God verlaag nie sy standaarde nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-05-14
Teks: 
Dordtse Leerreels 2,1-2
Preek Inhoud: 

Die hoofonderwerp van die Dordtse Leerreëls gaan oor die uitverkiesing.

Tog is dit nie die enigste onderwerp nie.

Hierdie leer is onderdeel van die netwerk van die hele Bybelse leer.

En dit werk altyd so, as mense begin dwaal op een punt, het dit konsekwensies vir verskeie ander sake ook.

Die onderwerp van Dordtse Leerreëls hoofstuk 2 is die leer van die verlossing.

Die vraagstuk hoekom Christus aan die kruis moes gesterf het.

Wat was die aanleiding vir hierdie hoofstuk?

Elke hoofstuk is geskryf as antwoord op een van die Remonstrante se stellings.

Die Remonstrante het vyf stellings gemaak waarmee hulle gepleit het vir ‘n nuwe kyk op die uitverkiesing en alles wat daarmee verband hou.

As ons hierdie hoofstuk wil verstaan, help dit om te weet wat die Remonstrante se tweede stelling was.

Dit was soos volg: Christus het in beginsel vir alle mense op aarde gesterwe. Dit is nou aan die mens om te kies of hy daarvan gebruik wil maak of nie.

Op hierdie stelling antwoord hoofstuk 2 dus.

 

Tema: God verlaag nie sy standaarde nie

1 Onwrikbare geregtigheid

2 Hemelhoë barmhartigheid

 

1 Onwrikbare geregtigheid

Die Remonstrante se mening was dat die Here Jesus vir elke mens gesterf het, hoewel hulle erken het dat tog net die gelowiges gered sal word.

Daarenteen bely die Leerreëls dat, al was sy offer kragtig genoeg vir die hele mensdom, Christus vir hulle gesterf het wat, soos die Skrif sê, die Vader aan Hom gegee het (Joh 10:27-29).

Dis nie dat Christus vir sommiges gesterf het, wat agteraf toe nooit hulle redding kom ophaal het nie.

Dan sou Hy tevergeefs vir hulle gesterf het.

Hulle vir wie Christus redding verdien het deur sy dood, elkeen van hulle sal ook inderdaad gered word.

 

Hierdie verskil klink klein, maar tog is dit wesenlik.

Nogmaals, Christus se offer was kragtig genoeg, maar Hy het nie vir elkeen gesterf nie, maar vir hulle wat die Vader aan Hom toevertrou het.

Hulle skuld het Hy weggeneem.

Die ander se skuld bly op hulle.

 

Dit bring ons by nog ‘n belangrike vraag.

Nie net vir wie Hy gesterf het nie, maar ook hoekom Hy gesterf het.

Hoekom moes Hy betaal?

Paragraaf 1 vat dit so saam: “Sy geregtigheid – soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het – eis dat ons sondes ... gestraf moet word.”

Hierdie bewoording is nagenoeg identies met die van Sondag 4 van die Kategismus:

“sy geregtigheid eis dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is die ewige straf aan liggaam en siel.” (v/a 11)

 

Nou as die Remonstrante beweer dat Christus in beginsel vir almal gesterf het, alle sonde van die wêreld weggeneem het, maar dat sommiges dit net nie by Hom kom afhaal nie, dan is hier ‘n probleem.

Want, as sulkes volgens die Remonstrante dan tog verlore gaan, dan word daar dubbel vir hulle sonde betaal.

Christus het vir hulle betaal, maar omdat hulle nie in Hom geglo het nie, moet hulle nou ook nog self in die hel betaal.

Verstaan u, gemeente, hierdie posisie van die Remonstrante was nie houdbaar nie.

Dit lei noodwendig tot die opvatting dat alle mense hemel toe sal gaan, of hulle nou glo of nie, of hulle hulle redding by Jesus gaan ophaal of nie, omdat Jesus in elk geval vir almal betaal het.

 

Nog iets wat die Remonstrante beweer het – dit word nader in die verwerping van die dwalings verduidelik – is dat God eintlik sy standaarde verlaag het.

Van Adam het God nog verwag om volledig volgens sy gebooie te lewe.

Maar na die sondeval het Hy die standaarde laat sak.

Nou eis Hy van mense nie meer 100% voldoening aan sy gebooie nie, maar slegs dat hulle in Christus moet glo.

