God beloof met die oog op Christus aan ons verligting in ons verdrukking

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-03-15
Teks: 
2 Thessalonicense 1:1-12
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Ons leef in tyd en omstandighede ver van die sendinggemeente van Tessalonika, aan wie die brief gerig was ongeveer twintig jaar na Christus se hemelvaart.

Maar hulle Heer Jesus Christus, is ons Heer en is met sy belofte nie ver van ons af nie. Met sy Woord en Gees is Hy by ons en rig Hy ons daagliks. Hy het ons uitgeroep en maak ons bymekaar op hierdie plek.  Soos wat God die Tessalonisense destyds in hulle verdrukking bemoedig het om te volhard met die Evangelie, so doen Hy met ons.

Die Tessalonisense is bemoedig in ‘n situasie waarin Jode wat vir Christus nie erken het nie, maar veral volksgenote wat bly vashou het aan hulle afgode, hulle bedreig het. In hulle lyding was daar lidmate wat gevra het of Christus al gekom het? Waarom gaan die verdrukking voort? Waarvoor volhard hulle?

Daarom bedien Paulus en sy medeskrywers Silvanus en Timoteus die gemeente in hierdie brief met die Evangelie van Christus. Die gemeente moet eerstens weet hulle groei in geloof en liefde gaan nie ongemerk verby nie. Paulus gebruik hulle groei en volharding as ‘n bewys van die werking van God se genade met die evangelie. Hulle word ook verder reggehelp. God sal die verdrukking wat hulle ondergaan vergeld. En Jesus Christus sal in heerskappy weer kom en God verheerlik deur Homself te verheerlik in die Tessalonisense wat Hom dien en bewonder.

Gemeente, hoe volhard ons in verdrukking en in lyding terwyl ons uitsien dat Christus weer kom? Volhard ons en neem ons toe in geloof en liefde wanneer dinge ons heeltemaal oorweldig, en Christus nog nie weer gekom het nie? Hoe is ons gemeente van Christus ten spyte van dreiging en gevaar wat op ons afkom van buite en ons eie swakhede van binne? Kyk ons wat so mooi onderrig word in die evangelie, kyk ons met sekerheid en verligting na God die Vader wat ons vashou op hierdie pad van lyding en verlang ons na ons Heer se weerkoms wanneer Hy Hom sal openbaar in heerlikheid met sy magtige engele? Kyk maar hoe word ons deur alles wat ons sekerheid in God bedreig, gedruk om te twyfel. Ons stry teen dit wat op ons afkom van buite en die sondige begeertes van ons hart. Daagliks word ons gedruk om toe te gee, of ervaar ons verleiding in vorme van subtiele afwerking van die evangelie om by ons ou mens te pas. Die Tessalonsense moes hulle kennis van die evangelie nie prysgee nie. Hulle moes met die wete dat God aan hulle regdoen en dat Hy regverdig is en hulle verligting gee en verkwik, groei in liefde en geloof en so uitsien na die weerkoms van ons Heer Jesus Christus. Hy en sy heerlikheid is die einddoel van hulle geloof.

Ons tema: God beloof met die oog op Christus aan ons verligting in ons verdrukking
1.    Ons word deur die regverdige oordeel van God waardig gereken vir die openbaring of onthulling van die heerlikheid van Jesus Christus
2.    Ons word deur die uitsig op die onthulling van Christus verligting gegee in ons lyding en verdrukking
3.    Ons kan deur die verwagting dat God ons op grond van sy roeping van ons, waardig ag, Christus verheerlik

1.    Ons word deur die regverdige oordeel van God waardig gereken vir die openbaring of onthulling van Jesus Christus

God die Vader verseker die Tessalonisense van sy liefde vir hulle en dat Hy in en met hulle besig is: Hulle is gegrond in sy genade en vrede – hulle is verseker dat hy vir hulle sorg. Die gemeente word vanuit die hemel vasgehou en gerig op God se werk van Christus se onthulling of openbaring.

Die gemeente is afhanklik van God die Vader se werk en die uitvoering deur Christus die Heer om sy gemeente op aarde te beskerm en te bewaar. God is nie alleen Vader van Jesus Christus maar Vader van al sy uitverkorenes. Kindskap van die Vader deur Jesus Christus verbind die skrywers en lesers aan mekaar.

As gemeente van God, as gemeente van gelowiges, 1, word hulle onderskei van die ander inwoners van Thessalonika. Die skrywers bid steeds vir die gemeente dat God sy roeping van hulle uitvoer in hulle lewens. Om so die einddoel te bereik dat Jesus Christus verheerlik word deur en in die gelowiges: vers 12. 

