Preek: Handelinge 2:39
Ons vier vandag fees vir twee redes.
Dit is Pinksterdag, ons vier die uitstorting van die Heilige Gees, die nuwe era waarin Christus die Evangelie oor die wêreld begin versprei.
En ons vier fees omdat daar ‘n baba gedoop is, nog ‘n verbondskind, omdat sy ouers ‘n gelofte afgelê het, dat hulle hierdie klein mensie wat God geskape het, sal oppas, sal liefhê, en daarom sal opvoed tot sy eer.
Tog, aan die ander kant, kan dit soms voel dat dit wat ons hier in die kerk ervaar, op ‘n eiland staan.
Môre is dit weer die harde werklikheid.
Vroeg op, deur die hektiese verkeer en alle besoedeling op pad werk toe.
Moeilikhede op die werk.
Doelwitte wat gehaal moet word, lang ure.
Veral nou in die wintermaande, soms met donker oppad en met donker eers by die huis.
Ma’s wat soms ook buitenshuis moet werk, en daarnaas ‘n besige gesin moet hanteer.
Dan die finansiële uitdagings, die begroting elke maand te laat klop.
Prysverhogings in die supermark, aan die petrolpomp.
Dan die politieke onsekerhede in die wêreld.
Die oorlog in Ukraïne, aan die een kant ver weg, aan die ander kant voel ons die gevolge.
Rusland se president wat dreig met kernwapens.
Die ouer generasie onthou nog die groot spanning tydens die koue oorlog, toe Rusland kernwapens op Cuba geplaas het, en Amerika in Europa.
Soms wonder mens, het dit wel sin om kerk toe te gaan elke Sondag, deur die week kerklik betrokke te wees?
Hoekom betaal ek nog vvb elke maand, kan ek daardie geld nie vir iets anders gebruik nie?
Maar dan sien mens weer hierdie weerlose baba voor in die kerk.
Ons wonder, watter toekoms gaan hy beleef?
Watter sekerheid kan sy ouers vir hom bied?
En dan besef ons dat daar vir die ouers, en vir elkeen van ons, tog geen beter opsie is as om na God toe te vlug, by Hom te skuil te midde van die storms van die lewe.
Ja dit maak sin om kerklid te wees, dit maak sin om my kinders elke Sondag weer netjies aan te trek en saam te vat kerk toe.
Want hier ontvang ek en hulle antwoorde, hier ontvang ons rigting vir die lewe, hier ontvang ons woorde van ewige lewe.
Dit is al manier om koers te hou, om nog sin te maak te midde van ‘n chaotiese wêreld, as die lig van Christus se Woord oor ons lewe bly skyn, sy Woord wat ons elke week hier in die kerk ontvang.
Die teks van vanoggend spreek boekdele, die hele Evangelie is daarin in ‘n neutedop saamgevat.
Ons hoor hier die belofte wat Jesus Christus gee:
Ja Ek gee my belofte aan julle, en ook aan julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal roep.
Tema: Christus skenk die belofte van sy Evangelie aan almal wat sy Vader roep
Ek wil begin met twee woorde in ons teks: die woorde belofte en roep.
Soos u weet is daar verskil van mening tussen Gereformeerdes en Baptiste oor die doop.
Baptiste wil nie kinders doop nie, hulle glo in geloofsdoop.
‘n Mens moet eers sy geloof bely, dan mag hy gedoop word.
‘n Kind kan nog nie sy geloof bely nie, daarom kan dit nog nie die belofte van vergewing en redding ontvang nie.
En die kinders waarvan ons teks praat, sê Baptiste, moet dus groot kinders weet, wat al ‘n bewuste ingeligte keuse vir Jesus gemaak het.
Daarenteen sê ons dat Petrus bedoel dat die belofte ook ons klein kinders toekom.
Nou moet ons hierdie twee woorde, belofte en roep, nie gelykstel aan uitverkies nie.
Hierdie is verbondswoorde.
Christus roep die kinders en almal wat daar ver is, om opgeneem te word in die verbond.
In die verbond, dit is in sy gemeente, klink die belofte, die belofte van vergewing van sondes en die gawe van die Heilige Gees, soos die vorige vers sê.
Maar hierdie opneem in die verbond is nie gelyk aan uitverkies wees nie.
Verbond en uitverkiesing is nie dieselfde nie.
As kinders opgroei in die verbond, maar hulle verag die belofte, sal hulle nie gered word nie, en dit kan wees dat hulle nie uitverkies is nie.
