Vertrou dat tugtiging ook ‘n genademiddel is wat Christus gee om te gebruik

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-07-24
Teks: 
1 Samuel 2:22-25
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Samuel 2:22-25

 

In die kader van ons jaartema, onderrig en laat onderrig, is vanoggend se teks ook ‘n Bybelgedeelte wat aan die orde behoort te kom.

Eli se seuns werp ‘n donker skaduwee oor God se volk en spesifiek die bediening van die versoening, waarby hulle as priesters betrokke was.

Tog het die Heilige Gees besluit dat hierdie donker geskiedenis ook ‘n plek in die Bybel moes kry, sodat ons daaruit lesse kan leer, ons wat in dieselfde verbond met God mag lewe.

Ons wat uit genade ook Christus se versoening mag smaak, en ook ons kinders daarin mag onderrig.

 

Tema: Vertrou dat tugtiging ook ‘n genademiddel is wat Christus gee om te gebruik

 

Hierdie gedeelte begin sonder om doekies om te draai.

Eli se seuns was deugniete.

Deugniete, hierdie woord is in die kol.

Dieselfde woord gebruik Hanna, as Eli dink sy het dronk in die heiligdom ingekom:

“Hou tog nie u dienares vir ‘n deugniet nie” - hoofstuk 1:16.

Iemand wat nêrens voor deug nie.

Jongmanne wat hulleself dronk drink.

Deugniete.

Hulle het die HERE nie erken nie.

Natuurlik het hulle die HERE geken, verstandelik gesproke.

Maar om die HERE te ken beteken in die Bybel meer as dit.

Dit is ook om met Hom te lewe, Hom te vrees, Hom lief te hê, sy wil te doen.

En dan verduidelik die skrywer van Samuël sy stelling, deur te verwys na die wyse waarop hulle as priesters gefunksioneer het.

Die skrywer doen dit teen die agtergrond van die HERE se wet, sy Torah.

Hy neem aan dat die leser op die hoogte is van die HERE se instruksies wat Hy deur Moses gegee het aan die priesters, hoe hulle hulle diens moes verrig by die tabernakel.

Dink aan die offerwette in Levitikus.

Nou elkeen wat op die hoogte was van hierdie offerwette van die HERE, se oë sou rek by die lees van wat Eli se seuns gedoen het.

Soos wat die Israeliete na die heiligdom gekom het om te offer, het hulle die mense nie gehelp volgens die offerinstruksies van die HERE nie.

Waar die beste deel van die dier aan die HERE geoffer moes word, het hulle dit vir hulleself gevat.

Selfs die allerbeste deel, die vet, het hulle ook gevat voor dit aan die aan die HERE geoffer kon word.

 

Nou was dit so, gemeente, volgens die HERE se offerwette, dat as ‘n Israeliet geoffer het, dat hy daar voor die aangesig van die HERE ook van die offervleis mog eet, nadat die deel vir die HERE bestem geoffer is.

Dink byvoorbeeld aan die vredeoffer.

Hy mog daar voor die aangesig van die HERE met sy familie ‘n maaltyd geniet, en die HERE het beveel dat die priesters dan ook van die maaltyd mog geniet.

Wat hier egter fout gegaan het, is dat Eli se seuns al die beste vleis en vet vir hulleself toegeëien het, nog voordat die offer plaasgevind het.

En daardie Israeliete wat genoeg kennis gehad het om te weet dat die vet eers verbrand moes word vir die HERE, vir daardie Israeliete het hulle selfs bedreig:

Jy moet dit nou gee, en so nie, dan neem ek dit met geweld.

 

En dan trek die skrywer van Samuel sy konklusie:

Die sonde van hierdie jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE.

Aangesig van die HERE beteken: God sien en hoor alles wat op aarde gebeur.

Dit ontgaan Hom nie wat hierdie jongmanne doen nie.

Hulle het die offerdiens en die tabernakel, en daarom ook die HERE, met minagting behandel.

En dit was nog nie al nie, gemeente.

