Die werk van ons Here Jesus Christus het begin. Jesus beweeg na ’n groter dorp. Jesus roep volgelinge. Jesus bring genesing vir die mense. Hy maak Homself bekend. Die tyd van die voorbereider van die koninkryk, Johannes die Doper, is verby. Die koninkryk van God het aangebreek in die persoon van Jesus. Dit is hier waar die verhaal van die geskiedenis sy sentrale punt vind; sy fondament. Dit is in sy verhaal dat elke ander verhaal saamgebind word.
Jesus maak Homself bekend aan die begin van die Messiaanse sending:
- Jesus beweeg na ’n groter dorp: Geografie is belangrik
- Jesus roep sy eerste volgelinge: Dissipelskap is belangrik
- Jesus genees mense: Die liggaam is belangrik
Jesus beweeg na ’n groter dorp: Geografie is belangrik
“En toe Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis gesit was, het Hy na Galilea teruggegaan.” Die bedieningswerk van Johannes het tot ’n einde gekom. Johannes was in die tronk. Jesus se bediening moes nou begin. Hy was heel waarskynlik omtrent 30 jaar oud teen hierdie tyd. Ons weet nie baie van sy lewe nie, maar ons weet wel dat Hy ’n lewe gehad het. Gewerk. Gespeel. Tyd saam met familie deurgebring. Saam met sy gesin na die sinagoge gegaan. Op spesiale dae na Jerusalem gegaan. Geliefdes, Hy het soos een van ons geleef. Behalwe dat Hy gehoorsaam was aan God se wet. Omdat Hy so getrou geleef het, kon Hy met die bediening begin wat nou vir Hom wag.
Ons lees: “Hy het Nasaret verlaat en gaan woon in Kapernaum aan die see, in die gebied van Sebulon en Naftali”. Voordat ons verder gaan, let op hoeveel plekname daar in hierdie gedeelte is. Hier en deur die hele teksgedeelte. In net ’n paar verse het ons 5 plekname, en dan teen die einde hoor ons die volgende in vers 25: “En groot menigtes het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van die oorkant van die Jordaan af.” As ‘n mens na die kaart kyk, noem hy hier die noordwestelike en noordoostelike hoeke, en die suidweste en die suidooste en dan die ooste. Dit is amper asof hy sê dat die hele land deur Jesus oorgeneem word. Dit is die nuwe Josua. Die uiteindelike Josua wat hulle na hul ewige plek van rus sal bring. Josua kon slegs die sondige nasies wat in die beloofde Land gewoon het, uitroei, maar die nuwe Josua, Jesus, sal die sonde in die menslike hart oorwin.
Hy begin dus sy bediening deur na Kapernaum te trek, wat ’n veel groter dorp was en grotendeels van die visvangbedryf afhanklik was. Dit het ook ’n groot heidense bevolking. Ons weet dat daar ’n Romeinse buitepos was, want daar was ‘n hoofman oor honderd (Matteus 8:5). Die skattings verskil baie, maar Kapernaum kon soveel as 10 000 inwoners gehad het.
Die vraag is hoekom Jesus hierheen gekom het. Waarskynlik omdat Hy meer mense kon bereik. Dit was sentraal geleë. Hy het net soveel vir die stede as vir die platteland omgegee. Hy het vir mense omgegee. Kapernaum was ideaal geleë om sy bediening mee te begin. Dit was groot, dit was teenaan die kuslyn. Daar sou heelwat reisigers deurbeweeg het. Dit was meer toeganklik vanaf ander dele van die land.
Ons dink gewoonlik aan stede as bose plekke, en aan die platteland as meer vredige, Christelike plekke. En alhoewel daar waarheid in steek, moet ons die stad nie geringskat nie. Dit is vanselfsprekend dat daar waar ’n konsentrasie sondaars is, die sonde groot sal wees, maar dit wat mooi en goed is vir die samelewing, sal ook groot word as hierdie plekke deur die Evangelie verander word.
Let ook op: Hy het nie na Jerusalem of na Judea toe gegaan nie – die plekke waarheen jy sou verwag die Messias sou gaan. Maar Hy het na Galilea gegaan. Die Jode in die suide het met veragting op hierdie area neergekyk. Mense het dit as die agteraf gebied in die land beskou. Waar die minder belangrike mense gewoon het; die mense wat soos die Jode wou wees; die minder godsdienstige mense.
