Gebeente ...
‘n Woord wat Dawid gebruik.
‘n Woord met baie assosiasies.
Dink aan die spreekwoord: “Wee jou gebeente ...”
As iemand begrawe word, word sy gebeente te ruste gelê.
Gebeente, dis die bene in jou lyf, jou skelet.
Dit is jyself.
Selfs ‘n baba het ‘n gebeente.
Dawid sê in Psalm 139: “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef ...”
So is die HERE die Skepper van elkeen van ons se gebeente.
En ons mag met heel ons gebeente, solank ons lewe Hom loof.
Dit is dan ook die boodskap vir vanoggend:
Tema: HERE, laat my gebeente U weer loof!
Psalm 6 is ‘n boetepsalm.
Dawid noem nie ‘n spesifieke sonde nie.
Natuurlik het die HERE geweet.
In elk geval het die HERE hom swaar gestraf.
Die HERE se straf het Dawid op die knieë gebring.
Die gevolge van die straf aan sy liggaam, aan sy omstandighede, hoe ander mense na hom gekyk het, dit het alles vir hom te veel geword.
Dit het hom in groot benoudheid gebring.
God se straf het hom verswak.
Dit het hom siek gemaak.
Dit het sy siel verskrik.
En hy het dit tot in sy gebeente gevoel.
Dawid kerm: Hoe lank nog, HERE?
God se straf het sy lewe op die randjie van die dood gebring.
Dawid herinner die HERE aan hoe erg, hoe finaal die dood is:
In die dood word aan U nie gedink nie.
Wie sal U loof in die doderyk?
Die dood is die straf op die sonde.
Die dood was nie daar van die begin af nie.
Die dood was nie God se bedoeling vir die mensheid nie.
Die mens het homself daarin gestort, sedert die sondeval.
Die dood is ontluisterend.
Die dood ontbind die liggaam, wat God so mooi geskape het.
Dawid doen ‘n beroep op die HERE self, op sy beloftes.
Red my siel!
Verlos my om u goedertierenheid ontwil.
Goedertierenheid kan ook vertaal word met: lojale liefde, of: verbondstrou.
Want nou het dit vir Dawid net te veel geword.
Dawid is moeg van gesug.
Hy deurweek sy bed met trane.
Hy laat sy bed swem, oftewel deurdrenk sy bed.
Wat ‘n sterk uitdrukking.
Het u dit al ooit gehad, broer, suster, dat jy ‘n hele nag lank gehuil het?
Dat nie net jou kussing nat was nie ...?
Waaroor het jy toe gehuil?
Dawid huil oor God se straf, wat hom hard getref het.
Sy oë het dof geword van verdriet.
Swak geword van sy teëstanders.
Swak kan mens ook vertaal met: vermoeid.
Sy teëstanders, Dawid noem hulle ook: werkers van ongeregtigheid – mense wat onreg pleeg.
Hierdie mense het skynbaar munt geslaan uit Dawid se verswakte posisie.
God se straf het Dawid dusdanig aangetas, dat hulle – wat soos hyena’s hulle kans afgewag het – kon toeslaan.
En dalk was dit die ergste vir Dawid, hierdie spot van sy teëstanders.
Ja, jy Dawid, jy wat altyd so vroom was, kyk wat doen die HERE nou met jou!
Kry vir jou! Jy verdien dit!
Dit was vir hom die ergste.
Dat Dawid op aarde by niemand op begrip kon reken nie.
En in sy gebed vlug hy dan na dieselfde God wat vir hom straf.
En juis deur hierdie gebed ontvang Dawid die sekerheid, dat die HERE luister na sy geween.
Dat Hy sy smeking verhoor, sy gebed aanneem.
Dat die einde van die straf gekom het, dat die HERE Dawid weer sal herstel.
Soos hyena’s het die mense hom uitgelag, hulle het hulle verlekker dat die lot teen hom gedraai het, dat dit nou klaarpraat was met hom.
Maar nee, so sal dit nie wees nie.
Inteendeel, juis sy vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word.
Nou is dit hulle beurt om die verskrikking van God se straf te ondergaan.
Soos bang hyena’s wat tjankend weghardloop, sodra die leeu gebrul het.
Ja, hulle sal in ‘n oomblik beskaamd omdraai.
So sluit Dawid sy gebed af – nie meer verskrik en vertwyfeld nie, maar vol nuwe moed.
Gemeente, as mense kan ons identifiseer met Dawid se omstandighede.
En juis as gelowiges, hulle met wie God ‘n verbond gesluit het, verstaan ons hierdie gebed van Dawid nog beter.
