Christus lê ons die woorde in die mond: Noem Hom "Onse Vader" en voeg daarby "wat in die hemele is"

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2022-11-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 46
Preek Inhoud: 

Die behandeling van die Onse Vader staan in die derde deel van die Kategismus, oor die dankbaarheid wat ons aan God verskuldig is.

Dankbaarheid is iets wat nie uit onsself kom nie.

Dit ontstaan deur die werk van die Heilige Gees.

Ons leer dankbaarheid in die skool van Christus, waar die Heilige Gees die onderwyser is.

Die dankbaarheid vir ons verlossing is nie ‘n teenprestasie wat ons lewer nie.

Maar, deur die krag van die Heilige Gees, werk ons aan ‘n nuwe lewe.

Ons is reeds verlos.

In die skool van Christus begin die heropbou van ons lewe.

Almal van ons, jonk en oud, is in Christus se skool.

Mens kan dit ‘n lewensskool noem, want ons bly op hierdie skool tot die dag wat ons sterf.

Op hierdie skool is die belangrikste vak: om te leer bid.

Hierdie vak is dus in vanaand se leerdiens aan die orde.

En om goed te leer bid, is die voorbeeldgebed wat Jesus ons gegee het, die Onse Vader, onmisbaar.

Ons begin vandag by die begin van hierdie gebed.

 

Tema: Jesus Christus lê ons die woorde in die mond:

1 Noem Hom: Onse Vader

2 Voeg daarby: wat in die hemele is

 

1 Noem Hom: Onse Vader

Hoekom leer Jesus ons om die gebed so te begin, daar is mos nog meer name vir God in die Bybel?

Byvoorbeeld: Skepper, of Regter, of HERE van die leërskare ...

Dis nie so dat Jesus ons verbied om hierdie ander name vir God in ons gebed te gebruik nie.

Maar hierdie benaming – Onse Vader – is tog wel die belangrikste.

Die woord Vader staan veral vir twee dinge:

  1. Vertroue;
  2. Ontsag.

Kinderlike ontsag.

Soos ‘n klein kind vir sy pa.

So kyk ons op na ons Vader in die hemel, Hy wat ons gemaak het.

Dink aan Deuteronomium 32:6: “Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?”

Maar behalwe vir ontsag, ook kinderlike vertroue.

‘n Kind besef, bewus of onbewus, dat sy pa sy lewe bepaal.

As alles goed gaan, dan groei hieruit ‘n diepgewortelde gevoel van vertroue.

Hierdie diepgewortelde vertroue is, volgens die Kategismus, ook aanwesig in ons gebed tot God.

‘n Mens wat bid, besef dat God sy hele lewe bepaal.

En hierdie besef dat jou lewe volledig in Iemand anders se hande lê, lei nie tot angs of onsekerheid nie, maar juis tot vertroue.

Soos mens byvoorbeeld in Jesaja se woorde proe:

“HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” (Jes 64:8)

Hoekom leer Jesus ons om God ons Vader te noem?

Omdat die verskil tussen ‘n mens en God so groot is, dat ontsag vanselfsprekend behoort te wees.

En, tweedens, omdat hierdie oneindig groot God so betroubaar is.

En omdat Christus Hom so goed aan ons openbaar het in sy Woord, dat Hy vir ons net so bekend word soos ons aardse vaders.

 

Nou is dit natuurlik so dat daar ook slegte vaders op aarde is, of vaders wat afwesig is.

Dit kan dit soms baie moeilik maak vir so ‘n kind om dan ‘n goeie voorstelling van hulle hemelse Vader te maak.

Tog kan en mag ons dit vanuit Christus se Woord doen.

Hy het die Vader geopenbaar, genoegsaam dat sy kinders hulle Hom in hierdie gebroke wêreld tog kan leer ken, vertrou en liefhê.

Uit wat Jesus in Lukas 11:13 sê, blyk dat Hy met die feit rekening hou dat daar op aarde nooit volmaakte vaders kan wees nie:

“As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader” dit nie doen nie ...

As die meeste aardse vaders, hoewel hulle sleg is, tog goeie gawes gee, des te meer julle hemelse Vader!

En wat so mooi is, wanneer ‘n kind opgroei, is sy eie pa vir hom dit wat ‘n pa behoort te wees.