En hiermee hang dan saam hulle redenering: Diegene wat uiteindelik verlore gaan, gaan nie verlore omdat hulle gesondig het teen God se gebooie nie, maar omdat hulle nie in Christus geglo het nie.

 

Ook hierdie verskil klink subtiel en nie noemenswaardig nie.

Tog is dit ook ‘n wesenlike verskil.

Natuurlik is dit so dat ongeloof, om nie in Christus te glo, ‘n groot sonde is.

Dit is as ‘t ware die kersie op die koek van alle sonde en opstand.

Die ergste waarmee die mens sy Skepper kan treiter.

Maar dit neem nie weg dat dit die toppie van die ysberg is nie.

Daaronder is al die massas en massas sonde en oortredings, met daaronder nog die mens se sondeval, sy geaardheid om te sondig, iets waarmee hy nie geskape is nie, maar wat ook aan homself te wyte is.

En al hierdie skuld moet vereffen word.

God kan nie net dit oor die hoof sien nie.

Hoekom nie?

Dit kan nie omdat God God is.

Kom ek probeer dit verduidelik.

As God sy standaarde sou laat sak, dan sou Hy nie meer God wees nie.

Wesenlik aan God is is dat Hy volmaak regverdig is.

Hy is as ‘t ware die goue standaard, die definisie van wat regverdig is.

Wie daarmee lol, wie dit wil afbring, hou nie ‘n God oor nie.

 

Ons mense se verstaan van wat regverdig is, is besoedel deur die sonde.

Ons sig op wat werklik regverdig is, het vaag geraak.

Dit lei daartoe dat mense vinnig geneig is om God te verwyt dat Hy onredelik is.

Het Hy nie met ‘n kanon op ‘n muggie geskiet, daardie dag toe Adam en Eva ‘n appel gesteel het nie?

Mense se slegte sig op wat reg en verkeerd is, veroorsaak dat hulle sulke tipe vrae vra.

Hulle besef nie meer wat Adam en Eva werklik gedoen het nie, naamlik dat hulle willens en wetens teen hulle Skepper gerebelleer het.

Dit het nie oor ‘n appeltjie gegaan nie, en tien teen een was dit nie eers ‘n appel nie.

Dit het daaroor gegaan wie beslis wat goed en kwaad is, wie maak die onderskeid daartussen.

Wie bepaal reg en verkeerd in die wêreld?

Adam en Eva het gekies om die goue standaard van God se reg los te laat, hulle het vir Satan gekies, sy verwronge kyk op reg en verkeerd, hulle wou self reg en verkeerd definieer.

 

Hierdie dus, die sondeval, is wat reggestel moet word, wat weggeneem moet word.

God kan dit nie deur die vingers sien nie.

Dan verwoes Hy sy eie geaardheid, dat Hy die volmaakte Regverdige is.

En nie net sy eie geaardheid nie, ook die wese van sy skepping.

Ook die morele struktuur van heel sy skepping val dan in duie.

Sy hele skepping val dan in duie.

Daarom kan God nie en sal God nie sondaars se sondes oor die hoof sien nie.

Hy kan nie en Hy sal nie sy standaarde verlaag nie.

Dan saag hy die pote onder sy eie skepping uit, ja die fondament waarop die heelal berus.

Dan verloën Hy Homself.

Daarom is God tereg toornig, tereg kwaad.

Vir ons as mense is kwaad wees altyd gemeng met ‘n skeut sondigheid.

Ons vererg onsself oor iets, en dan neem ons emosies oor, en dan sê ons of doen ons dalk dinge wat nie reg was nie, al was die aanleiding vir ons kwaad wees dalk tereg.

By God is dit egter nie so nie.

God se toorn is nie ‘n uitbarsting van ongekontroleerde emosies nie.

Sy toorn is suiwer.

Sy toorn is goed.

Sy toorn het Hy onder beheer.

 

Het die Remonstrante wel die konsekwensies van hulle alternatiewe denke besef?

In elk geval, die Dordtse Leerreëls wyk hier geen millimeter nie, dit bely nederig maar ook vrymoedig die volledige waarheid van die Skrif aangaande ons sondeval en al ons sondes, en dat God, soos die Kategismus reeds gesê het, nie anders kan as om die sonde wat teen sy allerhoogste majesteit gepleeg is, ook met die swaarste straf sal straf (v/a 11).

