Met die Christelike lag kyk ons met heilige ironie neer op die omstandighede waarin ons leef!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-07-18
Teks: 
Psalm 37
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Driemaal in die Psalmboek lees ons van God wat ‘lag’ – Psalm 2:4 (wat ons saam gesing het), Psalm 59:9, en dan hier in Psalm 37:13: “Die Here lag oor die goddelose, want Hy sien dat sy dag kom.” Die rabbyne (dis nou die Joodse eksegete van die OT) het nie mooi geweet wat om met hierdie lag van hulle ernstige God te maak nie; sommige Christene weet ook nie. Pas dit wel by God om te lag? 

En wat dan van die lag van die gelowiges? Psalm 126:2: “Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel.” En: “Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag” (Luk. 6:21). Ken ons hierdie Christelike lag? Kan en mag ons op hierdie Sondagaand lag? Is dit vroom om in hierdie angswekkende tyd in ons land met ‘n glimlag op jou lippe aan die slaap te raak – om te lag oor al daardie plunderaars, oor die onbeholpenheid van ons regering, om te lag oor regulasies en noodtoestande, om te lag oor korrupte politici wat in die tronk sit? Ja, broers en susters, ons mág hieroor lag! 

 

Maar dan moet ons wel verduidelik wat ons hiermee bedoel! Want wat beteken dit dat God in hierdie omstandighede lag? Wat beteken dit dat óns in hierdie omstandighede mag lag? Hierdie lag beteken dat God (vir die eenvoudige rede dat Hy God is) én ons (omdat ons in Hom glo) bo die feite kan staan, en dat ons met ‘n sekere ‘heilige ironie’ op hierdie bose warboel wat hier om ons aangaan, kan neerkyk. Ja, dis wat hierdie lag beteken: heilige ironie! Ironie, soos jy moontlik weet, beteken dat wat op die oppervlak plaasvind, radikaal verskil van wat in werklikheid die geval is. En dit is hierdie heilige ironie wat ons laat lag. Ons lag – nie neerhalend nie, nie hoogmoedig nie, nie spottend nie, nie omdat ons nie die erns van die situasie raaksien nie – maar ons lag, want ons weet dat die dinge (die dinge wat tans in ons land gebeur!) in werklikheid so anders is en uiteindelik so anders gaan uitwerk as wat dit op die oog af lyk. En dit is so belangrik om as gelowiges dít te leer: ons moet weet hoe om, deur die geloof, bo die feite te kan staan!

Met die Christelike lag kyk ons met heilige ironie neer op die omstandighede waarin ons leef!

1. Dit bevry ons van toornigheid

2. Dit gee rus om ons lewens aan God oor te gee

3. Dit gee vryheid om ons naaste te dien

 

1. Almal van ons het in die afgelope week die beelde op televisie gesien: die plundering, die sinnelose vernieling, die geweld; moontlik het jy selfs die beelde gesien van liggame op die strate – oor die honderd mense wat gesterf het. Baie van ons het dalk geluister na wat die president oor hierdie situasie te sê gehad het. Watter emosies het dit alles in jou wakker gemaak? Woede, afsku? Dalk tussen die woede deur gevoelens van frustrasie – omdat jy baie van die dinge wat jy daar sien wegdra het, self ook nodig het of graag sou wou hê? Dalk het jou gevoelens met ‘n mate van rassisme gepaard gegaan? 

Dawid begin Psalm 37 met die oproep om nie toornig te wees op die kwaaddoeners nie, en om hulle wat onreg doen nie te beny nie. Nou is dit belangrik dat ons hierdie oproep in die groter konteks van die Psalmboek sal plaas. Want die ‘kwaaddoeners’ in Psalm 37:1 vat ons terug na die twee weë van Psalm 1: die weg van die goddelose (terloops, die term ‘goddelose’ kom 13 keer in Psalm 37 voor, meer as in enige ander Psalm) én die weg van die regverdige. Psalm 1:1-2: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie, maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.” Dis die kontras wat ons moet raaksien!

Dit gaan dus nie net daaroor dat ons nie kwaad moet word vir die klomp plunderaars – en hulle opstokers – nie, maar dit gaan daaroor dat ons bo die situasie sal gaan staan en sal sien waaroor dit werklik gaan. Wat hom in die afgelope week baie intens in ons land afgespeel het (en dit is natuurlik wat hom vanaf die sondeval dwarsdeur die geskiedenis afspeel), is die twee weë van Psalm 1. Ons moet dié twee weë raaksien, en ons moet sien waarheen hierdie twee weë lei: “die Here ken die weg van die regverdige, maar die weg van die goddelose sal vergaan” (Ps. 1:6). En dít is hoekom ons nie toornig moet word in hierdie tyd nie! “Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog” (Ps. 37:1-2); “laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie... want die kwaaddoeners sal uitgeroei word... nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie (vv. 8-10). Of om die kontras nog duideliker te maak: “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny” (vv. 37-38). 

