Die Evangelie van Christus se lyding en kruisiging

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-01-16
Teks: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 15
Preek Inhoud: 

Die apostels het die wêreld ingereis om die Evangelie, die Goeie Boodskap, te verkonding dat Christus gely het en dat Hy gekruisig is.

Christus het hulle daardie opdrag gegee, om met hierdie Evangelie mense op te roep om in Hom te glo en by die kerk aan te sluit.

Dit was op eerste gesig ‘n onmoontlike opdrag.

Dit klink soos ‘n politieke party wat jou op weg stuur om stemme te werf vir ‘n leier wat as krimineel veroordeel is en die doodstraf gekry het.

Dit klink na ‘n oneerbiedige vergelyking, maar dit was wel presies die geval.

Die gemiddelde burger van die Romeinse Ryk sou in daardie tyd sy kop geskud het.

Julle praat oor ‘n Man wat deur ‘n wettige Romeinse regter veroordeel is, en wat daarna sy straf ontvang het deurdat Hy aan ‘n kruis opgehang is ...?

Onthou, kruisiging was in die Romeinse Ryk die gangbare metode om kriminele te straf.

Dit is op ‘n goed sigbare plek gedoen, sodat dit die burgers sou afskrik om nie misdade te begaan nie.

Golgota was langs die pad wat na Jerusalem gelei het.

Die kruise het daar gestaan soos billbords deesdae langs die snelweg staan.

Almal wat Jerusalem ingekom het, kon dit duidelik sien.

Daardie boodskap, dat hierdie Man gekruisig is, was al genoeg om die gemiddelde burger skepties te maak.

En dan die boodskap daarna dat Hy uit die dood opgestaan het, dit het elke weldenkende burger uiteraard ook skepties aangehoor.

Ook die feit dat hierdie Man gely het, het nie vir Hom gepleit nie.

‘n Suksesvolle leier ly nie.

‘n Suksesvolle leier word nie gevange geneem nie, maar oorwin.

Dus om terug te kom by die punt, Christus het sy dissipels met ‘n onmoontlike opdrag oppad gestuur – altans uit menslike oogpunt.

‘n Boodskap wat vir die gemiddelde burger, vir die Grieke ‘n dwaasheid, was – soos Paulus in 1 Korinthiërs 1:23 skryf.

En vir die Jode ‘n struikelblok.

 

Deesdae het die kruis die simbool van die Christendom geword.

Dit is ‘n positiewe, ‘n hoopgewende simbool.

Mense dra kruisies om hulle nek, hulle plant meters hoë kruise op heuwels en berge.

In die Bybelse tyd was die kruis egter ‘n ander simbool.

Die simbool vir misdaad, en dat die gereg sy gang moes gaan, dat misdadigers hulle welverdiende straf ontvang.

‘n Onmoontlike opdrag ... die Kruisevangelie uitdra, die boodskap van ‘n lydende Messias.

Tog het die apostels dit gedoen.

Ons lees in Handelinge 17 dat Paulus in Thessalonika vrymoedig in die sinagoge gepreek en uit die Skrifte aangetoon het dat die Messias moes ly (Hand 17:3).

En in Handelinge 26 hoor ons hoe Paulus dit ook aan Agrippa vertel: “dat die Christus moes ly” (Hand 26:23).

 

Tema: Die Evangelie van Christus se lyding en kruisiging

 

Wie was hierdie Agrippa eintlik?

Agrippa was die laaste koning wat in die Herodes-dinastie geregeer het.

Hy het geleef van ongeveer 10 voor Christus tot 44 na Christus.

Hoewel hy ‘n Jood was, het hy ‘n baie goeie band met die keiserlike familie in Rome gehad.

Hy was ‘n verligte denker, nie ‘n ortodokse Jood soos die Fariseërs nie.

Hy het die heersende opvattings van die Hellenistiese tyd oorgeneem.

Hy het bekend gestaan as ‘n ervare diplomaat, wat die nodige gedoen het om vreedsame verhoudings tussen Rome en die Jode te handhaaf.

Maar, waaroor dit gaan, is die vraag: Was dit verstandig dat Paulus vir hom vertel het dat die Messias gely het?

Want vir Agrippa, sowel as Jood en as wêreldburger, sou dit onsin gewees het, dwaasheid, ‘n aanstoot.

En nie net sy lyding en kruisiging nie, ook sy opstanding.

Die verligte wêreldburger van daardie tyd het die opstanding van die liggaam ‘n dwaasheid gevind.

