Doen alles tot verheerliking van God

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2023-03-05
Teks: 
1 Korinthiërs 10:15-33
Preek Inhoud: 

Vandag kom ons by die slotsom van hierdie hoofstukke wat in hoofstuk 8 begin het met die bespreking oor vleis wat aan afgode geoffer is.  In hierdie hoofstukke het hy voortdurend die vryheid en regte in Christus aangespreek wat gewillig en met vreugde opgeoffer word ter wille van die evangelie en liefde vir ons broeders en susters.  Hy het ons gewaarsku dat hierdie Christelike lewe een van voortdurende opoffering is.  Om nee te sê vir onsself en al die dinge wat ons nastreef, en ja te sê vir God, sy koninkryk en sy kinders.  Hy sluit sy argument af met die opsommende woorde: “doen alles tot verheerliking van God”.  Dit was Augustinus wat gesê het “Wees life vir God en doen wat jy wil.”  Paulus weet dat as jy aan God die eer gee, sal jy God en jou naaste liefhê.

Doen alles tot verheerliking van God:

  1. Gemeenskap met/deelname aan Christus
  2. Gemeenskap met mekaar
  3. Tot verheerliking van God

Gemeenskap met Christus

Paulus het so ‘n pragtige manier waarop hy met die kerk praat.  Hy noem hulle “my geliefdes”.  Onthou dat hierdie kerk nie goed vir hom was nie.  Dit is ‘n kerk wat hom geminag het, ‘n kerk waarvan sommige van hulle dit duidelik gemaak het dat hulle eerder ‘n Petrus of ‘n Apollos wou hê.  Maar sy liefde vir hulle is soos dié van ‘n ouer vir sy kind.  Hy het hulle lief en gaan selfs nog meer agter hulle aan wanneer hy sien dat hulle wegdwaal. Net soos ‘n ouer wanneer hul seun of dogter in die verkeerde rigting begin beweeg.

Dit is hoekom hy sê: “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.  Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê”.  As hulle die geliefdes van God is, behoort hulle afgodediens te haat.  Net soos wanneer jy die huwelik liefhet, haat jy egbreuk.  Hardloop – moet niks daarmee te doen hê nie.  Dit maak nie sin as jy van Christus eet en drink maar terselfdertyd ook eet en drink aan die tafel van die duiwels nie.

“Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie?  Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?”  Daar is ‘n gevoel van eenheid met Christus wat gepaard gaan met die gebruik van die nagmaal.  In die maaltyd deel Hy Homself en al sy weldade met ons.  Die woord is Koinonia – gemeenskap met Christus.  In die nagmaal is ons met Hom verenig.  Hy kom bly in ons en ons in Hom.  As dit so is, is dit onmoontlik om onsself voor te stel hoe dit moet wees om verenig te wees met ‘n ander god – of met mense van ‘n ander god.

Regdeur hierdie boek maak Paulus ‘n baie sterk korrelasie tussen Christus en sy mense.  Jy kan nie die twee skei nie.  Om jouself aan Christus te gee is om jouself aan sy mense te gee, en om jouself aan sy mense te gee is om jouself aan Christus te gee.  Jy kan nie die een sonder die ander hê nie.

“Omdat dit een brood is, is ons ook almal een liggaam, want ons almal deel aan die een brood.”  In die maaltyd neem ons as een liggaam saam deel aan Christus.  Wanneer iemand aan die tafel eet neem hulle deel aan die offer van Christus!  Dit is hoekom hy in vers 18 sê: “Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?”  Wanneer iemand ‘n gemeenskapsoffer bring (Levitikus 3:1-17; 7:11-34) sal hulle ‘n gedeelte daarvan offer en die res daarvan saam met die priester eet.  En hy sê – julle is deelenemers aan daardie offer.

Dit is dan dieselfde as wanneer jy na ‘n tempel gaan en daar eet.  Paulus het nie ‘n problem met kos wat in die mark aan afgode geoffer word nie, maar hy wou nie hê dat hulle in ander tempels eet nie.  Wat algemeen was. In die prominente tempel van die godin Demeter, ten minste 25 geboue, of 30 kamers, met plek vir 200 mense. Die eetkamers self was klein, net groot genoeg vir vyf tot nege mense op ‘n slag.  Soos deur hierdie getalle voorgestel, het beide leke-deelnemers sowel as geestelikes in die heiligdom geëet.  Dit wys op die sentrale plek wat eet en aanbidding ingeneem het.  Demeter was die god van die alledaagse huishoudelike sake.

