Dokter Jakobus doen 'n in-diepte tong-analise van die gelowiges...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-10-02
Teks: 
Jakobus 3:1-12
Verwysing: 
Jakobus-reeks #5
Preek Inhoud: 

Seuns en dogters,

Wanneer jy siek is en griep onder lede het, dan vat jou ma of pa jou op 'n stadium dokter toe, nie waar nie? En een van die dinge wat die dokter daar in die spreekkamer doen, is om vir jou te vra om jou tong uit te steek en 'aaa' te sê - dit is, terloops, die enigste keer wat jy wel jou tong mág uitsteek. En wanneer jy jou tong uitsteek en 'aaa' sê, dan kyk die dokter met sy liggie tot agter in jou keel. En dít wat hy daar sien, help hom om te bepaal hoe dit met jou gesondheid gaan; uit hoe dit in jou mond en agter in jou keel lyk, kan hy aflei of daar 'n virus in jou liggaam aan die werk is. Die virus self kan hy natuurlik nie sien nie, maar wel die simptome daarvan in jou mond en in jou keel. Nou, so werk dit ook met ons geestelike gesondheid - wat uit jou en my mond uitkom, gee 'n goeie aanduiding van hoe dit met ons harte gaan. En dit is presies wat wat Jakobus in hoofstuk 3 van sy brief doen: soos 'n goeie dokter doen hy 'n baie deeglike en indringende tong-analise. Hy kyk hoe ons tonge (en daarmee bedoel hy natuurlik ons 'spraak') lyk, want dan weet hy wat in ons harte leef.

Tema: dokter Jakobus doen 'n in-diepte tong-analise van die gelowiges...

1. Die analise kom uit by jou hart

2. Die kuur lê by Christus, die Woord

3. Die praktiese oefeninge vind jy deur sy hele brief

 

1. Jakobus se groot doel met sy brief - so het ons nou al verskeie kere tydens hierdie reeks opgemerk, maar dis belangrik dat ons dit nogmaals sal beklemtoon - sy groot doel is om sy lesers se geloof te bring tot volkomenheid. Jakobus, gelei deur die Heilige Gees natuurlik (hy het hierdie doel nie self uitgedink nie), wil sien dat sy lesers se geloof moet groei, hy wil opmerk dat hulle geloof heel en volkome sal word - hy soek na 'n volgroeide geloof. Dink nogmaals aan hoofstuk 1:4: "Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie." En interessant, reg aan die begin van ons Skrifgedeelte kom hierdie tema weer na vore, hoofstuk 3:2: "as iemand in woorde nie struikel nie, is hy 'n volmaakte man..." Dus, 'n volmaakte / 'n volgroeide geloof - dit is wat Jakobus by sy lesers wil sien. En ek hoop, broers en susters, dat dit ook ons verlange is - vir onsself (persoonlik) én vir mekaar - en dat ons daarom groot erns sal maak met hierdie brief en die preke daaroor. Gaan lees of luister dit weer, ondersoek jouself, en worstel met die vraag of jy vordering maak op die pad na 'n volgroeide geloof. Gebruik vandag om hieroor na te dink: groei ek in my geloof? Is ek vandag verder in die geloof as vyf of tien jaar gelede?

En waaraan moet ek dit dan meet? Wel, sê Jakobus, jy meet dit 1) aan jou woorde en 2) aan jou dade: "Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word." Dit is wat Jakobus in hoofstuk 2:12 alreeds gesê het. En nou, in hoofstuk 3, gaan hy hierdie twee verder uitwerk - verse 1-12 gaan oor ons woorde, en verse 13-18 gaan oor ons dade. Kom ons kyk vandag na die tong.

