Die HERE verdruk sy geseënde volk

Predikant: 
dr John Smith
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-07-17
Teks: 
1 Kronieke 7
Preek Inhoud: 

Audio Engels / Teks Afrikaans

 

Geliefde Gemeente van die Here Jesus Christus

Ons teks vanoggend handel oor 'n man met die naam Efraim. Ons lees van hom in Genesis. Efraim is in Egipte gebore. Sy vader was Josef, die tweede hoogste heerser van Egipte. Sy ma was ook 'n belangrike persoon. Haar naam was Asenat, en sy was die dogter van 'n priester, 'n belangrike persoon in Egipte. Efraim het 'n ouer broer gehad met die naam van Manasse. Die twee seuns is gebore in tye van oorvloed - die sewe jare van oorvloed in die droom van Farao. Dit was 'n tyd van seën, en Efraim se naam weerspieël dit. Want die naam Efraim beteken vrugbaarheid. Maar toe kom die slegte jare, sewe jaar van hongersnood. Mense van regoor die Midde-Oosterse wêreld het na Egipte gekom omdat Egipte groot voedsel-voorrade gehad het, te danke aan die plan van Josef. Josef se familie het ook uit Kanaän na Egipte gekom, eers sy broers en toe Josef se pa, Jakob. Jakob het reeds vele jare gedink dat Josef dood was.

Efraim het sy oupa Jakob geken, wat hom en sy broer, maar veral hom, geseën het, al was hy die jonger broer. Oupa Jakob het selfs aanspraak gemaak op Efraim en Manasse as deel van sy eie seuns, hulle sou daarom die stamvaders word van twee van die stamme van Israel, saam met die ander seuns van Jakob. Kort daarna het Jakob gesterf, en met dié verhaal eindig die boek Genesis.

Ons weet nie veel van die res van Efraim se lewe nie. Genesis vertel ons net van die tyd toe hy 'n jong seun was. Maar dan lees ons ons teks uit 1 Kronieke. Die eerste nege hoofstukke van 1 Kronieke is hoofsaaklik lyste van name. Dit klink vir ons taamlik vervelig en moeilik om te lees. Dit is die soort hoofstukke wat jy eerder by die etenstafel wil oorslaan. Maar as jy dit oorslaan, dan doen jy tekort aan die Bybelverhaal, want in daardie lyste van name vind jy verhale wat nêrens anders in die Bybel vind nie. Een van daardie verhale handel oor Efraim naamlik ‘n gedeelte van sy lewensverhaal nadat hy reeds getroud en hy self kinders gehad het.

As die Bybel nie vanoggend se teks gedeelte gehad het nie, dan sou ons dalk verwag het dat Efraim 'n gelukkige lewe sou gehad het. Hy was immers die geseënde seun. Josef het destyds sy kinders na Jakob toe gebring sodat Jakob hulle kon seën, Josef het Manasse geplaas aan Jakob se regterkant en Efraim aan sy linkerkant. Maar aartsvader Jakob het doelbewus sy arms gekruis gehou en Efraim die groter seën gegee. Hy het gesê: "Die jonger broer sal groter wees, en sy nageslag sal 'n menigte van nasies word." Ons sou dus kon verwag dat hy die seën van 'n groot familie en vele kleinkinders sou ontvang het. Maar in plaas daarvan lees ons 'n verhaal van hartseer en ellende: Twee van Efraim se seuns het onverwags gesterf, en Efraim het baie dae lank oor hulle getreur. Tog leer hierdie teks vir ons 'n belangrike les, wat steeds vandag toepaslik is. Ek som dit soos volg op:

Tema: Die HERE verdruk sy geseënde volk.
1. die beproewing van droefheid
2. die seën in die geslagte.

