Christus se onberispelike geregtigheid moet in die gemeente bly skitter

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-02-12
Teks: 
Filippense 3:5-9
Preek Inhoud: 

Preek: Filippense 3:5-9

 

Vanuit die Nuwe Testament is dit duidelik dat die Here Jesus die meeste gebots het met die Fariseërs.

Ook ‘n apostel soos Paulus, soos mens in sy briewe kan lees, het dikwels met hulle en diegene wat in hulle invloedsfeer was, swaarde gekruis.

Mens wonder soms hoe dit sou gewees het as dit anders was.

Soos ons in verlede week se preek gesien het, was die Fariseërs ‘n baie invloedryke beweging onder die Jode.

Hulle was die grootste godsdienstige party.

Hulle het ‘n houvas gehad op die gewone volk.

Die gewone volk het hulle gerespekteer.

Die gewone volk het na hulle opgekyk, omdat hulle Skrifkennis so groot was.

Omdat hulle in staat was om die wet so nougeset na te kom.

Omdat hulle die volk gehelp het om die Here se wil te doen, juis ook deur hulle ekstra bepalings rondom die wet, soos dit ook wel genoem is, ‘n veilige heining van ekstra bepalings rondom die wet.

Met as bedoeling dat mens nie per ongeluk die wet sou oortree nie.

As daar byvoorbeeld in die HERE se wet staan dat jy ‘n oortreder net veertig slae mag slaan (Deut 25:3), het die Fariseërs bepaal dat mens liewer by agt – of nege-en-dertig moes stop.

Want as jy per ongeluk verkeerd getel het, gee jy hom dalk een-en-veertig slae en oortree dan die wet.

So het die Fariseërs ‘n groot invloed op die volk uitgeoefen.

 

Tema: Christus se onberispelike geregtigheid moet in die gemeente bly skitter

 

Toe die Here Jesus met sy bediening begin het, het Hy ook vinnig agting onder die volk begin verwerf, veral as gevolg van die wonders wat Hy verrig het.

Dit het die aandag getrek, en vervolgens het die mense ook na Hom geluister en besef dat Hy met gesag praat.

Maar hulle het gou gehoor dat sy prediking tog anders was as die van die Fariseërs.

Jesus het daaroor ook nie twyfel laat bestaan nie.

Reeds aan die begin van sy bediening, dink aan die Bergrede, kritiseer Hy al openlik die Fariseërs (Matt 5:20).

Christus het dus nie, omdat hulle so invloedryk onder die volk was, na hulle guns geding nie.

 

Mens kan jouself afvra, sou dit nie dalk beter gewees het nie?

Sou dit nie beter gewees het as Jesus ‘n minder konfronterende houding aangeneem het, en ‘n oop gesprek met die Fariseërs aangegaan het?

Sou dit nie beter gewees het nie as Hy persoonlik hulle invloedryke leermeesters sou besoek het, soos byvoorbeeld Gamaliël.

As Hy sou verduidelik het dat, al het die Fariseërs ‘n bewonderenswaardige ywer vir die wet gehad, hulle tog op ‘n manier die punt mis.

Sou dit nie beter gewees het nie as Hy sodoende, deur sulke gespreksvoering, die Fariseërs as leiers van die volk agter Hom gekry het?

Gamaliël byvoorbeeld was ‘n wyse man, Hy sou seker wel na Jesus geluister het?

Sou dit nie gesorg het dat baie meer Jode tot bekering gekom het nie?

Paulus skryf later dat dit vir hom so pynlik is dat die Joodse volk so massaal hulle teen die Messias gedraai het.

Was dit nie ook dalk te wyte aan die konfronterende houding wat die Here Jesus van die begin af teen die Fariseërs aangeneem het nie?

Met die gevolg dat die Fariseërs baie anti-Jesus was, dat hulle selfs die volk met ekskommunikasie gedreig het, as hulle Jesus sou volg en bely dat Hy die Messias was.

Moet ons hierdie as ‘n baie tragiese verloop van omstandighede sien, wat anders kon gegaan het as dit anders aangepak was?

Gemeente, vandag gebeur dit ook nog dat ‘n kerk die verwyt kan ontvang om te konfronterend is.

Dat dit juis die mense afsit.

Is dit ‘n teregte verwyt?

 

Nou het ons in verlede week se preek gesien dat daar diepgaande leerverskille was tussen Jesus en die Fariseërs.

