Wat sou in jou kennis van God ontbreek as die Ou Testament nie bestaan het nie? Is die Ou Testament nodig om Jesus en jou lewe te verstaan? Dit lyk of hierdie teks wel so sê. Vandag kom ons by een van die belangrikste tekste wat betref die verstaan van die Ou Testament, hoe dit met die Nuwe Testament verband hou en hoe beide met Jesus Christus verband hou. Dit is so dat die manier waarop jy hierdie teks interpreteer, implikasies gaan hê vir die manier waarop jy die Ou en Nuwe Testament met mekaar in verband bring, die plek wat die wet het en die konteks van die evangelie.
Jesus se standaard is die standaard wat 'n persoon se hart binnegaan. En dit verdryf alle voorgee van selfgeregtigheid, dat jy hemel toe kan gaan deur bloot iets te doen. Daar is niks wat jy kan doen wat jou êrens kan bring nie. Dit het altyd gegaan oor wie jy is. Om in Christus te wees. Dit gaan oor ’n nuwe bestaan wat aan jou gegee word om in die persoon van Christus te lewe. Dit is sy persoon wat noodsaaklik is om hierdie gedeelte te verstaan. Die belangrikheid van die “Ek” in hierdie teks kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Die lewe van getrouheid teenoor God word vir ons deur die Messias openbaar:
- Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul
- Die geregtigheid wat oortref
Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul
Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”
Eerstens het Hy nie gekom om een ding te doen nie, maar ’n ander. Hy het nie gekom om te ontbind nie. Party mense het gedink dat Hy gekom het om die wet en die profete ongeldig te verklaar. Party dink vandag nog steeds dat dit God se doel was. Dat dit is waarom Jesus gekom het. dat die Ou Testament nie meer relevant is nie. Dat dit ‘n mooi dokument is, maar regtig nie veel byvoeg nie. Die werkwoord “ontbind” word gebruik om ’n gebou of ’n instelling te vernietig. Was Hy besig om die Ou Testament as verouderd te verklaar? Nee, dit was nie sy doel nie. Sy doel was om dit te vervul.
Dit is belangrik dat Jesus die wet en die profete hier noem. Sien jy dit raak? Soms wanneer ons lees, lees ons baie keer net die woord “wet” en nie ook “profete” nie. Maar net soos wat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, het Hy ook nie gekom om die profete te ontbind nie! Beide is nog steeds belangrik. Om hulle betekenis te verstaan, moet ons verstaan wat Jesus bedoel met die woord “vervul.”.
Wat beteken dit? Wat dit ook al mag beteken, weet ons dit was genoeg om Hom te laat kruisig. Ek is die eintlike gesaghebbende en die beste onderwyser oor die wet. Ek is die onfeilbare verklaarder van die Woord van God, en Ek het gekom om julle alles te vertel waaroor die wet regtig gaan. Dit is ’n groot eis. Maar Hy hou nie daar op nie, Hy sê: Ek sal hulle ook almal vervul! Jesus sê in sy eie Naam wat die Ou Testament in God se Naam sê. Moses het nooit gesê: “Ek sê vir jou” nie, hy het altyd gesê: “So sê die Here”.
In Matthéüs is die woord “vervul” belangrik. Hy gebruik dit 10 keer om te verwys na iets wat besig is om te gebeur soos wat dit in die Ou Testament geprofeteer is. Hy het ons in die eerste paar hoofstukke op hierdie oomblik voorberei. Die punt is dat die Ou Testament op ’n manier in Jesus sy bestemde gevolgtrekking bereik het, en dat alles daarin in die lig van sy koms geïnterpreteer moet word, asook die ingang in die koninkryk van die hemele. In Hom het die koninkryk gekom, en Hy nooi sy dissipels om daardie werklikheid te betree. Die koninkryk waarna die Ou Testament gewys het, is nou hier. Hy is die finale Woord – nie die wet of die profete nie. Soos Matthéüs in 11:13 sê: “Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.”
