Preek: Handelinge 13:48
Elke nou en dan stuur die sendelinge ‘n epos waarin hulle vra dat die Here gedank word, ook in ons gemeente, vir mense wat hulle by die kerk aansluit – volwassenes deur geloofsbelydenis of kinders deur die doop.
Die laaste keer wat ek kan onthou was einde November laasjaar.
As sendende kerk is ons dan saam bly met die sendingskerk.
Die feit dat mense tot geloof in die Evangelie kom, is ‘n rede tot groot blydskap, ‘n rede om die Here te prys en te dank.
Dit is ‘n bewys dat Christus nog steeds voortgaan om hulle te versamel wat tot die ewige lewe uitverkies het.
Dat Christus sy gemeente nie in die steek gelaat het nie, maar nog steeds besig is om die kerk te vergader, te beskerm en te onderhou.
Tema: Deur die Evangelieprediking skenk Christus geloof aan hulle wat vir die ewige lewe bestem is.
Alhoewel Paulus se preek in Antiochië op ‘n negatiewe noot geëindig het, is ons teks – wat direk daarop volg – baie positief.
Nadat Paulus verduidelik het dat juis die Ou Testament al oor die bekering van die heidene geprofeteer het, was hulle baie bly.
Die heidene het die Woord van die Here geprys, staan daar in ons teks.
Dit was goeie nuus vir hulle, die feit dat juis in daardie oerou boeke, waarop die Jode so trots was, alreeds staan dat die Evangelie ook vir heidene bedoel was.
En, staan daar dan, almal wat verordineer was tot die ewige lewe, het gelowig geword.
Oorspronklik staan daar: soveel as wat verordineer was.
Dit kom op dieselfde neer as die woord “almal” in ons vertaling.
Die Griekse woord wat hier met verordineer vertaal is, word deurgaans vertaal met die woorde: aanstel of aanwys.
Mens hoor dit byvoorbeeld terug in die English Standard Version: “as many as were appointed to eternal life”.
Die Totius-vertaling het waarskynlik die woord verordineer gekies vanuit die besef dat hierdie vers as ‘n bewysteks vir die uitverkiesing gebruik word.
Vertalings soos die ESV volg meer letterlik eksegeties wat die Grieks daar sê.
Tog is dit nie ‘n ander betekenis nie.
Want as mens nadink oor wat aanstel of aanwys beteken, dan kom mens tot presies dieselfde konklusie.
Dit is God wat in hierdie stad, Antiochië, dus individue aangewys het om die ewige lewe te ontvang.
Dis nie Paulus wat hulle aangewys of geselekteer het nie, dit was God.
Dit kom ons baie duidelik ook uit die res van die boek Handelinge agter.
Nie die apostels kies nie, hulle verkondig net.
En dit is God wat kies.
Dit is Christus wat deur sy Gees en Woord sorg dat almal wat die Vader verkies het en aan Hom toevertrou het, die Evangelie aanneem.
Nou is dit inderdaad so dat ons teks ‘n belangrike bewysteks geword het vir die leer van die uitverkiesing, en met goeie rede.
Dit het selfs daartoe gelei dat hulle wat die leer van die uitverkiesing verwerp, die teks anders begin vertaal het, in die trant van: hierdie mense het hulleself geskaar by die ewige lewe, of: hierdie mense was goed geposisioneer vir die ewige lewe.
Maar die Griekse woord wat gebruik word, is grammaties in die passiewe vorm.
Daar kan mens nie omheen nie.
Dis dus nie die mense wat hulleself geskaar het by die ewige lewe nie, maar God het hierdie mense aangewys, verordineer, vooruitbestem, oftewel uitverkies, om die ewige lewe te ontvang.
En soos ons elders in die Nuwe Testament lees, die ewige lewe is ‘n geskenk, dit is nie iets waarby ‘n mens homself kan skaar, asof hy dit self kan bereik nie.
Dink aan Johannes 10:28, waar Jesus sê: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie.”
Dus, almal wat Hy vooruitbestem het, vir almal van hulle sorg God dat die Woord aan hulle verkondig sal word.
Dus, dit is nie so dat God Paulus op sendingsreis stuur, ‘random’, en dat hy preek waar hy kom, en dan moet daar gesien word of daar iemand is wat die boodskap gaan aanvaar.
En omdat Paulus ‘n sterk boodskap het, is die kans goed dat mense daaraan gehoor sal gee.
Maar vantevore is dit dan nog nie ‘n uitgemaakte saak nie, wie die Evangelie gaan aanvaar en wie nie.
Nee, so is dit nie.
