God vestig sy volk onder ‘n regverdige heerser wat sy volk lei

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-01-31
Teks: 
2 Kronieke 1:8-9
Preek Inhoud: 

“En Salomo, die seun van Dawid, het hom versterk in sy koningskap; en die HERE sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak.”  Dit is die koninkryk van Jahweh!  1 Kronieke 29 vers 23 sê: “So het Salomo dan op die troon van die HERE gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid, en hy was voorspoedig; en die hele Israel was hom gehoorsaam.”  Daar is geen teken van ‘n rebellie soos toe Adónia die troon probeer bestyg het nie.  Salomo en Dawid is nou verbonde, soos wat Moses en Josua was.  Dit is ‘n voorstelling van een geskiedenis, soos wat die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän een verhaal is.

Vandag sal ons kyk na die begin en die einde van Salomo se regering.  Vers 1 sê God het hom groot gemaak, en volgens 8:1-10 het hy ook gewerk om homself te versterk.  Liewe gemeente, God se seëninge aan ons laat ons nie toe om ‘n oomblik te ontspan nie; as God werk, neem dit nie ons eie verantwoordelikheid weg nie.  Toe God aan Josua gesê het dat hy Kanaän aan hom sou oorgee, het dit nie beteken dat Josua nie hoef te veg nie.  Ons moet altyd besig wees om die verdediging van die koninkryk van God te versterk, om te bou, en kwesbare swak plekke te versterk.

Salomo begin sy regering met aanbidding en offers (1:2-6); en hy eindig dit ook so (8:12-16), hierdie keer in ‘n groter tempel, ‘n groter altaar.  Ons sien sy gebed vir wysheid aan die begin van sy regering, en die klimaks daarvan aan die einde met die besoek van die koningin van Skeba (9:1-12).  En uiteindelik sien ons die heerlikheid van Salomo wat voortspruit uit aanbidding en wysheid (1:14-17) terugkeer in groter omvang in 9:13-27.

Daar is nie net ‘n verband nie, maar vooruitgang tussen die begin en die einde van sy regering.  Die skrywer wil ons wys: kyk, hier is ‘n prentjie van die ideale koning, van begin tot einde.  En sy koninkryk groei in heerlikheid, wysheid en aanbidding!

Verbeel jou hierdie koning was ‘n ewige seun van Dawid.  Hoe heerlik sou dit nie wees nie!  Dit sou die aarde gevul het!  Jy sien hoe die hoop op ‘n Messiaanse Koning geskilder word vir mense wat geen hoop meer het nie.  Kyk na jou geskiedenis!  Dít is jou God!  Die belofte van ‘n seun van Dawid wat op Dawid se troon sal sit, is ‘n belofte wat aan jou gemaak is!

God vestig sy volk onder ‘n regverdige heerser wat sy volk lei na:

  1. Aanbidding gebaseer op verbondstrou

  2. Wysheid voortspruitend uit verbondstrou

  3. Seën as gevolg van verbondstrou

 

Aanbidding gebaseer op die getrouheid van God

Aanbidding – sekerlik die mees sentrale aspek van hierdie boek.  Die mees sentrale ding in ons lewe. Alles wat ons doen, is aanbidding.  Ons begin elke week met aanbidding!  Dit is dus gepas dat groot gedeeltes gewy word aan die tempel, die priesterskap, die sangers, die wagters.  Alles oor aanbidding.  En in die middel van aanbidding staan die altaar, en die tempel.  Selfs vandag.  Hebreërs 12 sê ons gaan na Jesus toe - “en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.”  Dit is die doel van God se volk – om te aanbid.  Om sy Naam groot te maak.  Dit is hoekom ons hier is.  Dit is waarvoor Hy ons gemaak het.  Van die begin van die mens se geskiedenis af is dit waaroor alles gaan.  God versamel mense sodat hulle Hom saam kan aanbid.  1 Petrus 2:9 sê: “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig”.

 

En dit is wat Salomo aan die begin en aan die einde van sy regering doen!  Hy roep die kerk saam en offer duisend brandoffers.

En hierdie aanbidding is ten diepste verbonde aan God se werk in die verlede.  Ons aanbidding spruit uit God se handelinge met sy volk deur die eeue heen.  Kronieke probeer om God se volk vas te grond in die geskiedenis, God se geskiedenis. Om hulle te herinner aan Wie hulle behoort.  Waar aanbid hulle? By die tent van samekoms, wat Moses, die dienaar van die HERE, in die woestyn gemaak het.  En op watter altaar offer hy?  Op die altaar wat Besaleël gemaak het, aan wie God wysheid gegee het om dit te doen!  God was getrou in die onderhouding van sy volk.  Die altaar en die tent van samekoms was tekens van sy trou!

