In die volgende hoofstuk gaan ons kyk na die werk van die Heilige Gees waar Hy, deur die prediking van die evangelie, Christus en Hom as gekruisigde voorstel. Hierdie gedeelte handel oor prediking. Ek het dit ’n paar keer oorweeg om hierdie hoofstuk in een preek te bespreek of in drie aparte preke. En ek het uiteindelik op twee besluit. Hoekom een preek? Want hierdie hoofstuk is een geheel. Dit praat oor die prediking van ’n gekruisigde Christus (verse 1-5), wat deur die Gees aan ons geopenbaar word (verse 6-13), en aanvaar word deur diegene wat deur die Gees vervul is (verse 14-16). Hierdie hele hoofstuk gaan dus oor prediking. Die prediking van die dwaasheid van die kruis, in die goddelike krag van die Gees, wat die harte en verstand oopmaak om Christus te ontvang.
Een geleerde sê: “Is dit nie tyd om ons behoefte aan goddelike krag in ons prediking te bely nie? [...] Ons verlang daarna om vervul te word met die Gees, gelei, gehelp, geheilig en geleer te word deur die Gees. Ons smag daarna om deur die Gees te wandel, vrug te dra deur die Gees, in die Gees te bid en in die krag van die Heilige Gees te preek. Ons buig laag voor God en vra vir sy bonatuurlike teenwoordigheid op elke vlak van ons lewe, insluitend ons prediking, tot sy eer in ons geslag.” Hierdie Gees, met wie ons graag vervul wil word, werk deur die prediking van die Evangelie, soos ons in Sondag 25 bely.
Die verkondiging van die gekruisigde Christus:
1. Predikant
2. Prediking
3. Krag
Die Predikant
“En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie”. Hy het ’n manier van prediking aangeval wat die aandag op die persoon eerder as op die onderwerp gevestig het. Almal het die kuns van die vak aangeleer, soos: “Hoe om ’n skare se aandag te behou en hulle te vermaak”.
Die predikant preek wel vir die kerk op die wêreld se manier. Ek is nie ’n motiveringspreker nie. Ek is nie hier om jou hierdie week tot groter hoogtes te inspireer nie. Ek is nie hier om ’n “ted talk” te hou sodat jy ’n bietjie nuttige inligting kan kry nie. (As jy nie weet wat dit is nie, kan jy dit later naslaan.) Paulus het nie gekom met ’n lys van tien dinge wat jou lewe sal verander nie.
Die werk van die predikant is nie om die gehoor tevrede te stel of ’n persoonlike styl van prediking te skep nie. Hy kom nie met prag en praal terwyl hy applous verwag nie. Hy verwerp alle prediking wat daarop gemik is om indruk te skep. Daar kan ’n hele groep mense wees wat na die preek huis toe gaan en sê: “Sjoe, dit was kragvol”, sonder dat hulle ooit deur die Heilige Gees van God aangeraak is. Die effek van prediking word gesien in die vrug van ’n lewe wat verander het, nie in iemand wat sê: “Sjoe, dit was kragvol” nie.
Daarom herhaal hy later in vers 4 en sê: “en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag”. Hierdie woord ‘oorredende’ kom net hier in die Nuwe Testament voor en het blykbaar meer van ’n negatiewe konnotasie. Soos ‘aanliklik’. Dit is nie dat hy nie bekommerd is oor die waarheid of om hulle van die waarheid te oortuig nie. Hy glo eenvoudig die waarheid sal vir homself spreek. Hierdie woorde van Paulus het diep wortels in Bybelse tradisie ... Moses het aanspraak gemaak op ’n gebrek aan welsprekendheid (Ex. 4:10); Jesaja was onrein van lippe (Jes. 6:5); Jeremia was te jonk om in die openbaar te praat (Jer. 1:6). In elke geval lê die krag van die spreker nie in hom nie, maar in die waarheid van God se woord wat deur die Gees geopenbaar is.
Retoriek was die basis van opvoeding en geloofwaardigheid in Paulus se wêreld. Dit was die sosiale skeidslyn tussen die hoër klas van slim, cool (aansienlike) mense en die laer werkende klas van eenvoudige, gewone mense. Gehore het die slim gebruik van argumentasie of taal toegejuig as dit hulle aandag kon behou, of nog beter – as dit hulle kon vermaak.
Ons sien dit vandag in advertensies, in politieke partydigheid, in manipulerende regsargumente, in TV-geselsprogramme wat die ure vul met woorde, sonder om iets te sê, in die programme van laatnag-komediante, in popmusiek en danse wat absoluut niks sê nie behalwe as om op ’n manier tog ons aandag te hou. Hoeveel keer was jy nie al voor die skerm vasgenael om na 30 minute te besef dat dit net ’n mors van tyd was? Kommunikasie word professioneel gedoen, en dit werk. Hoekom? Want dit gee jou wat jy wil hê. Dit gaan oor jou. En die sondige natuur voed daarop. Dit plaas jou in die middel. Die wysheid van die gierigheid was die subtiliteit van Sokrates, die elegansie en skoonheid van Afrodites, en die krag van die Olimpiese mededingers. Dit het gegaan oor slimheid, krag en styl.
