Die geskiedenis van die Kanon wat God se Woord is

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-09-22
Teks: 
NGB artikel 4 en 6
Preek Inhoud: 

Hoe het ons op 66 Bybelboeke gekom?  Wat beteken dit dat hulle kanoniek is?  En wat is die apokriewe boeke?  Ek raai dat die meeste van ons dit nog nooit gelees het nie.  Ek weet dat sommige van julle wel het.  Is daardie boeke enigsins nuttig?  Hoekom het die Rooms-Katolieke Kerk die apokriewe boeke ingesluit en ons nie?  Is dit net op ’n dag deur ’n kerkraad besluit soos wat baie mense beweer?  Dat ’n paar mense een dag gaan sit het om te besluit wat die Bybel sou wees?  Was daar enige bespreking hieroor?  Hierdie is maar ’n paar van die vrae wat ons hopelik in vanaand se erediens gaan beantwoord. Die geskiedenis van ons geloof is so belangrik omdat dit God se geskiedenis is.  Hierdie week gaan ons spesifiek na die geskiedenis en die vorming van die kanon kyk.

Voordat ons begin, net eers ’n verduideliking van sekere terme.  Die woord “kanon” beteken “reël” of “regulasie” en die woord “apokrief” beteken “dinge wat versteek is”.  Die Kanon verwys na die boeke van die Bybel wat ons het, en die Apokriewe verwys na daardie boeke wat nie deel van die geïnspireerde Woord is nie, maar nogtans tot ’n sekere mate nuttig is.

Die geskiedenis van die Kanon wat God se Woord is:

  1. Die Ou Testament
  2. Die Nuwe Testament

 

Die Ou Testament

Wanneer ons van die Ou Testament praat, bedoel ons nie dat dit oud is in die sin van “outyds” nie, maar in dié sin dat dit ouer is as die Nuwe Testament.  Die Ou Testament bevat die evangelie, selfs al is dit nie in die volheid daarvan nie, en dit is nodig om die Nuwe Testament te kan verstaan.  Die Ou Testament het gegroei soos wat die geskiedenis gevorder het. Vanaf die vyf boeke van Moses, tot by Josua, en Rigters tot 1 en 2 Samuel.  Daarna volg dit wat die Hebreeuse Bybel die profete en die geskrifte noem, deur die loop van die geskiedenis bygevoeg.  Die boek van die Psalms het ook stadigaan gegroei totdat dit in 150 psalms voltooi en saamgevoeg is.  Die laaste geskrifte van die Ou Testament is waarskynlik nie later as 420 v.C. voltooi nie. Omtrent al die boeke van die Ou Testament is as God se Woord aanvaar, so te sê dadelik of kort nadat dit geskryf is.  Ons het nie bewyse van enige werklike verskille onder die Jode oor dit wat hulle Bybel beslaan het nie.  Geen.  Dit is baie belangrik.  Hulle Bybel is ons Ou Testamentiese Bybel.

Dit beteken nie dat die geskiedenis in 420 v.C. opgehou het nie, of dat God opgehou het om in die geskiedenis te werk nie.  Dit het selfs nie eens beteken dat daar nie nog boeke geskryf is nie.  In werklikheid was daar baie skryfwerk gedurende hierdie tyd, veral goeie geskiedkundige verslae oor dit wat Israel gedurende hierdie tyd deurgemaak het.  Maar hierdie boeke is nooit deur die Jode as geïnspireerde geskrifte aanvaar nie.  En in werklikheid maak baie van hulle ook nie daarop aanspraak nie.

Weer eens, ons moet die volgende onderskeid tref: God se volk het nooit besluit watter boeke geïnspireer is en watter nie, hulle het daardie boeke wat geïnspireerde geskrifte is,  aanvaar.  Baie van die Ou Testamentiese skrywers was bewus daarvan dat hulle die einste Woorde van God neerskryf.  Die profete sê deurgaans: “So sê die Here.”  Dit was nie net God se idees wat hulle neergeskryf het nie, maar dit was God se eie Woorde!  En dit is wat die kanonieke en apokriewe boeke van mekaar onderskei.  Die een is deur God geskryf, en die ander deur mense.

Die boeke wat deur mense geskryf is, noem ons Apokriewe boeke.  Ons lees hiervan in Artikel 6 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “die derde en die vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid van Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die Geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeërs.”