Christus het self gesê: Baie is geroep, maar min is uitverkies (Matt 20:16; 22:14).
Christus maak hier self onderskeid tussen die woorde geroep en uitverkies.
Baptiste beskuldig Gereformeerdes van verbondsoutomatisme.
Dat elke gedoopte kind, elke kerklid, salig sal word, of hy bekeer is of nie.
Maar dit is nie wat in ons teks staan nie, en dit is ook nie hoe ons as Gereformeerdes hierdie teks lees nie.
Petrus spreek hierdie woorde in die konteks van dit wat op Pinksterdag gebeur het.
Christus het sy Heilige Gees uitgestort, Hy het dit sigbaar gemaak deur die vlamme op hulle koppe.
Hy het dit hoorbaar gemaak deurdat die dissipels in allerhande tale God begin prys en die Evangelie begin verkondig het.
Daarna het Petrus die leiding geneem en die Evangelie verkondig aan die wat daar bymekaar was.
Dit was vernaamlik Jode, en vanuit die Ou Testament het hy verduidelik hoe Jesus, die Nasarener, die beloofde Messias is.
Dit is Hy wat God aangewys het met kragte en wonders en tekens wat Hy in die midde van die volk gedoen het.
Die ultieme bewys dat Hy die Messias is, was dat God Hom uit die dood opgewek het.
Petrus verduidelik die verskil tussen Dawid en Jesus.
Dawid was die groot heldefiguur uit die verlede vir die Jode.
Maar die aartsvader Dawid het gesterf en is begrawe, en sy graf is nog steeds by hulle.
Sy stoflike oorskot lê nog steeds daar.
Daarenteen het Christus nie in die graf gebly nie, sy vlees het nie verderwing gesien nie.
Hy het opgestaan, en meer nog, God het Hom verhoog.
Christus het aan die Vader se regterhand op die hemelse troon plaasgeneem.
Hy het die belofte vervul uit Dawid se Psalm, Psalm 110:
Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete (Hand 2:34-35).
Petrus sluit af met die indrukwekkende konklusie:
Laat die hele huis van Israel sekerlik weet dat God vir Jesus Heer en Messias gemaak het.
En dit is hierdie einste Jesus wat julle gekruisig het.
Daarna vertel Lukas hoe die hoorders op Petrus se preek gereageer het:
Hulle is diep in hulle hart getref.
Hulle het hopeloos gevra: Wat moet ons nou doen?
En dan roep Petrus hulle op:
Bekeer julle!
Laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
En dan volg ons teks.
In ons teks praat Petrus nog steeds met die mense wat daar voor hom staan, en dit was Jode.
Hy verkondig dat die belofte eerstens vir die verbondsvolk is.
En in lyn met die ou verbond, belowe Christus sy belofte aan hulle en hulle kinders.
Dink aan Genesis 17:7: “Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou”.
Hierdie is in ooreenstemming met die ou verbond, waarin die Jode gelewe het.
Waarin hulle deel van die verbond was, en hulle kinders, en as teken daarvoor was daar die besnydenis.
Nou word die teken egter die doop, waartoe Petrus oproep.
Ons teks vorm ‘n skarnierpunt tussen ou en nuwe verbond.
Dit klink tot die Jode, die ouers en hulle kinders.
Deur Christus word hulle in die nuwe verbond ingelyf.
Maar hierdie woorde klink ook tot almal wat daar ver is.
In hierdie – almal wat daar ver is – hoor ons die echo van Jesaja se profesie:
Daar is vrede “vir die wat ver en die wat naby is” (Jes 59:21)
Waar “die wat ver” by Jesaja veral nog ‘n verwysing na die Jode in die verstrooiing was, strek die “wat daar ver” is by Lukas nou tot die uiterste van die aarde (Hand 1:8).
So word Jesaja se profesie vervul nog ver bo sy eie verwagtings.
Dieselfde woord “ver” word in Handelinge 22 spesifiek vir die heidene gebruik, waar Christus vir Paulus beveel:
“Ek sal jou ver wegstuur na die heidene.” (Hand 22:21)
En dit word ook bevestig in wat Paulus aan die Efesiërs skryf, die Efesiërs waaronder daar ook gelowiges uit die heidene en hulle kinders was, as hy hierdie selfde woord gebruik:
“Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was” (Ef 2:17).