Maar daar is ’n probleem: dit gaan alles oor selfvertoning vir selfverheerliking; dit is mensgesentreerd. Maar let wel: Paulus was ’n begaafde, welsprekende, versigtige, passievolle, geleerde, fassinerende man, maar hy het die verskil geken tussen om Christus te verkondig en om groot te praat. Hy het die verskil geken tussen om dissipels vir Christus te wen en om aanhangers na homself te lok. Die Christendom het baie aanhangers, maar min ware dissipels. Hy het die verskil geken tussen die verspreiding van die evangelie en die stempel van sy eie herkenbare manier om dit te sê. Hy het die verskil tussen die Gees en die vlees geken.
Die predikant moet in ’n sekere sin besluit om homself te kruisig. Of soos Paulus sê: “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” Die werkwoord ‘voorgeneem’ is belangrik. Dit was ’n bewuste keuse van Paulus.
En sy keuse was om Christus en Hom as gekruisigde te verkondig. Christus as gekruisigde het óf ’n predikant se slagspreuk, ’n teologiese onderwerp óf ’n godsdienstige ornament geword. Maar in Paul se wêreld was dit die aakligste metode van teregstelling wat bekend was. Bedoel vir slawe en diegene wat hoogverraad gepleeg het. Toe Paulus aanhou om van Christus te preek en Hom as gekruisigde, het hy gepraat van Jesus se dood 20 jaar vroeër. Daar was die onmiddellikheid van tyd, die afgryse van die details en die diepte van vernedering wat moeilik is om selfs vandag voor te stel. Om te verkondig dat die almagtige ewige Seun van God, die gesalfde Messias, gekruisig is, was om minagting van Jode en Grieke uit te lok. Dit was dwaas.
Die reaksie van die Grieke op die boodskap van die kruis word vasgevang in ’n rowwe tekening op ‘n muur in Rome uit die 3de eeu. Dit is ’n prentjie van ’n dwase jongman wat ’n gekruisigde man met die kop van ’n donkie aanbid. Onderaan staan geskryf: “Alexamenos aanbid sy god”. Met ander woorde, ’n dwaas wat ’n gekruisigde dwaas aanbid.
Tog het Paulus besluit om die kruis te verkondig. Hoekom? Omdat hy weet dat die kruis die krag van God en die wysheid van God is. Dit is die krag van God, want slegs die kruis maak vergifnis moontlik, slegs die kruis gee die geregtigheid van God, slegs die kruis gee die ewige lewe. En dit is die wysheid van God, want slegs by die kruis leer ons God regtig ken. Hier word ons van aangesig tot aangesig gekonfronteer met wie ons is en wie God is. En dit werp die wêreld se wysheid omver. Dit openbaar presies wie die Meester van die heelal is: nederig, selfopofferend, teer van hart, wat ly vir en saam met die skepsels wat Hy gemaak het. Trotse Jode en hooghartige Grieke het gespot oor die idee dat God so kan wees. Moslems spreek hul verontwaardiging daaroor uit dat God nederig van hart kon wees, soos geopenbaar in die kruis. Dit is die boodskap wat die predikant gee.
Die boodskap en predikant kan dus slegs in en deur God se krag slaag. ‘n Predikant wat nie saam met Christus gekruisig is nie, slaag slegs deur menslike krag. Soos een predikant sê: “As ons alles in ons vermoë doen om mense te lok, en nie Christus as aantrekkingskrag gebruik nie, bou ons kerke wat gegrond is in die swakheid van menslike krag en die dwaasheid van menslike genie – wat fondamente van sand vir die toekoms is. Maar sterk kerke, rotsvaste kerke wat in enige omstandighede kan staande bly, is ’n wonderwerk van die Heilige Gees, wat slegs gekruisigde predikante bemagtig.” Sterk kerke oorleef daarom enige predikant.
Ons moet daarop let dat Paulus nie argumenteer vir een of ander anti-intellektualisme nie. Glad nie. In plaas daarvan, soos een verklaarder sê: “Sy vaste voorneme was dat hy net dit sou doen wat die evangelie van Christus as gekruisigde eer, ongeag mense se verwagtinge.”
Die predikant moet kan sê: “Ek wil nie ’n nalatenskap nalaat nie. Ek gee nie om of hulle my onthou nie. Hulle moet net vir Jesus onthou.” Ek het nou die dag by iemand gekuier wat iets uit ’n preek aangehaal het en toe noem die persoon dat hulle nie kan onthou wie se preek dit was nie. Ek hou daarvan.