Hierdie boeke is nie as geïnspireerde geskrifte aanvaar nie, en die meeste van hulle maak dan ook nie daarop aanspraak dat hulle geïnspireerd is nie.  Inteendeel, ons lees in die boek van die Makkabeërs dat die profetiese bediening tot ’n einde gekom het.  Die skrywer van die Makkabeërs het ten minste nooit sy eie geskrifte op dieselfde vlak as dié van die profete geag nie (1 Mak. 4:45-46, 9:27, 14:41).  Selfs al is hierdie boek in die Rooms- Katolieke Bybel, maak die boek self nie daarop aanspraak om die geïnspireerde Woord van God te wees nie.

Die geskiedkundige Josephus, wat in dieselfde tyd as Jesus geleef het, sê duidelik dat hierdie boeke “nie waardig is om dieselfde krediet te ontvang as vroeëre geskrifte nie.”  Selfs antieke Joodse leringe beweer dat “nadat die profete Haggai, Sagaria en Maleagi gesterf het, het die Heilige Gees van Israel af weggetrek.” Dus is daar oor die algemeen groot konsensus wanneer dit by die Ou Testament kom, ten minste onder die Jode in die eerste eeu.  Die Nuwe Testament lewer ook getuienis hiervan.

In die Nuwe Testament is daar hoegenaamd geen argumente tussen Jesus en sy dissipels en die Joodse leiers en die volk oor die omvang van die Ou Testamentiese Kanon nie.  Die Nuwe Testament, volgens een opname, haal die Ou Testament 295 keer as gesaghebbend aan, maar daar word nie eers een keer uit die Apokriewe boeke iets aangehaal as gesaghebbend nie. Dit wys dat hulle die Ou Testament as die Woord van God geag het, en nie die Apokriewe boeke nie.

Die Apokriewe boeke is nooit deur die Jode as die Joodse Skrif aanvaar nie.  Vroeë Christelike getuienis is teen die aanvaarding van die Apokriewe boeke as die Skrif, en dit lyk nie of Jesus en sy dissipels hulle aanvaar het nie.

Maar hoekom het ons die Apokriewe boeke?  Want dit is baie nuttig om daardie tyd te verstaan, en die vroeë kerk het dit as hulpbronne gebruik.  En die kerk, sowel as die Nederlandse Geloofsbelydenis, raai jou selfs aan om dit te lees.

Die vroeëre kerkvaders het baie van hierdie boeke gebruik gemaak en gereeld daaruit aangehaal.  Die Hervormers, wat vurige verdedigers van die Bybel was, het ook van die Apokriewe boeke gebruik gemaak (veral van die Makkabeërs).  Maar nooit as die geïnspireerde Woord van God nie. Net omdat hulle hierdie boeke as hulpbronne gebruik het, beteken nie dat hulle dit as die Skrif aanvaar het nie.  Dit is vandag dieselfde.  ’n Predikant gebruik ander boeke, en kan selfs ’n aanhaling van ’n teoloog in sy preek gebruik, maar dit maak dit nog nie die Skrif nie.

Maar waaroor gaan die geskil dan?  Waarom het ons twee artikels hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis? – uit die 37 artikels is daar een oor die Kanon en een oor die Apokriewe.  Omdat, soos wat die geskiedenis ontwikkel het, die gebruik van die Apokriewe al hoe meer toegeneem het – al die pad tot by die Reformasie. En in 1546, in die middel van die Reformasie, het die Rooms-Katolieke Kerk dit amptelik deel van hulle Kanon gemaak.

Dit was die antwoord van die Rooms-Katolieke Kerk op die leerstellings van Martin Luther en die vinnige verspreiding van die Protestantse Reformasie.  Die Apokriewe boeke het bewyse bevat vir die Katolieke se leerstellings oor die gebede vir die dooies, asook vir die redding deur geloof en werke, en nie deur geloof alleen nie.

Deur hierdie besluit te neem wys die Rooms-Katolieke Kerk hoe hulle verstaan van die vorming van die Skrif verskil van die Protestante se verstaan daarvan.  Die Katoliek Kerk glo dat die Kerk die Skrif vorm, eerder as om dit as Skrif te aanvaar.  Deur in 1546 te sê dat die Apokriewe boeke die Woord van God is, sê die Rooms-Katolieke dat die Kerk die gesag het om te besluit wanneer ‘n literêre werk ‘die Skrif’ is, terwyl die Protestante sê dat die kerk nie iets tot die Skrif kan maak nie, maar slegs kan erken wat God alreeds laat neerskryf het as sy eie Woorde. 

