Preek: Psalm 68:19-20
Die afgelope jaar is die moderne wêreldorde op sy fondamente geskud.
Uit die bloute het ‘n virus sy opwagting gemaak, wat nie net baie mense doodgemaak het nie, maar ook wêreldwyd onsekerheid en spanning veroorsaak het.
Spanning tussen regerings en hulle bevolking, tussen lande onderling.
Die verkeer tussen lande, veral die vliegverkeer, het grotendeels tot stilstand gekom.
Daar is lande waar hongersnood dreig, weer soos in die verlede in sommige lande in Noord-Afrika.
Veral in Noord-Korea begin mense te sterf as gevolg van gebrek aan voedsel, omdat die grens met China gesluit is.
Te midde van die pandemie vra mens jouself af of dit die mensheid enigiets geleer het.
Of daar enigsins verootmoediging ingetree het.
Of in die voormalig Christelike lande ‘n terugkeer na die kerk op gang gekom het.
Of aan Christus, wat sedert hemelvaart op die hemelse troon plaasgeneem het, weer die eer en aanbidding gegee word wat Hy verdien.
Tot op hede lyk dit nie of dit die geval is nie.
Dit lyk eerder of die pandemie veroorsaak dat nog meer mense die kerk die rug toedraai.
Dat die feit dat daar isolasie is, dat nie almal meer elke Sondag fisies kerk toe kan gaan nie, dat dit mense geestelik luis begin maak het, ten spyte van alle tegniese hulpmiddele wat daar deesdae tot ons beskikking is om in te skakel by eredienste.
Wat sal van die kerk van Christus op aarde oorbly, vra ons onsself soms vertwyfeld af?
Waar bly die eer aan Koning Christus, wat die aarde aan Hom verskuldig is?
Hoe lank gaan die verhoogde Messias Koning dit nog duld?
Wanneer kom die tyd dat Hy Hom gaan vererg?
Of, is die huidige Covid-19 pandemie nie dalk die begin daarvan, die begin van die welverdiende strawwe wat Hy oor die aarde begin uitgooi nie?
Swaard, honger en pes, die welbekende trio uit die Ou Testament, wat as ons dink aan die Bybelboek Openbaring, beslis nie net iets van die Ou Testament was nie.
Wanneer gaan Christus soos ‘n getergde reus opstaan, om die wat sy gesag hoon, hulle welverdiende straf te gee?
As gelowiges wat steeds die wederkoms van Christus verwag, wat intens daarna verlang, sien ons om ons heen die tekens van die tye.
Dit is ‘n rede vir verootmoediging, ‘n rede vir vrees, maar tegelykertyd is dit ‘n rede vir hoop.
Die Messias Koning se heerskappy gaan van krag tot krag.
Deur sy strawwe sit Hy die opstandige mensheid weer op hulle plek.
Tema: Die Messias Koning se triomftog
- Hy het opgestaan
- Hy het opgevaar
- Hy deel sy buit uit
- Hy het opgestaan
In Psalm 68 lees ons ook oor ‘n getergde reus wat opstaan.
God self.
God staan op, en sy vyande word verstrooi.
God staan op, en sy haters vlug halsoorkop weg.
Soos ‘n mens rook wegblaas, so verdryf God hulle.
Soos was wat smelt in die vuur, so smelt die goddelose weg, enkel deur die aanskouing van sy aangesig, sy almag, sy heerlikheid, sy heiligheid.
Alle konings van die aarde begin te bewe, as God aktief raak.
Hulle slaan uit voorsorg reeds op die vlug.
Inderdaad, almal hou hulle hart vas by dit wat besig is om te gebeur, as God opstaan.
As God sê:
Nou is dit genoeg te wees.
Nou is dit hoog tyd dat orde op sake gestel word.
Nou is dit oor en uit met die mensheid se opstand, teenoor God, maar ook hoe hulle God se uitverkorenes behandel.
In hierdie Psalm vergelyk die digter, Dawid, God met ‘n baie magtige koning wat opstaan.
