Vandag gaan ons na hoofstuk 4 van Daniël kyk. Hierdie hoofstuk is in die vorm van ʼn brief geskryf; ʼn brief wat Nebukadnésar aan sy koninkryk gerig het. Dit is ʼn brief van een van die grootste en magtigste konings wat al ooit geleef het, waarin hy die grootheid van ‘n oneindige groot koninkryk, die koninkryk van die hemele, bely.
Ons vind hierdie belydenis aan die begin en aan die einde van die brief; die inhoud van die brief verduidelik wat veroorsaak het dat so ‘n soort man so ‘n soort belydenis doen. Ek verkondig die Woord van God onder die volgende tema:
God is in beheer. Erken dit.
- Wanneer jy dink dat jy in beheer is: Trots
- Wanneer God jou wys Wie in beheer is: Nederigheid
Wanneer jy dink dat jy in beheer is: Trots
Kom ons kyk eerstens na die inhoud van die brief. In vers 4 sien ons Nebukadnésar wat rustig tuis verkeer. Ons lees: “Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis.” Maar net toe hy besig was om te ontspan en alles gaan goed, verskyn hierdie beelde en visioene wat deur sy gedagtes gaan en hom vreesbevange maak. Solank as wat daar gemaklikheid in ons lewe is, is ons normaalweg nie bereid om dinge te bevraagteken of ons harte te ondersoek en ernstige veranderings te maak nie. Totdat God die kalm water versteur. Hierdie koning het alles gehad en tog het sekere dinge hom baie bang gemaak. Waarom? Omdat Nebukadnésar, in al sy glorie, maar net ‘n mens was, en daarmee saam al die onsekerhede gehad het wat gepaardgaan met menswees.
Kom ons praat ‘n oomblik oor Nebukadnésar. Hy was ongelooflik magtig en het ʼn stad gebou wat eens as een van die antieke wêreld se sewe wonders beskou is. Om te kan verstaan wat Nebukadnésar gedoen het en hoe vol van homself hy was, hiermee ‘n aanhaling uit 'n ou rekord wat tydens sy regering geskryf is:
“Ek is Nebukadnésar, die koning van Babel, die verhoogde prins, die gunsteling van die god Marduk, die geliefde van die god Nabu, die vredemaker, die besitter van wysheid, wat hulle goddelikheid weerspieël, die onuitputtende heerser wat deurgaans naarstigtelik besig is met die onderhoud van die heiligdomme van Babel en Borsippa, die wyse, die gelowige, die hoofseun van Nabopolassar, Koning van Babel.”
Hy het ʼn stad gebou wat so groot en indrukwekkend was dat dit vandag die grootste argeologiese terrein van die antieke wêreld is. Die stad was 500 hektaar groot en is deur massiewe dubbele versterkings beskerm. Die mure was so dik dat strydwa-resies daarop gehou is, en dit was 65 myl (90 km) lank en het ‘n area van 200 vierkante myl omring. Die bakstene van die mure was met ʼn helder blou oorgetrek en op elkeen was die inskripsie gegeraveer: “Ek is Nebukadnésar, Koning van Babel”.
Sy koninkryk het al die groot handelsroetes van daardie tyd besit en was ongelooflik ryk. Hierdie rykdom was merkbaar aan een van die poorte, die Ishtar-poort. Dit was gesmee van pragtige geglasuurde bakstene versier met lapis lazuli en goud; die poort het glo so helder en kragtig soos die son geblink. Op hierdie poort het hy geskryf: “Ek het die fondamente by die watertafel met asfalt en stene gelê, en het hulle gemaak van stene met blou klip waarop wonderlike bulle en drake uitgebeeld is. Ek het hulle dakke oordek deur uitsonderlike sederbome in die lengte daaroor neer te lê. Ek het deure van sederhout, met brons versier, by al die poortopeninge geplaas. Ek het wilde bulle en vurige drake in die poorte geplaas en dit met soveel luukshede versier dat die mensdom met verwondering daarna gestaar het.” Kom ons sê: hy het daarvan gehou om erkenning vir ander mense se werk te kry.
Dus, as iemand ooit die reg gehad het om goed oor homself te voel, was dit hy. Maar hy was bang. Trots hou ons gevange, want ons is gedurig bang om alles te verloor.
Ek dink dat, toe hy die droom sien, moes hy geraai het wat dit sou beteken. Die boommetafoor was goed bekend in die antieke wêreld. Hy sou dit al eerder gehoor het. Maar hy wou definitief nie die waarheid in die gesig staar nie. Weer en weer word sy gewete wakker gemaak. God moet soms meer as een slag uitdeel om ons wakker te maak. Soos Johannes Calvyn sê: "As God ons dan tot bekering wil lei, is Hy verplig om sy slae herhaaldelik uit te deel, òf omdat ons nie reageer as Hy met ons praat nie, òf ons lyk opgewonde vir ‘n tyd en keer dan terug na ons vorige traagheid (apatie). Hy is dus verplig om sy slae te verdubbel."
