Preek: Hosea 4:1-6
Om die jeug te onderrig en te laat onderrig – ons jaartema – moet ons ook onsself onderrig en laat onderrig.
In die verbond is daar ‘n baie belangrike plek vir onderrig.
Dit is hoe die diens aan die HERE oorgaan van een geslag na die ander.
As die volwassenes vir die kinders vertel van die HERE en sy groot dade.
En dan nie net kennis oordra nie, maar veral die gevoel en ervaring wat met daardie kennis gepaard gaan.
Ons Here Jesus het, toe Hy op aarde was, nie net droë akademiese kennis van sy hemelse Vader met ons gedeel nie.
Dit was deurleefd.
Dit was kennis wat verbonde was aan liefde en trou.
Kennis, liefde en trou, drie woorde in ons teks wat saamgaan.
En van die ander kant bekyk: gebrek aan kennis laat die liefde kwyn.
En waar die liefde kwyn, is daar ook nie meer die motivering om trou te bly aan die Here en aan mekaar nie.
Kom ons luister na wat die HERE hieroor openbaar in ons teks uit Hosea.
Tema: Die HERE roep op tot kennis van sy Woord, sodat liefde en trou sal bloei
Hosea is deur die HERE geroep om te profeteer in die laaste dekades voor die ballingskap van Israel.
Dis die noordelike ryk.
Ons teks se aanklag is dan ook veral teen hulle gerig, al is dit nie so dat Juda, die suidelike ryk, buite beeld bly nie.
Aan die einde van hierdie hoofstuk kom hulle ook in die visier.
In Hosea 4 span die HERE ‘n regsaak aan teen sy volk.
Die aanklag het spesifiek te make met die feit dat sy volk nie nagekom het wat hulle in die verbond beloof het nie.
Die HERE het van sy kant sy deel ruimskoots nagekom.
Maar van die volk se kant ontbreek daar trou en liefde, en ook is daar geen kennis van God meer in die land nie.
Die HERE noem enkele voorbeelde, vers 2:
In die land wat Hy aan sy volk gegee het, heers sy gebooie nie meer nie.
Inteendeel, hulle sweer – oortreding van die derde gebod.
Hulle lieg – oortreding van die negende gebod.
Hulle moor – oortreding van die sesde gebod.
Hulle steel en breek in – oortreding van die agtste gebod.
Hulle pleeg owerspel – oortreding van die sewende gebod.
En die een bloedbad volg op die ander.
In vers 3 word beskryf wat die gevolg hiervan is.
Dis nie net die HERE wat ontsteld is nie.
Ook die skepping is ontsteld, die land gaan gebuk onder al hierdie misdade.
As mense God se gebooie nakom, is dit goed vir hulleself en ook vir die skepping.
Maar as mense so lewe soos hier beskryf, dan treur die hele land, alles wat daarin woon kwyn weg, die wilde diere van die veld, die voëls van die hemel, selfs die visse van die see.
Laat dit ons nie direk aan ons eie land dink nie, gemeente?
Al die wetteloosheid trek ‘n swaar wissel op die mooi natuurskoon van ons land.
Hope gemors orals, riool wat in die strate afloop, besoedelde riviere en oseane, stroop van wild, spesies wat op die rand van uitwissing staan.
En dit alles as gevolg van die mens se selfsugtigheid.
Dis asof die HERE se gebooie totaal in die vergetelheid geraak het.
En dis nie net die volk wat so aangaan nie, ook, skryf Hosea, die priesters en profete.
Die profeet struikel saam.
Met die priester gaan dit soos met die volk.
Hulle maak God se wil nie meer aan die volk bekend nie.
Hulle lees die HERE se wet nie meer op die vasgestelde tye voor nie.
Inteendeel, hulle offer op die bergtoppe aan afgode.
Onder volk en priester het ‘n gees van hoerery posgevat.
Naas gewone ordinêre hoerery word hier ook verwys na die feit dat die priesters die volk verlei het tot valse godsdiens – geestelike hoerery.
Die volk raadpleeg nie meer die HERE nie, maar ‘n stuk hout.
Hosea verwys hier veragtelik na die afgode van hout gemaak.
Die gevolge bly nie uit nie.
Die volk, en so ook die profeet, begin om te struikel.
En nog erger, soos ons teks sê, die volk gaan te gronde.
Nou moet ons vervolgens die vraag vra: Hoekom het die volk ‘n gebrek aan kennis?
Is dit omdat hulle nie toegang tot kennis gehad het nie?