Daaraan meet ‘n kind alle ander pa’s.

Maar soos wat ‘n mens groter word., en die Bybel steeds beter leer ken, leer ons dat ons eie pa – al is hy die allerwonderlikste pa – tog ook sondig is.

Ons leer wie die volmaakte Vader is, ons Vader in die hemel, aan wie elke aardse vader ‘n voorbeeld moet neem.

En soos jy as kind tot jou pa leer roep het, as jy in nood is, of dalk as jy bly is, soos jy leer roep het: Pappa, help! of: Pappa, kom kyk!

So, as ons opgroei in geloof, mag ons ook so tot ons hemelse Vader leer roep:

Abba! Vader!

 

Laat ons nie vergeet dat dit ‘n leerproses is nie.

Per slot van rekening, ons is in die skool van Christus.

Daar leer ons om met oorgawe Abba Vader te sê.

Laat ek ‘n voorbeeld noem.

As ‘n kind op latere leeftyd aangeneem word, dan is dit ook ‘n leerproses om te leer om sy nuwe ouers pa en ma te noem.

En soos ons gesien het, die woord vader, of pa, staan vir twee dinge: respek en vertroue.

Dit is twee dinge wat moet groei by die kind.

En van die kant van die nuwe pa moet hy ook laat blyk dat hy die vertroue werd is.

Dit kan soms ‘n hele tyd vat., voordat ‘n kind daardie vrymoedigheid het.

In ons verhouding met die HERE geld eintlik dieselfde.

Daar moet ‘n vertrouensband groei.

Tog is daar wel ‘n verskil.

Ons word nie as kinders aangeneem omdat ons vorige vader ons in die steek gelaat het, of omdat hy gesterf het nie, nee ons het self weggeloop.

Die oorsaak van die breuk, die oorsaak dat ons weeskinders is, lê aan onsself.

Dit is die verskil.

Maar Christus het uit ongevraagde genade die band herstel.

Ons was vervreemd van ons Vader, danksy Christus is ons weer terug by Hom.

Wetlik – juridies – is alles weer gereël, danksy Christus het ons weer ‘n Vader.

En Hy, ons hemelse Vader is ontsag en vertroue werd.

Ons mense van ons kant, ons wat in sonde geval het, moet egter ons kleingeloof, en ons rebelsheid, leer om agter ons te laat.

Christus leer ons dit in sy skool.

Om steeds meer God as ons Vader te erken en Hom te vertrou.

Soos dit so mooi in Jesaja 63 staan: “Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o HERE, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam.” (vers 16)

Ja Christus se Vader is ons Vader, en Hy is betroubaar.

“Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!” (Jes 49:15)

Broer, suster, is jy so ver om so vir jou hemelse Vader aan te roep?

Verstaan my nie verkeerd nie: julle is reeds sy kinders, dit staan juridies vas!

Maar hoe vorder jy in Christus se skool?

Hoe groot is jou ontsag vir jou Vader?

Vertrou jy Hom in elke opsig, deel jy met Hom elke skuilhoek van jou hart?

Broer, suster, werk bietjie met hierdie vrae die komende week, ter voorbereiding op die nagmaal.

 

Want in sy skool leer Christus ons nie net in die algemeen om Hom Vader te noem nie, maar spesifiek Onse Vader.

Daar is ’n band, jy behoort aan Hom.

Jy mag hom selfs my Vader noem.

Dink aan Psalm 89: “U is my Vader, my God en die rots van my heil! “ (vers 27)

Dit eerstens.

Maar tweedens, jy is nie die enigste kind nie.

Daarom roep ons Hom aan as onse Vader.

Met onse bely ons dat Hy baie kinders op aarde het, wat almal ons broers en susters is.

En saam bid ons tot Hom.

Dit is byvoorbeeld ’n goeie gewoonte om die Onse Vader tuis as gesin saam te bid.

Saam hardop op te sê, of saam te sing.

En dieselfde geld vir ons hier in die kerk, soos as ons byvoorbeeld met nagmaal saam die Onse Vader sing.

Daaruit spreek ook ons eenheid en verbondhenheid as broers en susters in die geloof.

(Tema: Jesus Christus lê ons die woorde in die mond:

1 Noem Hom: Onse Vader)

 

2 Voeg daarby: wat in die hemele is

Die Kategismus skryf hieroor: “Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie”.