 

Die Here wil ons graag perspektief gee op die uiteinde van die weg van die goddelose – Hy wil wys dat daar vir hulle geen toekoms is nie! En ek weet dit kan vir ons baie moeilik wees om hierdie perspektief te behou dáár waar ons in die gemors van die alledaagse omstandighede staan – waar ons dalk direk geraak word deur die plundery en geweld (terloops, dink in hierdie tyd ook aan ons broeders en susters in die sendingsgemeentes wat dit nog baie meer intens beleef), waar petrolpryse skielik die hoogte gaan inskiet, waar ons wonder in watter lang rye ons by die winkel sal moet staan om inkopies te doen. Ek stem saam, dit kan bitter moeilik wees om dan perspektief te behou! Asaf het ook hiermee geworstel in Psalm 73 (wat ons na die preek gaan sing), hy kon dit nie verstaan nie, “totdat hy in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het” (Ps. 73:17). En wat sien hy dan: “Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val. Hoe word hulle in ‘n oomblik ‘n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge” (Ps. 73;18 en 19). 

Broers en susters, laat hierdie perspektief op die einde van die goddelose en die kwaaddoeners ons stroop van alle woede en haat. Want so maklik kan ons toornigheid lei tot sonde. Dis presies wat Dawid sê in Psalm 37:8: “Wees nie toornig nie; dit is net om kwaad te stig.” En ongelukkig kon ‘n mens dit in die afgelope week sien: veral op sosiale media – sosiale media waardeur elke mens nou sy eie, persoonlike openbare verhoog het – moes ‘n mens dinge lees wat nie pas by kinders van die Here nie. Mense wat na die beeld van God gemaak is – ook al het hulle vrylik geplunder en geroof – is uitgekryt as barbare. Rassistiese opmerkings en ondertone was aan die orde van die dag. En die president, wat – as u dalk vergeet het – die Here oor ons aangestel het, is beskryf met #NBR (gaan google maar wat dit beteken). Hierdie dinge pas nie by die gelowiges nie, broers en susters. En as dit wel by ons gevind word, dan getuig dit van ‘n gebrek aan perspektief. Dan verlaag ons onsself tot die vlak van die goddelose. En dít terwyl ons ‘n toekoms het! “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar die wat die Here verwag, hulle sal die aarde besit” (v. 9); “die ootmoediges sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede (v. 11); “die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly” (v. 18). Ons is erfgename! Hierdie aarde, wat so deurtrek is met die sonde en waar die lelike gesig van die sonde in die afgelope week weer so pynlik sigbaar was, is ons s’n! Hierdie pragtige land, wat so verniel word deur die sonde, sal eendag in al sy skoonheid aan die gelowiges behoort! Moenie dat die plunderaars, die opstokers of selfsugtige politici jou van hierdie perspektief beroof nie. Moenie dat die omstandighede ons woorde en dade bepaal nie, maar laat jou woorde en dade bepaal deur die toekoms wat die Here aan sy kinders belowe. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie...

In die tweede plek kyk ons na die rus om ons lewens aan God oor te gee.

 

2. Ja, dis ‘n onding om so gefikseer te wees op die goddelose en hulle kortstondige voorspoed. Dit gee ons werklik ‘n verdraaide perspektief. Die Here se belofte oor die toekoms van die gelowiges, bevry ons hiervan. En dit is Dawid se oproep nadat hy ons aandag van die goddelose afgetrek het: “Vertrou op die Here!” (Ps. 37:3). In vers 5 word hierdie oproep op ‘n pragtige manier verwoord: “Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom.” Die beeld wat hier gebruik word, is van ‘n persoon wat besig is om ‘n geweldige swaar las te dra, miskien ‘n groot sak met klippe; hy hou sy las met beide hande vas, hy word neergedruk deur die swaar las, moontlik struikel hy selfs – so sien ons hierdie persoon in die straat afstrompel. En op ‘n sekere oomblik, óf omdat hy sy doel bereik het óf omdat die las te swaar geword het, laat hy die pak van sy rug afrol; hy rek homself uit, hy rus, hy het sy las laat afrol op die grond. En verlig van sy las, word hy nie meer daardeur neergedruk nie, word hy nie meer daardeur belas nie. 

