Die Dordtse Leerreëls vertel die verhaal van God se liefdevolle omgang met sondaars...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2023-03-12
Teks: 
DL 1:1-6
Verwysing: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

As ‘n mens die Dordtse Leerreëls met een woord sou moes saamvat, dan is my vermoede dat dit vir die meeste van ons die woord ‘uitverkiesing’ sal wees. En jy sal nie heeltemal verkeerd wees met daardie antwoord nie; die leer van die uitverkiesing speel inderdaad ‘n sentrale rol in die Dordtse Leerreëls. Maar in daardie einste een-woord-antwoord – en kom ons wees eerlik: dikwels strek ons kennis van die Dordtse Leerreëls nie veel verder as daardie een woord nie – in daardie einste een-woord-antwoord lê helaas ook die groot krisis van die Dordtse Leerreëls. Want dit is daardie een-woord-antwoord wat so baie gelowiges in onsekerheid oor hulle ewige saligheid dompel; dit is daardie een-woord-antwoord wat so baie Christene laat rondkrap in dinge wat die Here nie vir ons geopenbaar het nie; dit is daardie een-woord-antwoord wat baie ongelowiges – en let maar op: veral ongelowiges wat opgegroei het in kerke van gereformeerde belydenis, maar later die geloof verloën het – wat daardie ongelowiges die spot laat dryf met ‘Gereformeerdes’ en ‘Calviniste’, en met die harde leer van die uitverkiesing en die verwerping, en met die onregverdige en wispelturige God wat sommiges kies en ander laat brand. Dit alles is, helaas, die gevolg van daardie een-woord-antwoord – en dit is so jammer en so onnodig. Want die Dordtse Leerreëls self gee geen rede hiervoor nie; die Dordtse Leerreëls self laat nie toe dat dit tot ‘n enkele woord (‘uitverkiesing’) gereduseer word nie; die Dordtste Leerreëls self is baie ryker en baie meer pastoraal as wat ons dikwels vermoed. En in vanaand se eerste preek oor hierdie derde – en mees onbekende – van ons Drie Formuliere van Eenheid wil ons kyk of ons verder kan kom as net ‘n een-woord-beskrywing.

Tema: die Dordtse Leerreëls vertel die verhaal van God se liefdevolle omgang met sondaars...

  1. Die verhaal
  2. God se omgang

 

1. Die Dordtse Leerreëls is anders as die ander twee belydenisgeskrifte wat saam deel vorm van die Drie Formuliere van Eenheid. Net om almal se geheue te verfris [sien preekblad]: ons het as kerke in totaal 6 belydenisgeskrifte, verdeel in 2 groepe – die Ekumeniese Belydenisgeskrifte (die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius) en die Drie Formuliere van Eenheid (die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls). En wanneer ons fokus op hierdie tweede groep, dan sien ons ‘n duidelike verskil tussen (aan die een kant) die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus, en (aan die ander kant) die Dordtse Leerreëls. Sowel die NGB as die HK gee ‘n oorsig van die volledige geloofsleer; die hele leer word opgesom. Daarteenoor is die DL opgestel na aanleiding van ‘n spesifieke strydpunt, naamlik die dwaalleer van die Remonstrante aan die einde van die sestiende en die begin van die sewentiende eeu. Dus, die DL is meer gefokus op ‘n spesifieke aspek van die geloofsleer. Maar... dit beteken nog nie dat ons die DL tot ‘n enkele woord (‘uitverkiesing’) kan reduseer nie. Om die waarheid te sê, die uitverkiesing staan in die DL in ‘n baie spesifieke raamwerk. Of om dit nog duideliker te stel: die uitverkiesing is in die DL ‘n onderdeel van ‘n verhaal! En ek kies hierdie woord ‘verhaal’ baie bewustelik – want so maklik word die uitverkiesing uitsluitlik ‘n leerstuk wat in die lug sweef, ‘n teoretiese dogma, en in baie gevalle ook nog ‘n koue en harde dogma. Maar dis nie wat die DL doen nie. Nee, die DL maak van God se verkiesing ‘n onderdeel van ‘n veel groter verhaal! Ja, maar watter verhaal dan? Immers, die uitverkiesing het mos voor die grondlegging van die wêreld plaasgevind? Voordat die aarde en die hemel geskape is, voordat die geskiedenis begin het – en wat weet ons eintlik van daardie ‘tyd’ (en ek plaas ‘tyd’ tussen aanhalingstekens, want tyd het toe nog nie bestaan nie)? Ons weet mos niks van daardie ‘tyd’ toe die Drie-enige God sy planne beraam en sy keuses gemaak het nie? Nee, dis waar, maar dít is ook nie die verhaal wat die DL vertel nie. Die Dordtse vaders gaan karring nie in die ewigheid nie, hulle probeer nie iets vertel waarvan hulle niks weet nie. Die verhaal wat die DL vertel, is eenvoudig die verhaal van die Skrif.

