Hoekom moes Simon van Cirene die kruis dra?

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-04-10
Teks: 
Lukas 23:26
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 23:26

 

Via Dolorosa.

Dit het ‘n bekende uitdrukking geword vir die laaste fase van Jesus se lewe.

Via Dolorosa – weg van smarte.

Tradisioneel gesien as die roete wat Jesus afgelê het tot op Golgota, nadat hy deur Pilatus veroordeel is.

In die Roomse tradisie word dit in 14 gebeurtenisse, 14 sogenaamde stasies, opgedeel, vanaf die veroordeling deur Pilatus, die kruis wat op sy skouers gelê is, die eerste keer wat Hy geval het, Jesus wat sy ma ontmoet, Simon van Cirene wat beveel word om die kruis te dra, ‘n vrou met die naam Veronica wat Christus se gesig afvee, Jesus wat vir ‘n tweede keer val, die vroue van Jerusalem wat oor Jesus ween, ensovoorts.

Al hierdie stadia kom nie uit die Bybel nie, sommige kom uit apokriewe verhale, soos Veronica wat sy gesig afgevee het, en Jesus wat tot drie keer toe sou geval het.

In Roomse kerke vind mens dikwels skilderye of beelde van hierdie 14 gebeurtenisse op Jesus se lydensweg na Golgota.

Mense gebruik dit om die lydenstyd en Goeie Vrydag te herdenk.

 

Behalwe vir die apokriewe stories, is dit nie verkeerd om hierdie gebeurtenisse te herdenk nie.

Elke jaar in die periode rondom Goeie Vrydag en Paasfees herdenk ons die heilsfeite, hoe Christus tydens sy hele lewe op aarde gely het, maar veral aan die einde daarvan, soos die Heidelbergse Kategismus dit verwoord.

 

Vandag kyk ons na die aan die een kant so bekende naam, maar aan die ander kant misterieuse figuur – Simon van Cirene – wat totaal onverwags deel van Jesus se lydensweg geword het.

Wat leer hierdie geskiedenis van Simon van Cirene ons?

Wat is die Evangelie daarin, watter troos kan ons daaruit haal?

Watter boodskap het dit vir ons?

 

Tema: Simon van Cirene moet die kruis dra om Christus te spot en om ons te troos

 

Oor Simon van Cirene is daar deur die eeue al baie gespekuleer, wie hy eintlik was.

Hoe dit gebeur het dat hy daardie dag juis van die veld afgekom het, verby die optog gekom het met Jesus wat sy kruis gedra het, en wat daarna, in sy latere lewe met hom gebeur het.

Simon van Cirene is as ‘t ware ‘n misterieuse figuur, wat ons kortliks hier in die Bybel ontmoet.

Mattheüs, Markus en Lukas noem hom, al bestee elkeen van hulle nie meer as een vers aan hom nie.

 

Wat weet ons oor hom?

Sy naam Simon dui daarop dat hy ‘n Jood was.

Simon is ‘n Joodse naam.

Dan staan daar Van Cirene.

Cirene was ‘n plek in Noord-Afrika aan die kus van die Middellandse See, ongeveer waar Tripoli in Libië vandag geleë is.

Dit is bekend dat daar na die ballingskappe van die Noordelike- en Suidelike Ryk ‘n Joodse gemeenskap daar ontstaan het.

In die tyd van Jesus was dit ‘n groot gemeenskap.

Ons lees meer dikwels in die Nuwe Testament oor Jode uit Cirene.

Byvoorbeeld op Pinksterdag, tydens die Joodse Pinksterfees, was daar ook Jode en Jodegenote uit die streke van Libië by Cirene aanwesig – Handelinge 2:10.

Nou is dit moontlik dat Simon self van Cirene afkomstig was, dat hy daar gebore is en gewoon het, dat hy moontlik nou vir die Pasga in Jerusalem was.

Maar dis nie te sê nie.

Ook vandag het mense vanne wat na plekname verwys, terwyl hulle self nie daar gebore is nie, en selfs hulle voorgeslagte al lank al nie meer daar woon nie.

Dink byvoorbeeld aan iemand met die van Van Deventer.