Want dis soos jongmanne is, wat hulle nie aan gesag steur nie.

As hulle nie aangepak word nie, volg sulke jongmanne net hulle eie kop en hulle eie drifte.

Hulle het die vroue wat werksaam was daar by die tabernakel begin teister.

Die skrywer van Samuel draai nie doekies om nie: Hulle het gemeenskap gehad met hulle.

Hierdie dinge het nie verborge gebly nie, die volk het dit begin agterkom en het begin praat.

En via die volk het die storie toe ook by Eli uitgekom.

Hierdie op sig wys al dat Eli heeltemal die invloed op sy seuns kwytgeraak het.

Hy was al baie oud, staan daar, en dit wat by die tabernakel aangegaan het, daarop het hy grip verloor.

Hy het ernstig met sy seuns gepraat.

Dit wat julle doen, is nie ‘n goeie gerug nie.

Julle gedrag gaan maak dat die volk ook gaan oortree.

Eli het sy seuns se gedrag afgekeur, maar maatreëls het hy nie geneem nie.

Eli se waarskuwings was van so ‘n aard, asof hy self ook nie veel daarvan verwag het nie.

Hy het gemaak asof hy niks aan die situasie kon doen nie.

Asof – vers 25 – omdat hulle teen die HERE sondig, daar nie veel aan die saak gedoen kon word nie.

 

Maar Eli se seuns het hulle nie aan hom gesteur nie.

Eli word hier as ‘n swakkeling geskets.

Hy praat wel, maar het nie meer tande nie.

Nie net as vader nie, ook as priester moes hy ingegryp het.

Sy seuns was hulle amp nie waardig nie, hulle moes afgesit geword het, meer nog, hulle moes voor die regters in die poort gebring word, hulle moes gedood geword het, volgens die wet van die HERE, omdat hulle sy offerwette geminag het, omdat hulle owerspel gepleeg het.

Eintlik het Eli as vader in hierdie opsig die eerste gebod oortree.

Die HERE sê in hoofstuk 2:29: Jy betoon meer eer aan jou seuns as aan My.

Sy liefde vir sy seuns het ‘n sieklike liefde geword.

Gebeur dit nie ook nog vandag nie, gemeente, dat ouers se liefde vir hulle kinders blind geword het.

Ware liefde sou wees om hulle kinders by die HERE te bewaar en alles in hulle vermoë daarvoor te doen.

Eli wou net die liewe vrede bewaar.

Sy liefde vir sy kinders het ingehou dat hy nie kans gesien het om hulle aan te pak nie.

In hoofstuk 3:13 sê die HERE: Want terwyl sy seuns God geslaster het, het hy hulle nie streng bestraf nie.

Geliefde gemeente, en ook die oueres onder ons, is julle moedig genoeg, het julle genoeg vertroue op die HERE en sy wil, dat julle werklik stappe onderneem om julle kinders en kleinkinders tereg te wys?

 

En dan staan daar iets opmerkliks:

Hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.

Beteken hierdie opmerking dat alles vooraf gedetermineerd was?

Is hierdie opmerking fatalisties?

Was dit so gepredestineer en kon Eli en sy seuns nie anders nie?

Nee, gemeente, so moet ons hierdie sin nie lees nie.

Ons moet dit lees in die konteks van die verbond.

Die HERE het Eli se seuns oorlaai met seëninge.

Sy beloftes in die verbond het Hy hulle oorvloedig geskenk.

Maar Hofni en Pinehas het dit verag.

Hulle het by wyse van spreke met die witbrood onder die arm gesondig.

Hulle het hulle bevoorregte posisie daar by die tabernakel gebruik om hulle eie genot te bevredig.

Hulle het geëet en gedrink en gehoereer, en dit op kostes van die tabernakel.

Die verbondseis het hulle geminag.

 

Maar in die verbond is daar ook ‘n dreiging.

By volgehoue ondankbaarheid, by aanhoudende verwerping, as ‘n verbondskind nie sy posisie en gawes gebruik nie, dan kom die verbondsstraf.

