God weet wat jy nodig het voordat jy dit self weet. God is die voorsiener. Ek hou van die naam wat God herhaaldelik vir Homself gekies het: “Verdediger van weduwees en ‘n vader vir die wese.” Dit is wonderlik dat Hy hierdie naam gekies het. Ek voorsien vir die wat nie kan nie. Ek voorsien vir die swakkes, die gebrokenes. Ek voorsien vir jou. As jy sy voorsieningheid raaksien. As jy Hom en sy Koninkryk bo alles waardeer, is dit onnodig om bekommerd en angstig te wees. Want Hy is ‘n God wat voorsien!
Soos die voëls van die lug wat kos versamel.
Dit het te doen met oormatige fokus op en besorgdheid oor sake waaroor God Homself betroubaar bewys het. Wat D A Carson sê, help: “Om oor sulke dinge te tob, verraai die verlies van geloof en verdraaiing van waardevoller verpligtings.”
Om te knies oor dinge asof God hulle nie kan hanteer nie, en asof God nie in beheer is nie, en asof God nie vertrou kan word om die dinge wyslik tot sy eie eer en ons ewige goed te bestuur nie, is sonde. Dit is egter normaal om bekommerd te wees oor skuld of moeites. Die vraag is waarheen jy daarmee gaan.
Moenie jou kwel asof God nie in beheer is nie.
Waaroor Jesus nie praat nie.
“Daarom sê Ek vir julle …” – dit lê ‘n verband met die vorige preek. Toe het ons oor skatte gepraat. En hoe die begeertes van jou hart jou lewensrigting bepaal. Hier sê Jesus dat jou skat in die hemel is. As die begeertes van jou hart iets is wat jy nooit gaan verloor nie, is daar niks om oor besorg te wees nie. Hier is die praktiese toepassing dat God jou hoogste skat is. Iemand kan sê: “Ja, God is vir my kosbaar!” Jesus sê: “Hoekom is jy dan so bekommerd oor alles? As God vir jou kosbaar is, sal jy Hom vertrou.”
Ons moet eers praat oor wat Jesus nié hier bedoel nie. Hy verwys NIE na ‘n traak-my-nie-agtige mentaliteit, asof niks saak maak nie, en ons niks ernstig moet opvat nie. Hy sê nie gaan sit op die srand, drink ietsie, luister na musiek, en hou jou mond oop sodat God iets daarin kan plaas nie. Nee, ‘n gesonde besorgdheid oor die toekoms, vir kos en drank, is ‘n goeie motivering om dit te soek.
Wat Hy wel sê, is dat bekommernis wat nie op God vertrou nie, uitgesny moet word. Angstige kommer, kwelling, die soort wat jou snags laat wakker lê en waarmee jy niks bereik nie. Daar is ‘n soort druk wat ons aanspoor tot gebed en werk, en ‘n soort kommer wat verlammend is en lei tot slapeloosheid. Hy praat van die tweede soort.
“Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?”
Jesus het self gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” En in die saligsprekings het Hy ons geleer wat die dinge is wat ons behoort te soek: geregtigheid, genade, vrede, reinheid. In hierdie hoofstuk praat Hy dan oor aalmoese. ‘n Vrygewige mens is in die algemeen nie ‘n angstige mens nie. Hy leer ons dan om eerstens te bid vir God se koninkryk, en deur te vas leer Hy dat die liggaam meer is as kos en klere. In sy onderrig oor skatte sê Hy weer vir ons om God te soek as ons hoogste skat. Weer en weer sê Jesus dat die lewe meer is as wat sigbaar is. Dit is baie groter as jou onmiddellike behoeftes. Dit is baie groter as jy, maar nie minder as die individu nie.
