Volhard in gehoorsaamheid

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-08-15
Teks: 
2 Kronieke 24 - 25
Preek Inhoud: 

Geliefde broeders en susters,

wat het hierdie twee hoofstukke met mekaar te doen? Hier is twee konings wat goed begin het, maar nie die wedloop kon voltooi nie. Deursettingsvermoë is ‘n eienskap wat deur die hele Nuwe Testament benadruk word (Romeine 5:3-5; 2 Timótheüs 2:12; Hebreërs 10:36; 12:1; Jakobus 1:12).

Hierdie twee hoofstukke het ook 'n opvallende ooreenkoms in struktuur. Daar is 'n inleiding in 24: 1-3 en 25: 1-4 wat ons 'n aanduiding gee van wat kom. Dan is daar die algemene goeie gedeelte van die koning se regering in 24: 4-14 en 25: 5-14, dan is daar 'n paar oorgangs verse in 24: 15-19 en 25: 14-16, waar 'n profeet die koning waarsku, en dan die hartseer einde van elke koning in 24: 20-27 en 25: 17-28. Jy sal ook sien dat aan die begin van hierdie gedeelte die tempel herbou en herstel word en aan die einde word die tempel leeggemaak (25:24).

Daar is ook soortgelyke temas wat ‘n paar maal na vore kom waar baie mense deur 'n paar mense verslaan is. Beide konings het uiteindelik geval vanweë hul trots. Die groot en uiteindelike sonde van die mensdom.

Volhard in gehoorsaamheid.

  1. Joas, die behaer van mense (people pleaser)

    1. Die goeie – tempelbou onder geestelike leierskap
    2. Die slegte – Afgodery onder wêreldse invloed.
  2. Amasia die halfhartige

a.   Die Goeie

b.   Die Slegte

Joas, die behaer van mense

Joas was sewe jaar oud toe hy begin regeer het. Onthou jy hoe hy in die tempel versteek is vandat hy ‘n baba was? Op sewe-jarige ouderdom het Jojada hom voorgestel as die ware koning van Juda. Alhoewel ‘n sewe-jarige dalk nie so dink nie, moet hy op daardie ouderdom nog baie leer. En op daardie ouderdom is ‘n mens baie beïnvloedbaar. Goeie of slegte mentors kan die wêreld se verskil maak. Liewe jongmense, volg goeie voorbeelde en moet nooit ophou om daardie mense, wat uitstaan vir hul nederige diens aan God, op te soek nie. Gelukkig het Joas een van die beste mentors gehad waarvoor ‘n mens kan wens. Jojada. Ons lees in 24:2 “Joas het gedoen wat reg is in die oë van die Here.”

Wanneer die priesterdom en die konings in Kronieke saamwerk, gebeur daar goeie dinge. Ons sien dit in vers 11: “die sekretaris van die koning en ‘n beampte van die hoëpriester het ....” en in v12: “Die koning en Jojada...” en in v14: “die koning en Jojada...” Die volk het aanbid en is goed geregeer.  Ons wat die Nuwe Testament glo, sien dat hierdie gedagte voortgaan in die geskiedenis van verlossing in die perfekte eenheid tussen die koningskap en priesterskap van ons Here Jesus Christus. Op ‘n manier het die priester ook as die koning in hierdie situasie gehandel, in elk geval totdat Joas volwasse was.

Dit is hartseer dat die verhaal nie net sê: “Joas het gedoen wat goed was in die oë van die Here” nie en verder niks. Die feit dat die skrywer dit kwalifiseer, gee ons ‘n voorsmakie van wat kom. Hy is gehoorsaam vanweë iemand anders se invloed; dit is nie ‘n gehoorsaamheid uit die hart nie. Dit lyk asof dit is om mense te plesier. Nogtans, Jojada se invloed het ‘n groot impak. Een persoon wat getrou is kan ‘n enorme invloed op ‘n mens se lewe hê.