 

In ons teks (3:1-12) doen dokter Jakobus 'n in-diepte analise van ons tonge. Die eerste punt wat hy wil oordra, is dat die menslike tong 'n mag het wat disproporsioneel (buite alle verhouding) tot sy grootte is. Dus, die tong is maar 'n klein stukkie vleis, maar sy mag is baie groot! Om dit te illustreer, gebruik Jakobus twee lewendige beelde. Die tong is soos die stang wat ons in 'n perd se bek sit (3:3) - hierdie klein instrument word gebruik om die groot krag en energie van die perd te bedwing en hom in die regte rigting te lei. Die tong is verder soos die roer van 'n groot skip (3:4) - Paulus was nie onbekend met groot skepe nie; die skip waarop hy na Rome vervoer is, het 276 passasiers bevat (Hand. 27:37), en tog word hierdie groot skepe deur 'n baie klein roer beheer en bestuur net waarheen die stuurman wil. Presies so is die tong 'n baie klein lid van die menslike liggaam, maar sy mag (sowel ten goede as ten kwade) is buite verhouding groot.

Hooplik sien jy dat Jakobus tot op hierdie punt nog redelik neutraal gebly het - hy konstateer eenvoudig dat die tong disproporsionele mag het. Maar vervolgens wys Jakobus dat hy veral bekommerd is oor die mag van die tong ten kwade, dus oor die verwoestende mag van die tong. Dít wys hy in die volgende beeld: die tong is 'n vuur (3:5-6) - 'n klein vuurtjie kan 'n hele bos verwoes; al wat nodig is, is 'n klein, onbeheerste vonkie. Net so kan 'n skerp woord, 'n gevoellose opmerking, of 'n onnadenkende sin 'n brand veroorsaak wat nie geblus kan word nie; dit kan 'n lewe verteer en verwoes. En hoe ken ons dit nie vanuit ons eie lewens nie - óf omdat jy jouself al daaraan skuldig gemaak het, óf omdat jy self al daaronder moes ly! En Jakobus is baie duidelik oor waar die energie / brandstof vir hierdie verwoesting vandaan kom: die vuur word uit die hel aangesteek (3:6b). Die woord wat Jakobus vir 'hel' gebruik, is Gehenna - dit verwys na die dal van Hinnom aan die suidwestelike kant van die stad Jerusalem. Dit is hier waar sommige van die konings van Juda hulle kinders aan die afgod Molog geoffer het. Gehenna is ook beskou as die blyplek van die duiwel en die demone. Dus, wanneer Jakobus hierdie term gebruik, dan wil hy daarmee wys dat die tong, wanneer ons dit verkeerd gebruik, onder die mag en die invloed van die bose staan. Onder die invloed van die bose is die tong 'n wêreld van ongeregtigheid (3:6a) - dit beïnvloed alles negatief, dit besmet die hele liggaam. Nou, ‘liggaam’ verwys hier heel eerste na die menslike liggaam, maar dit is goed moontlik dat Jakobus hier ook die liggaam van die kerk in gedagte het. Die tong wat verkeerd gebruik word, besmet die hele gemeente - hoeveel mooi dinge daar ook al in en deur die gemeente gedoen word, hoeveel sorg en omgee daar ook al is, die verkeerde gebruik van ons tonge kan al hierdie goeie ongedaan maak. En helaas, sê Jakobus, dit is wat maar al te dikwels die geval is. Want ook al het die mensdom deur die eeue geleer om wilde diere en voëls en kruipende diere en seediere te tem (3:7), die tong is ontembaar; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif (3:8). Hiermee sluit Jakobus aan by Paulus se analise van die mens in Romeine 3:13: "Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe." En natuurlik geld dit vir die onwedergebore mens, dis logies. Maar die hartseer is dat dieselfde verwoestende mag dikwels ook in die gemeenskap van die gelowiges gebruik word.

Dus, die tong het 'n disproporsionele mag (dink aan die stang en die perd, en die roer en die skip), en al te dikwels word daardie mag gebruik om te verwoes (dink aan die klein vuurtjie en die groot bos). Maar dokter Jakobus is nog nie klaar met sy analise van die tong nie. Hy wys ten slotte ook nog op die verskriklike inkonsekwentheid in ons spraak. Hierdie inkonsekwentheid is so skreiend dat, as jy goed daaroor nadink, jy tot die gevolgtrekking moet kom: eintlik is dit nie eens moontlik nie. Kan daar uit 'n fontein sowel vars as bitter water opborrel (3:11)? Kan 'n vyeboom olywe dra, of kan 'n wingerdstok vye dra (3:12)? Sien jy die onmoontlikheid van hierdie kombinasies? Nou, net so is dit blatante skynheiligheid - 'dubbelhartigheid' is die woord wat Jakobus hiervoor uitgedink het (1:8, 4:8) - as ons met ons tonge God loof en net daarna mense vloek wat na God se beeld gemaak is (3:9), as daar uit dieselfde mond seën en vervloeking kom (3:10).