Dit wil nie sê dat daardie persoon in die stad Deventer in Nederland gebore is nie.

Maar êrens in die verlede was daar ‘n voorvader wat wel van daardie stad afkomstig was.

 

Verder staan daar dat Simon van die veld af gekom het.

Kan mens daaruit aflei dat hy ‘n landbouer was?

Dit gaan te ver.

Van die veld af is nie genoeg inligting om daardie konklusie te trek nie.

Dit kon ook wees dat hy buite Jerusalem op die platteland gewoon het, en dat hy na die stad gekom het, byvoorbeeld om te offer by die tempel.

 

Dan is daar nog een ding wat ons oor Simon van Cirene weet.

Dit staan nie in ons teks in Lukas nie, maar Markus het dit opgeskryf.

Daar staan dat hy die vader van Alexander en Rufus was.

Ons kom later hierop terug.

 

En dan die vraag: Hoekom moes Simon Jesus se kruis dra?

Dit was nie omdat die kruis vir Jesus te swaar geword het nie.

Dit was nie omdat Jesus gestruikel en geval het nie.

Dat Jesus drie keer op sy lydensweg sou geval het, is apokrief.

Dat Jesus onder die las, die gewig, van die kruis beswyk het, dit staan nêrens in die Bybel nie.

As dit so was, sou dit darem op ‘n bietjjie medelye gewys het van die kant van die soldate af, dat hulle Simon gekommandeer het om die kruis te dra.

‘n Klein bietjie verligting van sy lyde.

Maar so was dit nie.

In Johannes Calvyn se kommentaar op hierdie geskiedenis sien mens dat hy nog beïnvloed is deur al die apokriewe verhale rondom Simon.

Calvyn skryf dat normaalweg rowers en misdadigers sterk manne was, gespierd, en dat dit vir hulle nie moeilik was om ‘n kruisbalk te dra nie.

Daarenteen, skryf Calvyn, was Jesus ‘n lam wat ter slagting gelei is.

Hy was swak, nie sterk nie.

Daarom het Hy beswyk onder die las van die kruis.

Hierdie is egter ‘n verkeerde afleiding, dit is nie eksegese wat uit die teks kom nie, maar inlegkunde.

 

Hierdie teks verheerlik nie vir Simon nie.

Maar dit bring ons net nog meer onder die indruk van Jesus se lydensweg.

Die een bespotting na die ander wat op Hom neergedaal het.

Gebeurtenis op gebeurtenis was ‘n vernedering, ‘n bespotting.

Ook toe die soldate Simon van Cirene dwing om die kruis te dra, asof Jesus ‘n koning met ‘n kneggie was, ‘n bediende wat sy laste vir Hom moes dra.

Normaalweg moes die misdadiger self sy kruis dra, dis nou die dwarsbalk.

Die vertikale balk het al geplant gestaan op Golgota.

Maar by Jesus maak die soldate anders.

Nie omdat hulle Hom jammer kry nie, maar omdat hulle gehoor het dat Hy gesê het dat Hy die Koning van die Jode is.

Daarom het hulle ‘n rooi mantel vir Hom aangetrek (Matt 27:28).

Daarom het hulle ‘n riet in se regterhand gesit, asof dit sy septer was (Matt 27:29).

Daarom het hulle ‘n doringkroon op sy kop gesit (Matt 27:29).

Daarom het hulle op hulle knieë geval en spottend gesê: “Wees gegroet, Koning van die Jode!” (Matt 27:29).

En ook daarom het hulle Simon gedwing om sy kruis te dra, asof hy die koning se kneggie was.

En later sou spottend die opskrif bo sy kruis staan: Hy is die koning van die Jode (vers 38).

En wat die ergste was, is dat Jesus besef het dat dit nie net die soldate was wat met Hom die spot gedryf het nie, maar dat sy eie Vader in die hemel dit alles toegelaat het.

Hoe sy eie Vader steeds verder sy hande van Hom afgetrek het.

 

Gemeente, as ons dit alles so hoor, is ons diep dankbaar vir Christus se Middelaarswerk, en al die lyding en bespotting en verstoting wat dit ingehou het.

