierdie onregverdiges? En dan gee Paulus in vers 10 ‘n lys van tien kenmerkende sondes in die ongelowige maatskappy van daardie dae. Dít is die onregverdiges, sê Paulus, en hulle sal die koninkryk van God nie beërwe nie.
En dán, in vers 11, kry ons die kontras! Julle was ook so, sê Paulus, julle het ook in een of meerdere van hierdie sondes gelewe. Máár nie meer nie! En dan wys Paulus vervolgens drie maal, elke keer vanuit ‘n ander invalshoek, dat die Korinthiërs anders geword het: “En dit was sommige van julle, máár julle het jul laat afwas, máár julle is geheilig, máár julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” Kom ons kyk gou na elkeen van hierdie drie veranderings…
Dus, in die eerste plek het die Korinthiërs hulle laat afwas – hulle het ‘n wassing ondergaan. En die werkwoord wat hier gebruik word, is só saamgestel dat dit dui op ‘n volledige afwasssing. God het die bekeerde sondaars in Korinthe se skuldrekord volledig skoongevee! Hier word dieselfde werkwoord gebruik as wat in Handelinge 22:16 gebruik word, waar Paulus vertel hoe Ananias jare gelede vir hom gesê het: “Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas…” Dus, baie waarskynlik dat dieselfde Paulus met die gebruik van dieselfde werkwoord hier óók na die doop verwys. Die doop simboliseer dus vir ons ‘n volledige afwassing van ons sondes. Dit is hoe die doopsformulier dit ook verwoord: “as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes.” En net ‘n entjie verder in die formulier word van die Heilige Gees gesê dat Hy tot ons eiendom maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe.
Dus, in hulle doop is die Korinthiërs gewas – volledig gereinig – van die sondes wat hulle vroeër gedoen het; al daardie sondes wat in vers 10 opgenoem word: hoerery, afgodsdiens, egbreuk, wellustigheid en sodomie (beide is vorme van homoseksualiteit), diefstal, gierigheid, donkenskap, skinder en roof. Van dít alles is die Korinthiërs volledig skoongewas. Al was hulle sondes soos skarlaken, dit het wit geword soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit het soos wol geword (om maar Jesaja se woorde te gebruik). Dit is die belofte van die doop, gemeente. Soos water die vuilheid van die liggaam wegneem, so neem die bloed en die Gees van Christus ons sondes weg (antw. 73).
Vervolgens is die Korinthiërs ook geheilig – reeds in hoofstuk 1:2 van sy brief het Paulus vir die Korinthiërs gesê dat hulle in Christus geheilig is. Almal wat in Jesus Christus glo, word in Hom geheilig. En dit beteken dat hulle in Christus vir God apart geplaas word, hulle behoort nou aan Hom om vir Hom te lewe. Dit is eintlik ook wat ons bely in Sondag 1 as ons enigste troos: dat ek na liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Sien u: ek het eers aan die duiwel behoort, sodat ek van nature geneig was om saam met die Korinthiërs die dinge te doen wat in vers 10 genoem word. Maar ek is losgekoop van die duiwel, en ek behoort nou aan Jesus Christus! Dít is die primêre betekenis van heiliging in hierdie vers – die Korinthiërs behoort aan Christus, en is apart geplaas om vir God te lewe. En is dit nie maar presies wat ons in Sondag 27 van die kindertjies bely nie? Hulle is deur die doop in die Christus kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei. Onderskei, apart geplaas!
En ten slotte is die Korinthiërs, volgens vers 11, ook geregverdig – dit behels ‘n wetlike uitspraak van God waardeur die gelowiges deur die bloed van Christus regverdig verklaar word. Dit is ‘n vryspraak deur die hemelse Regter op grond van die voltooide werk van Jesus Christus. Dit beteken nie dat die Korinthiërs nou sondeloos geword het nie, maar wel dat God na hulle kyk asof hulle nooit enige sonde gedoen het nie. Of soos die nagmaalsformulier dit verwoord: dat die geregtigheid van Christus ons so volkome toegereken en geskenk is asof ons in eie persoon vir al ons sondes betaal en alle geregtigheid volbring het.
