Preek: Efesiërs 6:1-4
Die brief aan die Efesiërs begin met die Evangelie van genade.
‘n Genade wat ons oneindig goeie hemelse Vader al van ewigheid af voorberei het.
In die eerste hoofstukke van die brief kan Paulus nie uitgeskryf raak oor die rykdom van die genade in Jesus Christus nie.
Dit is die fondament onder die nuwe lewe van elke gelowige in Efese.
Dit is ook die fondament onder die kerk wat in Efese geplant is, en ook al die ander kerke in Klein-Asië.
Die liefde wat die Vader in Christus bewys het, maak die eenheid in die geloof moontlik.
Dit, gemeente, is die basiese struktuur van die Efesebrief.
Eers die gawe in Christus, dan die opdrag van Christus.
Hierdie basiese struktuur is gelyk aan die verbondsstruktuur:
Eers die belofte, dan die eis.
Hierdie basiese struktuur, hierdie volgorde, moet ons ook vashou as ons vandag na ons teks gaan kyk.
Die oproep tot die kinders om gehoorsaam te wees staan nooit los van die gawe nie.
Christus het ‘n kosbare fondament gelê, en nou mag die gelowiges, ouers en kinders, bemagtig deur die Gees, hierop bou.
Dit is die tweede deel van die Efesebrief.
In die tweede deel skenk Paulus aandag aan die heiligmaking.
‘n Nuwe lewe teenoor die bedorwe lewenswyse van die heidene.
Die samelewing in Efese was totaal vervreemd van die ware God, en dit het ‘n groot impak gehad, juis op die verbande tussen mense.
Huwelike was nie wat dit behoort te gewees nie.
Die verhouding tussen ouers en kinders was stukkend.
Kinders het ervaar hoe ouers hulle verwaarloos, hulle uitbuit, hulle selfs molesteer.
En ouers moes met die pyn lewe van kinders wat hulle in die skande steek.
Ook die arbeidsverhoudinge was versteur – base het hulle werkers uitgebuit, en diensknegte was nooit tevrede en het die minimum probeer doen.
Maar nou het die Evangelie in Efese aangekom!
En die transformasie wat die Evangelie bring het ‘n impak op elke terrein van die lewe.
Dit maak ons lewe skoon en mooi, ook ons saamlewe.
En dan begin Paulus met die mees basiese samelewingsvorme wat ons het: die huwelik, die huisgesin, en ook die werkplek.
Die Evangelie van genade vernuwe elkeen van hierdie verbande, ja maak dit mooi.
Tema: Die geskenk van nuwe lewe in Christus vir kinders en ouers
1 Die oproep aan die kinders
2 Die oproep aan die ouers
1 Die oproep aan die kinders
Die jaartema, onderrig en laat onderrig, is ook vandag weer aan die orde, en ons teks het alles daarmee te make.
Ons teks skets een van die voorwaardes vir ‘n suksesvolle opvoeding.
In hierdie hoofstuk vind ons meer as een keer die woord gehoorsaam terug.
Verder is daar ook sinonieme vir die woord gehoorsaam.
Dink aan die woord onderdanig (vers 22), of die woord eerbiedig (vers 33).
Paulus spreek in opdrag van die Here verskillende verhoudings in die samelewing aan.
En die rooi draad van sy onderrig is dat daar ‘n gesagsverhouding moet wees.
Hierdie gesagsverhouding is nie daar omdat die ouers sterker as die kinders is nie, maar omdat die Here hierdie gesagsverhouding ingestel het.
Opvallend hoe ons teks dit verwoord:
Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here.
Jou ouers gehoorsaam wees, dit is hoe jy die Here dien.
Die gesin is die primêre leerskool vir die geloof.
Kinders gehoorsaam hulle hemelse Vader, wat hulle nie sien nie, juis deur aan hulle ouers, wat hulle wel kan sien, gehoorsaam te wees.
Tussen hakies, gemeente, Paulus spreek hier in opdrag van die Gees die kinders direk aan.
Ons moet onthou dat Paulus se briewe bedoel was om in die gemeentes voor te lees.
So as Paulus hier die kinders direk aanspreek, beteken dit dat die kinders ook in die erediens aanwesig was.
Net so klink dieselfde oproep vandag aan die kinders wat vandag hier in die kerk sit.
Ja kinders hoort ook in die kerk, vanaf ‘n jong ouderdom.
Hier spreek die Here hulle direk aan.
En die oproep wat uit ons teks dan tot julle kom, kinders, jongmense, is die volgende:
Julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here.
Hoekom staan daar spesifiek: in die Here?
Dit beteken dat jy die Here dien as jy na jou ouers luister.
En dan nie met teësin, onwillig of net omdat jy bang vir straf is nie.
Maar dit is uit liefde vir jou ouers.