Met ander woorde, die Ou Testament is eerstens profeties. Ons dink nie dat Jesaja 53 onbelangrik is noudat dit in Jesus vervul is nie – nee, inteendeel, dit kry ’n baie dieper betekenis in Jesus. Dit is op dieselfde manier waar van die wet of die tien gebooie! Jesaja 53 vind sy betekenis in Jesus. Net so vind die tien gebooie hulle betekenis in Jesus. Hy is die vervulling van elkeen. Die telos van die wet en die profete. Op hierdie manier moet die hele Ou Testament geïnterpreteer word in die lig van Jesus se koms, en die koms van die koninkryk. Dit maak die Ou Testament nie minder belangrik om te bestudeer nie, maar juis meer belangrik!
Die wet en die profete het gewys op iets diepers, en ons verstaan net die bedoeling daarvan as ons na hulle deur Jesus Christus kyk. Die Pasga se lam wys op die Paasfees se Lam! Om nie dood te slaan nie, wys op die verandering wat God se beelddraers ondergaan om te floreer in alle fasette van die lewe, omdat hulle in Christus se beeld herskep is. Dit wys op die groot gebod om jou vyande lief te hê, wat in Christus moontlik gemaak is.
En so gaan Hy verder: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Dit is Jesus wat sê dat die Ou Testament nie sal verbygaan nie; in werklikheid sal alles waarna dit verwys 'n werklikheid word en in My bediening 'n werklikheid word. Die tempel, die priesterdom, die offers, die land, die reinigingswette, die tien gebooie, die psalms, die profete! Alles. En in Christus verkry dit ’n veel dieper betekenis. Dit is nog steeds God se Woord. Die asem van sy mond. Dit vind werklikheid in die Woord van God – Jesus Christus. Die Tora is nie die laaste woord van God nie. Dit is ons verhouding met Hom wat alle geregtigheid vervul het, of die wet, nie na die wet wat ons leer hoe om te lewe nie.
’n Jota is die kleinste Hebreeuse letter, en ’n titteltjie is ’n klein stilistiese merkie aan die einde van ’n letter. Dit is ’n stelling oor wat Jesus van die Ou Testament gedink het. Tot die laaste woord of letter is belangrik! Dit is die Woord van God! Moenie vir ’n oomblik dink dat dit nie belangrik is nie, maar moet ook nie vir ‘n oomblik dink dat jy dit kan lees sonder om My in die middelpunt daarvan te plaas nie. Elke enkele woord daarvan moet waar word!
Met ander woorde, Jesus sê eintlik vir hulle dat die wet en die profete alles oor Hom gaan. Ons verhouding met die wet en die profete moet dus gesien word deur die lens van Jesus Christus se koms en sy werk vandag. Anders mis ons die hele punt, en mis ons die koninkryk van die hemele heeltemal, ongeag hoe goed ons die tien gebooie onderhou. Dit bring ons by ons tweede punt.
Die geregtigheid wat oortref
Die skrifgeleerdes en die fariseërs sou baie gehou het van wat Jesus sopas gesê het dat nie een komma in die wet onbelangrik is nie. Elke klein detail van die wet was vir hulle baie kosbaar. En die rede waarom hulle reëls gemaak het was nie om die wet van God te vervang nie, maar om die mense te help om die wet beter te onderhou. En in die oë van die mense was hulle sterk verdedigers en verklaarders van die wet as 'n praktiese riglyn tot ‘n heilige lewe. Vir hulle was die wet die manier om heilig te lewe. Maar die probleem was dat hulle die wet sonder die Persoon gelees het. Dit het dus ’n reël in plaas van ’n verhouding geword. Hulle was nie veronderstel om volgens die wet se standaarde regverdig te wees nie, maar eerder volgens die Vader s’n. Soos Hy aan die einde van hierdie gedeelte van die preek sê: “Wees dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is.”
Wat ek hiermee bedoel, is dat ‘n wet na buite moet voldoen. Ek hou (soms) by die spoedbeperking, want die wet vereis dit van my, nie omdat ek ’n spesiale verhouding met die regering of met ’n polisiebeampte het nie. Dit is anders as ’n verhouding met my kinders. Ek wil hê hulle moet aan my gehoorsaam wees, nie omdat hulle bang is vir my nie, maar omdat hulle lief is vir my. Dit is begeerte-gedrewe en liefde-gedrewe, en nie vrees-gedrewe nie.
