Deur die verhaal van Jona leer ons om God Gód te laat, en só kry ons ‘n hart vir die nasies

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-04-25
Teks: 
Jona
Verwysing: 
Profete-Projek 5
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Vanaf Deuteronomium 18 (die instelling van die profete-amp) het ons via Moses, Samuel en Elia nou gekom by die sogenaamde Skrifprofete (= daardie profete wat ‘n Bybelboek nagelaat het wat na hulle vernoem is – dus, Jesaja tot en met Maleagi). U sal verstaan dat ons nie elkeen van hierdie Skrifprofete hoofstuk vir hoofstuk kan deurwerk nie – dan sal ek waarskynlik teen my emeritaat nog steeds besig wees. Ek gaan daarom probeer om van elke profeet ‘n oorsig te gee en die belangrikste temas te behandel.

Die eerste profeet waarna ons gaan kyk, is Jona. Hoekom Jona?, wonder u dalk. Jona staan mos nie eerste in die ry van profete in ons Bybels nie? Wel, daar is veral twee redes om wel met Jona te begin. Die eerste is baie eenvoudig: vir sover dit moontlik is om vas te stel, is Jona chronologies die eerste van die sogenaamde Skrifprofete. Dit wys al vir u dat ek, soos wat ons deur die profete gaan werk, ‘n chronologiese orde gaan volg – en dit is nie dieselfde as die volgorde wat ons in ons Bybels vind nie. ‘n Chronologiese benadering het die voordeel dat ons, saam met die profeet wat ons behandel, ook die plaaslike en internasionale konteks van daardie tyd leer ken – waarsonder ons die profete in elk geval nie na behore kan verstaan nie. Dus, dit is die eerste rede hoekom ons met Jona begin: hy is chronologies die eerste.

Die tweede rede is eintlik ook voor die hand liggend: en dit is dat Jona anders lyk as die ander Skrifprofete. Die boek Jona is die enigste van die Skrifprofete wat amper volledig uit narratief bestaan – Jona is ‘n verhaal! ‘n Wáre verhaal, maar nogtans ‘n verhaal, sonder al die profetiese taal en beelde wat ons in die ander Skrifprofete teëkom. Die enigste werklike profetiese uitspraak wat ons in hierdie boek vind, is Jona se profesie in hoofstuk 3:4: “Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes” (sewe woorde in ons vertaling, vyf woorde in die Hebreeus) – dis al. Nou, hierdie fokus op die verhaal én veral op die wonderdade in die verhaal (dink aan die storm, die vis, die wonderboom en die wurm) herinner ons aan die laaste van die nie-Skrifprofete, Elia en Elisa. In die beskrywing van húlle profetiese arbeid is die fokus ook primêr op die verhaal en op die wonders. En dit maak van Jona ‘n soort oorgangsfiguur – vanaf die nie-Skrifprofete na die Skrifprofete. Hy deel eienskappe met die nie-Skrifprofete wat vóór hom was, maar hy het ook ‘n belangrike boodskap vir die Skrifprofete wat ná hom kom. Twee redes, dus, hoekom ons vandag met Jona begin. En ek het die tema vir die preek soos volg saamgevat:

Deur die verhaal van Jona leer ons om God Gód te laat, en só kry ons ‘n hart vir die nasies.

 

Jona lewe tydens die regeringsperiode van koning Jerobeam II. Nou moet u oppas dat u hierdie Jerobeam nie met die eerste Jerobeam verwar nie. Jerobeam I was die heel eerste koning van die tienstammeryk (kort ná die skeuring van die ryk), maar hy het ongeveer 150 jaar vóór Jerobeam II regeer. Jerobeam II regeer in die eerste helfte van die 8ste eeu voor Christus; om presies te wees: vanaf 793 tot 753 vC. Nou weet ons vanuit 2 Konings 14:25, wat ons saam gelees het, dat Jona gedurende hierdie einste tyd geprofeteer het oor die uitbreiding van Israel se grondgebied – hierdie vers is, terloops, die enigste ander plek in die Ou Testament, buiten natuurlik die boek Jona, waar ons die naam van Jona die seun van Amittai teëkom. Sy profesie, wat die Here hom laat uitspreek het, het waar geword toe Jerobeam die grondgebied van Israel herower het van die ingang na Hamat af tot by die see van die Vlakte (2 Kon. 14:25).