Dit is die eerste boodskap, toepassing, vertroosing vir ons uit hierdie teks.

Ook hierdie galgehumor dat as Hy as koning van die Jode nog ‘n kneggie sou hê om sy kruis vir Hom te dra, ook dit was deel van sy lyde.

Dus wat leer hierdie geskiedenis van Simon van Cirene ons?

Wat is die Evangelie daarin, watter troos kan ons daaruit haal?

Watter boodskap het dit vir ons?

Klink hierin die boodskap om ‘n navolger van Simon van Cirene te wees?

Al kan ons nie meer Christus se kruis dra nie, om tog ons eie kruis gewillig op te tel en te dra?

Moet ons Simon se goeie voorbeeld navolg, sy goeie werk, sy daad van barmhartigheid om Jesus by te staan op sy lydensweg?

‘n Kortstondige lafenis op sy weg van smarte?

Moet ons ook bereid wees om dit vir ons Heiland te doen?

Is dit die toepassing van ons teks?

 

Geliefdes, ons het gesien dat daar baie apokriewe verhale bestaan oor Jesus se lydensweg.

Hierdie verhale beïnvloed ook die manier hoe ons na Simon van Cirene kyk en wat ons oor hom dink.

Maar in hierdie preek gaan ons terug na die Skrif – die Skrif alleen – sonder alles wat later daaraan toegevoeg is, om daaruit te leer wat regtig gebeur het, en wat die eintlike rede was hoekom Simon Jesus se kruis gedra het.

Dit het geblyk dat die rede totaal anders was, eintlik heeltemal die omgekeerde.

Simon se daad was nie ‘n daad van barmhartigheid, ‘n moment van lafenis op Jesus se lydensweg nie.

Simon het nie vrywillig die kruis oorgeneem nie.

Simon is deur die soldate gedwing, hulle het hom as ‘t ware aan sy hare nadergetrek.

Lukas skryf dat hulle hom ‘geneem’ het.

Die evangelis Markus verwoord dit nog sterker: Hulle het Simon gedwing! (Mar 15:21).

Die kruis was ‘n afgryslike iets, geen ‘gewone’ mens sou vrywillig aanbied om ‘n misdadiger se kruis te dra nie.

Ook nie Simon wat ‘toevallig’ daar verby gekom het.

Daarom, gemeente, pleks van ‘n oomblik van lafenis, was dit net nog ‘n onderdeel van die soldate se spot.

Nog meer vernedering vir ons Heiland.

En die feit dat Jesus vir ‘n kort rukkie van die swaar vrag bevry was, daardie oomblikke het Hy toe nie gebruik om gou bietjie water te drink nie, selfs daardie oomblikke het Hy gebruik om uit te reik na sondaars.

Dit sien ons in die verse wat volg, toe Jesus die dogters van Jerusalem aangespreek het.

Oor wat Jesus toe gesê het, hoop ek om aanstaande Vrydag, Goeie Vrydag, in die prediking aandag te skenk.

 

Gemeente, die toepassing van hierdie gedeelte vir ons is daarom nie ‘n morele oproep om so gewillig soos Simon van Cirene te wees nie.

Maar laat ons eerstens diep dankbaar wees!

En onsself verootmoedig.

Want ook oor ons sondes moes Jesus hierdie lydenspad loop.

 

En tweedens, gemeente, ek het nounet die woord ‘toevallig’ gebruik.

Simon van Cirene het ‘toevallig’ daar verby gekom van die veld af.

Maar soos ons weet, daar bestaan nie toeval nie.

Alles is in God se hand, Hy lei alles.

Duidelik was Simon nie geïnteresseerd in die Messias nie.

As hy sou gewees het, sou Hy op daardie oomblik êrens in die optog agter Hom aan geloop het.

Simon was egter daardie dag in die veld.

Wat hy daar gedoen het, weet ons nie.

En op sy pad van die veld af, kom hy verby die stoet.

Soos hy Jerusalem binnekom, beweeg Jesus en die menigte die stad uit op pad na Golgota.

En totaal onverwags verander sy dag.