Sê Paulus dus dat die kos enigiets nuut word?  Of dat Demeter werklikheid was?  Nee.  Vers 19-20: “Wat sê ek dan?  Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is?  Nee, maar die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie.  Ek wil nie hê dat julle met duiwels gemeenskap moet hou nie.”  Wat beteken dit om deel te hê aan die bloed en liggaam van Christus?  Of wat beteken dit wanneer hy sê: “Ek wil nie hê dat julle met duiwels gemeenskap moet hou nie.” ?  Weer die kernwoord: Koinonia.  Wat beteken dit wanneer ons met duiwels gemeenskap het?  Dit beteken dat ons in hulle mag verstrengel raak.  Ons onderwerp ons aan hulle.  Ons word kwesbaar vir hulle.  Ons tree binne-in ‘n soort gemeenskap.  Ons bevestig hulle op ‘n manier en gee hulle ruimte in ons lewens.  Ons gee hulle plek.

Dit is dus ook deel van die betekenis van gemeenskap in vers 16, wanneer dit sê dat die beker “gemeenskap met die bloed van Christus is en die brood gemeenskap met die liggaam van Christus is.”  Dit is om met Christus verstrik te raak, om jou aan Christus te onderwerp, om kwesbaar vir Hom te wees, om Hom ruimte in jou lewe te gee en gemeenskap met Hom te hê.  Daarom noem ons die nagmaal “gemeenskap”.  Dit is ‘n gemeenskap met Christus eerder as met duiwels.

Wat die Korinthiërs onderskat het, was die werklike krag van die nagmaal wat uit die ware doel daarvan kom, naamlik om ons gemeenskap in die voordele van die kruis te verdiep en te versterk, of om ons gemeenskap met Christus self te voed.  Wanneer jy deelneem aan die beker en die tafel van die Here, word jy deur die Here gevoed en versadig, en jy het die Here lief, jy verlustig jou in die Here, jy vertrou op die Here en jy het gemeenskap met Hom.  Dit is wat dit beteken om te deel in die liggaam en bloed van Christus – om saam met Jesus te sit aan die feesmaal van die voordele van sy dood en opstanding.  In so 'n ervaring verloor alle afgode en duiwels al hulle aanloklikheid en krag.

Wanneer dit gebeur, is dit 'n kragtige teenmiddel teen afgodery – want dit hou Christus voor as die enigste offer vir ons sondes en hoop op verlossing.  Daarom sê hy in vers 21: "Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie.  Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie."  Jy kan nie.  Jy is getrou aan die een of die ander. En, soos Paulus waarsku, wil jy nie die Here se jalosie uitlok nie.  Die woord Here is opmerklik.  Hy is Here, Kurios, van jou lewe!

En as jy deelneem aan die Here, gaan jy jou hele lewe anders leef.  Jy gaan alleen in Hom wil roem.  Sy punt hier gaan eintlik oor wat jy doen wanneer jy nie by die nagmaal is nie.  Dit gaan oor die bedreiging van afgodery in ons alledaagse lewe.  Die woord van die Here sê dat dit wat jy met Christus in die nagmaal ervaar het, durf nie en kan nie hierdie week ontheilig word deur aan die feesmaal van die gode te sit nie.  Dus sê ek in die naam van Christus en in die woorde van Paulus: Vlug hierdie week vir die afgodediens en gaan na Christus toe!  Moenie Hom tot jaloesie uitlok nie.

Liewe gemeente, jy kan nie sê Jesus is alles en dan jou knippie sout vir die wêreld aanbied nie.  As jy aan die nagmaal deelneem, verloor afgodery sy smaak.  Jy sal nie meer vir jou eie behoeftes leef nie, maar vir ander.

Wat ons by ons tweede punt bring.

Gemeenskap met mekaar

Gemeenskap met Christus lei tot nederige gemeenskap met mekaar.  "Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie."  Dit is waaroor die gewete gaan.  Nie of iets reg of verkeerd is nie.  Die dinge wat reg is, is nie altyd reg om te doen nie.  Hoekom?  Want hulle is nie nuttig nie en bou nie op nie.  Dit is die vraag wat ons onsself moet afvra in alles wat ons doen.  Is dit nuttig en bou dit op?  Indien nie, hoekom doen jy dit?