Was daar te min profete om die Woord van die HERE te bring?
Te min priesters om die volk te onderrig?
Was dit in ‘n vreemde taal?
Dit laat my dink, gemeente, aan ongeveer twee dekades gelede, toe ek klas gegee het vir die stigting Middle East Reformed Fellowship, op die eiland Cyprus.
Vir ‘n maand was daar ‘n groep studente uit lande soos Sirië, Libanon, Egipte en Sudan.
Van Maandag en Vrydag het hulle klasgeloop, en op Saterdae kon mens die eiland verken.
Wat my opgeval het, is dat die broeders uit Sudan nie op Saterdae saamgegaan het op die uitstappies nie.
Hulle het die hele Saterdag in die biblioteek deurgebring.
Toe ek hulle vra hoekom, het hulle geantwoord dat hulle nog nooit soveel boeke oor die Bybel gesien het nie, en dat in hulle land – Sudan – daar geen boeke is nie.
Die laaste nag voor hulle terugreis het hulle gedeurnag in die biblioteek.
Tuis kan ons weer slaap, het hulle gesê, tuis het ons nie toegang tot al hierdie boeke nie.
Ek het my geskaam toe ek hulle leeshonger gesien het.
Maar om terug te kom by ons vraag: Het die HERE se volk geen toegang tot sy Woord gehad nie?
Die antwoord is ja en nee.
Ja, daar was genoeg profete en priesters.
En sy Woord was in hulle midde, op skrif gestel, in hulle eie taal.
Maar ook nee, want soos wat die profete en priesters begin afdwaal het, het hulle al hoe minder die Woord verkondig.
Daarom gaan die HERE juis ook van die priesters rekenskap eis (vers 9).
In vers 5 sê die HERE:
“Ek sal jou moeder te gronde laat gaan.”
Die woord moeder verwys na die oorsprong van hierdie afgedwaalde priesters en profete.
Die ouerhuis waaruit hulle afkomstig was.
En dit was die huis van Koning Jerobeam, destyds toe die 10-stammeryk weggebreek het.
Jerobeam het bewus die volk weggelei van die tempel in Jerusalem, en twee goue kalwers in die plek daarvan gebou.
Hy het sy eie priesters aangestel, nie uit die stam van Levi nie.
Nou hierdie priesterorde, sê Hosea, sal God te grond laat gaan.
En dit het inderdaad gebeur, kort daarna toe die ballingskap gekom het.
Want na die ballingskap toe die tempel herbou is, het die priesterorde van Jerobeam nie teruggekeer nie.
Dit het vergoed te gronde gegaan.
En, vertel Jesaja, daar was ‘n direkte verband tussen die ballingskap en die gebrek aan kennis, Jesaja 5:13: “Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis”.
Hierdie priesters was nie hulle sout werd nie.
In ons teks praat die HERE met die hele volk, maar tog spesifiek en in die eerste plek met die priesters.
Hulle was die hoofskuldiges, omdat hulle die volk nie in die weë van die HERE onderrig het nie.
Die HERE se Torah, sy Woord, het vir hulle ‘n toe boek geword.
En so het dit gekom dat die HERE hierdie afvallige priesters verwerp het.
Broeders ampsdraers, lees u nog?
Bekwaam u uself nog in die wil van die HERE?
Toe u bevestig is, het u belowe dat u die Woord van God deeglik sal ondersoek en u sal oefen in die diens van God.
Want dit is noodsaaklik om getroue herders oor die kudde van God te kan wees.
Agter in die kerk staan ‘n rak vol geestelike lektuur.
Maak u gebruik daarvan?
Neem u tydskrifte huis toe om te lees?
As ons as ampsdraers die gemeente by die HERE wil bewaar, sal ons steeds sy wil ywerig moet ondersoek.
Anders begin ons ons eie Godsbeeld aan die gemeente op te dring.
Gee eerstens met u eie voorbeeld aan die gemeente leiding.
En dan kan ons ook met vrymoedigheid en klem die jeug oproep, veral ons seuns en jongmanne, om meer te lees.
As die kennis en liefde en trou in die gemeente ontbreek, is ons as ampsdraers in die eerste plek daarvoor verantwoordelik.
Sien ons daarop toe dat in ons eie huise daar groei is in die kennis en dien van die HERE?
Sien ons daarop toe dat die gemeente trou die eredienste besoek, en die genademiddele trou gebruik?
Woeker ons met die prediking, as ons deur die week dit nogmaals oordink, van die voedingsriglyne gebruik maak, dit op die huisbesoeke gebruik?