1. Die beproewing van droefheid

Genesis 41: 20-21, ons teks, vertel die verhaal van Efraim se nageslag: Efraim se eerste seun, Sutela het vele afstammelinge gehad: Bered, Tahat, Elada, daarna nog ‘n Tahat, daarna Sabad, en dan nog Shuthela, ses geslagte in totaal. Daardie familielyn het almal oorleef. Maar Efraim het ook twee ander seuns gehad, Eser en Elead, en hulle het geen nageslag nagelaat nie—hoekom nie? Omdat manne van Gat hulle gedood het voordat hulle kinders kon gehad het.

Die manne van Gat het hulle doodgemaak nadat  hulle gekom het om hulle vee weg te neem. Wat het dan presies gebeur? Sommige kommentare sê dat Efraim se seuns slegte seuns was: Hulle het na Gat gegaan om vee te steel, maar hulle is op heterdaad betrap en gedood. Maar wie het wie se vee gesteel? Dit is nie heeltemal duidelik nie. Dit sê net dat hulle gekom het om hulle beeste weg te neem. Wie is die hulle? Ons kon dit ook anders verstaan. Naamlik dat die manne van Gat gekom het, Efraim se seuns doodgemaak en daarna hulle vee gesteel het. Let op dat die manne van Gat "inheems gebore" was. Dit is dus moontlik dat hierdie manne in Egipte gebore is gedurende die tyd van die sewe jaar van hongersnood toe baie mense na Egipte afgetrek het vir voedsel, net soos Jakob se familie gedoen het. Moontlik was dit 'n bakleiery oor verblyfsregte van vreemdelinge in Egipte. In elk geval is twee van Efraim se seuns gedood. Maar die belangrike punt van die verhaal is nie wie die skuldige was nie, maar wat die effek daarvan was op hul pa Efraim.

Vader Efraim het dae lank getreur. Hy moes worstel met die verlies van twee seuns, maar hy moes ook gewonder het wat van God se beloftes geword het? Oupa Jakob het hom geseën met die belofte dat sy nageslag 'n menigte van nasies sou word, maar nou was twee van sy seuns dood, met geen nageslag om hul naam voort te sit nie. Hartseer kom dikwels met vrae: geloof word geskud. Waar is God in dit alles?

En dit was nie die eerste keer dat Efraim met hartseer gekonfronteer is nie. Hy onthou die dag toe Josef hom geneem het om sy oupa te ontmoet. Oupa Jakob het oor sy dierbare vrou, Ouma Ragel, gepraat. Genesis 48:7: “En toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kanaän, op die reis toe daar nog ‘n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Betlehem.” Ragel het gesterf toe sy geboorte gegee het aan Benjamin, naby Betlehem. Dit is die verhaal wat Efraim as seun gehoor het. En kort daarna het Jakob gesterf, en die hele familie het oor hom getreur. En nou weer word Efraim in droefheid gedompel wanneer sy seuns vermoor word. God gee beloftes van seën, maar wat word van daardie beloftes?

Ons teks sê dat Efraim vir baie dae getreur het. Die woord vir "rou" beteken dat hy rourites onderhou het. Elke kultuur het sy eie maniere om hartseer te verwerk . In Bybelse tye was dit gebruiklik om 'n periode van rou in te stel. Soms vir baie dae lank. Die Egipte-naars het sewentig dae lank getreur toe Jakob gesterf het. Destyds het mense verstaan dat rou 'n proses is, dit neem tyd, dus het hulle tyd daarvoor geneem. Daar is nie verwag van diegene wat 'n geliefde verloor het, om dadelik terug te keer na die normale daaglikse lewe nie. Nee, die normale lewe mag vir 'n rukkie stilstaan, en alle ander sake kan wag totdat die tydperk van rou verby is.

Vers 22 sê dat Efraim se familielede hom kom troos het, maar mens kry tog die indruk dat hulle gekom het omdat hy vir soveel dae getreur het. Mens kry dieselfde in die boek Job. Dwarsdeur die boek stort Job sy hartseer uit en worstel hy met God. Uiteindelik, in die laaste hoofstuk van die boek, herstel die Here Job se verlies en gee God hom twee keer soveel as wat hy oorspronklik gehad het. En dan eers, kom al sy broers, al sy susters en al sy kennisse na hom en eet saam met hom in sy huis. En dan troos hulle hom oor al die teëspoed wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het hom 'n silwerstuk en 'n goue ring gegee. Ons mag wonder hoekom hulle nie vroeër gekom het nie? Waar was hulle toe Job hulle regtig nodig gehad het? Dit klink vir ons baie onvriendelik.