Daarom sê Paulus in Efesiërs: Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. (4:29)  Ons sou dink dat hy sou sê: "maar net wat waar is", maar hy sê: "net wat nuttig is".  Daar is tye wanneer ware stellings nie nuttig is nie.  Laat jy altyd toe dat liefde jou leidende beginsel is?

Hierdie Korinthiërs was gesteld op hulle regte en hulle vryheid in Christus.  Maar hulle het dit misbruik.

In plaas daarvan om 'n dieper eenheid met Christus en die liggaam van Christus te geneit, wou hulle weet met hoeveel hulle kon wegkom en nog steeds Christene kon wees.  Dit is die verkeerde benadering!  Dit gaan nie oor met hoeveel jy kan wegkom nie, maar hoeveel jy kan gee!  Daar is 'n heerlike vryheid wat daaruit voortspruit om in Christus te wees.  Jy hoef nie meer te baklei, te werk of jouself af te sloof om enigiets te wen nie.  Ons is vrygemaak om nie onsself lief te hê nie, maar om Hom lief te hê!  Om nie vir onsself te lewe nie, maar om God en ons naaste lief te hê.

Jesus het vryheid uitgespreek toe Hy VRYLIK gekies het om Homself aan die kruis te gee vir ons verlossing.  In Galasiërs 5 is die eerste reël: "Staan dan vas in die Vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het…”  Daardie vryheid word gedefinieer nie as outonomie nie, maar as geloof wat deur liefde werk (Gal. 5:6).  Hierdie beginsel van vryheid is die kern van hoe Christene hulle vryheid moet gebruik om ander te seen, nie om hulle te laat struikel nie.

Daarom mag ons hierdie vryheid gebruik nie om onsself te behaag nie, maar ander, en om hulle op te bou soos Christus ons opbou. Hy sê: "Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van 'n ander."  Sjoe!  Hoeveel van julle soek nie julle eie voordeel nie, maar dié van julle naaste?  Mans, gebruik julle jul vryheid om julle lewens af te lê vir jul vroue?  Vroue vir jul mans?  Kinders, gebruik julle jul vryheid om in die Here julself aan jul ouers te onderwerp?  Gebruik julle jul vryheid om jul regte opsy te skuif en werklik uit te kyk vir die welsyn van dié wat seerkry en arm is?

Daar is ongelooflike vryheid.  Maar dit moet nie misbruik word nie.  "Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.  Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan."  Geniet die kos, sonder om vrae te vra, sê Paulus!  Kos is kos.  God het dit gemaak.  God het dit gemaak om geëet en geniet te word, sodat ons Hom daarvoor mag dank.

Dus: "As een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete."  Dit gaan oor 'n broer wat na 'n ongelowige se huis gaan.  Paulus sê: moenie onnodig aanstoot gee deur oor die vleis te vra nie.  Eet dit net. Moenie eers vra nie.   Maar as hulle jou uitnooi om jou te toets om te sien of jy die vleis wat aan afgode geoffer is, sal eet, moenie dit doen nie.  "Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer — moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete."

Sien jy wat Paulus hier sê?  Hy sê: lewe terwille van die ander.  Of soos hy êrens anders sê: "as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense." (Rom. 12:18)  As hulle gewete swak is en hulle dink jy sondig, moet dit dan nie doen nie, al weet jy dat jy nie sondig nie, want jou vryheid word nie bepaal deur hulle gewete nie.  Jy is vry of jy nou eet of nie eet nie.  Dit is wat hy bedoel as hy sê: "… want waarom word my vryheid geoordeel deur 'n ander se gewete?"

Ek hoop jy begin die patroon sien van hoe jy jou vryheid in Christus gebruik in diens van die liefde!  Volg Christus se voorbeeld!  Dit is hoekom hy aan die einde van hierdie gedeelte sê: "Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is." (11:1)  Gemeenskap met Christus lei tot gemeenskap met mekaar.  En so het ons God en ons naaste lief, en word God in die hele lewe verheerlik.