En daarom staan daar: Die HERE wou hulle ombring.

Maar die HERE het ook gesorg dat die bediening van die versoening wel voortgaan.

Daaroor gaan die begin van die boek Samuel.

Terwyl Eli se priestergeslag afvallig raak, verwek die HERE vir die volk ‘n nuwe leier.

Die HERE maak nuwe planne.

Uit ‘n onvrugbare het Hy vir Homself ‘n nuwe priester verwek – Samuel.

 

Hierdie is in die Bybel opgeskryf tot ons onderrigting en ook vermaning.

Want ook vir vandag geld dat as jongmanne aanhoudend hulle bevoorregte posisie verag, die eredienste nie bywoon nie, en die genot van die wêreld verkies bo die diens van God, dan kom God se straf oor hulle.

As hulle voortgaan op hulle dwaalweg, gaan daar ‘n dag kom dat God ook vir hulle wil ombring.

Dit is nie deterministies nie, dit is nie fatalisties nie.

Dit staan hier om ons jongmanne wakker te skud.

En om ons as ouers wakker te skud.

Die lewe in die verbond is nie speletjies nie.

Ons jongmanne wat ‘n te groot mond het, laat hulle betyds in die bek geruk word.

Ons jongmanne wat die genot en losbandigheid van die wêreld verkies bo die kerklike lewe, laat hulle betyds in die kraag gegryp word en teruggetrek word na die weë van die HERE.

Want hulle riskeer hulle saligheid.

En behalwe vir dit, rig hulle ook groot skade aan.

Hulle beskadig mense rondom hulle.

Hulle veroorsaak dat ander wat nie so standvastig is, ook meegesleur word deur hulle slegte voorbeeld.

Net soos by Hofni en Pinehas.

Hulle optrede het almal wat kom offer het, ernstig beskadig, en ook soms meegesleur.

 

Die uiteinde van Eli en sy seuns was baie tragies.

Uit genade het God nog ‘n profeet na Eli gestuur om dit aan te kondig.

Weereens, hierdie laaste deel van hoofstuk 2 moet ons nie fatalisties lees nie.

Ook dit was ‘n laaste appèl op Eli se huis.

Maar dit wil voorkom of Eli die woorde gelate oor hom heen laat gaan het.

Eli was opvoedingsmoeg, hy was lewensmoeg.

 

Dit kan ook met ons gebeur, dat ons kinders volwasse is, en die verkeerde paaie in die lewe kies.

Wat kan ons as ouers dan nog doen?

Gemeente, laat dit voorop staan: Geen ouer is volmaak, geen ouer se opvoeding is sonder gebreke nie.

As jou kinders goed uitdraai, is dit genade op genade.

Maar as ons kinders verkeerd uitdraai, moet ons as ouers ook bereid wees om ons selftrots te begrawe, en ons moet ook bereid wees om oor ons skaamte heen te kom, om hulp te soek.

En soos ons weet, die tugbediening is bedoel om te help.

As jou woorde geen effek meer op jou kinders het nie, dan kan jy as ouer dit nie daar laat nie.

Begrawe jou trots, gaan vra hulp by die ampsdraer, by die predikant, dalk by ‘n vriend of vriendin, ‘n oupa of ouma, ‘n broer of suster.

Jou kind se saligheid is op die spel, en moenie dat jou trots of skaamte daartussen kom nie.

 

Wat met Eli se huis gebeur het, is ‘n tragiese voorbeeld, wat die Heilige Gees in die Skrif laat opteken het, om ons te onderrig, om ons te waarsku (1 Kor 10:11-12).

Omdat Eli steeds gelate dinge net laat aangaan het, het sy huis ten onder gegaan.

Hy en sy seuns het op een dag omgekom.

Toe hy die berig hoor dat sy seuns op die slagveld gesterf het, en veral dat die ark deur die Filistyne buitgemaak is, het hy agteroor van sy stoel afgeval, sy nek gebreek en gesterf.