Maar dit is belangrik om te besef hoekom hulle gekom het. Ons lees dat hulle hom kom troos het. Maar die woord "troos" in Job 42 asook in ons teks, beteken nie simpatiseer nie, maar wel bemoedig. Efraim se familie kom nie om hul medelye te betoon of saam met hom te treur nie, maar hulle kom om hom te bemoedig, om hom te help om met sy lewe voort te gaan. Hulle kon dit nie vroeër gedoen het nie, want hulle moes eers ruimte en tyd gee vir die verwerking van hartseer. Maar na baie dae van rou, is dit gepas dat hulle hom moet bemoedig sodat hy nie verstrik raak in hartseer nie. Maar hy moet weer sy taak opneem. en weer begin leef vanuit die vreugde van die geloof. Ja, die normale lewe het vir 'n rukkie stilgestaan, maar nou moet die lewe weer voortgaan. En so help hulle Efraim om sy tydperk van rou weer te bowe te kom, om weer die normale lewens-patroon te hervat. Dit beteken nie dat hulle vir hom sê hoe om dit te bowe te kom, om op te hou met hartseer wees nie. Nee, hulle verwag nie dat hy dit op sy eie moet doen nie. Die familielede kom bymekaar om hom te bemoedig, om sy lewe weer op koers te kry.

Wie is hierdie familielede? Wel, die Hebreeuse woord beteken eintlik “broers”. Onthou dat oupa Jakob vir Manasse en Efraim as sy eie seuns toegeëien het, buiten die twaalf seuns wat hy reeds gehad het. Die broers is dus die familie van Jakob. Maar dit is baie meer as net familie; dis die fondament van die Ou Testamentiese kerk. Om mense te help om hul hartseer te oorkom, is 'n taak van die kerk. Ons doen dit vir mekaar as gemeenskap van die heiliges. Dit is baie belangrik, nie net dat ons meegevoel toon gedurende ‘n  tyd van verlies nie, maar ook dat ons hulp en ondersteuning gee, om ons bedroefde broer of suster aan te moedig; om hulle te help om die pad van die geloof weer op te neem.

En let dan op wat Efraim doen, nadat sy familie na hom toe gekom het: hy en sy vrou kom weer bymekaar vir huweliksgemeen-skap. En die Here seën die verbintenis met nog 'n seun. Dit gebeur meer dikwels in die Bybel. Adam het dieselfde gedoen nadat Abel doodgemaak is: Hy en sy vrou het bymekaar gekom waaruit weer 'n seun voortgekom het. Hulle het hom Set genoem. Dawid en Batseba het dieselfde gedoen nadat hulle eerste seun gesterf het. Ons lees dat Dawid vir Batseba getroos het deur huweliks-gemeenskap. Daarop het sy weer 'n seun gebaar wat hulle Salomo genoem het.

Ons moet daarop let dat die nuwe kind, nie die kind wat Efraim verloor het, kan vervang nie. Mense sê soms, met die beste bedoelings: “dis 'n nuwe lewe om die een wat verlore was te vervang," maar dit is nie wat die Skrif ons leer nie. Trouens, Efraim het sy hartseer juis weer in gedagtenis gebring deur sy seun Beria te noem. Beria beteken “tragedie" of "ongeluk", wat verwys na die vorige tragedie wat oor sy huis gekom het. Sy nuwe seun neem nie die werklikheid van hierdie tragedie weg nie. Maar ons sien dat Efraim weer sy taak as man en vader opneem. Sy gesin begin weer groei, sodat die seën van Jakob gestalte begin kry. En deur middel van Efraim se huweliks-gemeenskap word God se beloftes bewaarheid.

