Wat het Paulus en Barnabas met Eskom te make? En wat die kerk in Suid-Afrika daaruit kan leer...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-08-07
Teks: 
Handelinge 13:47
Preek Inhoud: 

Seuns en dogters,

Die meeste van julle het teen dié tyd al gewoond geraak aan beurtkrag (‘loadshedding’), nie waar nie? Ons weet al presies wanneer dit gaan kom – die regering het ‘n mooi skeduletjie vir ons uitgewerk om ons te help. En almal van ons het waarskynlik al iets in plek om die duisternis te verdryf – jou pa het dalk ‘n kragopwekker of sonpanele of ‘n battery geïnstalleer, of die kerse en flitse lê op ‘n vaste plek in die huis, gereed om aan te gaan wanneer die krag afgaan. En intussen is Eskom die frustrasie en grap van baie Suid-Afrikaners. Dekades se gebrek aan onderhoud, onkundigheid, wanbestuur en korrupsie het gemaak dat die één onderneming wat die ligte in Suid-Afrika moet laat skyn, dit al te dikwels nie kan doen nie.

Nou, ons kan allerhande grappies oor Eskom maak (dis mos wat ons Suid-Afrikaners doen as iets in ons land skeefloop – dit help om die spanning te verlig), maar ek wil hê dat ons vandag ‘n bietjie ernstiger na Eskom sal kyk. Want vertoon die kerk in Suid-Afrika nie dikwels Eskom-agtige trekke nie? Is die kerk, die een ‘onderneming’ wat veronderstel is om dié Lig in Suid-Afrika te laat skyn, nie dikwels mede-skuldig aan die donkerheid in ons land nie? En die redes waarom Eskom so dikwels nie die ligte kan laat skyn nie – wanbestuur, onkundigheid, gebrek aan brandstof, swak onderhoud, die onlangse stakings deur werknemers – is dit nie op ‘n dieper, geestelike vlak presies dieselfde redes waarom die kerk so dikwels nie die lig kan laat skyn nie? Is jy nie ook soms bekommerd dat die Here eendag vir ons gaan sê nie: “Julle het oor Eskom gekla, maar julle het self Eskom geword...”? Daarom is dit goed om vandag – en ons doen dit saam met die broers en susters by die gemeentekamp – te luister na die woorde van Paulus en Barnabas: “die Here het ons bevel gegee: Ek het u ‘n lig van die nasies gemaak...”

Tema: wat het Paulus en Barnabas met Eskom te make? En wat die kerk in Suid-Afrika daaruit kan leer...

 

Wel, ‘n baie eenvoudige antwoord op hierdie vraag is natuurlik: Eskom moet die lig verskaf in ons land, en Paulus en Barnabas maak in ons teks daarop aanspraak dat hulle tot ‘n lig van die nasies gemaak is. Maar ons teks is tog meer kompleks as dit, en daarom gaan ons ‘n bietjie dieper moet delf.

Paulus en Barnabas is op hulle eerste sendingsreis. Nog nie lank gelede nie het die Heilige Gees aan die leiers van die gemeente die opdrag gegee om hierdie twee broeders af te sonder en uit te stuur om die evangelie aan die heidene te gaan verkondig (u kan dit lees in Hand. 13:1-3). Dis ‘n belangrike oomblik in die program van die boek Handelinge, die program wat Jesus aan sy dissipels bekend gemaak het in Handelinge 1:8: “julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en Samaria, en tot aan die uiterste van die aarde.” Sien u, konsentriese sirkels wat al hoe wyer uitkring. En hier, in Handelinge 13, word amptelik die laaste grens oorgesteek – die grens na die uiterste van die aarde, die grens na die nasies! Maar die evangelie vir die nasies beteken nie dat dit ten koste van die Jode moes gebeur nie – nee, “eers vir die Jood, en ook vir die Griek”, so skryf Paulus self in sy brief aan die Romeine (Rom. 1:16, 2:10). Daarom het Paulus en Barnabas in elke stad waar hulle gekom het, eers na die sinagoge gegaan – eers na die Jode. Dit doen hulle ook wanneer hulle in hoofstuk 13:14 in Antiochië kom. Hulle gaan eers na die sinagoge, en daar preek Paulus op die sabbatdag (Hand. 13:15-41). Maar aan die einde van die diens, wanneer Paulus uit die sinagoge uitgaan, vra die heidene dat Paulus vir hulle ook sal preek (vers 42). En dis presies wat die volgende sabbat gebeur – die hele stad kom bymekaar om die woord van God te hoor. Maar die Jode is baie ongelukkig hieroor – hulle is jaloers wanneer hulle sien hoeveel mense gekom het om na Paulus en Barnabas te luister, en hulle doen alles in hulle vermoë om die preek te onderbreek. En dit is dan dat Paulus die oorgang van die Jode na die heidene eksplisiet maak: “Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie – kyk, ons wend ons tot die heidene” (vers 46). En dan kom ons teks: “Want...” Dus, Paulus gee hier die begronding vir die feit dat hulle nou ook na die heidene gaan. “Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.”