Aan die basis van hierdie gebed lê die besef dat ons voor God skuldig staan.
Dat ons sy straf verdien.
En as Hy ons in hierdie lewe straf, dat Hy in sy reg staan.
Hierdie gebed beskuldig nie vir God, vir die feit dat Hy straf nie.
Hierdie gebed gaan uit daarvan dat die straf tereg is.
Tog is hierdie gebed nie fatalisties nie.
Dis nie dat die noodlot nou teen Dawid gedraai het nie.
In die verbond weet Dawid dat die HERE, daardie selfde God wat straf, dat Hy nog steeds ook sal luister.
Dat Hy, soos Hy self beloof het, ‘n luisterende oor het vir wie skuldbewus en desperaat na Hom terugkom.
Ja dat, sodra sy kinders vasloop en geen weg meer sien nie en na Hom terugdraai, dat Hy – soos Hy self beloof het – vinnig sal wees om te luister.
Dawid besef dat die straf van God af kom, en dat Hy die enigste een is wat dit weer kan wegneem.
En daarom gaan hy op die knieë, wend hy homself weer tot God.
Dawid kla nie dat God se straf nou te erg word, dat dit onbillik is en dat sy sonde darem nie so erg was nie.
Dawid suggereer nie dat sy swaarkry onverdiend is nie.
Nee, sy sondes regverdig God se straf volledig.
Al wat Dawid doen, is om te pleit dat God tog asseblief perke stel aan die welverdiende straf.
Maar gemeente, buite die verbond sou mense hulle rug op God gedraai het.
‘n God wat soiets kan doen ... sal mense dan redeneer ... dit help nie om vir Hom te bid nie!
Mense sal hulleself oorgee aan beskuldigings, met beskuldigende vinger na die hemel wys, pleks van om met hulleself fout te vind vanweë hulle sondes.
Maar binne die verbond weet ons dat Hy vir die wat tot inkeer kom, wat hulle skuld bely en alles van Hom verwag, dat Hy hulle nie sal teleurstel nie.
Juis vir ons bring ‘n gebed van skuldbelydenis ons tot rus.
Die bede tot God om genadig te wees, juis so ‘n gebed het groot krag.
Lê in gebed jou angste in God se hande, dan word jy bevry.
So sorg juis die gebed vir die wending in hierdie Psalm, die wending in Dawid se angstigheid.
Dawid was tot in sy gebeente verskrik.
Dink net hoe erg moet dit wees as jy bang is tot in jou gebeente.
Ja inderdaad, soms kan mens so groot skrik, dat jy dit in jou gebeente, in jou geraamte voel, dat daar rillings by jou rug afloop.
Soms kan ‘n mens so bang wees, dat jou bene orals in jou lyf bewe.
‘n Mens se gebeente, jou skelet, selfs dit voel God se straf.
Oordragtelik jou hele kwesbare menswees.
Ja God se straf op die sonde is dat die mens sterflik geword het.
En as hy sterf, word sy gebeente in die graf gelê.
Gebeente beteken dan ook oordragtelik jou lyk.
In daardie tyd is mense in grafkelders begrawe, wat uitgekap was in die rots.
Elke familie het hulle eie grafkelder gehad, waar generasie op generasie begrawe is.
In die mure van die grafkelder is grafte oftewel nisse uitgekap, soos groot rakke in die muur, groot genoeg om ‘n mens in te lê.
‘n Dooie is daarin gelê, en dan is so ‘n nis toegepleister.
Na baie jare, as net die beendere oorgebly het, is die nis dan weer oopgebreek.
Die beendere is daaruit gehaal en bygelê op ‘n ander plek in die kelder, in ‘n kis byvoorbeeld, ‘n kis van steen.
En so is daar plek gemaak vir ‘n nuwe dooie om begrawe te word.
Vandaar die uitdrukking in Hebreeus, dat iemand versamel is by sy voorvaders.
Maar, en daaraan dink Dawid in vers 6, in so ‘n grafkelder is dit doodstil.
Uit ‘n grafkelder klink geen lofliedere nie.
Met hierdie vers impliseer Dawid nie dat daar geen lewe na die dood is nie.
Uit ander Psalms van Dawid is duidelik dat hy vertrou het dat hy by die HERE sal wees in sy dood.
Maar dit is iets wat ons glo, dit is iets wat ons slegs sien met die oë van die geloof.
Wat ons egter fisies hier op aarde ervaar, is ‘n doodstil grafkelder.
Ons sien begraafplase wat duisende dooies lê, maar waar dit ook doodstil is.
Geen lofliedere nie, net die gesuis van die wind deur die bome.