Máár julle het julle laat afwas, máár julle is geheilig, máár julle is geregverdig… Met behulp van hierdie drie aksies – wat die Korinthiërs trouens nie aan hulleself gedoen het nie, maar wat hulle passief ondergaan het – wys Paulus watter verandering daar in die lewens van die Korinthiërs plaasgevind het, en wys hy verder ook hoe hierdie verandering die gelowiges van die onregverdiges onderskei. Daar is ‘n verskil tussen die Korinthiërs se vroeëre lewe en hulle huidige lewe; daar is ‘n verskil tussen die gelowiges en die onregverdiges. En dít is wat die doop aan ons doen, broers en susters. Dit is wat die bloed en die Gees van Christus met ons doen. Dit is wat gebeur “in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” – soos die laaste woorde van vers 11 dit stel. Die doop simboliseer die bloed en die Gees van Christus waardeur ons verander word van onrein mense na gewaste mense, van besmette mense na geheiligdes, van verdoemdes na geregverdigdes. Sien u die kontras? Gedooptes, mense wat gewas en gereinig is in die bloed en Gees van Jesus Christus, se lewens verander radikaal. So radikaal dat die kontras met die vroeëre lewe en met die lewe van die onregverdiges onmiddellik sigbaar is. Dit is soos dag en nag. En hier het ons die antwoord op ons eerste vraag: wat doen die doop met ons? Dit verander ons, gemeente, radikaal! En wanneer ons dít verstaan, dan kan ons teruggaan na die Korinthiërs se onverkwiklike hofsake…
Dit bring ons by ons tweede gedagte: skeiding.
2. Gemeente, dit is op grond van die radikale andersheid van die gelowiges in Korinthe dat ons Paulus se behandeling van die eerste deel van hoofstuk 6 vir onsself relevant kan maak. Soos ek reeds gesê het, wil dit voorkom asof gemeentelede in Korinthe mekaar oor allerhande sake voor die wêreldlike regbank gedaag het. Let wel, dit gaan hier nie oor die vraag of gelowiges dan nooit ‘n regsaak mag aangaan nie – Paulus het dan sélf tydens sy lewe verskeie kere ‘n beroep gedoen op die wêreldlike reg. Nee, dit gaan hier oor die vraag of ‘n christen ‘n mede-gelowige voor die wêreldlike hof mag daag. Moet die christen, ook al word hy verontreg, dan nie maar liewer die minste wees nie? – dit is Paulus se vraag in vers 7. Ly liewer onreg, word liewer beroof, máár moet net nie julle radikale andersheid op die spel plaas deur mekaar voor ‘n wêreldse hof te sleep nie!
Dit is uiteindelik Paulus se opdrag aan die Korinthiërs: moenie julle radikale andersheid verspeel nie! Hierdie radikale andersheid beskryf Paulus in vers 1 deur die heiliges teenoor die onregverdiges te plaas: “Durf iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie?” En in vers 6 maak hy dieselfde onderskeid, maar net met ander woorde: “Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges?” Sien u: heiliges teenoor onregverdiges, en broeders teenoor ongelowiges. Dit bevestig vir ons dat die kerk, dat die gelowiges, anders is as die onregverdiges / die ongelowiges. En daardie andersheid moet ons nie op die spel plaas nie; inteendeel, daardie andersheid moet sigbaar word in ‘n duidelike onderskeid.