So het die veertig jaar ten einde gekom waartydens hy Israel gerig het.

Dit het uitgeloop op ‘n totale mislukking.

Die kerk van die ou verbond is deur sy slapheid tot ‘n dieptepunt gebring.

As rigter het hy gefaal.

 

Dit was net genade dat die HERE betyds nuwe planne gemaak het, toe Hy sien dat dit die verkeerde kant op gaan met Eli en sy huis.

En gemeente, dit is ‘n patroon wat ons meer in die Ou Testament sien.

Want ‘n aantal jare later, toe die HERE sien dat dit ook verkeerd gaan afloop met koning Saul, het Hy weer betyds planne gemaak om hierdie ontroue koning te vervang, deur Samuel opdrag te gee om Dawid te gaan salf.

En deur al hierdie geskiedenisse heen, sien ons veral hoe die HERE besig is om sy groot plan nader te bring, om finaal die duiwel se kop te vermorsel.

Eendag sou die groot Rigter kom, deur God gestuur, sy eie geliefde Seun, wat nie sou faal nie.

Wat die daad by die woord sou voeg, om die afvallige volk na die regte weë terug te lei.

Christus was en is die volmaakte Ampsdraer.

Ons hoef nou nie meer na die tabernakel of tempel te gaan, waar sondige mense vir ons opwag as ons kom offer nie, mense wat soos Hofni en Pinehas nie die volk help om versoening met God te bereik nie, maar wat hulle juis verder van God af weggetrek het.

Ons kan nou direk nader voor God in die hemelse heiligdom, in die naam van ons Hoëpriester Jesus Christus, wat aan sy regterhand sit.

Op grond van sy eenmalige offer kan ons elke dag met God versoen word.

Wat ‘n voorreg!

Wat ‘n rykdom!

Wat ‘n heerlike blye boodskap om ook aan jou kinders oor te dra.

En net soos in die Ou Testament, gaan die HERE in die nuwe bedeling ook verder.

Hy self sorg dat die bediening van die versoening voortgaan.

En as dit versand in afvalligheid in ‘n kerk, dan sorg Hy dat daar reformasie kom.

Hy beplan vooruit.

Hy sal voortgaan en weer uitkoms skenk, ook in tye van groot afval.

Hy sal weer nuwe gesinne verwek, nuwe ouers wat wel hulle verbondstaak uitvoer, sodat Godvresende kinders kan opgroei.

 

Ons lewe in ‘n hektiese samelewing.

Die tyd waarin kinders opgroei, is vir ouers die besigste tyd van hulle lewe.

Hulle moet hard werk om hulle gesin te kan voed en die kinders op skool te hou.

By die kerk word daar ‘n beroep gedoen op hulle ekstra tyd.

En dan moet hulle kinders opvoed.

Dit is ‘n baie mooi tyd, maar ook ‘n moeilike tyd vir ouers.

En dit is nie verbasend nie as die opvoeding dan minder tyd kry as wat nodig is.

Maar laat dit altyd voorop staan: Die HERE stel jou aan as ouer.

En jy sal daardie rol moet vervul, en jy sal daarin dikwels die minste moet wees, om dit te gee wat elke kind met sy of haar karakter nodig het, om gevorm te word tot ‘n verantwoordelike volwassene, meer nog, as ‘n Godvresende mens.

En dit is so duidelik soos daglik, dit vereis tyd.

En, net so belangrik, dit vereis moed van jou kant as ‘n ouer.

Miskien het Eli wel tyd gehad, maar hy het nie die moed gehad nie.

Geloofsmoed hou in dat jy jou kind durf aan te spreek op wat nie reg is in sy of haar lewe nie, veral ook as jou kind ouer geword het.

Eli het oogluikend toegelaat wat sy seuns aanvang.

Hoewel die HERE kinders nie straf vir hulle ouers se sondes nie, lê dit andersom bietjie anders.