Voordat ons dit behandel, net die vraag, hoekom staan daar in meervoud, wat in die hemele is?

Dit het te make met opvatting in daardie tyd.

Die lug van die wolke was die eerste hemel.

Die son, maan en sterre die tweede hemel.

En die troon van God, dit was die derde hemel.

Paulus skryf in een van sy briewe dat hy tot in die derde hemel weggeruk is (2 Kor 12:2).

En in Hebreërs 4 staan dat Christus as ons groot Hoëpriester deur die hemele (meervoud) deurgegaan het (vers 14), dit wil sê Hy het opgevaar tot die hoogste hemel, waar Hy op die troon van God plaasgeneem het.

As ons dus bid: wat in die hemele is, bely ons dat God se troon in die hoogste hemel is.

Vandaar sien Hy al die skuilhoeke van die aarde.

 

Mens sou jouself kon afvra: Is hierdie opvatting nie ouderwets nie?

Vroeër het die mense gedink die aarde is plat, met daarbo drie hemele.

Vandag weet ons dat die aarde rond is.

Is die hemel dan heeltemal rondom die aarde?

Gemeente, as ons die Bybel goed lees, kom mens gou agter dat, hoewel dit in die eerste plek geskryf is in die konteks van daardie tyd, vir mense van eeue gelede, dat dit glad nie wil sê dat die Bybel ouderwets is nie.

In Jeremia 23 staan daar:

“Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE. “ (vers 24)

Dus, ook al sit jy in jou binnenste binnekamer, ook al is die eerste hemel bedek met ’n dik pak wolke, ook al gee die tweede hemel geen lig op ’n maanlose nag, ook al is die aarde rond, nog steeds sien God elke mens.

Hy is alomteenwoordig.

Moenie te min van Hom dink nie.

Die Bybel leer ons dat die hemel sy troon is, maar selfs nog meer as dit.

Selfs die hemel kan Hom nie bevat nie.

Dit het koning Salomo erken toe hy die tempel gebou het.

God is dus nie gebonde aan ’n verouderde wêreldbeeld nie.

Iemand wat dit beweer, is self kortsigtig.

 

Ook word daar deesdae soms beweer dat dit nie meer moontlik is om te sê dat God almagtig is nie.

Mens sou byvoorbeeld net kon sê: Hy is heilsmagtig.

Hoe kan God almagtig wees as daar soveel onreg op aarde gebeur?

Hoekom laat Hy erge dinge in my lewe toe?

Eintlik staan God ook magteloos teenoor dit wat op aarde gebeur.

Maar, so word daar dan geredeneer, saam met God hoop ons op ’n beter toekoms.

’n Teologie van hoop, word dit dan genoem.

Wel, gemeente, hierdie soort idees begin mense te kry as hulle nie meer bid Onse Vader wat in die hemele is nie.

Die oomblik as ons God se almag in twyfel trek, as ons Hom as ’t ware ondertoe trek, uit die hemel, dan is ons Hom ook kwyt, dan hou ons nie meer ’n God oor nie.

Hoe meer menslik ons vir God in ons gedagtes maak, hoe minder kan ons van Hom vra en verwag.

Dan hou mense uiteindelik net ’n God oor wat met hulle medelye kan hê.

 

En hierdie is nie net teorie nie, gemeente.

Kerke waar God se almag nie meer bely word nie, loop leeg.

Mense het aan die einde van die dag niks aan so ’n medelydende God, wat nie almagtig is nie.

Uit onsself het ons dieselfde neiging, ons wil God ondertoe trek, en onsself verhef.

Ons is uit onsself nie beter as mense in liberale kerke nie.

Ons is nie beter nie, maar Christus is beter.

Laat ons tog net in sy skool bly.

Want daar leer Hy ons, deur sy Gees, om te bid: Ons Vader, wat in die hemele is, waarmee ons erken dat ons oor die hemelse majesteit van God nooit aards mag dink nie.

 

Om in aardse terme oor God te dink, dit was deur alle eeue die mense se sondige neiging.

Dink aan wat ons gelees het in Jeremia 23.

Juis omdat God in die hemel troon, is Hy naby, en is Hy nie magteloos nie.

Die profete van daardie dae het die mooiste woorde gehad, maar God noem dit leuens wat uit die hart van die profete opgekom het.