 

Maar dokter Jakobus stop nie by die tong nie. Onthou, seuns en dogters, wanneer jy by die dokter is en hy in jou keel kyk, dan kan hy daaruit aflei dat jy siek is en dat daar een of ander virus in jou liggaam aan die werk is. Nou, net so kyk dokter Jakobus ook dieper as die tong. Met behulp van die beelde van die fontein, die vyeboom en die wingerdstok (in verse 11 en 12) wys Jakobus wat regtig met ons verkeerd is. Hierdie beelde vat ons naamlik terug na die oorsprong - die water wat uit 'n fontein vloei, kom mos êrens vandaan; die feit dat daar aan 'n vyeboom vye groei en nie olywe nie, dit het 'n oorsprong; die feit dat daar aan 'n wingerdstok druiwe hang en nie vye nie, daar is 'n rede daarvoor. Nou, net so kom die verwoestende mag van die tong en die inkonsekwentheid in ons spraak êrens vandaan – daar is ‘n rede daarvoor, dit het 'n oorsprong. En die oorsprong, so leer Jakobus se groot broer Jesus ons, is die hart: "Want uit die oorvloed van die hart praat die mond" (Mt. 12:34). Dus, dokter Jakobus se in-diepte analise wys vir hom iets; op grond van sy analise kan hy 'n diagnose maak, naamlik dat daar fout is met ons harte. Ons tonge - alles wat ons sê - is helaas maar al te dikwels 'n aanduiding van die ongoddelike dryf in die sentrum van ons wese, is 'n aanduiding van die boosheid van ons harte. Ja, in die fisiese anatomie is daar geen verbinding tussen die tong en die hart nie, maar in die geestelike anatomie is hulle sonder twyfel aan mekaar verbonde. En dit, broers en susters, is ten diepste waarby ons moet uitkom. Ons moet leer wat die Spreukedigter leer: "Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe" (Spr. 4:23). En onmiddelik daarop, in vers 24, volg dan: "Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe." Jou tong is verbonde aan jou hart – wil jy daarom groei in heiligmaking van die tong, dan moet jy begin by die hart. Daar moet nie in die eerste plek 'n tongverandering plaasvind nie, daar moet heel eerste 'n hartsverandering plaasvind. Dit is die pynlike diagnose van dokter Jakobus. Maar hoe dan? Wat is dokter Jakobus se kuur? Wat skryf hy voor? Dit bring ons by ons tweede gedagte: die kuur lê by Christus, die Woord.

 

2. Daar is twee verse in dokter Jakobus se analise waaraan ons nog nie aandag gegee het nie - verse 1 en 2. In vers 1 sê Jakobus: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons 'n groter oordeel sal ondergaan.” Nou, verklaarders het al baie gespekuleer oor wie hierdie ‘leermeesters’ presies is. Sommige meen dat dit hier gaan oor die leiers van die gemeente, dalk die ampsdraers. Maar as dít die geval is, dan wonder jy: is hierdie gedeelte oor die tong net vir die ampsdraers bedoel? Was die preek tot dusver net tot die ouderlinge en diakens gerig? Nee, ek dink ons kom nader aan die regte antwoord wanneer ons die ‘leermeesters’ in Jakobus 3:1 in verbinding bring met die ‘leraars’ in Hebreërs 5, wat ons saam gelees het – dieselfde Griekse woord word in beide gedeeltes gebruik. In vers 12 sê die Hebreërskrywer: “julle behoort vanweë die tyd al leraars / leermeesters te wees.” Wat die Hebreërskrywer wil oordra, is dat wanneer die basis / fondament van die geloof gelê is, dan kan jy nie maar agteroorlê nie; nee, dan moet jy daarop verder bou. Dus, net soos Jakobus, wil die Hebreërskrywer hê dat sy lesers moet bly groei in die geloof, volgroeid moet word; kyk maar na Hebreërs 6:1: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan.” So, die ‘leraars’ van Jakobus 3:1 en Hebreërs 5:12 is ‘n verwysing na dieselfde groep mense: en dit is uiteindelik alle gelowiges, elkeen van ons.