Nie net in sy eie land nie, maar wat oor die hele bewoonde wêreld orde op sake stel.
Met so ‘n grootmoëndheid vergelyk Dawid die HERE.
Natuurlik styg God nog ver bo so ‘n koning uit.
In die HERE het die wêreld nie net te make met ‘n grootmoënheid, wat self ook foute begaan nie.
Maar ons het te make met die almagtige God, wat volkome regverdig en wys is in sy optrede.
En sy optrede hou dus in dat Hy van tyd tot tyd opstaan om sy vyande te verstrooi.
Om die goddelose soos was te laat wegsmelt.
Wat is God se doel hiermee?
God is nie net ‘n reus wat getreiter is nie.
Hy is, soos daar in vers 6 staan:
‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees.
Hy is Diegene wat aan gevangenes vryheid skenk.
Hy is Diegene wat aan die eensames ‘n huisgesin skenk om in te woon.
Ja daarom staan God op.
Onreg duld Hy nie vir ewig nie.
Hy laat nie toe dat die magtiges en brutales op aarde altyd hulle gang kan gaan nie.
God staan op, en Hy trek ten stryde.
En elkeen hou sy asem op, want nou gaan dinge gebeur.
Tog slaan nie almal op die vlug nie.
Die vromes is juis bly.
Want nou kom daar uiteindelik weer leefruimte, nou kan juis hulle opgelug asemhaal!
Vers 4: “Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.”
Hulle sing hulle Oppergeneraal toe:
HERE is sy Naam!
Ons Verbondsgod!
Hy wat trou is aan sy volk, al is hulle een van die swakstes en geringstes op aarde.
Hy verbind Homself juis aan elkeen wat nederig en sagmoedig is.
Wat in gehoorsaamheid aan sy wil in vrede met sy naaste wil lewe.
En juis hulle sing: “vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: Here is sy Naam” (vers 5).
Mens kan jouself indink hoe so ‘n oud-Oosterse Veldheer met sy oorlogsperde en oorlogswaens deur die woestynvlakte gejaag het.
Hoe hy die vyand agtervolg het, met sy tienduisende, duisend maal duisende strydwaens (vers 18).
Hy ruk op.
Lande maak hulle grense oop, hulle durf nie ‘n strooibreedte in sy weg te lê nie.
Dawid beskryf baie aanskoulik hoe dit alles gebeur.
Wat die uitwerking is toe God aktief geword, toe Hy opgestaan, toe Hy kant gekies het vir sy volk.
O God, sing hy, toe U voor uit volk uitgetrek het, toe het die aarde gebewe.
En elkeen, vriend en vyand, het toe geweet dat hulle moes ligloop.
Die vyand het die bewing van die aarde gevoel, en angstig uitgeroep:
O help!
Vir hierdie God is ek nêrens veilig nie.
Hierdie God wat selfs die aarde laat bewe.
Nêrens nie, selfs al sou ek wegkruip in die diepste grotte.
Maar Dawid sing nie net van ‘n aardbewing nie.
Hy sing ook van ‘n milde reën.
Vers 9: “Die hemele het gedrup voor die aangesig van God”.
“Met ‘n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei” (vers 10).
Geliefde gemeente, ons leer uit hierdie Psalm iets wat baie spesiaal is.
Aan die een kant sien ons hoe die aarde bewe.
Dit was ‘n doodstyding vir die vyande.
Aan die ander kant sien ons hoe God se volk juis geseën word.
Enersyds skakel God die natuur in teen die vyand – dink aan die aardbewings.
Andersyds skakel Hy die natuur in ten behoewe van sy kinders.
Dit laat mens terugdink aan die geskiedenis van God se volk met die uittog uit Egipte.
Dawid verwys self na hierdie voorbeeld.
Ook daar kan mens pragtig sien hoe God die natuurkragte ingeskakel het.
Enersyds het Hy Farao en sy leër laat verdrink in die see, andersyds sy volk juis deur die see heen gered.
