Ons redding kom nie deur goeie werke nie, maar deur die goedheid van ons Eienaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-07-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 32
Preek Inhoud: 

In sy gelykenis oor die arbeiders van die laaste uur, leer Christus ons een van die belangrikste waarhede van die Evangelie.

Dit is nie ‘n droë akademiese en dogmatiese les nie.

In hierdie gelykenis vertel Hy op aanskoulike en boeiende wyse een van die diepste leerstellings.

Pragtig hoe ons Heiland in staat is om die saak tot in sy diepste kern uit te lê, en op so ‘n wyse dat selfs ‘n kind dit kan verstaan.

Christus was die volmaakte Prediker, waarvan elke predikant soveel kan leer, ook wat betref die aanbieding van die Evangelie.

Christus het nie na die aarde gekom as ‘n groot teoloog, met groot woorde en ellelange preke nie.

Het u geweet, vir ‘n predikant is dit makliker om ‘n lang preek te maak as ‘n kort preek.

Om ‘n moeilike saak helder, kort en bondig uit te lê in eenvoudige woorde, is veel moeiliker as ellelange preke met hoogdrawende woorde.

Ons Here Jesus Christus het die vaardigheid op aarde gewys om met min woorde die diepste kern van die Evangelie oor te dra, en dit sodat selfs ongeletterde mense dit volledig kon verstaan.

Hierdie gelykenis is ‘n pragtige voorbeeld daarvan.

 

Tema: Ons redding kom nie deur goeie werke nie, maar deur die goedheid van ons Eienaar

 

Christus neem as voorbeeld ‘n gebeurtenis uit die alledaagse lewe.

Net soos vandag, was daar in daardie tyd ryker en armer mense.

Daar was ‘n grondeienaar, en hy het arbeiders nodig gehad.

Normaal was dat arbeiders wat geen werk gehad het nie, in die oggend na die markplein van die stad gegaan het om te wag en sien of iemand hulle arbeid nodig het.

Hy het vroeg in die oggend gegaan, ons kan aanneem die eerste uur.

Volgens die Joodse horlosie was dit ses uur in die oggend, met sonsopkoms.

Die arbeiders wat daar gereed gestaan het, het hy in sy wingerd ingestuur, nadat hy die dagloon met hulle ooreengekom het – ‘n penning.

In die oorspronklike teks staan daar: ‘n denarius.

Dit was die normale dagloon vir ‘n arbeider, ‘n heel eerlike loon, waarmee hy die aand kon huis toe om homself en sy gesin te voed.

Die arbeiders het niks oor die loon te kla gehad nie, en het dus graag die geleentheid om die dag geld te kan verdien, aangegryp.

Ons kan aanneem dat die huisheer, die grondeienaar, baie wingerde gehad het, daar was baie om te doen.

Daarom gaan hy drie uur later, die derde uur, in ons tyd – nege uur die oggend, weer na die markplein.

Ondertussen het daar nog meer arbeiders opgedaag, wat nie so vroeg was as die eerstes nie, hulle was moontlik bietjie luier, het nie so vroeg opgestaan nie, maar eers uitgeslaap, en toe op hulle tyd na die markplein aangekuier gekom.

Maar ook hulle het die landheer almal saamgevat na sy wingerd toe, met dieselfde afspraak van ‘n denarius, ‘n penning, vir die dag.

Steeds kon hy nog meer hande gebruik, en daarom gaan hy die sesde en selfs die negende uur weer na die markplein, twaalf uur – midde oordag, en ook as dit alreeds drie uur in die middag is.

Al is dit maar vir ‘n paar uurtjies, nog steeds kon hy meer hande gebruik.

En ook met hulle kom hy ooreen dat hy aan hulle ‘n penning, ‘n denarius, sal betaal.

Tot dusver kan ons die grondeienaar se optrede nog enigsins logies verklaar.

Hy het baie werk in sy wingerd, dis dalk oestyd en hy wil so veel moontlik druiwe geoes kry voordat hulle oorryp raak, en dalk is die verkoopprys goed en wil hy so gou moontlik van sy druiwe ontslae raak teen ‘n goeie prys.