By die sterwe was dit juis ‘n bevryding vir die siel uit sy liggaamlike gevangenskap, soos ‘n voëltjie wat uit sy hokkie uitvlieg.

Hoekom sou mens dan wou hê die liggaam moet weer opstaan?

Al met al, uit menslike oogpunt sou die prognose dat daardie boodskap wat die apostels moes gaan verkondig, enige slaagkans sou hê, bitter klein wees.

Nietemin het die apostels dit gedoen, in gehoorsaamheid aan hulle Sender.

En die Here het, soos daar in Markus 16 staan, “saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” (vers 20)

Die Heilige Gees het met hulle saamgegaan en die geloof in mense se harte gewerk, in antwoord op hierdie Evangelie oor die Messias wat gely het en gekruisig is.

 

Wat die apostels naamlik gedoen het, was om hierdie op die oog af bisarre gebeurtenisse uit te lê in die lig van die Skrif.

God het Homself naamlik al vir eeue lank aan die mensheid openbaar deur die profete wat Hy in die Joodse volk opgewek het.

Hulle het geprofeteer oor die Messias wat op koms was, en wat sy taak op aarde sou wees.

As Messias sou Hy nie in die eerste plek as ‘n oorwinnende koning kom nie, maar as – soos Jesaja hom beskryf het – die lydende Kneg van die HERE (Jes 53).

En in die konteks van God se openbaring, en die verloop van die heilsgeskiedenis, het dit sin gemaak.

Want die realiteit van die geskiedenis was dat die mensheid in sonde geval het, dat hulle daardeur die dood, selfs die ewige dood, oor hulle gebring het.

Die realiteit is dat die mensheid van hulle Skepper afgedwaal het, en steeds in staat van opstand teen Hom geleef het.

Die realiteit was dat die mensheid gekneg geraak het deur Satan, slawe van die sonde en die duiwel, om sy wil te doen.

Dit was en is die mensheid se grootste ellende op aarde.

En in die lig daarvan het dit alle sin gemaak dat die Skepper juis daarom die Messias gestuur het, eerstens om die geveg met Satan te wen, en om die ewige dood as straf op die sonde te oorwin.

 

Dus, in die lig van die Romeinse en Griekse wêreldbeskouing van daardie tyd, het die Evangelie van ‘n lydende en sterwende Messias nie sin gemaak nie, en selfs nie die feit dat Hy liggaamlik weer opgestaan het uit die dood nie.

En in die lig van hoe die Jode die Ou Testament uitgelê het, het die feit dat die Messias opgestaan het en ook ‘n Redder van die heidennasies sou word, hulle teen die bors gestuit.

Maar in die lig van God se openbaring, die regte uitleg van die Ou Testament, het die Boodskap van ‘n lydende en sterwende Messias, maar wat ook opgestaan het, volledige sin gemaak.

En dit is hierdie Blye Boodskap wat die apostels verkondig het, eers aan die Jode in die sinagoges, en daarna ook aan die heidene.

Hulle het lang preke gehou in die sinagoges, en teks vir teks uitgelê hoe die Ou Testament in Christus tot vervulling gekom het.

En so het die Heilige Gees deur die prediking van die waarheid omtrent die Messias gesorg dat daar geloof en bekering gekom het, dat daar gemeentes van Jesus Christus gestig is in verskeie stede regoor die Romeinse Ryk.

Die menslik onmoontlike, onlogiese, aanstootlike, het tog waar geword.

Die begin van die kerk in die Nuwetestamentiese tyd het sy beslag gekry.

Mense het die feite van die Evangelie omarm, beseffende wat dit vir hulle persoonlik beteken het.

 

In die Heidelbergse Kategismus, dit is 1500 jaar na die apostels se sendingsreise, word nou dieselfde feite van die Evangelie verduidelik.

Weer eens, nie in die konteks van die wêreldse gedagtes en beskouings van daardie tyd nie, maar weer vanuit die Skrif.

Die feit dat Christus gely het, was nie toevallig nie.

Inteendeel, die Skrif leer dat die toorn van God Hom bewus getref het.

Sy hele lewe het in die lig daarvan gestaan.

Maar veral rigting die einde van sy lewe het dit verskriklik erg geword.

Hierdie optrede van Hom was nie omdat Hy dit self enigsins verdien het nie.

Dit was omdat Hy vrywillig ingestem het om ‘n Bemiddelaar te wees.

Hy het, sê die Kategismus, die toorn van God teen die hele menslike geslag gedra.

Hierdie lyding van Hom, leer die Skrif ons, is die enigste maar ook enigste manier om weer genade by God, ons Skepper, te kry.

