Die evangelie van dubbele genade

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-10-18
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 24
Preek Inhoud: 

Die kerk van die Reformasie het gebreek met die Roomse visie op heiligmaking en goeie werke.

Die kern van die fout by die Roomse leer was hulle visie op die mens.

Hulle visie op die mens was veels te positief.

Die mens sou in staat wees om deur goeie werke by te dra aan sy saligheid.

Die Pelagiaanse beskouing dat die mens met die sondeval nie heeltemal verdorwe geraak het nie, het weer deur die agterdeur binnegesluip.

Die kerk van die Reformasie het egter ook wat sy mensbeskouing betref, teruggekeer na die Skrif.

Die mens is as gevolg van die sondeval totaal verdorwe en kan niks tot sy saligheid bydra nie.

Selfs noudat die gelowige geregverdig is, is sy nuwe lewe van heiligmaking nog steeds nie sy eie prestasie nie.

Dit is genade op genade, of soos Calvyn dit genoem het: dubbele genade.

Heiliging is nie die mens se teenprestasie vir Christus se regverdiging nie.

Regverdiging en heiliging is gawes van God, dit is genade op genade.

Hierdie waarheid word in art. 24 van die NGB bely.

 

Tema: Die evangelie van dubbele genade

 

Die ware geloof is nie ‘n menslike prestasie nie.

Inteendeel, dit word voortgebring deur die Heilige Gees, wat daarvoor die Woord van God gebruik.

Hy gee ons die krag om weergebore te word, om ‘n nuwe lewe te lei.

Nou het die Roomse kerk kritiek gehad op hierdie leer van dubbele genade.

Dit sou kerkmense lui maak.

Daarteen reageer artikel 24 as volg:

Dit is onmoontlik dat die ware geloof, wat die Gees in ons werk, niks goeds in ons tot stand sou bring nie.

Ons praat mos nie van ‘n dooie geloof nie, maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Dade, goeie werke, kom dus nie voort uit die angs om hel toe te gaan en daarom iets te presteer om hemel toe te kan gaan nie.

Goeie werke kom uit liefde voort.

Ons beantwoord God se liefde.

Liefde is aansteeklik.

Die goeie wortel van die geloof laat mooi dinge uitspruit.

Hierdie mooi dinge, hierdie goeie werke, is egter nie bydraend vir ons regverdiging nie.

Ons is reeds in Christus deur die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke begin doen het.

Daar is niks meer om te verdien nie.

Die goeie werke is ons aan God verskuldig uit dankbaarheid.

En Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy plan uit te voer.

Hierdie goeie werke is die vrugte van die goeie boom.

Ons is die takke wat geënt is op die goeie stam, wat Christus is.

Noudat ons op Hom geënt is, hoort dit daarby dat ons vrug dra.

 

‘n Ander beeld wat die Bybel gebruik, is dat ons gekoop is deur Christus.

Ons is nou sy diensknegte of slawe.

Sy slawerny is egter bevryding.

En noudat ons aan Hom behoort, is ons onverdienstelike diensknegte, wat gewoon doen wat ons verplig is om te doen – Lukas 17:10.

 

Die groot wins wat die Reformatoriese visie op goeie werke oplewer, is dat dit sekerheid gee.

Roomse kerkmense het voortdurend in onsekerheid gelewe, of hulle wel genoeg goeie werke gedoen het, as hulle vandag te sterwe sou kom.

Die Reformatoriese leer het egter sekerheid aan die gelowiges teruggegee.

Nie ‘n valse sekerheid nie, maar ‘n sekerheid wat in die Skrif toegesê word vir elkeen wat aan Christus behoort.

‘n Sekerheid wat gelowiges met reg hulleself mag toeëien.

 

In vanaand se preek wil ek bietjie met u stilstaan by die apostel Johannes se uitdrukking genade op genade, soos ons dit in Johannes 1:16 vind.

Dit is ‘n uitdrukking wat oorvloed, ja oordaad aandui.