Die beredenering wat vanaf vers 3 volg, vorm een lang geheel, tot vers 10. Tog is daar ‘n oorgang in vers 7. Eerste deel vers 3 tot die eerste deel van vers 7 gaan dit oor die skrywers en gemeente en hulle verhouding voor God, hoedat God deur Paulus en sy medewerkers die gemeente versorg met die evangelie, in die gemeente se ervaring van lyding en verdrukking. In die tweede deel, dit is die tweede deel van vers 7 tot vers 10 gaan dit oor die openbaring of onthullende weerkoms van Jesus die Heer en die aanwysing van wat op sy onthulling sal volg: die goddelike vergelding van die goddelose wat dan sal plaasvind. Dit sluit af met die gebeure wat sal plaasvind op die dag van die Here – die verheerliking en bewondering van Christus deur al die gelowiges.

In verse 3-7 word die skrywers se verantwoordelikheid in verband gebring met hulle verhouding met God en met die gemeente. Die skrywers het as gestuurdes van die Vader en die Seun ‘n besondere taak. So sien ons die verband van hulle dank vir die geloof en liefde van die Tessalonisense, enersyds, en hulle roem andersyds vir die Tessalonisense oor hierdie gemeente se volharding en geloof onder swaar lyding.

Die apostel en sy medewerkers se gebed dat die gemeente oorvloedig word en toeneem in liefde is deur God verhoor. Hulle toenemde geloof en sterker liefde kon deur almal opgemerk word. Hulle geestelike groei vanaf die skrywe van die eerste brief was opmerklik oorvloedig en uitbundig. Hulle liefdebetoon was daarom ‘n vanselfsprekende saak en so het die rykdom van hulle gemeente-wees toegeneem. Die groei van die gemeente het rede vir dankbaarheid teenoor God gegee.

Die groei was God se gawe op voortdurende gebed. Die skrywers het God oor die gemeente gedank as ‘n vaste deel van hulle daaglikse gebed. Wanneer hulle stel dat hulle God altyd oor die gemeente moet dank, word dit duidelik dat gebed nie ‘n willekeurige saak is nie. En die gemeente moes dit nadruklik weet. Die gemeente se geloof en liefde staan in verhouding met die dank van die skrywers. Die gepaste verpligting om God te dank vloei voort uit die gemeente se opmerklike geloofsgroei. Die skrywers sou teenoor God in gebreke bly indien hulle Hom nie dank vir hierdie gebedsverhoring nie. 3 Om God te dank vir die geloof en liefde en die volharding in die kerk kan ook ons soveel uitleef in ons lewe onderling as gemeente met mekaar, in ons daaglikse taak waarin elkeen in die gemeente besig is, om van mekaar te verneem en vir mekaar te bid. Om mekaar toenemend vanuit die geloof en in die wederkerige liefde aan te sien in ons omgaan met mekaar maar ook in ons gebede tot God. Maar ook meeleef as gelowiges van hierdie gemeente met gelowiges van ‘n ander gemeente met hulle eie moeites, soos vir ons broers en susters in die sendinggemeente.

Die tweede brief aan die Tessalonisense word gekenmerk deur die klem op die gemeente se ewige troos en die goeie hoop wat hulle mag hê. Hiermee het die skrywers die gemeente se harte op die toekoms met die Heer Jesus Christus, gerig. Hulle het nie net God gedank vir die gemeente se geloof nie, maar hulle het hierdie Macedoniese gemeente as ‘n voorbeeld vir ander gemeentes voorgehou. Oor hulle geloof en liefde by die ander kerke geroem.

In hulle verdrukking en lyding word die gemeente se standvastige geloof duidelik. Hulle volharding en geloof word geroem, dit is hulle volharding as gevolg van hulle geloof in die situasie waar hulle daagliks verdruk word. Vervolging en verdrukking (4) het min of meer dieselfde betekenis. Hierdie gelowiges het aanvanklik gely onder hulle eie ongelowige volksgenote. Die eerste brief het dit gehad oor hulle lyding van die begintyd, wat hulle deurgemaak het toe hulle tot geloof gekom het, en die tweede brief gaan oor hulle voortdurende lyding wat nie afgesluit is nie, waar hulle vervolging en verdrukking dag vir dag verdra. Die lewensweg van die gelowige lesers is ‘n lydensweg. En ja alhoewel die gelowiges hier veral in hulle vervolging en verdrukking deur die ongelowiges bemoedig word, bemoedig dit ons in alle lyding. 