Al het die Fariseërs die naam gehad dat hulle noukeurig die wet nagekom het, het hulle die voorvaderlike oorlewering, die tradisie, verhef as net so belangrik as God se wet.

Geen, soos ons dit noem, sola Scriptura, nie.

Verder was hulle idee van ‘n Messias wesenlik anders as wat God se bedoeling was.

En hulle kon geweet het wat God se plan was, as hulle die Ou Testament nie selektief gelees het nie.

Juis hierdie skewe beeld wat hulle gehad het van die Messias, ‘n Messiasbeeld na eie wense, het veroorsaak dat hulle die ware Messias verwerp het, die Messias volgens God se wense.

 

Nou soos ons in ons teks gelees het, Paulus – vroeër Saulus – was self ook ‘n Fariseër.

Hy was nog jonk (Hand 7:58).

Hy was, sou ons vandag sê, in ‘n eliteskool.

Want Gamaliël, een van die mees geleerde en gerespekteerde Fariseërs, was sy leermeester.

‘n Suksesvolle toekoms het vir hom voorgelê as leier onder die volk.

Saulus was ook fanaties.

Tipies vir ‘n jongman, wat baie oortuig was van sy beginsels.

Gamaliël was nie so swart-wit nie.

Hy was ouer en wyser, sy advies aan die Joodse Raad was om die sekte van Jesus hulle gang te laat gaan.

Dan sou vanself blyk of hulle aanhang een of ander tyd sou opdroog.

Dink aan die sektes van Theudas en Judas die Galileër, het hy as vergelyking genoem.

Hierdie bewegings het vanself uitgesterf (Hand 5:34-42).

 

Saulus was egter anders.

Hy was ronduit fanaties.

Hy het, soos ons weet, die Christene vervolg.

Nie net in Jerusalem nie, maar tot in die buiteland.

Manne en vroue het hy geboeid na Jerusalem gebring.

Byvoorbeeld, vanaf Damaskus na Jerusalem is ‘n afstand van 300 km.

Geboeid met kettings moes die Christene sulke afstande loop in die brandende son van die Midde-Ooste.

Sou jy dit vir jou geloof oorhê?

Was dit alles wel die moeite werd?

Kan u verstaan dat daar Christene was wat gevoel het die kerk moes nie so anti die Fariseërs wees nie?

Hulle het mos dieselfde God gedien?

Hulle was mos ook baie ernstig oor hulle godsdiens?

 

So het die Fariseërs ‘n groot invloed uitgeoefen, selfs op die eerste gemeentes wat ontstaan het.

Die gelowiges het hulle nog steeds gerespekteer.

Selfs die apostels was soms bang vir hulle, byvoorbeeld die anders so onverskrokke Petrus (Gal 2).

 

Dit alles in ag genome, besef mens des te meer die wonder wat Christus verrig het, toe Hy Paulus tot bekering gebring het.

Die helder lig op pad na Damaskus.

Hoe Hy met hom gepraat het direk uit die hemel.

Hoe Hy Paulus blind agtergelaat het.

Hoe juis die gelowiges in Damaskus hom met liefde opgevang het.

Hoe hy daar weer sy sig teruggekry het.

Dit was alles Christus se werk.

 

En ons verhoogde Heiland het daarmee ‘n baie duidelike doel gehad.

As daar een Fariseër was waarvan mens dit nie sou verwag, dat hy so ‘n ommekeer sou maak nie, dan was dit Paulus.

Tog het dit gebeur, en die verbasing onder die Jode was uitermate groot.

En nie net onder die Jode nie, ook onder die Christene.

Hulle was aanvanklik nog maar skrikkerig vir hom.

 

Maar tog het Christus hom gekies, en dan nie net om die Evangelie voortaan aan sy volksgenote te verkondig nie, maar juis aan die heidene.

Dit sou sy spesiale opdrag word.

Waar Petrus soort van ‘n dominee onder die gevestigde kerkmense geword het – die Jode wat in God se volk opgegroei het – was Paulus ‘n sendeling wat na die heidene gestuur is.

Hierdie radikale omslag het net die feit beklemtoon dat Paulus nie self op hierdie idee kon gekom het nie.

Die afstand – leerstellig – vanaf ‘n fanatieke Fariseër tot ‘n prediker onder die heidene, en dat hulle ook ‘n plek in God se volk mag kry deur Christus, en dat hulle dan nie eers besny hoef te word nie, daardie leerstellige afstand was so groot, dit kan net verklaar word uit die feit dat Christus direk aan Paulus verskyn het.

