Christus herstel die eerste gebod op aarde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-07-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 34
Preek Inhoud: 

Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 34

 

I, me and myself.

Dit is die heilige drieëenheid van ons tyd.

Ek moet goed voel, my behoeftes moet aangespreek word, my regte moet eerbiedig word, ek wil gehoor word, ek ek ek en die res kan ... u ken wel die uitdrukking.

Ons samelewing het geen waardes meer oorgehou as net dat elke individu sy hoogste geluk op aarde wil bereik.

Mense lewe om ryk te word, om alles te sien en te beleef.

As ander mense hulle daarin verhinder, word die verhouding met daardie mense verbreek, digitaal ge’unfriend’, of jy verlaat die whatsapp-groep of jy ‘block’ iemand se nommer, of jy verbreek kontak met iemand, jy sny hom uit jou lewe uit.

Of dit nou vriende, familie of gemeentelede is, of selfs ‘n huweliksmaat.

Ons kontakte met ander mense bestaan in soverre ons hulle nodig het, sover hulle vir my iets kan beteken.

 

Onderdeel van hierdie I, me and myself-kultuur is ook al die uitwasse in ons samelewing.

Ek het die reg om gay te wees, as ek lekkerder daarby voel.

Ek het die reg om myself man te voel, al het ek ‘n vroulike liggaam.

Ek het die reg om my taal en kultuur te beoefen, en mense van ander tale en kulture te ignoreer, al is hulle in dieselfde dorp of selfs kerkverband as ek.

Ek is aan die roer van my lewe, en uit al die keusemoontlikhede stel ek my lewenspalet saam soos ek dit soek.

En ja, ons tyd bied oneindige keusemoontlikhede.

Ek is mobiel, ek kan gaan na die winkels wat ek verkies, en na die vriende waarmee ek wil assosieer.

Ek is ook digitaal gekonnekteer, ek kan luister na daardie nuus wat ek wil hoor, en daardie musiek wat vir my aangenaam is, en daardie films en TV-programme wat by my lewensstyl pas.

 

Tema: Christus herstel die eerste gebod op aarde

  • Die chaos wat afgodery op aarde veroorsaak
  • Die weg na herstel wat die Skrif openbaar

 

  • Die chaos wat afgodery op aarde veroorsaak

Gemeente, al hierdie voorbeelde is gevolge van die I, me and myself-kultuur.

Die ‘heilige drieëenheid’ van ons tyd.

En met hierdie begrip is die verband met die eerste gebod direk duidelik.

Want die heilige Drieëenheid wat die Skrif openbaar is die Vader, Seun en Heilige Gees.

Dit is Hy vir wie ons moet lewe, Hom dien.

Dit is Hom alleen wat ek met my hele hart moet liefhê, vrees en eer, soos die eerste gebod ons oproep.

En soos die Skrif leer, om sy wil alleen te doen, bring die ware lewensgeluk.

As ek myself op die troon plaas, is dit ‘n skyngeluk, wat na die ewige verderf lei.

Die ek het die afgodsbeeld van ons tyd geword.

En al die voorbeelde wat hierbo genoem is, gemeente, is diens aan hierdie afgod – I, me and myself -  en dus oortreding van die eerste gebod.

Niks en niemand laat my meer voorskryf nie, ook nie eers meer God se Woord nie.

 

Nou sal ons in ons kerklike lewe bely dat God se Woord normatief is.

Tog is daar ‘n tussenstap tussen die wêreld, wat God se Woord heeltemal ignoreer, aan die een kant, en nederige gehoorsaamheid aan sy Woord aan die ander kant.

Hierdie tussenstap wys hoe ons as gelowiges ook besmet is met die ek-afgod van ons tyd.

Die tussenstap is om God se Woord so uit te lê dat dit wel by my en die hedendaagse samelewing se eise pas.

En so sien ons kerke wat gay-regte verdedig, die reg tot aborsie, die reg op genadedood.

Hoekom doen kerke dit?

Hulle doen dit om aan te pas by die eise van die tyd.

‘n Goeie voorbeeld is wat ook tydens die apartheidstyd gebeur het.

Die kerke het ook beswyk onder die eise van daardie tyd, en het vanuit die Skrif apartheid begin verdedig, met die gevolg dat gelowiges van verskillende kulture en kleure van mekaar geskei is op Sondag, al het hulle mekaar in die week by die werk ontmoet.

Daar is saam gewerk, maar daar is nie saam Bybelstudie gedoen nie.