Na die vertrek van Paulus en sy medewerkers destyds van Tessalonika af het hulle voortgegaan en die gemeente steeds aangemoedig om in hulle lyding te volhard.

In vers 5 het Paulus in sy roem oor hulle ‘n teken of bewys gehad wat aangedui het dat God se regverdige oordeel die lesers geskik sal vind vir die koninkryk waarvoor hulle op die oomblik ly. Hulle bestaan as gemeente van God wat ly onder verdrukking, gee aanleiding om God te dank. Nou is die vraag: Is vervolging en verdrukking as sodanig bewys van hulle geskiktheid? Nee. Maar hoe kan hulle dan moed hou? Die bewys is in die reaksie van die Tessalonisense op hulle situasie, naamlik hulle standvastigheid in geloof. Om te volhard.

Petrus het in sy brief beskryf hoe die tyd van die oordeel reeds aangebreek het. Hy sien dat die oordeel van God in die eie huis van God begin. Hy vra: maar as dit by ons begin, hoe sal dit afloop met die wat ongehoorsaam bly aan die evangelie van God? As die regverdige ternouernood gered word, wat van die goddelose? 1Pet 4:17-18. Die Tessalonisense se lyding, maar dan spesifiek hulle standvastigheid in hulle lyding gee ons besef van God se regverdigheid, wat elkeen loon gee volgens elkeen se werke. Die lyding van die regverdige lei ons hieruit af, wys die weg na die komende ryk, is die weg van die komende ryk. Dit is voorbereiding vir die loon van die toekomstige heerlikheid. Dit is ‘n herinnering dat daar ‘n omkering sal plaasvind, die verdrukkers sal deur God verdruk word, en die verdrukte of lydende gelowiges sal deur God verlig of verkwik word. So is die verdrukking en die volharding in die moeitevolle situasie vir die Tessalonisense ‘n bewys dat God sal oordeel en dat Hy regverdig sal oordeel.

Wat die mense ook mag sê of vrees, by God is vergelding ‘n saak van reg en ‘n onveranderlike reël vir sy regverdige optrede. Daarom mag die verdrukte gelowiges nou twee dinge verwag. Een: Regverdige vergelding vir die vervolging, dit is verdrukking deur God van die verdrukkers. Twee: Regverdige herstel deur God: dit is verligting of verkwikking van al sy verdrukte gelowiges.

In hierdie hoopvolle verwagting is die skrywers een met die lesers. 1Tes 2:15, 3:7, 2Tes 3:7. Eenmaal sal alle gelowiges vry wees van die lyding wat hulle nou nog moet deurstaan. 2Tes1:7. Hulle het nou reeds vanuit hulle verdrukking uitsig op God se koninkryk, vers 5. Dit is die einddoel waarin die hele volk van God sal deel. 

Die koms van die dag van die Heer is hier in die oog, maar nee die weerkoms van Christus het nog nie plaasgevind nie. Die gemeente word op die oomblik nog beproef om behou te word. So het die lyding van gemeente en skrywers betekenis met die oog op die koninkryk wat kom. Die verdrukking van die gelowiges is ‘n krisis in die geskiedenis en ‘n teken dat die einde en die oordeel, wat in God se hande is, hier is. Dit is nie maar iets wat toevallig gebeur nie. Dit is nie maar van verbygaande aard nie. Dit is nie terloops nie. Nou reeds gaan die weë uiteen. God se geregtigheid sal seëvier, die bewys dat Hy regverdig oordeel.

Vir die verdrukkers van die gemeente beteken dit hulle val. Hulle het geen toekoms nie. Maar vir die gemeente wat nou verdruk word, hou dit in verligting, verkwikking, rus, verademing. In hierdie vreugde deel die gemeente met Paulus en sy medewerkers.

2.    Ons word deur die uitsig op die onthulling van Christus verligting gegee in ons lyding en verdrukking

In die tweede deel van vers 7 wissel nou die onderwerp. Nie langer gaan dit alleen oor God wat regverdig die verdrukkers van die verdrukte gemeente vergeld nie, maar die fokus is op die verheerliking van die Heer Jesus Christus, die onthulling of openbaring van Jesus Christus uit die hemel wanneer Hy kom. Sy onthullende verskyning (apokalupsis)(wat openbaring, onthulling, verligting beteken in die sin van die oorwinnaar wat tevoorskyn tree – want sy lig sal deur alles dring) sy onthullende verskyning vind plaas op daardie dag, vers 10, die dag van die Here. Sy verskyning sal wees vanuit die verborgenheid van die hemel, begelei deur sy engele. Dit is vanuit die hemel waar die koms van die Heer verwag word. 1Tes1:10, 4:16.

