Die vyfde gebod het al meerdere kere hierdie jaar in die prediking na vore gekom.
Ons behandel tans die tema, onderrig en laat onderrig.
Die gebod om jou vader en moeder te eer, het in verskillende Bybelgedeeltes tot ons gekom.
Dink aan ‘n paar weke gelede, die preek oor Efesiërs 6:1-4:
“Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder – dit is die eerste gebod met ‘n belofte”.
Dink ook aan die preek oor 2 Timotheüs 1:3-5, waar ons lees hoe Timotheüs gevolg het in die voetspore van sy gelowige ma en ouma, Eunice en Loïs.
Dink aan die preek oor 1 Samuel 2:22-25, waar ons lees hoe Hofni en Phinehas geen enkele respek vir hulle vader Eli gehad het nie.
Die vyfde gebod was dus al uitgebreid aan die orde in die prediking hierdie jaar, spesifiek wat die gehoorsaamheid van kinders aan hulle ouers betref, en ook die ander kant, die opdrag wat ouers ontvang teenoor hulle kinders.
Nou handel die vyfde gebod nie net oor die verhouding van kinders teenoor hulle ouers nie.
In Sondag 39 staan dat ek aan almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou moet bewys.
Dan dink ons verder aan gehoorsaamheid aan die owerheid.
Hierdie onderwerp, gehoorsaamheid aan die owerheid, het die afgelope tyd ook heelwat aandag in die prediking gekry, veral gedurende die Covid-tyd en al die maatreëls wat die owerheid in verband hiermee aan die bevolking opgelê het.
Dink aan die preek oor 1 Timotheüs 2:1-2, waar Paulus skryf:
“In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.”
Christus roep op tot gebede vir die owerheid.
Deur hierdie gebede werk Christus aan ons.
Deur hierdie gebede werk Christus ook aan die owerheid.
In vandag se preek gaan ek daarom nie aandag skenk aan die gehoorsaamheid aan ouers of aan die owerheid nie.
Dit is die laaste tyd dikwels behandel.
Maar daar is nog ander gesagsdraers wat oor ons deur die Here aangestel is.
En vanaand kyk ons na die ampsdraers in die gemeente, wat ook deur God oor ons aangestel is.
Die Bybelgedeeltes wat ons gelees het, handel spesifiek daaroor.
Tema: Christus roep op tot liefde en agting vir sy ampsdraers
Dink byvoorbeeld aan 1 Thessalonisense 5:12-13:
“Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.”
Die kerk in Thessalonika het onder moeilike omstandighede tot stand gekom.
Daar was baie teenstand van die Jode.
Die mense van Thessalonika het ‘n slegte eerste indruk op Paulus en Lukas gemaak.
Lukas vergelyk hulle met die mense van Berea, waarheen hulle daarna gegaan het, as hy skryf: “hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka” (Hand 17:11).
Tog het Christus ’n kerk geplant in Thessalonika.
In sy brief roep Paulus hierdie gelowiges op om nie terug te val in die nie-edelmoedige optrede van die afsydige Jode nie.
Paulus het Timotheüs na Thessalonika gestuur, en soos ons weet, hy was ’n jong ampsdraer.
Desnieteenstaande klink die oproep om ook aan iemand soos hy die hoogste agting te bewys.
Daar mag nie ’n houding ontstaan dat gemeentelede beter weet, en maklik die prediking wat tot hulle kom, afmaak as nie waar, of eensydig, of oppervlakkig nie.
Daarenteen moet hulle edelmoedig wees, soos die mense in Berea, wat elke dag die Skrifte ondersoek het of hierdie dinge so was.
Nie sonder Skrifbewys dit wat die ampsdraers sê, afmaak soos die Jode gedoen het, sonder dat hulle saam eers noukeurig die Skrifte ondersoek het nie.
Die Jode in Thessalonika het Christus verwerp, hierdie nuwe leer wou hulle nie aanvaar nie, want dit was nie volgens hulle tradisie nie, dit was nie soos dit altyd was nie.