Jou optrede teenoor jou ouers staan nie los van jou diens aan die Here nie, dit is volledig deel daarvan.
Meer nog, die diens aan die Here begin vir ‘n verbondskind by die luister na sy pa en ma.
‘n Klein kind het nie ‘n ware geloof in die sin dat hy vir jou kan verduidelik wat die Bybel oor die Drieëenheid of oor uitverkiesing leer nie.
‘n Klein kind se ware geloof word gedefinieer in terme van die feit dat hy na sy pa en ma luister.
En hierin het ouers so ‘n wesenlike rol, want om hulle kinders gehoorsaamheid te leer, daarmee help hulle hulle kind om te begin om te glo, om ‘n gelowige lewe te lei.
Hierdie ouerrol kom van God af.
Hy leen sy kind aan jou, en aan jou as ouer gee Hy vir jou ‘n enorme taak.
Ja mag die pa wees van jou kind.
Jy mag die ma wees van jou kind.
Jy moet ook hulle pa of ma wees.
Want jy is nie jou kind se vriend nie.
‘n Ouer wat probeer om sy kind se beste vriend te wees, doen die kind nie ‘n guns nie, inteendeel.
Die ouer-kind verhouding is ‘n gesagsverhouding, dit is, soos dit professioneel genoem word, ‘n a-simmetriese verhouding.
By ‘n vriendskap is daar nie van gesag sprake nie.
Elke kind het ‘n pa en ‘n ma nodig.
Wie sy kind se vriend probeer wees, beroof sy kind van ‘n pa- of ‘n ma-figuur.
Ons leef in ‘n gesagslose tyd.
Dit is in vele opsigte die dryfveer van die samelewing.
Gesagstrukture moet opgehef word, dit is outyds.
Ons jy en jou ieder en elk, of dit ‘n kind sy ouers is, of ‘n leerder sy onderwyser, of ‘n burger die president.
Mense wil op dieselfde vlak wees as die wat bo-oor hulle aangestel is.
Bevele word nie meer voetstoots opgevolg nie.
Elke bevel moet oop wees vir diskussie.
Bevele moet plek maak vir afsprake.
Die een wat die bevel ontvang, mag ook ‘n mening hê.
En kinders weet dat hulle wegkom daarmee.
As ouers ‘n opdrag gee, dat hulle kan sê hulle is nie lus nie, of hulle het nie tyd nie, of boetie of sussie het baie minder gedoen as hulle.
Teëpratery ondermyn die gesagstruktuur.
Daarenteen is gesinne geseënd waar kinders direk doen wat die ouers beveel.
Dit is gesinne waar daar vreugde heers, waar daar nie die hele tyd gekibbel is nie.
En so ‘n atmosfeer is ook goed vir die kinders.
Daar is min gebooie waar die positiewe resultaat so vinnig duidelik word.
Paulus skryf dat die vierde gebod Eer jou vader en jou moeder die eerste gebod is met ‘n belofte.
Waar kinders hulle ouers gehoorsaam, verander dinge onmiddelik ten goede.
Dit lei selfs tot ‘n lang lewe op aarde.
‘n Kind wat brutaal is teen sy ouers, wat sy eie gang gaan, so ‘n kind kom nêrens in die lewe nie.
Hy doen nie sy skoolwerk nie, hy doen net waarvoor hy lus is.
En later is sy punte so sleg dat hy nie kan gaan studeer nie.
En ook is daar niemand wat so ‘n brutale persoon in diens wil neem nie.
So ‘n kind word ‘n oorlas vir sy ouers en later vir die samelewing.
As hy grootgeword het, begin hy parasiteer op sy ouers.
Of hy verlaat die huis vroeg, en raak betrokke in dubieuse praktyke.
En so is die kans groot dat sy lewe ontydig kortgeknip sal word.
Dit is, heel konkreet, wat die vyfde gebod bedoel.
Maar hy wat sy vader en moeder eer, sal lank mag lewe op aarde.
Dit sal met hom goed gaan, en sy ouers sal die vrugte pluk van hulle opvoeding, al was dit streng.
As hulle oud geword het, sal hulle kinders vir hulle sorg.
Dis belangrik om notisie te neem van die woord wat in die vyfde gebod gebruik word: eer.
Om jou ouers te eer, is meer as om hulle net slaafsgewys te gehoorsaam.
Dit beteken dat jy van jou kant hulle gesagsposisie respekteer, nie net omdat hulle sterker as jy is, nie net omdat jy van hulle afhanklik is vir sakgeld of klere nie, maar omdat jy dit graag wil.
Daar staan ook in die Bybel dat ons die Here moet eer.
Die Here eer, of prys – ‘n sinoniem – beteken dat jy Hom verhoog, dat jy die hoë posisie wat Hy het, erken.