By sy onthullende verskyning sal die Heer hom laat vergesel deur sy magtige engele uit die hemel. Letterlik: engele van sy mag: dat hulle die hemelse mag en majesteit van Jesus Christus verteenwoordig. As engele leër of as engele deur wie die Heer sy mag uitoefen. In Christus se werk van wraak om aan God se regverdige oordeel te voldoen, is hulle engele van wraak. Die verskyning van Christus as hemelkoning, sal plaasvind in ‘n vlammende vuur. Dit is tipies van God se verskyning deur die geskiedenis van die Skrif, soos Hand 7:30, Ex 3:2. Maar veral Jes. 66. Jes 66:15, 16:  Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos ‘n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.  Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees. 

Want daar gaan van God se koms om die straf uit te voer ‘n geweldige bedreiging vir sy vyande uit. ‘n Goddelike uitvoering van straf sal plaasvind, waarby Hy die kwaad in die wereld met vuur en swaard bestry. Vuur staan vir sy hemelse verskyning, vir die hitte van sy toorn, vir die wegbrand van die goddeloosheid. Met die swaard sal hy die oordeel voltrek. So sien ons ook in Openbaring: hoe die verheerlikte Heer verskyn in majesteit, oë vlammend soos vuur. Op 1:14, 2:18, 19:12.

So sal die goddelike wraak by die eindgerig plaasvind. Daar kom vergelding vir die onreg, vir die verdrukking van God se volk, en vir die aantas van God se Naam. Ons kan dit beskryf in terme van ‘n strafekspedisie vanuit die hemel om op aarde die reg te herstel en te handhaaf. Daarin sal die Heer Christus namens God optree as wreker van die kwaad 1Tes4:6. Vergelding is oor hulle wat God nie ken nie en wat die evangelie van die Heer nie gehoorsaam nie. Dit wys op nie-jode wat God nie ken nie en jode wat die evangelie van Jesus die Messias nie gehoorsaam nie. 

Die term: “Evangelie van ons Heer Jesus”, vers 8, kom nie elders in die NT voor nie. Dit dui op die evangelie wat deur Jesus Christus verkondig is. Soortgelyk aan 2:14: God het julle geroep deur ons evangelie, dit dui op die apostoliese verkondiging. Jesus Christus is die uitvoerder van God se vergelding. Die Jode en nie-jode weier om die evangelie te gehoorsaam waarvan Christus die eerste verkondiger en die hoofpersoon is. Verwerping van die evangelie van Christus is om God self te verwerp.

Misdaad teen God word gestraf. Dit sal ook die lot wees van die wat die gemeente verdruk. Hulle gaan definitief hulle ondergang tegemoet. Die eindgerig dra swaar aan dood en verderf. God se oordeel sal geen einde hê nie.

In vers 9 word die straf omskryf: dit bestaan uit die verwydering uit die omgewing van die Heer, ver van sy aangesig en sy magtige heerlikheid..(Jes 2:10). Wat hier gebeur is dat die ewige onheil word deur God se goddelike teenwoordigheid en heerlikheid teweeggebring. Soortgelyk 2Tes2:8: Die wettelose word ontwapen by die verskyning van die Heer. Christus se koms sal ‘n definitiewe einde maak aan sy wettelose teenstaanders. Uit die OT is dit reeds duidelik: Daar is ‘n duidelike verband tussen God se heerlikheid en sy toorn. Die Heer skitter in die oorwinning oor alle vyande van sy volk. So is dit duidelik: voor die aangesig van die Heer word die onderdrukkers van sy gemeente gestraf. Die vyande se konfrontasie met Hom bekragtig hulle finale ondergang.

Die koms van die Here sal ‘n dubbele effek hê: sy heerlikheid sal alle teenstaanders ontwapen en onskadelik maak en vir ewig straf, maar Hy sal ook vir ewig verheerlik en bewonder word, verheerlik in sy heilige kinders, en verheerlik deur sy kinders, bewonder in almal wat glo. 9 en 10. Dus verheerlik deur sy heiliges en bewonder deur almal wat tot geloof kom. Ons kan dink aan die aanskouing en eerbetoning deur sy gelowige kinders. 

