In sy geliefde Seun laat God sowel regverdigheid as barmhartigheid seëvier

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-09-27
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 20-21
Preek Inhoud: 

Daar is mense met ‘n karakter wat ons veral as regverdig sal tipeer.

Daar is mense wat vir ons gevoel baie swart-wit is.

Iets is of reg, of dit is heeltemal verkeerd.

Dan is daar mense wat vir ons gevoel dalk ‘n meer barmhartige karakter het.

Mense wat vir ons gevoel minder bekommerd is oor reg en verkeerd, maar meer op die menslike sy fokus, op die behoud van vrede.

Is die een soort mens beter as die ander?

Hoe vind mens die regte balans hierin?

Hoe vind mens harmonie tussen regverdig wees aan die een kant en barmhartig wees aan die ander?

 

Geliefde gemeente, kom ons fokus vanaand op hoe ons Here Jesus Christus was.

Artikel 20 van die NGB behandel die regverdigheid én barmhartigheid van Christus.

Twee op die oog af teenstrydige karaktereienskappe wat tog in ons Heiland verenig was.

 

Tema: In sy geliefde Seun laat God sowel regverdigheid as barmhartigheid seëvier

  • harmonie tussen Vader en Seun
  • harmonie danksy die Seun se Middelaarswerk

 

  1. Harmonie tussen Vader en Seun

God is regverdig en Hy is barmhartig.

Normaalweg werk dit by ‘n mens so dat hy net een van die twee is.

Daar is mense wat bekend staan dat hulle barmhartig is, mense met empatie.

En dan is daar karakters wat as baie regverdig, baie reglynig bekend staan.

Altwee karaktertrekke is noodsaaklik.

Mens kan nie beweer dat barmhartigheid beter is as regverdigheid, of andersom nie.

Dis net vir ons as mense moeilik om die twee te kombineer.

Maar God is altwee vir die volle 100%.

By God is dit nie so dat sy barmhartigheid sy regverdigheid ophef nie, of dat sy regverdigheid ‘n skaduwee oor sy barmhartigheid gooi nie.

Dit is in Christus Jesus, en daaroor handel artikel 20 van die NGB, dat sowel God se regverdigheid as barmhartigheid seëvier.

Hierdie artikel begin deur te beskryf hoe God regverdig was.

Ons as mense het nie die volle lading van sy regverdige straf oor ons gekry nie.

God het in sy wysheid ‘n plan beraam.

Hy het sy eie geliefde Seun beskikbaar gestel.

Die het, om Middelaar te kan wees, ‘n mens geword.

As mens het Hy die straf vir die sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe gedra.

God het dus sy regverdigheid teenoor sy eie Seun betoon.

Sy doel daarmee was, skryf artikel 20, om oor ons sy barmhartigheid uit te stort.

Ons was skuldig.

Ons het ewige vervloeking verdien.

Maar sy Seun het daardie deel vir ons volbring.

Die gevolg is dat daar nou ook vir ons onsterflikheid en die ewige lewe wag.

So verwoord artikel 20 in ‘n paar sinne die kern van die Evangelie.

As jy dit weer op jou laat inwerk, val jou mond net oop van verbasing.

Hierdie verlossingsplan van die Vader en die Seun.

Dis alles hulle werk, en dit ter wille van ons.

In verwondering kan ons maar net vir ons God dank, ja uitbreek in ‘n lofsang.

 

Daar is dus geen teenstelling tussen God se deugde nie.

Dis nie so dat die Ou Testament oor God se regverdigheid handel, en die Nuwe Testament oor God se barmhartigheid nie.

Ou en Nuwe Testament is een, en beide openbaar aan ons beide deugde, oftewel beide wesenskenmerke, van God.

 

Daar is nie ‘n teenstelling tussen sy reg en sy genade nie.

Soms is ons geneig om so te dink.

Ons het nounet in Psalm 130 gesing:

“As U, o HEER, die sonde

na reg wou gadeslaan,

wie sou een enk’le stonde

voor U, o HEER, bestaan?

Maar nee, daar is vergewing

altyd by U gewees ...” (Ps 130:2 ber.)