Selfs as hy arbeiders het wat slegs drie ure werk, maak dit nog steeds finansieel sin om hulle ‘n dagloon, ‘n denarius te betaal.

Maar dan kom ons by die laaste geval, as die huisheer teen die elfde uur, dis nou vyf uur in die middag, alweer na die markplein gaan.

Dit het regtig nie meer sin gemaak nie.

Eerstens was dit vir die grondeienaar tydmors.

En uit finansiële oogpunt was dit ook nog geldmors, om vir arbeiders wat slegs vir ‘n uurtjie kom werk, tog ‘n volle dagloon te betaal.

En wat dan nog daarby kom, is dat daar staan dat hierdie mense eintlik net die hele dag op die markplein ledig gestaan het.

Die enigstes wat daardie dag nog op die mark oorgebly het, was die niksnutte, wat daar gestaan en rondhang het.

Wat nie lus was om te werk nie, wat nie moeite gedoen het om betyds op te staan nie, wat waarskynlik net gebedel het.

Wie is nou lus om sulke mense in diens te neem?

 

So gemeente, die feit dat die huisheer teen die einde van die dag tog nog na die mark gegaan het en hierdie niksnutte ook teen ‘n volle dagloon ingehuur het om slegs ‘n uurtjie te werk, dit het nie logies en ook nie finansieel sin gemaak nie.

Dit was onverklaarbare gedrag, onnosel.

Iets wat ook deesdae ‘n boer of ‘n bouer nooit sal oorweeg om te doen nie.

Op hierdie punt verloor die gelykenis dus eintlik sy realiteitsin.

 

Tog vertel Jesus dit met opset juis so.

Want dit is juis hier waar die boodskap begin deurkom.

Want wat baie duidelik is, is dat hierdie huisheer buitengewoon vrygewig, buitengewoon gul was.

So gul, dat dit die wenkbroue laat lig het.

Meer nog, dit het die ander arbeiders omgekrap.

En dit is eintlik verstaanbaar.

Sê nou maar iemand sou vandag van die mense wat langs die pad staan, byvoorbeeld in Codonialaan, op sy bakkie laai omdat hy werk vir hulle het.

Hy kom ‘n dagloon met hulle ooreen en steek hulle vroegdag aan die werk.

Hulle werk hard om hulle baas te beïndruk.

En sê nou maar teen vyf uur die middag kom die baas daar opdaag met nog ‘n klomp mans, die wat eers uitgeslaap en laat opgestaan het, wat daar oorkant die drankwinkel op die sypaadjie gesit en nie eers moeite gedoen het om iemand se aandag te trek nie, maar soos niksnutte daar rondgehang het, waarskynlik al ‘n paar doppe op.

En dan laat die baas hulle net ‘n uurtjie werk, om vervolgens dieselfde bedrag aan hulle uit te betaal.

Dit is heel verstaanbaar as die werkers wat al van vroeg af geswoeg en sweet het in die warm son, omgekrap gaan wees, omdat hierdie niksnutte dieselfde behandeling as hulle kry.

Tog is juis hier die kern van die Heiland se boodskap.

Waar dit Jesus om gaan is dat die arbeiders nie met jaloesie na mekaar moet kyk nie, maar dat hulle net na die baas moet opkyk.

En dat hulle moet raaksien dat hy goed is.

En dat hy die baas is, en dat hy die reg het om te besluit soos hy wil, en om met sy geld te maak wat hy wil.

En dat die baas niemand onreg aangedoen het nie.

Dat al die arbeiders huis toe kan gaan en genoeg geld het om kos te koop vir hulleself en hulle gesinne.

 

Nou hoekom het Jesus hierdie gelykenis vertel?

Ons lees by Mattheüs meer as een keer die refrein: “So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste”.

Dit is die konklusie aan die einde van hierdie gedeelte.

Net voor hierdie gelykenis het Jesus dieselfde ook al gesê, en dit na aanleiding van die ryk jongman, wat hom keurig aan al die gebooie gehou het, maar tog een ding kortgekom het.

Die ryk jongman was as ‘t ware ‘n arbeider van die eerste uur.

Maar al wat hy kortgekom het was om die Here te vertrou, dat Hy sal voorsien, ook al verloor hy al sy rykdom.

Ook het die Here Jesus die Fariseërs op die oog.