Ons teks begin met die woord belofte.
Dit verwys terug na die vorige vers: Vergewing van sondes en die gawe van die Heilige Gees.
Dit is belofte wat sal waar word in die lewens van die wat hulle tot Christus bekeer.
Dit is nie iets wat hulle eenmalig sou ontvang, daardie dag, en wat sou geld vir die res van hulle lewe nie.
Maar dit is ‘n belofte wat elke dag waar sal word, elke dag wanneer hulle weer na Christus gaan, tot Hom keer vir vergifnis van die dag se sondes.
Dus ook by hierdie mense wat na Petrus geluister het en hulle bekeer het, moet ons hulle bekering nie gelykskakel aan hulle uitverkiesing nie.
Slegs God weet wie uitverkies is.
Ons kan nie sê: al daardie mense, byvoorbeeld daardie drieduisend siele wat toegevoeg is (Hand 2:41), was uitverkies nie.
Ons kry slegs sekerheid van ons uitverkiesing as ons elke dag by Christus bly, tot ons laaste dag.
Christus is ons sekerheid.
Soos die uitdrukking lui, Hy is die spieël van ons uitverkiesing.
Elke dag as jy na Christus kyk, soos in ‘n spieël, sien jy jouself deur Christus se oë, en kry jy sekerheid van jou uitverkiesing.
En dit is dus die belofte wat hierdie mense op Pinksterdag ontvang het.
As hulle die res van hulle lewe by Christus bly, sal hulle sekerheid kry van hulle uitverkiesing, en sal die gawe van die Heilige Gees by hulle bly, sal Christus se Gees in hulle bly werk.
En so roep Christus mense om toegevoeg te word by sy gemeente, want daar word hulle bewaar by sy Woord wat daar verkondig word, daar bring die Gees hulle elke keer weer terug by Hom.
Maar hierdie belofte was nie net vir daardie mense op Pinksterdag nie.
En dit maak ons teks duidelik.
Hierdie belofte maak Christus ook vir daardie mense se kinders, wat waarskynlik nie almal daar aanwesig was nie.
En hierdie belofte maak Christus ook vir almal wat daar ver is, wat sekerlik nie aanwesig was nie.
Almal wat die Here na Hom sal roep.
En met “daar ver” dink Lukas baie ver, Hy bedoel dit wat hy in die vorige hoofstuk gesê het.
Want die Here Jesus se plan is om in hierdie nuwe bedeling mense te roep, nie net in Jerusalem nie, maar ook in Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.
Dit is inderdaad baie ver.
En so klink sy belofte vandag ook aan die suidpunt van Afrika, vir ons en ons kinders.
Hierdie belofte geld nie eers eendag, wanneer die kind ‘n ingeligte keuse kon gemaak het en sy geloof bely nie.
Hierdie belofte geld vandag al, al kan hy nog nie praat nie, al verstaan hy nog nie.
Sy gelowige ouers bid nou al vir hom, en vra nou al of Christus hom wil reinig van erfskuld en sonde.
En Christus doen dit, Hy verhoor die ouers se gebed, want sy belofte geld ook vir hierdie klein kind.
En as die ouers die verbondseis waarop hulle ja geantwoord het vandag nakom in die toekoms, sal hulle kind opgroei en Christus se heerlike Naam leer ken, en sy eie ellende ook leer insien, en toenemend leer om uit genade te lewe, en elke dag in Christus se Naam vir die hemelse Vader vergifnis te vra.
En so neem ‘n opgroeiende kind se eie verantwoordelikheid, sy eie toerekeningsvatbaarheid toe, soos wat hy ouer word en steeds meer leer en verstaan.
En wanneer dit die Here in sy ondeurgrondelike raad behaag om ‘n baba vroeër tot Hom te neem, dan het Gereformeerde ouers ook volledige sekerheid dat daardie kindjie ook deur Christus salig gemaak word.
Dat klein babas kan sterf, ongebore of pas gebore, dit gebeur ook in ons tyd nog steeds.
Maar aan gelowige ouers skenk Christus troos en sekerheid.
Ja daar is diep verdriet as ‘n klein kind sterf, maar dit is nie sonder troos nie.
Vandag, saam met die doopouers, is ons almal dankbaar dat God aan hulle ‘n gesonde baba geskenk het.
En ons is veral dankbaar dat Christus sy belofte ook aan julle kind skenk.
Dit is vandag verseël, gewaarborg, met die doop.