Hierdie beryming maak met die woorde “Maar nee” ‘n teenstelling tussen God se reg aan die een kant, en sy vergewing, sy genade, aan die ander kant.

Al voel dit vir ons logies, is dit eintlik ‘n valse teenstelling, soos Psalm 130 hier berym is.

Die beryming laat dit klink asof God nie die sonde volgens sy reg hanteer het nie.

Dat Hy nie die sonde na reg gadegeslaan het nie, maar dat Hy dit eintlik deur die vingers gesien het.

Maar dit is nie wat God gedoen het nie.

God het juis wel reg laat geskied oor die sonde!

Aan sy regverdigheid is juis 100% voldoen!

Egter, ons het dit nie gedoen nie, maar ‘n Middelaar het dit vir ons gedoen.

As mens na die onberymde teks van Psalm 130 kyk, staan dit daar tog bietjie anders as in die berymde versie:

“As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.” (Psalm 130:3-4)

God het dus volgens sy reg, sy regseis, met die sonde gehandel.

Die manier hoe Hy dit gedoen het, was dat Hy ‘n Middelaar, ‘n Plaasvervanger, daarvoor gestraf het.

En toe dit plaasgevind het, toe kon Hy vergewe en vergeet.

Soos Psalm 130 sê: nou hoef Hy dit nie meer in gedagtenis te hou nie!

 

Dit klink dalk na haarklowery, en moontlik het Totius dit ook nie so bedoel met hierdie beryming nie.

Tog is dit goed om hier noukeurig daarop te let dat ons nie ‘n teenstelling skep tussen God se regverdigheid en sy barmhartigheid nie.

Dit hoef ook nie.

Die reg lê gefundeer in die middelaarswerk van Christus.

God bewys genade terwyl Hy terselfdertyd sy reg handhaaf.

Daarom bely ons nie nét dat ons vergewing van sondes ontvang danksy God se genade nie.

Maar ook bely ook dat ons vergewing van sondes ontvang danksy God se regverdigheid!

Dis nie nét God se genade wat vergewing moontlik gemaak het nie, juis ook sy regverdigheid!

 

Daar is nog ‘n valse teenstelling wat soms gemaak word, en dit is die persepsie dat God die Vader veral regverdig is, en dat die Here Jesus veral barmhartig is.

Ook dit is nie in lyn met die Skrif nie.

Dis nie so dat die Seun die Vader se hart moes sagmaak om ons genade te bewys nie.

As daar in artikel 21 staan dat God se toorn gestil moes word, word daarmee nie bedoel dat net God die Vader vir die mense kwaad was, maar nie die Here Jesus nie, en dat Jesus die vrede tussen ‘n toornige Vader en die mense weer moes herstel.

Vader en Seun, ja God drieënig, toorn oor die sonde, nie net die Vader nie.

Dat die Here Jesus ook toornig kan wees, dit weet ons maar al te goed uit die Evangelies.

Dit is dus ‘n verkeerde teenstelling tussen Vader en Seun.

Die Skrif leer ons naamlik dat die Seun ‘n gawe is van God se liefde!

Daarom moet ons ook nie sê, al klink dit op eerste gehoor goed, dat Christus ons met God versoen het nie.

Maar dit is God sélf wat Homself met ons versoen het, deur die offer van sy Seun.

So lees ons byvoorbeeld in 2 Korinthiërs 5:18:

“En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus”.

So is Vader en Seun een in hulle liefde vir ons.

Vader en Seun was een in die uitvoering van die heilsplan, wat hulle saam beraam het.

Die Vader het uit liefde sy Seun as Middelaar beskikbaar gestel en na die aarde gestuur.

Die Seun het gewilliglik as Middelaar na die aarde gekom, om versoening te bewerkstellig.

Wat ‘n voorreg om so ‘n God te mag ken en dien!

Beide Vader en Seun se liefde skitter in hulle heilsplan.

Ja in hulle liefde vir ons is daar volledige harmonie tussen Vader en Seun.

 

(Tema: In sy geliefde Seun laat God sowel regverdigheid as barmhartigheid seëvier

  • harmonie tussen Vader en Seun)

 

2 Harmonie danksy die Seun se Middelaarswerk

Artikel 21 fokus vervolgens nog meer in detail op die versoening deur Christus.