Ons teks lig vir ons bietjie die sluier wat betref God se raadsplan, wat vir ons grotendeels verborge is, en wat ons in elk geval ook nie sal verstaan nie.
Maar ons teks maak dus duidelik dat die apostels se sendingsreise nie ‘random’ was nie.
Inteendeel, God het geweet op watter plekke, in watter stede en dorpe, daar mense was wat Hy reeds lankal tot die ewige lewe voorbestem het.
En God het Paulus se voetstappe so gelei dat hy presies na daardie stede en dorpe gegaan het waar God mense vooruitbestem het vir die ewige lewe.
Paulus en Barnabas het self beslissings gemaak waarheen hulle sou gaan.
Persoonlike faktore het daarby ‘n rol gespeel.
Die eerste sendingsreis het begin op die eiland Ciprus, nie toevallig nie, maar omdat Barnabas daarvan afkomstig was, en die eiland dus geken het.
Daarna het hulle oorgevaar na Klein-Asië, na die gebied waar Paulus vandaan gekom het.
Maar tog het God hierdie persoonlike oorwegings gebruik, ook dit was in sy beheer, om die apostels te kry waar Hy hulle wou gehad het.
En wat so mooi is, is dat die skrywer, Lukas, dit besef het, en die boek Handelinge dan ook vanuit daardie perspektief beskryf het, geïnspireer deur die Heilige Gees.
In Handelinge 15 skryf Lukas, juis in verband met die bekering van die heidene: “aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.”
Die feit dat Paulus op sendingsreise na die heidene vertrek het, was ‘n omstrede saak onder die Jode.
In Handelinge 15 herinner Petrus die Jode egter daaraan dat dit nie die inisiatief was van Paulus as ‘n eksentrieke persoon nie, maar dat dit onderdeel is van God se werke, wat Hy van ewigheid af so beplan het.
En in Handelinge 16 skryf Lukas byvoorbeeld dat die Gees hulle nie toegelaat het om na Bithinië te reis nie.
Hoe dit Gees dit gedoen het, word nie vermeld nie.
Dit kon omstandighede gewees het wat die Gees gebruik het om hulle in ‘n ander rigting te stuur.
Op ander plekke het die Gees gebruik gemaak van ‘n naggesig (Hand 16:9).
In elk geval is baie duidelik dat die roete van die sendingsreise nie toevallig tot stand gekom het nie.
Die bepalende faktor daaragter was dat God wou hê dat die apostels sou uitkom by almal wat uitverkies was tot die ewige lewe.
Hierdie leiding van God het natuurlik nie net in die Bybelse tye plaasgevind nie.
Ook in alle eeue daarna het God sy evangeliepredikers gestuur na daar waar Hy hulle wou hê.
Toe die eerste sendelinge vanuit Europa na Suid-Afrika gekom het, lees ons ook dat die opdrag aan hulle gegee is om in daardie ver land die Evangelie te gaan verkondig, onder die heidene wat so barbaars gelewe het, om sodoende te sien of God ook daar mense het wat tot die ewige lewe uitverkies is.
En inderdaad het geblyk dat ook onder hulle, onder daardie wilde mense aan die suidpunt van Afrika, ook uitverkorenes hulle bevind het.
Vooraf weet ‘n sendeling dit nie.
Maar hy gaan na waar die Evangelie nog nie geklink het nie, en hy verkondig dit daar.
En vervolgens is dit die Heilige Gees wat die vrugte van geloof en bekering skenk.
Ons neem hier dus ‘n wisselwerking, ‘n samewerking waar tussen God en die mens.
God span die mens in, hy is die verkondiger van die Evangelie.
Sonder die apostel se evangelieprediking sou die mense in Filippi, die mense in Berea, die mense in Korinthe en Athene nie tot bekering kon gekom het nie.
Daar was ‘n opdrag aan die apostels om uit te gaan en aktief die evangelie te verkondig.
Hulle moes nie net sit en wag in Jerusalem nie.
Inteendeel, gaan dan heen, en julle moet “my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:8)
Dit was die laaste woorde van die Messias aan die apostels.
Mag dit baie duidelik wees, van passiwiteit was daar geen sprake nie.
Paulus het op sendingsreise vertrek, met alle gevolge van dien.
En sou die apostels dit nie gedoen het nie, dan sou hulle ongehoorsaam gewees het, dan sou Christus van hulle rekenskap geëis het.
Die Evangelieverkondiging, die oproep tot bekering, tot die maak van ‘n aktiewe keuse, is dus onderdeel van God se raadsplan.
Hulle moes die Woord met erns verkondig, ja daar was ‘n opregte aanbod van God se genade aan elke mens wat dit hoor.