In hierdie konteks skryf Paulus dus: Erken die wat onder julle arbei, wat julle voorgangers in die Here is en julle vermaan.
Hulle werk onder julle is in opdrag van Christus, en daarom dra dit gesag.
Moenie vinnig wees om te kritiseer nie, veral nie as die boodskap vanuit die Bybel begrond is nie.
Dit geld ook vir die jonger ampsdraers, manne soos Timotheüs en Titus.
Paulus moedig hulle aan: “Laat niemand jou jonkheid verag nie” (1 Tim 4:12)
En aan Titus: “Laat niemand jou verag nie.” (Titus 2:15)
Paulus roep op: Hou vrede onder mekaar.
Nie net in hiedie teks nie, maar op meerdere plekke in die Bybel word ons opgeroep om die ampsdraers te gehoorsaam.
Ons het ook ‘n gedeelte uit Hebreërs 13 gelees.
Het u al ooit vir u ampsdraer gevra: kan u u ampswerk wel met blydskap doen?
Is daar dalk enigsins aanleiding wat ek gee dat dit, sodat daar in Hebreërs staan, dat u u ampswerk eerder al sugtende moet doen?
Om ampsdraer te wees is nie ’n stokperdjie nie.
Jong ampsdraers word aan die diepkant ingegooi.
En natuurlik benadruk die Skrif ook dat die vyfde gebod net so veel vir die ampsdraer ’n opdrag het.
In Hebreërs staan daar: Hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee.
Dit is ’n groot verantwoordelikheid.
As ouers die opvoeding van hulle kinders afskeep, het dit ernstige gevolge vir die kinders.
As ampsdraers hulle taak afskeep, het dit ernstige gevolge vir die skape.
Vir die meeste ampsdraers geld dat hulle alreeds ’n skuldgevoel het, dat hulle nie gereeld genoeg by die skape uitkom nie.
Dikwels moet hulle hulle amp kombineer met die taak as vader by die huis, asook sy taak as broodwinner.
Hulle tyd is baie beperk.
Laat ons van ons kant hulle las nie swaarder maak nie, maar ligter.
As ’n ampsdraer jou kontak om ’n afspraak te maak, doen jou bes om beskikbaar te wees.
Moenie dat hy moet sukkel om met jou ’n afspraak te kry nie.
Gebrek aan agting skaad nie net die werk van ampsdraers nie, maar dit is ook vir julle nie goed nie, sê Hebreërs.
Almal is dan aan die verloorkant, die hele gemeente gaan agteruitboer, net soos ’n gesin waar die gesonde verhouding tussen ouers en kinders weggeërodeer het.
Laat ons as ouer lidmate veral voorgaan in ons respek vir die ampsdraers, soos ons hulle benader, en veral ook hoe ons oor hulle met ander praat.
Laat ons met die regte houding in die erediens sit, wat per slot van rekening deur die ampsdraers saamgeroep word.
In die Kategismus bely ons:
“Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp.”
Jakobus skryf in sy brief: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders” (Jak 3:1).
As ons in die kerk sit, sit ons nie hier as leermeesters nie.
Ons sit nie primêr hier om elke woord wat daar gesê word te kontroleer nie.
Maar ons sit in die kerk sodat die Gees in ons harte kan werk.
Dat ons onsself afvra: Wat wil die Gees vir my leer?
Hoe werk sy tweesnydende swaard in hierdie erediens in my lewe?
Dus nogmaals, soos Jakobus skryf: “Moenie baie leermeesters wees nie”.
Natuurlik is daar soms die situasie dat ’n dwaalleraar homself in die gemeente indring.
As dit gebeur, is daar in ons Gereformeerde kerkreg afsprake, hoe om dit aan te spreek, afsprake wat direk op die Skrif teruggaan.
In die geval die kerkraad nie die dwaalleraar stuit nie, is daar die klassis, en uiteindelik die sinode, waarop ’n beroep gedoen kan word.
Daardie kerklike weg, soos ons dit noem, moet inderdaad dan ook in so ‘n geval bewandel word.