Paulus gaan voort: “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing.” Hoekom? Omdat hy bang was vir die mense? Omdat hy gebewe het oor wat hulle gedink het? Nee, maar hy was gebroke. Hy het daar aangekom net nadat hy in Athene bespot is. En hy het alleen daar aangekom; Timotheüs en Silvanus het eers later na hom toe gekom. Paulus was so angstig dat die Here snags in ’n visioen verskyn het en hom aangemoedig het om nie bang te wees nie. Hy moes uitsluitlik op God vertrou.
En uiteindelik was dit uit vrees vir God dat hy gebewe het. Hy het die grootsheid van die boodskap en die kleinheid van die mens geken. Dit het weer alles oor die boodskap gegaan. Paulus het voor konings en regters gestaan. Hy het voor skares gestaan wat hom wou vermoor. Dit was in die vrees van God dat hy gebewe het. Hierdie vrees en bewing lê in sy verantwoordelikheidsbesef voor God om God se roeping te vervul om ’n effektiewe boodskapper van sy genade te wees.
Hy is nie ’n verhoogkunstenaar nie, hy is ’n predikant. ’n Verhoogkunstenaar dink na ’n rukkie “hy het dit”. ’n Predikant dink nooit so nie. En sodra hy dit doen, is dit tyd om van die preekstoel af te klim. ’n Predikant betree altyd die preekstoel met ’n gevoel van vrees en bewing – bewus van sy eie sonde, en bewus van God se heiligheid.
Die Prediking
Wat doen ’n predikant? Paulus het gekom om “die getuienis van God te verkondig”. Hy staan as enigste getuie – hy verwys na werklike historiese gebeure in tyd en ruimte, wat ewige gevolge vir elke lewende siel inhou. Hy wys weg van homself en wat hy doen – na wat God in Christus Jesus gedoen het. ’n Getuie staan nooit sentraal nie – hy wys altyd na iemand anders.
En wat is hierdie getuienis van God? Dit is “Jesus Christus, en Hom as gekruisigde”. Of dit kan beter vertaal word as: “Christus en hierdie man gekruisig.” Dit is die kruis wat ons verkondig. Dit is die kruis wat die middelpunt van die geskiedenis is – en die realiteit van die verlede, hede en toekoms verander. Dit is by die kruis waar die volheid van God se karakter geopenbaar word. Dit is die kruis waarin ons roem.
Dit klink so onlogies – glorie in ’n teregstelling met bloed!? Ja! Daar is my sondes geoordeel! Daar is my skuld betaal! Daar is die Sonde, Dood en Satan vir altyd oorwin! Daar het die goeie nuus vir ’n verlore mensdom – wat met Kersfees aangekondig is – bewaarheid geword. Die kruis wat ons vandag in staat stel om goed te ly, om goed te veg, om goed te hardloop, om onsself te verloën, en om Hom te volg, om ons lewe te verloor, en in die proses te red.
Die werkwoord maak dit duidelik dat dit ’n eenmalige gebeurtenis met voortdurende historiese betekenis is. Dit is nie net ’n gebeurtenis wat eeue gelede gebeur het en niks te make het met vandag se lewe nie. Dit was op daardie dag wat jou wêreld begin het. Jy was daar. Jy is saam met Hom gekruisig. ’n Nuwe mensdom is gekoop en verlos en het op daardie dag begin. Paulus sê: “Ek is saam met Hom gekruisig.”
Een skrywer stel dit duidelik wanneer hy sê: “Die evangelie wys na ’n bebloede massa van gekruisigde vlees wat skaars herkenbaar is as ’n mens, en dit sê vir ons almal: ‘Daar is die genesing van al jou wonde. Daar is die bevrediging van al jou begeertes. Daar is die wysheid vir elke vraag wat jy vra. Daar is die oorwinning wat ’n nuwe toekoms vir die hele heelal sal oopmaak.’ Die bes bewaarde geheim in die wêreld vandag is dat lewe uit sy dood kom, vreugde uit sy hartseer, krag uit oorgawe, grootheid uit die alledaagse, geleentheid uit terugslae. Jesus is die paradoks. Jesus het aan sy kruis gehang en uit sy graf opgestaan en die wysheid van God se dwaasheid en die krag van God se swakheid bewys.”
Hy het die leeu van Juda geword deur die lam te word wat geslag is. Dit is pragtig hoe Openbaring hierdie beelde vermeng in Openbaring 5, waar hy in die bestek van twee verse die leeu van Juda en die lam wat geslag is, genoem word.