Terwyl Joas in die huis van die Here opgegroei het, sou hy gesien het in watter gemors dit was. Hy beveel die priesters en Leviete om geld bymekaar te maak om die huis van die Here te herstel. Joas roep die volk op om vir die huis van die Here te gee, volgens die wet van Moses. Ons sien dat die kroniekskrywer baie maal terug verwys na Moses, want hy wil hê dat die volk moet sien dat hulle terugkeer uit ballingskap in Babel, ‘n nuwe begin is, ‘n nuwe Eksodus. Hulle geskiedenis en wet kry hier hul oorsprong. Hulle identiteit is stewig gegrond in die geskiedenis.

Die belasting is nie dadelik opgeneem nie en alhoewel daar meer inligting in Konings is, sê dit hier net dat die Leviete nie vinnig opgetree het nie. Vrygewigheid vir die tempelbou word baie maal gesien as ‘n teken van die volk se toewyding aan God. Voordat mense die kerk verlaat, het hulle lankal reeds hul geld êrens anders gaan belê. Dit was die probleem met die mense wat na die ballingskap in betimmerde huise gebly het terwyl die tempel in puin lê (Haggai 1).

Waar moet die fondse vandaan kom? Volgens die wet van Moses, van die HELE volk. Na ‘n tyd, het die koning die priester ontbied en hulle het ‘n plan uitgewerk, nie om na die hele volk te gaan nie, maar om die hele volk met hul belasting na die tempel te bring. En wat gebeur toe? Vers 10: “Toe was al die owerstes en die hele volk bly, en hulle het dit ingebring en in die kis gegooi totdat hulle klaar was.” En die tempel  is herstel.

Net ‘n paar punte voordat ons verder gaan:

  1. “..was die hele volk bly…” Ons assosieer nie normaalweg belasting met vreugde nie, nè? As ‘n predikant die tiendes noem, of 10%, dan sak mense weg in hul sitplekke. Geliefdes, die Woord van God sê dat om te gee vir die Christen ‘n plig en ‘n vreugde is. God gebruik die hulpbronne wat Hy aan ons gegee het om ons deel te maak van die bou van die tempel, van die bou van sy kerk. En dit is die plig van die hele Israel – die hele kerk. Dit gee ons rede om bly te wees! Hoekom? Want die gedagte hieragter is dat ons alles in Christus ontvang het.
  2. Tempelbou is die inisiatief van die koning. Uiteindelik is die tempelbou die inisiatief van die koning, net soos dit met Dawid en Salomo was. Net so is hierdie kerkgebou die inisiatief en projek van die Here Jesus Christus – die Een wat nou op die troon van Dawid sit.
  3. Aanspreeklikheid. Wanneer dit kom by die hantering van die geld, is daar ‘n ongelooflike aanspreeklikheid en eenheid tussen die koning en die priesterskap. Mense was toe net so korrup soos vandag. En dit is waarom daar ‘n stelsel van aanspreeklikheid moes wees. Ons lees daarvan in vers 11. Op hierdie manier het hulle geweet dat die werk kon voortgaan.

Wonderlik... die toekoms lyk rooskleurig onder die leierskap van Jojada en Joas. Dit is wonderlik watter invloed een godvresende mens op iemand kan hê. Godvresende ouers, julle het geen idee wat die impak op jul kinders, wat julle in die vrees van die Here grootmaak, is nie.

Maar op die einde van die dag, is dit die hart wat saak maak. Al die mentorskap en aanspreeklikheid in die wêreld sal jou net so ver help. Dit sal uiteindelik nie die hart verander nie. En die ware self sal te voorskyn kom.

En dan is daar Joas. Dit lyk asof hy ‘n behaer van mense was. Hy was gehoorsaam onder Jojada, maar toe hy gesterf het, het hy van God weggedraai. Vir wie leef jy regtig? Ter wille van ander? Sodat ander mense in die kerk kan sien hoe goed jy is? Of vloei dit regtig diep uit jou hart? Vir wie wil jy behaag of plesier? As alles wegval, gaan jy nog steeds luister na wat jou pa en ma jou in geloof geleer het?