Besoek ons die katkisasieklasse en die Bybelstudieverenigings, om ons te vergewis van hoe dit daar gaan?
Hierdie vrae kan ook aan die onderwysers in ons midde gevra word, en so ook aan die ouers.
My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis.
Dit het die HERE vir sy volk gesê deur die mond van Hosea.
Hoe is dit vandag, gemeente?
Moet die HERE dit ook vir sy gemeente sê?
Ons verkeer tans in ‘n amper unieke situasie, wat sover ek weet nog nooit in die geskiedenis voorgekom het nie.
En dit is dat daar aan die een kant ‘n oorvloed aan literatuur is, boeke, tydskrifte, e-boeke, potgooie, artikels, preke en oordenkings op internet is, op skrif of in audio.
Ook is dit so dat die hele gemeente kan lees, al vanaf ‘n vroeë ouderdom.
In die tyd van die Bybel is die skatting dat slegs 10-20% van die bevolking kon lees.
Baie gelowiges was dus afhanklik van iemand anders om vir hulle die Skrif voor te lees.
Ons daarenteen het elkeen ‘n Bybel en kan self daaruit lees.
En voorts word ons as ‘t ware gebombardeer met inligting.
Daar is baie slegte inligting, ja, maar daar is net soveel goeie en opbouende inligting.
Maar aan die ander kant, en dit is die ironie, word daar in ons tyd al hoe minder gelees.
Dit val my op elke jaar as die belydeniskatkisante hulle belydenisdokument opstel, dan is daar ‘n vraag wat hulle gunsteling boek is.
En wat my dan opval is dat veral die seuns nie eintlik ‘n boek het om te noem nie.
Daar word letterlik amper nie meer boeke gelees nie, of dit nou papierboeke of e-boeke is.
Jongmense, en ook baie ouer mense, bestee soms ure per dag op hulle selfone.
Daar word hap-snap beriggies gelees, en selfs dit is aan die afneem.
Want Instagram en TikTok wys eintlik net foto’s en filmpies.
Broers en susters, dit is die rigting waarin die samelewing beweeg.
‘n Samelewing wat nie meer lees nie, wat nie meer in staat is om lank genoeg rustig te kan konsentreer om ‘n artikel of ‘n hoofstuk uit ‘n boek te lees nie.
En in ‘n groot mate beweeg ons saam met hierdie trend.
In die lig hiervan verbaas dit geensins dat die teks se boodskap net so ook op ons van toepassing is nie.
Ook vandag sê die HERE: My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis.
Nou is dit nie so dat hedendaagse mense geen kennis het nie.
Daar word kennis geneem van allerlei nuusitems, byvoorbeeld snaakse dinge wat êrens in die wêreld gebeur, en waarvan daar ‘n filmpie op Instagram, Facebook of Tiktok geplaas word.
Hoe langer hoe gekker, soos mense probeer ‘viral’ gaan.
Ons word volgegiet met sulke nuttelose informasie.
Ons koppe is so vol daarvan, dat ons nie meer kans sien nie om rustig ‘n hele ruk uit die Bybel te lees nie, of uit ‘n ander boek of tydskrif.
Ons ontspanning is deesdae om voor ons groot televisies sit.
Daar vind nie meer iets soos boekvoorlesings in ons gesinne plaas nie, of altans baie min.
Op ons Gereformeerde skole word daar wel baie moeite gedoen om kinders aan die lees te kry, om hulle leesvaardighede en leesspoed te verhoog.
Maar as dieselfde nie in die huisgesinne gebeur nie, staan dit wat die Gereformeerde onderwys doen, op ‘n eiland met weinig langtermyn effek.
Tipies vir ons tyd is ook dat elkeen ‘n mening oor alles het.
Mense dink dat hulle oor alles ingelig is, en indien nie, sal hulle dit gou Google.
Mense kies selektief op internet dit wat hulle mening pas.
Ook dink hulle dat hulle reeds weet wie God is, en het geen verdere behoefte om oor Hom in die Bybel te lees nie.
Nou in Hosea se dae het die volk ook al so ‘n vermetele houding gehad.
Hulle was vinnig om te twis en hulle mening te laat geld (vers 4).
Dit terwyl hulle geen benul meer van die HERE se Woord gehad het nie, het hulle tog geroep – My God, ons ken U! – Hosea 8:2.
God is egter nie daarvan onder die indruk nie.