Dit laat my dink aan ‘n ou Hollandse gesegde wat as volg lui: Suiwel op suiwel is vir die duiwel.

Dit is ‘n gesegde wat in die Middeleeue ontstaan het, toe suiwelprodukte nog duur was en vir die gewone bevolking skaars.

Om sowel botter én kaas op jou brood te sit, dit is beskou as ‘n oorbodige, ja ‘n onbekostigbare luukse.

Hierdie ou uitdrukking het tydens die Tweede Wêreldoorlog nuwe lewe gekry, toe suiwelprodukte weer skaars geword het.

Ek onthou nog hoe my ouma soms vir ons gesê het, as ons te veel op ons broodjie gesmeer het:

Suiwel op suiwel, dit gaan na die duiwel.

Die generasie wat die Tweede Wêreldoorlog beleef het, het geleer om suinig te wees.

En as immigrante wat ‘n bestaan in ‘n nuwe land moes opbou, het hierdie suinigheid hulle op die lange duur goed te pas gekom.

Suiwel op suiwel, dit moet jou laat skuldig voel.

Dan veroorloof jy jouself te veel.

En gemeente, dit is presies wat die Roomse kerk oor die Protestante gedink het.

Hulle leer van dubbele genade, genade óp genade, dit is veels te vrypostig, veels te luuks.

En dit is nie eerbiedig teenoor die Here nie.

As Hy jou een hand aanbied, dan gryp jy beide hande.

En, dit sou die kerkmense lui maak, in geestelike opsig.

As God alles doen, watter moeite, watter ‘effort’ moet jy dan nog vir jou saligheid insit?

 

Wat was die Reformatore se antwoord op die Roomse aantyging, dat die Protestante veels te voorbarig was, en dat hulle leer van dubbele genade die mense lui en roekeloos sou maak?

Wel, hulle het bloot na die praktyk gewys.

Kyk wat in die praktyk gebeur as jy mense sekerheid van hulle saligheid gee.

En die praktyk het inderdaad uitgewys dat die Protestante ‘n veel meer toegewyde lewe as die Roomses begin lei het.

Die Kategismus verwoord dit eenvoudigweg as volg: “Maak hierdie leer die mense roekeloos en onverskillig? Nee, want dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie” (HK v/a 64).

Dit is die geheim van ‘n heilige toegewyde lewe.

Om in Christus ingeplant te wees – dink aan die beeld van die wynstok wat Jesus self in Johannes 15 gebruik.

Om aan Christus te behoort, dit bring gewoon vrugte van dankbaarheid.

 

Suiwel op suiwel – is dit ‘n ontoelaatbare luukse?

In elk geval, wat die Skrif ons leer, is dat genade op genade nie ‘n oorbodige luukse is nie, en dat dit nie voorbarig is nie.

Maar dit getuig van ‘n vrygewige God, ‘n God wat vir ons alles gee.

Dis die God wat die Bybel aan ons openbaar.

En dit is hoe die apostel Johannes sy evangelie begin.

Die uitdrukking genade op genade is deel van sy inleiding, die sogenaamde proloog op sy evangelie – Johannes 1:1-18.

Dit berei ons voor op die boodskap wat in die res van die evangelie gaan volg.

‘n Boodskap van ‘n oorvloed, ‘n rykdom, ‘n barmhartigheid, wat nog nooit op aarde vertoon is nie.

God stuur sy eniggebore Seun na die aarde.

Sy boodskap was een van oorvloed.

Dink aan die allereerste wonder wat Hy verrig het – Johannes 2.

Op die bruilof te Kana het Hy water in wyn verander, toe die wyn wat die bruidegom bestel het, opgeraak het.

Hierdie nuwe wyn was nie net die beste wyn nie, daar was ook oorgenoeg.

Hierdie eerste wonder staan simbool vir Christus se totale bediening op aarde.