Hier sien ons weer eens nie net ‘n verband nie, maar vooruitgang in die heilsgeskiedenis.  Omdat ons aanbidding sien terugkeer aan die einde van sy regeringstyd, en feesviering!  Kom ons kyk na die einde van sy regeringstyd, 8:12.  Hy offer nou, nie op Besaleël se altaar nie, maar op een wat hy self gemaak het.  En hy struktureer die aanbidding van God in vers 14 so dat daar voortdurend diens is, voortdurend lofprysing, voortdurend oplettendheid!  Sommiges is vir dienswerk aangestel, ander om God te prys en te dien, en ander as poortwagters!

Die heilsgeskiedenis gaan voort!  Dit is wat Kronieke hier wil sê.  Ek weet jy mag klein lyk.  Ek weet jy lyk hartseer – maar God is nie klaar nie!  Sy beloftes is waar!  En ons sien dit werklik!  Dit is ‘n prentjie van die Messiaanse hoop wat vir 500 jaar in die harte van God se kinders sou brand, wat hulle sou beweeg om te aanbid en getrou te wees aan die opdrag van God, terwyl hulle altyd op die uitkyk sou wees na die beloofde Seun van Dawid.

En ons ken Hom wat die groot Seun van Dawid is, wie se regering nie begin het met duisend brandoffers nie, maar met iets oneindig waardevoller – die offer van Homself!  En wie se regering lei na ewige feesviering, ewige lofprysing, ewige erediens, met sy volk wat hulself offer as lewende dankoffers op die altaar van sy genade, moontlik gemaak deur sy dood en opstanding!

Liewe gemeente, Hy is nie klaar nie!  Hy is die Een wat die volmaakte aanbidding, die volmaakte offer, gebring het. En nou roep Hy ons op tot ‘n bediening van volgehoue aanbidding, lofprysing en oplettendheid, sodat die tempel van God gebou kan word!

Ons God, liewe gemeente, is getrou aan sy verbondsbeloftes deur alle geslagte heen.  Daar begin en eindig dit.  Aanbidding. Dit is nie sommer enige koning nie, dit is die Priesterkoning wat die tempel van die HERE sou bou.

Wysheid om te regeer en te bou

“Vra wat Ek julle sal gee.” Dit is God se stem aan sy verbondsvolk wat Hom deur die eeue heen aanbid. Jesus Christus het ons herinner: “vra en vir julle sal gegee word”.  Ons God is ‘n oorvloedige bron van verbonds-seën vir dié wat Hom aanbid!  Selfs al is ons nie konings nie, en dra ons nie dieselfde verantwoordelikhede as Salomo nie, ons God is dieselfde God.  Dieselfde God van Jakobus wat sê: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee.”  Jy sien hoe sy vrygewigheid tot gebed lei.

 

En waarvoor bid Salomo?  Hy begin deur ons eenvoudig weer terug te lei na God se trou aan sy beloftes. Salomo sê: “U het u belofte aan Dawid vervul deur my koning te maak; U het u belofte aan Abraham vervul deur ons so baie soos die sand van die see te maak”.  Ou en nuwe beloftes – God hou hulle.

En waarvoor vra hy?  Die teenoorgestelde van wat Saul gevra het.  Van Saul lees ons dat hy nie God se leiding gesoek het nie (1 Kronieke 10:14), en hy is verwerp.  Maar hier is ‘n koning wat God soek.  Salomo erken sy eie nood, en sy groot verantwoordelikheid.  Dit is die welstand van God se volk wat hierdie seun van Dawid aanspoor om vir wysheid te vra! Dit is die welstand van sy volk wat daartoe lei dat die Seun van God, ons Here Jesus Christus, gedurig vir ons intree.  Dit is die welstand van sy volk wat leiers in elke geslag op hulle knieë moet bring.  Salomo vra nie hoe hy sy eie lewe kan verbeter nie, maar hoe hy God se volk kan beveilig.  En daarom voeg God rykdom en ‘n lang lewe daaraan toe.

Dit herinner my aan die woorde van Spreuke 3: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.  In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede.  Dit is ‘n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.”

God sê vir Salomo om te vra, en Salomo vra vir wysheid om regverdig te regeer en reg te spreek.  En dan voeg God nog goeie dinge by – Matteüs 7:11.  En hierdie wysheid is vir bou, regeer, regspraak en handel. Dit is die wysheid van God wat alle terreine van die koninkryk raak.  Alle terreine van die lewe.  Alles is georden, gestruktureerd, en dit laat mense opbloei tot eer van God!  Die regering van ons Messias raak elke aspek van ons lewe.  Wonder jy hoekom ons ‘n Kerkorde het?  Omdat ons glo dat daar ‘n sekere skoonheid in die orde van die kerk moet wees onder die Koningskap van Christus, wat lei tot opbloei en vreugde wat aantreklik vir die wêreld is.