Maar in elke stad of dorp was dit ook so dat baie wat die Evangelie gehoor het, gekies het om dit nie aan te neem nie (Dordtse Leerreëls 1,4 & 2,6).
Dit was nie God se skuld, omdat Hy daardie mense nie verordineer het tot die ewige lewe nie, dit was hulle eie volgehoue opstandigheid teen hulle Skepper.
In vers 46 lees ons dat Paulus sê dat die Jode die woord van God verwerp en hulleself die ewige lewe nie waardig ag nie.
Dus, om die ewige lewe te ontvang, is ‘n geskenk van God.
Om die ewige lewe nie te ontvang nie, is egter nie aan God te wyte nie, maar omdat mense self nie belangstel nie.
Hulleself nie waardig ag nie.
Hiermee word bedoel, dit is benede hulle waardigheid.
Die Jode het geredeneer, as dit so is dat die heidene ook die ewige lewe gaan ontvang, dan stel ons nie meer belang nie.
En die besef dat God uitverkies, kon die apostels juis dan troos, al was dit vir Paulus baie swaar om te aanvaar dat soveel van sy volksgenote hulle rug gedraai het op die Evangelie.
Maar, as die apostels maar net opreg en gehoorsaam die Woord verkondig het, was dit nie hulle skuld as die meerderheid van die stad dit nie aangeneem het nie.
Daarom kon hulle vrymoedig die stof van hulle voete afskud en na ‘n volgende stad gaan.
Maar as daar mense tot bekering gekom het, was dit ook so dat die apostels hulleself nie op die skouer kon klop nie.
Ook moes hulle nie die opvatting hê dat hierdie mense reeds goed, reeds beter was as die ander nie.
‘n Evangelieverkondiger val maklik in daardie slaggat.
Toe ek sendeling was, het dit soms gebeur dat ‘n nuwe gesin eredienste begin bywoon het, en dat ek gedink het: Hierdie lyk nou regtig na goeie mense ... net om enkele weke later agter te kom dat hulle nie belangstel nie en opgehou het om kerk toe te kom.
Terwyl daar ook gevalle was waar mense begin kerk toe kom het, wat ek by wyse van spreke nie eers raakgesien het nie, of waar ek skepties was oor die kans of hulle ernstig is oor die geloof, en waarvan ek aanvanklik gedink het dat hulle nie ‘n aanwins vir die gemeente sou wees nie; en dan teen my verwagting in blyk juis dat hulle aanhou kom, dat hulle bly groei, dat hulle klasse begin volg, en dat hulle uiteindelik belydenis van geloof aflê.
As sendeling kry jy nie ‘n bonatuurlike openbaring wie tot bekering sal kom nie, en so was dit ook nie by die apostels nie.
Maar die verkondiging van die Evangelie maak wel dinge duidelik.
Waar die Evangelie bedien word, kom daar beroering – oorgawe of verharding.
Dit is die patroon wat ons reg deur Handelinge sien.
Ons teks word meer as een keer in die Dordtse Leerreëls gebruik in verband met die uitverkiesing, en dit is nie verbasend nie.
Dordtse Leerreëls 1,10 noem ons teks as bewysteks:
“Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as 'n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie.”
Wat die Dordtse Leerreëls hier skryf, het te make met die slaggat wat ek hierbo genoem het – dat mens gou geneig is om te dink daar is sommige positiewe hoedanighede, positiewe eienskappe in mense, wat God was voorwaarde vereis om iemand uit te kies.
Nee dus, dit is presies andersom.
Sy genadige uitverkiesing bring juis die positiewe eienskappe voort.
Geen vereiste dus nie, maar vrug van.
Ook in die verwerping van die dwalings by hoofstuk 1 benadruk die Dordtse Leerreëls dat God nie hulle wat tot geloof kom, op grond daarvan uitverkies nie (DL 1, verwerping dwalings 1).
Dan word uitverkiesing afhanklik van geloof.
Maar geloof is die vrug van die uitverkiesing, ‘n vrug wat begin groei sodra die saad van die Evangelie gesaai is.
Die Evangelie moet gesaai word, dit is ‘n opdrag.
Dit is die middel waardeur God die geloof skenk.
Net so geld dit ook vir ons vandag.
Passiwiteit is ongehoorsaamheid.
Baie konkreet in ons situasie hou dit in die opdrag tot sendingswerk.
Nie net vir ons sendelinge nie.
Ook dat ons as gemeente nie passief, ongeïnteresseerd is wat betref die sending nie.
Of nog erger, dat ons negatief raak oor die sending nie.