Hierdie boodskap pas nie by ons tyd nie. Dit pas nie by ’n sondige mensdom wat glo dat hulle opswepers is nie. Maar dit is die boodskap van hoop vir diegene wat sterf.
Dus vra ek weer, soos laas keer: Waarvoor kom jy kerk toe? Kom jy desperaat hierheen om Christus te hoor? Dit was die aand van 2 Julie 2017 toe ek vir die eerste keer as julle leraar op hierdie preekstoel gestaan het. Ek het hierdie teks verkondig. Dit is wat ek toe gesê het, en ek wil julle daaraan herinner, sodat julle kan aanhou om my aanspreeklik te hou.
Hier is ’n aanhaling uit daardie preek. “Dit is die boodskap (Die boodskap van die kruis) waarop ek steeds weer sal terugkom terwyl ek hier is. Op hierdie eerste dag van my bediening verbind ek my aan elkeen van julle dat ek vasbeslote is om Jesus Christus en Hom as gekruisigde te verkondig. En ek wil hê julle – as kerk en leierskap – moet my aanspreeklik daarvoor hou dat ek nie ’n skouspel maak van enige ander kennis as hierdie kennis nie, dat ek niks anders verkondig, en die kennis van niks anders ontdek nie as dié van Jesus Christus en Hom as gekruisigde, opgewek en verhoog. Christus, en sy werk, is die middelpunt en inhoud van die evangelie, en moet die hoofonderwerp van ’n bedienaar se prediking wees. My roeping is om die vaandel van die kruis te vertoon en mense daaronder uit te nooi. Om ’n lewe te leef volgens die kruis.”
Paulus het onvoldoende gevoel. En hoekom nie? Dit is God se strategie vir die menslike geskiedenis om daardie ontoereikendheid bloot te lê en dit dan met Jesus te vervang. En in Hom is die krag van die lewe. Die opgestane lewe het deur sy dood gewen.
Die Krag
Paulus het sy boodskap nie met verleidelike woorde verkondig nie, maar “in die betoning van gees en krag”. Hierdie demonstrasie van die Gees en van krag staan in kontras met die “oorredende (aanneemlike) woorde van menslike wysheid”.
Hierdie woord word net een keer in die Nuwe Testament gebruik – en dit verwys na ’n tipe bewys – ’n demonstrasie dat iets oortuigend is. En wat het hierdie kruisvormige boodskap oortuigend gemaak? Dit was gesien in die werk van die Gees en van krag – dit het in die resultate gelê. Nie in die persoonlikheid van die predikant nie, maar in God die Heilige Gees. Die bewyse daarvan lê in veranderde lewens, lewe as deel van ’n veranderde gemeenskap.
En alhoewel ons volgende keer baie meer hierop sal ingaan, laat ek nou net sê dat die krag van prediking in die werking van die Gees gevind word. Die Gees beklemtoon Christus se werk. Geen menslike krag kan daardie rotsvaste sekuriteit skep wat ’n mens het wanneer jy jou geloof in Christus en Hom as gekruisigde plaas nie. Geen menslike krag kan die krag van die Gees van God vervang wat die gedagtes van God aan ons openbaar nie. Geen menslike krag kan mense die moed gee om op te staan teen die kosmiese magte van hierdie huidige duisternis nie. Geen menslike krag kan die hart verander nie. Geen menslike krag kan ’n volk uit elke taal, stam en nasie saambind nie. Die feit dat hierdie dinge gebeur, is ’n bewys dat die Gees van God aan die werk is deur die prediking van die evangelie.
Maar geen oortuiging sal iemand skuldig bevind tot die mate dat hulle ’n besluit sal neem wat die gang van hul lewe sal verander nie. Dit is nie net gedragsverandering nie, maar hartsverandering. Die hartsverandering is ’n bewys van die Gees se werk, nie dié van die predikant se oorredingsvermoë nie. Die Gees bewys, soos net God met absolute oortuiging kan, dat Christus wat gekruisig is die wysheid en krag van God is, en dat alles maar net stof in die wind is – volslae dwaasheid en swakheid.
En die eindresultaat is “sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.” Dit is sodat jou geloof nie afhang van die predikant se tegniek, sy oortuigingsvermoë of sy elegansie nie. Moenie dit dink nie. Luister na die Woord van God!
As jou geloof vandag in die krag van God rus, is dit veilig. Jou geloof is die bewys van die Gees se krag in die prediking. Let wel: Ek het gesê geloof is die bewys van die krag van die Gees. Nie – soos baie charismate sal argumenteer – die spreek in tale of genesing of een of ander gawe nie! Nee, in die konteks van 1 Korinthiërs is dit duidelik dat geloof in Christus as gekruisigde die positiewe bewys van die Gees se krag is.
Waar rus jou geloof? Mag dit rus in Christus, “die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”
Amen.