Vandag ervaar ons nog steeds die gevolge daarvan.

Die ek-kultuur is wydverbreid, onder liberales, onder konserwatiewes, onder rykes, onder armes, onder wêreldlikes, en onder kerklikes.

 

Nou gemeente, al het God se Woord twee duisend jaar en meer gelede tot stand gekom, is niks aan die Skrif vreemd nie.

Die wese van die ek-kultuur bestaan al op aarde sedert die dag van die sondeval.

Die eerste gebod was die eerste gebod wat oortree is op aarde.

Die eerste gebod is grondliggend aan al die ander gebooie.

Dit is die fondemant waarop die huis van God se wil gebou word.

Wie ‘n lewe wil lei wat God welbehaaglik is, moet dit bou op die fondament van die eerste gebod.

 

Maar, as ons eerlik is, niemand van ons kan dit uit onsself doen nie.

Elkeen van ons, oud en jonk, word saamgesuig in die ek-kultuur in, as Christus ons nie uit hierdie dodelike moeras uittrek nie.

En dit is die blye boodskap wat ons in die Skrif, spesifiek ook in Romeine, lees.

Christus het vir ons die wet vervul.

Hy het die eerste gebod vir ons nagekom.

So het Hy die fondament van ons nuwe lewe gelê.

Hierop mag ons ons nuwe lewe bou, waarin ons God Drieënig behaag, en dankbaar volgens sy gebooie lewe.

En hierdie soliede lewenshuis gaan nie eers in die toekoms gebou word nie.

Dit vind nou al plaas.

Christus se kerk, ons as gelowiges, is in die wêreld, maar ons is nie van die wêreld nie.

 

As ons lees hoe Paulus die wêreld van sy tyd kenskets, klink dit vir ons baie bekend.

Paulus skryf aan die Christene in Rome.

Hulle het midde-in daardie wêreld gelewe.

‘n Wêreld waarin die mense gedink het hulle is baie wys.

Maar in God se oë het hulle dwaas geword.

Hulle het gedink hulle vereer die gode – dink aan al die tempels van daardie tyd – maar in feite het hulle die verganklike mens vereer, en voëls en viervoetige en kruipende diere.

Asof die heerlikheid van die onverganklike God gelykgeskakel kan word aan beelde, afbeeldinge van geskape dinge.

Die waarheid van God het hulle vir die leuen verruil, die skepsel vereer bo die Skepper.

 

En dan lees ons dat God hulle toe aan hulleself oorgelaat het.

Dit is eintlik God se ergste straf, as God Homself terugtrek.

God het hulle oorgegee aan hulle eie hartstogte.

Daar was geen rem meer op hulle nie.

Paulus noem ‘n sprekende voorbeeld daarvan.

Die natuurlike verkeer, die natuurlike seksuele omgang, het hulle verruil met dit wat teen die natuur ingaan.

Nou hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n samelewing wat baie ver van God besig is om af te dwaal.

Baie heidene wat die Bybel nie ken nie, leer ten minste nog uit die natuur hoe die geskape dinge werk.

Dit is vir ‘n mens – al is dit iemand wat nie die Bybel ken nie – vanselfsprekend, ‘obvious’ hoe seksuele omgang behoort te werk, en wat dit nie behoort te wees nie.

Die waarheid word op aarde deur God se skepping geopenbaar, en selfs heidene sien dit raak.

Maar wat erger is, is as mense doelbewus voortgaan om ook dit te doen wat so duidelik teennatuurlik is.

Dit het gebeur in die wêreld waarin die Christene in Rome gelewe het.

God het hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid – vers 28.

Mens kan ook vertaal: ‘n verwerplike denkwyse.

Oftewel die omkering van dit wat normaal is.

Iets wat skeef is, word nou normaal genoem.

Daardie krom, verdraaide en skewe denkwyse het gelei tot homoseksualiteit.

Maar dit is maar net een voorbeeld.

Paulus noem nog meer, onder andere hebsug, afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid, skindertonge, kwaadstokers, brutaal, ongehoorsaam aan hulle ouers, vindingryk om slegte dinge te bedink.

Alles dinge wat die dood verdien.

En wat nog erger is, is dat hulle dit goedpraat.

Dit is een ding om al sondig jy, tog te besef dat dit eintlik nie reg is wat jy doen nie, al kies jy tog om dit te doen.

Dis ‘n ander ding – ja veel erger – om boonop dit goed te praat.