Dit was die punt van die wet en die profete: ’n nuwe manier van lewe, die oorspronklike manier hoe ons veronderstel was om te lewe, ’n lewe gevul met verhoudings. Regte verhoudings. Verhoudings uit die hart. Dit is wat Jesus kom doen het. Om ons vry te maak van die wet wat ons onder die doodstraf gebring het, om ’n verhouding met Hom te geniet, in die werklikheid van sy koninkryk. ’n Koninkrykswerklikheid waar die wet op ons harte geskryf staan. Waar die lewe in sy geheel verander en herstel word na sy oorspronklike bedoeling.
Dit neem die wet dus na ’n veel dieper en grondige vlak. Die Ou Testament gee ons wenke hiervan deur die profete. Byvoorbeeld: Israel het geweet hoe om soos bekeerde mense te lyk, maar al het hulle al die uiterlike dade van bekering gedoen, het hulle harte nie werklik verander nie. Hulle sou nooit werklik verander nie. Die profete sê dinge soos: “Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie”. Of: “Want Ek het ’n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers”.
Die geregtigheid wat oortref, word nie gedoen ter wille van vroomheid of ‘n heilige lewe nie, maar ter wille van Jesus. Dit word nie gedoen deur reëls te gehoorsaam nie, maar deur gevul en gemotiveer te word deur ’n verhouding met Jesus. Dit gaan nie oor sekere reëls nie, maar oor elke oomblik van jou lewe. Jy word in die koninkryk van die hemel geplaas. ’n Ander werklikheid. ’n Nuwe lewe. ’n Nuwe manier van bestaan. Nie net om te dink nie, maar om te wees! Dit is waaroor alles gaan. Dit gaan baie dieper en is strenger as enige uiterlike gehoorsaamheid.
Jesus sê: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”
Met ander woorde, as jy dink dat die wet van geen waarde is nie, en jy leer vir ander om die wet van geen waarde te maak nie, dan is jy nie onwaardig vir die nuwe manier van lewe in die koninkryk. Jesus het die wette met hulle ware betekenis en bedoeling vervul. Net soos wat Hy met die profesieë gedoen het. Dit gaan oor hart-gehoorsaamheid. Dit gaan nie daaroor om daardie mense van wie jy hou, lief te hê nie, maar om diegene vir wie jy haat, lief te hê. Dit gaan nie net daaroor om nie te bedrieg nie, maar dit gaan daaroor om nie eens ‘n vrou om selfsugtige redes te begeer nie. Dit gaan nie daaroor om nie geld na te jaag nie, maar om nie oor enigiets bekommerd te wees nie. Dit gaan nie daaroor om hard te werk sodat jy selfstandig kan wees nie, dit gaan oor ’n lewe van konstante aanbidding. Dit is ’n verandering van die hele lewe, van binne na buite. Jesus kom tot die vlak van begeerte; Hy maak ’n hele nuwe wêreld oop.
Let op, Hy sê nie jy is buite koninkryk nie. Toegang tot die koninkryk hang nie van die wet af nie – maar Jesus gaan nie net oor die toegang tot die koninkryk nie. Dit gaan vir Hom nie net oor toegang nie – dit gaan vir Hom oor die volheid van die lewe wat deur sy Persoon vir ons oopgemaak word.
Die fokus is hier op ‘doen’! Dit gaan oor jou daaglikse manier van lewe. Dit gaan oor ’n veranderde verhouding met jou familie, jou kollegas, jou klasmaats. Dit gaan oor ’n nuwe verhouding met God deur Jesus, waar jy nie meer met Hom as ‘n dienskneg kommunikeer nie, maar met Hom as ’n Vader. Dit gaan oor ’n veranderde verhouding met die skepping. Dit gaan oor ’n nuwe bestaan, ’n bestaan waar ’n mens in die teenwoordigheid van God leef, en dan vir ander leer om dieselfde te doen.
Hierdie fokus op ‘doen’ verskyn regdeur Matthéüs, maar veral ook in die laaste opdrag van Jesus aan sy dissipels om na al die nasies te gaan en om hulle “te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Leer hulle om te onderhou! Om te doen: dit is wat belangrik is. Nie wat jy weet nie, maar wie jy is!
Regdeur Matthéüs is geregtigheid hoofsaaklik ’n geval van ‘doen’. Dit is sosiaal van aard, om te dien as aktiewe suurdeeg in die samelewing. Die werkwoord poiein (doen), wat 83 in die hele evangelie voorkom, word 22 keer net in hoofstukke 5-7 gebruik.