Dan maak ons soos die Jode in Antiochië, wat lasterlike woorde teen Paulus begin spreek het.
As die heidene ook die ewige lewe gaan beërwe, dan stel ons nie meer belang nie.
Of, in vandag se terme, as swartmense ook hemel toe gaan, wil ek nie in daardie hemel wees nie.
Natuurlik is dit so dat die Satan ook baie aktief is op die sendingsveld, met die gevolg dat daar ook baie sondige dinge is, ook onder die gelowiges.
Maar dit neem nie weg dat Christus deur sy Woord daar besig is nie.
En die vrugte op die verkondiging van sy Woord bly nie uit nie.
Soos ek aan die begin genoem het, elke nou en dan ontvang ons ‘n epos met die versoek dat ons, as sendende kerk, ook dank vir nuwe mense wat by die gemeente aansluit.
Laat die sendingwerk ons daarom aan die hart gaan.
Laat ons moeite doen om hulle te leer ken wat God tot die ewige lewe verordineer het, hulle wat op die sendingsveld die Evangelie aangeneem het.
God het die verkondiging van die Evangelie ‘n plek gegee in sy raadsplan.
Die geloof groei as die saad van die Evangelie gesaai word.
En dis nie net die sendelinge wat die saad saai nie.
In woord en daad is elkeen van ons getuies van die Evangelie.
Net soos die Jode destyds, wat al vir so lank in die verbond was, is meeste van ons ook al vanaf ons geboorte in die verbond.
Ons is geseën met baie insig in die Woord – leerstellig maar ook prakties.
Die Gereformeerde lewensstyl, waarmee ons opgegroei het, is ‘n vrug van die Evangelieverkondiging.
Op die sendingsveld moet die mense nog baie groei in die besef wat die Evangelie inhou vir elke dag se lewe.
Hoe om jou geloof hande en voete te gee.
Hier lê ‘n groot taak, juis ook vir julle as gemeente.
Julle sal moeite moet doen om die gelowiges op die sendingsveld te leer ken.
Om hulle blootstelling te gee aan hoe jy jou geloof uitleef.
En dan gaan dit nie daarom dat jy beter is nie.
Maar dit is wel ‘n feit dat ons as gemeente, en jy ook persoonlik, al geweldig geseën is deur die genade van Christus, en al soveel vrugte as geskenk ontvang het, danksy die Evangelieverkondiging in jou lewe, danksy die feit dat jy ‘n Godvresende opvoeding ontvang het, iets wat baie op die sendingsveld nie gehad het nie.
Met daardie geskenke, met daardie talente moet jy woeker, jy mag dit nie begrawe nie.
Laat dit so wees dat jy aan die einde van hierdie jaar ‘n paar medegelowiges vanaf die sendingsveld persoonlik leer ken het.
As daar soveel talente aan jou gegee is, kan jy nie passief bly nie.
Die apostel Petrus het op ‘n stadium daarvoor weggeskram om met die heidengelowiges saam te eet (Gal 2:11v).
Christus het hom ernstig daaroor vermaan.
Laat daar geen rede wees dat Christus ons moet vermaan oor ons passiwiteit, of nog erger, negatiwiteit oor sy werk van Evangelieverkondiging hier in Suid-Afrika nie.
Dit is die enigste redding vir Afrika.
En wie weet hoeveel mense hier in Suid-Afrika God nie nog verordineer het tot die ewige lewe nie.
Vir God om te weet.
Vir ons om uit te vind, juis deur die verkondiging van die Evangelie, en ons getuienis van die Evangelie in woord en daad.
Deur die Evangelieprediking skenk Christus geloof aan hulle wat vir die ewige lewe bestem is.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Handelinge 13:13-52
Teks: Handelinge 13:48
Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Hoekom was die Jode so omgekrap oor Paulus se prediking in Antiochië?
- Hoe het duidelik geword dat daar mense in Antiochië was wat God tot die ewige lewe verordineer het?
- Waar word Handelinge 13:48 in die Dordtse Leerreëls as bewysteks gebruik?
- Wat kan ons leer uit die feit dat Paulus en Barnabas die stof van hulle voete afgeskud het (Hand 13:51)?
- Was jy al in een van die sendingskerke?
- Watter medegelowige ken jy vanaf die sendingsveld?
Votum
Seën
Ps 99:1,2
Wet
Ps 99:5
Gebed
Skriflesing: Handelinge 13:13-52
Ps 67:1,2
Teks: Handelinge 13:48
Preek
Ps 87:1-5
Gebed
Kollekte
Sb 45:1,3,10,12
Seën