Dink ook aan die tien plae in Egipte.
God het die natuur ingespan om Israel te bevry.
Die natuur het opgekom vir die volk van God.
Die aarde het die vrou te hulp gekom, soos dit in die boek Openbaring beskrywe word (Openb. 12:16).
Die vrou, wat Christus se gemeente is.
Skitterend, bemoedigend, hoe die Skepper, die Almagtige, in die brès tree vir die nederige en sagmoedige.
Sy geplaagde volk in Egipte.
Ja, Hy het opgestaan.
Hierdie woorde herinner aan wat Moses destyds in die woestyn telkens geroep het, as die ark weer afgeslaan is om verder te reis.
Dink aan Numeri 10:35:
“Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug.”
Gemeente, die geskiedenis spreek duidelike taal.
God het opgestaan.
Daaroor sing Dawid nou.
Nie net met die onderdrukking in Egipte nie.
Maar nou ook, in Dawid se eie dae.
Dawid mog ervaar hoe God sy nietige volkie beskerm het teen terroriste soos die Filistyne.
Dawid mog ervaar hoe God uiteindelik die heidene weggejaag het, sodat hy en die volk hulle kon vestig op Sion.
Dawid mog meemaak hoe die ark ‘n vaste plek gekry het in Jerusalem.
En daarom jubel hy nou:
“Geloofd sy die HERE! Dag na dag dra Hy ons; God is ons heil!” (vers 20)
So beskryf Dawid in hierdie Psalm met aanskoulike beelde hoe God opstaan, en wat die gevolge daarvan was.
Die gerug van sy koms het die vyande al laat wesmelt.
Maar God het nie net opgestaan nie, Hy het ook opgevaar.
- Hy het opgevaar
Dit word ook in hierdie Psalm beskryf.
Ons teks, vers 19, beskryf die triomfog, as die Veldheer terugkeer in sy stad.
Dit word bedoel met die woorde: “U het opgeklim na die hoogte.”
In daardie tyd het ‘n stad altyd op ‘n hoogte, op ‘n berg gelê.
Vir die mense van sy stad het hy buit saamgeneem, wat hy van die vyand gevat het, wat die vyande in die verlede van sy volk geroof het, en wat hy nou aan sy volk terugbesorg.
En agter hom aan het ‘n enorme stoet van krygsgevangenes gevolg.
Boewe wat die wêreld onveilig gemaak het.
Nou was hulle dreiging verby, want nou was hulle geboei met kettings.
En nou het die vrede in die land teruggekeer.
Nou kon die onderdruktes, die wese en weduwees weer ‘n rustige lewe lei, onder die bewind van hierdie Veldheer.
En daarom sê ons teks: “Geloofd sy die HERE!”
Hierdie God is vir ons ‘n God van bevryding.
Hy neem die dreiging van die dood weg.
Die dreiging van die dood ...
Ook vandag is dit nog orals rondom ons.
Nie net misdaad en geweld in ons land nie.
Nie net politieke spanninge wat weer wêreldwyd toeneem nie, dink aan wat lyk soos ‘n nuwe begin van die spanninge tussen Oos en Wes, ‘n nuwe Koue Oorlog.
Dink aan die verhouding tussen China en die Weste, wat steeds verslegter.
Maar ook die dreiging van siektes en peste en epidemies.
En dan het ons nog nie eers gepraat oor ons werklike aartsvyande nie:
Die Satan, die opstandige wêreld, ons eie sondige ou mens.
Ja, daar is doodsvyande reg rondom ons.
Maar dan troos juis woorde soos wat daar in vers 22 staan:
“Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel”.
Dit is nie ‘n verwysing na ‘n wrede God nie.
Maar dit is ‘n verwysing na ‘n God wat baie lank geduld gehad, wat met groeiende ongeduld gadegeslaan het hoe die chaos op aarde hand oor hand toeneem, hoe mense sinloos vermoor word, hoe weduwee en wees uitgebuit word.
En wat dan sê: Genoeg is genoeg!