Moet, sê ek, want dwaalleer mag nie ongeremd voortgaan in die gemeente nie.
Maar dit is iets anders om in elke erediens, soos Jakobus skryf, as “leermeester” te sit.
Om op elke preek kommentaar te hê, dit beter te weet, sonder dat daar enigsins rede is om die kerklike weg te gaan nie.
As dit ons, soos dit in Engels heet, as dit ons ‘default setting’ raak van hoe ons in die kerk sit, dan onderwerp ons ons nie aan die ampsdraers nie.
Dan bewys ons nie, soos die Kategismus skryf, aan hulle alle eer, liefde en trou nie.
En as die sinode dan ’n besluit neem, dan geld daarvoor ook dat ons onsself daaraan onderwerp, tensy – die bekende artikel 31 van die Kerkorde – tensy dit aantoonbaar teen die Skrif ingaan.
Sinodebesluite is daar om te respekteer en te implimenteer, dit mag nie ’n saak van persoonlike voorkeure per gemeente word nie.
Ons kan nie sê, ons hou nie van wat die sinode besluit het, dit pas nie in ons gemeente, ons gaan op ons eie aan, nie.
Ook deur hierdie vergaderings van sinode en klassis regeer Christus sy kerk.
Natuurlik het elke ampsdraer gebreke.
Daar is nie ’n enkele predikant, ouderling of diaken wat geen gebreke, geen eensydighede, het nie.
Die Kategismus roep ons op om met die gesagsdraers se gebreke geduld te hê.
’n Gemeentelid kan nie sê: Ek hou nie van my wyksouderling nie, ek gaan praat eerder met ’n ander ouderling.
As dit gebeur, sal die ander ouderling jou na jou eie ouderling terugverwys.
Hoekom?
Die antwoord is eenvoudig, soos die Kategismus dit verwoord: omdat God ons deur hulle wil regeer.
En dit bring ons by die geheim van ’n suksesvolle gemeente, net soos ’n suksesvolle gesin, of watter gesagsverhouding ook.
Wanneer elke persoon, gesagsdraer en onderdaan, die HERE vrees, aan Hom gehoorsaam is, dan sal dit veroorsaak dat hy ook die regte gesindheid het teenoor aardse gesagsdraers.
Vertikaal, gehoorsaamheid aan die HERE, bring ook gehoorsaamheid te weeg teenoor hulle wat God hier op aarde oor ons aangestel het.
Wie aardse gesagsdraers minag, minag ook die HERE.
Wie aardse gesagsdraers hoogag, al het hulle gebreke, vrees ook die HERE.
Jakobus skryf: “Onderwerp julle dan aan God” (Jak 4:7).
En Paulus skryf aan die Korinthiërs:
“Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1 Kor 11:1)
Hy vermaan hulle selfs, 1 Korinthiërs 4:16: “Ek vermaan julle dan, word my navolgers.”
Paulus skryf dit nie omdat hy so goed was nie, hy noem homself ook in daardie selfde brief aan die Korinthiërs “die geringste van die apostels”, nie eers “werd om ’n apostel genoem te word nie” (1 Kor 15:9).
Maar Paulus roep hulle op om sy navolgers te wees, omdat hy besef dat Christus hom in daardie amp geroep het.
Hy moet leiding gee, en die gemeente moet volg.
Net so het die ampsdraers vandag die apostels se opvolgers geword in die besondere amp.
Hulle is deur Christus aangestel om die leiding te neem.
Hulle moet die gemeente ook oproep om hulle leiding te aanvaar, om hulle navolgers te wees, soos Paulus skryf.
Want God wil ons deur hulle regeer.
En gemeente, watter mooier voorbeeld het ons as die van ons Here Jesus self.
Al was Hy volmaak, in woord en wandel, en al het Hy as geen ander die gebreke en sondes geken van die gesagsdraers van sy tyd, tog het Hy Homself aan hulle onderwerp.