Dit is eintlik opmerklik dat die Here Jona so ‘n positiewe boodskap laat uitspreek en dit vervolgens ook laat realiseer. Want dis nie asof koning Jerobeam of die volk hierdie herowering van grondgebied, wat in Salomo se dae laas aan Israel behoort het, verdien het nie. Inteendeel, ons lees in vers 24 dat Jerobeam gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here; hierdie tweede Jerobeam het nie afgewyk van al die sondes van die eerste Jerobeam nie. En tog, hoewel die volk die Here se straf en oordeel verdien het, gee die Here nog uitstel van sy oordeel; vers 27: “En die Here het nog nie gespreek dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitdelg nie; daarom het Hy hulle verlos deur Jerobeam...” En wat daarna volg is ‘n tyd van groot vrede en welvaart in Israel. Die volk het nie regtig te kampe met agressiewe vyande nie (hulle grootste bedreiging, die Assiriërs, is besig met ander gevegte), hulle kan die versterkte stede opbou, die ekonomie uitbou, en met diplomasie hulle eie posisie in die internasionale politiek verseker. Dit gaan uiterlik goed met Israel onder Jerobeam II.

 

En dit is in hierdie tyd van uiterlike vrede en voorspoed dat die Here vir Jona na Ninevé (die hoofstad van Assirië) toe stuur om daar te gaan preek. Uit sy reaksie blyk duidelik dat Jona nie baie opgewonde was om hierdie opdrag uit te voer nie. En hoekom sou hy? Hy was gewild in Israel – dit was immers sy profesie wat tot Israel se gebiedsuitbreiding gelei het. Ja, hy het op ‘n sekere manier heldestatus in Israel geniet! En sy vervulde profesie het ‘n goue era in Israel se geskiedenis ingelui – daar was vrede, daar was voorspoed. En nou moet hy 800km ver na die heidene gaan om daar te gaan preek!? En nie net was hulle heidene nie, maar hulle was ook nog ‘n potensiële bedreiging vir Israel. Nee, Jona sien nie die nut daarvan in nie. Hy was heeltemal bereid om die hoopvolle woord te spreek dat Israel se grondgebied uitgebrei sou word, maar om nou ‘n boodskap aan die heidense Nineve te gaan bring waardeur húlle dalk óók in God se genade kan deel!? Ja, glo dit of nie, maar dit was uiteindelik Jona se bekommernis – kyk maar na hoofstuk 4:2, waar Jona uiteindelik die rede gee hoekom hy onwillig was om God se opdrag uit te voer: “... ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.” Dat Israel God se genade mag ervaar – wonderlik, húlle was immers die uitverkore volk! Dat die heidene daarin mag deel?! Nee, dan maar eerder wegvlug.

En wat ons nou moet raaksien, gemeente, is dat Jona se reaksie op die Here se opdrag – en sy hele optrede daarna – in werklikheid verteenwoordigend is van die gees wat onder die volk Israel geheers het. Jona se hele optrede maak duidelik hoe dit werklik in Israel gegaan het. Ja, daar was uiterlik vrede en voorspoed in Israel, maar Jona se optrede lê die geestelike bankrotskap in Israel bloot – ‘n bankrotskap wat uiteindelik sou lei tot die ballingskap van die tienstammeryk in die jaar 722 vC deur die einste Assiriërs na wie Jona gestuur word. Ek wil probeer om hierdie bankrotskap vir u aan te toon met behulp van die twee tekste wat ek gekies het – Jona 1:9 en 3:4. Ons begin met hoofstuk 1:9.

---------------------

In plaas daarvan om die lang reis na Ninevé aan te pak, gaan Jona af na Jafo, vind daar ‘n skip, en vlug na Tarsis. Tydens die reis bring die Here egter ‘n groot storm, en die skip loop gevaar om skipbreuk te lei. Die matrose is doodsbenoud! En Jona? Jona lê en slaap. Uiteindelik kom maak die kaptein vir Jona wakker met die versoek of hy asseblief tot sy God wil bid, net soos wat hulle alreeds tot hulle gode gebid het. En dis eers wanneer Jona deur die lot as die oorsaak van hierdie storm aangewys word, dat hy bely: “Ek is ‘n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het” (Jona 1:9)