Vergelyk ook hoe Christus ‘n buitengewone gesig aan Petrus laat sien het, om vir hom duidelik te maak dat die Outestamentiese spyswette in die nuwe verbond nie meer sou geld nie.

Hierdie geweldige groot veranderings het Christus heel persoonlik gelei, en dit om te voorkom dat die apostels ‘n afgewaterde, net ‘n halwe Evangelie sou begin verkondig.

En dit juis in die lig van die geweldige invloed wat die Fariseërs nog uitgeoefen het onder die Christenjode, en selfs op die apostels.

 

Christus het vir Paulus gekies.

Hy was ‘n onverdagte getuie.

Hy was nie, kom ons noem dit vir ‘n oomblik, ‘n half-Jood wat reeds met een been in die heidendom gestaan het nie.

Nee, skryf hy oor homself in ons teks: “Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër” (Fili 3:5).

Hy was, mens kan dit maar noem – pedigree – suiwer in sy afstamming en in sy leer as leerling aan die voete van Gamaliël.

Daar was niks in sy persoonlike omstandighede wat hierdie nuwe leer aantreklik sou maak nie.

Inteendeel, dit was ‘n totale ommekeer.

Dit het veroorsaak dat hy uitgestoot is.

Dit was onmoontlik vir hom om nog op die ou trant voort te gaan, gekombineerd met hierdie nuwe leer.

 

So het Christus hom geroep om as onverdagte getuie die Evangelie na die heidene te bring.

En, soos ons telkemale in Handelinge kan lees, die heidene was bly toe hulle hierdie blye Boodskap mog ontvang.

En die feit dat dit van ‘n volbloed Jood gekom het, dit het die boodskap nie verswak nie, maar juis versterk.

En so het Christus Paulus gebruik om hulle te bereik wat Hy vir die ewige lewe uitverkies het, ook uit die heidenvolke.

Paulus, wie se lewe 180% gedraai het, van ‘n fanatieke antichristelike Fariseër, na ‘n belyder van Jesus as die ware Messias.

En net so het Christus nog baie ander Fariseërs se lewens gelei om by die eerste gemeentes aan te sluit.

In hulle oorgang na die kerk was daar kontinuïteit, maar ook diskontinuïteit.

Hulle kennis van die Skrif, die Ou Testament, moes hulle nie oorboord gooi nie.

Dit was juis vir hulle onmisbaar, ook as Christene.

Terselfdertyd kon hulle nou heel die Ou Testament in die lig van sy vervulling in Christus lees.

Die wettisisme, die verwronge Messiasbeeld, die meerderwaardigheidsgevoel, wat so eie aan die Fariseërs in die algemeen was, dit moes hulle agter hulle laat.

Dit was nie altyd maklik nie.

Die Nuwe Testament bevat verskeie voorbeelde van die stryd wat daar in die eerste gemeentes gewoed het.

Die sogenaamde Judaïste, wat tog nog die suurdeeg van die Fariseërs in ‘n mate in die kerk wou vashou, of wat dit opnuut weer wou invoer.

Dit dikwels juis in reaksie op Paulus se werk onder die heidene.

Die feit dat daardie gelowige heidene nie besny hoef te geword het nie, nie die regte kos volgens die Ou Testament hoef te geëet het nie, dit was vir hulle net ‘n brug te ver.

Handelinge 15:5: “Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.”

So is die Nuwe Testamentiese briewe nog vol van voorbeelde waar daar teen die suurdeeg van die Fariseërs gewaarsku word.

Dieselfde geld ook vir Filippense.

Paulus begin hoofstuk 3 met ‘n waarskuwing teen die honde, die kwaadstokers, verwysende na hierdie Judaïste.

Hulle wat groot besware gehad het teen Paulus se heidensending, en dat hy hulle nie eens verplig het om besny te word nie.

 

En, gemeente, dit is nie toevallig dat al hierdie briewe ‘n plek in die Nuwe Testament gekry het nie.

Soos ons in verlede week se preek gesien het, dwalinge onder gelowiges ontstaan nie net wanneer kerkmense wêrelds begin dink en lewe nie, wanneer hulle makliker raak en minder gebooie nakom nie.

Dwalinge steek dikwels ook die kop op as kerkmense strenger begin lewe, allerlei reëls en tradisies en gewoontes normatief maak en ander gelowiges op grond daarvan begin beoordeel of hulle goeie gelowiges is.