Geloof sy die HERE, wat orde, rus en vrede op aarde herstel.
Vers 20, ons teks, is ‘n pragtige uitspraak.
Dit is ‘n jubelkreet wat juis op ‘n dag soos vandag – Hemelvaart – gepas is.
Die Skepper van hemel en aarde, wat die aarde laat beef, wat dit laat reën op sy bevel, hierdie grote God dra ook vir jou!
Hy, die Almagtige, ken jou, het jou lief, Hy lei jou lewe met vaste hand.
Hy het opgevaar.
Maar al sit Hy op sy hemelse troon, tog mag jy naby Hom leef, in ‘n verbond met Hom.
Sy Woord is naby jou.
Sy Woord is ‘n lig op jou lewenspad.
In Christus het ons nie ‘n verre God nie.
Hy is ons heil.
Dit is sy wil dat jy leef!
Dat jy nie verlore gaan in die ewige dood nie.
Sy heerskappy, sy regsorde, word deur ‘n opstandige wêreld ontken.
Maar Hy sal alle dinge herstel.
- Hy deel sy buit uit
Ons het vanaand ook ‘n gedeelte uit Efesiërs gelees.
Daarin beskryf die apostel Paulus hoe Psalm 68 in Christus vervul is.
In vers 8 verwys hy eksplisiet na Psalm 68.
Hierdie Psalm gaan nie net oor ‘n oud-Oosterse veldheer nie.
Hierdie Psalm gaan ook nie net oor wat God vir sy volk in die Ou Testament gedoen het nie, byvoorbeeld met die uittog uit Egipte, of in koning Dawid se tyd nie.
In hierdie Psalm profeteer Dawid, geïnspireer deur die Heilige Gees, juis oor God se eie Seun, Jesus Christus.
En Paulus wys die gemeentes van Christus in Klein-Asië daarop.
Na eeue van geduld, na eeue van groeiende verontwaardiging met dit wat op aarde gebeur, het God opgestaan.
Meer spesifiek: Hy het sy eie Seun na die aarde gestuur.
Hy, Christus, God se Gesalfde, het oorlog verklaar teen sy volk se grootste aartsvyand: die Duiwel, die sonde, en die gevolg daarvan, die dood.
Christus het die oorlog suksesvol gevoer.
Hy het gestry op aarde, Hy het gely, die stryd was swaar.
Maar Hy het die oorwinning behaal.
En Hy het opgestaan uit die graf.
Hy het self die dood finaal oorwin.
Hy het in ‘n ewige en verheerlikte liggaam opgestaan.
Met sy opstanding het Hy sy vyande verstrooi.
En nadat Hy opgestaan het, het Hy ook opgevaar.
Dit herdenk ons vandag, op hemelvaart.
En Hy het gevangenes gevange geneem.
Dink aan die duiwel wat uit die hemel uitgegooi is.
Wat aan die ketting gelê is.
En, skryf Paulus, met sy hemelvaart het Hy ook buit saamgeneem.
Dit wat die vyand in die verlede geroof het, dit het Hy teruggewen, teruggevat.
En daardie gawes, skryf Paulus het Hy weer aan die mense gegee.
Nou wat was hierdie buit?
Wat was dit wat Satan in die verlede geroof het?
Wel, ons kan dink aan wat Satan gedoen het, beginnende by die paradys.
Hy het veroorsaak dat Adam en Eva van hulle posisie as rentmeesters oor God se skepping afgeval het.
Hy het hulle verlei tot opstand teen hulle Skepper.
Hy het veroorsaak dat hulle uit die paradys verdryf moes word.
Hy het veroorsaak dat hulle hul volmaaktheid verloor het, hul sondeloosheid.
Hy het veroorsaak dat hulle hul onsterflikheid verloor het – die dood het sy intrede gedoen.
Hy het veroorsaak dat aan hulle die toegang tot die boom van die lewe geweier is.
Dit het Satan alles van die mensheid geroof.