 

Nou, Paulus noem dit ‘n ‘bevel’ (“so het die Here aan ons bevel gegee...”), maar in werklikheid haal hy aan uit die profesie van Jesaja. Om presies te wees, uit Jesaja 49:6. Kom ons blaai gou na die profesie van Jesaja, dan lees ons dit saam [lees Jes. 49:1-7]. U sien vers 6: “Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies...” Dis nie die eerste keer dat hierdie woorde in Jesaja voorkom nie. Kom ons blaai gou terug na Jesaja 42 [lees Jes. 42:1-7]. U sien vers 6: “en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies”. Nou is dit belangrik, broers en susters, om te verstaan dat sowel Jesaja 42 as Jesaja 49 deel is van die bekende profesieë oor die sogenaamde “Kneg van die HERE” (Jes. 42:1-7, 49:1-7, 50:4-11, 52:13-53:12). Dus, dit is spesifiek die kneg van die Here wat aangestel word as ‘n lig van die nasies. Maar wie is hierdie kneg presies?

Wel, as ons net vanaf Jesaja 42 teruggaan na Jesaja 41:8, dan lees ons daar: “Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend...” En ons sien dieselfde in Jesaja 49:3: “Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.” Dit gaan hier dus heel eerste (nie net nie, maar heel eerste) oor Israel. Israel is die kneg van die Here. Israel, die nageslag van Abraham, is die volk wat die Here uitverkies het om ‘n lig van die nasies te wees. En hoe moes Israel dit wees? Dalk kan nog ‘n gedeelte uit Jesaja ons help – Jesaja 51:4, waar die Here sê: “Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want ‘n wet sal van My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as ‘n lig van die volke.” God se reg, sy wet, sy gesonde leefreëls – dit was die lig! En die volk Israel moes daardie lig uitstraal deur gehoorsaam en met liefde volgens God se wet te leef. En dis presies hoe Israel haar eie rol verstaan het – sy het geweet dat sy hierdie posisie van die Here gekry het om ‘n lig van die nasies te wees deur die wet na te leef. Luister maar na wat Paulus in Romeine 2:17-20 sê; hy voer in hierdie verse ‘n dialoog met ‘n Jood, en in hierdie dialoog sê hy: “Kyk, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God, en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word, en jy is oortuig dat jy ‘n leidsman is van blindes, ‘n lig vir die wat in duisternis is, ‘n opvoeder van onverstandiges, ‘n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en waarheid in die wet het...” So het die volk Israel haar eie rol verstaan: sy moes die Here se lig laat skyn aan die omringende nasies, aan die nasies (die heidene) wat sonder kennis van die wet gelewe het, deur vanuit die kennis en waarheid van die wet te lewe.

 

Maar helaas... die kneg wat gestel is tot ‘n lig van die nasies, het nie sy taak nagekom nie. Israel, die lig, het dof geword – sodanig dat ons in Jesaja 9 moet lees dat die volk in duisternis wandel, en woon in die land van die doodskaduwee (Jes. 9:1). Maar, só sê dieselfde vers, hierdie volk-in-duisternis het ‘n lig gesien, oor hulle het ‘n lig geskyn! Skielik is die volk Israel nie meer die lig nie, maar kom die lig êrens anders vandaan: “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke, maar oor jou sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word (Jes. 60:1-2). En as ons dan weer die Kneg-profesieë lees, dan sien ons ‘n ander figuur te voorskyn kom. Nie die volk nie, maar ‘n individu – iemand wat nie dof sal brand nie (Jes. 42:4), iemand wat werklik ‘n lig van die nasies sal wees (Jes. 42:6, 49:6). En die bejaarde Simeon wys in Lukas 2 vir ons wie dit is, wanneer hy die Kindjie in sy arms neem en sê: “my oë het u heil gesien, wat U berei het voor die oë van al die volke – ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel!” Daardie Kindjie, ons Here Jesus Christus, Hy is die lig van die nasies! So begin Johannes ook sy evangelie: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (Joh. 1:4 en 9). En so noem Jesus Homself in Johannes 8:12: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Jesus skyn nie net die lig nie, Hy is die lig – in Hom is God se redding sigbaar vir alle mense wat in duisternis lewe. En daarom roep Jesus in Johannes 12:36 almal op om in die lig te glo, sodat hulle kinders van die lig kan word.