Wat doen hy? ‘n Mens sou dink dat hy teen die tyd sy les geleer het en dadelik vir Daniël sou gaan raadpleeg, maar nee. Kyk na vers 6-8. Hy gaan eers na sy wyse manne, en eers as hulle hom nie kan antwoord nie, gaan hy na Daniël. Hy word gedwing om na God te gaan. Dit is wat ons as mense soms doen; ons neem nie die regte pad nie, totdat omstandighede ons op daardie pad dwing, omdat die wêreld ons nie voldoende antwoorde sal gee nie.
Al die konings, sielkundiges en beraders en dokters kan nie die wortel van die mensdom se probleme behandel nie. Daar was iets ernstiger met Nebukadnésar verkeerd, waarvoor daar goddelike ingryping nodig was. Die wêreld kan nie antwoorde op die lewe se diepste geheime gee nie, net God kan dit doen. Uiteindelik gaan die koning na Daniël toe, want hy het geweet hy kan die droom uitlê, soos ons in vers 9 lees.
Dan, in vers 10-18, deel Nebukadnésar die droom met Daniël. Wat hy sien is werklik merkwaardig. Ons lees in vers 10-12 dat hy ʼn boom gesien het wat in die middel van die land gestaan het. Hierdie boom was geweldig hoog. Dit het so hoog gereik dat dit van die uithoeke van die aarde af sigbaar was. Dit het tot by die hemel gereik. Sy blare was pragtig, sy vrugte welig en aan hom was daar voedsel vir almal. Daniël verduidelik dat Nebukadnésar die boom is. In vers 22 sê hy: ”Dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.”
Hier, weer eens, is ‘n visie op die mens se koninkryk. Dit is groter en pragtiger as ooit tevore. ʼn Spieël vir die koninkryk van God – hierdie boom was pragtig, en sy vrugte oorvloedig. Die koning is verhewe en skynbaar almagtig. Hy het aan al sy onderdane voorsien. Mense wat skuiling onder hierdie boom gevind het, was tevrede en oor die algemeen gelukkig. Maar ten spyte van al sy skoonheid was daar iets fout met hierdie boom. Hierdie boom is besig om plagiaat te pleeg en probeer om God se koninkryk na te doen, en hy gee God nie die erkenning daarvoor nie. Hy het gedink hy het dit gedoen. Hy het dit tot daar gemaak.
Met dit wat ons van koning Nebukadnésar weet, behoort hierdie droom ons nie te verbaas nie, en ook nie die stelling wat hy maak nadat hy op die dak van die paleis rondgeloop en al die majesteit van Babel gesien het nie: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ʼn koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?”
Hier is skoon, suiwer trots. Die begeerte om God te verplaas. Om Hom uit die weg te ruim. Dit is humanisme. Kyk na wat ons gedoen het. Kyk hoe wonderlik is ons. Ons vergeet so maklik, saam met Nebukadnésar, dat ons self niks te doen het met waar ons is nie. Dit is alles danksy God. Nebukadnésar het vergeet dat hy eintlik niks daarmee te doen gehad het nie. Hy het nie die eeu gekies waarin hy geleef het nie: presies die regte tyd toe die Assiriese ryk sy mag verloor nie. Hy het nie die plek gekies waar hy gebore is nie. Hy het nie gekies dat hy in ʼn koninklike familie gebore is nie. Hy het nie sy genetiese kode gekies nie: dat hy slim en intelligent was. Dit was alles bloot ʼn daad van God dat hy daar was. God het hom verhoog om sy volk te oordeel en sy land te laat rus.
Om erkenning te eis vir wat God gedoen het, word deur Tim Keller as kosmiese plagiaat beskryf. As ek sou beweer dat ek Beethoven se sewende simfonie geskryf het, sou almal dadelik geweet het dat dit ʼn leuen is. Behalwe om te dink dat ek ʼn leuenaar is, sal julle dink dit is verkeerd. Ons het plagiaatwette. Hoekom? Want ons almal weet dit is verkeerd om die erkenning te kry vir iets wat jy nie gedoen het nie.
Dit is presies wat ons doen wanneer ons erkenning eis vir dit wat in ons lewe gebeur – en dit moet duidelik wees, maar ons is so vol van onsself dat ons dit nie sien nie. En hulle leef almal asof hulle self die lied van die lewe geskryf het, en nie God nie. Of dit nou goed gaan by die skool, by die werk, of by die huis – dit kom alles van God af.