Ook hulle was arbeiders van die eerste uur, wat ‘n keurige lewe gelei het, hard gewerk het, baie goeie werke gedoen het.

Maar wat hulle gekort het, was die dankbaarheid, om dankbaar te wees dat die Here se plan is om ook hoere en dronkaards en tollenaars te red, dis nou die arbeiders van die laaste uur.

En dan het die Here Jesus sy eie dissipels op die oog gehad.

In die gedeelte hierna lees ons oor die moeder van die seuns van Sebedeüs wat Jesus versoek om vir haar seuns belangrike posisies in sy koninkryk te gee.

Sy was trots op haar seuns, hulle was troue volgelinge van Jesus, hulle het dit verdien om ereplekke te ontvang.

Maar vir al hierdie mense – die ryk jongman, die Fariseërs, en die dissipels – waarsku Jesus:

Die wat laaste is, sal eerste wees, en die wat eerste is, laaste.

Selfs waarsku Jesus: Baie is geroep, maar min uitverkies.

Dit bring ons by die hoofboodskap van hierdie gelykenis.

Naamlik dat in Jesus se wingerd, in sy koninkryk, besigheidswette nie ter sake is nie.

Daar is niemand wat kan sê: Ek verdien om in die koninkryk in te gaan nie.

Toetrede tot sy wingerd, en die ingaan in sy koninkryk, is ‘n kwessie van genade.

Dit staan die huisheer vry om te roep wie Hy wil.

 

Gemeente, ons kan die wingerd vergelyk met die kerk.

Dit staan Christus vry om tot lidmaatskap van sy kerk te roep wie Hy wil.

Daar is hulle wat van hul geboorte af al lid van die kerk is.

Wat deurgaans ‘n keurige lewe lei.

Maar daar is hulle wat ook op die laaste nippertjie, by wyse van spreke, 10 voor 12, nog in die kerk ‘beland’, en op die laaste nippertjie as ‘t ware die hemel ‘inglip’.

En ook hulle beërf die volle saligheid.

Dink aan die moordenaar langs Jesus aan die kruis.

Beide die arbeider van die eerste en van die laaste uur word gered uit genade, beide ontvang dieselfde beloning, slegs op grond van die besluit van die huisheer.

 

Ons werk nie in sy wingerd om die saligheid te verdien nie.

As Christus ons roep, beloof hy reeds aan ons die saligheid.

Al wat ons moet doen, is by Hom bly, in sy wingerd bly, nie dros nie.

Uit dankbaarheid in sy wingerd werk.

As dit ons instelling is, sal ons nie frons, sal ons oog nie verkeerd wees soos die huisheer sê, sal ons nie afgunstig wees, as ander dieselfde behandeling as ons kry nie.

As ons getuig teenoor hulle wat eers later die wingerd ingekom het, dat dit ‘n uitstekende baas is, betroubaar, met ‘n goeie hart, sal die wat later ingekom het, nie dros nie, maar tog vertrou dat die huisheer se belofte waar is, al klink dit dalk te goed om waar te wees.

So kan ons ons naaste vir Christus wen.

 

Gemeente, hierdie werklikheid is ‘n werklikheid waarvan ons kerkwees deurdronge moet wees.

Ons mag nooit ‘n eksklusiewe geselskap word nie.

Iemand wat ‘n onstuimige sondige lewe gelei het, maar wat op later ouderdom paaie kruis met die kerk, moet in die kerk mense ontmoet wat net so ‘n groot sondebesef het as hy, nie mense wat op hom neerkyk nie.

Gelowiges op die sendingsveld wie se geloofslewe aan ‘n dun lyntjie hang, by wyse van spreke, moet nie die indruk kry dat ons veel beter gelowiges is nie.

Beide is ons vir een honderd persent van Christus se genade afhanklik.

 

Laat ons ook nie die arbeiders van die laaste uur beny nie, asof hulle gelukkig was, omdat hulle die hele dag nie hoef te gewerk het nie, maar tog die volle loon ontvang.

As ons dit doen, dan is ons jaloers op hulle wat ‘n wêreldse lewe lei, asof wêreldse genot die hoogste vreugde is, en asof ons as kerklede eintlik ongelukkig is, omdat ons ‘n saai eentonige lewe moet lei.