 

En dit is teen hierdie agtergrond, gemeente, dat ons Paulus se woorde in ons teks moet verstaan. Dit is woorde uit Jesaja 49:6 wat aanvanklik van toepassing was op die volk Israel, maar wat deur Israel se mislukking vervul is in Jesus Christus. En hierdie woorde eien Paulus en Barnabas hulleself toe as hulle opdrag; hulle pas die Skrifte op hulleself toe. En hulle doen dit op ‘n baie opmerklike manier. Hulle sê in ons teks: “Want so het die Here aan ons bevel gegee” – nêrens lees ons van so ‘n bevel nie, maar uit Jesaja se profesie oor die Kneg wat die lig van die nasies sal wees, daaruit lei Paulus en Barnabas af: ons het ‘n taak om hierdie lig te verkondig! En van daardie taak getuig Paulus later in Handelinge 26 teenoor Festus dat hy aan klein en groot getuig dat die Christus moes ly en die eerste uit die opstanding van die dode moes wees, en dat (Paulus) hierdie lig aan die volk en die heidene moes verkondig (Hand. 26:22-23). En dan moet ons mooi verstaan: Paulus het nie hierdie taak omdat hy in die eerste plek ‘n apostel is nie (hoewel dít natuurlik ook!), maar hy het hierdie taak omdat hy weet dat hy deel is van die nuwe Israel, die nuwe volk van God wat bestaan uit Jode en heidene. As deel van daardie volk aanvaar Paulus dat dit sy taak is, net soos wat dit oorspronklik Israel van die Ou Testament se taak was, om die lig aan die nasies te laat skyn.

En so moet dit wees vir elkeen wat deur geloof in die lig van die wêreld deel is van die nuwe Israel, die kerk. Elkeen wat in Jesus Christus glo, mag saam met Paulus sê: “So het die Here ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” En dit is presies waartoe Jesus self ons ook oproep in sy bergrede, Mattheus 5:14-15: “Julle is die lig van die wêreld!” Nee, ons word nie self die lig nie – immers, onmiddellik daarna verduidelik Jesus wat Hy bedoel: “’n stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.” Ons is nie deur onsself die lig nie – nee, daar is Iemand anders wat ons hierdie hoë posisie gegee het! Soos ‘n stad op ‘n berg (wat so gebou is dat dit van ver af gesien kan word), en soos ‘n lamp op ‘n staander (wat so geplaas word dat dit oor almal in die huis straal), so is ons nie vanuit onsself die lig nie, maar is ons só in hierdie wêreld geplaas dat ons die lig van God se goedheid oral in hierdie wêreld kan uitstraal. Ons hoef nie die lig te wees nie, maar ons mag die lig uitstraal. En daarom sluit Jesus af in vers 16: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

-------------------------

Gemeente, ons het ‘n lang draai gemaak om tot hier te kom. ‘n Lang draai om te wys dat dit oorspronklik Israel, God se volk, was wat sy lig moes laat skyn deur volgens sy wet en sy reg te lewe; dat Israel deur die geskiedenis heen in hierdie taak gefaal het; dat dit uiteindelik Jesus Christus was wat gekom het om hierdie taak te kom vervul, en dat ons (as deel van die nuwe Israel) nou weer die voorreg het om die lig te laat skyn. Maar hoe doen ons dit? Wat hou hierdie opdrag in?

Wel, om maar te begin waar ons sopas geëindig het (Mt. 5:16) – dit hou eerstens in dat mense ons goeie werke kan sien en God kan verheerlik. Dit is ook wat ons by die Kneg sien in Jesaja 42: “Hy sal die reg na die nasies uitbring (vers 1) – en dit doen Hy nie deur te skreeu of uit te roep of sy stem op die straat te laat hoor nie (vers 2). Nee, Hy doen dit in liefde en met deernis: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit sal Hy nie uitblus nie” (vers 3). Hy kom om blinde oë te open, om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit (vers 7). Gemeente, wanneer Jesus Christus uiteindelik die skape van die bokke gaan skei (Mt. 25), dan is dít deel van die kriteria waarvolgens Hy skeiding maak: “Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom” (Mt. 25:35-36). En “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Mt. 25:40). Daar begin dit, broers en susters. God se reg word hier op aarde gevestig wanneer ons omsien na ons naaste. Met liefde en deernis: ons breek nie die geknakte riet nie en ons blus die dowwe lamppit nie uit, maar ons is daar vir die gebrokenes van hierdie samelewing. Ons sien om na die siekes, ons klee die naaktes, ons besoek die gevangenes, ons gee kos vir diegene wat honger is en ons gee te drinke vir die wat dors is. En ons weet almal hoe futiel dit voel in ‘n samelewing wat oorvloei van sulke mense – waar begin jy? Jy begin eenvoudig met die persoon wat die Here op jou pad plaas: die persoon wat by jou hek kom, die persoon wat jy by die winkel teëkom. Nie altyd maklik nie, ek weet. Maar ons glo nie in toeval nie – iemand is nie toevallig daar waar jy ook loop nie, hy is nie maar net ‘n hindernis vir jou wat haastig is nie. Nee, God het hom of haar daar geplaas. Sien dit raak. Moet hom of haar nie net afjak nie – moenie die geknakte riet breek of die dowwe lamppit uitblus nie. Soek na maniere om God se reg hier op aarde te vestig deur sulke mense liefdevol te versorg. “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