Dit was ‘n versoeningsoffer – ‘n term wat mens slegs in die konteks van die Ou Testamentiese offersimboliek kan verstaan.

Hierdie versoeningsoffer verlos ons van die ewige verdoemenis.

Dit was ons voorland.

Pleks daarvan, danksy sy Middelaarswerk, is die ewige lewe nou ons voorland.

Wat ‘n ongelooflike boodskap!

En soos die apostels dit verkondig het, en ook die Reformatore 1500 jaar later, het mense besef dat dit werd is om aangeneem te word, en so het die Gees die geloof in hulle gewerk.

Christus se lyding was nie betekenisloos, onsin, dwaasheid of ‘n aanstoot nie.

Dit was onderdeel van sy Middelaarswerk.

 

Dit was ook volledig beplan!

Dit het nie toevallig gebeur nie.

Daarop vestig v/a 38 ons aandag.

Die feit dat hy onder Pontius Pilatus gely en gekruisig is, was nie toevallig nie.

Die feit dat sy vonnis deur die Sanhedrin, die Joodse regbank, korrup was, was so duidelik soos daglig.

Pilatus se vonnis het dit onderstreep.

Pilatus het Hom onskuldig bevind.

Die feit dat Hy tog gekruisig is, is omdat Pilatus onder die druk ingegee het.

So het God Pilatus gebruik om sy onskuld te bewys.

Nietemin het God Pilatus ook gebruik as die wettige verteenwoordiger van die wêreldse regbank, om Hom te vonnis.

Die Woord leer ons dat God alle owerhede en regters op aarde aanstel.

Pilatus se vonnis was dus nie buite God om nie.

Daaruit is sy Middelaarsposisie juis bevestig.

God die Vader, en God die Seun, het self vir hierdie verloop van sake gekies.

Hulle is nie daardeur oorval nie.

 

En dan wys die Kategismus nog daarop dat Christus se dood aan die kruishout ook nie toevallig was nie.

Dit was nie net omdat dit die gangbare manier was om kriminele in daardie tyd te straf nie.

Dit was ook in lyn met God se oordeel oor kriminele soos in die Torah geopenbaar.

Deuteronomium 21:23: “want een wat opgehang is, is deur God vervloek.”

Dus, toe Christus toelaat dat hulle Hom kruisig, het Hy self gekies om die vloek van sy Vader op Hom te neem – juis in sy funksie as Middelaar.

Want so het Hy die vloek wat op my gerus het, op Hom geneem.

 

Ons lewe vandag 2000 jaar na die apostoliese tyd, en alweer 500 jaar na die Reformasie.

Maar nog steeds, as die heilsfeite van Christus se lyde en kruisiging aan ons in die prediking verduidelik word, dan bring dit ‘n hoopvolle lig in ons lewe.

Dan ervaar ons hoe die Heilige Gees deur die prediking van daardie heilsfeite die geloof in ons wakker maak, ‘n ontsettende dankbaarheid vir wat ons Middelaar gedoen het, ‘n liefde vir Hom, ‘n vertroue in Hom.

Broer, suster, ervaar jy dit ook?

 

Maar laat ons nie blind wees nie.

Ook in ons tyd is hierdie Evangelie ‘n dwaasheid en ‘n aanstoot.

Ook in ons tyd is dit nie in lyn met die heersende wêreldbeskouings nie.

En laat ons ook nie naïef wees nie.

Die heersende maniere van denke het ook ‘n invloed op ons.

Die afgelope dekades is daar juis deur Christene, ook deur Gereformeerdes, vraagtekens geplaas by die leer van versoening deur voldoening.

Daar word kritiek op die Heidelbergse Kategismus uitgespreek.

Hierdie leer van versoening deur voldoening is te juridies, of te skolasties, dit pas nie by die Godsbeeld wat mense deesdae het nie.

Dit maak mense eerder bang vir God.

Mense wil hoor van ‘n God van liefde.

Mense verstaan nie hoe ‘n God van liefde sy eie Seun dit kon aandoen, dat Hy so erg moes ly en aan ‘n kruis moes sterf nie.

Die leer van versoening deur voldoening gaan daarvan uit dat God die Vader en God die Seun bewus dit gedoen het, en self alles beplan het.

Dit is vir hedendaagse denkers onverteerbaar.

Hulle vervang die leer van versoening deur voldoening met alternatiewe verklarings.

Die feite van Christus se kruisiging sou vir God oorval het, onkant gevang het.

Sy kruisiging moet nie as ‘n bewuste straf gesien word nie, maar eerder as ‘n tragiese sameloop van omstandighede.