 

Dis ‘n verhaal wat begin met die skepping en die sondeval van die mens – Adam word in 1:1 as ‘n historiese persoon aan ons voorgehou, en sy ongehoorsaamheid en sondeval werk deur na alle mense in die geskiedenis tot op vandag. Alle mense het in Adam gesondig, en daarom is almal skuldig aan die vloek van die ewige dood. Na ‘n volmaakte begin, word die sonde en die vloek en die dood dus deel van die verhaal – en as God op hierdie punt die verhaal sou beëindig het, sou dit heeltemal verstaanbaar en regverdig gewees het. Maar gelukkig eindig die verhaal nie hier nie, want paragraaf 2 vertel vir ons dat God, in sy liefde, sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het. Dus, die DL maak ‘n massiewe sprong in tyd: vanaf Genesis 1-3 sommer direk na die Kindjie in die krib. ‘n Groot sprong, maar dis nie so vreemd nie, want dít is immers die hoogtepunte van die verhaal (skepping, sondeval, verlossing – die hoogtepunte van die Bybelse verhaal). Paragraaf 2 sluit dan af met woorde uit die bekende Johannes 3:16: “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hiermee bring die Dordtse Leerreëls op ‘n subtiele manier geloof in die verhaal in. En dis dan ook die punt wat paragraaf 3 optel en verder vat: “Om mense tot gelóóf te bring stuur God uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil.” Volgens die Bybelse boodskap kan geloof nie regtig op ‘n ander manier ontstaan as deur die verkondiging nie, want – sê Paulus in Romeine 10 – “hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” Dus, vir mense om tot geloof in Jesus Christus te kom, moet daar gepreek word. En so word ook prediking en sending en evangelisasie deel van die verhaal gemaak. En wat sien ons gebeur wanneer die evangelie uitgedra word (of dit nou deur apostels of sendelinge is, of eenvoudig deur gelowiges se persoonlike getuienis) – wat gebeur? Sommige mense wys die evangelie af, hulle wil nie glo nie; ander aanvaar die evangelie, hulle glo. En wat is die gevolg van hierdie onderskeie keuses? Kyk wat sê paragraaf 4: die toorn van God bly op die ongelowiges, maar die gelowiges word deur Christus van die toorn van God en van die verderf verlos. En, vra paragraaf 5 vervolgens, wat is eintlik die oorsaak / wat is die rede waarom sommige mense nie glo nie en ander wel glo? Wel, ongeloof is in elk geval nie God se skuld nie, nee, dis die mens se eie skuld, dis sy eie keuse. En wat dan van geloof? As die rede vir ongeloof in die mens self lê, kan ons dieselfde sê van die geloof? Lê die rede vir die geloof dan ook in die mens? Dis wat die Remonstrante gesê het. Nee, sê die Dordtse vaders dan op grond van die Skrif (dink hier aan Ef. 2:8 en Fil. 1:29), “die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is ... ‘n genadegawe van God.”

Hoor u die verhaal hier in die eerste klompie paragrawe van hoofstuk 1 van die DL, broers en susters? En soos u op die preekblad kan sien, is dit ‘n verhaal wat homself in hoofstuk 2 asook in hoofstuk 3/4 herhaal [sien preekblad]. Dít is dus die patroon – ons belydenis vertel aan ons ‘n verhaal! En dis enersyds ‘n heilshistoriese verhaal, en daarmee bedoel ek dat dit enersyds gaan oor die verhaal van die Bybelse geskiedenis: skepping, sondeval, die werk van Jesus Christus, die verkondiging van die evangelie. Maar dis andersyds ook ‘n baie persoonlike verhaal, ‘n verhaal wat homself in ons eie lewens en in die lewens van ons gesinne en families en geliefdes afspeel: ongeloof by sommige (deur hulle eie keuse – wat ‘n hartseer vir geliefdes), en geloof by ander (deur die genade van God – wat ‘n dankbaarheid)... En dis presies hierdie verhaal wat ons ook in Handelinge 17 gelees het. Pragtig neem Paulus die Atheners deur die verhaal: die God wat die wêreld gemaak het, Hy het die tye van onkunde (van sonde) oorgesien, Hy verkondig aan alle mense bekering én oordeel deur Jesus Christus. Hier en daar ‘n ander klem of ‘n ander element, maar die verhaal is dieselfde. Paulus vat die Atheners nie in die verborge raad van God in nie, nee, hy vertel aan hulle die verhaal.