Kyk wat gebeur met Joas na Jojada sterf in vers 15-16. Die een wat in die huis van die Here opgegroei het en die huis van die Here herbou het, verlaat nou daardie huis. Versaak dit. Verwerp dit. Die teenoorgestelde van soek. Dit is ‘n lewensbelangrike woord in Kronieke. Wat het hy verwerp? Hy het die noodsaak van die tempel verwerp met al die simbolisme van die kosmiese regering van God, die persoonlike verhouding met God onder die naam “die HERE”, waarmee Hy by Israel bekend was en die tradisies wat oorgedra is deur die vaders, Dawid en Moses.

Alles waarvoor Jojada sy lewe op die spel geplaas het, alles waarvoor Joas self voorberei is en alles wat Joas bereik het, is verbeur – weggegooi. Op ‘n manier gooi hy alles weg wat hy tot op daardie punt bereik het. Die woord afgod word net hier en in die tyd van Saul gebruik. Hy keer al die pad terug na die tyd van Saul! Geen wonder dat die ‘toorn’ van God (1 Kron. 27:24) losgebreek het teen ‘n koning wat met een haal sy eie en sy mentor se lewenswerk ongedaan maak en sy volk teruggeneem het na die staat van oorspronklike vervreemding en skuld. (1 Kron. 21:3)

Wat gebeur nou. Vers 17: ”Maar na die dood van Jojada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer.” Die prinse wat bly was om vir die tempel te gee in vers 10, het gekom om hulde aan Joas te bring. God en die eer van sy naam was nie langer sentraal nie, maar die prinse het aan Joas hulde gebring. ‘n Woord wat aanbidding beteken.

En in plaas daarvan dat hy hulle korrigeer, luister hy na hulle en begin hulle om die huis van die Here te verlaat en afgode te aanbid.

Maar kyk weer na God se genade. Weer en weer kom die woord van die Here na hulle om hulle te bekeer en om hulle terug te bring na die Here.  Die woord kom om mense op te roep tot bekering en nie om te verdoem nie! Die profete was die getuies wat teen hom getuig het, maar die volk en die koning wou nie luister nie. In plaas daarvan dat hulle hulself verneder het en die HERE met hul hele hart gesoek het, maak hy die profeet stil deur hom in die tempel te vermoor! Op die plek waar hulle nie die bose Atalia wou doodmaak nie, word ‘n regverdige man vermoor!

Hy het vergeet wie hy was en waar hy vandaan kom. Hy het vergeet van die HERE se goedheid en genade in sy lewe deur Jojada en hy vermoor Jojada se seun wat hom probeer terug roep het.

Gemeente van die lewende God, hoe maklik vergeet ons! Elke generasie moet opnuut herinner word. Die verlede is die sleutel tot hul toekoms. Die belofte en genade van God moet ons in die hede dryf. Vers 22: “Koning Joas het nie gedink aan die guns wat sy vader  Jojada aan hom bewys het nie.”  O, mag ons altyd die guns van die HERE onthou.

Dit is asof die HERE die profeet se laaste uitroep hoor en byna onmiddellik word die volk deur die Siriërs oorval. Met die gevolg dat hulle leiers sterf! Die skrywer maak dit duidelik dat dit die HERE se direkte straf is. Met net ‘n paar manne, oorwin Sirië ‘n baie groot leër! Die kerk kan magtig en groot lyk, maar geestelik bankrot wees en daarom hulpeloos teenoor die vyande wat rondom hulle is.

Die hele verhaal herinner ons aan die waarskuwing van die profeet Jesaja: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg – daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry – daarom sal julle vervolgers laat jaag! Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos ‘n vlagpaal op ‘n bergtop en soos ‘n banier op ‘n heuwel.” Kyk hoe vinnig en maklik het die leër wat met “’n geringe aantal manne gekom het (v 24)” die groot en magtige leër van Juda verslaan. Net wanneer ons dink dat die kerk in ‘n land veilig is, moet ons oppas.

Aan die einde van die verhaal word hierdie behaer van mense in sy bed vermoor, waarskynlik deur dieselfde dienaars wat hy probeer behaag het deur ander gode te aanbid. Volharding tot die einde hang af van die gehoorsaamheid van die hart. En ook nie halfhartige gehoorsaamheid nie. Wat ons by die tweede punt bring.