Die goeie wat daaruit voortgekom het, was nie wat die klassieke leer versoening deur voldoening noem nie.

Maar die goeie wat daaruit voortgekom het, was dat dit ‘n skokreaksie teweeg gebring het.

Dat daar vanuit hierdie sinlose moord ‘n massabeweging op gang gekom het ...

 

Gemeente, laat ons vashou aan die leer van versoening deur voldoening.

Ons kan dit nie verstaan, deurgrond nie.

Maar dit is wel wat die Skrif aan ons voorhou.

Laat ons dit nederig en diep dankbaar aanvaar.

 

Verder sien ons in ons tyd dat mense sogenaamde nuwe perspektiewe op ‘n apostel soos Paulus ontwikkel.

Hy sou nie die leer van versoening deur voldoening gepreek het nie.

Paulus sou homself veral beywer het vir die opheffing van die skeidslyn tussen Jode en Grieke.

Die mensheid se sondeskuld in terme van God se openbaring in sy hele wet, verdwyn op die agtergrond.

En in lyn met Paulus, word daar dan vandag geredeneer, moet ons ook alle skeidslyne ophef, soos die skeidslyn tussen man en vrou, en tussen homo- en heteroseksueel, en tussen ryk en arm, ensovoorts.

Dis duidelik dat Paulus se prediking heel anders uitgelê word, en dat so die leer van versoening deur voldoening op die agtergrond verdwyn.

 

Weer eens, gemeente, ons is nie immuun teen die denke van ons tyd nie.

Ons lewe en haal asem in ons tyd, nie net letterlik nie, maar ook figuurlik.

Om nog een voorbeeld te noem:

Op die afgelope kongres in Desember noem een van die jongemense vir my:

Hy sukkel met die gedagte dat God mense vir ewig in die hel straf.

Vir jou gevoel maak dit nie sin nie, dat as ‘n mens in sonde geleef het tydens sy lewe – ‘n leeftyd van hooguit 100 jaar – dat hy dan vir ewig daarvoor in die hel gestraf moet word.

Is dit nie onregverdig van God nie?

Is dit nie in ‘n mate, soos die Engelse sê, ‘overkill’ nie?

Hoekom moet mense vir so lank, ja vir ewig, gestraf word vir iets wat hulle net tydelik gedoen het?

Gemeente, ek noem dit nie om kritiek te hê op die jongmense nie.

Laat ons eerlik wees, ons almal worstel met gedagtes soos hierdie.

Ook hieruit blyk hoe ons deur ons tydsgees beïnvloed is.

En selfs los daarvan, ons sal nooit God se besluite kan verstaan of deurgrond nie.

Maar die laaste wat ons moet doen, is om met God in ‘n redenasie te gaan.

Want wie is ons, die klei, om die pottebakker voor te skryf?

Laat ons eerbiedig sy oordele vir sy rekening laat.

Laat ons des te meer dankbaar wees dat Hy vir ons en vir elke mens op aarde die kans bied tot redding, tot ontsnapping aan hierdie verskriklike oordeel.

Ja hulle wat hel toe gaan, het self gekies om in hulle opstand teen God te volhard.

Dit is nie God se skuld nie.

En laat ons ons des te meer verwonder dat sy Seun, ons Here Jesus Christus, bereid was om as Middelaar daardie oordeel in ons plek op Hom te neem.

Laat ons rus vind in dit wat aan ons geopenbaar is deur God in sy Woord.

Want dit is die Goeie Boodskap, ook vir jou en my – die Evangelie van Christus se lyding en kruisiging.

Daar is soveel om voor dankbaar te wees!

Genade op genade!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 17:1-9 & Handelinge 26

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 15

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Watter gevoelswaarde het die gemiddelde Romeinse burger by ‘n kruis gehad?
  2. Hoekom het Agrippa gedink Paulus is kranksinnig (Hand 26:24)?
  3. In die lig waarvan begin die feite van Christus se lyding en kruisiging sin maak?
  4. Hoekom is die Evangelie van versoening deur voldoening vir mense deesdae moeilik verteerbaar?
  5. Hoe kan jy rus vind by die gedagte dat in die hel mense ewig gestraf gaan word?
  6. Spreek in jou gebed jou dankbaarheid uit vir die feit dat Christus jou Middelaar geword het.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 22:1

Gebed

Skriflesing: Handelinge 17:1-9 & Handelinge 26

Ps 3:1,2

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 15

Preek

Ps 22:9-11

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 116:5,6

Kollekte

Ps 116:7-10

Seën