Want dit was wat die Fariseërs gedoen het.

Jesus se dissipels het nie hulle toets geslaag nie, omdat hulle koringare op die sabbat gepluk het.

Selfs Jesus het nie hulle toets geslaag nie, omdat Hy op die sabbat iemand genees het.

 

Iets soortgelyks kan ook onder ons gebeur.

En ook al bely ons dan nog amptelik die Skrif alleen, Christus alleen, tog word die praktyk anders.

Die eerste stap daartoe is as ons nie meer besef hoekom ‘n sekere gewoonte of tradisie bestaan nie.

En dit gebeur dikwels as ouers nie mooi vir hulle kinders verduidelik vanuit die Skrif hoekom bepaalde dinge in die kerk gedoen word en ander dinge nie.

So is dit in ons geledere die gewoonte om nie op Sondag winkels toe te gaan nie, en nie te gaan uiteet nie.

Maar as ‘n maatjie van buite die kerk vir jou sou vra: Hoekom doen julle dit nie?

Is jy dan in staat om dit te verduidelik vanuit die Bybel?

Is jy in staat om te verduidelik wat die verskil is tussen hoe Jesus die vierde -, die sabbatsgebod toegepas het, en hoe die Fariseërs dit gedoen het?

Sodra ons dinge nie meer verstaan hoekom ons dit doen nie, dan kan daar twee dinge gebeur.

Of ons begin dit waardeloos te ag en gooi dit oorboord.

Of ons begin dit te sien as ‘n, soos dit heet, identiteitsmerker, wat ons onderskei van die wat buite ons gemeenskap is, van hulle wat nie so streng, so ‘goed’, soos ons is nie.

 

Nog ‘n voorbeeld is byvoorbeeld Psalms sing.

Hoekom sing ons veral Psalms, en nie ook Gesange, terwyl die Bybel dit nie verbied nie?

Is dit om ‘n ekstra hekkie om die erediens te bou, sodat ons nie dalk oortree nie?

Dis nie om die Psalms in diskrediet te bring nie.

Net soos Jesus nie die Sabbat in diskrediet wou bring, deur Homself nie aan die Fariseërs se beperkings te steur nie.

Inteendeel!

Christus ag die sabbat hoog, maar dit is nie sinoniem aan al die reëltjies van die Fariseërs toe te voeg nie.

So hoef die feit dat mens Gesange sing nie ons hoogagting vir die Psalms weg te neem nie.

En dan praat ek nog nie eens oor Sondag nie, maar selfs deur die week.

Nie by die huis nie, nie op Bybelstudievereniging nie word daar meer Gesange gesing nie.

En as iemand dit doen, word daar ‘n opmerking gemaak: Sing jy Gesange? Is dit wel reg?

En op ‘n Gereformeerde skool behoort nie Gesange gesing te word nie, tog?

Anders is dit mos nie meer ‘n Gereformeerde skool nie?

Ons het bang geword om vir die Here te prys, want daar is streng mense wat ons dalk oor die vingers gaan tik as ons dit doen.

Pleks van om bly te wees en mekaar aan te moedig om voort te gaan om God te loof met psalms, lofsange en geestelike liedere (Kol 3:16).

Ons dink aan wat die streng mense gaan dink, nie meer wat die Here oor ons dink nie.

Natuurlik bly dit belangrik om goeie Gesange en nie ook slegtes te sing nie.

Maar gesing moet daar gesing word.

Dit het die volk destyds verlam, op hulle tone laat loop, met die Fariseërs wat heeltyd op hulle gelet het.

En dit kan vandag ook gebeur.

So kan dit gebeur, net soos Jesus die Fariseërs verwyt het, dat julle wat die muggie uitsif, die kameel insluk (Matt 23:24).

Die muggie is die potensiële gevaar om ‘n gesang te sing.

Die kameel is dat ons glad nie meer sing nie.

Die muggie word belangriker as die kameel.

Die potensiële gevaar van ‘n gesang erger as die feit dat ons glad nie meer sing nie.

Soos destyds die gevaar was dat iemand dalk ietsie meer as ‘n sabbatsreis sou aflê, of die indruk sou wek dat hy werk omdat hy ‘n paar koringare pluk terwyl hy wandel, of ‘n vrug van ‘n boom af pluk, dit was die muggie.

Maar die kameel was dat die dankbaarheid vir die Sabbat by die agterdeur uit verdwyn het.