As ouers hulle kinders se sondige lewensstyl oogluikend toelaat, of te bang is om in te gryp as hulle nog onder die ouers se dak is, dan raak hulle mede-verantwoordelik.

Dit is ook soos die Bybel Eli se posisie skets.

 

Hierdie werklikheid word onderstreep in die Nuwe Testament, in ‘n heel ander gedeelte, as Paulus oor voornemende ampsdraers die volgende skryf:

“een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.” (1 Tim 3:4)
En aan Titus gee Paulus die volgende advies in die identifisering van potensiële ampsdraers:

Iemand wat “gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie.” (Titus 1:6)

Wat dit betref was Eli sy amp nie meer waardig nie, en dit om twee redes.

 

Net so rus daar, nie net op die ouers se skouers nie, maar ook op die ampsdraers s’n ‘n taak wat betref die jeug.

As die jeug drink, as hulle hulleself vermaak met vuil skuins praatjies,  dan kan ampsdraers nie net daaroor swyg en die gesig die anderkant op draai nie.

En ook onderwysers het ‘n amp van die HERE gekry.

Veral op Gereformeerde skole, as sulke dinge in bepaalde groepe van die jongmense plaasvind, moet die onderwysers inisiatief neem om dit aan te spreek en alles in hulle vermoë doen om dit te beëindig.

As Gereformeerde skole die naam kry as plekke waar daar gerook en gedrink word, losbandigheid plaasvind in woord en in daad, dan is so ‘n skool sy sout nie meer werd nie, al is die leerinhoude ook hoe mooi.

Woordbediening wat nie met tugbediening gepaard gaan nie, hetsy in die kerk, by die huis of op skool, is soos ‘n hond sonder tande.

Eli se seuns was deugniete.

‘n Seun of dogter wat nêrens voor deug nie, wat nie rigting het in die lewe nie, dit is die gevolg van ‘n opvoeding sonder tande.

 

Nou kan ons ‘n gevoel van magteloosheid kry.

En ouers kry dit soms, as hulle voel dat hulle die greep op hulle kinders verloor.

En soos ek gesê het, as kinders opgroei en volwasse word en in die diens van die HERE voortgaan en aktiewe lede in die kerk word, is dit net genade.

Genade op genade.

Elke ouer is sondig, elke ouer het genoeg sonde om sy kind die verkeerde kant te laat opgaan.

Maar Christus skenk ons sy genade.

Laat ons dan ook nie skroom om sy genademiddele te gebruik nie.

Vermaning is ook ‘n genademiddel.

Tugtig is ook ‘n genademiddel.

Dit is kragtige middele, juis in die lig van die feit dat ons as ouers ook sondige mense is.

Tugtiging, nie net deur ouers, maar ook in die kerk en op skool, dit is ‘n onmisbare sleutel van die koninkryk van die hemel.

Laat ons dan nie skroom om dit ook te gebruik.

Wie veel van Christus se genademiddele verwag, sal ook veel ontvang.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 1 Samuel 2:12-36 & 1 Samuel 4

Teks: 1 Samuel 2:22-25

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe het Eli se seuns oortree, in die lig van die offerwette wat God aan Moses openbaar het?
  2. Hoe moet ons dit verstaan dat die HERE vir Eli se seuns wou ombring (1 Sam 2:25)?
  3. In watter opsig het Eli die eerste gebod oortree?
  4. Hoekom hou die HERE Eli ook verantwoordelik vir sy seuns se sondes?
  5. As jy ‘n ouer is, het jy al hulp gevra by die opvoeding van jou kinders?
  6. Hoekom moet ‘n ampsdraer iemand wees wat “gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie” (Titus 1:6)?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 127:1,2,3

Wet

Sb 44:1,3

Gebed

Skriflesing: 1 Samuel 2:12-36 & 1 Samuel 4

Ps 89:12,13

Teks: 1 Samuel 2:22-25

Preek

Ps 89:2,6

Gebed

Kollekte

Ps 118:7,9,11

Seën