Maar tog gebruik Jakobus en die Hebreërskrywer dit met verskillende doele. Waar Hebreërs sê dat almal leraars behoort te word, daar sê Jakobus: ja, dis waar, ons moet almal leraars word, maar wees versigtig om te graag onderrig te wil gee. Want onthou: as jy onderrig gee, dan moet jy praat; en as jy praat, dan stel jy jouself bloot aan verkeerde woorde; en as jy jouself blootstel aan verkeerde woorde, dan doen jy sonde. Moenie te veel onderrig wil gee nie, want dan is die gevaar soveel groter dat jy in jou woorde sal struikel. Moenie so graag ‘n leraar wil word, dat jy vergeet om ‘n leerling te bly nie – ‘n leerling wat steeds weer drink van die melk van die evangelie, wat steeds weer lewe van die Hoëpriesterlike werk van Jesus Christus waarvan Hebreërs 5 praat.

 

Dus, hoewel Jakobus se tema is dat sy lesers moet groei in die geloof – dat hulle geloof volmaak moet word – mag hulle nooit vergeet van die fondament waarop hulle geloof gebou is nie: Jesus Christus! Ja, julle moet volmaak word in die geloof, julle moet leraars word, maar dit is slegs moontlik wanneer jy altyd ‘n leerling bly. Gaan steeds weer na Hom wat volmaak was in elke woord. Gaan steeds weer na Hom wat self ‘die Woord’ is. Hy is die kuur vir jou en my hartsprobleem; Hy is die Een wat die hartsverandering kan bewerk wat nodig is om ook ‘n tongverandering te bewerk.

Lê jy ook soms, ná ‘n vergadering of ‘n partytjie, wakker omdat jy tob oor alles wat jy gesê het? Kan jy jouself ook soms skop oor ‘n ondeurdagte woord? Iets doms wat jy gesê het? In die bloed en die kruis van ons Hoëpriester lê daar vergifnis en verandering. Bly daarom op jou knieë voor Hom, sodat jou hart nuut kan word, en sodat jy die stang en die roer kan begin gebruik om die perd en die skip in die regte rigting te stuur. Sodat jou vuur nie meer vanuit die hel aangesteek word nie, maar vanuit die hemel. Sodat jou tong nie meer ‘n wêreld van ongeregtigheid is nie, maar van geregtigheid. Sodat jou tong nie meer seën én vloek spreek nie, maar net seën! Vind dit by Jesus Christus – leer van Hom, en moenie self te veel onderrig wil gee nie.

En dan let ons ten slotte nog op die praktiese oefeninge, wat jy deur Jakobus se hele brief vind.

 

3. Dit is opmerklik dat, in sy analise van die tong in verse 1-12, Jakobus geen praktiese raad of advies gee nie. Jy kan maar weer 'n slag op jou eie verse 1-12 deurlees - daar is nêrens 'n advies of 'n oproep te bespeur nie; Jakobus beskryf eenvoudig die feitlike toedrag van sake. Maar hoe moet ons nou weet hoe ons tonge geheilig kan word? Moet ons nou maar na ons naaste Christelike boekwinkel toe gaan of dalk 'n konferensie bywoon as ons wil weet hoe om ons tonge te heilig? Hoekom is daar geen praktiese raad nie van dokter Jakobus nie? Wel, broers en susters, daar is... as ons maar net bereid is om ons teksgedeelte in die geheel van Jakobus se brief te lees (terloops, dit is altyd 'n goeie reël by die lees van die Bybel: lees die teks in sy breër konteks). En wanneer ons ons teks in die geheel van die brief plaas, dan sien ons dat Jakobus se brief vol is van raad en oproepe wat te make het met die tong. Sy analise van die tong in ons teks staan dus binne die breër konteks van al hierdie raad en oproepe. En ek wil hulle vanmôre vir u opsom, maar ek doen dit in die vorm van 'n reeks voornemens, met die gedagte dat ons onsself (elkeen individueel, maar ook gesamentlik) gelowig tot hierdie voornemens sal verbind. En dan gaan dit nie daaroor dat die heiligheid van ons spraak van ons krag afhang nie – ons het in die vorige punt gesien dat dít slegs by Christus te vinde is. Nee, dan gaan dit daaroor dat ons nie vanoggend hier kan uitstap en die Woord van die Here oor hierdie belangrike onderwerp eenvoudig langs ons kan neersit nie. Geloof moet immers sigbaar word! Luister daarom fyn na hierdie voornemens, en bepaal voor die Here of jy hierdie voornemens jou eie kan maak...