Dit is tot ’n sekere mate die waarheid. Die aanhaling in verse 14-16 maak dit duidelik: “sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sebulon en die land Naftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene – die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en die skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan. ”
Galilea van die heidene in die land van Sebulon en Naftali. Duisternis het inderdaad hier regeer. Dit is nie om dowe neute dat dit “Galilea van die heidene” genoem word nie. Hierdie mense was nie mense van God nie. Daar was onkunde. Ongeloof. Heidene wat God nie geken het nie. Dit was die land van die duisternis.
En dit is hierdie duisternis wat die Lig van die wêreld binnegaan. Want Hy was nie net die lig van Israel nie, maar die lig van die wêreld. Dit was in dieselfde area, Galilea, dat die bediening na die wêreld sou uitgaan, deur nog ’n stad genaamd Antiochië. Dit is voorafskaduwing van die wêreldwye bediening van die Koning en die Koninkryk. So eksklusief soos wat die Christendom is – daar is net een manier om by God uit te kom en dit is deur die enigste Seun van God – is dit by verre die mees inklusiewe geloof in die geskiedenis van die wêreld. Jesus verwelkom Galilese vissermanne, Samaritaanse vrouens en Romeinse soldate.
Hy het na mense wat in die duisternis wandel, gekom. Dit is genade. Hy het nie na die regverdiges gekom nie, maar na die onregverdiges. Nie na die waardiges nie, maar na die onwaardiges. Nie na mense wat in die lig lewe nie, maar na mense wat in die duisternis lewe. Dit is die genade van God. Dit is God se plan. Die evangelie sou uitgaan na daardie mense wat dit nie verdien nie, wat dit nie kon sien nie, tensy die lig na hulle toe gekom het.
In die konteks van hierdie vers in Jesaja wat deur Mattheüs aangehaal word, lees ons ook die volgende pragtige vers: “Want ’n kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde...” (Jes. 9:5, 6a).
Die lig van die wêreld gaan die donkerste plekke binne – dit bring die hoop van bekering, en ’n nuwe lewe. Sy heerskappy is bevestig, sy koninkryk het gekom!
Ons lees in vers 17: “Van toe af...” Tot hiertoe was Jesus passief in die verhaal. Maar van nou af gaan dinge verander. Nou is Hy die een wat sentraal staan in die verhaal. Sy tyd het aangebreek! Hy gaan van nou af die hoofkarakter wees. Nie net in sy leeftyd nie, maar in die geskiedenis van die wêreld.
Vers 17: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Die boodskap is dieselfde vir heidene en Jode. Die boodskap is dieselfde, of dit nou van Johannes af kom, of van Jesus, of van Johan. Die boodskap moet getrou uitgaan en aan die wêreld verkondig word. Dit is ’n boodskap wat die wêreld dringend moet hoor. Die land moet dit dringend hoor. Jou ongelowige vriende en kollegas moet dit dringend hoor. Ons moet hierdie boodskap versprei. Dit is die hoop van die mensdom. Maak julle lewe reg, want die koninkryk van God is aan die kom.
As ons omgee vir almal om ons heen, is dit hierdie boodskap wat hulle iewers sal moet hoor. Daar is vergifnis in Jesus se naam. Slegs die wat hulle nou aan God se heerskappy onderwerp, sal gereed wees wanneer Hy kom om die hele wêreld te regeer. Dit is die boodskap van Jesus, en sodat hierdie boodskap na die uithoeke van die aarde kan versprei, roep Hy eerstens sy dissipels.
Jesus roep sy eerste volgelinge: Dissipelskap is belangrik
Vers 18: “En terwyl Jesus langs die see van Galilea loop, sien Hy twee broers, Simon, wat genoem word Petrus, en Andreas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan.”