 

Paulus het die eerste gemeentes gewaarsku: “vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos” (Titus 3:9; sien ook 1 Tim 1:4).

Die agtergrond vir hierdie waarskuwing was die suurdeeg van die Fariseïsme wat in die eerste gemeentes werksaam was.

So kan die Fariseïsme, makliker as wat ons dikwels besef, ‘n vrugbare teelaarde onder kerkmense vind.

 

Gemeente, Paulus was ‘n geskenk van Christus aan die eerste gemeentes.

Nie net vir die heidene nie, ook vir die gelowiges uit die Jode.

As geen ander het hy ‘n neus gehad om die suurdeeg van die Fariseërs uit te ruik.

Deur sy briewe het Christus sy kerk van die nuwe bedeling, wat nog in hulle kinderskoene gestaan het, bewaar.

Deur sy briewe bewaar Christus ook ons gemeentes vandag net so veel teen hierdie suurdeeg.

 

Paulus het sy aansien onder die Jode en onder die Fariseërs, prysgegee, hy het dit selfs as drek beskou.

Hy skryf in ons teks:

“Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; wat ywer betref, 'n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.”

Ja al daardie strengheid en onberispelikheid verskyn soos mis voor die son, as dit met Christus se geregtigheid vergelyk word.

Ja dit is selfs drek!

Paulus kon dit nie sterker gestel het nie.

Maar so is dit gewoon.

Dink aan laasweek se preek.

“as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.” (Matt 5:20)

Vir Christus se alleroorvloedigste geregtigheid sal ons alles prysgee, om Hom as wins te verkry!

 

Ek het die preek begin met die vraag of die baie konfronterende houding van die Here Jesus teenoor die Fariseërs nie te hard was nie.

Was dit nie mede die rede hoekom die Joodse volk, wat die Fariseërs hooggeag het, so massaal teen Jesus gedraai het nie?

Wel, dis duidelik, ons Here Jesus maak nie foute nie.

Maar verstaan ons wel hoekom Hy so konfronterend teenoor die Fariseërs was?

Besef ons wel genoeg hoe gevaarlik hulle suurdeeg vir ‘n gemeente kan wees?

 

Geliefdes, Christus se onberispelike geregtigheid moet in die gemeente bly skitter.

Ek hoop dat dit uit die preek duidelik geword het dat Paulus se boodskap in ons teks, en in soveel briewe wat deur die Heilige Gees ‘n plek in die Bybel gekry het, dat hierdie boodskap nie gedateerd is nie, maar nog net soveel vir ons te sê het.

Ek hoop dat hierdie preek u ‘n bietjie meer insig gegee het in die suurdeeg van die Fariseërs, en hoe dit ongemerk ‘n kerk kan binnekom, dikwels met die beste bedoelings,

Paulus, juis vanweë sy agtergrond, het dit haarskerp raakgesien.

In opdrag van die Gees het hy daarteen gewaarsku.

Christus het hom gebruik as instrument om sy gemeentes daarteen te beskerm.

En so gebruik Christus vandag se teks, saam met al die ander gedeeltes uit die Bybel wat in hierdie preek aan die orde gekom het, nog steeds, ook om sy kerk te bewaar.

Laat ons bly drink uit die bron van Christus se alleroorvloedigste geregtigheid.

Laat sy onberispelike geregtigheid in die gemeente bly skitter.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Filippense 3; Handelinge 26

Teks: Filippense 3:5-9

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat was die verskil tussen die Fariseër Gamaliël en Saulus, toe hy as jong man ook ‘n Fariseër was?
  2. Hoekom was die Here Jesus nie meer akkomoderend na die Fariseërs toe nie?
  3. Paulus skryf in die teks, as deel van sy waarskuwing teen die Judaïste, dat hy nie gered is uit die geregtigheid wat uit die wet is nie. Hoekom skryf hy dit?
  4. Ken jy ‘n voorbeeld waar die ‘suurdeeg van die Fariseërs’ in ons gemeente probeer inkom?
  5. Is daar iets in jou lewe waarteen jy moet stry, omdat die ‘suurdeeg van die Fariseërs’ daarin sigbaar word?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 86:6

Gebed

Skriflesing: Filippense 3

Sb 35:1

Skriflesing: Handelinge 26

Sb 35:2

Teks: Filippense 3:5-9

Preek

Ps 97:7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 138:1-3

Seën