Christus is ‘n ewige Hoëpriester.

In die Ou Testament het die een hoëpriester die ander opgevolg, soos hulle afgesterf het.

Christus het egter uit die dood opgestaan en leef vir ewig.

Ook is Christus Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

In teenstelling tot die hoëpriesterlike orde van Aäron, waar die persoon slegs een amp mog vervul, beklee Christus volgens die orde van Melgisedek ‘n drievoudige amp: hoëpriester, profeet en koning.

So is Hy, volgens die heilsplan, presies reg voorgesorteer om dit te kan doen waarvoor Hy gekom het.

Hy het volledig mens geword, en Hy het op aarde gekom in Melgisedek se orde.

Die eerste fase van sy taak op aarde was ‘n tydperk van vernedering.

In daardie periode het Hy nie gefokus op sy koninklike amp nie.

In daardie periode het Hy nie die troon in Jerusalem op die oog gehad nie.

In daardie periode was Hy gewillig om eers swaar te kry, te ly.

Hy het dit selfs sover laat kom dat die mense Hom aan ‘n kruis opgehang het.

En hoewel dit vir die wêreld anders gelyk het, was Hy tog in hierdie periode volledig in beheer.

Hy is nie ‘random’ as ‘n misdadiger omgebring nie.

Hy is vermoor presies op die regte tyd, naamlik tydens die Paasfees, as normaalweg die lam geslag is.

So het Christus dinge gelei dat Hy as Hoëpriester self die Lam geword het, en presies op die Paasfees geslag is.

Hy het Homself voorts laat vermoor aan ‘n kruishout, wat volgens die wet van Moses daarop gedui het dat Hy deur God vervloek is.

Steeds het Hy dus die regie in hande gehad.

As misdadiger, skryf die NGB art. 21, is Hy deur Pontius Pilatus veroordeel.

Maar Hy het dit toegelaat, want Hy het geweet dat die Vader daardie bevoegdheid aan Pilatus gegee het.

In Johannes 19:11 sê Jesus vir Pilatus: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”

In die Ou Testament was daar profesieë wat spesifiek gehandel het oor hierdie periode van vernedering uit Christus se lewe.

Art. 21 verwys na Jesaja 53, wat voorspel het dat Hy gewond gaan word, dat Hy soos ‘n lam na die slagplek gelei sou word, dat Hy as ‘n misdadiger gereken sou word,

Jesus het presies geweet wat sou gebeur.

Tog het dit dinge nie vir Hom makliker gemaak nie, miskien wel moeiliker.

Toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46) het dit uit die diepste van sy hart gekom.

Sy versoeningswerk wat vir ons vergewing gebring het, was nie maklik nie.

Om eerlik te wees, ons kan onsself nie indink hoe swaar dit was nie.

En noudat daar vergewing moonlik is, noudat ons bevry kan word van die straf deur Christus, nou wil die Vader ook dat ons dit gebruik.

God die Vader wil nie dat ons skuldig voel omdat sy Seun hierdie moes deurgemaak het nie.

Die Vader wil nie dat ons uit skaamte net mondjiesmaat van die versoening gebruik maak nie.

Nee, die hemelse Vader is met reg trots op dit wat sy Seun bereik het, en Hy wil dat ons ook trots is op sy versoeningswerk.

Hy wil dat ons dit elke dag uitbundig gebruik!

Hy wil dat ons nou oor niks anders praat nie as oor sy Seun Jesus Christus!

Dat Hy vir ons so kosbaar is, dat ons alles anders as waardeloos beskou, in verlyking daarmee om Christus Jesus, te ken (Fil. 3:8).

 

Ja, dit alles moes gebeur vanweë ons sonde, ons opstand, ons hardkoppigheid.

Maar dit hét nou gebeur.

Die versoeningswerk hét plaasgevind.

Die offerande is eenmaal gebring en dit was voldoende.

En nou wil die Vader nie meer dink aan wat was nie.

Nou wil die Vader, soos die NGB skryf, dat ons volkome vertroosting vind in sy wonde.

Nou wil die Vader dat ons sy Seun aanbid as die volkome Middelaar en Verlosser.