En dan die tweede manier, wat met die eerste saamgaan – dit is eenvoudig om, soos Paulus en Barnabas, die evangelie te verkondig. Ook dít sien ons by die Kneg van die Here in Jesaja 49: “Hy het my mond gemaak soos ‘n skerp swaard, ... Hy het my ‘n skerp pyl gemaak..., en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik” (verse 2-3). Die Here berei ook ons monde voor om soos ‘n skerp swaard en pyl die regte woord op die regte tyd te spreek, en om  met daardie woord deur te dring tot die harte van mense. Om vir hulle die lig van die evangelie te laat skyn, en so God te verheerlik. Nee, ons word nie almal geroep om sendelinge in die tradisionele sin van die woord te wees nie; ons word nie almal geroep om straat-evangelisasie te gaan doen nie. Maar ons het almal ‘n mond wat deur die Gees van die Here voorberei is. En ons het almal die bevel van die Here gekry, soos wat Paulus dit interpreteer in ons teks: “Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” Paulus se bevel is ook ons bevel, gemeente. Nie omdat ons apostels is nie, maar omdat ons deel is van die nuwe Israel, van die kerk van die Here – ons mag die lig omhoog hou, ons mag die lig laat skyn, tot redding van baie.

---------------------

Eskom is nie in staat om die ligte in hierdie land brandende te hou nie – weens wanbestuur, onkundigheid, gebrek aan brandstof, swak onderhoud, die onlangse stakings deur werknemers. My vraag in die inleiding was: is dit nie op ‘n dieper, geestelike vlak presies dieselfde redes waarom die kerk so dikwels nie die lig kan laat skyn nie? Wanbestuur – dalk gee kerkrade nie voldoende leiding nie, dalk is kerkrade met allerhande sake besig behalwe met dit waarvoor hulle werklik geroep is... Onkundigheid – dalk weet lidmate nie meer wat hulle werklike roeping in hierdie wêreld is nie. Gebrek aan brandstof – dalk laat ons onsself nie voldoende vul met die brandstof van die evangelie nie, sodat die energie ontbreek om die lig te laat skyn. Swak onderhoud – dalk spandeer ons nie voldoende tyd aan die onderhouding van ons geloofslewe nie, aan Bybelstudie en gebed nie. Stakings – dalk weier gelowiges eenvoudig om dít waarvoor hulle geroep is, na te kom.

Gemeente, ons het gewoond geraak aan beurtkrag, ons het gewoond daaraan geraak om in die donker te sit, Eskom het die frustrasie en die grap van die nasies geword. Mag dit nooit van ons gesê word nie – die klomp Christene kruip net in hulle hoekie weg, ons sien of hoor hulle verder nooit nie. Ons is nie die lig nie – gelukkig maar! – maar ons het die grootste opdrag (wat tegelykertyd die grootste voorreg is) gekry: ons mag die lig laat skyn. En dis waar, ons saligheid word nie daardeur bepaal nie, maar elkeen wat gered is, wat die evangelie van genade leer ken het, kan nie anders as om daardie lig te laat skyn. Dié lig wat my lewe-in-duisternis kom verlig het. Dankie, Here! Ek skyn graag!

Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 36:2 en 3

Wetlesing

Sing Ps. 19:3 en 4

Kort gebed

Doopsbediening

  • Lees formulier
  • Doopvrae en -bediening
  • Dankgebed
  • Sing Ps. 128:3

Lees: Handelinge 13:42-52

Sing Ps. 87:4 en 5

Teks: Handelinge 13:47

Preek

Amenlied Skr. 3:2 & Skr. 2:5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 67:1 en 2

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.