Dit is wonderlik dat die eerste opgetekende werk van Jesus is om ’n groep volgelinge bymekaar te roep wat hulself daaraan toewy om hulle lewe heeltemal te verander. Van nou af sal ons nie verhale van Jesus alleen lees nie, maar van Jesus en sy dissipels. Hierdie mense is die primêre ontvangers en getuies van sy onderrig en wonderwerke. En die volgende keer wat Jesus alleen sal wees, is wanneer al sy volgelinge Hom verlaat in die tuin van Getsémané.
Hulle het nie verwag om sy dissipels te wees nie; hulle het dit nie gaan soek nie. Hierdie is Jesus se inisiatief. Hy gaan na hulle toe. Hulle gaan nie na Hom toe nie. Dit sou meer normaal wees vir ’n dissipel om ’n leermeester te gaan uitsoek, maar dit is nie nou die geval nie. Die Meester soek sy dissipels uit. Jesus kom na ons toe; nie ons na Hom nie. Hy kom en Hy sê: “Volg My.” Ons gaan soek nie na Hom nie. God kom na ons toe en nooi sy eie mense na die skool van dissipelskap.
Dit is nie ’n opsie of ’n uitnodiging nie; Hy beveel hulle. Gewoonlik sal so ’n roeping nie van ‘n rabbi af kom nie, maar van ’n profeet. Hy nooi hulle ook nie om te gaan sit en passief te leer nie. Die taak is om vis te vang, dit is ’n aktiewe roeping.
Hy roep dissipels sodat hulle dissipels kan gaan maak. Dit is dissipels en net dissipels van Christus wat die werklike gelowiges is. Hy roep jou sodat jy ander kan lei. Dit is verhoudingswerk. Jesus is gewild wanneer Hy sy bediening begin, maar ons sien gou hoe kortstondig sy gewildheid is. Net omdat iemand ’n klomp volgelinge het, beteken nie dat dit ’n suksesvolle bediening is nie. Net omdat daar baie hoorders van die Woord is, beteken nie dat daar baie daders is nie.
Dit is waaroor Christendom gaan: dissipelskap. Jy sien, Jesus kon maklik vir miljoene mense gepreek het, en so baie mense bereik het. Maar Hy het geweet dat om die wêreld te verander, beteken om tyd en energie te belê in die wat die naaste aan jou is. Dit is uit hierdie klein groepie mense, ’n mosterdsaadjie kan jy maar sê, dat die evangelie ontplof tot ’n boom wat oor die hele aarde strek. Is jou lewe sprekend van die lewe in die Koninkryk? Gee jy jouself vir die mense wat die Here op jou pad geplaas het? Is jy ’n spieëlbeeld van Jesus se lewe vir die mense rondom jou? Jou gesin, jou eggenoot, jou vriende, jou kollegas? Sien hulle Hom wanneer hulle na jou kyk, en voel hulle aangetrokke?
Christendom gaan nie oor die vraag hoe om die wêreld te verander nie; God sal dit doen. Die vraag is eerder of jy besig is om te verander, en om die mense naaste aan jou te verander. Want dit is hoe die evangelie werk. ‘n Soortgelyke verhaal lees ons in vers 21-22: “En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus die seun van Sebudeus, en Johannes sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebudeus, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep. En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg.” Let op die onmiddellike gehoorsaamheid. Ek het altyd van visvang gehou. Ek onthou wanneer my ma my geroep en gesê het dat dit tyd is om te gaan... net nog een gooi, net nog een keer...
Dit is nie wat hierdie broers gesê het nie. Hulle het ook nie gesê: “Ek wil net gou vir my kliënte gaan sê”, of: “Ek wil net gou seker maak of my vrou gaan regkom sonder my vir ’n paar dae, of maande, of drie jaar” nie. Nee, ons sien dit glad nie in die eerste verhaal nie. Hulle werp hul nette uit wanneer Jesus hulle roep. En wat gebeur? Hulle los hul nette ONMIDDELLIK. En nou, in die tweede verhaal, is hulle in die boot saam met hulle pa, besig om hul nette te herstel. Jesus roep hulle. En wat doen hulle? “Kan ons net gou hier klaarmaak?” Nee. Hulle het dadelik hulle vader en die boot verlaat en Hom gevolg. Sjoe!