Die Here Jesus sê oor sulke mense: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is.” (Matt 7:21)
Laat ons nie te gou regstaan met ons mening nie.
Wie oor die HERE iets durf te sê, moet goed weet wat in sy Woord staan.
Wie tydens vereniging ‘n mening het, moet in staat wees om dit na die Skrif terug te herlei.
En wie oor die Here ‘n preek maak, moet eers diep grawe in sy Woord.
Wie toegelaat wil word tot die bediening van die Woord, moet eers ‘n grondige teologiese studie gevolg het.
Ons teks is al dikwels gebruik om kerklidmate op te roep om meer te studeer in God se Woord, om Bybelstudies by te woon, om die kerkgeskiedenis nie te verontagsaam nie, en tereg.
Hierdie kennis is egter nie net ‘n intellektuele kennis nie.
Dit is baie duidelik in vers 1: Trou en liefde en kennis is onlosmaaklik aan mekaar verbonde.
Kennis van die HERE lei tot liefde vir Hom.
En liefde vir Hom bring die verlange om steeds meer oor Hom te weet.
En die vrug van kennis en liefde is lewenslange trou aan die HERE.
Kennis, liefde en trou, drie woorde wat onlosmaaklik verbonde is.
Soos die tema sê: Die HERE roep op tot kennis van sy Woord, sodat liefde en trou sal bloei.
Die volk Israel was baie bevoorreg.
Deur Hosea het die HERE direk met hulle gepraat.
Net so is ons baie bevoorreg, selfs nog meer.
Want vir ons het God sy eie Seun gestuur.
Hy is ons hoogste Profeet en Leraar.
Sedert sy prediking op aarde kan niemand meer sê: Ek ken nie die Vader nie.
Hy het die Vader aan ons geopenbaar.
En wie die woorde van die Here Jesus indrink, sal onder die indruk kom van die Vader se liefde en trou.
En op sy beurt lei kennis van die HERE ook tot liefde vir Hom en trou aan Hom van ons kant.
Christus het nie aan ons filosofiese kennis oor ‘n God ver weg oorgedra nie.
Hy het ‘n God geopenbaar wat vir ons ‘n hemelse Vader is, wat die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eie geliefde Seun opgeoffer het.
Deur Christus het ons direkte toegang tot Hom.
Sy Evangelie gee vir ons kennis wat saligmakend is.
Sonder die kennis van sy Evangelie wag vir ‘n mens die ewige dood.
Laat ons daarom aangespoor wees, juis ook deur ons teks, om opnuut die jeug te onderrrig en te laat onderrig.
Moenie die risiko loop, omdat jy die wet van jou God vergeet het, dat God jou kinders gaan vergeet nie – vers 6.
Laat jouself daarom eers onderrig deur Christus se Woord en Gees.
Maak gebruik van die oorvloed aan materiaal.
Moenie veragter in die genade deur die gemorspos van die wêreld te verkies bo leesstof wat ewigheidswaarde het nie.
As jy vol is van die kennis van die HERE, as dit lei tot liefde en trou in jou lewe, sal jou kinders ook daardeur aangesteek word.
Dit is God se belofte in die verbond.
Hy sal sorg dat hulle aangesteek word deur jou liefde vir die Here en sy kerk, jou trou aan Hom en sy kerk, jou honger na sy Woord.
En so sal hulle opgroei en ook steeds meer self groei in liefde en trou en kennis van sy Woord.
En ons brandende begeerte en gebed is dat eendag die hele aarde vol sal wees, soos die profeet Jesaja dit so mooi stel, vol sal wees met die kennis van die HERE, soos die waters die seebodem oordenk (Jes 11:9; sien ook Hab 2:14).
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Hosea 4
Teks: Hosea 4:1-6
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Watter drie begrippe in Hosea 4:1 is nou aan mekaar verbonde?
- Hoekom is die gebooie van die HERE op groot skaal oortree tydens Hosea se dae?
- Wat was die verband tussen gebrek aan kennis en die ballingskap?
- Wat is geestelike hoerery?
- Hoe vergelyk die tyd wat jy bestee aan die lees van opbouende literatuur, met die ‘skermtyd’ wat in beslag geneem word deur ander dinge?
- Wat is jou gunsteling boek?
Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 147:2,7
Wet
Ps 14:4-7
Gebed
Skriflesing: Hosea 4
Ps 119:22,37,62
Teks: Hosea 4:1-6
Preek
Sb 33:1-3
Gebed
Kollekte
Sb 43:2,4,5
Seën