 

En so het die wêreld van daardie tyd in ‘n negatiewe spiraal beland, waar dinge net erger en erger gegaan het.

En as ons na vandag kyk, moet ons dieselfde sê.

Hoeveel daar ook gepraat word, die geweld word nie minder nie.

Wêreldwyd neem dit toe dat mense doodgeskiet word, sommer ‘n klomp op ‘n slag, in ‘n township in Suid-Afrika, by ‘n skool in Amerika, op straat in Denemarke.

En in Ukraïene woed daar ‘n oorlog waar alle oorlogswette geminag word, en soldate sowel as burgers sneuwel, militêre geboue sowel as hospitale en skole vernietig word.

En hoeveel daar ook opgeroep word tot minder geslagsgebaseerde geweld, tog neem die verkragtings van vrouens van jaar tot jaar in ons land toe.

Dinge raak net meer en meer buite beheer.

 

En eintlik is dit so eenvoudig om te verstaan hoekom dit gebeur.

Die Kategismus vat dit vir ons saam:

Dit is omdat mense naas God en sy Woord gekies het om op iets anders hulle vertroue te stel.

Wie die oplossing van die wêreldprobleme elders soek, kry nie ‘n oplossing nie.

En so is die patroon van die wêreldgeskiedenis.

Die een generasie kom, die ander gaan, elkeen roep kliphard en maak planne, maar tevergeefs.

Moord en doodslag, geweld en verkragtings, haat en nyd en oorloë kry net nie end nie.

 

En wat het dit alles met die eerste gebod te make?

Wat Paulus, gelei deur die Gees, ons leer hier aan die begin van die Romeinebrief, is dat die rede hoekom God toornig is, nie in die eerste plek is omdat die mense hulleself eties wangedra nie, omdat hulle losbandig is nie, maar omdat hulle God misken.

Die immoraliteit waarvan ons hier lees is nie in die eerste plek sonde teen die sewende gebod – Jy mag nie egbreek pleeg – nie.

Maar dit is sonde teen die eerste gebod.

Dit is nou presies die chaos wat afgodery op die aarde veroorsaak.

Want sonde teen die eerste gebod lei tot oortreding van al die ander gebooie.

God is die Skepper van alles en Hy wil geken en geëer word.

Die rede hoekom dit sleg gaan met die wêreld, is nie primêr omdat daar oorloë en geweld en verkragtings en korrupsie is nie, maar in die eerste plek omdat mense hulleself op die troon geplaas het, en God nie meer erken nie.

Daarom word die toorn van God vanaf die hemel geopenbaar (vers 18).

Ook vandag is daar talle mense en organisasies, hulpverleningsorganisasies, wat baie tyd en geld bestee om die euwels in die wêreld uit te roei.

Tog is dit tot mislukking gedoem, want die kern word nie aangespreek nie, en dit is die verwerping van God en sy wil.

Ja hierdie mense en organisasies is self ook deel van die probleem, net so skuldig aan die probleem, net soveel as die moordenaars en verkragters, omdat hulleself ook nie meer God en sy wette wil erken nie.

En so, ten spyte van alle hulle inspanninge, duur die chaos op aarde tog voort.

 

(Tema: Christus herstel die eerste gebod op aarde

  • Die chaos wat afgodery op aarde veroorsaak)

 

  • Die weg na herstel wat die Skrif openbaar

Nou is dit opvallend hoe Paulus, gelei deur die Gees, hierdie situasie aanspreek, en die mense in Rome rigting wys om hieruit te kom.

In die Romeinebrief pleit hy nie in die eerste plek dat die sondaars, of hulle nou heidene of afvallige Jode is, weer moet terugkeer na die wet nie.

Die oplossing is nie om die wette van die Jode te propageer as die antwoord op al die probleme nie.

Die oplossing is nie om na die Jode te wys, wat so noukeurig lewe volgens God se wette, in teenstelling tot die losbandige heidene nie.

Nie dat daardie wette sleg is nie, hulle is deur God self aan die Jode gegee.

Tog word die wette nie na vore geskuif as die oplossing nie.

Die Romeinebrief openbaar Christus as die antwoord.

Want, om eerlik te wees, die Jode kon nie met hulle wetsonderhouding die sonde buite die deur hou nie.

Die Jode het hulle meerderwaardig gevoel bo die heidene, omdat hulle in besit was van God se Woord, sy wet, en omdat hulle dus in hulle eie oë beter gelewe het.