Ons herken dit almal. Sonder liefde gaan ons dood. Sonder verhoudings is ons so goed as dood. Ons het almal ‘n diep begeerte om liefgehê te word. Dit is ons diepste begeerte, selfs meer as ons behoefte aan kos en drank. Kos en klere staan slegs in diens van iets baie groter; of dit is wat hulle veronderstel is om te wees. As jou lewe oor klere of kos of geld gaan, lewe jy ‘n baie oppervlakkige lewe. Ons besef dit almal.
En om sy punt te bewys, gaan Hy verder en sê: “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle.”
Ek hou daarvan om na die voëls buite my venster te kyk, hoe hulle die nektar van die winterblomme drink. Ek sien hoe die voëls rondvlieg terwyl Jesus praat. As ‘n perfekte leermeester wys Hy na die voëls en sê: “Kyk daar! Sien jy die voëls? Hulle plant nie hulle eie kos nie. Hulle gebruik nie ploeë nie en gaar nie op in skure nie. Hulle het nie pensioenfondse, aandele of bankrekeninge nie, maar kyk hoe eet hulle! Julle hemelse Vader voed hulle.” Hy sê: jul hemelse Vader voed hulle. Ek hou daarvan: jul hemelse Vader – dit verwys na die gebed van die Here: “Ons Vader wat in die hemel is”. Jesus sê vertrou op Hom wanneer jy bid, Hy sal voorsien. Hy is die God van die voëls en Hy sorg vir hulle, maar Hy is jou Vader in Jesus Christus!
Weer eens, dit beteken nie moenie beplan of belê nie. Almal wat iets weet van voëls, sal bewus wees daarvan hoe hard hulle werk om die kos wat God voorsien, te verkry. Maar hulle bekommer hul nie daaroor nie. hulle is nie angstig nie. Maar hulle is getrou in die insameling daarvan.
As ‘n ouer die troeteldiere in die huis versorg, hoeveel te meer sorg hy nie vir sy eie kinders nie? Met ander woorde, as julle wat sleg is weet hoe om goeie gawes vir julle kinders te gee, hoeveel te meer gee die hemelse Vader nie goeie gawes aan dié wat Hom daarvoor vra nie.
Hoekom twyfel julle? Met ander woorde: “Is julle nie meer werd as hulle nie?” Geliefde kerk, is julle nie meer werd as hulle nie? Dit is ‘n retoriese vraag; die antwoord word geïmpliseer. Dit is baie duidelik: NATUURLIK IS JY! Die bewys lê in die feit dat die Een wat met hulle praat, die Een is wat die Vader se groot liefde toon. Bekommernis asof jou Vader nie die soewereine Skepper van alles is nie, is ongeloof. En boonop help dit niks.
“Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?” Angs is onproduktief. Ek het nog nooit gehoor dat stres aanbeveel word vir ‘n lang en gelukkige lewe nie. Byvoorbeeld: “Wat jy elke dag nodig het, is om wakker te word en te begin stres. Maak seker jy begin nie eers met gebed nie, of om gehoorsaam die werk te doen wat God jou gegee het. Stres eers, wees bang; dit is gesond; dit sal jou dag maak.” Nee! Dit is belaglik. As môre se probleme al is waaraan jy dink, sal jy nie vandag s’n kan hanteer nie, en sal jy nie die Vader se sorg vir die hede kan geniet nie. Ons Vader wag reeds vir ons in die toekoms. Navorsing het bewys dat stres nie ure toevoeg tot jou lewe nie, maar eerder ure wegneem.
“En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.”
Die Bybel wy hoofstukke aan Salomo se heerlikheid. Die tempel, die paleis, sy wysheid, sy militêre mag, sy rykdom. Die legendes oor hom was die wêreld vol. “Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie. Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het.” (1 Kon. 10:4-7)Nie eens Salomo in al sy weelde was beklee soos ‘n veldblom nie. Jy kan Jesus sien waar Hy deur die veld vol blomme stap wat deur sy Vader gemaak is.
Hy sien die eenvoudige maar verbluffende skoonheid van selfs een blom. Perfek ontwerp, ingewikkeld, broos, pragtig. Jesus noem dit, en gee ons nog ‘n les uit die skepping.
