God eis die laaste oortjie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-09-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 5
Preek Inhoud: 

Met Sondag 5 begin die tweede deel van die Kategismus, die deel oor die verlossing van die mens.

Terselfdertyd is die eerste deel, oor die ellende van die mens, nog steeds in Sondag 5 aanwesig.

Ons lees oor God se regverdige oordeel.

Ons lees oor die tydelike en ewige straf.

Ons lees dat ons glad nie self die skuld kan betaal nie, maar dit juis daagliks meer maak.

Ons lees die droewige konstatering dat geen ander skepsel die skuld kan betaal nie.

Ellende op ellende.

Maar terselfdertyd is daar ook ligstrale van verlossing in hierdie Sondag.

 

Die drie dele van die Kategismus staan nie los van mekaar nie.

Hulle oorvleuel.

Net so lees ons in die eerste deel – oor die ellende – ook al oor die ligstrale van die verlossing.

Dit het ons in laas week se preek oor Sondag 4 gesien.

Vandag kyk ons na aanleiding van Sondag 5 na die aanklag, ons skuld voor God, maar hierdie Sondag eindig met die ligstrale van ‘n Middelaar, wat op die horison verskyn.

 

Tema: God eis die laaste oortjie

  • Ons skuld is onbetaalbaar voor die hemelse regbank
  • Daar is ‘n Middelaar wat tot die laaste oortjie wil betaal

 

  • Ons staan skuldig en magteloos voor die hemelse regbank

‘n Oortjie was ‘n klein muntstuk, ‘n kwart van ‘n pennie.

‘n Pennie was reeds min, kleingeld, ‘n oortjie was nog minder.

In die 2020-Bybelvertaling lees ons in Mattheüs 5:26: voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.

Kwadrant is die oorspronklike woord wat mens in die Griekse teks vind.

Nou ter vergelyking: ‘n arbeider se dagloon was ongeveer 64 kwadrant.

Een kwadrant – dit was dus nie eers 10 minute se werk nie.

In vandag se terme is ‘n oortjie of ‘n kwadrant iets oos ‘n 5c of ‘n 10c.

Selfs ‘n karwag tel dit nie op nie.

‘n Oortjie of kwadrant was die geld van die allerarmstes.

Soos die aalmoes van die arm weduwee.

Twee geldstukkies het sy in die skatkis gegooi, dit is ‘n oortjie, staan daar Markus 12:42.

Nou wie moet hierdie oortjie betaal?

Kom ons kyk na hierdie uitspraak van Jesus in die konteks van sy Bergrede.

 

‘n Belangrike tema in sy bergpredikasie is dat die dissipels se wetsonderhouding, hulle geregtigheid, meer moes wees, oorvloediger, as die van die Fariseërs (Matt 5:20).

Hulle nakoming van die wet moet uit die hart kom, dit moet nie net uiterlike vertoon wees nie.

Elke keer sê Jesus: Julle het gehoor ... maar Ek sê vir julle.

Nou in daardie tyd kon die meeste mense nie lees nie.

Al hoe hulle met die Torah, die wet deur God aan Moses gegee, in aanraking gekom het, was as hulle gehoor het wanneer die Fariseërs dit voorlees.

Jesus hou presies dieselfde wet aan hulle voor, maar Hy lê dit anders, Hy lê dit veel dieper uit.

Neem nou die sesde gebod.

Julle het gehoor: Jy mag nie doodslaan nie (vers 21).

Elkeen wat doodslaan moet verantwoording doen voor die gereg.

Jesus voeg egter die dieper dimensie van hierdie gebod by:

Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, moet verantwoording doen voor die gereg.

Elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad, oftewel die Sanhedrin.

En elkeen wat vir sy broeder sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.

Nou die woord Raka het, omdat dit onvertaald gelaat is, amper ‘n soort magiese betekenis vir ons gekry, asof dit iets verskrikliks is om dit te sê.

Maar in Aramees het Raka gewoon beteken: jou nikswerd!

Hierdie twee woorde: jou dwaas, en jou nikswerd, is eintlik woorde wat ons as mense daagliks gebruik, woorde wat ons nou nie as so erg beskou nie.

Maar, en dit is juis die bedoeling van Jesus se onderwys: Selfs hierdie vir ons gevoel nie so ernstige skeldwoorde, gaan ook gevonnis word voor die hemelse regbank!

Hierdie dinge – kwaad wees, of jou naaste met ‘n lelike woord skel – dit was dinge wat nie strafbaar was voor die regbank van Moses nie.

In die Ou Testament moes mense voor die regbank verskyn as hulle fisies ‘n ander gedood of gekwets het.

Levitikus 24:17 byvoorbeeld: “as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word.”