En dít is nou presies die betekenis van die woord wat Dawid hier gebruik: laat jou weg aan die Here oor = laat jou las van jouself afrol op die Here, laat dit op Hóm kom, laat dit aan Hóm oor! En dan gaan dit nie maar oor ‘n las hier en ‘n las daar nie – want dit is wat ons dikwels doen: hier en daar, wanneer óns dit nie meer kan dra nie, dan laat ons die Here toe om ons te help. Nee, sê Dawid, laat jou wég aan die Here oor, jou lewensweg, jou hele lewe! Laat die las van jou hele lewe op die Here afrol; wat daar ook al op jou lewenspad mag kom, watter laste jy ook al tydens jou lewe sal moet dra, wentel dit alles oor na Hom toe! En as ons dít doen, dan word die las nie meer deur óns gedra nie, maar deur die Here! Hy neem verantwoordelikheid vir jou lewens weg, en Hy sal dit uitvoer (Ps. 37:4).

 

En dan, broers en susters, kom daar ruimte in ons lewens om, soos wat ons lees in verse 3-5, om te doen wat goed is, om getrouheid te beoefen, en om jou te verlustig in die Here. Voel u iets van die kontras? Die fokus op die goddelose, die toorn oor sy onreg, die jaloesie oor sy oënskynlike voorspoed – dit maak ons geïrriteerd, dit maak dat ons al vloekend en skellend self voorstrompel onder die gewig van die lewe, dit maak dat ons self nie tot rus kan kom nie. En ‘n mens sien dit – selfs al gaan jy op hierdie stadium (vanweë covid) nie met baie mense om nie, jy kan aanvoel dat daar ‘n sekere onrus is. Mense is vol emosies, mense is onrustig, mense is aan die hardloop, mense lees allerhande opinies, word opgejaag deur allerhande teorieë. Maar as ons die las van ons lewens op die Here afrol, dan kom daar rus! Rus om eenvoudig te doen wat goed en reg is voor die Here. 

Hoe het ons samelewing nie behoefte hieraan nie, broers en susters. Die samelewing smag na mense wat eenvoudig in alle rus hulle weg voor die Here gaan. Swyg daarom voor die Here en verwag Hom, en wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie (Ps. 37:7) Swyg, wees stil voor die Here. Moenie oor al die dinge wat met ons gebeur ‘n opinie wil hê nie; moenie jou opinie van die dakke af uitbasuin nie. Die meeste van die dinge waarmee ons tans worstel is in elk geval te groot vir eens mens om in ‘n leeftyd te probeer uitpluis – dis te eenvoudig om net te sê dat ons die afgelope week ‘n klomp diewe op ons TV-skerms gesien het. Ja, dit ook, maar daar is nog soveel meer, dit is nog soveel komplekser (ons land is kompleks, die politiek is kompleks, die rassevraagstuk is kompleks). Ek sê nie dat ons nie op hoogte moet wees en nie ingelig moet wees nie – o nee, die katkisante moet gereeld vertel of en wat hulle in die nuus gelees het. Maar moenie dat hierdie dinge jou begin beheers nie; moenie eenvoudige antwoorde gee vir baie komplekse probleme nie. Gaan eenvoudig en rustig jou weg – doen jou werk, sorg vir jou gesin, wees trou aan jou man of vrou en die ander mense om jou heen. Vir die meeste van ons is dit al moeilik genoeg. 

Die lewe is nie eenvoudig nie, gemeente; selfs die gewone, alledaagse lewe is al moeilik genoeg, dis ‘n las wat die meeste mense laat swoeg. Laat daarom jou lewensweg aan die Here oor, rol dit af op Hom – en dan kom daar rus om te doen wat goed is (om baie eenvoudig God se wet in jou hart te dra [v. 31] daar waar die Here jou geplaas het), om getrouheid te beoefen (teenoor jou gesin, teenoor gemeentelede, teenoor jou naaste), en om jou te verlustig in die Here (ja, om bly te wees met die Here, om jou te verheug oor sy wonderdade in Christus, en om Hom te dank vir sy verlossingswerk). Gelowige eenvoud – dít is in feite wat Dawid verwoord in vers 16: “’n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van die goddelose.” Staan Dawid armoede voor? Sê hy dat die eenvoudige lewe van die gelowige altyd met armoede gepaard moet gaan? Glad nie! Maar as ons gestel word voor die keuse tussen die weg van die goddelose met sy oënskynlike voorspoed en rykdom én die weg van die regverdige – kies dan maar die weg van die regverdige. En as dit dan ‘n bietjie minder beteken, laat dit dan so wees. Want, sê die Spreukedigter, “liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby ... liewer ‘n bietjie met geregtigheid, as ‘n menigte van inkomste met onreg” (Spr. 15:17 & 16:8).

Ten slotte let ons op die vryheid om ons naaste te dien.