Dit is ‘n onderskeid waaroor Sondag 27 nie skaam is nie: gelowiges en hulle kinders word, volgens antwoord 74, in die verbond van God en sy gemeente ingesluit. En daardie insluiting impliseer ook ‘n uitsluiting van ander: hulle word in die Christelike kerk ingelyf en van die ongelowiges onderskei! So was dit in die Ou Verbond deur die besnydenis, en so is dit ook in die Nuwe Verbond deur die doop. Regdeur die geskiedenis was daar hierdie onderskeid, ‘n onderskeid wat God self ingestel het toe Hy vyandskap gestel het tussen die vrouesaad en die slangesaad. En daarmee sê ons nie dat ons beter is nie; daarmee neem ons geen hoogmoedige, elitêre houding aan, asof ons self hierdie posisie verwerf het nie. Nee, dit is ‘n posisie wat God ons uit genade geskenk het. ‘n Posisie wat só uniek is, só besonder, dat Paulus verbaas vra: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (verse 2 en 3). Ons gaan eendag die onregverdiges oordeel, ons gaan eendag engele oordeel – wil ons dan klein geskille deur ongelowiges laat beoordeel? Nee, sê Paulus, ons mag dit nie doen nie, anders hef ons die onderskeid op, anders verspeel ons ons andersheid.
En, gemeente, ons moet vandag ook vanuit daardie andersheid lewe. Die doop maak ons anders, of beter: die bloed en die Gees van Jesus Christus maak ons anders. Só het ons in die eerste punt gesien. Maar laat daardie andersheid dan ook sigbaar word! Laat ons onsself onderskei van die ongelowiges! En dit geld nie net vir regsake nie, dit geld uiteindelik vir alle terreine van die lewe. Dit geld vir die manier hoe ons in ons huwelike met mekaar omgaan – daarom is dit so belangrik dat ek ‘n gedoopte lewensmaat soek; nie maar net iemand wat eendag, lank gelede, water oor sy kop gekry het nie, maar iemand wat deur die doop verander is. Dit geld vir die manier hoe ons ons gesinslewe inkleur – is ons gesinslewe nog anders as dié van die ongelowiges, of het ons ook ophou bybellees en bid voor en ná ete, en staan by ons ook die televisie die hele dag aan, en is ons ook uit op uiterlike vertoon en luukse? Dit geld vir die manier waarop ons ontspan – is ons daarin nog anders? Dit geld vir die manier waarop ons ons werk doen – of probeer ek ook maar tyd steel en vroeg uitklok, net soos my ongelowige kollega?
Ons is soms so goed daarin om ons andersheid te kamoefleer, dat ons vergeet dat andersheid ook onderskeid beteken. Sigbare onderskeid. Omdat ek gedoop is! Omdat ek deur die bloed van Christus skoongewas is, en vir God apart gesit en geregverdig is. En dáárom is die vraag so dringend: wat doen die doop met ons? Ons kan die grootste mond hê oor die Bybelse reg van die kinderdoop, maar as die doop ons nie meer sigbaar anders maak nie, dan het ons ons reg van spreke verloor! En dan het ons as kerk ook ons werwingskrag verloor. Dan kan ons nog eerder saamwerk met sekere groeperinge van baptiste wat werklik sigbaar anders is en wil wees, as wat ons ongewas en onrein hier op ons hopie sit en roep: kinderdoop, kinderdoop! Die feit dat ons gewas en geheilig en geregverdig is, die feit dat ons verander is, dít moet ook skeiding bring. Soms pynlike skeiding, dis waar, maar weet dat dit beslis die moeite werd is. Eendag sal ons saam met Christus regeer om die onregverdiges te oordeel!
En dan ons laaste gedagte: dit alles moet van jongsaf gebeur.
3. Gemeente, as ons die andersheid en die onderskeid verstaan, soos dit vir onsself geld, dan behoort dit ook tot ons deur te dring dat hierdie andersheid en onderskeid ook vir ons kinders geld. Hoekom? Hulle moet mos self eendag daardie keuse maak? Dit is mos eers wanneer hulle belydenis van geloof aflê dat hulle verantwoordelik gehou kan word? Dit is natuurlik so dat ons kinders eers by hulle belydenisaflegging die verantwoordelikheid aanvaar wat pa en ma vir soveel jaar gedra het. En tog sê die Kategismus dat hulle vanaf die begin van hulle lewe alreeds deel is van die verbond en in die gemeente ingesluit is, en dat hulle daarom ook van die kinders van die ongelowiges onderskei moet word. Die radikale andersheid en onderskeid geld dus alreeds vanaf die begin! Nie omdat hulle vromer is of minder ongehoorsaam nie; nie omdat ons kinders sulke engeltjies is nie. Nee, omdat hulle deel is van die verbond en deel van die kerk van God. Hulle hoort by ‘n ander volk as die kinders van die ongelowiges; hulle staan in ‘n ander lyn as die saad van die slang. Seuns en dogters, julle is anders! Anders gemáák deur die bloed en die Gees van Christus!