Byvoorbeeld: ’n ondersoeker kan vervalste geld as vervalste geld herken en hy kan egte geld as egte geld herken, maar hy kan nie vervalste geld na egte geld verander nie, en so kan ook nie enige verklaring deur enige aantal polisiemanne vervalste geld laat verander in iets wat dit nie is.  Slegs die amptelike tesourie van ’n land kan geld produseer wat egte geld is.  Net so ook kan slegs God woorde vorm wat sy eie Woorde is en waardig is om by die Skrif ingesluit te word.  Die Kerk maak menslike woorde tot God se woorde.

Dus, die geskrifte van die Ou Testamentiese Apokriewe is nie veronderstel om as deel van die Skrif geag te word nie, want:  1) hulle maak nie self daarop aanspraak dat hulle dieselfde gesag het as die Ou Testamentiese geskrifte nie;  2) dit is nie deur die Joodse mense wat dit geskryf en gelees het, as God se Woord aanvaar nie;  3) dit is nie deur Jesus of die Nuwe Testamentiese skrywers as die Skrif beskou nie;  en 4)  dit bevat leringe wat strydig is met die res van die Bybel.

Ons moet dus tot die slotsom kom dat hulle slegs menslike woorde is, nie ‘God-geasemde’ woorde soos die woorde van die Skrif nie.  Dit dra by tot geskiedkundige en taalkundige navorsing, en dit bevat ook ’n aantal nuttige verhale oor die moed en geloof van baie Jode gedurende die tydperk nadat die Ou Testament geëindig het, maar dit was nog nooit deel van die Ou Testamentiese Kanon nie, en dit moenie as deel van die Bybel geag word nie.  Daarom het hulle geen bindende gesag vir die denke of die lewe van Christene vandag nie.

Die Nuwe Testament

Die Boeke is die vroegste boeke wat ons besit – almal is in die eerste eeu geskryf, deur ’n apostel, of deur iemand wat die apostels baie goed geken het.  Dit is wat ons die fondament van die apostoliese bediening noem.  Die laaste moontlike datum vir die laaste boek, Openbaring, is 96.  Dit beteken nie dat, net omdat iets in die eerste eeu geskryf is, dat dit Skrif geword het nie.  Daar is baie ander boeke naas hierdie boeke geskryf.  Maar geen van die boeke in ons Nuwe Testament is na die jaar 100 geskryf nie.  Met die dood van die laaste apostel, Johannes, was dit ook die einde van die skryf van die Woord.

Dieselfde kan egter nie van die Apokriewe boeke gesê word nie.  Hulle is almal na die eerste eeu geskryf.

En ook hier, soos met die NT, word baie van hierdie boeke beskou as die Skrif in die tyd toe dit geskryf is.  Dink maar aan 2 Petrus 3:15-16 waar Petrus na Paulus se briewe as “die Skrif” verwys, op dieselfde vlak as die boeke van die Ou Testament.  Petrus verwys na menige briewe van Paulus, en dit dui daarop dat hy bewus was van een of ander soort versameling.  En, nog belangriker, hy neem aan dat sy gehoor ook van hierdie versameling bewus is.  Daar is geen aanduiding dat die Skriftuurlike status van Paulus se briewe ’n nuwe idee is nie – Petrus noem dit heeltemal terloops en natuurlik.

Ons beskik oor ’n dokument, gedateer ongeveer 180, genaamd die Muratoriese Kanon.  Dit is een van die vroegste samestellings van die Nuwe Testamentiese Skrif en het alreeds 22 van die 27 boeke van die Nuwe Testament bevat.  Dit beteken dat op ’n merkwaardige vroeë stadium (die einde van die tweede eeu) die kern van die Nuwe Testamentiese kanon reeds vasgestel en in plek was.  As daar ’n kern kanon van ’n baie vroeë tydperk was, dan is daar twee implikasies vir ons.