Dis ‘n belydenis, en baie trots spreek Jona hierdie belydenis uit. Maar vervolgens blyk duidelik dat hierdie belydenis baie min in sy lewe beteken het, dat Jona die betekenis en impak van hierdie belydenis in die konkrete lewe nie verstaan het nie. Jona bely in hoofstuk 1:9: “die HERE is die Skepper van die see en die droë land”, maar intussen – ironies en lagwekkend genoeg – probeer hy om per skip van hierdie Skepper af weg te vlug. Dis asof die werklikheid van Psalm 139, wat ons saam gesing het en wat Jona sonder twyfel geken het, totaal uit sy teologie verdwyn het: “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? ... Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.” Jona, jy bely die Skepper, maar jy dink dat jy met ‘n skippie van Hom af kan wegvlug!? Jona, kyk dan na die matrose! Hulle reageer met ontsag op die boodskap van hierdie Skepper-god se soewereiniteit (1:10-11). Hulle wys respek vir die lewe wat hierdie Skepper gemaak is, wanneer hulle – in weerwil van Jona se advies om hom oorboord te gooi – eers probeer om terug land toe te roei (1:13). En wanneer hulle hom ten einde raad wel oorboord gooi, bid hulle om vergifnis (1:14). En wanneer die storm vervolgens bedaar, bring hulle ook nog ‘n offer (1:16), terwyl ons tot aan die einde van hoofstuk 2 moet wag voordat Jona uiteindelik sy offer aanbied.

Ja, Jona bely: “die HERE is die Skepper”, maar wanneer hierdie Skepper in hoofstuk 4 met sy skepping maak wat Hy goeddink – eers ‘n wonderboom laat opkom en daarna ‘n wurm stuur wat die wonderboom steek sodat dit verdor – dan is Jona kwaad. Hy het selfs die vermetelheid om te sê: “Ek het rede om vertoornd te wees oor die wonderboom, vertoornd tot die dood toe” (Jona 4:9). Maar Jona, wat dan van jou belydenis? Wat van die Skepper wat jy bely? Ja, gemeente, Jona verkondig die HERE as die God van die hemel en die Skepper van see en droë land, maar in sy lewe het daardie belydenis nie uitwerking gevind nie, nie prakties hande en voete gekry nie – dit was ‘n belydenis met die mond, maar nie met die hart of met die hande nie. Wat is so ‘n belydenis dan nog werklik werd?!

 

Daarteenoor verkondig die Here self in alles wat in hierdie boek gebeur: Ek is inderdaad die Skepper, maar meer nog, Ek is ook lief vir my skepping – nie net vir die mense nie, maar ook vir die diere. Dis waarmee hierdie kort profete-boek selfs eindig: “Maar Ek mag Nineve nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (Jona 4:11) Selfs die vee het God se hart! Dit is hierdie Skepper wat die storm gestuur én tot bedaring gebring het; dit is Hy wat daardie groot vis presies op die regte tyd en plek geplaas het om Jona in te sluk, wat vervolgens gesorg het dat die maagsure Jona nie verteer nie, en wat uiteindelik opdrag gegee het dat die vis vir Jona moet uitspoeg; dit is hierdie Skepper wat die wonderboom gegee het sodat sy kind, Jona, daaronder kan skuil; dit is hierdie Skepper wat Hom selfs oor die vee in Nineve bekommer het. Sien u, Jona het ‘n belydenis gehad – mooi, duidelik: my God is die Skepper – maar wat beteken dit nou prakties, Jona? As dit inderdaad jou belydenis is, staan jy dan ook daarvoor oop dat God werklik die Skepper is, die Almagtige wat kan doen wat Hy goeddink, of het jy Hom in jou belydenis opgesluit? Laat jy Hom toe om die soewereine God te wees, of het Hy ‘n persoonlike godjie geword wat jy in jou mag het?