Die skrywers bemoedig hulle: Julle Tessalonisense, is deel van alle gelowiges. Ons getuienis aangaande Jesus Christus het by julle geloof gevind. Nou: Hier word ook ons, gemeente gebring by die apostoliese verkondiging wat in ons teks toegespits was op die besondere situasie van Tessalonika, en waar ‘n gemeente van Christus te midde van die heidendom totstand gekom het. Vir hierdie gelowiges wat so volhard het in verdrukking sal daar ewige verkwikking kom. Die gemeente was altyd verdruk in die belewing van die volheid van die heerlikheid van Christus, maar nou word hulle in sy heerlikheid opgeneem. Let op die Heer, Hy soek sy verheerliking nie buite die gemeente van heiliges om nie. Hy soek geen verheerliking op Homself, maar juis in die werk wat Hy in en met sy heiliges doen. Hy wil verheerlik word saam met hulle aan wie Hy regdoen en wat Hom ken en eer. Deur sy werk en deur hulle volharding in geloof word die doel bereik, dat God alle eer kry. Christus sal met verwondering aanskou word in almal wat tot geloof gekom het. Hulle wat heiliges genoem word. 

3.    Ons kan deur die verwagting dat God ons op grond van sy roeping van ons, waardig ag, Christus verheerlik

Die skrywers sluit hierdie bemoediging van ons teks met ‘n gebed vir die gemeente. Paulus en sy medewerkers deel aan die lesers die inhoud van hulle gebed mee. Te alle tye bid hulle met groot verwagting dat God hulle verhoor, vir die Tessalonisense. So kan die gemeente bemoedig word en daarby aansluit. So reeds in 1Tes1:2. Daar was baie rede om God te dank en daarmee hou hulle aan. Hulle danksegging gaan nou oor in ‘n gebed , werklik voorbede vir die gemeente. En dit sluit aan by die voorafgaande verse, waar die toekomstige lot van gelowiges en ongelowiges onder woorde gebring is. Hy wat julle roep is betroubaar Hy sal dit ook doen. Hulle roeping was gerig op hulle lewensheiliging in die wereld en op die heerlikheid van God se koninkryk. Dus skrywers se gebed vir die gelowiges: dat ons God julle die roeping waardig maak. Dit is duidelik dat God hulle deur die evangelieverkondiging geroep het tot verkryging van die heerlikheid van Jesus Christus 2 Tes 2:14. Hulle christelike lewenswandel moet nou ooreenstem met die roeping waarmee hulle geroep is. Die gebed is daarom dat God die lewe van sy gemeente in ooreenstemming met sy roeping van hulle beoordeel (dus hulle beoordeel vanuit sy werk in Christus aan en met hulle). Elkeen wat glo kry op die manier ‘n verantwoordelikheid, ja. Maar let op die ryke vertroosting, die gelowiges sien daarom met verlange en nie met skrik nie, uit na Christus se onthulling, en die oordeel van God.

God wat roep maak dit moontlik. Daarom bid die apostel dat God alle geroepenes in Tessalonië sal vervul met alles wat goed is, om vanuit die genade in die geloof in Christus en die eer van God te glo en te leef. Die verwagting van die gebed is dat wat die Almagtige doen, gebeur effektief, in krag, volkome. Dit dui op die krag of dinamiek van die Heilige Gees. Wat sy vrug laat ryp word in die lewens van gelowige mense....Wat ‘n bemoediging is dit vir ons, gemeente.

Alle voorneme in geloof is voortvloeiend uit God se roeping, en Hy gee dat ons dit so mag uitleef. Hy veroorsaak ons goeie wil en maak ons geloof werksaam en dra ons in Christus. Fil. 2:12-13. Daarom sal altyddeur skrywers en gemeente hulle tot God wend om hierdie gawe te verkry. 

Doel van alles is die verheerliking van die naam van Jesus ons Heer. In die sig dat Hy in die Tessalonisense werk en hulle in Hom bly. Terwyl Hy sy naam vestig in hulle lewens en hulle verwagting op Hom stel, deel hulle meer en meer in sy heerlikheid. Die sig op Jesus Christus se weerkoms met heerlikheid en die verwagting daarvan is die goddelike weg om die gemeente te verlig of te verkwik terwyl hulle ly onder verdrukking. Gemeente, Laat ons dan ons oog op Christus hou, op Hom wat onthul gaan word, en op God wat ons geroep het en wat regverdig is, sodat ons vandag reeds so onder lyding en verdrukking, verligting, verkwikking, rus, verademing van Hom ervaar.

Amen.

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Gemeente genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen.

Sing: Psalm 48:4

Lees van die wet: Eksodus 20

Sing: Psalm 16:1

Gebed

Skriflesing: Jesaja 66:5-16

Sing: Psalm 66:7

Teks: 2 Thessalonicense 1:1-12

Preek

Amenlied: Psalm 118:1,2,3

Gebed

Kollekte

Sing: Psalm 149:1,2,4

Uitspreek van die seën
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. 

Sing Amen