Desnietemin het dit van hulle nie beter mense gemaak nie, as hulle ten minste eerlik met hulleself was.

Paulus skryf vir die Jode in hoofstuk 2: “jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ‘n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?” (Rom 2:21-23)

Selfs nie die strengste en mees nougesette Jode het dit reggekry nie.

Paulus was vroeër een van hulle, hy was ‘n Fariseër.

Hy praat wat dit betref uit ervaring.

 

Maar die blye boodskap is dat Christus die wet vervul het, Hy het nagekom wat ons nie by magte was om te doen nie.

En daarom is die enigste uitweg Christus en die geloof in Hom.

Dit is die enigste ontsnapping uit die sonde en al die aaklige gevolge, vir sowel Jood as heiden.

Daar geen verskil tussen Jood en Griek nie.

Alleen Christus is die antwoord vir beide.

 

En dit bring ons weer terug by die eerste gebod.

Die eerste gebod is die fondament van al die ander gebooie.

As gehoorsaamheid aan die eerste gebod ontbreek, gaan dit fout met die hele lewe.

Christus het die band met die Vader herstel, Hy het gesorg dat ons die Vader weer reg leer ken.

Christus het gesorg dat ons weer die Vader gehoorsaam.

En die vrug daarvan is dat die res van die lewe ook weer regkom.

So mog die gemeente in Rome ‘n lig in ‘n donker perverse wêreld wees, omdat hulle op Christus gebou het, en in Hom gegroei het.

Soos die Kategismus sê: Hom alleen vertrou, alle dinge van Hom alleen verwag, Hom van harte liefhê.

En wie op Christus vertrou, vertrou op die Vader.

Jesus Christus en die Vader is een.

 

Nou is dit ‘n gevaar, broers en susters, dat ons na die preek luister met die idee dat dit oor ander gaan.

Tog is die Kategismusantwoorde opgeskryf in die eerste persoon.

Dit gaan nie net oor die sondige wêreld nie.

Ek moet, ter wille van my sieleheil, alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels vermy en daarvan wegvlug.

Al het ons die eerste gebod, soos die Jode dit ook gehad het, is ons self nie in staat om dit na te kom nie.

Ons het ook die neiging om op mense te vertrou, of dit myself is, my gesondheid, my jeug, my welvaart, my besigheid, my insig, of dat ek op iemand anders vertrou, ‘n dokter, my kinders, ‘n politikus, ‘n suksesvolle sakeman, wie ook al.

Ek en jy word opgeroep: Sien van alle skepsels af.

Sien van alle menslike prestasies en tradisies af, alles wat die mensheid opgebou het.

Glo in Christus.

Slegs deur Hom, slegs ingeplant in Hom, sal jy die krag ontvang om self ‘n goeie Godvresende lewe te lei, ooreenkomstig die gebooie.

 

Geliefde gemeente, elke Sondagoggend hoor ons weer die eerste gebod.

Laat ons nie daarna luister of God nou met ander mense praat nie.

Maar laat ons eerlik erken: Die afgelope week het ook ek weer die ‘heilige drieëenheid’ van I, me and myself vereer.

By die aanhoor van die eerste gebod is ek vanoggend weer oortuig van my sonde, en mog ek in die gebed weer na Christus vlug, en in sy Naam vergewing vra, en dat sy onderhouding van die eerste gebod op my naam geskryf word.

En deur sy Gees kry het nou die krag om wanneer ek vanaand die kerk verlaat, in die week wat kom, nie myself nie, maar die ware Drieënige God, Vader, Seun en Heilige Gees te dien en eer, en alles van Hom alleen te verwag.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Romeine 1:16-2:29

Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 34

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat is dikwels die ‘heilige drieëenheid’ van ons tyd?
  2. Wat het die teenwoordige ‘ek’-kultuur met die eerste gebod te make?
  3. Hoe herstel Christus die eerste gebod op aarde?
  4. Noem voorbeelde hoe kerke ook met die ek-afgod besmet is.
  5. Wat is die ergste straf waarmee God mense op aarde kan straf?
  6. Baie mense om jou heen se lewe is ‘n chaos, veral as mens dit met kerkmense se lewens (oor die algemeen) vergelyk. Hoe kan jy sulke mense help om ‘n meer harmonieuse en gelukkige lewe te kry?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 1:1-3

Gebed

Skriflesing: Romeine 1:16-2:29

Ps 34:6,7

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 34

Preek

Ps 19:1,2,4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 97:4,6,7

Seën