‘n Begraafplaas maak mense nederig, bring hulle af aarde toe, herinner hulle aan hulle eie sterflikheid.
Daarom dat baie mense begraafplase soos die dood vermy.
Hulle wil nie aan hulle eie sterflikheid herinner word nie, hulle wil lewe asof daar geen einde aan is nie.
Maar, en dit leer Psalm 6 ons: Soms straf die HERE die mens, bring Hy hom by die afgrond van die dood, om hom tot besinning te bring.
En kinders van die HERE word nie deur Hom gespaar nie.
Juis ons besoek die HERE ook met sy strawwe.
Dit maak ons nederig, dit hou ons op die knieë.
Dit laat ons besef dat ons alles van Hom moet verwag.
Dit laat ons bely dat die dood ons skuld is, en dat ons slegs na Hom kan vlug vir uitredding.
En net soos Dawid se teëstanders vir hom gelag en gespot het, so gebeur dit ook met ons.
Die duiwel staan soos ‘n hyena en lag vir ons, vir God se kinders.
Hy verlekker hom in ons swaarkry.
Hy probeer ons wysmaak dat dit nie help om op God te vertrou nie.
Dat God van jou vergeet het, dat God nie eers bestaan nie.
En soos wat jy verswak, fisies en in jou vertroue, kom hy al hoe nader.
Hy begin vennynig te hap.
Daarvoor gebruik hy ook ander mense, werkers van ongeregtigheid.
Stukkie vir stukkie probeer hulle jou geloof af te breek.
Ons ervaar byvoorbeeld die verleiding van sondige mense, wat besig is om jou te beïnvloed om die diens aan die HERE prys te gee.
Maar daar is ook lande op aarde waar die gelowiges dit fisies ervaar.
Dink aan die Christene in Noord-Korea, of in die Midde-Ooste.
Hulle vertroue op die HERE kan fisies hulle lewe kos.
Ook vandag moet jy by die HERE pleit, dat Hy jou vyande sal wegjaag.
Pleit nie omdat jy self so goed is nie, maar met die besef dat die HERE jou tereg gestraf het.
Maar jy mag pleit op sy verbond.
En dan mag jy seker weet dat Hy jou smeking sal hoor.
Want sy verbond bestaan vandag nog steeds.
Danksy Christus is jy ook deel van hierdie verbond.
Soos by alle ander Psalms, is ook hierdie Psalm in Christus vervul.
Die ervarings wat Dawid hier beskryf oor sy eie lewe, dit pas presies op Christus se lewe.
Maar dan is die dale net nog veel dieper.
Christus was ook tot in sy gebeente beangs.
Hy het ook wanhopig uitgeroep: o HERE, straf my nie in u toorn nie.
Nie net sy bed was deurdrenk van trane nie.
Selfs sy angssweet het soos bloeddruppels geword (Luk 22:44).
Aan die kruis het sy oë dof geword van verdriet.
Soos wat Hy aan die kruis gehang het en die bloed uit sy sy, sy hande en voete, geloop het, het Hy al hoe swakker geword.
Sy teëstanders het hom volledig in hulle mag gehad.
Die satan het toegekyk en soos ‘n hyena gelag.
Hy het die woorde in die verbygangers se mond gelê:
“As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” (Matt 27:40)
Dink net hoe pynlik dit vir ons Heiland moes gewees het.
Pynliker as die spykers deur sy hande en voete.
Dit feit dat sy eie volk gespot en gesê het:
Ja, jy, jy wat altyd so vroom was, kyk wat doen die HERE nou met jou!
Kry vir jou! Jy verdien dit!
Dink net hoe erg dit juis vir Hom moes gewees het.
Op aarde kon Hy by niemand op begrip reken nie.
En in teenstelling tot Dawid, wat nog in gebed tot God kon vlug, Christus kon selfs dit nie.
Selfs by sy eie hemelse Vader kon Hy op geen begrip reken nie.
Daardie dag het die wending van Psalm 6 nie plaasgevind nie.
Christus het nie soos Dawid die versekering gekry dat die HERE sy gebed aanneem nie.
Hy het die swaars moontlike straf ondergaan.
God het Hom gestraf in sy toorn.
Hy het Hom gekasty in sy grimmigheid.
Hy het Hom selfs verlaat.
En aan die einde van daardie dag het Christus fisies in die dal van doodskaduwee ingedaal.
Sy gebeente is in die grafkelder gebring, daar waar ‘n doodse stilte hang, en niemand God meer kan loof nie.
Tydens sy bediening op aarde het Jesus dikwels vir sy dissipels gesê:
Moenie vrees nie! (bv Matt 10:31; 14:27; 17:7; 28:10)
Daar was nie rede om bang te wees nie, wat Hy was by hulle.