Totdat ons dit besef, sal dit nie moontlik vir ons wees om in vryheid te leef nie. Dankbaar. Voluit. Ons sal altyd besig wees om na binne te kyk, na dit wat ons kan doen, wat ons gedoen het, en wat ons nog sal doen. Eerder as om te besef dat ons lewe deur God gegee is. En kyk na wat Hy gedoen het, besig is om te doen en nog sal doen. In Handelinge is daar geskryf dat Hy die presiese tye en plekke waar mense moet lewe lank tevore reeds bepaal het.
Die feit dat jy in die 21ste eeu lewe, is omdat God so besluit het. Hy verdien die erkenning daarvoor. Hy is die soewereine Heerser oor alle dinge. Of jy nou ʼn koning of ʼn arm mens is, God is soewerein. En om anders te beweer, is om van Hom te steel. Jy steel die erkenning wat Hom toekom. Eer wat te danke is aan sy Naam alleen. Trots neem van God en maak dit ons s’n. Of probeer om dit te doen. Maar dit werk nie so nie. Vra maar vir Adam en Eva. Dit is wat God hierdie koning vandag wil leer. Dat alle konings soos niks is voor Hom nie. Niks. En dat Hy aan mense lewe en asem en alle ander dinge gee.
Ons lees daarvan in vers 13: “Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, ʼn bode, naamlik ʼn heilige, het uit die hemel neergedaal;” Die Here moes neergedaal om te sien wat hy gedoen het.
Herinner dit jou aan enigiets? Is dit nie presies wat gebeur het by die toring van Babel nie? Die Here het neergedaal om te kom kyk en Hy het die mense daaraan herinner wie Hy is. Dat hulle mens is, en Hy God. Hy is die Een wat regeer. Ons kan ook verder kyk na Babel in Openbaring 19, die stad waar die mens homself groot gemaak het en al die nasies dronk word van hulle eie rykdom. Dit lyk asof, hoe verder ons in die wêreldgeskiedenis vorder, hoe groter die toring is wat ons probeer bou om by God uit te kom, en hoe meer die vernietiging wat daarop volg, wanneer God sê dit is genoeg.
Wanneer God jou wys Wie in beheer is: Nederigheid
Hierdie boodskapper beveel dat die boom afgekap moet word en dat net die boomstomp in die gras van die veld moet agterbly. Die stomp en die wortel sal in yster en koper gebind word. Hierdie kettings verwys heel moontlik na die kettings van geestesversteuring wat op ʼn mens se vermoë om vrylik te funksioneer, geplaas word. Daniël verduidelik in vers 25 dat Nebukadnésar die stomp is. Luister na wat hy sê: “Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan – u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.”
Die vraag is: Wie regeer? Jy of Hy? Wie is werklik in beheer van hierdie land? Ramaphosa of Hy? Wie regeer? God of mens? Dit is die vraag van die begin af. Wie verdien al die erkenning? Selfs in die kerk kan ons in die versoeking kom dat ons die erkenning wil hê wanneer dinge goed gaan; en dan, as dinge sleg gaan, vra ons skielik: “Hoekom, God?”
In die Nuwe Testament het ons die gemeente van Korinte as voorbeeld. Kyk na wat Paulus vir hulle in 1 Korintiërs 4:7 sê: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” Alles wat ons het, het ons gekry. En tensy ons dit erken, is ons besig om God te verneuk en vir onsself te lieg. Dit is wat die hele wêreld moet leer, dit is die les wat Nebukadneser moes leer deur verneder te word.
God gee hom die geleentheid om hom te bekeer. ʼn Jaar, om presies te wees. In die tussentyd gee Daniël hom raad. Vers 27: “Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.” Luister hy? Nee.
Twaalf maande later sê hy, vers 30: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ʼn koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot die verheerliking van my majesteit nie?” Hierdie woorde was skaars oor sy lippe of ʼn stem vanuit die hemel spreek die oordeel oor hom uit wat in die droom voorspel is. Die essensie van sonde is dat ek op allerhande maniere myself die middelpunt van die heelal maak. Hy was nie vry om te doen wat hy wou nie, die koning was 'n slaaf van sy eie begeertes en passies.
Totdat ons bely dat die hemel regeer, is ons eintlik maar net diere. Dit is interessant dat die ewolusieteorie ons tot diere verklaar. Die mens sonder God word ‘n dier. Hulle het God verwyder en ons in diere verander. Sonder God styg ons bo ons ou natuur, jou basiese instink. Ons volg ons instink. Ons is in onsself. Ons doen wat ons wil. Ons dink dat ons moet veg en oorleef, en jaag dit slaafs na net om dit te maak. Dit is die oorlewing van die sterkste. Trots maak diere van ons. Ons vertrap mekaar in ons jaagtog om bo uit te kom, met die oortuiging dat ons in beheer van ons lewe is. Maar soos ons gesien het, is dit uiteindelik God wat in beheer is, en Hy gebruik die mense om ons, soos ons familie en ons gemeenskap, om ons te vorm.