God se onwrikbare geregtigheid word, net soos in Sondag 4, ook in paragraaf 1 volledig bely.

 

Maar dan volg in paragraaf 2 ook God se hemelhoë barmhartigheid.

 

2 Hemelhoë barmhartigheid

God het sy Seun in die wêreld gestuur.

Hy, ons Here Jesus, het hierdie ondraaglike sondelas op Homself geneem, en danksy Hom kan sondaars nou tog gered word.

 

Ons moet ook nie Jesus Christus se liefde vir sondaars en God die Vader se toorn teen mekaar uitspeel nie.

Dis nie dat Christus net barmhartig is en God net toornig nie.

Die volledig teregte toorn verwoord Jesus net so duidelik.

Christus het nie net gepreek oor liefde en vergewing en genade nie, Hy het ook gepreek oor die plek van ewige straf, waar die wurm nie sal sterf en die vuur nie uitgeblus sal word nie (Mark 9:44), waar daar geween sal wees en gekners van die tande (Matt 8:12; 13:42).

 

Om terug te kom by die punt van verskil met die Remonstrante.

Daar is niks wat ek of jy kan doen om aan God se geregtigheid te voldoen nie.

Selfs my bekering – laat staan die feit dat ek my op eie krag kan bekeer – maar selfs my bekering sal nie aan God se geregtigheid voldoen en sy toorn wegneem nie.

God kan ons nie red op basis van ons bekering nie.

Ook dit sal van sy universele regsorde ‘n bespotting maak.

Want bekering is nog nie betaling vir sonde nie.

Dink aan ‘n moordenaar wat vir die regter sê hy is baie jammer dat hy ‘n moord gepleeg het.

Dit is mooi dat hy dit sê, dit is mooi dat hy tot daardie insig gekom het, maar dit neem die skuld nog nie weg nie.

Hy verdien steeds straf.

En dan praat ons nog nie eers oor die feit dat hy dit wat hy stukkend gemaak het, weer moet herstel nie.

Iets wat hy nooit sal kan doen nie, want geen mens kan ‘n dooie terugbring nie.

Dus weer eens, dit is God se universele regsorde, naamlik: ‘n Misdaad moet altyd uitgekanseleer word deur betaling, genoegdoening, uiteindelik deur herstel van dit wat gebreek is.

 

Ons lewe in ‘n tyd waarin lande se regsorde ernstig aan erosie gely het.

Mense wat ‘n moord pleeg en daarna gevang en gevonnis word, word tronk toe gestuur, maar tien jaar later kan hulle weer op vrye voet wees.

Tien jaar gelede het Oscar Pistorius sy vriendin vermoor, en in beginsel volgens ons land se wette is hy geregtig om nou al vrygelaat te word.

Erosie, afkalwing van die regsorde.

Vroeër was daar die doodstraf vir ‘n moord.

Natuurlik kon daar per geval ook grasie verleen word, maar die eis van die wet was ondubbelsinnig: oog vir ‘n oog, tand vir ‘n tand.

In samelewings soos ons s’n en regsordes wat so afgekalf het, kan jy verstaan dat mense probleme begin kry met God se geregtigheid, asof dit totaal buite proporsies en onverdraagsaam is.

Maar laat dit duidelik wees, dit is nie so nie.

Dit is die orde waaraan ons gewoond geraak het, wat buite proporsioneel geraak het.

Wat is ‘n lewe nog werd?

 

Wel, vir God is ‘n lewe niks minder werd as die dag toe Hy in die paradys die eerste mens geskep het nie.

En die dag toe die eerste moord op aarde plaasgevind het, toe Kain sy broer Abel doodgeslaan het nie.

Sy bloed roep uit dat daar geregtigheid moet geskied.

En so ook die bloed van elke mens wat sedertien gevloei het.

Geen enkele moord sal God deur sy vingers sien nie, geen enkele sonde nie.

 

Is God hardvogtig?

Nee, Hy is die absolute volmaakte geregtigheid.

En dit op sig is al ‘n troos, vra maar vir daardie mense wie se geliefde om die lewe gebring is, wie se geliefde nooit weer sal terugkom nie.

Wat ‘n troos dat God sy standaarde nooit sal laat sak nie.

Dat ieder en elke lewe vir Hom ewe waardevol is.

Daar moet betaal word vir die sonde.