Na hierdie wonder sou daar nog ‘n oorvloed aan wonders volg.

Daarop wys Johannes aan die einde van sy evangelie: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is ...” (Johannes 20:30-31)

En Johannes 21:25: “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.”

Jesus se bediening op aarde was een van oorvloed.

En dan, en dit wys Johannes veral uit, net soos die ander evangeliste, nie primêr as wonderdokter nie, maar as Middelaar.

As een wat vir die sonde van die wêreld kom versoening doen het.

Ook sy Middelaarswerk was oorvloedig.

In Johannes 1:16 staan daar: “uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.”

Die woordjie volheid dui ook op oordaad, daar is meer as genoeg.

Dieselfde woord word gebruik toe Jesus die vyf brode en twee vissies vermeerder het.

Na afloop het die dissipels nog twaalf mandjies vol oorgehou!

Wat ‘n oorvloed!

Dieselfde woord word ook gebruik in Galasiërs 4:4: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur.”

Die tyd het vol geraak.

Dit verwys na die era van die Ou Testament wat sy vervulling genader het.

Hierdie betekenis klink ook deur in Johannes 1:16.

Sy volheid – Christus se volheid – dit dui daarop dat Hy die vervulling van die Ou Testament is.

Soos Johannes in vers 14 skryf: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou”.

Dit is dus die evangelis se boodskap.

Christus is die vervulling van die Ou Testament.

Al die derduisende offers wat in die Ou Testament gebring is, die volledige tempeldiens, die priesterdiens, die hoëpriester, dit alles kom in Christus tot sy voltooiing, sy volheid, sy vervulling.

Al die seremoniële gebruike van die Ou Testament was ‘n herinnering en voorafskaduwing, dat daar nog iemand moes kom om die rekening ten volle te vereffen.

Om werklik en ten volle vir die skuld te betaal.

Die skuld wat teruggaan tot op Adam en Eva.

Skuld vir eeue en eeue se sonde en opstand.

Met reikhalsende verlange het die skepping op sy koms gewag.

‘n Wêreld swaar gebuk onder skuld, het gesmag na skuldverligting, skuldbevryding.

Iets daarvan kon God se kinders al proe uit die instellings voorgeskryf in die wette van Moses.

Dink aan die Groot Versoendag, dink aan die Paasfees, dink aan die sabbatsjaar en die jubeljaar.

Van die sabbats- en jubeljare, waartydens daar algehele skulddelging moes plaasvind, daarvan het in die loop van die Ou Testament maar weinig tereggekom.

Die wette was daar, op papier, maar in werklikheid is hulle maar selde uitgevoer.

Die feeste soos Paasfees, Loofhuttefees, Pinksterfees is gevier, maar daar was tye wat die feeste ook nie deurgegaan het nie.

Daar was selfs ‘n periode wat die algehele tempeldiens tot stilstand gekom het tydens die ballingskap.

Maar toe God sy Seun stuur, toe het die volheid van die tyd gekom.

Toe het al hierdie dinge tot vervulling gekom.

‘n Era van oorvloed het aangebreek!

Jesus het dit self aangekondig in sy allereerste preek aan ons bekend, Lukas 4:18-21: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig, om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig ... Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”

Oorvloed, bevryding vir almal, dit is die Messias se boodskap.

Uit sy volheid mag ons, ja het ons almal ontvang, skryf Johannes.

 

Ek wil vir ‘n oomblik met u nog bietjie dieper ingaan op die uitdrukking wat dan volg, die uitdrukking “genade op genade”.

As mens na die Griekse oorspronklike teks teruggaan, dan staan daar eintlik iets anders.

Letterlik staan daar in Grieks in genade op genade nie, maar: genade in plaas van genade.

Of: Genade teenoor genade.

Hierdie letterlike vertaling klink verwarrend.

Wat bedoel Johannes met genade in plaas van, of teenoor, genade?

Mens kan hierdie uitdrukking verstaan as jy besef dat Christus gekom het as vervulling van die Ou Testament.