 

 

Gemeente, oor Christus se Middelaarskap bestaan daar ook wanpersepsies, verkeerde opvattings.

Dit is noodsaaklik dat ons in hierdie leerpreek ook kortliks daarby stilstaan.

Kom ek noem kortliks drie dwalings oor Christus se middelaarskap.

Eerstens, daar is mense wat beweer dat Christus se middelaarskap net ingehou het dat Hy namens die Vader vir ons die goeie nuus van verlossing kom bring het, maar dat sy dood en bloedstorting nie onderdeel van sy middelaarskap was nie.

Hierdie denkwyse veroordeel die idee dat dit God se eis was dat daar bloed moes vloei.

God sou nie so wreed wees nie.

Dit sou ‘n groot misverstand wees, dat God vir die mensdom kwaad sou wees.

Christus sou bloot na die aarde gekom het om die misverstand uit die weg te ruim, om die mense weer te oortuig van God se liefde.

Die leer van versoening deur Christus se voldoening, deur sy bloedstorting aan die kruis, word deur hierdie denke ‘n onaanvaarbare bloedteologie genoem.

Christus se middelaarskap het dus nie met bloed en dood te make nie, maar slegs met die feit dat Hy die tussenpersoon was wat die goeie nuus na die aarde gebring het.

Hierdie soort denke, hierdie soort teologie, gemeente, onderskat die erns van ons sonde.

Dit lees die Skrif ook nie eerlik nie.

Wie die Skrif noukeurig lees, kom nie onder die besef uit dat Christus se middelaarskap inderdaad alles met sy dood en bloedstorting aan die kruis te make gehad het nie.

Die leer van versoening deur voldoening is nie wreed nie, dit is Skriftuurlik.

Dit is natuurlik baie ingrypend, dit hou ons op ons knieë uit dankbaarheid.

 

‘n Tweede dwaling oor Christus se middelaarskap is dat Hy na die aarde gekom het, nie om te betaal nie, maar slegs om vir ons ‘n voorbeeld te wees.

Ook hierdie denke suggereer dat God nie so wreed sou wees om die dood van sy eie Seun te eis nie.

Die feit dat Jesus gesterf het, sou nie die Vader se wil, die Vader se eis gewees het nie.

Jesus se dood sou net ‘n sameloop van omstandighede gewees het.

Jesus was op aarde vir ons as voorbeeld om na te volg.

Ons moet sy liefde vir God en sy liefde vir die medemens naboots.

Hy het sy medemense liefgehad, selfs toe hulle Hom gekruisig het.

 

Gemeente, ook hier word daar weer ‘n valse teenstelling gemaak.

Natuurlik moet ons Jesus navolg.

Natuurlik moet ons God en ons naaste liefhê soos Hy gedoen het.

Maar dit neem nie weg dat Jesus wel deeglik deur sy Vader in die wêreld gestuur is met die doel om te sterf nie.

Ook hierdie tweede dwaling gaan mank aan die feit dat die erns van die sonde onderskat word.

Dat dit die noodsaak van versoening deur regmatige voldoening nie onder oë wil sien nie.

 

‘n Derde dwaling oor Christus se middelaarskap lui soos volg.

Christus se koms na die aarde en sy middelaarskap sou as doel hê om alle teenstellings op te hef, alle grense op aarde.

Dink aan die teenstelling tussen Jood en Griek.

Dink aan die teenstelling tussen man en vrou.

Dink aan die teenstelling tussen arm en ryk.

Dink aan die teenstelling tussen blank en swart.

Ensovoorts.

Christus as Middelaar staan tussen partye en Hy maak hulle een en dieselfde.

En in navoling van Christus is ons taak as Christene nou ook om alle teenstellings te probeer uitwis.

Ons moet strewe na gelyke behandeling, gelyke kanse, gelyke regte vir Jood en Griek, man en vrou, arm en ryk, blank en swart, en gaan so maar voort.

Dit het u dalk opgeval, gemeente, dat by hierdie dwaling die woord sonde nie een keer geklink het nie.

Dit wat die Skrif openbaar, dat Christus se middelaarswerk juis die sonde moes versoen, dit verdwyn by hierdie dwaling op die agtergrond.

Sonde gedefinieer in die sin van dit wat teen God se wil, teen God se gebooie indruis.