 

En dis eers nadat die DL ons aan die hand gevat het, en ons deur hierdie heilshistoriese én (in baie opsigte) persoonlike verhaal gelei het, dis eers dán dat paragraaf 6 vra: maar hoekom glo sommige mense wel en ander nie? Waar kom dit vandaan? Dis eers dán dat die DL ons terugvat na die ewigheid. Die eerste woorde van paragraaf 6: “Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit.” Hier vir die eerste keer – en baie versigtig, mag ons by sê – betree die DL die terrein van God se raadsplan voor die skepping van die wêreld.

En ek weet, dis nie die logiese volgorde nie. Die logiese volgorde is: uitverkiesing en verwerping voor die grondlegging van die wêreld, en eers daarna en as gevolg daarvan: skepping, sondeval, verlossing, verkondiging van die evangelie, geloof en ongeloof. Ja, dis belangrik om hierdie logiese volgorde raak te sien: God se besluit van uitverkiesing en verwerping gaan aan geloof en ongeloof vooraf. Baie belangrik! En die DL gebruik in 1:9 twee pragtige beelde om dit mee te illustreer – die beeld van water uit ‘n fontein, en die beeld van vrugte aan ‘n boom. Wanneer jy die water van ‘n fontein uit die grond sien uitspuit, dan weet jy dat daar êrens ‘n bron onder die grond moet wees – jy kan nie die bron sien nie, maar jy weet hy’s daar; hy moet daar wees, anders sou daar nie water uitgekom het nie; die bron is dus die oorsprong, die bron is eerste, daarna die water wat bo die grond uitspuit. En iets soortgelyks is die geval met die vrugte van ‘n boom: wanneer jy die vrugte sien, dan weet jy met watter boom jy te make het; die vrugte vat jou dus terug na die boom waaraan hulle hang en na die wortels in die grond. Ja, dis eers die wortels en die boom, en as gevolg daarvan die vrugte. Beide hierdie beelde in 1:9 wys vir ons die logiese volgorde: eers die bron, dan die water wat uitspuit; eers die boom, dan die vrugte. Maar, gemeente, die DL volg nie hierdie logiese orde nie; die DL volg die Skriftuurlike orde. Die DL vertel, in navolging van die Skrif, vir ons die verhaal!

Om die uitverkiesing te verstaan, moet jy nie in die ewigheid gaan krap nie. Ja, dis waar, die beslissing het in die ewigheid plaasgevind – maar jy was nie daar nie, jy was nie deel van die besluit nie, God het jou verder ook niks daaroor bekend gemaak nie. Nee, beperk jouself tot die verhaal: die skepping, jóú skepping na die beeld van God (3/4:1; Ps. 139:13-14: “U het my in my moeder se skoot geweef; ek loof U omdat ek is so vreeslik wonderbaar is”); die sondeval, jóú sondeval en jóú verlorenheid (Ps. 51:7: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang”); die verlossing, jóú verlossing deur Jesus Christus (Ef. 2:8: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof...”); die verkondiging van die evangelie oor die hele wêreld, ook aan jóú persoonlik (Kol. 1:6: die evangelie het ook julle bereid); geloof, jóú geloof... in Jesus Christus, die Seun van God. As jy by hierdie verhaal bly, dan is jy veilig. As jy in die tyd bly (en nie in die ewigheid begin grawe nie), dan doen jy goed. Want van die ewigheid weet ons bittermin, maar in die tyd – daar vind ons die antwoorde. En veral in, wat Paulus noem, die volheid van die tyd (Gal. 4:4) – want in die volheid van die tyd het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou. Dis die verhaal – die heilshistoriese verhaal, wat teglykertyd ook jou persoonlike verhaal is. En in hierdie wonderlike verhaal sien jy God se liefdevolle omgang met mense.

Dis waarop ons in die tweede gedagte wil fokus: God se liefdevolle omgang.

 

2. So dikwels word die uitverkiesing (asook die Dordtse Leerreëls wat hierdie leer verwoord) gesien as hard en koud en (durf ons dit sê) selfs ‘n bietjie onregverdig. En dit is inderdaad hoe dit sal wees as ons in die ewigheid bly rondkrap. Maar wanneer ons in die verhaal bly, dan sien ons hoe liefdevol God met ons omgaan, en dan gaan ons oë ook oop vir die pastorale hart van die Dordtse Leerreëls. Ek gee vir u kortliks drie bewyse daarvan in hoofstuk 1 (en ons sal in later preke in die reeks weer hierop terugkom).