Asof die werkers van die laaste uur eintlik ‘n ‘bargain’ slaan, omdat hulle hulle lewe kon ‘geniet’, en dan kry hulle ook nog die saligheid.

Want dan het ons ‘n volledig verkeerde sig op sake.

Want die hoogste vreugde op aarde is nie ‘n sondige lewe nie, maar dit is juis om in diens te wees van die huisheer, om naby hom te wees, om in sy wingerd te mag werk.

Dit is ‘n vervulde lewe, dit is ware vreugde.

 

Om te hoereer, om afgode te dien, om eg te breek, om gierig net geld te vermeerder, om jouself dronk te drink, om te laster, om te roof, dit is nie ‘n goeie, ‘n vervulde lewe nie.

As ons die werkers van die laaste uur beny omdat hulle dit gedoen het, dan is ons hart nie reg nie.

Dan het ons ons nie tot God bekeer nie.

Dan is ek nie dankbaar vir die feit dat ek in die huisheer se wingerd mag werk nie.

Ook is my werk in sy kerk en koninkryk ook nie die rede hoekom ek betaling kry nie, maar die rede is slegs omdat hy goed is.

Ons redding kom nie deur goeie werke nie, maar deur die goedheid van ons Eienaar.

Dit is daarom ‘n goeie lewe op aarde, ‘n lewe in diens van ons Eienaar, Hy wat ons met sy kosbare bloed gekoop het.

En al is dit by tye nie ‘n maklike lewe nie, soos die arbeiders van die eerste uur, wat die hele dag se werklas en ook die hitte moes verduur, tog is dit die beste lewe.

‘n Lewe in ons Heiland se wingerd is inderdaad nie altyd maklik nie.

Daar is kerkstryd, daar is baie sweet en trane wat soms met die kerklike lewe gepaard gaan.

Maar, laat ons eerlik wees, as ons sou moes kies tussen ‘n lewe daarbuite in die sondige wêreld, of ‘n lewe hier in Christus se wingerd, dan is dit nie ‘n keuse nie.

Dan is die laaste verreweg die beste.

Ten minste, as ons hart reg is.

As ons verhouding met ons Heer en Meester reg is.

As dit ons hoogste vreugde is dat ons naby Hom mag wees, alreeds ook hier op aarde.

Elke dag verbaas mag wees oor sy goedheid.

Ja Hy het ‘n hart van goud.

 

By Sondag 32 begin die derde deel van die Kategismus, oor die dankbaarheid wat ons aan God verskuldig is vir die verlossing.

Dankbaar mag ons in die wingerd arbei, omdat die saligheid alreeds aan ons beloof is.

Vanuit hierdie oogpunt gaan ons die komende weke al die tien gebooie uit die Kategismus behandel.

En dankbaar mag ons na die huisheer opkyk, ons Here Jesus Christus.

Dit is ware bekering, as ons omgedraai het om slegs Hom te volg, na Hom op te kyk, alles na te laat wat Hy verbied, en alles dankbaar te doen wat Hy gebied.

Dit is ‘n voorreg om volgens sy wil te mag lewe.

En wie al vanaf hulle geboorte in sy wingerd werksaam mog wees, hulle is eers gelukkig.

En dankbaar getuig hulle van hul goeie Huisheer, aan almal wat later by hulle aansluit.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Mattheüs 20:1-16

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wie bedoel Jesus met die arbeiders van die eerste uur?
  2. Wie bedoel Jesus met die arbeiders van die laaste uur?
  3. Wat het die arbeiders van die eerste uur, die ryk jongman, en die Fariseërs in gemeen?
  4. Hierdie gelykenis wat Jesus vertel is ‘n verhaal uit die alledaagse lewe. Tog verloor dit aan die einde sy konneksie met die realiteit. Verduidelik.
  5. Was jy al jaloers op hulle wat die ‘genietinge van die sondige wêreld’ najaag?
  6. Hoekom moet ons nog goeie werke doen, as ons tog net uit genade gered word?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 80:5,6,10

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 20:1-16

Ps 107:18,20,21

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Preek

Sb 49:2-5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 24:3,6,7

Seën