Let noukeurig op wat Hy hier sê. Iets wat net ‘n paar weke leef, word beklee met meer eer as Salomo. En nie ‘n veld vol blomme nie, maar EEN veldblom. Wat vandag bestaan en môre weg is, word met meer skoonheid beklee as Salomo in al sy glorie. Met al sy goud, al sy wysheid, al sy mag, al sy aansien. Hoeveel te meer sal Hy jou nie beklee nie! Dit gaan van die mindere tot die meerdere. As Hy die veldblomme so beklee, hoeveel te meer sal hy jou nie beklee nie! Dit gaan oor materiële versorging vir tyd en ewigheid.
Dit is pragtig. Dit is genade. Hy sê: God sal jou ‘n tuiste gee. ‘n Tuiste wat sy Seun nooit op aarde gehad het nie. Hy sal jou klee. Hy sal jou voed. Vertrou Hom. As jy materiële dinge bo God najaag, raak jy angstig. As jy ‘n visie het van God wat elke dag met jou is – nie soos ‘n polisieman wat wag dat jy val en in die moeilikheid beland nie – maar as ‘n liefdevolle Vader wat almagtig is, wat sy Seun gegee het, dan sal jy elke oomblik anders ervaar.
God beskou jou as een van sy kinders. Het het jou meer lief as wat jy jou kan indink. Soos Hy sy Seun liefhet. Jy is beklee met Christus se volmaakte geregtigheid, ons is syne in Christus, van ewige waarde.
Uiteindelik gaan dit daaroor dat jy die teenwoordigheid van God uitleef. Nou kan jy dalk antwoord: dit is maklik vir jou om so te sê, Dominee! Jy het ‘n werk wat tyd neem om te dink en te praat oor hierdie dinge. Ja. Maar ek sê dit nie vir julle nie. Jesus sê dit. En Hy het dit self ervaar. Jesus se lewe op aarde was ‘n lewe waar Hy honger geken het en geweet het hoe dit voel om nie ‘n plek te hê om sy hoof neer te lê nie. Sy sweet het gevoel soos druppels bloed, terwyl Hy verpletter was onder die gadagte dat Hy na die kruis moes gaan. Hy is die Een wat, terwyl Hy gesê het: “moenie bang wees nie”, ten volle bewus was van die kruisdood wat op Hom gewag het soos ‘n dodelike storm. As God hierdie soort aandag skenk aan iets wat na ‘n paar dae gaan ophou, hoeveel te meer sal Hy nie vir jou sorg nie, die een vir wie Hy sy Seun gestuur het.
Soos ons teks sê: “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?”Kleingeloof gebeur as ons nie op Jesus vertrou nie en nie ons lewe aan Hom toewy nie. Dieselfde woord is gebruik toe die dissipels bang was vir die storm terwyl Jesus geslaap het. En toe Petrus in die water wegsink, omdat hy bang was. Angs oorkom ons wanneer ons net na ons eie omstandighede kyk en nie na God nie. En daar is rustigheid as jy na God kyk ondanks jou omstandighede.
“Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” Hier is die tweede “daarom”. Om te vra na kos en klere is angstige vrae. Dit is nie soos om vir jou ma te vra wat ons gaan eet nie, maar om te vra: ís daar kos?
En weer: Jesus sê nie dat gesonde bekommernis sleg is nie. Die vraag is waarheen gaan ons daarmee, en wat doen ons met daardie stres. Werk ons harder, stres ons meer, raak ons gefrustreerd? Neem ons sake in eie hande? Of gaan ons op ons knieë om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. As God omgee vir die gras wat as oondbrandstof gebruik is, moet ons nie bang wees dat Hy nie ook vir ons, wat bestem is vir die ewige heerlikheid in Christus, sal sorg nie. God weet wat ons nodig het, glo my. Hy het jou gemaak. Hy het ons gemaak om hierdie dinge nodig te hê. Sal Hy jou dan nie ook voorsien van hierdie dinge nie?