Eerstens, dit beteken dat die meeste debatte en geskille oor die kanonieke boeke in die vroeë Christendom net oor ’n handjievol boeke gegaan het.  Boeke soos 3 Johannes, Jakobus, 2 Petrus, en so meer. Die vroeë Christendom was nie ’n wye oop arena waar almal iets geskryf het en gehoop het dat dit in die Bybel sal kom nie.  Daar was ’n kern waaroor almal saamgestem het en wat niemand regtig betwis het nie.

Dit beteken nie dat dit altyd ’n maklike proses was nie.  God werk deur die geskiedenis, deur die gemors van menslike probleme en menslike rede, terwyl hulle bid en worstel met God om te stry vir die waarheid. Maar dit behoort ons glad nie te pla nie.

Die kanon is nie vir ons op goue tablette gegee deur ’n engel uit die hemel nie (waarop die Boek van die Mormone aanspraak maak).  God het, om sy eie voorsieningsredes, gekies om die kanon deur normale geskiedkundige omstandighede te gee.  En geskiedkundige omstandighede het nie altyd ’n gladde verloop nie.  Die wat nie saamgestem het nie, was in die minderheid, en in die meeste gevalle was daar ’n algehele konsensus.

Dit bring ons by die slotsom en rig ons na die volgende preek oor Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.  Niks in hierdie preek gaan jou uiteindelik oortuig dat die Bybel die Woord van God is nie. Dit is God en God alleen wat oortuig.  Dit is die woorde self wat spreek oor hulle goddelike ontstaan.  Dit is hulle wat ons verlig en ons verseker van hulle goddelike oorsprong.  Hulle bring ons tot trane van berou, of tot die hoogste vreugde as ons ons God daardeur leer ken.  Dit is die Heilige Gees self wat getuig oor die waarheid van hierdie woorde.  Dit is God se stem wat in hierdie boeke gehoor kan word, in teenstelling met baie ander.  

Soos Jesus in Johannes 10:27 sê: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.”

Soos een kerkvader gesê het: “Dit is seker dat, in die feit dat hy die Skrif lees en deeglik bestudeer, sy gedagtes en gevoelens deur ’n goddelike asem aangeraak word, en dat hy sal erken dat die woorde wat hy lees, nie woorde van mense is nie, maar die taal van God.”

Die vorm van ons Nuwe Testament is nie deur ’n verkiesing of ’n kerkraad bepaal nie, maar deur ’n breë en antieke konsensus.  Hier kan ons met die skeptikus, Bart Ehrman, saamstem: “Die kanon van die Nuwe Testament is bekragtig deur wydverspreide konsensus, eerder as deur ‘n amptelike proklamasie.”  Of soos nog ’n leraar sê: “Die kanon is nie net ’n mensgemaakte konstruksie nie.  Dit is nie die resultaat van ’n suksesvolle lotery deur die ryk kulturele elite in ’n rookgevulde kamer nie.  Dit is die resultaat van baie jare waarin God se mense hierdie boeke gelees, gebruik en daarop geantwoord het.”

Op die ou end kan ons beslis erken dat mense ’n rol gespeel het in die kanonieke proses.  Maar nie die rol wat so algemeen aan hulle toegeskryf word nie.  Mense het nie die kanon bepaal nie, hulle het daarop gereageer.  In hierdie sin van die woord kan ons sê dat die kanon homself bepaal het.  God het dit aan ons gegee, en die kerk het dit so aanvaar deur al die eeue heen.  Sodat ons daarin die woorde van die ewige lewe kan vind wat saamgebind is in die persoon van Jesus Christus – die Woord van die Lewe!

Ja, dit is waarom dit belangrik is dat ons weet wat die Bybel is en wat dit nie is nie.  Daarom spandeer ons ons tyd wys.  Dit is die Woord van die Lewe.  Lees dit.  Dit is nie aan jou gegee deur die kerk nie, maar deur God.  Die kerk het dit ontvang en gee dit deur na elke geslag.  Hierdie woorde is lewendig en aktief.  In ’n baie werklike sin van die woord praat hulle vir hulself, hulle het nie iemand nodig om vir hulle te praat nie. Daarom moet ons ons daaraan onderwerp, want sodoende onderwerp ons onsself nie eerstens aan die kerk nie, maar aan die Here van die Kerk, Jesus Christus, wat Self die inhoud van die Skrif is.

Amen.