Soewereine opdrag en onmiddellike gehoorsaamheid is die patroon wat ons hier raaksien. Dit is mag! Asof dit God die Skepper is wat sê: “Laat daar lig wees”, en daar was lig. Hy sê nou: “Volg My”, en daar is onmiddellik reaksie. Mattheüs sê dat dit kenmerkend van dissipels is. Sal jy dieselfde doen?
Dit is ‘n beeld van om alles prys te gee vir Jesus. Beteken dit dat gesin en werk nie vir Jesus saak maak nie? Natuurlik nie. Maar Hy wys wel dat ons BEREID moet wees om alles prys te gee en Jesus te volg. Hy is die moeite werd. Die gebruik van “dadelik” in hierdie teks wys die uitsonderlike bereidheid van hierdie werkende mans om alles wat vir hulle bekend en veilig was, op te offer vir ’n man van wie hulle miskien baie min geweet het. (Gepraat van om buite jou gemaksone te tree...)
Wie of wat kom eerste in die lewe? Die visse, die nette, die boot, die loopbaan, die inkomste, die broer, die vader, die gesin? Is jy bereid om met elke voormalige lojaliteit te breek? Vriende, familie, godsdiens, reputasie? Is jy bereidwillig om te doen wat Hy sê, om te gaan waarheen Hy van jou vra, om prys te gee vir wat Hy vereis? Op hierdie oomblik. Nie môre nie. Of volgende week nie. Maar nou.
Julle sal nie almal op dieslefde manier geroep word om dissipels te wees nie, maar die opgestane Christus roep jou nog steeds deur sy Woord. “Volg My.” Sy roeping is ’n roeping om te bekeer en te volg, en in daardie roeping kan jy verwag dat jou alledaagse lewe versteur word. Jy kan ’n swaard verwag wat deur verhoudings gaan sny, wat bankrekeninge gaan stukkend skeur, en die sondes waaraan jy nog steeds vashou, gaan uitsny.
Baie van ons sal vandag verdedigend antwoord: “Ek sal alles verlaat as Jesus dit van my vra, maar Hy het my nie gevra nie.” Tog, as ons die eienskappe van die koninkryk waardevol ag, dan is mense en Woordverkondiging belangriker as besittings. Ek wonder of Jesus nie met ons praat deur die wêreld se behoefte aan die evangelie nie. “Laat die een wat ore het om te hoor, hoor.” Daar is ’n radikale dringendheid in hierdie roeping!
Net nog ’n laaste voetnota voordat ons verder gaan: Jesus het nie professioneel opgeleide rabbi’s (wat in elk geval ’n klomp goed sou moes verleer) geroep om sy dissipels te wees nie. Hy het gewone, werkende mense geroep om diensbaar in sy koninkryk te wees. God het skaapwagters soos Moses en Dawid geroep om sy volk Israel te lei; so het Jesus vissermanne geroep om mense bymekaar te maak. Sommige groot manne en vroue van God in die Bybel het nooit eens profete of predikers geword nie; Josef is kragtig in God se koninkryk gebruik as ’n administrateur oor die hele Egipte. Maatskaplike werkers, onderwysers, wetenskaplikes, ingenieurs, skoonmakers, vullisverwyderaars, diensverskaffers – almal het ’n plek in die koninkryk. Almal het die geleentheid om die waardes van die Koninkryk in hulle werk te weerspieël. Dit is baie selde dat God werklik iemand uit sy werk roep soos wat Hy dit met hierdie manne gedoen het. Dit is ons verlies as ons die insigte van die verskeie beroepe onder ons geringskat.
Jesus genees mense: Die liggaam is belangrik
Toe ek in die spieël van hierdie teksgedeelte kyk, besef ek hoe swak ek die geloof van hierdie vissermanne reflekteer. Daar is nette waaraan ek nog steeds vasklou. Miskien doen jy dit ook, en wil jy jou bekeer om Jesus beter te kan volg. Dan sal jy dalk sê: “Ek glo, kom my ongeloof te hulp.” Maar kyk net na wat hierdie Man doen. Hy onderrig, Hy preek, Hy genees. Die toekomstige koninkryk van God het aangebreek.
Vers 23: “En Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.”