Dit is wat in hierdie verhaal gebeur.  Die wysheid wat God gee, lei tot die verhaal van die koningin van Skeba.  Sy kom van ver om hom te toets!  Om te kyk of alles waar is!  Liewe gemeente, die wysheid van God sal die wysheid van die wêreld tot skande maak.  Dit skyn helderder as wêreldse wysheid op alle terreine.  In die wysheid van God is daar antwoorde op die diepste vrae oor reg en geregtigheid.

Die lig van God se wysheid skyn tot die eindes van die aarde.  Dit stop nie by kerkgrense nie, maar dring die koninkryke van die wêreld binne!  Liewe gemeente, laat ons aantreklik wees!  Ons het die antwoorde op baie vrae wat vandag gevra word!  Ons is die lig van die wêreld.

Dit is hoekom die koningin se asem weggeslaan is (9:3, 4): “Toe die koningin van Skeba dan die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel, en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere en sy dranke en hulle klere, en sy trap waarmee hy opklim na die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie.”

Alles is georden en perfek (vers 3-4), wat lei tot vreugde en geluk by die inwoners (vers 5-7), wat lei tot lofprysing van God (vers 8).  Uiteindelik kom ons weer terug by aanbidding, om eer aan God te bring.

Inderdaad, God het sy volk lief.  Hy het ‘n verbond met hulle gesluit en nie sy liefde vir sy volk onttrek nie.  Hierdie koning regeer, sê die koningin van Skeba, omdat God sy volk liefhet.  Dit is nie net waar van Salomo nie, maar ook van sy nasaat, ons Here Jesus Christus.  Jesus regeer, en sy regering is ‘n teken van sy liefde vir sy volk.  God het Hom as Hoof oor alles aangestel vir die kerk, omdat daar niks beters vir die kerk kan wees nie as om Jesus as Koning te hê.

Is ons nog ademloos as ons getuie is van die heerlikheid van ons Koning, en van sy wysheid?  Hy is inderdaad die vergestalting van alle wysheid.  Laat ons die wêreld aan Hom voorstel.  Sy Koninkryk en sy dienaars is waarlik geseën.  Dit is vanweë die Here se liefde vir sy volk dat Hy sy Koninkryk gevestig het.

Die hele wêreld sal verbaas wees oor hierdie Koninkryk, oor hierdie Koning, oor sy goeie en regverdige regering!  Sy geordende regering, wat ons almal se lewens raak.  Bybelse wysheid strek wyd.  Dit het nie net betrekking op morele en regverdige oordele nie, maar ook effektiewe en ordelike struktuur, soos ons in die volgende hoofstukke sal sien.

Hoe mooi moes dit nie gewees het om in daardie koninkryk te lewe nie.  Onder ‘n koning met wysheid –  ‘n wat van God kom.  Om te regeer met reg en geregtigheid.  Wat regeer in vrede, wat altyd doen wat reg is. Kan jy jou ‘n lewe in so ‘n koninkryk indink?  Kan jy jou so ‘n heerser voorstel?  ‘n Heerser wie se Koninkryk wêreldwyd bekend is vir die orde, geluk, liefde en vrede wat daar heers.  Kennis wat die lewe se diepste kwessies aanspreek.  Hou op om jou te verbeel!  Dit ís julle koninkryk, geliefdes!  Dit ís julle Koning, en julle ervaar die begin daarvan in die kerk.   Soos wat reg en geregtigheid en orde gereël word.  Die mense sou verlang het na so ‘n Koning.  Julle verlang na sy wederkoms in heerlikheid.

Een groter as Salomo is hier.  Sy wysheid is onoortreflik.  Hy het antwoorde op die lewe se diepste vrae. Sy volk moet uitstaan as ‘n koninklike priesterdom, en as mense wat gelukkig is, wat lewe onder ‘n regverdige Koning.

Seën as gevolg van verbondstrou

Salomo se naam en invloed word gevoel tot aan die einde van die aarde!  Vergelyk die beskrywing in 1:14-17 en 9:13-28.  Ons lees van sy asembenemende troon!  Ons lees van die goue drinkbekers, ons hoor van handel met die verste uithoeke van die bekende wêreld, so ver as Tarsis.  Dit was ‘n ryk wat al die ryke van die aarde oortref het.  En van die Eufraat tot by Egipte het Salomo regeer, en tot by die verste uithoeke van die aarde invloed uitgeoefen.  Silwer is as niks gereken.  En kyk net na die rykdom en heerlikheid!  In 9:27 lees ons dat silwer en goud so algemeen was soos klip.  Kan jy jou net indink.  Die kroniekskrywer skets ‘n prentjie van onoortreflike heerlikheid.  Hy wil hê ons moet sê: “Man, ek wens ek kon dit gesien het!”