Tot verheerliking van God

Hier is sy gevolgtrekking.  Is jy gereed hiervoor?  "Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God."  In absoluut alles wat ons doen – selfs as ons ons koffie drink in die oggend, of vroegaand gaan draf, of gaan wynproe of later die braaivleis eet.  Ons doen dit ALLES tot verheerliking van God.  Dit is ons doel – daarin sal ons ons ware geluk vind.  Wanneer ons dinge doen om dinge te kry, sal ons altyd 'n slaaf van onsself wees.  Wanneer ons dinge doen tot sy eer en ter wille van Hom, dan doen ons alle dinge met groot vreugde, geluk en doelgerigtheid.  As dít ons droom is, is elke ander droom vaal in vergelyking daarmee.

Wat beteken dit om vir so 'n heerlikheid te lewe?  Paulus gaan voort om vir die gemeente te sê: "Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word." (vs. 32-33)  Ons drink en eet, werk en speel, bewys liefde en dien op maniere wat daarna streef om die heerlike liefde en gemeenskap wat ons in Jesus het, te wys, deur ander in te nooi deur ons woord en daad.

Wat ons ook al doen, ons doen dit om iets te sê oor wat God vir ons gedoen het en oor hoeveel Hy en sy liefde vir ons beteken.  Ons doen dit vir sy eer, en nie ons eie nie.

Satan sal alles in sy vermoë doen om ons te verwar – om kleiner drome, mindere heerlikhede en ander gode in ons harte voor te stel.  En die heerlikheid wat hy bied, is ware heerlikheid – ware plesier en ware doel.  Maar al die heerlikheid wat hy bied, is klein en kort in vergelyking met die heerlikheid waarvoor ons gemaak is.  En in dié mate dat dit ons aandag van God en sy heerlikheid aflei, sodat enige aardse droom of plesier selfdodend kan wees.  Dit gaan nêrens goed nie.  Dit is nie veilig, of vol of blywend nie.  Dit vergaan, dit is selfsugtig en selfdienend en dit maak ons in die proses dood.

Die wêreld het 'n ontsagwekkende heerlikheid van sy eie. "Weer neem die duiwel Hom saam na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid" (Matthéüs 4:8).  As Satan nie bang was om Jesus met die heerlikheid van die wêreld te probeer versoek nie, hoekom sal hy en sy duiwels terughou as dit kom by jou en my?

Ons kan werlik lewe vir die heerlikheid van die wêreld.  Daardie versoeking is sterk genoeg om ontelbare miljoene weg te trek van God en sy heerlikheid.  Maar die heerlikheid wat die wêreld gee, in geld en roem en seks, sal verdwyn en ons uiteindelik alleen laat.  Ons gee so baie van onsself om dit te hê, gaan kompromieë aan al langs die pad, en sodra ons dit het, begin dit dadelik afbreek, en dit bevredig ons nooit soos ons gehoop het dit sou nie.  Kom dus terug na die tafel waarvan ons in punt een gepraat het  en vind jou ware bevrediging in Christus – wat die heerlikheid van God is.

Die mense wat die gelukkigste, volste en betekenisvolste lewens lei, is vry om te sê: "Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil." (Psalm 115:1)

Een van my gunstelingbeloftes in die Bybel is Psalm 16:11: "Versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig."  Geen groter vreugde nie.  Geen groter heerlikheid nie.  Ons deel hierdie heerlikheid in Christus. Soos hy êrens anders sê: "aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid.  Amen!" (Ef. 3:21)

Dit kom nie vanself nie.  Dit verg geduld, harde werk en deursettingsvermoë – dag na dag, om onsself in sy Woord te verdiep, om in sy Naam op te offer ter wille van ander en om onsself aan sy wil te oor te gee.  Die Christelike lewe is 'n wedloop en 'n stryd, soos Paulus dit beskryf aan die einde van hoofstuk 9.  Dit maak seer langs die pad, en dit sal jou duur te staan kom.  Maar jy sal nooit spyt wees daaroor nie.

Heerlikheid en opoffering gaan saam.  As Paulus roem in die kruis, beteken dit da thy roem in opoffering.  Liewe gemeente, moenie jou eie voordeel soek nie.  Hou op daarmee.  Almal in die wêreld doen dit.  En ons doen dit heeltemal te veel in die kerk.  Gee dit op.  God het vir jou gesterf.  Hy is vir jou.  Watter groter voordeel, watter groter heerlikheid het jy nodig?  Leef vir Hom.  Leef vir ander.  O, mag die Gees van God ons lei in die liefde van God, sodat ons almal werklik alles sal opoffer vir  liefde aan God en ons naaste.

 "Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is."

Amen.