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Die vraag is: wat kom eerste? Wat is die prioriteit in jou lewe? Ons is nie net materiële, fisiese wesens wat voortgespruit het uit ‘n enkele sel nie. Jy en ek is mense gemaak na die beeld van God. Geestelike skepsels. Geskape om God te verheerlik en van Hom te geniet vir ewig. Met ‘n gewete en ‘n sin vir moraliteit. Van reg en verkeerd. Ons is gefokus op verhoudings.
Die woord “geregtigheid” kom telkens voor in hierdie preek. Wat moet ons najaag? Geregtigheid kry gestalte in die alledaagse lewe. Die geregtigheid wat van God kom en wat ook na God wys. Daar is ‘n nuwe manier van lewe. Die regte en enigste manier van lewe. Hierdie geregtigheid is reeds in hoofstuk 5 vir ons uitgelê. ‘n Geregtigheid wat uit die hart vloei. Gaan lees dit weer, luister weer na die preke as jy wil. Die koninkryk van God wat gegrondves is deur ons Here Jesus Christus. Dit is die dinge waarvoor ons honger en dors moet wees! Nie eet en drink in die eerste plek nie. Dit is die dinge waarvoor ons bereid moet wees om ook vervolg te word, nie kos en drank nie. Dit is waar ons ons prioriteite moet regkry.“Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” Hier is die afsluitende “daarom” of “dus”. Elke dag het genoeg aan sy eie probleme.
Dit was die lewe van Jesus. Hy het elke dag pyn en hartseer geken. In werklikheid sou dit steeds erger word. Die magte teen Hom het elke dag gegroei. Hy het sy hemelse Vader vertrou vir daaglikse sorg, van die krip tot die kruis. As daar ooit iemand was wat geweet het dat elke dag se probleme genoeg is, dan was dit hierdie Man. Volg Hom. Hy sal genoeg genade vir elke dag voorsien. So sal jy elke dag groei in vertroue.
Bekommernis oor dinge waaroor ons geen beheer het nie, veroorsaak die meeste spanning. Soos die toekoms. Maar in plaas daarvan om ons daaroor te bekommer, laat ons liewer bid en daaraan werk om getrou te wees in die dinge wat ons wel kan beheer, soos die gedagtes van ons hart, en wat ons doen.
Ons Vader wag elke nuwe dag vir ons. En Hy gee ons elke oomblik die genade wat ons benodig. Dit is wat ons moet leer op ons reis na die beloofde Land. Dit is presies wat die kinders van Israel moes leer toe hulle getrek het na die beloofde land. God sou voorsien – altyd. Maar Hy sou nie vir môre voorsien nie, maar vir vandag. Soos die manna wat Israel in die woestyn ontvang het, voorsien God genade elke dag. Ons weet nie van die uitdagings wat ons in die gesig sal staar oor twee weke of twee jare nie, maar ons weet dat, wat dit ook al is, daar sal genade wees. Ons kan nie môre se genade voor die tyd kry nie, maar wanneer ons dit nodig het, sal God voorsien.
Liewe kerk, julle Vader in die hemel is ‘n God wat voorsien. Hy het jou lief. Jy is vir Hom meer werd as al die blomme van die veld. Jy is geklee in die klere van die geregtigheid van sy Seun. Hy beskou jou as sy eie seun. Sy eie dogter. Hy kán nie net voorsien vir liggaam en siel nie, maar in Christus is Hy ook gewillig om dit te doen. Sal jy Hom vertrou? En lewe getrou, soek sy koninkryk en geregtigheid. Selfs in hierdie tyd!
Amen.
Lees: Matthéüs 6 : 19 – 34
Teks: Matthéüs 6 : 25 – 34
Sing: Psalm 100
Psalm 105 : 22 – 24
Skrifberyming 17 : 1 – 3
Skrifberyming 17 : 4 – 6
Lied 273