God se liefde en pastorale hart blyk, om mee te begin, in die feit dat God ons nie in die duister wil laat oor ons uitverkiesing nie. Ek weet, daar is hele kerke – ook hier in ons omgewing – waar onsekerheid en vrees die Christelike lewe domineer, waar mense nooit sekerheid van hulle uitverkiesing gegun word nie. Maar dis nie wat God wil hê nie. God wil ons nie onseker laat nie; inteendeel, Hy wil ons juis sekerheid gee. Pragtig sê paragraaf 12 vir ons: hierdie sekerheid ontvang ons nie deur nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God te probeer deursoek nie. Nogmaals, dus: bly weg uit die ewigheid. Maar hoe kry ons dan wel die sekerheid? Wel, vervolg paragraaf 12, ons kry dit wanneer ons in onsself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing waarneem. Nogmaals, ons sal later in die reeks weer hierop terugkom, maar hou dít intussen vas: God wil en kan en sal (op sy tyd) vir jou sekerheid gee dat jy uitverkies is, en Hy doen dit deur jou aandag te rig op sy werk in jou lewe. Nêrens en nooit gaan jy insae kry in die boek van die lewe nie. Nee, God is in die tyd met jou besig – sien die vrugte daarvan raak. En watter vrugte is dit? Wel, in elk geval nie volmaaktheid nie. Luister weer na 1:12: “Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, en die honger en dors na die geregtigheid.” Nie volmaaktheid nie, eenvoudig ‘n hart wat uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!”

 

God se liefde en pastorale hart blyk vervolgens in die bekende paragraaf 17 van hoofstuk 1. Iemand wat wil beweer dat die DL hard en koud is, het nog nie paragraaf 17 gelees nie. Dit vertel vir ons van die werklikheid dat klein kindertjies heilig is – nie van nature nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. “Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hul kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie.” Dit is natuurlik waar dat die DL opgestel is in ‘n tyd toe kindersterftes baie hoog was, maar ook vandag nog – en ook onder ons – is daar genoeg ouers wat die diepe hartseer moes ervaar van ‘n pasgebore babatjie of jong kind wat sterf. ‘n Seerder seer as dit is moeilik denkbaar. Wat was die Remonstrante se antwoord op hierdie seer? Wel, hulle het gesê dat alle babatjies gered word, of hulle nou in die verbond is of nie. En dis logies, as jy weet dat die Remonstrante die erfsonde ontken het. As daar geen erfsonde is nie, en klein babatjies ook nog nie kan sondig nie, dan kan hulle ook nie verlore gaan nie. Maar die Dordtse vaders het baie dieper gaan delf: ja, daar is erfsonde, het hulle gesê, maar die kindertjies van gelowiges is deel van die verbond; hulle is heilig deur die ouers (1 Kor. 7:14). En daarom die troos: moenie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van jou gestorwe babatjie nie – hy of sy is by die Here! As dít nie pastoraal is nie, dan weet ek nie wat is nie.

 

En dan die derde bewys van God se liefde en pastorale hart – en dit vind ons in 1:14. Hierdie paragraaf gaan oor hoe die leer van die uitverkiesing verkondig moet word. In baie kerke vandag nog word die leer van die uitverkiesing só verkondig dat dit mense wanhopig en bang maak. Maar dit was nooit God se doel met die hierdie leer nie – nee, hierdie leer moet juis tot ‘n troos vir sy volk wees (1:12). Die leer van die uitverkiesing moet ons nie bang maak nie, dit moet ons vrede met God verskaf. En daarom moet dit reg gepreek word – altyd in die konteks van die verhaal, waaroor die eerste punt gegaan het, altyd binne die raamwerk van Christus en die evangelie. Verder moet dit op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hoor u? Die leer van die uitverkiesing is vir die kérk bedoel – dus, wanneer jy getuig of evangeliseer, dan begin jy nie met die leer van die uitverkiesing nie. Nee, eers wanneer iemand tot geloof in Christus gekom het en deel van sy liggaam, die kerk, is – eers dan verkondig ons die uitverkiesing. En selfs dan moet dit oordeelkundig en eerbiedig gebeur – eenvoudig vir die kinders, en dieper vir die wat meer volwasse in die geloof is. En in dit alles moet ons ons grense ken: “sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste.” Daar kom ‘n punt in alle prediking en onderrig oor die uitverkiesing dat ons moet sê: tot hiertoe en nie verder nie! Ons het die grens bereik.  

 

Drie eenvoudige voorbeelde uit hoofstuk 1 waarin die liefde van God en die pastorale hart van die Dordtse Leerreëls duidelik blyk. Die DL is nie hard nie, dis nie koud nie, dit gaan nie oor een of ander teoretiese uitverkiesingsleer nie. Nee, dit gaan oor die verhaal van God se liefdevolle omgang met sondaarmense. Mag ons hierdeur aangemoedig word om hierdie belydenisgeskrif opnuut te lees en te bestudeer.

Amen

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van ons Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Sing Ps. 65:2 en 3

Gebed

Lees: Handelinge 17:22-34

Sing Ps. 50:5 en 6

Teks: DL 1:1-6

Preek

Sing Skr. 24:1-3

Gebed

Sing Geloofsbelydenis (staande)

Kollekte

Slotsang Skr. 24:4-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.