Dat jy dankbaar is dat Hy jou Here is, dit wil sê, die Een wat jou lewe bepaal.
So mag ons ook ons ouers eer.
Julle kinders kan ‘n pragtige voorbeeld vind om na te volg in die Here Jesus self, toe Hy ‘n kind op aarde was.
In Lukas 2:51 lees ons dat Hy aan sy ouers onderdanig was.
En hoewel Hy toe, al was Hy nog maar net 12 jaar oud, alreeds baie slimmer as sy ouers was, was Hy tog aan hulle onderdanig.
Kinders, jongmense, daar kom ‘n tyd dat julle slimmer sal word as julle ouers – op sommige gebiede altans.
Daar kom ‘n tyd dat julle julle ouers sal moet help, bv. met hulle rekenaar of selfoon, of dalk met ander dinge.
Maar dit neem nie weg dat jy hulle steeds moet respekteer nie.
En laat dit dan ‘n respek uit liefde wees.
Ja dit begin by liefde.
As jy jou ouers liefhet, sal jy graag na hulle wil luister.
(Tema: Die geskenk van nuwe lewe in Christus vir kinders en ouers
1 Die oproep aan die kinders)
2 Die oproep aan die ouers
Nou het ons teks nie net ‘n opdrag vir die onderdaan nie, maar ook vir die gesagsdraer.
Dit is ‘n patroon wat ons reg deur hierdie gedeelte vind.
Vers 22 – die vroue word opgeroep om onderdanig aan hulle mans te wees.
Maar die mans word opgeroep om hulle vroue lief te hê, vers 25.
En ook na ons teks, vers 5, word nie net die diensknegte opgeroep om aan hulle here, hulle base, gehoorsaam te wees nie, maar die base word ook opgeroep om die dreigemente te laat staan.
En in lyn hiermee vind ons in die teks ook ‘n oproep aan die ouers, spesifiek die vaders, synde die hoof van die huisgesin, vers 4:
“Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie ...”
Wat word hiermee bedoel?
In die 2020-Bybelvertaling word vertaal: “Moenie julle kinders uittart nie.”
Aan die Kolossense skryf Paulus iets soortgelyks:
“Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.” (Kol 3:21)
Nou al is dit ’n feit dat kinders met hulle ouers se gebreke geduld moet hê, en skoolkinders met hulle onderwysers se gebreke, en burgers met die owerheid se gebreke – dink aan hoe die Kategismus die 5e gebod uitlê; tog mag ouers hulle gesagsposisie nie aspris misbruik nie.
Daar is ouers, daar is gesagsdraers, wat ‘n natuurlike oorwig het, maar daar is ook hulle wat dit nie het nie.
Beide moet gehoorsaam word.
Maar die punt wat Paulus hier maak is dat ouers en ander gesagsdraers nie met opset onredelik mag wees, hulle kinders treiter nie.
Ouers moet die gesagsposisie wat hulle ontvang het, eer aandoen.
Dit doen hulle nie as hulle dinge van hulle kinders verwag, maar self nie die goeie voorbeeld gee nie.
Natuurlik is dit so dat ouers soms vasgevang is in verkeerde gewoontes, byvoorbeeld verslawings.
Ook dan het ouers die gesag om hulle kinders op te roep om nie daarin te volg nie.
Maar ouers moet wel hulle foute kan toegee, ook na hulle kinders toe.
As ouers, of onderwysers, dit nie doen nie, dan raak hulle hipokriet, en kinders kom dit gou agter.
Ook mag ouers nie met opset onredelik wees nie.
Gesagsdraers mag nie hulle kinders gebruik net vir hulle eie gemak nie.
Ouers moet hulle kinders opvoed, so sê ons teks (vers 4), in die tug en vermaning van die Here.
Kinders is aan die ouers geleen, maar hulle behoort aan die Here.
Ouers ontvang die taak van die Here om hulle kinders op te voed, nie soos hulle dit verkies nie, maar soos die Here dit wil hê, soos die teks sê: die tug en vermaning van die Here.
Hierdie twee woorde – tug en vermaning – het nie net ’n negatiewe kant nie.
Die oorspronklike woorde in Griekse het ’n positiewe spits: waarskuwing en straf en dissipline is juis onderdeel van die positiewe onderrig en instruksie.
Beide hierdie twee woorde het as doel om die kinders te onderrig in die Woord, wat die Here wil, en om hulle daarby te bewaar.
Ouerskap het nie as doel om ’n kind as eindproduk af te lewer wat aan hulle ideale voldoen nie.
Pa wil dat sy kind ’n professionele rugbyspeler moet word, en hy druk sy kind die hele tyd in daardie rigting.
Ma wil hê dat haar dogter gaan medies swot, en alles word aan hierdie ideaal opgeoffer.
So ’n tipe opvoeding is nie ’n opvoeding in die Here nie.