Ek weet, dis is nie altyd lekker om anders te wees nie. As ons opgroei – en veral in ons tienerjare – wil ons graag deel van die groep wees, en wil ons nie uitstaan nie. Hoe meer ek met die groep kan saamsmelt, hoe beter. In daardie fase van ons lewens is groepsdruk geweldig groot, en andersheid word nie altyd gerespekteer nie. Dis waar! En tog is julle andersheid iets om op trots te wees. Julle onderskeid van die kinders van die ongelowiges mag vir julle ‘n bron van vreugde wees. Ek behoort aan Jesus Christus, ek is gered! Ek is koning, profeet en priester!
En as ouers en ouer mense in die gemeente het ons ‘n groot taak om ons kinders hierin voor te gaan. Ons andersheid en onderskeid word nie deel van ons kinders deur dit hulle in te slaan nie; dit word ook nie deel van ons kinders as dit by onsself nie leef nie. Nee, die andersheid en onderskeid word slegs deel van ons kinders wanneer hulle van jongsaf by ons kan sien dat dit vir ons ‘n vreugde is om die Here te kan dien, wanneer hulle kan sien dat die soms pynlike skeiding van die mense en dinge van die wêreld uiteindelik uitloop op ‘n innige verhouding met Jesus Christus. Ons bou nie ‘n muur om ons kinders sodat hulle die wêreld nie kan sien en nie kan beleef nie – nee, ons leer hulle die rykdom van die verbond. Ons leer hulle die rykdom van Bybelstudie en gebed, ons leer hulle die vreugde van die kerkgang, ons leer hulle hoe baie dit vir ons beteken om in ons daaglikse lewe met die Here te wandel. Ons hou hulle nie in toom met ‘n sweep nie; nee, ons kweek in hulle die verlange om die Here te ken.
Laat ons dit van jongsaf doen. En dan wil die Here ook sy seën gee deurdat ons kinders Hom met vreugde dien. En eers dán sal die gety draai – die wêreldwye vloedgolf van die geloofsdoop. Want talle mense wat hulleself laat ‘grootdoop’, doen dit omdat hulle na kerke van gereformeerde belydenis kyk en sê: ons sien die kinderdoop, maar ons sien nie die kinderlike geloof nie; ons sien die water op die kindjie se kop, maar ons sien nie die water van die Gees in die kind se léwe wanneer hy/sy grootgeword het nie. Laat ons hierdie beskuldiging ter harte neem en ons kinders van jongsaf voorgaan in die lewe vanuit die bloed en die Gees van Christus. Dit is ‘n anderste lewe, dit is ‘n lewe wat skeiding bring. Maar dit is ook ‘n lewe van groot vreugde en genieting. Dit is ‘n lewe weg van die sonde en in die genade van die Drie-enige God. Laat ons daarom nooit ophou om ons kindertjies te doop nie, máár laat ons ons opnuut beywer om hulle anders groot te maak. Anders as die kinders van die ongelowiges – want hulle behoort aan God!
Amen.
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Psalm 23 (1e beryming, op wysie in die boekie)
Gebed
Doopsbediening
• Lees formulier + vrae
• Doopsbediening
• Gebed
• Sing: Psalm 71:4, 10, 11
Lees: 1 Korinthiërs 6:1-11
Teks: HK, Sondag 27
Preek
Amenlied Psalm 101:2, 4, 5
Gebed
Belydenis van geloof (Nicea)
Slotsang Psalm 100:2-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
of Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.