 

3. Deur ons weg op die Here af te rol, gebeur daar ook nog iets anders. Dit gee enersyds rus, vrede, ‘n stuk ontspanning. Maar dit gee andersyds ook energie – energie om ons naaste mee te dien, energie om die teendeel te wys van wat ons in die afgelope week in ons land gesien het: “die goddelose leen en gee nie terug nie (ja, dit het ons gesien), maar die regverdige ontferm hom en gee” (vers 21). 

En hierdie laaste word in die eerste plek sigbaar in die kerk – Dawid vertel pragtig daarvan vanuit sy eie lewenservaring. Hy sê in vers 25: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Dis eintlik ‘n verstommende stelling as jy mooi daaroor nadink. Nooit in sy hele lewe het Dawid gesien dat ‘n gelowige eensaam of honger is nie. Hoe is dit moontlik? Wel, gemeente, dit is die wonder van die kerk, van die liggaam van Christus. God sorg, dis waar, maar Hy laat nie brood en melk vanuit die hemel reën nie. Nee, Hy gebruik daarvoor die gelowiges. Die gelowiges wat hulle ontferm en gee (vv. 21 en 26) – dikwels deur middel van die werk van die diakens, maar baie dikwels ook daarsonder. En laat ons daarom nie vergeet nie, broers en susters, dat daar in hierdie tyd (vanweë die pandemie en die ekonomiese toestand in ons land) heelwat mense in die gemeente is wat swaarkry, wat nie genoeg het om die maand deur te kom nie, wat afhanklik is van óns sorg sodat wat Dawid nooit tydens sy lewe ervaar het nie, nie dalk in ons lewens bewaarheid word nie. Dus, kyk op bladsy 6 van die gemeente-handeboek vir die bankbesonderhede van die diakens, of kontak jou diaken. Of hou jou oë en ore oop – jy sal weet waar die nood in die kerk is. En gee dan mildelik!

 

Maar ook, en veral, buite die gemeente mag ons in hierdie tyd wys dat die gelowiges afwyk van wat kwaad is en doen wat goed is (vers 27), dat ons ons die hele dag ontferm en uitleen (vers 26). Juis in hierdie tyd mag ons as gelowiges wys dat ons nie in paniek-kopery hoef te verval nie – ons is nie diegene wat in paniekerigheid ‘opstock’ nie, maar ons mag juis diegene wees wat uitdeel, wat weggee (nie saamraap nie, maar uitdeel!). En as jy nie weet waar om te help nie – bring dan môre tussen 9 uur soggens en 13:00 die middag jou meel, jou suiker, jou rys, en jou blikkieskos na Laerskool Dirk Postma; daar samel hulle kos in vir ‘n skool aan die Suidkus wat dringend nie-bederfbare produkte nodig het. Of as jy geld wil gee, gaan google dan Solidariteit se krisisfonds, waar jy jou bydrae kan maak. As ons wíl gee, dan is daar ‘n weg. En dan raak ons kreatief. Dít is die weg van die regverdige – want hy weet dat daar ‘n ontsaglike erfenis vir hom wag! Hy is erfgenaam van die nuwe hemel en aarde!

-----------------

Broers en susters, dit is die wonderlike uitwerking om saam met God te kan lag. En weereens, daarmee bedoel ek nie vrolikheid of ongeërdheid oor dit wat in die land gebeur het nie. Ek bedoel daarmee heilige ironie – want deur die geloof mag ons sien wat ander nie kan sien nie. Die ongelowige sien net die chaos, die goddelose sien slegs die plundering, die dood, die verderf. Nou, natuurlik sien ons dit ook. Hooplik raak ons nooit daarvoor afgestomp nie. Die heilige ironie beteken nooit dat ons die feite ontken of in die doofpot stop nie – en ons mag selfs daaroor huil en treur. Maar die gelowige mag verder kyk. Hy sien God wat in beheer is, hy sien die einde van die kwaaddoeners. En dit gee vrede, rus! En nuwe energie om God en die naaste te dien. Hoe het ons hierdie perspektief nie nodig nie. Want ook ons raak so maklik vasgevang in die modder van elke dag. Maar mag hierdie gelowige, heilige lag ons ophef en aan ons nuwe perspektiewe open; mag hierdie gelowige lag ons bevry van vrees, en ons toerus vir die weke en maande wat kom. In die laaste woorde van Psalm 73: “Kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer. Maar wat my aangaan, dis is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.”

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 1:1 & 4

Wetslesing

Sing Ps. 2:1, 2 en 6

Gebed

Skriflesing: Ps. 37

Sing Ps. 37:1-4

Preek

Amenlied Ps. 73:2 en 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 73:10-12

Seën: Mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves. Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!