Efraim gaan voort in die weg van die geloof, en deur sy nuwe seun Beria ontvang hy 'n hele ry van nageslag. Ons lees die lys van name in verse 25-27: Refa, Resef, Tela, Tahan, Laadan, Ammihud, Elisama, Nun, Josua, in totaal 10 geslagte! Jakob se seën het belowe dat Efraim se nageslag tot vele nasies sou word, en so het dit gebeur. Natuurlik sou Efraim nie self gedurende sy lewe reeds al tien geslagte sien ontwikkel nie: Hy kon slegs waarneem wat gedurende sy eie leeftyd gebeur het. Efraim het sy lewe lank in Egipte gewoon. Hy is daar gebore uit 'n Egiptiese moeder, hy is deur Jakob as sy eie seun toe ge-ëien, en hy het in Egipte gesterf. Hy het nooit self in die beloofde land ingekom nie. Hy het, by wyse van spreke, in die doodskaduwee van Egipte bly woon. Hy het daar gelewe vanuit die geloof in God se beloftes. Hy was daarin ‘n instrument in God se hand.

Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons ly onder die beproewing van hartseer. Ons ervaar dan 'n tyd van onrus, waarvan ons dikwels nie sin kan maak nie. Ons worstel met hartseer, en die HERE gee ons tyd vir die verwerking daarvan. Maar daar moet weer 'n tyd kom waar ons weer moed kan skep en ons dit mag waag om te glo dat God goed is. Moontlik sal ons, soos Efraim, nooit self die goeie tye ervaar wat uit ons ellende voortkom nie. Maar soos Efraim moet ons bereid wees om slegs instrumente in God se hand te wees. Sodat  ons slegs ‘n middel word om God se beloftes te vervul. En ons sien vandag heelwat meer as wat Efraim destyds gesien het.

Dit bring ons by die tweede punt:

Die seën in die geslagte (Hoe God sy belofte deur die geslagte heen vervul).

Die geslaglyn van Efraim, lei uiteindelik na Josua. En dan begin ons besef hoekom die skrywer van Kronieke al daardie name neergeskryf het: Hy wil ons by Josua uitbring.

Ja, Josua was uit die stam Efraim. Josia was 'n Efraimiet wat die volk in die beloofde land binne gebring het. Dink aan die verhaal van die 12 spioene, wat Moses gestuur het om die land Kanaän te verken. Daar was een spioen uit elke stam. Josua was die een uit Efraim. Van daardie twaalf spioene het net twee bly lewe, die ander 10 is gedood. Die ander oorlewende was Kaleb uit die stam van Juda. Maar van die twee word,Josua die leier van God se volk. En nie Kaleb nie. Nie 'n man uit die stam Juda nie, maar 'n man uit die stam Efraim lei die volk na die beloofde land. En dit pas in by wat ons in 1 Kronieke 5 lees, naamlik dat van al die broers die regte van die eersgeborene aan Josef behoort het. En van Josef se seuns word Efraim, die jongste as die eerste gereken. Sodat uit Efraim se geslag, Josua as hoof optree om Kanaän te verower.

En in daardie konteks wil ek graag weer na die teksvers 1Kron7v24. Daar lees ons van Séëra, 'n vrou wat Bet-Horon-Onder en—Bo gebou het. Die Bybel vertel niks meer van hierdie vrou nie. Dit sê slegs dat sy die dogter van Bería was. Aangesien die woord vir dogter ook kleindogter of selfs 'n latere afstammeling kan beteken, is ons nie seker wanneer sy geleef het nie. Maar waarvan ons wel seker is, is dat onder haar leiding die tweeling-stede Bet-Horon-Onder en Bet-Horon-Bo in die land Kanaän gebou is. Ek sê tweeling-stad omdat dit weerskante van 'n smal bergpas gebou is. Een van die hoofpaaie deur die bergland van Efraim het deur hierdie pas geloop, en baie veldslae is daar gevoer. Die bekendste veldslag was die een waar Josua die son en die maan laat stilstaan het sodat die Israeliete die geleentheid kon kry om die Amoritiese konings te verslaan. Terwyl die Amoriete deur daardie bergpas by Bet-Horon gevlug het, het die Here groot haelstene uit die hemel laat val sodat hulle gesterf het. In Josua 10:14 lees ons dat daar geen dag soos daardie een daarvoor of daarna was, dat die Here na die stem van 'n mens geluister het nie. Dit was die stem van Josua, die Efraimiet. Hy het die volk rus gegee van al hulle vyande. Die tabernakel het ook in die gebied van Efraim tot stand gekom. En later het Samuel ook uit die land van Efraim voortgekom.