Trane en spyt is nie voldoende nie.

 

En God het die reg om dit te eis.

Want die sonde is teen Hom begaan.

Hy het elke lewe geskep, alles kom van Hom af.

Hy is daarom ook die enige Een wat vergifnis kan skenk.

Net Hy kan bepaal of die skuld betaal is.

 

En hoe groot en goed is God tog dat Hy dit toe ook moontlik gemaak het.

Dit bely ons in paragraaf 2, sy hemelhoë barmhartigheid.

Uit oneindige barmhartigheid het Hy sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee.

Die Seun het vir ons, in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

Halleluja!

Dis die Evangelie!

Dit is God se liefde.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16)

Laat ons hierdie teks goed verstaan.

Dis nie so, in die trant van die ketter Marcion, dat God die Vader ongenadig is, maar dat die offer van Christus daarvoor gesorg het dat Hy nou darem genadig geword het nie.

Dis nie wat Christus hier sê nie.

Hy sê nie dat sy versoeningswerk die oorsaak van die Vader se liefde is nie.

Dis andersom.

Christus openbaar hier dat dit die liefde van sy Vader is wat die oorsaak vir sy versoeningswerk is.

Christus gee aan die Vader alle eer.

Nie sy versoeningswerk, maar die Vader se liefde, is die allerdiepste fondament onder ons saligheid!

En daarom is ons nie net dankbaar teen oor Christus nie, maar net so ’n diepe dankbaarheid het ons vir ons God en Vader!

 

Natuurlik is dit so, soos ons ook in die Bybel kan lees, dat Christus met sy kruisdood die Vader se toorn gestil het, tot bedaring gebring het.

Maar dit wil nie sê dat daar geen liefde by die Vader was nie, inteendeel!

Dink aan die pragtige vers uit Romeine 8:

“Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom 8:32)

Dis nie die Seun wat die Vader oorreed het om tog iets vir ons ellendige sondaars te doen nie.

Dis die Vader se liefde waarmee alles begin het.

So is die kruis die vrug van die Vader se liefde.

Golgota is nie net die toppunt van die Vader se toorn nie, maar ook van sy liefde.

 

En laat dit duidelik wees.

Christus het nie vir gelowiges gesterf nie – à la die Remonstrante.

Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was.

Hy het vir die goddelose gesterf – Romeine 5:6.

 

Geliefde gemeente, so begin die tweede hoofstuk van die Dordtse Leerreëls.

God laat sak nie sy standaarde nie.

Hy en sy regsorde bly volmaak.

Terselfdertyd stel Hy volmaakte redding beskikbaar vir sondaars.

Hy wys aan sondaars die pad om aan die regverdige oordeel te ontsnap (Hand 17:30-31).

Hy kon ons in ons sondes en ellende en opstand gelaat het.

Maar Hy het nie.

Hy red hulle wat nie hulleself kan red, omdat hulle op geen manier kan terugbetaal nie.

Sy liefde het Christus gestuur.

Laat ons Hom aangryp.

In sy Naam is daar betaling, voldoening, vryspraak, redding, bevryding, volle saligheid.

In sy Naam is daar alles!

 

“Sy Naam, bo alle naam verhewe,

sy uit eerbiedenis

die volle roem en eer gegewe

so lank daar wêreld is!

En laat so ver die sonlig bewe,

so ver die sonpyl skiet,

sy heerlikheid die aarde oorswewe!

En “Amen” sê my lied!” (Ps 72:11)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Johannes 10:22-30; Romeine 5:1-11 & 8:31-39

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,1-2

Tema: God verlaag nie sy standaarde nie

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. As Christus vir die hele mensdom gesterf het, hoekom gaan daar volgens die Remonstrante nog sommige mense verlore?
  2. Kan mens sê dat Christus vir die gelowiges gesterf het?
  3. Wat gaan met die skepping gebeur as God sy standaarde verlaag?
  4. Wat is die fondament van ons saligheid?
  5. Dank God in jou gebed vir sy onwrikbare geregtigheid en sy hemelhoë barmhartigheid.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 97:1,3

Gebed

Skriflesing: Johannes 10:22-30

Ps 86:3,8

Skriflesing: Romeine 5:1-11 & 8:31-39

Ps 24:3

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,1-2

Preek

Ps 72:11

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 48:4

Kollekte

Ps 32:1,4

Seën