Of Numeri 35:16-18: as hy hom slaan met ‘n ystervoorwerp, of met ‘n klip in die hand, of met ‘n houtvoorwerp in die hand, en hy sterwe, dan is hy ‘n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

Maar, sê Jesus nou, voor sy regbank, dit is voor die regbank van die koninkryk van die hemel, gaan dit nie net oor fisies iemand doodslaan nie.

Ook om jou naaste met ‘n lelike woord te skel, ook dit is ‘n strafbare saak!

Selfs woede, selfs kwaad wees vir iemand, word as ‘n strafsaak beskou, en verdien ‘n geregtelike vonnis.

Want daarin lê al die kiem van moord en doodslag.

Net om iemand uit te skel verdien die doodstraf, en dan nie net die tydelike doodstraf nie, maar die helse vuur!

 

Christus se prediking is hier geweldig skerp.

Dit herinner ons aan die Kategismus:

God se “toorn is verskriklik ... oor die sonde wat ons doen. Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf.” (Sondag 4)

En: “God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word ...” (Sondag 5)

En: Geen gewone skepsel kan die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra nie (Sondag 5).

Nou hoekom preek Jesus so skerp?

Hy doen dit om die dissipels aan te spoor tot sagmoedigheid, om vredestigters te wees.

In vers 23 en 24 roep Hy op: Versoen jou vinnig met jou broeder.

As hy iets teen jou het, steek ook hand in eie boesem.

Dalk het jy aanleiding gegee dat hy vir jou kwaad is.

Dalk het jy hom uitgeskel?

Hierdie saak weeg vir God swaarder as ‘n offer bring.

Sonder versoening met jou naaste is die weg na die altaar nie oop nie.

In vandag se terme: Sonder versoening met jou naaste is die weg na die nagmaal nie oop nie.

Meer nog: Sonder hartlike versoening met jou naaste is daar nie die kans dat jy in die koninkryk van die hemel sal ingaan nie.

Onversoen bly met jou naaste is in God se oë iets wat die helse vuur verdien.

God eis dat daar aan sy geregtigheid voldoen word, dis die standaarde wat sy liefdeswet stel.

 

Dan in verse 25 en 26 gaan Jesus verder met dieselfde saak.

As jy op pad is met jou teëparty ...

Die teëparty is die naaste waarmee jy jou moet versoen.

Dit is die broeder wat iets teen jou het.

Hier staan nie wat die teëparty teen jou het nie.

Of dit in jou oë groot of klein is, maak nie saak nie, Jesus roep op om welwillend te wees, vriendelik, bereid om vergewing te vra en te skenk.

En dit moet haastig gebeur, voordat jy weer by die altaar kom.

In vandag se terme: voordat jy weer jou voet sit in God se huis; en voordat jy weer aansit aan die nagmaal.

Wag nie met jou vriendelikheid, jou welwillendheid jeens jou naaste, totdat jy eers jou offer gebring het nie.

Want die agterweë bly van versoening veroorsaak dat jou offer niks werd is nie.

As jy nie welwillend en haastig na jou naaste gaan om te versoen nie, dan waardeer die Here dit nie as jy kerk toe kom nie, inteendeel, dan het Hy ‘n afsku daaraan.

En weer eens wys Jesus dan op die diepte van die wet, as Hy sê:

Jou naaste kan jou oorlewer aan die regter, en die regter kan jou oorgee aan die geregsdienaar, en jy sal in die tronk opeindig.

Dit alles vanweë die feit dat jy nie welwillend teenoor jou naaste was nie!

 

Weer eens, hierdie gang van sake was nie moontlik onder die regspraak van Moses nie.

Maar Jesus se regbank is net soveel strenger, ja selfs die laaste oortjie word in rekening gebring!

Mense in Jesus se tyd wat ‘n onenigheid met hulle naaste onopgelos gelaat het, en met die lewe aangegaan het, wat voortgegaan het om te offer, ensovoorts, hulle het geen rede gehad om bang te wees om aan die Sanhedrin oorgelewer te word, om in die tronk te beland nie.

En ons in ons tyd, as ons ‘n onenigheid met ons naaste toelaat om te bly bestaan, en nie welwillend tot versoening kom nie, ook ons het nie rede om bang te wees dat ons daaroor in die tronk gaan beland nie.

Maar, en dit is wat Jesus hier in sy Bergrede beklemtoon, dit sal wel gebeur as God kom om reg te spreek.

Dan gaan jy sekerlik nie uitkom – nie uit die tronk en selfs nie uit die helse vuur – voordat jy die laaste oortjie betaal het nie!

 

So openbaar Christus weer aan ons die diepte van die sesde gebod, die reikwydte daarvan.

Dit gaan nie net daaroor dat ons iemand nie fisies doodmaak nie.

Christus eis ‘n groter geregtigheid as die van die wetgeleerdes.

Selfs om iemand uit te skel, selfs om iemand in jou hart te haat, druis teen hierdie gebod in.