Hy word gedwing om met die Messias kennis te maak.

Mens vra jouself af: Het dit enige impak op hom gehad?

Het dit hom dieper laat nadink oor Jesus?

Het hy vanaf daardie dag belangstelling begin toon in wat Jesus tydens sy lewe op aarde gedoen het?

Het hy dalk tot geloof gekom?

Weer eens, gemeente, bestaan daar baie apokriewe verhale oor hierdie Simon van Cirene.

En dit is nie waarna ek nou wil verwys nie.

Maar daar is een ding waarna ons wel kan verwys, op grond van die Skrif.

Behalwe vir dit wat Lukas vertel – die bitter weinig wat ons oor Simon weet – noem die evangelis Markus net nog een iets, Markus 15:21:

Hy skryf dat Simon die vader was van Alexander en Rufus.

Skynbaar was hierdie twee name bekend by die eerste lesers van die Evangelie van Markus.

Simon se twee seuns was deel van die vroeë Christene, van die eerste gemeentes.

En die ander gelowiges het hulle geken!

Sonder om te veel te spekuleer, sou mens die afleiding kon maak dat Simon van Cirene daarna dus wel tot geloof gekom het.

Want hoewel Alexander en Rufus sover ons weet nie daarby was, toe Simon gedwing is om die kruis te dra nie, was hulle later bekend onder die eerste Christene.

Hulle pa moes dus vir hulle van die Messias vertel het.

 

En dit bring ons by die tweede toepassing.

Niks is toevallig nie.

Ook met hierdie onverwagse gebeurtenis in Simon se lewe het God ‘n plan gehad.

Christus het hierdie ontmoeting gebruik om die geloof wakker te maak in Simon se lewe en in die van sy seuns.

Ja selfs tydens sy via dolorosa, sy lydensweg, verdrink Jesus nie in sy eie lyde en verdriet nie, maar dink Hy aan die heil en saligheid van hulle wie God aan Hom toevertrou het.

Dit geld ook vir u, broer en suster.

Niks in u lewe is toevallig nie.

Die Here Jesus is begaan oor u lot.

Glo dit of nie, feit is dat Hy toe al op sy lydensweg alreeds aan jou gedink het!

Ja jy mag dit glo! Dit is waar!

 

Vandag herdenk ons Jesus se sterwe aan die nagmaal.

Ons herdenk ook sy via dolorosa, sy lydensweg.

En soos die Kategismus dikwels vra: Wat is die nut van dit alles vir ons?

So mag ons vrymoedig ook aan ons teks van vandag vra: Wat is die nut van hierdie gebeurtenis vir ons?

En ja, hierdie gebeurtenis was nie net waardevol vir Simon en sy seuns nie, maar ook vir ons!

Die besef hiervan laat ons harte volstroom van bewondering, van dankbaarheid, ja van geloof in ons Heiland en Saligmaker.

Sy Middelaarswerk op aarde was ongekend ryk.

En op grond daarvan mag ons vandag, elke dag, nog steeds, ook in ons lewens, uit genade lewe.

Wetende, dat Jesus toe al, op sy lydensweg, en aan die kruis, aan ons gedink het, toe die straf vir ons gedra het.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 23:26-49

Teks: Lukas 23:26

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Noem ‘n paar voorbeelde van apokriewe verhale oor Jesus se lydensweg.
  2. Noem 5 dinge wat die soldate gedoen het om Jesus te spot.
  3. Wat het Jesus gedoen nadat Simon sy kruis oorgeneem het?
  4. Toon Simon van Cirene aan ons ‘n morele voorbeeld om na te volg?
  5. Wie was Simon van Cirene se seuns?
  6. Watter troos is daar in die geskiedenis van Simon wat die kruis gedra het?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 22:1

Wet

Sb 7:9,10

Gebed

Nagmaalsformulier

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Gebed (afgesluit met sing van die Onse Vader)

Viering van die Nagmaal

          Skriflesing: Lukas 23:26-49

          Ps 103:5

Lofverheffing & Dankgebed

Teks: Lukas 23:26

Preek

Ps 22:2,9

Gebed

Kollekte

Ps 22:10

Seën