In ‘n vreemde land, onder ‘n vreemde regering moes dit hulle hoop gegee het, maar ook hartseer laat voel het!  Dit was hulle koninkryk.  Dit was hulle God.  Dit was hulle geskiedenis!  Dieselfde God wat vir Salomo wysheid gegee het, sou aan hulle wysheid gee om te bou.  Die belofte wat aan Dawid gegee is, moes nog vervul word.  As dit nie die Messias was nie, hoe sou die Messias se koninkryk dan wees?!  Inderdaad, Hy sou Salomo in aanbidding oortref, want Hy sou die volmaakte offer aan God bring.  Hy sou Salomo in wysheid oortref, en in heerlikheid.  Een groter as Salomo sou nog kom!

Sien julle die opbou van hoofstuk 1 tot hoofstuk 8 en 9?  Ons sien hoe die koninkryk groei in wysheid en heerlikheid.  Eendag sal die volmaakte Seun van Dawid kom, wat volkome gehoorsaam sou wees!  En Hy sal die ewige Koninkryk vestig.  Die Koninkryk waarvan die mag en heerlikheid sal uitbrei oor die hele aarde. Net soos wat die profeet Jesaja ongeveer dieselfde tyd in hoofstuk 62 geprofeteer het: “En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ‘n nuwe naam genoem word wat die mond van die HERE sal noem.  En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die HERE en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God.”

Die Koning het gekom!  En sy Koninkryk is gevestig.  Hy is die wysheid van God wat regeer in volmaakte reg en geregtigheid, wat sy regering begin het met ‘n offer.  Hy is die wysheid van God.  Hy wat nie regeer oor die aardse Jerusalem nie, maar oor dié een wat nie met hande gemaak is nie!  Die beeld wat die skrywer in hoofstuk 1 van Jerusalem skets, groei in hoofstuk 9.  Dit kenmerk verbondsgeskiedenis, dit word net groter en meer majestueus.  Die laaste beeld sien ons in Openbaring 21: “En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes … en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.

En wat lê tussen die begin en die einde van Salomo se regering?  Tempelbou en gebed.  Vanaf hoofstuk 2 tot hoofstuk 7.  Is dit nie die volmaakte beeld van ons Here Jesus Christus nie?  Hy het ook sy regering begin met ‘n offer, as die wysheid van God, met rykdom van vreemde nasies (dink aan die wyse manne uit die ooste).   Dan, terwyl Hy regeer, bou Hy ‘n tempel, nie met mensehande gemaak nie, terwyl Hy intree en bid vir sy volk.  Sy heerlikheid, roem en aanbidding groei steeds.  En Hy sal terugkom om sy Koninkryk te vestig in volheid, prag en glorie, wat ons wildste drome te bowe gaan. Met feesviering.  Vreugde.  In heerlikheid. 

Die skrywer wil hê ons moet terugkyk, sodat ons ook vorentoe kan kyk. God is getrou aan sy verbondsbeloftes, dus kan ons met hoop en verwagting na die toekoms kyk.  In dié nege hoofstukke word Salomo se sondes nie genoem nie.  Daar is aanduidings daarvan, maar niks eksplisiet nie.  Die skrywer het geweet hy is gebroke, maar hierdie is teologiese geskiedenis.  Hierdie herinnering sou die werklikheid van hoop wees wat hulle kon laat glo!

Laastens wil ek iets vanselfsprekends uitwys.  Salomo het gesterf.  Dit beteken dat hy nie die seun was wat God gekies het nie, want daardie Seun sou vir ewig regeer.  So het die afwagting voortgeduur.

Hulle het ongeveer 450 jaar gewag, maar Hy het gekom!  En net soos wat 2 Kronieke 1:1 van Salomo sê, so was dit ook met Jesus.  Die HERE het sy Koninkryk gevestig.  Soos Psalm 2 sê: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”  Ons het die geskiedenis van ‘n Koninkryk en ‘n Koning wie se dood aangeteken is, net om drie dae later weer lewend te word, en sedertdien is daar geen dood aangeteken van hierdie Koning nie.  Sy naam is Jesus.  Hy regeer.  Nou.  Sy heerlikheid kan nie oortref word nie.  Hy onderwerp mense aan Hom, selfs ook nou.  Hy regeer in volmaakte aanbidding, volmaakte wysheid, in die hoogste herlikheid.  En om in sy Koninkryk te lewe, is die mees vreugdevolle ervaring!  Sy aanbidding is volkome en God welgevallig, waar Hy vir ons intree.  Sy wysheid beantwoord alle lewensvrae.  En sy heerlikheid is vir ewig!

Laat ons aanbid en voor Hom buig!

Amen.