Selfs om nie welwillend en bereid te wees nie om in alle vriendelikheid jou te versoen met iemand wat iets teen jou het, dit is ‘n oortreding teen die sesde gebod.

Dit is ‘n oortjie wat jou ook in die helse vuur gaan laat beland!

 

En as ons eerlik is, dit is my en jou ellende.

Dat ons van nature geneig is om ons naaste te haat, om nie met hom te wil versoen nie, om verskonings uit te dink hoekom dit nie nodig is nie, hoekom ek hom of haar nie meer wil sien nie.

En juis daarom staan ons onder die regverdige oordeel van God.

Verdien ons, volgens Christus se uitleg van die sesde gebod, nie net ‘n tydelike nie, maar ook die ewige straf.

En ons sal moet betaal, soos die Kategismus sê, òf self òf deur ‘n ander.

En as ons eerlik is, dan bely ons: Ons maak juis ons skuld elke dag nog groter.

Elke dag is daar weer situasies waarin ek ‘n ander aanleiding gee om iets teen my te hê.

‘n Uitskel, ‘n te harde woord, ‘n giftige blik, ‘n halwe waarheid, dalk net ‘n lelike gedagte.

Dag na dag stapel my eie straf op.

Net dit, net die besef van my eie sondigheid, sou my meer welwillend teenoor my naaste moet maak.

 

En dan is dit ook ‘n feit dat hierdie nie net vir jou en my geld nie, maar vir elke mens op aarde.

Elkeen van ons se skuld stapel dag na dag hoër op.

Geen ander mens kan my skuld betaal nie, elke mens het al te veel aan sy eie skuld.

Ook kan geen ander skepsel betaal nie.

Want God se regbank is regverdig.

Hy straf nie ander vir my sondes nie.

So vryf Sondag 5 ons ellende net nog dieper in.

Eendag gaan ons voor God se regbank staan, en dan sal ons tot die laaste oortjie moet betaal.

Ja God eis die laaste oortjie!

En Hy is heeltemal regverdig as Hy dit doen.

Ja ons skuld is heeltemal onbetaalbaar voor die hemelse regbank, as ons of iemand dit self sou moes betaal.

 

Gemeente, hierdie onderwys oor die laaste oortjie het Jesus later nog ‘n keer herhaal.

In Lukas 12 het Hy die skare gewaarsku:

Julle dink dat julle die toekoms kan voorspel.

As julle ‘n wolk in die weste sien opkom, weet julle daar is reën oppad.

As julle sien dat die suidewind waai, weet julle daar is gloeiende warm weer oppad.

As iemand aan wie jy iets skuld, jou saamsleep na die owerheid, as hy jou voor die regter probeer sleep, dan doen jy moeite en weet jy hoe om van hom los te kom, om te voorkom dat jy in die tronk gegooi word.

Maar, sê Jesus, as jy met soveel dinge die toekoms kan voorspel, hoekom sien jy dan nie ook die oordeel naderkom nie?

As jy net om jou heen kyk, as jy in jou eie lewe kyk, hoeveel tekens is daar nie, hoeveel onreg is daar nie wat die oordeel digterby roep nie, wat jou voor die hemelse regbank sal laat skuldig staan!

Pasop, sê Jesus dan, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie!

 

Soos ek genoem het, die Griekse woord wat in Mattheüs 5 met oortjie vertaal is, is kwadrant.

Maar hier in Lukas 12:59 vind ons ‘n ander woord, al is dit ook met oortjie vertaal.

Hier staan die Griekse woord lepton.

Nou ‘n lepton was die kleinste Romeinse muntstuk.

‘n Kwadrant was die tweede kleinste.

Hier is Jesus se boodskap dus nog dringerder: selfs die kleinste kleinste oortjie, selfs al skuld jy maar net ‘n halwe sent – die ou mense sal onthou vroeër was daar ook halwe sente – selfs dit sal jy moet betaal voor die hemelse regbank!

Hier benadruk Jesus dus dat sy onderwys oor die laaste oortjie wel deeglik te make het met die oordeel voor sy hemelse regbank, die finale oordeel, die oordeel wat sal lei tot die helse vuur.

 

(Tema: God eis die laaste oortjie

  • Ons skuld is onbetaalbaar voor die hemelse regbank)

 

  • Daar is ‘n Middelaar wat tot die laaste oortjie wil betaal

Nou onthou u seker nog die laaste vraag uit Sondag 4: Maar is God dan nie ook barmhartig nie?

Is Hy nie ook welwillend nie?

Die antwoord daarop was ja – gelukkig – al is toe nie verder uitgebrei oor hoe God barmhartig, hoe Hy welwillend is nie.

In die laaste vraag en antwoord van Sondag 5 gebeur dit wel.