 

Amasia die halfhartige

Het jy al iemand ontmoet wat nie rêrig toegewyd tot enige iets wil wees nie? Dit lyk asof hulle altyd wik en weeg. Hulle ‘hum’ en ‘ha’ so lank dat hulle op die ou end nooit enige sterk oortuiging het nie. Hier het ons so ‘n persoon. Joas was toegewyd, in die sin dat hy heeltemal toegelaat het dat hy beïnvloed word. Maar hier het ons ‘n koning wat nie toegewyd was nie. Die vader wat ‘n behaer van mense is, sal geboorte gee aan kinders wat nie toegewyd sal wees nie.

In die inleiding tot sy regering lees ons: “en hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, maar nie met ‘n volkome hart nie.” Die woord wat hier vir ‘volkome’ gebruik word is soortgelyk aan die woord ‘shalom’. Om ‘shalom’ te hê beteken om heelhartig in die Here te wees. Onthou 2 Kron. 16:9? “die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld (shelem) op Hom gerig is.” Omdat daar geen shelem is nie, kan hy nie shalom geniet nie.

Heelhartige toewyding. Dit is wat die Here wil hê. Om jouself te verloën – en ‘n toewyding om Hom te volg. Waarheen dit ook al lei. Dit is wat dissipelskap is. Halfhartig of heelhartig. Watter een is jy? Op ‘n stadium sal die lewe wys hoe jou hart is.

Weer is die inleiding hier ‘n vooruitskaduwing van hierdie koning se dood, dat die Here hom ook vir sy eie sondes sal doodmaak net soos hy die moordenaars van sy vaders vir hulle eie sondes doodgemaak het, maar nie hulle seuns nie. Die skrywer wil ons hier van onmiddellike vergelding leer. Soos Jeremia sê: “Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe.” Laat ons na hierdie koning kyk.

Die eerste teken van halfhartigheid is wanneer daar gesê word dat hy soldate van Israel gehuur het. Hy het al die manskappe van Juda bymekaar gemaak volgens die wet van Moses en ‘n mens dink: fantasties! En dan skielik lees ons: “Hy het uit Israel 100 000 dapper helde vir honderd talente silwer gehuur.” NEEEE, dink ons! Israel! Onthou julle nie al die vaders soos Josafat wat bande met Israel gesmee het nie. Dit is ‘n fout! ‘n Groot fout. Hy is dus halfhartig in sy gehoorsaamheid en vertroue op die Here en soek ekstra hulp.

Maar die profeet kom en waarsku hom daarteen. En weer is sy reaksie halfhartig. Hy gehoorsaam nie onmiddellik nie, maar dink aan die geld. Ons lees in vers 9 dat hy vra: “En wat moet met die honderd talente gemaak word?”

Finansies is die eerste ding waaraan hy dink wanneer die profeet gehoorsaamheid vereis. Die profeet herinner hom aan die ooglopende. God besit alles. 100 talente is vir Hom niks nie. Hy kan jou baie meer gee! (v 9)

Dan stuur hy hulle uiteindelik huis toe. Maar sy halfhartigheid het gevolge. Op die ou end is dit waar dat niemand van jou hou as jy altyd ‘n draadsitter is nie. En alhoewel hy uitgaan en Edom aanval, is hierdie manskappe wat hy gehuur het kwaad en gaan op ‘n plundertog deur die stede van Juda soos ons in v. 13 lees. Nietemin seën God sy laaste gehoorsaamheid en oorwin hy Edom.

Maar hierdie triomf lei tot sy eie val. Hy begin om die gode van die volk wat hy verslaan het, te aanbid. Nou mag ons dalk dink dat dit vreemd is. Maar dit was ‘n gewoonte om die gode, wat jy verslaan het, te dank dat hulle hul eie land verraai het.

En voordat jy begin giggel, dit is presies wat die kerk doen wanneer sy agteruitgaan en die gode van sy tyd agternaloop. Rykdom, mag, invloed, beroemdheid, wanneer ons mag in die kerk najaag deur middel van openbare betrekkinge en vermaak eerder as deur woordverkondiging! Hierdie gode is vir eens en altyd oorwin en tog kan ons versoek word om hierdie verslane gode te aanbid as ons nie geheel en al aan God toegewy is nie.