Daarom kan Hy sê: “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.” Jy sal nooit deel wees van God se heerskappy as jy net die reëls volg nie. Dit maak nie saak hoe goed jy lyk nie, of hoe godsdienstig jy is nie – jy is heeltemal verlore. Want vir God is die kriteria vir geregtigheid die hier en die nou. Die Regverdige Een het die maatstaf vir geregtigheid daargestel, en dit is slegs deur Hom wat ons dit kan bereik.
Jesus praat dus nie daarvan om die Fariseërs op hulle tuisveld te oorwin nie. Jesus se kritiek is nie dat hulle nie goed was nie, maar dat hulle nie goed genoeg was nie. Alhoewel al hulle reëls ’n “goeie” samelewing kon skep, domineer dit die wet en verloor so die radikale eis vir absolute heiligheid. Wat die hart betref, kan selfs die mees wetsgehoorsame Fariseër nie sê dat hy dit onderhou het nie. Dit is menslik onmoontlik. Maar wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik.
Die Messias sal ’n volk bymekaar roep wat genoem sal word: “terebinte van geregtigheid, ’n planting van die HERE, tot sy verheerliking.” Die geregtigheid van God se volk oortref die Fariseërs in sy diepte van gehoorsaamheid, wat tot op die vlak van die hart en sy begeertes deurdring. Want Jesus praat van ’n ander konsep van geregtigheid wat vanuit die hart vloei. Die dood en opstanding van die Man wat hierdie woorde spreek, sal die krag van die sonde en die wet vir ewig verbreek, sodat ons harte vrygemaak kon word tot ’n nuwe gehoorsaamheid. Dit is Hy en sy werk wat in die middelpunt staan.
Daar is die verhaal van ’n rabbi in opleiding wat na Jesus gaan luister het en na sy onderwyser teruggegaan het om hom van Jesus se preek te vertel wat hy sopas gehoor het. Toe hy klaar is, sê die onderwyser:
“Moses het 613 wette ontvang, 365 daarvan is negatief en dit stem ooreen met die dae van die aarde se omwenteling om die son, en 248 is positiewe wette en dit stem ooreen met die dele van ’n mens se liggaam. Dawid het gekom en die wette tot 11 verminder. Jesaja het hulle tot 6 verminder. Toe het Habakuk gekom en dit op 1 gebaseer, toe hy gesê het: ‘Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe’ (Hab. 2:4).”
Die onderwyser vra toe: “Is dit wat hierdie Jesus gesê het?” “Nie presies nie, maar amper”, sê die student. Die onderwyser vra: “Wat het Hy uitgelos?” “Niks nie”, antwoord die student. Die onderwyser vra toe: “Wat het Hy bygevoeg?” En die student antwoord: “Homself.”
“Kom en volg My”, sal Jesus keer op keer sê aan almal wat die koninkryk van God wil binnegaan. Jesus hou die wet in sy volheid vas. Dit is wat Hy byvoeg, naamlik Homself, wat alles verander. Dit is hier waar Jesus se boodskap van dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs afwyk. Die gebooie is gedefinieer deur die lewe en leer van hierdie Persoon.
Die radikale benadering tot dissipelskap strek veel verder as die beste geregtigheid wat die skrifgeleerdes en Fariseërs hulle ooit kan voorstel; die doel is niks minder nie as om die volmaaktheid van God Self in Christus Self te deel. Getrouheid aan Hom. Dit is die volheid van die lewe! Hy openbaar die mees perfekte, mooi en ongelooflike lewe aan ons. Stel jouself ’n koninkryk voor waar al hierdie dinge nie net verkondig word nie, maar geleef word. Ek kan jou sê dat in Jesus is die begin daarvan moontlik, ja, selfs vir jou. Die gebrokene. Die arme. Die self-regverdige. Die sondaar. Vir jou, ma. Pa. Seun of dogter.
Jesus het die weg gebaan om in sy koninkryk te leef, vandag. Hy het die wet en die profete vervul: Hy het die perfekte lewe geleef. Hy het gedoen wat die profesie gesê het Hy sal doen. Hy is die verwesenliking van alle waarheid. Kom ons sit by sy voete en luister na sy woorde. Die woorde van die lewe, van waarheid, en wandel daarin. Of eerder, wandel in Hom.
Amen.