Waar moontlik, het Jesus deur bestaande instellings gewerk. Hy het in die sinagoges geleer en gepreek. Onderrig, verkondiging en genesing som die grootste deel van Jesus se werk op. Tog het Jesus nie net die koninkryk verkondig en verduidelik nie; Hy het God se gesag gedemonstreer deur siekes te genees en demone te verdryf. Dat Hy “elke” siekte genees het, kan beteken dat Hy elke soort siekte genees het eerder as elke siek persoon. Daar was nie ’n siekte wat Hy nie kon genees nie. Hy het omgegee vir liggaam en siel. Dit gaan hier oor volkome herstel! Nie net geestelike herstel nie. Dit is wat die lang lys sê. Ek gee nie om wie jy is en waar jou gebrokenheid vandaan kom nie, God het gekom om liggaam en siel te herstel. Ons sien dit in prediking en genesing. Hy gee om vir die liggaam.
Ek weet dat sommige van julle nou deur donker valleie gaan. Ek is nie hier om vir jou te sê dat hierdie lewe net maanskyn en rose sal wees nie. Maar ek kan sê dat Jesus vir jou is. Hy is met jou, en eendag sal Hy jou gesond maak. Vertrou op Hom. Moenie loslaat nie, smeek ek jou. As jy onseker is oor Hom, laat my toe om jou na Hom toe te bring deur die Woordverkondiging elke week, sodat jy Hom kan ontmoet, Hom kan raaksien en in Hom glo.
Ons lees verder: “en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes, en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.”
Die hemelse koninkryk is naby – die hemel ken nie dood, gerouklaag, geween of pyn nie. Die vloek word in die sweet deurweekte grond begrawe. Satan se kop word stadig vermorsel onder Christus se hakskeen (of ons kan sê: ‘genesing’). Dit is die Seun van God in die vlees! Wanneer jy Hom sien, kan jy nie anders as om Hom te volg nie! Dit gaan nie net oor die vraag: “Wie kan sondes vergewe” wat in Hom beantwoord word nie; dit gaan ook oor: Wie kan op die water loop, Wie kan die wind en die golwe stilmaak, Wie kan duisende demone met een woord uitdryf, Wie kan lewenslange siektes met een aanraking genees, Wie kan sewe brode na 7000 brode vermeerder, Wie kan 100 visse met een bevel vang, Wie kan jou die ewige lewe gee, Wie kan jou liggaam en siel genees, Wie kan jou ewige seëninge skenk wat geen oog nog ooit gesien het nie. En dit is nog nie eers die helfte van alles nie! Wie kan Homself vir jou gee?!
Wie kan sin aan die lewe gee? Wie kan die lewe betekenisvol maak? Sy vlees en bloed gee lewe. Hy doen dit deur alle kwaad op Homself te neem. Hy kan genees, en die vloek van die sonde wegneem, omdat Hy gekneus sou word en daardie vloek sou dra.
Laat ons dissipels wees, en nie volgelinge van skares nie.
Ons lees: “groot menigtes het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.” Kortstondige gewildheid is net ’n geleentheid om die Woord oor te dra aan die wat regtig ore het om te hoor. Gewildheid lei op die ou end nie altyd tot diepe toegewydheid nie. Daarom waarsku Mattheüs ons dat ons versekering van 'n Godgegewe missie in die lewe onwrikbaar dieper moet gaan as dit, dit moet wees deur te sien wie Jesus is wat ons oortuig en verseker. Ons kan so wispelturig wees. Maar die wispelturige skare is nie dissipels nie. Soos wat Martin Luther gesê het:
Feelings come and feelings go
And feelings are deceiving;
My warrant is the Word of God,
Naught else is worth believing.
Liewe gemeente, ons is almal gebroke. Ons is almal siek. Ons is sondaars. Maar in hierdie Man wat ons vandag teëkom, is die vloek gebreek. Hy roep jou vandag met dieselfde gesaghebbende stem: “Volg My.”
O, mag ons sy roepstem hoor – “Kom agter My aan, en ek sal julle vissers van mense maak.” Ons almal mag in hierdie pragtige sending deel. ’n Sending wat oorlog maak teen die kragte van die duisternis, wat die verkeerde regstel, wat Jesus volg waar Hy lei. En Hy lei ons in die koninkryk van sy Vader.
Amen.