Die Here onse God roep ook hierdie kind na Hom toe, soos die teks sê.
Hoe roep God hom?
Daarin speel julle as ouers ‘n groot rol.
In sy genadige raad het God dit so gelei dat hierdie kind in ‘n gelowige gesin gebore is.
En God gaan julle as ouers gebruik om hom na Hom te roep.
Julle gaan hom na die Here Jesus bring, soos die ouers destyds hulle babas na Hom gebring het (Luk 18:15).
Julle gaan hom vertroud maak met die Evangelie.
Julle gaan hom leer om teen sy sondes te stry en redding by Christus te soek.
Maar nie net julle nie.
Onderrig en laat onderrig.
Ons as hele gemeente word deur Christus ingespan.
Hoe doen ons dit as gemeente?
Wel, ons almal het opgestaan vanoggend en die gelofte afgelê.
Ons bring dit in praktyk deur betrokke te bly by hierdie kind, soos wat hy opgroei.
Dit kan op verskeie maniere.
Daar is meisies wat hom in die toekoms gaan oppas by die oppasdiens.
So raak hy van jongsaf vertroud met kerk toe gaan.
Daar is ouers met kinders net so oud soos hy, wat hom in die toekoms gaan uitnooi om by hulle kinders te kom speel.
So raak hy vertroud met ander verbondsgesinne.
Daar is van ons gemeentelede wat die Bybelstudies vir die jeug lei.
Ouers laat hulle kinders onderrig as hulle hulle na Bybelstudie stuur.
As hulle kind eendag katkisasie toe gaan, gaan hy onderrig word deur die predikant.
As sy ouers hom na die Gereformeerde skool stuur, gaan hy onderrig word deur Godvresende onderwysers.
As elkeen van u in die gemeente betrokke is by die Gereformeerde onderwys, ook u finansiële gawes skenk ten bate van die Gereformeerde onderwys, dra u ook u steentjie by tot die Godvresende opvoeding van die kerk se jeug.
So staan die hele kerkgemeenskap rondom die verbondsjeug en bewaar hulle by Christus en sy Woord, en doen alles in hulle vermoë daaraan dat as hulle eendag volwasse is, self ook van harte hulle geloof in Hom bely.
En so vind die Pinksterwonder steeds plaas, ook in die 21ste eeu.
Ook in ons eeu is God nog besig om te roep.
En Christus skenk die belofte van sy Evangelie aan almal wat Hy roep.
Hy roep ons, en ook ons kinders, en almal wat daar ver is.
Ook in ons tyd werk sy Gees redding en bring vreugde in talle lewens en huise.
Die eerste drieduisend wat hulle by die kerk van Christus gevoeg het, was slegs die begin van die oes.
Nog steeds is die velde wit om te oes.
Jaar in jaar uit word daar weer duisende mense gedoop, en skenk Christus deur die werk van sy Gees volharding in hulle lewens tot die einde toe, sodat baie van hulle die ewige saligheid beërf.
En dit het ons hierdie kind ook toegebid, dat dit ook vir hom mag waar word: dat hy in die Here Jesus Christus mag groei; dat hy die Vader se goedheid en barmhartigheid mag leer ken, erken en bely; dat hy sy hele lewe moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk sal stry en oorwin, dat hy eendag sonder vrees voor die regterstoel van Christus mag verskyn (gebede uit Doopsformulier).
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Handelinge 2:14-41
Teks: Handelinge 2:39
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Wat is die ooreenstemming tussen Handelinge 2:39 en Genesis 17:7?
- Watter onderskeid moet daar gemaak word tussen roeping en uitverkiesing?
- Waar in die Bybel maak Jesus self die onderskeid tussen roeping en uitverkiesing?
- Wat is die verskil tussen ‘geloofsdoop’ en ‘verbondsdoop’?
- Wat word in die teks bedoel met “almal wat daar ver is” (sien in hierdie verband Hand 1:8)
- Hoe sien jy persoonlik jou rol in die ‘laat onderrig’ van ‘n nuwe verbondskind?
Votum
Seën
Sb 13:1,2,3,9
Wet
Sb 38:3
Gebed
Doopsformulier & Gebed
Bediening van doop
Sb 14:1,2
Gebed
Skriflesing: Handelinge 2:14-41
Ps 110:1,2
Teks: Handelinge 2:39
Preek
Ps 147:5
Gebed
Kollekte
Ps 100:2,4
Seën