Iets soorgelyks sien ons in die tweede teks, Jona 3:4, waar ons lees: “En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes.” Hierdie keer vlug Jona nie weg soos die eerste keer nie, maar doen hy waartoe die Here hom opdra. Hy gaan preek die boodskap van God se oordeel. Maar weereens blyk dat Jona die boodskap wat hy verkondig self nie verstaan en sy eie gemaak het nie. Want wanneer die koning en inwoners van Nineve hulle op grond van sy boodskap bekeer en God besluit om nie meer die oordeel oor hulle te laat kom nie, is Jona skielik ontstemd en kwaad daaroor. Hy blameer die Here: dis hoekom ek in die eerste plek weggevlug het, sê hy! Ek weet dat U ‘n barmhartige en genadige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid (4:2). Hierdie bekering en die Here se genade is vir Jona só onverkwiklik dat hy selfs wil sterwe (4:3). Jona het ‘n boodskap van oordeel, maar daar is by hom geen ruimte vir God se genade in geval van bekering nie.  

 

Sien u, gemeente, Jona se teologie – wat na vore kom in sy belydenis in hoofstuk 1:9 en in sy verkondiging in hoofstuk 3:4 – het êrens ‘n fundamentele fout. In beide gevalle beperk Jona God tot sy eie smal verstaan, sit hy God in die boksie van sy eie beperkte begrip. Ja, hy bely God as die Skepper van alle dinge, maar terselfdertyd staan hy nie oop daarvoor dat hierdie Skepper verlossing aan heidene kan gee nie, en beperk hy die verlossing slegs tot Israel. Ja, Jona was onder die indruk dat, omdat God Israel uit al die bose nasies uitverkies het, daarom móét Hy genade aan Israel bewys, selfs wanneer hulle rebels is. En dít terwyl die ongelowiges wat hulle wel tot die Here wend (die matrose en die inwoners van Nineve) nie in sy genade mag deel nie. Jona bely: God is die Skepper. En dan sê die Here: Dis reg, Ek is die Skepper, maar Ek is ook lief vir my skepping. Jona verkondig: God is die Regter wat gaan oordeel. En dan sê God self: Ek is inderdaad die Regter wat gaan oordeel, maar Ek is ook genadig en barmhartig wanneer daar bekering is.

Broers en susters, hierdie geskiedenis van Jona bevat ‘n baie ernstige waarskuwing aan alle gelowiges, ook aan ons vandag. Dit kan so maklik gebeur dat ons belydenis reg is, dat ons verkondiging suiwer is, dat ons ortodoks is in die leer, maar dat ons God in daardie leer opsluit en beperk. Dat ons Hom in ons belydenis-boksie sit waarin ons Hom nie meer toelaat om God te wees nie! En wanneer ons God op so ‘n manier inperk, dan sal ons ook nie meer die seën raaksien van hoe God in sy hele skepping werk nie, dan sal ons nie meer die seën raaksien van hoe God sy genade ook buite die onmiddellike verbondsgemeenskap uitdeel nie. Want terwyl Jona gespanne besig was om te bid vir sy eie verlossing uit die vis, was die matrose al drie dae lank besig om met blydskap die genade en liefde van die Here te smaak; terwyl Jona kwaad en misrabel buite Nineve gesit het, het die mense van Nineve hulle daarin verbly dat God sy oordeel van hulle afgewend het. Maar Jona het geen oog daarvoor gehad nie, want in die klein boksie waarin hy God geplaas het, was daar geen ruimte vir so ‘n God nie.

Die boek Jona leer ons daarom om God te erken in sy vryheid, broers en susters, in sy soewereiniteit, en in sy almag. Hy is die Skepper van alles, en as Skepper is Hy vry om te doen wat Hy goeddink. Sy almag strek oor die hele skepping (dink maar aan die storm, die vis, die wonderboom en die wurm), maar sy almag strek ook oor die verlossing. God kan daarom nooit gebind word nie – ons kan Hom nie bind aan ons belydenis nie (hoe waar en onmisbaar en dierbaar daardie belydenis ook al is), ons kan Hom nie bind aan ons teologiese verstaan nie, ons kan Hom nie bind aan ons godsdienstige praktyke nie. Ons kan Hom ook nie bind aan “ons” kerk nie; ons mag nie! Die Here is vrymagtig om sy kinders op enige plek te versamel, en op maniere wat vir ons onortodoks lyk. Sy maniere kan ons soms laat frons en na die kerkorde gryp – is dit wel hoe dit hoort? Maar ons moet Hom God laat – Skepper en Verlosser!