Hy het nie neerhalend met of oor die Sanhedrin gepraat nie, ook nie met Pilatus nie.
Hy het erken dat hulle hulle gesag van God ontvang het.
Deur aan hulle gehoorsaam te wees, was Hy ook aan sy hemelse Vader gehoorsaam.
In sy voorbeeld is die vyfde gebod volmaak vervul.
In sy leer en lewe het Hy ons weer teruggebring by die kern van elke gebod, ook van die vyfde gebod.
Liefde vir God, en liefde vir jou naaste.
Ook liefde vir die gesagsdraers wat oor jou aangestel is.
As die woord liefde van toepassing is op ons houding teenoor die regering en die president, hoeveel te meer nie op ons verhouding met ons ouers en ons gesagsdraers in die kerk nie.
Dit moet mos nie moeilik wees nie!
Dis mense wat ons ken, mense wat naby aan ons is, wat ons belange op die hart dra.
Ja laat hierdie oproep om aan hulle alle eer, liefde en trou te bewys, vir ons ’n saak van die hart wees.
Christus vergader, beskerm en onderhou sy gemeente ook deur van ampsdraers gebruik te maak.
Christus stel hulle aan deur van die insette van die gemeentelede gebruik te maak.
Die eerste diakens is bevestig, nadat die gemeente name ingedien het.
Die ouderlinge wat in elke gemeente in Klein-Asië aangestel is tydens die sendingsreise, is deur die apostels bevestig.
So maak God van mense gebruik om ampsdraers vir sy kerk te gee.
Mens ontvang nie ’n bonatuurlike gesig dat hulle nou ampsdraer moet word nie.
As ’n ampsdraer met so ’n storie kom, God het aan my verskyn met die boodskap ek moet ’n ampsdraer in die gemeente word, dan dring so ’n persoon hom op ’n onregmatige wyse op aan die gemeente.
Ja, daar is wat ons noem die innerlike roepingsbesef, die innerlike begeerte, maar dit moet bevestig word deur die eksterne beroep wat vanuit die gemeente op ’n persoon uitgebring word.
En as ’n ampsdraer dan bevestig is, dan roep Christus ons as gemeente op, soos dit verwoord is in die bevestigingsformulier:
Aanvaar van harte hierdie broers as opsieners en herders van die gemeente. Ag hulle hoog weens hul werk. Wees gehoorsaam en onderdanig aan u voorgangers, want hulle waak oor u siele en sal eendag daarvan rekenskap aan God moet gee. Sorg dat die diakens oor die middele beskik om hul arbeid te kan verrig.
Mens hoor in hierdie woorde hoe die Bybeltekste wat ons in hierdie preek behandel het, deurklink.
En dan belowe die Here sy seën oor ’n gemeente waar dit so mag gaan.
Mag ons as gemeente ook daardie seën ervaar.
Christus skenk die gelowiges hemelse skatte en gawes.
Die ampte in sy gemeente is een daarvan.
’n Skat om dankbaar voor te wees, om te gebruik, om op te pas.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: 1 Thessalonisense 5:12-28 & Hebreërs 13:1-19
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 39
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Hoe het die inwoners van Thessalonika en Berea met mekaar vergelyk?
- Jakobus waarsku ons om nie almal leermeesters te wil wees nie. Watter rede gee hy daarvoor? (Sien Jak 3:2)
- Hoe dikwels bid jy vir die ampsdraers wat Christus oor jou aangestel het?
- Hoe lê jy jouself neer by besluite deur ampsdraers waarvan jy nie hou nie, maar wat nie teen die Skrif ingaan nie?
- Ag jy die ampsdraers hoog wat Christus oor jou aangestel het?
- Hoe stry jy teen kwaadpratery of neerhalende praatjies oor ampsdraers?
Votum
Seën
Ps 111:1,3
Gebed
Skriflesing: 1 Thessalonisense 5:12-28
Ps 144:1
Skriflesing: Hebreërs 13:1-19
Sb 49:3-6
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 39
Preek
Ps 34:2,4
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 8:3,5
Seën