Maar toe Christus opgestaan het, en toe Hy oorwin het, het Hy al hierdie geroofde gawes weer van Satan buitgemaak.
En met sy hemelvaart het Hy hierdie gawes saamgeneem.
En vanaf sy hemelse troon deel Hy hierdie gawes nou weer uit!
Hy herstel die mensheid weer in hulle oorspronklike staat van voor die sondeval.
Dit is wat Paulus aan die Efesiërs skryf.
Dink aan vers 7: “aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus.”
En dink aan vers 11: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, anders as herder en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus.”
Dit is juis in die liggaam van Christus, die gemeente, waar Christus sy gawes uitdeel.
Dit het begin op Pinksterdag, toe Christus vanaf sy hemelse troon die Heilige Gees uitgestort het.
En die Gees werk nou in die midde van die gemeente.
En die Gees deel die gawes uit, wat Christus buitgemaak het op die Satan.
So mag die nuwe lewe, die herstel van die paradyslike lewe, weer in die gemeente van Christus vorm kry.
Elkeen in die gemeente ontvang gawes van Christus, tot opbou van sy gemeente, elkeen na gelang van sy posisie in die gemeente.
Maar die grootste gawe wat elkeen van Christus ontvang, is die oorwinning op die dood.
Wie in Christus glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.
Die ewige lewe het Satan van die mens weggeroof.
Christus het dit weer buitgemaak.
En almal wat in Hom glo, ontvang dit van Hom.
Geliefde gemeente, besef u nou hoe ‘n belangrike feesdag Hemelvaart is?
Dit is ‘n Christelike feesdag wat deesdae aan die wêreld verbygaan.
Selfs baie kerke vier dit nie meer nie.
Maar ons vier dit, juis omdat dit die dag was waarop Christus teruggekeer het in triomftog na die hoogte, na sy hemelse woning.
Die dag toe Christus sy buite begin uitdeel het.
En tot op die dag van vandag word sy gemeente, almal wat in Hom glo, oorlaai met die gawes wat Hy uitdeel.
Ons staan in diens van Hom wat oorwin het.
Die toekoms is nie meer duister nie.
Die Satan is aan kettings.
En die dag gaan kom dat sy hoof verbrysel gaan word, dat Satan in die poel van vuur gegooi gaan word.
Dan sal ons Messias Koning se heerskappy oor die lengte en breedte herstel word.
“Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
Die angel van die dood is die sonde ...
Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.
Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Kor. 15:55-58)
Gemeente, laat ons op hierdie Hemelvaartsdag, 2021, te midde van die Covid pandemie, opnuut eerbied vir Hom kry.
Respek vir sy regsorde, sy heerskappy.
Ons lewe nog in ‘n gebroke wêreld.
Ook as Christene kan ons nie op onsself roem nie.
Maar ons voel wel sy kragte in ons lewe, hoe Hy in ons werk.
Hoe Hy selfs déúr ons werk, om sy koninkryk op aarde te herstel.
Soms raak ons moedeloos.
Hoe lank nog, Messias Koning?
Wanneer staan U weer op?
Maar laat ons bly hoop op Hom.
Saam met die voorgeslagte, God se volk uit die verlede, voel ons onsself verbonde as ons Psalm 68 sing.
Saam met almal wat deur die eeue vanuit die bodem van hulle hart gesing het, tot eer van God die Vader, en tot eer van sy Seun, ons Messias Koning:
“Geloofd sy God met diep ontsag, want Hy oorlaai ons dag aan dag met ryke seëninge.
Wie sou Hom dan nie dank bewys, die God van saligheid nie prys, met al die hemelinge!”
Amen.
Votum
Seën
Ps 68:1,2
Gebed
Skriflesing: Psalm 68
Ps 148:1,2
Skriflesing: Efesiërs 4:1-16
Ps 148:3-5
Teks: Psalm 68:19-20
Preek
Ps 68:9
Gebed
Geloofsbelydenis: HK Sondag 18
Ps 68:10,12,13
Kollekte
Ps 68:15,16
Seën