En net soos in die vorige hoofstuk, sien ons ‘n profeet wat met ‘n ernstige waarskuwing van die Here kom. En ons sien sy halfhartigheid weer skyn (as halfhartigheid kan ‘skyn’). Aan die een kant wil hy nie die profeet doodmaak soos sy vader gedoen het nie, en aan die ander kant wil hy nie na hierdie profeet luister nie. Hy sê dus: “Hou op praat, sodat ek jou nie hoef dood te maak nie!”

Hy vra ook vir die profeet: “Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel?” Blykbaar het hy net soos Agab ‘n paar profete op sy boeke gehad en hy was nie een van hulle nie. Om deur die koning betaal te word, sou verseker dat die koning slegs goeie dinge hoor. Hierdie man was duidelik nie op die koninklike boeke nie.

Mag geen prediker van die evangelie ooit gebind word deur geld nie – maar altyd slegs die woord preek en mense tot bekering oproep. Tot nederigheid en afhanklikheid, totale afhanklikheid.

Daar is nie so ‘n ding soos ‘n halfhartige Christen nie. Wanneer die Heilige Gees in ons kom woon, is daar nie ‘n hoekie van ons lewe wat buite bereik is nie! Lê alles voor hom neer! Hou dan in geloof met jou hele wese vas tot aan die einde. En jy doen dit deur voortdurend die woord van die Here te hoor en na Hom te draai.

Die koning doen dit nie en kyk wat gebeur. In sy trots gee hy nie ag op die waarskuwings van Israel nie. Dit was Juda wat veronderstel was om Israel te waarsku, maar hier sien ons dat Israel Juda waarsku. Dit is byna asof die rolle omgedraai is. In hoofstuk 13 sal jy onthou was dit Juda wat Israel gewaarsku het om tuis te bly omdat hulle die Here verlaat het. Maar hier waarsku die koning van Israel Juda, wat die Here verlaat het, om tuis te bly. Amasia luister nie, want dit was van die Here. Vers 20: “Maar Amasia het nie geluister nie; want dit was van God beskik om hulle uit te lewer, omdat hulle die gode van Edom gesoek het.” Die Here bring weer ‘n oordeel. En Israel verslaan Juda en verwoes ‘n gedeelte van Jerusalem en neem al die goud en silwer uit die tempel.

Wanneer die kerk haar na afgode keer, word sy verwoes. Die tempel is totaal geledig van alles wat heilig en mooi is. Dit is kaal gestroop. Wanneer die kerk dinge op die wêreld se manier probeer doen en by wêreldse bronne hulp soek eerder as by die oneindige God, dan verloor dit sy skoonheid. Dit word verwoes.

Hier is vir ons ‘n les van die twee konings: wie is die een van wie jy leer? Mag dit die Heilige Gees van Christus wees. Mag jou gehoorsaamheid nie daarop gebaseer wees om enige iemand te behaag nie – die kerk, die predikant, jou vriende of enige iemand nie – maar mag dit kom vanuit ‘n hart wat aan God toegewyd is. En nie halfhartig nie, maar ten volle toegewyd aan Hom. Gee jou lewe oor. Verneder jouself weer en weer.

Hoe doen jy dit? Deur te luister na die woord van die HERE. God roep mense voortdurend en getrou na God. Jy hoor dit elke week. Luister, vertrou en gehoorsaam. Want daar is nie ‘n ander weg nie.

When we walk with the Lord

  In the light of His Word,

What a glory He sheds on our way;

  While we do His good will,

  He abides with us still,

And with all who will trust and obey.

 

Trust and obey,

For there’s no other way

To be happy in Jesus,

  But to trust and obey.

 

But we never can prove

  The delights of His love,

Until all on the altar we lay;

  For the favor He shows,

  And the joy He bestows,

Are for them who will trust and obey.

 

Then in fellowship sweet

  We will sit at His feet,

Or we’ll walk by His side in the way;

  What He says we will do;

  Where He sends, we will go,

Never fear, only trust and obey.

Amen