Die een persoon wat die reg gehad het om te sê dat hy alles het, alles verdien het en al die roem werd is, is Jesus. Maar Hy het alles gegee en Homself verneder, sodat ons alles kan hê. Dit is hoekom Paulus aan die Korintiërs sê: “Hou op om voor te gee dat julle niks wat julle het, ontvang het nie. Julle het alles ontvang. Daar is geen rede om te spog nie. En dan gaan hy verder: “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers.” Of vroeër in die boek sê hy: “Alles behoort aan julle ... die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” Geliefde, die feit dat jy hier sit, het niks met jou te doen nie en het alles te doen met Hom. Hou dus op om te spog. Verneder jouself en besef dat alles aan jou behoort. En in Christus is alle dinge letterlik joune.
Sien jy hoe die evangelie ons oproep om onsself te verootmoedig, om niks te wees? Dat die evangelie verkondig dat ons stof en as is, en terselfdertyd in Christus verhoog word?
Dit gebeur net in en deur die Seun van God. Die Een aan Wie die hemel en aarde behoort, het opsetlik van sy troon afgeklim om een van ons te word. Die Skepper het die gedaante van ʼn skepsel aangeneem. Sodat ons skepsels deel mag hê aan sy ewige heerlikheid.
Trots probeer om gode van mense te maak, en so maak dit ons minder as ‘n mens, omdat hulle kompeteer en mekaar vernietig. Maar in Christus het God mens geword, sodat Hy die mens kan wys dat die pad van nederigheid juis die pad van verheffing is. En totdat ons opkyk na Hom as die Een wat alles aan ons gee, eerder as om af en om ons te kyk na wat ons gedoen het, kan ons nie vryheid geniet nie, maar bly ons aan hierdie aarde vasgeketting soos die boomstomp in Nebukadnésar se droom.
Nebukadnésar het hierdie episode begin vanuit ‘n verhewe posisie op die dak van sy paleis waar hy afkyk, hy eindig dit soos ʼn dier wat opkyk. En in daardie oomblik word sy menslikheid herstel, toe hy die God van die hemel bely. Uiteindelik sien hy God vir Wie hy werklik is – want Hy het die proses self deurgemaak. Tensy ons ons laagheid besef, kan ons God nie werklik sien of ken vir Wie Hy werklik is nie. Ons sal enigiets doen om ons saligheid te verdien, of om ten minste daartoe by te dra. Om te hoor dat ons nie kan nie, is amper ondraaglik vernederend.
Ware bekering gebeur nie wanneer jy sien hoe iemand anders gered word of verneder word nie; dit gebeur wanneer jy jouself verneder aan die voet van die kruis en alles daar neerlê. Vir Nebukadnésar het dit ʼn wegskeur van alles waarin hy eens roem gevind het, vereis. Hier is ware nederigheid: hy kyk boontoe.
En toe hy weer tot sy sinne kom, bely hy Wie God is. Dit is wat hierdie brief neerpen. Nie net bely hy Wie God is vir die mense in vers 34-35 nie, maar ook Wie God vir hom is in vers 37. In vers 34b-35 lees ons: “en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ʼn ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?”
Hier was 'n koning wat die verbondskoningskap van God erken het wat van geslag tot geslag duur. Hy bely dat klein en groot soos niks is nie. Hy, die een wat sy lewe lank die versoeking nie kon weerstaan om sy naam bo al sy werke te skryf nie, erken uiteindelik dat dit nie sy naam is wat saak maak nie. Dit is God se Naam. Hy kan nie doen wat hy wil nie. God kan. God is koning. Hierdie idee van die koninkryk van God is sentraal in die hele Bybel. Al die mense moet weet dat “die hemel regeer”. Dit is die soewereine koningskap van God wat 'n mens verneder. Min dinge is meer nodig vandag as om dit te hoor. GOD IS KONING! Heeltemal en absoluut.
In vers 37 gaan hy verder: “Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” Vir ingeval jy dit nie verstaan nie, spel hy dit nog een keer uit. Hy kan verneder die wat in trotsheid wandel. O, wat 'n pragtige belydenis van die magtigste. Hierdie hoofstuk het al God se kinders daarvan verseker dat die nederiges die aarde sal beërwe. Dat magtige menslike heersers na vore kan kom, maar dat God soewerein is oor wie regeer vir hoe lank; en hy sal diegene wat in trotsheid wandel, verneder. “... en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8) Mag dit ons belydenis wees as ons na die kruis kom met niks, en saam met Hom sterf, net om saam met Hom te staan en te wandel die ewigheid in.
Amen.