Ouers mag nie onredelik wees nie, maar het die Godgegewe taak gekry om hulle kind te leer raaksien wat God met sy of haar lewe wil doen.
Elke kind is uniek.
As ’n ouer nie sensitief is vir die unieke karakter of talente van sy kind nie, as ’n ouer geen ruimte laat vir die inbreng van sy kind nie, dan kan ’n kind moedeloos raak, dan kan daar ’n innerlike verset begin groei.
’n Ouer wat van ’n kind ’n produk wil maak na sy wense, sal sy kind vertoorn, soos die teks sê, of nog erger, die kind laat voel dat hy ’n mislukking is, as hy nie aan die eise van sy ouers voldoen nie.
Gemeente, as mens dit alles so hoor, kan mens as ouer wanhopig raak.
Wie kan ooit ’n volmaakte ouer wees?
Kinders dink soms dit is lekker om ’n pa of ma te wees.
Kinders wil graag groot word, want as jy groot is, dan kan jy doen net wat jy wil.
Pa mag kar bestuur, hulle mag nog nie.
Ma mag winkel toe gaan en mooi dinge koop, hulle mag nog nie.
Pa en Ma mag besluit wat hulle wil doen, die kinders mag nog nie.
Vir ’n kind lyk dit lekker om groot te wees.
Maar ja, ouers weet dat dit eintlik andersom is.
Hoe graag sou ouers die wêreld nie weer deur die oë van ’n kind wil sien nie!
’n Kind het geen verantwoordelikhede nie.
’n Kind hoef nie bekommerd te wees oor so baie dinge nie.
’n Kind kan gewoon by die dag lewe.
Ja die 5e gebod – en dit maak die tweede gedeelte van die teks duidelik – hou ook ’n baie groot, ja swaar opdrag vir die ouers in.
Al besef kinders dit nie, die ouers se gesagsposisie is juis ’n dienende taak.
Dit is nie heers oor die wat onder jou gestel is tot jou eie voordeel nie.
Elkeen van ons wil ’n volmaakte ouer wees, juis omdat ons so baie van ons kinders hou.
Maar hoe dikwels faal ons nie daarin nie, en die meeste van die kere besef die kinders dit dalk nie eers nie.
Tog mag ons hier ook, ouers, juis getroos word vanuit die basiese struktuur van die Efesebrief – waarmee ons die preek begin het.
Ons mag lewe uit die genade van ons Here Jesus Christus.
Dit is die fondament onder ons lewe.
Hy het die liefde van die hemelse Vader aan ons geopenbaar.
In vertroue op Hom mag ons hierdie groot taak ter hand neem.
So lief as wat ons vir ons kinders is, nog soveel meer is sy liefde vir ons, sy kinders.
As ons as aardse ouers net die beste vir ons kinders soek, hoeveel te meer nie ons hemelse Vader vir ons, sy kinders nie.
“... watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee ...? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” – Mattheüs 7:9-11.
As ons ons kinders ons hele lewe lank nie sal verstoot nie, hoeveel te meer nie ons hemelse Vader nie!
Weet daarom, as jy swak is, verwag dit van Hom, en Hy sal jou te hulp kom.
As jy faal, gaan na Hom, en Hy sal jou weer nuwe moed en krag gee vir jou opvoedingstaak op aarde.
Hierdie onvoorwaardelike liefde wat ons van God ontvang, dit mag, dit moet ons ook aan ons kinders deurgee.
As Hy bereid is om 70 x 7 keer te vergewe, laat ons ook bereid wees om ons kinders so te vergewe.
So klink daar in die vyfde gebod ook ‘n oproep na die ouers, die gesagsdraers toe.
En beide ouers en kinders mag uit dankbaarheid die vyfde gebod nakom, en so steeds meer die nuwe lewe ervaar, ook al hier in ‘n gebroke wêreld, die nuwe lewe wat Jesus Christus ons skenk.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Efesiërs 5:1-6:9
Teks: Efesiërs 6:1-4
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Wat is die basiese struktuur van die Efesiërsbrief?
- Wat leer hierdie basiese struktuur vir ouers wat betref hulle opvoedingstaak?
- Hoekom moet kinders hulle ouers gehoorsaam?
- Wat kan ons aflei uit die feit dat Paulus die kinders in Efesiërs 6:1 direk aanspreek?
- Wat hou die belofte in wat ook in die vyfde gebod staan?
- Moet ‘n ouer daarna streef om sy kind se vriend te wees?
Votum
Seën
Ps 112:1,2,6
Wet
Ps 34:5,6
Gebed
Skriflesing: Efesiërs 5:1-6:9
Ps 25:6,7
Teks: Efesiërs 6:1-4
Preek
Sb 24:2,3
Gebed
Kollekte
Ps 103:7,9
Seën