Genade in plaas van, of teenoor, kontrasteer Christus met die Ou Testament.

In die volgende vers doen Johannes dit ook, as hy skryf: “Want die wet is deur Moses gegee, die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”

In plaas van, of teenoor Moses en sy wet kom Christus nou met sy genade en waarheid.

Die uitdrukking genade in plaas van genade is dus ‘n baie kernagtige manier om te sê:

Christus stel ‘n nuwe genade teenoor die genade van die Ou Testament.

Die wet van Moses het die weg na vryspraak gewys, die weg na ‘n goeie lewe.

Maar die wet van Moses was nie in staat om die volk te bevry nie.

Die wet van Moses het die rigting na die oplossing gewys, maar God se volk kon nie by die oplossing uitkom nie.

In die sin was die wet van Moses swak, kragteloos.

Ja dit was genade, dat die wet van Moses die pad na die oplossing gewys het.

Maar dit was nie genoeg genade om by die oplossing uit te kom nie.

Teenoor, oftewel in plaas van, die genade van die wet van Moses, stel Christus nou ‘n beter genade, ‘n meer effektiewe genade, ‘n oorvloediger genade.

Waar Moses se genade in sekere sin suinig was, is Christus se genade oorvloedig.

 

Om terug te kom by ons vertaling, die Totiusvertaling met sy uitdrukking “genade op genade” is nie verkeerd nie.

Op ‘n manier sê dit wat Johannes bedoel: Jesus se genade is oorvloedig.

Maar in die oorspronklike teks lê daar in hierdie uitdrukking dus ook nog die element wat die genade van Jesus vergelyk met die wet van Moses, soos in vers 17 duideliker word.

Baie kernagtig sê hierdie uitdrukking dus presies wat Paulus later soos volg sou omskryf:

“aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo” (Rom. 3:20-22).

 

Christus het vir ons die vervulling van die wet geword.

Hy het die ou bedeling vervul, Hy het ‘n beter bedeling gebring.

Sy genade is oorvloediger.

Die gawe, sy offer aan die kruis, is my geregtigheid voor God.

En die gawe van sy Gees en Woord stel my in staat tot ‘n toegewyde lewe.

‘n Dubbele gawe – ja dubbele genade!

Die Fariseërs het gedink Jesus is te goed vir die volk, vir sondaars en tollenaars.

Later het die Roomse geestelikes ook gedink dat die Reformatore met hulle leer van dubbele genade te goed vir die kerkvolk is.

Dit sou hulle lui en onverskillig maak.

Maar dit was nie waar nie.

Die prediking van die evangelie van dubbele genade het bloeiende en toegewyde gemeentes tot gevolg gehad.

Dit sien ons in die Nuwe Testament.

Dit sien ons ook in die eeu van die Reformasie.

Dit sien ons vandag nog steeds.

Ook u, gemeente van Pretoria-Maranata, is ‘n bloeiende en toegewyde gemeente.

Dis nie iets om jou op die skouer oor te klop nie.

Dit is die vrug van die prediking van dubbele genade.

Genade op genade, volheid, oorvloed.

Hierdie evangelieprediking van dubbele genade is soos die reën wat val, dit sal nie leeg tot God terugkeer nie.

Dit sal op die aarde laat voortspruit dit wat die Here in gedagte gehad het.

Soos ons in Jesaja lees: “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” (Jes 55:10-11)

Geliefde gemeente, bly onder die prediking van dubbele genade, dan sal julle ook vrug bly dra.

Dubbele genade, dit is die geheim van ‘n heilige toegewyde lewe.

Dubbele genade, as jy die regverdigmaking van Christus jouself toeëien, en as jy vervul van sy Gees steeds verder groei in goeie werke.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 6:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-18

Sb 5:1,2

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 24

Preek

Ps 31:15-17

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 9:8-10

Kollekte

Ps 84:3,6

Seën