 

Ek neem my voor:

Voorneme #1 - om vir God om wysheid te vra om reg te kan spreek. Jakobus 1:5: "As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid ... en dit sal aan hom gegee word."

Voorneme #2 - om altyd eers deeglik te luister (veral wanneer die Here spreek), en om goed na te dink voordat ek praat; Jakobus 1:19: "Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat."

Voorneme #3 - om my geloof daadwerklik te wys deur my tong in toom te hou; Jakobus 1:26: "As iemand meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs."

Voorneme #4 - om te praat in die voortdurende besef dat die oordeel oppad is; Jakobus 2:12: "Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word."

Voorneme #5 - om nooit leë woorde te spreek as ek nie bereid is om dit ook in dade om te sit nie; Jakobus 2:15-16: "As daar nou 'n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: gaan heen, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is, wat baat dit?"

Voorneme #6 - om nie met my woorde die een ding te sê, terwyl daar in my hart dalk iets anders leef nie; Jakobus 3:14: "Maar as julle bittere afguns en selfsug in die hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie."

Voorneme #7 - om twisgierige woorde as 'n teken van 'n sondige hart te vermy; Jakobus 4:1: "Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?"

Voorneme #8 - om nie te skinder of lelik van ander te praat nie; Jakobus 4:11: "... moenie van mekaar kwaad spreek nie."

Voorneme #9 - om versigtig te praat oor dinge waarvan ek nie genoeg weet nie; Jakobus 4:13: "Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak - julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie."

Voorneme #10 - om altyd te spreek soos iemand wat onder die voorsienigheid van God lewe; Jakobus 4:15: "In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen."

Voorneme #11 - om as gelowige nooit te brom of te kla nie; Jakobus 5:9: "Moenie teen mekaar sug nie; ... kyk, die Regter staan voor die deur."

Voorneme #12 - om altyd eerlik te wees in alles wat ek sê; Jakobus 5:12: "Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie... maar laat julle ja ja wees, en julle nee nee."

Voorneme #13 - om op 'n gepaste wyse oor teëspoed en voorspoed in my lewe te praat; Jakobus 5:13: "Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing."

Voorneme #14 - om my skuld te bely as ek 'n fout gemaak het; Jakobus 5:16: "Bely mekaar julle misdade."

Voorneme #15 - om woorde van herstel te spreek wanneer ek iemand sien afdwaal: Jakobus 5:19-20: "Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het, en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek."

 

Broers en susters, is ons bereid om hierdie voornemens ons eie te maak - ter wille van my eie welsyn, sowel as dié van die gemeente? Is ons bereid om hierdie voornemens ons eie te maak, sodat ons geloof verder na heelheid kan groei? Of raak dit dalk te konkreet, te prakties? Kom dit dalk te naby? Ek roep elkeen van ons op om hieroor te besin, in gebed ons lewens te ondersoek. Aanvaar dokter Jakobus se diagnose, gryp die kuur aan wat hy vir ons bied, en gaan doen dan jou oefeninge. Sodat jou tong gesond kan word, en sodat ons almal van harte saam kan sing: “Hy maak weer los my bande, Hy maak my tong weer vry; ek roem sy dade bly, die werke van sy hande.”
Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 18:1 en 14

Wetslesing + NT-weergawe

Sing Ps. 15:1-3

Gebed

Lees: Hebreërs 5:7-6:2

Teks: Jakobus 3:1-12

Sing Ps. 140:1, 2, 7, 11 (gif)

Preek

Amenlied Ps. 92:2, 6 en 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 139:2 en 12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.