Daarvan hoor mens weinig in hierdie dwaling.

Natuurlik kan daar sondigheid skuil in bepaalde teenstellings.

Maar ‘n teenstelling op sig is nog nie sondig nie, soos byvoorbeeld die verskil tussen man en vrou, arm en ryk, blank en swart, ensovoorts.

Hierdie benadering van Christus se middelaarskap is eintlik net ‘n ‘social gospel’, sonder diepgang.

 

Tot sover drie wanpersepsies oor Christus se middelaarswerk.

Gemeente, laat ons nie val vir sulke oppervlakkige evangelies nie.

Die Skrif openbaar aan ons die ware Evangelie, wat diepgang het, wat juis skitter teen die kontras van die donker skaduwees van sonde en straf en dood en hel.

Hierdie Evangelie maak ons diep nederig, beseffende wat  Christus vir ons moes deurmaak.

Hierdie Evangelie maak ons diep dankbaar, beseffende dat dit nou verby is, dat versoening deur voldoening plaasgevind het, en dat daardie plan van God geslaag het.

Dit help nie om daardie plan nou nog, agteraf, in twyfel te trek nie.

Dit is op sy minste diep ondankbaar.

Laat ons vashou aan die Evangelie van versoening deur voldoening.

Nie ons eie voldoening nie, dan sou ons nog nêrens gewees het nie.

Maar die versoening deur ons Middelaar en Hoëpriester Jesus Christus.

Ons behoort nou aan Hom, Hy het ons tot sy eiendom gemaak.

En ons mag nou, deur sy Gees, steeds meer soos Hom begin lyk - mense van integriteit.

 

Ek het die preek begin deur te verwys na verskillende tipes mense wat daar bestaan.

Daar is mense met ‘n karakter wat ons veral as regverdig sal tipeer.

Daar is mense wat vir ons gevoel dalk ‘n meer barmhartige karakter het.

Daar is mense wat vir ons gevoel baie swart-wit is.

Iets is of heeltemal verkeerd, of iets is reg.

Dan is daar mense wat vir ons gevoel minder bekommerd is oor reg en verkeerd, maar meer op die menslike sy fokus, op die behoud van vrede.

Is die een soort mens beter as die ander?

Wat is die regte balans hierin?

 

Geliefde gemeente, ons het vanaand gefokus op hoe ons Here Jesus Christus is.

Artikel 20 van die NGB het die regverdigheid en barmhartigheid van Christus behandel.

Twee op die oog af teenstrydige karaktereienskappe wat tog in ons Heiland verenig was.

Dit was moontlik, juis danksy die versoening wat Hy gebring het deur die voldoening van sy kruisoffer.

So is ons bevry.

En deur sy Gees maak Hy nou van ons nuwe mense.

Ook in ons lewens mag regverdigheid en barmhartigheid steeds meer sigbaar word.

Nie net een van die twee nie, na gelang van ons karakter nie, maar beide!

Beide regverdigheid en barmhartigheid word sigbaar in die manier hoe ons met ander omgaan.

Dinge wat sondig is word nie deur die vingers gesien nie.

Maar ons gevoel vir reg is nooit onbarmhartig nie.

Ons sal nie mense buite in die koue laat staan, omdat hulle gesondig het nie.

Ons stap juis die pad saam met ander sondaars, sodat hulle ook van hulle sondes bevry kan word.

So mag ons steeds meer op Christus begin lyk, in regverdigheid en barmhartigheid.

In ons omgaan met ander mense mag iets sigbaar word van Christus.

Leesbare briewe van Christus, dis wat ons mag wees.

Soos Paulus aan die Korinthiërs geskryf het: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2 Kor. 5:20)

Ja daar is versoening moontlik!

Want Christus het voldoen.

Dit mag ons aan alle mense voorhou.

Ja daar is versoening!

God het “hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” – 2 Kor. 5:21.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 65:2

Gebed

Skriflesing: Psalm 130

Ps 130:1,2 (1e beryming)

Skriflesing: 2 Korinthiërs 5:11-21

Ps 130:3,4 (1e beryming)

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 20-21

Preek

Ps 40:5,6,8

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 103:4-6

Seën