 

Dis waar, Jona het hom verbly oor sy eie bevryding uit die binneste van die vis (2:9) en hy het hom verbly oor die wonderboom waarvan hy kon geniet (4:6), maar intussen het hy uitgemis op Gód se blydskap om die matrose te kan red, en om die stad Nineve van sy oordeel te kan spaar. En dit was nie slegs Jona se probleem nie – dit was Israel se probleem! In haar voorspoed en vrede was Israel so vasgevang in haar eie nasionalistiese verstaan van die verlossing dat sy God in haar boksie opgesluit het en die nasies uit die oog verloor het. Sy het vergeet van die verbond met Abraham, waarin die Here Abraham tot ‘n seën vir al die nasies gestel het: in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word! En dít word dan ook ‘n refrein in feitlik al die profete wat ná Jona gekom het; hulle moes leer uit Jona se eensydigheid. En daarom betrek hulle voortdurend die nasies in hulle verkondiging – in God se straf, dis waar, maar ook in sy seën! Jesaja 2:2-3:  En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob...” Sagaria 8:20: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek.” En daar is nog talle ander voorbeelde! Elke keer weer wys die profete: die nasies, die nasies, die nasies... Maar Israel het dit vergeet; sy het haarself opgesluit in haar eie nasionalistiese verstaan van skepping en verlossing. En wanneer Jesus Christus as die vervulling van al hierdie profete uiteindelik op aarde kom, en die leiers niks van Hom wil weet nie, dan gee Hy vir hulle die teken van Jona in die vis, en waarsku Hy hulle: “Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en – meer as Jona is hier!” (Mt. 12:41) Dít wat voortdurend deur die profete verkondig is, word deur Christus bevestig... en verwerklik. Hy breek Israel oop, uit haar kokon van isolasie en Hy laat Israel na die nasies gaan: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies!

 

Broers en susters, in die boek Jona wys die Here dat – ten spyte van Jona se beperkte en eensydige visie – dat sy belange en sy genade oor die hele skepping uitstrek. En ons moet dit weet en hoor: As ons God Gód laat en ons oë oopmaak vir sy genade en liefde vir sy hele skepping, dan word ons vry om sy liefde te bewys aan alle mense en diere, en om sy goeie boodskap te verkondig aan alle nasies. Maar andersom, as ons God aan onsself bind, aan “ons” kerk, aan ons beperktheid, dan bind ons daarmee uiteindelik net onsself. Dan bind ons onsself aan ons eie kerklike reëltjies, aan ons eie gebrekkige verstaan van die Evangelie, aan ons eie beperktheid as mense. Dan kom gedagtes op soos: die VGK is DIE ware kerk, en dan verloor ons oog vir die werk van die Here op so baie ander plekke in ons land. Dan raak ons blind vir hoe Hy werk selfs buite die bestaande strukture van die kerk. Dan word sending slegs iets vir die sendeling en die sendingskommissie. Gemeente, laat hierdie woord ons wakker maak! Ons het so baie ontvang, ons is so ryk geseënd! Maar het ons nie dalk, soos Israel, begin om daardie rykdom in ons eie klein kringetjie op te sluit nie? Laat ons dan leer uit die profeet Jona – kom ons leer weer om God Gód te laat: die Skepper wat sy skepping liefhet; die Regter wat ook genadig is. Kom ons verkondig dit, kom ons leef dit. Kom ons staan daarvoor oop dat God soms anders werk as wat ons ken of dalk met mekaar afgespreek het. Kom ons sien God in sy genade aan die werk in ons omgewing, en kom ons raak met blydskap en groot dankbaarheid deel van sy beweging deur hierdie wêreld. Hierdie God – ons God, die Skepper, die Verlosser – kan nie gebind word nie. Dankie tog daarvoor, want as Hy wel gebind kon word, dan was Hy nie meer God nie. Sien sy voetspore, hoor sy stem, en volg gelowig waar Hy lei – sodat matrose en Nineviete, en ook Pretorianers (ryk én arm) sy stem kan hoor en gered kan word.

Amen

Liturgie: 

Votum: sing Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 139:2-4

Wet

Sing Ps. 45:9 en 10

Gebed

Lees:    2 Konings 14:23-29

            Mattheus 12:38-41

Teks: Jona 1:9 & 3:4

Sing Ps. 33:4

Preek

Amenlied Ps. 138:1-3

  • Afkondiging
  • Sing Ps. 143:1, 4 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 118:1, 2, 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.