Maar aan die dominante posisie van Efraim het 'n einde gekom. Reeds in die dae van die Rigters was dit dikwels die Efraimiete wat die volk voort gegaan het in opstand teen die Here. Daarom stuur die Here vir Samuel om 'n jong seun uit die stam van Juda as koning te salf in die plek van Saul. Dit is Dawid afkomstig uit die stad Betlehem, naby die plek waar Ragel eeue tevore gesterf het. Die koningskap verskuif vanaf die kinders van Ragel na die kinders van Lea, naamlik die stam van Juda. Weereens, soos ons in 1 Kronieke 5v2 lees, “... want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ‘n vors geword...”” Dawid het koning geword, en die ark van die Here is verskuif vanaf die land van Efraim na Jerusalem. Daar is die tempel gebou, langs die paleis van koning Salomo van Juda.

Die wedywering tussen Juda en Efraim het in die dae van Rehabeam en Jerobeam 'n hoogtepunt bereik. Rehabeam was uit die stam van Juda en Jerobeam uit die stam van Efraim. Die Efraimiete was nie tevrede om onder die heerskappy van Juda te staan nie, Daarom het hulle die tien stamme van Juda af weggelei. Daar staan Jesaja 7v17: "Op daardie dag het Efraim uit Juda vertrek." Van daardie tyd af het die tien stamme van die noordelike koninkryk dikwels as Efraim bekend gestaan: Ons lees  herhaaldelik in die boek Hosea, van die sondes van Efraim, totdat die Assiriërs hulle in ballingskap weggevoer het. En dan lees ons dié hartverskeurende woorde in Jeremia 31: “'n Stem is in Rama gehoor, rou en groot geween; Ragel ween oor haar kinders en weier om vertroos te word, want haar kinders is nie meer nie.

Dit laat ons wonder: wat het dan geword God se beloftes aan Efraim, dat Efraim geseën sou word, en 'n menigte nasies uit hom sou voortkom? Is die geskiedenis van Efraim slegs 'n geskiedenis van geween, een lang tragedie van verlore kinders? Dit is nie die geval nie. Want ons lees in Jeremia 31v16: “So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.... v20: Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die HERE.”

En dan kondig die HERE die nuwe verbond aan wat Hy gesamentlik met Israel en Juda sal sluit. Efraim kan nie sonder Juda gered word nie. In Esegiël 37 moes Esegiël twee stokke neem en Juda op die een skryf en Efraim op die ander, en dan die twee stokke saamvoeg tot een. God het aangekondig dat hulle nooit weer verdeel sou word nie, hulle sou saam een koning hê naamlik koning Dawid, vir ewig as heerser. Dit is waarna God se volk moes uitsien.

Ek het reeds eerder gesê dat die skrywer van die teksgedeelte ons tot by Josua wil bring. Maar eintlik wil hy ons nog verder bring as dit. 1 Kronieke is ná die ballingskap geskryf, vir die mense van Juda, wat na die beloofde land teruggekeer het. Hulle was die oorlewendes, hulle het die verhaal geken van Efraim wat oor sy verlore seuns treur, maar ook van God se getrouheid deur die geslagte heen. Dus kon hulle moed skep en glo dat die seën nog sou kom. Hulle mog uitsien na die belofte van die Seun van Dawid wat in Betlehem gebore sou word. Ons lees van sy geboorte in Lukas 2. Die velde van Efrata, waar Ragel begrawe is, word skielik verhelder met die liedere van die engele: “Ere aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde”. Ook gaan die herders  na die krip van Bethlehem waar hulle beloofde lewe aanskou: 'n kind met die naam Jesus - die Griekse woord vir Josua.