Want hulle boodskap het nie van Hom af gekom nie.

Hulle spreek sogenaamd in sy naam.

En daarom voer God ’n regsaak teen hulle.

Hulle ontkrag die Bybel, hulle kom met hulle eie idees.

Maar dit tolereer die Almagtige nie.

Sien vers 31-32: “Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie”.

So is ons hemelse Vader hoogs verontwaardig as ander die band tussen Hom en sy kinders aantas.

Hy sal dit nie tolereer dat valse profete sy kinders van Hom vervreem nie.

Sy skape sal by hierdie huurlinge weggaan, omdat hulle nie meer die stem van die HERE herken nie.

 

En wat dit betref is dit goed om hierby te voeg, gemeente, dat dit juis ook vir profete, en in ons tyd vir predikante geld, en vir teoloë, dat hulle ook ontsag moet hê vir die HERE en wat Hy spreek.

Juis by die mense wat in die oë van ander soveel oor God weet, pas des te meer eerbied.

Abraham het bekend gestaan as ’n vriend van God.

Maar sodra hy met God gepraat het, noem hy homself stof en as.

Genesis 18:27: “Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is. “

En Moses en Josua moes voor God se aangesig die skoene van hulle voete af uittrek.

Laat juis hulle wat bekend staan as ‘manne van God’ hulle plek ken.

“Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” (Jes 64:8)
Paulus sou later vir die Atheners sê, mense wat ‘n hele stad vol gode gehad het:

God word “nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.” (Hand 17:25)

En Prediker waarsku ons: “God is in die hemel, en jy op die aarde.” (Pred 5:1)

’n Mens het God nooit in sy mag nie, ook nie in die mag van die gebede van die gelowigste mense nie.

Ons gebede is nie iets waarmee ons God kan beheer nie.

In die gebed moet God nie by dit wat ons wil aanpas nie, maar ons by sy wil.

Laat u wil geskied ... sal ons later in derde bede sien.

 

So moet ons gebede steeds gekenmerk word deur ’n atmosfeer van groot ontsag.

Ook ons eie gebede, waar ons self die woorde kies.

Jesus se gebed, die Onse Vader, stel hier vir ons die regte voorbeeld.

Jy begin nie jou gebed sommer net sonder om God eers eerbiedig op sy Naam aan te spreek nie.

Jy val nie net weg met al jou versoeke nie.

Deur Hom die Almagtige te noem, Hy wat in die hemele is, herinner jy jouself ook om die regte, ’n eerbiedige houding aan te neem.

En, soos ons in die eerste punt gesien het, deur Hom aan te spreek as Onse Vader, mag jy weer onder die indruk kom van die groot voorreg om sy kind te wees, en volstroom met dankbaarheid vir sy Seun, Jesus Christus, wat ons kinders van dieselfde Vader gemaak het.

As God sy Seun vir ons gestuur het en in ons plek gestraf het, wie kan Hom dan nog wantrou?

Wie sal dan nog huiwer om van sy almag alles te verwag?

Hoe sal Hy wat self sy eie Seun tot in die dood verneder het om ons weer lewend te maak, ons ook nie alle dinge skenk nie?

Daarom mag ons met diepe dankbaarheid volgende week nagmaal toe kom, dankbaar vir die Vader se geskenk – sy eie Seun.

By Hom mag ons aan tafel skuif.

Met volle vertroue, maar tegelykertyd ook met diepe eerbied.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Jeremia 23:21-40 & Lukas 11:9-13

Teks: Aanhef van die Onse Vader (Heidelbergse Kategismus Sondag 46)

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Noem voorbeeld uit die Ou Testament waar gelowiges die HERE Vader genoem het.
  2. Vir watter twee aspek staan die woord Vader?
  3. Hoe kan iemand wat nie met ‘n aardse pa opgroei, sy hemelse Vader leer ken?
  4. Hoekom staan daar in die meervoud: “wat in die hemele is”?
  5. Hoe dikwels bid jy die Onse Vader saam met ander mense?
  6. Hoe begin jy gewoonlik jou eie gebede?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 89:11

Gebed

Skriflesing: Jeremia 23:21-40 & Lukas 11:9-13

Sb 19:1-7

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 46

Preek

Ps 33:10,11

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 33:1-3

Seën