Hier word die deur op ‘n skrefie oopgemaak rigting God se barmhartigheid, sy welwillendheid.

 

Inderdaad, en dit is die Evangelie van ons Here Jesus Christus, die blye boodskap.

As Jesus sulke hoë standaarde stel in die Bergrede, dan – so weet ons uit die res van die Mattheüsevangelie – is Hy self ook bereid om volgens daardie standaarde te lewe.

Ons ken die uitdrukking: Practice what you preach.

Nou dit is presies wat Jesus gedoen het.

Soos Sondag 5 sê: Hy was ‘n ware en regverdige mens.

Nooit het Hy iemand anders aanleiding gegee om tereg oor Hom vertoornd te wees nie.

Iets wat van niemand van ons gesê kan word nie.

Die hoogste standaarde van God se wet, soos Hy dit aan Moses gegee het, het Jesus nagekom.

Nie net voor die aardse regbank van Moses nie, selfs voor die hemelse regbank het Jesus selfs nie ‘n oortjie geskuld nie.

En wat dan nog verbasender is, is sy en sy hemelse Vader se welwillendheid.

Want, sonder dat die mensheid, sonder dat enige mens, ‘n grief teen God kon hê, terwyl God alle rede gehad het om ‘n grief teen ons te hê, ja verskriklik vertoornd te wees, tog het Jesus, uit eie wil, ongevraagd, na ons gekom om te versoen.

So is die eis van die Bergrede nog meer volmaak vervul.

Hy wat sondeloos is, wat geen oortjie aan ons geskuld het nie, Hy het welwillend na ons gekom, terwyl ons Hom soveel skuld.

Daardie skuld het Hy selfs op sy skouers geneem, om dit te versoen.

So vervul Hy die diepste bedoeling, die diepste eis van die sesde gebod, en van heel die wet.

 

Sondag 5 begin om die kontoere van sy posisie en sy taak as Middelaar te skets:

Hy is een wat ‘n ware en regverdige mens is, maar nogtans is Hy ook sterker as alle skepsels, Hy is terselfdertyd ware God.

Sondag 6 sal met hierdie onderwerp verder gaan:

  • hoekom Hy ‘n ware en regverdige mens moet wees; en
  • hoekom Hy terselfdertyd ware God moet wees.

So het Hy as Middelaar die eis van die wet vervul.

Waartoe in die Bergrede opgeroep word, dit is presies wat God – Vader en Seun – gedoen het!

Vergewingsgesind, barmhartig, welwillend, terwyl hulle dit aan niemand verplig was, niemand ‘n oortjie geskuld het nie.

Hierdie is die volmaakte vervulling van die wet.

En deur die Heilige Gees word ons nou ook opgeroep om hierdie diepste bedoeling van die wet na te kom.

Christus het ons daartoe in staat gestel.

En daarom roep Hy ons op.

Broer, suster, moenie jou voet weer in die kerk sit, alvorens jy jou nie met jou naaste versoen het nie.

Moenie waag om nagmaal toe te kom, as jy jou naaste uitgeskel het, as jy jou naaste ook maar die minste aanleiding gegee het om iets teen jou te hê, ja selfs al het jy geen aanleiding gegee nie, maar jy verneem tog dat jou naaste iets teen jou het.

Gaan versoen jou daar en dan met jou naaste.

Moenie wag dat die naaste na jou toe kom nie.

Volg Christus se voorbeeld, wat sonder dat ons Hom gevra het, as Middelaar uit die hemel neergedaal het om ons met die Vader te versoen, en dit terwyl Hy ons niks maar ook niks geskuld het!

Hy het homself welwillend betoon om as Middelaar te betaal, ja selfs tot die laaste oortjie toe!

Christus betaal die regverdige oordeel voor die hemelse regbank vir ons.

Elke dag se skuld wat opstapel neem Hy weg, as ons dit nederig in sy Naam aan die Vader vra.

En deur sy Gees wek Hy ons op tot dieselfde welwillende, barmhartige, vergewingsgesinde, sagmoedige houding.

Want dit is sulkes wat die koninkryk sal beërwe.

“Salig die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe”, belowe Jesus ook in die Bergrede (Matt 5:5).

 

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat was die twee kleinste Romeinse geldeenhede?
  2. In watter opsig is die hemelse regbank strenger as die regbank van Moses?
  3. Wat beteken die woord Raka?
  4. Wat beteken dit dat God die laaste oortjie eis?
  5. Watter ‘oortjies’ is daar in jou lewe waarvoor jy vergewing moet vra?
  6. Hoe was ons Middelaar in staat om tot die laaste oortjie te betaal?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 86:3

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 5:17-26 & Lukas 12:54-58

Ps 39:3,5

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 5

Preek

Ps 130:1-4 (2e beryming)

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 34:8,9

Kollekte

Ps 65:2,4

Seën