Maar dan, so lees ons in Matteus 2, gebeur daar weer ‘n tragedie: Koning Herodes dood alle manlike babas van Betlehem van twee jaar en jonger - 'n sinnelose slagting van klein kindertjies. Toe is weer vervul wat gespreek is deur die profeet Jeremia: (Jer 31v15): ‘n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.  Dis weer die stem van Ragel se geween en Efraim se geween, deur die geslagte heen. Wat word dan van die beloofde seëninge?

Wel, daar is een kind wat oorleef het en nie hoef te treur nie, die kind Jesus wat ontsnap na Egipteland, na die geboorteland van Efraim. En dan, net soos vroeër, roep God sy seun uit Egipte, en hy keer terug na die beloofde land. En daar het hy sy krag getoon, die krag van 'n tweede Josua. Die eerste Josua het son en maan beveel om stil te staan, en God het na die stem van 'n man geluister. Die tweede Josua het die golwe en die wind beveel om stil te wees, en God het na die stem van 'n man geluister. Beide was groot manne, maar Jesus uit die stam van Juda het gedoen wat Josua die Efraimiet nie kon doen nie. Hy het gesterf vir die sondes van sy volk: Vir Juda, vir Efraim en vir die nasies van die wêreld. Hy het die graf oorwin en plaas geneem op die troon aan God se regterhand. Jesus Christus, die Leeu van die stam van Juda, sit nou vir ewig op Dawid se troon, as die eersgebore Seun van God. En vandaar stort Hy sy seën op ons uit, en op al God se kinders. So sien ons dat daardie verbondseëninge deur die geslagte heen oorgedra word. Ook ons is die geseënde volk van God, deur die genade aan ons verleen deur Christus.

Tog moet ons tema nie vergeet nie: Die Here verdruk sy geseënde volk: en so ook ons. Sommige van ons moet die harde werklikheid van hartseer in die gesig staar soos wanneer ons eie kinders weggeneem word, en dan kan ons deel in Efraim se stryd. Ons deel met Efraim die stryd om deur ons hartseer heen ons ellende te verwerk maar ook om tog weer moed te skep in die beloftes van God. Hoe moeilik is dit nie! Maar God sy dank, ons het soveel meer ontvang as Efraim. Ons het die Leeu uit die stam van Juda. In al ons ellende mag ons aan Hom vashou,. Ons behoort aan Hom beide in lewe en in sterwe. In Hom word al God se beloftes bewaarheid.

Ja, selfs God se beloftes aan Efraim word bewaarheid in Jesus Christus. In die laaste boek van die Bybel, in Openbaring 7, lees ons 'n lys van twaalf stamme, 12 000 verseëldes uit elke stam. Juda se naam is eerste. In die middel van die lys vind ons Manasse. En soos ons deur die lys van name werk, besef ons, Efraim se naam ontbreek! En tog, heel onderaan die lys vind ons  behalwe die naam van Manasse, die naam van Josef. Dit beteken dat daar in Josef nog 'n plek vir Efraim is voor die troon van God. God se beloftes aan Efraim word wel bewaarheid, nie deur enige eie verdienste nie, maar slegs deur genade in Christus. Die Christus van Juda. En so mag ons deur die geslagte heen op God se getrouheid staatmaak. Selfs in tye van swaarkry gaan God voort met sy werk, tot op die dag van Sy heerlikheid, wanneer Hy self elke traan van ons oë sal afvee.

Amen

Liturgie: 

Ps 105: 1,6-7
Ps 6: 1-2
Ps 80: 1,3
Ps 78: 27-28
Ps 108: 1-3

Lees:
Genesis 41: 45-57
Genesis 48
1 Kronieke 5: 1-2

Teks:
1 Kronieke 7: 20-27