Hulle was sonder rede bang.
Jesus was egter bang met rede.
Daar aan die kruis was die Vader nie meer by Hom nie.
Maar deur sy Middelaarswerk het Hy gesorg dat ook ons vandag geen rede meer het om te vrees nie.
In Psalm 6 herhaal Dawid tot drie keer toe dat God se gebed verhoor het.
Ons kan dit beaam, veel meer as tot drie keer toe, dat in Christus ons gebede verhoor word en ons vrese weggeneem word.
Want Psalm 6 is nie net vervul in die doodstraf wat Christus ondergaan het nie.
Ook die einde van die Psalm, daardie pragtige wending ten goede, is in Hom vervul.
Die Vader het sy Seun se smeking gehoor.
En op sy tyd het Hy Hom opgewek.
En toe dit gebeur, het die werkers van ongeregtigheid agteruitgewyk, ja sy vyande het beskaamd gestaan.
Hulle het in ‘n oomblik beskaamd omgedraai en op die vlug geslaan.
Hulle het nie geweet wat om te doen nie.
En dan gaan dit nie net oor mense – die soldate by die graf, en die Jode, die owerpriesters – nie, maar dit gaan oor Satan self.
Christus se opstanding uit die dood het hom baie verskrik, op daardie oomblik moes hy beskaamd omdraai.
Hy het die Leeu uit die stam van Juda se krag onderskat.
Die diepe betekenis wat in Psalm 6 reeds opgesluit gelê het, en wat in Christus openbaar het, daardie diepe betekenis het Satan nie besef nie.
Die vervulling van Psalm 6 het hom onkant gevang.
En gemeente, nou 2000 jaar later, luister ons nog steeds na Psalm 6, en sing ons dit nog steeds.
God se welverdiende strawwe maak ons ook bang, ook ons huil baie trane.
Maar ook ons ervaar die wending van hierdie Psalm, juis danksy Jesus Christus.
Al beleef ons dit vandag nog nie in sy volle omvang nie, weet ons dat die dag sal kom dat al my en sy vyande beskaamd sal staan.
Die dag waarop Hy hulle sal vonnis: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.” (Matt 25:41)
Ja, dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (HK, Sondag 19).
Volgende week gaan ons weer vier dat Psalm 6 in Christus vervul is.
Laat ons in die week wat kom daarby stilstaan dat die HERE se straf, sy kastyding, sy grimmigheid oor jou en my lewe tereg is.
En dat God alle reg het om ons skrik te maak, om ons by die afgrond van die dood te bring, ja selfs om ons ewig te straf.
Maar laat ons hierdie week opnuut pleit op basis van sy verbond, daardie band wat Hy self met ons aangegaan het, die band wat sy Seun Jesus Christus weer vir ons herstel het.
En gemeente, ervaar dan die wending ook in jou gemoedstoestand, in jou lewe.
En kom dan volgende week bly en verlangend kerk toe.
Jou teëstanders, die duiwel, die sondige wêreld en jou sondige ou mens bepaal nie meer jou toekoms nie.
Maar Christus se sterwe en opstandig – wat ons aan die nagmaal herdenk – bepaal jou toekoms.
Jou lewe, jou siel, is veilig by Hom, in lewe en sterwe.
En die dag as jou geliefdes hier op aarde jou gebeente in die aarde moet begrawe, mag hulle dit doen met die besef dat daardie selfde gebeente van jou, wat nou stil geword het in die graf, eendag weer sal opstaan om sy Naam te loof, om verenig met jou siel, vir ewig as konings saam met Hom op aarde te regeer.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Psalm 6
Teks: Psalm 6
Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Kan jy ‘n voorbeeld noem waar God Dawid gestraf het in sy lewe?
- Noem ‘n voorbeeld uit jou lewe toe jy tot in jou ‘gebeente’ verskrik was.
- Kan jy ‘n voorbeeld uit jou eie lewe noem toe die HERE jou gestraf het? Kon jy erken dat die straf tereg was?
- Wie is volgens die Heidelbergse Kategismus ons drie grootste vyande?
- Hoe was dit moontlik dat Dawid die sekerheid van verhoring kon ervaar aan die einde van Psalm 6?
- Noem twee dinge uit Psalm 6 wat in Christus se lewe op aarde vervul is.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 31:5,6,8
Wet
Ps 141:1-5,8
Gebed
Skriflesing: Psalm 6
Ps 6:1-6
Teks: Psalm 6
Preek
Ps 6:7,8
Gebed
Kollekte
Ps 35:4,11,12
Seën